Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua - Страница 9

6

Оглавление

Onderweg na Groenbaai wonder Tina waarom Walter so haastig was om huis toe te gaan. Hy het Santi nie eens kans gegee om Johannesburg se winkels te besoek nie, maar dan val dit haar by dat hy die bestuurder by die Unika-staal­fabriek is en dus nie lank van sy kantoor af kan wegbly nie.

Hulle kom pas voor sononder in Groenbaai aan. Walter ry al met die strand langs en hou eindelik voor ’n nuwe tweeverdiepinghuis stil.

“Ek het nie geweet dat julle verhuis het nie,” sê Tina verras.

“Ons het hierdie plek al ’n jaar gelede gekoop,” lig Walter haar in. “Santi wou nader aan die strand woon, en ek moet sê ons het ’n baie mooi uitsig van hier af.”

Hulle klim uit en stap binnetoe. Walter ontbied die tuinier en vra hom om die bagasie te help inbring.

“Kom, laat ek jou eers gaan wys waar jou slaapkamer is, Tina,” bied Santi aan. “Daarna kan jy kom kyk hoe ek Ian bad. Maar ek waarsku jou vroegtydig om ’n sambreel saam te bring, want by hierdie mannetjie is daar geen aansiens des persoons nie. As hy eers op sy stukke is, verdrink hy almal in die bad­kamer.”

“Ek sal hom graag in die bad wil sien,” sê Tina. “Hy is so sag en mollig, ’n mens voel sommer lus en druk hom teen jou vas.”

Geselsend bestyg hulle die trap. Tina is aangenaam verras toe sy merk dat haar slaapkamer so ’n mooi uitsig oor die baai bied. Dit is hoogwater. Sy kan duidelik sien hoe die golwe teen die rotse breek en die een wit skuimrand na die ander op die strand uitstoot.

Sy is bly dat haar kamer oor die see uitkyk. Sy hou van die see se diep dreuning, veral wanneer dit hoogwater is.

“Klaas, die tuinier, sal aanstons jou bagasie na jou kamer toe bring,” hoor sy Santi sê. “Ek hoop jy hou van jou kamer, Tina.”

“Dit is ’n baie mooi vertrek,” sê sy sag. “Dankie dat jy hierdie kamer aan my afgestaan het, ousus.” Sy draai van die venster af weg. “Ek dink ons moet maar eers die kleinman gaan bad. Dit lyk my hy begin nou kriewelrig word.”

“Ja, hy word altyd kriewelrig wanneer dit sy badtyd is,” glimlag Santi en soen die kleinding in sy vet nekkie.

Na die aandete gaan staan Tina by die hekkie na die onstuimigheid van die see en kyk. Oorkant die straat begin die strand. Die seesand lyk wit in die maanlig en die see grom diep uit sy binneste. Vanaand voel Tina so ver van Renier en hul kindjie verwyder. Sy wonder of sy hulle ooit sal kan vergeet, of die tyd ooit die hunkering in haar hart sal kan stil.

Die maanlig, die see, alles span saam om die verlange in haar hart intenser te maak. Trane rol stil oor haar wange en drup stadig op haar hande wat voor haar op die hekkie rus. Sy wend egter geen poging aan om hulle af te vee nie, want net die maan oor die see is ’n stil getuie van haar diep hartseer.

Hoe lank Tina daar by die hekkie in stilte gesnik het, weet sy nie. Sy skrik nie eens toe Santi haar aan die arm neem en sag, simpatiek praat nie.

“Kom, my ou sussie, jy kan nie die hele aand hier buite staan nie. Ek weet hoe jy voel, maar onthou, daar is ’n Opperwese wat ’n oog oor jou dierbares hou. Onthou jy nog wat Mamma altyd gesê het? ’n Mens moet net glo en vertrou, want daarin lê die mens se heil . . . Haai, kyk daardie skip op die horison. Lyk dit nie vir jou ook soos ’n Kersboom met al sy liggies nie?”

Tina se blik dwaal werktuiglik na die verre horison waar die skip stadig verby vaar.

“Ek dink ek moet liewer bed toe gaan,” sê sy afgetrokke. “Ek het ’n ontsettende hoofpyn.”

“Nou kom, ek sal vir jou ’n hoofpynpoeier en ’n koppie warm melk kamer toe bring,” stel Santi voor. Sy haak by Tina in, en in stilte stap hulle huis toe.

Daardie aand huil Tina haar weer aan die slaap. Maar soos baie ander nagte, is sy weer in haar drome met Renier verenig, voel sy weer sy arms om haar en sy lippe eisend teen hare.

Die volgende oggend, terwyl Santi ’n teeparty bywoon, gaan stap Tina en Ian langs die strand. Met sy dierbare laggies het hy reeds vir hom ’n plekkie in haar hart verower.

Ian se haartjies blink soos goud in die oggendson, maar dis sy mooi blou oë wat haar telkens na Renier laat verlang en haar laat wonder hoe haar eie seuntjie lyk.

Hulle is pas tuis, toe Santi haar opwagting by die huis maak. Sy is duidelik verlig toe sy sien hoe gelukkig haar aangenome seun by Tina is. Sy besef dat sy nie anders kan as om haar seun met Tina te deel nie.

Toe Walter vir middagete tuiskom, sê hy dat Tina hom na die ete na die fabriek toe moet vergesel. Oubaas Meiring, die eienaar van die Unika-staalfabriek, is gewillig om haar as sy private sekretaresse in diens te neem mits haar kwalifikasies hom geval.

Tina bedank Walter omdat hy vir haar voorspraak by die oubaas gemaak het, en belowe plegtig: “Ek sal my bes doen om jou nie teleur te stel nie, Walter.”

Na die ete verklee sy haar in ’n swart ontwerperspakkie, wit bloesie, swart skoene en ragfyn sykouse. ’n Swart handsak rond die uitrusting af.

“Lyk ek nie te formeel nie, Walter?” vra sy toe hulle voor die deur wegtrek.

“Nee, jou uitrusting is net reg, Tinatjie,” verseker hy haar ernstig. “Die oubaas hou daarvan dat sy sekretaresse netjies geklee moet wees. Terloops, ek het vir meneer Meiring gesê jy is juffrou Eksteen. Ek voel dit is beter dat jy liewer jou nooiensvan gebruik. Dit sal ’n klomp ongemaklike vrae uitskakel wat jou straks in die verleentheid kan bring. Die mense van Groenbaai weet in elk geval nie dat jy getroud was nie.”

Tina antwoord nie hierop nie, en na ’n rukkie hou hulle voor die fabriek stil wat in die buitewyke van die dorp geleë is.

Meneer Meiring is ’n bedaarde en intelligente oubaas met baie mensekennis. Sy grys oë het Tina binne ’n paar minute opgesom. Haar kwalifikasies is bevredigend, en hy is hoog in sy skik met die rekenaartoets wat sy blitsig en baie bekwaam aflê.

Hierna bespreek hy haar werkure en salaris. Hy gee haar ’n vorm om te voltooi en sê dat sy oor twee weke vir diens moet aanmeld sodat sy minstens ’n maand lank saam met sy huidige sekretaresse, juffrou De Wet, kan werk.

Die oubaas ontbied Ria de Wet en stel Tina aan haar voor.

“Juffrou Eksteen is meneer Froneman se skoonsuster,” vervolg hy. “Sy tree oor twee weke in my diens om jou betrekking te vul, juffrou De Wet. Sy is ’n intelligente en baie bekwame meisie, dus sal jy nie veel moeite ondervind om haar touwys te maak nie.”

Walter en Santi is saam met Tina bly omdat die oubaas haar die betrekking aangebied het.

“Dit sal jou gedagtes besig hou en jou help om die verlede te vergeet,” meen Walter. Hulle sit op die voorstoep en kyk hoe die maan soos ’n rooi vuurbal agter die see uitkruip. Dit lyk kompleet asof die maan uit die see opstyg.

Maar Walter was verkeerd, want die kantoorwerk het Tina se gedagtes net bedags besig gehou. Saans het al die hartseer en verlange maar weer soos ’n golf oor haar gespoel en haar gemartel tot diep in die nag. Ook die hoop dat sy en haar seun mekaar nog eendag sal vind, het nooit in haar hart gesterf nie.

Soos wat die weke maande geword het en die maande jare, het Tina en Ian vreemd geheg aan mekaar geraak en ook baie na aan mekaar gelewe. Hy het soos ’n warm sonstraaltjie in haar koue lewe geskyn, en vir hom was sy geliefde tannie Tina iemand wat ’n spesiale plek in sy kinderhartjie besit het – ’n plek waar selfs sy pleegouers geen toegang kon vind nie.

Vyf jaar lank het Tina by haar swaer en suster geloseer voordat sy besluit het om op haar eie voete te staan.

“Jy is al mooi groot, en ek wil nie vir jou voorskryf wat jy moet doen nie, Tina,” het Walter gesê toe sy haar besluit met hom en Santi bespreek het, “maar ek glo nie dit is die regte ding wat jy nou wil doen om jou intrek in ’n woonstel te neem nie. Jy het al deel van ons gesin geword, en dit sal Ian se hart breek as jy nou weggaan. Die kind is baie lief vir jou, kleinsus. Soms wil dit vir my lyk of hy jou liewer het as vir ons, sy pleegouers. Maar ons gun jou al die liefde wat hy vir jou koester. Moet net nie sy hart breek en hom ongelukkig maak nie.”

“Ek stem saam, dit is ’n verkeerde ding wat jy wil doen, Tina,” het Santi ook beswaar gemaak. “Walter het gelyk, Ian sal hom siek treur oor jou.”

Tina het verwese geglimlag. “Julle twee praat asof ek Groenbaai wil verlaat, maar ek sal nog steeds in dieselfde straat as julle woon; net ’n paar blokke hoër op. Ek kan ’n eenvertrekwoonstel met ’n balkonkamer in Seesig kry, en dit is net ’n hane­treetjie van julle af, glad nie te ver vir Ian om te stap nie. En as hy te veel na my verlang, kan hy mos naweke by my kom bly. Selfs wanneer julle die een of ander onthaal moet bywoon, kan hy by my kom slaap.

“Nee, ek glo nie my verhuising sal probleme skep nie. Ek sal self met Ian praat en dit aan hom verduidelik. Ek sal hom ook saamneem wanneer ek die meubels vir my woonstel gaan koop. Dit sal hom laat voel asof hy deel het aan my verhuising, veral as hy my die meubels kan help kies.”

Tina het gelyk gehad, want Ian se teleurstelling oor haar verhuising het soos mis voor die son verdwyn toe hy hoor dat hy haar met die keuse van die meubels mag bystaan. En toe hy sien dat sy nie ver van hulle af gaan woon nie, was hy weer uitbundig gelukkig.

Tina het tydens haar jaarlikse verlof na die woonstel toe verhuis. Maar ten spyte van die feit dat sy ’n aansienlike salaris verdien het, kon sy dit nie bekostig om duur meubels te koop nie, aangesien sy elke maand ’n bedrag op haar oorlede pa se skuld afbetaal het.

Die verkoop van wyle Gerhardus Eksteen se besittings, vyf jaar gelede, het etlike duisende rande te min opgelewer om sy skuld aan die firma te vereffen, maar Tina het haar voorgeneem om die Eksteens se naam weer in ere te herstel en dus aangebied om die bedrag maandeliks af te betaal.

Na haar intrek in die woonstel, was Ian meer by haar as by sy ouerhuis te vinde. Smiddags wag hy gewoonlik vir haar op die hoek van die straat wanneer sy van die kantoor af kom en stap dan saam met haar tot by die woonstelgebou.

Die jare het vir Tina stil verbygegaan. Die dorpie se jong mense het haar pas na haar aankoms op Groenbaai dikwels besoek en haar in al hul pret en vermaak ingesluit, maar dit het vir hulle baie gou duidelik geword dat sy nie juis in pret en vermaak belangstel nie, gevolglik het hul uitnodigings en besoeke al minder geword.

Santi en Walter het haar dikwels oor die kole gehaal omdat sy haar so doelbewus afsonder en die lewe toelaat om by haar verby te gaan. Maar na die verlies van haar man en kindjie het sy reeds geweet dat sy haar nooit weer by jong mense sal kan inpas nie.

Net Kobus Liebenberg, die plaaslike apteker, het hom nie deur haar afsydigheid laat afskrik nie. Hy besoek haar nog steeds een keer per week, al weet hy dat hy vergeefs droom oor ’n toekoms saam met haar. Hy verstaan haar afsydigheid nie aldag nie, maar hy kan raai dat ’n man daarvoor verantwoordelik is.

Die volgende drie jaar gaan dit soms moeilik op kantoor, want oubaas Meiring is ’n hartlyer wat na elke aanval weke lank in die bed moet bly. Op hierdie manier het Tina geleer om soms eie oordeel te gebruik. Gelukkig is sy vertroud met al die afdelings van die fabriek, die bestellings en ander korrespondensie, dus kan sy die fort in die oubaas se afwesigheid redelik goed hou.

Oubaas Meiring het al dikwels die feit betreur dat hy en sy vrou nooit kinders gehad het nie. Selfs ’n skoonseun, het hy dikwels gesê, sou hy verwelkom het, solank die man net sy plek hier in die fabriek kon vol staan.

Waar Tina in die aandskemering op haar private balkon staan en kyk na die golwe wat hulle ’n entjie van die woonstelgebou af teen die rotse te pletter loop, flits baie dinge deur haar gedagtes.

Haar gedagtes kring nou om Renier. Sy wonder of hy weer getroud is, waar hy woon en hoeveel kinders hulle het. Nou, na byna tien jaar, kan sy aan hom dink sonder om trane te stort. Sy het hom nog steeds lief en sy verlang nog dikwels na hom, maar die jare het berusting gebring. Ook die verlies van haar kindjie laat haar nie meer bitter trane stort nie, al verlang sy nog dikwels na hom en al lê sy baie nagte en wonder of sy pleegouers darem lief en goed vir hom is.

Ja, die jare het in ’n mate berusting gebring, maar die lewe het sy stempel op haar gelaat en haar ook laat verleer om te glimlag.

Tina is so diep ingedagte dat sy nie eens die koue van hierdie winteraand voel nie. Sy dink aan die verlede en aan die jare wat so stil by haar verby gegaan het. Oubaas Meiring het vandag gesê dat sy die bekwaamste sekretaresse is wat nog ooit vir hom gewerk het, maar dit is ook al wat sy bereik het – om ’n goeie sekretaresse te wees.

Die afgelope agt jaar het maar min tot die legkaart van my lewe bygedra, dink sy. Dit sal by voltooiing inderdaad ’n oninteressante prentjie wees.

Sy draai om en stap binnetoe. Dis eers toe sy die deur agter haar toemaak dat sy agterkom hoe koud haar hande is.

Dankie tog, oor vier dae begin my verlof, dink sy en ril van die koue. In die Laeveld sal dit hopelik warmer wees. Gelukkig dat tante Louise my plaas toe genooi het, anders sou ek die hele drie weke van my verlof tuis moes bly. Ek kon dit nog nooit bekostig om met vakansie te gaan nie. Maar hierdie keer is dit anders, want daar sal geen hotelkoste wees nie, slegs my reiskoste per trein.

Tina gaan bad en trek haar kamerjas aan. Sy is net besig om vir haar tee te maak toe iemand aan haar voordeur klop. Vinnig skakel sy die ketel af en gaan maak die deur oop. Dit is Walter en sy gelaat lyk strak en somber.

“Ek is jammer as ek jou gesteur het, Tina,” maak hy dadelik verskoning.

“Toemaar, jy het my nie gesteur nie. Kom gerus binne, Walter,” nooi sy bedaard. “Sal jy ’n koppie tee drink?” vra sy terwyl hulle na die sitkamer toe stap.

“Nee, niks vir my nie, dankie. Ek is ’n bietjie haastig.” Hy bly in die middel van die sitkamer staan en vervolg haastig: “Dokter Marais het my vroeër gebel. Ek vrees oubaas Meiring het vanaand aan ’n hartaanval beswyk. Ek kom juis nou van sy huis af.”

Tina kyk hom geskok aan. “Ek . . . ek kan dit byna nie glo nie, Walter. Hy het vandag so goed gelyk. Weet jy, hy het my selfs gekomplimenteer met my werk, gesê dat ek die bekwaamste sekretaresse is wat nog ooit vir hom gewerk het. Dis . . . dis skokkend dat hy so . . . so skielik oorlede is. Sy vrou is natuurlik baie hartseer. Sy was altyd so besorg oor hom.”

“Ja, sy was hartseer, maar nie troosteloos nie,” antwoord Walter. “Sy was voorbereid op hierdie ding wat vanaand plaasgevind het. Trouens, dokter Marais het die oubaas twee jaar gelede al gewaarsku om rustiger te lewe.”

Tina kyk Walter afgetrokke aan.

“Ek wonder wat sy vrou met die fabriek gaan doen,” sê sy half ingedagte.

“Sy het niks gesê nie, maar ek vermoed dat sy die prokureur opdrag sal gee om alles te verkoop, want na die be­grafnis gaan sy glo by haar suster in Durban woon.”

Daar is ’n bekommerde frons tussen haar wenkbroue toe sy sê: “Ek hoop die nuwe eienaar is net so ’n aangename mens soos die oubaas, anders gaan ek en jy baie swaar lewe, Walter, veral ek wat heeldag saam met hom moet werk.”

“Nee wat, jy moenie bekommerd wees nie, Tina,” stel Walter haar dadelik gerus. “Jy het nou wel verleer om te glimlag, maar geen werkgewer, wie hy ook al is, sal met jou werk kan fout vind nie. Die man sal ver moet soek om weer so ’n bekwame sekretaresse soos jy te vind, dit verseker ek jou. Die oubaas het altyd met lof van jou gepraat.”

“Dankie, Walter,” sê sy met ’n verwese glimlaggie. “Ek hoop maar net ons nuwe werkgewer dink ook so, want glo my, ek voel ellendig senuweeagtig as ek daaraan dink dat ek vir ’n vreemde man moet werk, ’n man met ander maniere, ’n ander sienswyse . . . Ek vrees ek sal nog eers aan die gedagte gewoond moet raak. Ek hoop net hy is nie ’n ou suurknol met ’n skerp tong nie.”

Walter begin saggies lag.

“Geen man met so ’n oulike sekretaresse sal lank suur kan bly nie, kleinsus,” terg hy goedig. “Nee wat, as hy nie met jou oor die weg kan kom nie, sal hy met geen mens op aarde oor die weg kom nie.”

Tina dink ’n rukkie na oor die oubaas se skielike afsterwe en sê dan weer: “Wat nou van my verlof, Walter? My plek is reeds op die trein bespreek vir Saterdagaand.”

“Die oubaas se afsterwe verander niks aan ons roetine nie, ou kindjie. Jy neem dus jou verlof soos dit gereël is.” Hy kyk haar ’n rukkie stil aan en sê dan weer: “Ian gaan baie na jou verlang, Tina.”

“Dis waar, ek sal ook baie na hom verlang, Walter. Hy het die afgelope agt jaar baie diep in my hart gekruip. Julle kan hom gerus toelaat om Vrydagaand by my te kom slaap.”

“Goed, ons sal so maak. ’n Kuiertjie by jou is vir hom gewoonlik soos ’n vakansie. In elk geval, ek sal nou weer moet gaan . . . Nag, Tina!”

“Nag, Walter!”

Sy sluit die voordeur en gaan maak vir haar ’n koppie tee. Hiermee stap sy na die sitkamer, skakel die verwarmer aan en trek vir haar ’n stoel nader. Die oubaas se afsterwe het haar heeltemal ontwrig. Sy weet dat sy vanaand nie gou aan die slaap sal raak nie.

Terwyl sy haar tee drink, wonder sy of die nuwe eienaar ook nuwe reëls en regulasies sal instel of straks veranderinge in die kantoor gaan aanbring. Sy hoop nie so nie, want almal is gewoond aan die oubaas se manier van dinge doen.

Dit is byna elfuur toe Tina eindelik aanstaltes maak om te gaan slaap, maar haar kommer oor die Unika-staalfabriek se nuwe eienaar hou haar nog lank wakker.

Tina is die volgende dag so besig op kantoor dat sy nie eens tyd kry om haar bedenkinge oor hul moontlike nuwe werkgewer teenoor Walter te lug nie. Na die middagete word daar onder die personeel geld ingesamel vir ’n krans, en dan moet sy weer ’n kennisgewing opstel om die personeel van die begrafnisdag in kennis te stel. Sy voel skoon pootuit toe sy die middag huis toe gaan.

“Hallo, tannie Tina!” groet Ian haar toe sy die hoek van hul straat bereik.

“Hallo, grootman!” Sy buk oor en soen hom op die koue lippies wat hy na haar uithou.

“Hoekom gaan jy weg, tannie Tina?” vra hy en plaas sy een handjie vertroulik in hare. “Pappa sê jy gaan Saterdag weg.”

Sy sien die teleurstelling in sy donkerblou oë en gee sy handjie ’n bemoedigende drukkie.

“Ek gaan nie vir goed weg nie, ou grootman, ek sal net negentien dae weg wees, en jy kom buitendien Vrydagaand by my slaap, weet jy?”

Hy knik met sy goudblonde koppie en sê na ’n rukkie: “Negentien dae is lank, tannie Tina. Dit is byna twintig, twee keer soveel as al my vingers . . . Kan ek nie saam met jou gaan nie?”

“Nee, my skat, jy kan nie. Die skool sluit eers elf dae na my vertrek, en jou onderwyseres sal jou nooit so lank voor die tyd laat gaan nie. Trouens, sy mag nie, want dit is nou eksamentyd. En as jy nie hierdie halfjaarlikse eksamen skryf nie, sal jy nooit die einde van die jaar oorgaan na graad vier toe nie.”

“Jy het nog nooit weggegaan nie, tannie Tina, hoekom wil jy nou weggaan?” vra hy weer na ’n rukkie.

“Omdat ek nie so ryk soos jou pappa is nie, ou grootman. Ek kan net met vakansie gaan na plekke toe waar ek nie nodig het om losies te betaal nie, en nou het my tante my genooi om by haar op die plaas te kom kuier,” verduidelik sy.

Hulle bereik die woonstelgebou, en soos gewoonlik nooi sy hom vir ’n koppie tee. Hulle praat nie weer oor haar vertrek nie, en pas voor sononder sê hy dat hy sal moet gaan.

Tina het pas die volgende oggend by haar kantoor aangekom, toe Walter sy verskyning in die vertrek maak.

Hy bespreek ’n paar sake met haar en sê dan: “Die oubaas se prokureur het my gisteraand gebel om te sê dat sy vrou hom opdrag gegee het om die fabriek te verkoop. Van volgende week af sal ons dus oorval word deur aspirantkopers wat die plek sal wil besigtig. Jy kan bly wees dat jy Saterdag vertrek en nie hier sal wees om deur die spul lastig geval te word nie . . . Ek bedoel nou, met vrae en sulke dinge.”

“Ek sou jou nogtans wou bystaan, Walter, maar alles is reeds vir my vertrek gereël. Ek moet nog net inpak, maar dit doen ek Saterdagoggend. Maar wat ek wou sê . . . die fabriek sal stellig al verkoop wees wanneer ek terugkom, of hoe?”

“Dis moontlik, en vir jou onthalwe hoop ek dat die nuwe eienaar ’n aangename kêrel sal wees om mee saam te werk. Ek glo daaraan dat ’n mens se personeel gelukkig in hul werk moet wees. Trouens, dit was ook oubaas Meiring se leuse. Maar wag, ek moet nou gaan. Sien jou weer later, ou kinta.”

’n Groot aantal van die personeel woon die oubaas se begrafnis die volgende middag by. Dit is egter so laat toe hulle van die begraafplaas af terugkom dat Tina nie teruggaan kantoor toe nie.

Sy is so diep ingedagte toe sy deur die dorp stap, sy ruk eintlik soos sy skrik toe Kobus Liebenberg skielik langs haar praat.

“Waarom loop jy woonstel toe, Tina? Was jy dan nie saam met jou swaer en suster by die begrafnis nie?”

“Ja, ek was, maar Walter moes teruggaan kantoor toe, en ek is gewoond daaraan om te stap. Ek loop tog elke dag werk toe en terug,” verduidelik sy bedaard.

“As jy my sal toelaat, sal ek jou gou woonstel toe neem, Tina. My motor staan net hier om die hoek,” sê hy hoopvol.

Maar Tina skud haar kop. “Ek sal liewer stap, Kobus. Dankie in elk geval vir jou vriendelike aanbod. Ian wag elke middag vir my op die hoek van die straat, daar naby die woonstelgebou, en soms kom hy my ’n entjie van die hoek af tegemoet. Ek wil hom nie graag misloop nie, want dit is al ’n instelling dat hy daar vir my wag.”

“Ja-nee, jy kan die kind nie teleurstel deur hom verniet in die koue vir jou te laat wag nie,” glimlag hy goedig. “Weet jy, ek is oortuig daarvan dat Ian meer geheg is aan jou as aan sy pleegouers.”

“Wel, ek sal dit nie sê nie,” weerspreek sy hom. “My suster het baie sosiale verpligtinge wat sy moet nakom, en om daardie rede soek Ian maar altyd my geselskap op. Ek stry nie, hy is baie geheg aan my en ek het ’n baie teer gevoel vir hom. Maar ek sal nie sê dat hy meer geheg is aan my as aan my suster nie.”

“O, nou goed, ek sal nie met jou stry nie, ou kleintjie . . . Dan sê ek maar tot siens.”

“Tot siens, Kobus!”

Soos gewoonlik, wag Ian reeds op die hoek van die straat toe Tina daar aankom. Sy seunsgesiggie helder dadelik op toe hy haar sien. Hy bied haar sy koue lippies aan en plaas sy handjie vertroulik in hare.

“Het jy na my verlang, ou grootman?” vra sy. Haar donker blik streel oor sy mooi seunsgesiggie en kyk vas in sy lewendige blou oë.

“Ek verlang elke dag na jou, tannie Tina,” bieg hy. “Hoekom kan ek nie by jou bly nie, hè?”

“En wat van jou mamma en pappa, hulle sal mos baie na jou verlang, my skapie!”

“Die kinders by die skool sê hulle is nie my regte mamma en pappa nie,” sê hy effens gelate. “Hulle sê ek het nie ’n mamma en ’n pappa nie.”

Tina plaas haar arm liefdevol om sy skouertjies en druk hom saggies teen haar vas. Op hierdie oomblik bloei haar hart vir hom . . . Ja, ook vir haar eie seuntjie wat moontlik dieselfde uittarting van sy skoolmaats verduur.

Ag, Vader, laat daar tog iemand wees wat my kindjie kan troos en bemoedig, bid sy saggies, maar sê hardop: “Daar is nie een kindjie in die wêreld wat nie ’n regte mamma en ’n pappa het nie, my skat; almal het ’n regte mamma en ’n pappa. Dis net . . . wel, soms gaan ’n mens se mamma en pappa dood, en dan neem ander mense jou omdat hulle jou liefhet en graag wil hê jy moet hul seuntjie wees . . . Jou mamma en pappa het jou baie lief, weet jy?”

Ian antwoord nie hierop nie, en na ’n rukkie sê hy opgewonde: “Mamma het gesê dis môre Vrydag en ek kan by jou kom slaap, tannie Tina. Gaan ons weer slangetjies en leertjies speel?”

“O ja, en jy gaan natuurlik weer lekker lag as die ou groot slang my insluk, nè?”

Ian se blou oë straal al weer van pret en plesier toe hulle die woonstelgebou bereik.

Die volgende dag het Tina dit baie druk op kantoor. Haar verlof begin môre, en sy wil graag vandag alles in orde bring sodat Walter nie in haar afwesigheid hoef te sukkel nie. Maar sy is tog bly toe dit eindelik tyd is vir haar om huis toe te gaan, want die dag was lank, koud en bedrywig. Sy sien uit na die stilte van haar woonstel, waar sy heerlik kan ontspan en aan haar vakansie kan dink.

’n Yskoue wind waai teen haar gesig, hier waar sy deur die dorp stap. Sy dink aan Ian wat elke middag in die koue vir haar wag, die blydskap op sy gesiggie wanneer hy haar sien . . . Dis waar, sy sal hom baie mis wanneer sy op die plaas is. Hy het so ’n teer plekkie in haar hart ingeneem. Dis asof hy gestuur is om vir die gemis aan haar eie kindjie te vergoed.

Sy is egter nie verbaas toe sy Ian nie op die gewone plek aantref nie. Sy weet dat Santi hom eers sal laat bad en eet voordat sy hom na die woonstel toe sal laat kom om daar te slaap.

Tina het pas aandete genuttig, toe Walter en Santi met Ian daar opdaag. Hy is reeds in sy slaapklere en ’n warm winterjas geklee. Hy groet haar so hartlik asof hy haar weke laas gesien het en wil dan sommer ook dadelik weet of sy na hom verlang het.

“Natuurlik het ek na jou verlang, asjas,” verseker sy hom en neem op die rusbank plaas. Hy krul hom langs haar op, gelukkig en tevrede toe sy haar arm om sy skouertjies plaas en hom teen haar vashou. Walter kyk hulle met ’n sagte blik aan, Santi met ’n geslote blik, en selfs in haar wildste drome sal Tina nooit kan raai wat op hierdie oomblik deur haar swaer en suster se gedagtes gaan nie.

Walter en Santi vertoef egter nie lank nie. Met die belofte dat hulle haar môreoggend stasie toe sal neem, groet en vertrek hulle.

Soos gewoonlik wanneer Ian in die woonstel oornag, verwyl hy en Tina die aand met speletjies. Daarna maak hy vir hulle tee, terwyl sy die kampbedjie in die balkonvertrek vir hom opmaak.

Later, in die bed, lê Tina weer lank aan die verlede en dink. Sy het tante Louise met haar pa se begrafnis laas gesien, en dit is meer as agt jaar gelede. Sy was so verbaas toe sy haar uitnodiging ontvang het, want na oom At se dood het sy hul huis verkoop en nooit weer iets van haar laat hoor nie . . . En nou woon sy op ’n plaas in die Laeveld.

Ian maak Tina die volgende oggend met ’n koppie koffie wakker wat te min melk en te veel suiker in het. Maar hy is nog so jonk en so gewillig dat sy nie die hart het om hom daarop te wys nie. Gevolglik drink sy maar die koffie en sê dit smaak baie lekker.

“Ek wens ek kan vir altyd by jou bly, tannie Tina,” sê hy en kom sit langs haar op die rusbank wat snags vir haar as bed dien.

“Jy sal my te veel bederf met al jou lekker tee en koffie,” sê sy en stuur dan die gesprek in ’n ander rigting deur te vra: “Gaan jy my vanmôre help inpak, ou grootman?”

Hy knik woordeloos met sy blonde koppie, maar die hartseer in sy blou oë spreek boekdele. Tina trek hom in die kring van haar arms en soen hom op sy sagte lippies.

“Jy moenie hartseer voel nie, Iantjie,” paai sy sag. “Ek is een van die dae weer tuis, dan gaan hou ons lekker piekniek langs die strand en ons vang vis daar van die swart rotse af. Onthou jy nog die dag toe jy amper met klere en al in die see geval het?”

Hy begin heerlik lag.

Tina doen alles in haar vermoë om Ian in ’n vrolike luim te hou. Na die ontbyt help hy haar met die skottelgoed, en dan ruim hulle die woonstel op.

Die dag verloop gesellig. Maar toe Walter en Santi by die woonstel opdaag om Tina na die stasie toe te neem, voel Ian weer dadelik neerslagtig. Toe hy Tina op die stasie groet, kan sy merk dat hy baie na aan trane is. Hy veg hard teen sy trane, maar sy stem is baie dun en bewerig toe hy sê: “Jy moet weer terugkom, tannie Tina!”

“Ek sal, my skat,” verseker sy hom, nou self effens bewoë. “Ek is een van die dae weer tuis.”

Sy soen hom twee keer, klim in die trein en waai vir hulle toe die lang passasierstrein met ’n gefluit uit die stasie stoom. Lank nadat die trein uit Groenbaai vertrek het, sien Tina nog steeds Ian se ongelukkige gesiggie voor haar.

Die treinreis is lank en vermoeiend. Toe Tina eindelik op Naboomspruit se stasie afklim, word sy deur ’n ontsettende hoofpyn geteister. Gelukkig wag tante Louise reeds vir haar op die perron en kan hulle dadelik na Bergrivier, haar plaas, vertrek.

“Nou, wat het tante laat besluit om op ’n plaas te kom woon?” vra Tina toe hulle deur die groot hek ry.

“Tina-kind,” sê sy met ’n stadige glimlaggie, “na jou oom At se dood het ek so eensaam gevoel dat ek besluit het om in die vreemde te gaan reis, maar ’n mens word daarvan ook moeg. Met my tuiskoms het ek by my ongetroude suster gaan woon. Twee jaar gelede het my ander suster ook ’n weduwee geword, en dit was toe dat ek besluit het om vir ons drie ’n sitrus­plasie te koop waar ons stil op ons oudag kan woon. Terloops, lewe jy darem gerieflik, kind? Santi het vir my geskryf dat jy ’n aansienlike salaris verdien.”

“Dis reg, tante, my salaris is redelik,” antwoord sy. Sy sê egter nie dat sy elke maand byna die helfte van haar salaris aan haar oorlede pa se krediteure stuur en dus net daarin slaag om die pot aan die kook te hou nie. Walter en Santi weet dat sy hul oorlede pa se skuld in paaiemente afbetaal, maar hulle weet nie dat sy byna die helfte van haar salaris elke maand aan die krediteure afstaan nie.

Tina is bly om tante Louise se twee susters weer te sien. Dit is vir haar duidelik dat die drie ouer mense stil maar baie gelukkig woon. Die enigste jong mense op die plaas is die bestuurder en sy vrou.

“Jy het nog nie daaraan gedink om weer te trou nie, Tina?” vra tante Louise toe hulle twee een Sondagmiddag alleen op die voorstoep sit.

Sy skud haar kop, dan kom daar meteens weer so ’n veraf, hartseer uitdrukking in haar mooi donker oë.

“Nee, tante,” sê sy sag, “ek het nog nooit weer aan ’n huwelik gedink nie. Ek het Renier nog steeds lief, en ek . . . ek sal hom altyd liefhê. Het Santi vir tante vertel van my kindjie wat ook van my af weggeneem is?”

Die ouer vrou sug en sê, met haar blik daar in die verte: “Ja, my kind, Santi het my vertel. Jou pa was ’n gevoellose mens. As jou oom At gelewe het, sou daardie dinge nooit met jou gebeur het nie, want jou oom At was die enigste mens op aarde wat jou pa kon beheer . . .”

Tina vertel haar van Ian, van haar werkgewer wat pas oorlede is en dat die fabriek nou verkoop word. Sy vertel haar tante van haar woonstel wat slegs ’n hanetreetjie van die strand af is en dat sy en Ian dikwels van die rotse af hengel, maar nooit ’n enkele vis aan die hoek kry nie . . .

Sy geniet haar verblyf op die plaas en voel heerlik uitgerus toe die dag van haar vertrek weer aanbreek. Maar toe sy by die stasie uit tante Louise se motor klim, is sy skoon verslae oor al die pakkies wat sy moet saamneem.

“Dis sommer ’n bietjie eetgoedjies,” verduidelik tante Louise. “Ons sal dikwels vir jou ’n ietsie stuur om aan te peusel, en jy moet maar elke jaar vir ons kom kuier, my kind.”

Tina bedank die liewe ou vrou hartlik vir al haar vriendelikheid en sorgsaamheid. Met die belofte dat sy volgende jaar weer sal kom kuier, groet sy die ou vroutjie en klim in die trein. Sy waai vir haar tante deur die venster totdat die trein om ’n draai gaan en sy uit haar gesigsveld verdwyn.

Toe Tina op Groenbaai aankom, wag Kobus en Ian vir haar op die stasie. Ian is skoon uitbundig van blydskap toe sy uit die trein klim. Hy omhels haar asof hy haar jare laas gesien het, en sê met ’n stralende gesiggie: “Tannie Tina, ek is so bly jy het teruggekom.”

“Ek is net so bly om terug te wees, my skapie,” sê sy en soen hom op die punt van sy neusie.

Kobus groet haar hartlik met die hand en sê dat sy baie goed lyk. Dit is net jammer dat sy so selde glimlag en dat daar so baie hartseer in haar oë is.

Sy antwoord nie hierop nie.

Ian gesels so aanhoudend in die motor dat sy nie kans kry om te verneem hoe dit met Santi en Walter gaan nie.

By die woonstel aangekom, stel sy voor dat hulle eers tee drink, maar Kobus is haastig, want dit is tyd dat hy sy apteek oopsluit, dus kan hy nie wag vir tee nie.

“Baie dankie dat jy my by die stasie kom haal het, Kobus,” sê sy vriendelik, “ek waardeer dit baie.”

“Jy weet dat jy altyd welkom is om my te skakel wanneer jy my nodig het, Tina,” sê hy. “Daar is dus niks om voor dankie te sê nie . . . Tot siens, ou kleintjie.”

“Tot siens, Kobus.”

Na die middagete stap sy saam met Ian om haar swaer en suster te gaan groet en om vir Santi die pakkie te neem wat tante Louise vir haar gestuur het.

Hulle tref Santi en Walter op die systoep aan waar hulle heerlik in die wintersonnetjie ontspan.

“H’m . . . julle sit hier soos twee dassies langs ’n klip,” terg Tina. Sy neem plaas en help Ian om op haar skoot te sit.

“Ja, ons trek maar saam met die son, al om die huis,” kom dit van Santi. “Het jy darem lekker gekuier en uitgerus, kleinsus?”

“Heerlik,” glimlag Tina. “Tante Louise het my behoorlik bederf . . .”

Hulle gesels ’n rukkie oor die plaas en sy mense, toe draai Tina na Walter en vra belangstellend: “Is die fabriek al verkoop?”

Hy knik sy kop. “Ja, die plek is ’n week gelede aan ’n meneer Dreyer verkoop, maar moet asseblief nie vra hoe ’n soort man hy is of hoe hy lyk nie, want ek weet self nie. Daar was so baie wat die fabriek kom besigtig het dat ek nie eens meer weet wie is wie nie. In elk geval, die nuwe eienaar neem die fabriek oor ’n week in besit.”

“Wel, hy het darem ’n Afrikaanse van,” sê Tina. “Ek was bevrees dat ons straks ’n uitlander vir ’n baas sal kry, een van daardie soort wat heeldag met ’n sigaar in sy mond sit en nie omgee of hy ’n mens in sy sigaarrook versmoor nie.”

Santi glimlag en kyk Tina met ’n sagte blik aan.

“Ek sal saam met jou duim vashou dat die nuwe baas nie sigare rook nie, Tina,” sê sy. “Mag hy darem sigarette rook?”

“Jy spot nou, Santi,” vermaan sy haar suster, “en ek is ernstig. Ek moet heeldag saam met die man werk, en ek verseker jou dit is nie aangenaam om in ’n rookwolk briewe af te neem nie.”

“Ek sal meneer Dreyer persoonlik vra om my kleinsus se wens te eerbiedig,” spot Santi. Toe tref ’n ander gedagte haar. “Dreyer . . . ! Dit is mos jóú van ook, Tina. Weet jy, ek het al skoon vergeet van jou . . . Hulle is seker nie familie nie, want jou Renier was mos ’n arm student.”

“Nee, hulle sal bepaald nie familie wees nie,” beaam Tina.

“Dit is darem eienaardig hoe gou ’n mens vergeet,” sê Walter. “Ons is gewoond om aan jou as Tina Eksteen te dink, selfs ek het al vergeet dat jy . . .” Sy blik val op Ian. “Wel, dat jy nie werklik Eksteen is nie. Gaan jy jou nooiensvan terugneem, Tina?”

“Nee,” sê sy sag. “Ek het nog al die jare gevoel dat ek eendag my . . . die kind sal vind. En wanneer daardie dag aanbreek, moet hy weet dat sy ma en pa wettig getroud was. Sy ma moet dan nog steeds mevrou wees, Walter, nie juffrou nie.”

“Het tannie Tina ’n seuntjie?” vra Ian onverwags, hier waar hy met sy blonde koppie teen haar skouer leun.

“Maar natuurlik het ek ’n seuntjie!” probeer sy die gesprek van so ewe weglag. “Hier sit hy op my skoot, en sy naam is Ian Froneman.”

“Ons het sommer van ’n ander seuntjie gepraat, Ian,” red Walter die situasie, “’n ander tannie se seuntjie.”

Ian dink ’n rukkie na oor Tina se verklaring, en vra met ’n ernstige stemmetjie: “Is ek rêrig jou seuntjie, tannie Tina?”

Sy druk hom saggies teen haar vas en soen hom op sy voorkop.

“Jy is ons almal se seuntjie,” troos sy. “Wanneer jy tuis is, is jy Mamma en Pappa se seuntjie, en wanneer jy by my in die woonstel is, is jy mý seuntjie.”

“Dan is ek nie rêrig jou seuntjie nie, tannie Tina,” sê hy teleurgesteld.

“Wel, met daardie blonde hare en blou oë, kon jy maklik my seun gewees het . . .” Dit tref haar meteens dat sy te veel gesê het en vervolg haastig: “Ek wil vreeslik graag ’n seuntjie met blonde hare en blou oë hê, ’n seuntjie wat soos jy lyk. Swart hare en bruin oë lyk vir my glad nie interessant nie.”

Santi bied aan om tee te maak, aangesien die huishulp die middag vry het. Sy nooi Tina om vir aandete te bly, maar Tina skud haar kop.

“Ek het ’n hele tas vol wasgoed wat vanaand gewas en môre gestryk moet word, want oormôre moet ek weer gaan werk. In elk geval, dankie vir jou uitnodiging, Santi. Op ’n ander dag neem ek dit graag aan.”

Terwyl Santi die tee maak, gesels Tina en Walter oor die fabriek en hul werk, en dan kom die nuwe eienaar van die fabriek weer ter sprake.

“Wel, vir ons albei se onthalwe hoop ek dat hy ’n aangename kêrel is om mee saam te werk, Walter. Dit sal vervlaks onplesierig wees om heeldag saam met ’n suurknol en ’n pruttelpot te werk.”

Walter glimlag geamuseer, maar sê dan gerusstellend: “Die prokureur sê meneer Dreyer is ’n besonder skerpsinnige man, maar ook ’n aangename kêrel. Hy het glo baie kennis van die staalbedryf . . .”

Tina gesels by haar swaer en suster totdat die wysers van haar polshorlosie wys dat dit halfvyf is. Toe sê sy Ian aan om sy slaapklere te gaan haal, want dit is al ’n instelling dat hy naweke by haar bly.

Susanna M Lingua Gunstelinge 3

Подняться наверх