Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua - Страница 8

5

Оглавление

Vir Tina is elke dag soos ’n ewigheid. Sy het alle belangstelling in die lewe verloor en praat feitlik met niemand nie. Haar pa het die eerste paar dae pal by haar in die kamer gesit, maar later moes hy ook erken dat Tina haar finaal onttrek het en in haar eie afgesonderde wêreld lewe.

Dokter Serfontein voel al bekommerd, want daar is geen tekens dat sy aansterk nie. Sy doen ook nie eens moeite om bedags orent te sit nie. Wanneer sy nie slaap nie, lê sy met groot, verdrietige oë deur die venster en staar, en snags lê sy ure lank en snik asof haar hart wil breek.

’n Week later word Gerhardus Eksteen dringend na sy kantoor in Johannesburg ontbied. Hy reël met Rita Jordaan dat Tina by haar kan bly totdat sy sterk genoeg is om met die motor Johannesburg toe te reis.

Met dokter Serfontein en Rita se getroue hulp en bystand is Tina drie weke later sterk genoeg om uit die bed uit op te staan. Ofskoon sy nog steeds geen belangstelling in die lewe toon nie, voel die dokter oortuig daarvan dat sy wel later weer rigting sal vind.

Rita en Hettie kry vir Tina eindelik weer sover dat sy vir kort wandelings saam met Hettie gaan. Maar Hettie vind dat hul wandelings nie meer dieselfde is nie, want Tina is nie soos voorheen nie. Sy toon geen belangstelling meer in die berg, die klowe en die doringbome wat oortrek is met geel blommetjies nie. Sy gesels ook nie soos voorheen nie. Trouens, sy praat kwalik en antwoord net wanneer Hettie ’n vraag aan haar stel. Soms gaan sit sy op ’n rots en staar na die horison totdat Hettie haar daaraan herinner dat hulle moet huis toe gaan.

Tina praat ook nooit van haar kindjie nie, maar Hettie weet dat sy oor haar seuntjie treur, want sy het nog nooit weer geglimlag sedert haar pa en mevrou Pelser haar baba weggeneem het nie, en sy hoor ook dikwels hoe droewig Tina in die nag oor haar kindjie huil.

Twee maande na Tina se bevalling daag haar pa onverwags op Doringdal op om haar huis toe te neem. Hulle het pas ontbyt genuttig en Tina is nog besig om Rita met die ontbytskottelgoed te help, toe Hettie hulle kom vertel dat meneer Eksteen net voor die deur stilgehou het.

Rita droog dadelik haar hande af en stap na die voordeur toe. Tina is egter nie haastig om die man te gaan groet wat haar al so baie leed aangedoen het nie. Sy plaas eers al die borde en koppies in die rak voordat sy sitkamer toe gaan.

Haar pa groet haar met ’n soen. Hy is bewus van haar kil houding en die aanklag in haar oë, maar sê nogtans tevrede: “Dokter Serfontein het my gisteraand gebel en gesê jy is nou sterk genoeg vir die reis na Johannesburg toe. Ek vrees jy sal jou nou dadelik moet gaan aantrek sodat ons kan ry. Ek moet agtuur vanaand in Johannesburg wees om ’n vergadering by te woon.”

Met Rita en Hettie se hulp, neem dit Rita nie lank om haar persoonlike besittings in te pak nie. Sy weier om haar kraamrokke saam te neem en vra Rita om daarvan ontslae te raak.

Eers toe haar tasse in die motor is, besef sy hoe lief sy werklik vir Rita en Hettie geword het. Sy groet en bedank hulle vir al hul vriendelikheid, maar sy weet dat sy in woorde nooit haar dank kan uitspreek vir alles wat hulle vir haar gedoen en beteken het nie.

Op pad Johannesburg toe is Tina, soos gewoonlik, stil en in haarself gekeer. Die feit dat sy huis toe gaan, laat haar geheel en al koud, want tuis is daar niks wat weer glans aan haar lewe kan gee nie. Die een plek is vir haar maar net soos die ander . . .

Hulle kom net betyds tuis sodat Gerhardus sy vergadering kan bywoon. Tina voel so moeg van die lang reis dat sy na die ete maar dadelik bed toe gaan, maar soos gewoonlik bring die stil ure van die nag weer al die pynlike herinneringe terug en huil sy haar aan die slaap.

Tina is reeds ’n week tuis toe haar pa haar die aand na die ete na sy studeerkamer toe ontbied.

“Noudat jy so mooi aangesterk het,” sê hy nadat sy gaan sit het, “voel ek dis tyd dat jy jou plek in die regte kringe behoort in te neem, Tina. Ek sal vir jou ’n partytjie reël vir Sater­dagaand en sorg dat die gaste net uit jong mense bestaan.”

“Verskoon my, maar ek stel hoegenaamd nie belang in jou vriende of hul sosiale kringe nie,” sê sy met iets soos minag­ting in haar stem. “Ek kan jou natuurlik nie belet om ’n partytjie te gee nie, maar ek weier beslis om dit by te woon –”

“Wat! Jy sê jy weier?” val hy haar skerp in die rede. “Nou, luister jy wat ek te sê het. Noudat jy van daardie . . . e . . . van alles ontslae is en weer jou gesig vir die wêreld kan wys, sal jy by my besluite berus. Van nou af sal ék vir jou besluit.”

Al die gebeure van die afgelope jaar, die pyn, hartseer en verlange laat ineens ’n onkeerbare wrewel in Tina opstoot.

“Ek sou dink dat jy my genoeg hartseer en verdriet aangedoen het,” sê sy opstandig. “Jy het reeds my hele lewe verwoes, en dan praat jy nog van besluite neem! Ek is nie meer daardie Tina wat jy so maklik kon dreig nie. Die vrou wat hier voor jou sit, is mevróú Dreyer, die ma van die babaseuntjie wat jy sonder sy ouers se toestemming weggegee het, en ek skrik nie vir jou dreigemente nie.”

“So, en waar kom jy, ’n minderjarige, aan al hierdie sotheid wat jy pas kwytgeraak het?” vra hy. Hy doen sy bes om sy woede te verbloem, maar vir Tina kan hy dit nie wegsteek nie; sy ken hom te goed.

“Sedert my huwelik met Renier is ek nie meer ’n minderjarige nie,” antwoord sy. “Ek is ’n vrou en ’n ma, en ek laat my nie langer deur jou voorskryf nie. Om Renier se onthalwe het ek jou toegelaat om my huwelik te vernietig, maar ek het jou nie die reg gegee om my kind weg te gee nie. Jy het ’n kriminele oortreding begaan, want daardie seuntjie was nie ’n buite-egtelike kind nie. Ek was wettig met sy pa getroud.”

“Wat presies probeer jy vir my sê, Tina?” vra hy onheilspellend sag.

“Net dat jy van nou af moet ophou om jou met my lewe in te meng en jou wil op my te probeer afdwing. Ek weet waarom jy my onskuldige kindjie weggegee het, maar ek gaan hom soek, en ek sal soek totdat ek hom kry.”

“Jy sal hom nooit kry nie, want hy is reeds ’n maand gelede deur ’n kinderlose egpaar aangeneem –”

“Dis ’n leuen, ek glo dit nie. Jy sê dit net om my seer te maak,” val sy hom half histeries in die rede. “Jy skep mos behae daarin om my seer te maak, my geluk te verpletter en my toekoms te vernietig. Ek het die afgelope jaar al tot die slotsom gekom dat jy my stiefpa moet wees . . .”

“Nee, ek is nie jou stiefpa nie, Tina,” keer hy, nou weer kalm. “Jy is my eie dogtertjie, daarom begeer ek net die beste vir jou.”

“En die beste is natuurlik Thys Joubert. Wel, ek wil hom nie hê nie.”

“Ek glo nie ons moet hierdie gesprek vanaand voortsit nie,” doen Gerhardus onverstoord aan die hand. “Jy lyk vir my inderdaad bleek en ontsteld. Ek dink jy moet liewer gaan rus; ons kan weer op ’n ander dag gesels wanneer jy beter voel.”

“Ek sal nooit in my lewe weer anders voel nie,” verseker sy hom heftig. “Jy het alles van my af weggeneem wat vir my dierbaar was. Nou is daar niks vir my oor om voor te lewe nie, want ek stel nie belang in jou vriende, jul partytjies of jul sosiale kringe nie. So, moenie eens probeer om jou vriende aan my op te dwing nie, want dan sal ek nie verantwoordelik wees vir wat ek sê of doen nie.”

Tina wou net van die stoel af opstaan en na haar kamer toe gaan, maar haar pa beduie met ’n ligte handgebaar dat sy moet sit.

Daar is ’n suggestie van moegheid in sy stem toe hy weer sê: “Ek weet jy beskou my as wreed, gevoelloos en onmenslik, Tina, maar alles wat ek gedoen het, was vir jou eie beswil. Soos ek reeds gesê het, ek begeer net die beste vir jou. Ek dink jy moet maar liewer gaan slaap, my kind.”

Soos al die ander nagte, huil Tina haar weer aan die slaap. Sy huil omdat sy na Renier verlang en oor die verlies van haar kindjie wat sy nie eens een keer kon sien of vashou nie, en nou stellig nooit in haar lewe sal sien nie. Sy het nog al die tyd gehoop, gebid en geglo dat sy haar kindjie by die een of ander inrigting sal vind, maar vanaand het haar pa al daardie vurige hoop en verwagting verpletter toe hy gesê het dat haar kindjie reeds deur ander mense aangeneem is.

Dokter Serfontein het haar so ernstig verseker dat alles met ’n doel geskied, maar sy kan geen doel in die verlies van haar man en haar seun sien nie. Vir haar is dit ’n wrede ondervinding wat sy nie verdien het nie.

Die dae wat volg, is vir Tina leeg en doelloos. Net die pyn in haar hart is soos ’n vlam in haar. Sy dink nie eens aan môre en al die ander môres nie, want elke nuwe dag bring dieselfde herinneringe. Sy sien hoe die somer sy einde bereik, hoe die bome se blare stadig begin verkleur, maar ook dit laat geen indruk op haar nie, want daar is vir haar niks om na uit te sien nie.

Tina is reeds vier maande lank tuis. Haar pa het ’n maand gelede weer met haar gepraat oor ’n moontlike huwelik met Thys Joubert, maar nadat sy gedreig het om Thys alles van haar verlede te vertel indien hy die man aan haar probeer opdwing, het hy nog nie weer Thys se naam in haar teenwoordigheid genoem nie.

Dit is nou al byna ’n week dat haar pa gespanne en bekommerd lyk. Verlede nag het hy bepaald baie min geslaap, want aan die ontbyttafel het sy gesig opvallend moeg gelyk en sy oë bloedbelope, maar andersins was hy netjies en met sorg geklee, soos gewoonlik.

Tina soek haar pen en trek die spieëltafel se laai oop. Haar blik val op die brief wat sy ’n maand gelede van Santi, haar suster, ontvang het, en sy voel hoe die trane weer agter haar ooglede begin brand.

My liewe ou sussie, lees sy, ek hoop van harte dat dit beter met jou gaan en dat jy darem al jou teleurstellings en hartseer in ’n mate te bowe gekom het, want ek voel so vreeslik gelukkig.

Dit is seker baie selfsugtig van my om so gelukkig te voel na alles wat jy moes deurmaak. Maar, ag, jy weet mos dat ek en Walter nooit kinders sal hê nie, en nou het ons ’n kindjie aangeneem. Hy is die allerliefste ou seuntjie . . .

My eie ou seuntjie was ook ’n allerliefste ou seuntjie, dink Tina, en nou rol die trane vrylik oor haar wange. Sy weet nie waarom sy die brief weer gelees het nie. Dit ontstel haar tog net om van Santi en Walter se aangenome kindjie te lees terwyl haar hart brand van verlange na haar eie ou seuntjie wat so wreed van haar af weggeskeur is.

Ek het nie eens die eer gehad om hom een keer in my arms te hou of selfs te sien hoe hy lyk nie, dink sy. Ja, ek weet nie eens hoe my eie kindjie lyk nie!

Sy skeur die brief in stukkies en laat dit afgetrokke in die snippermandjie val. Haar oë is nou weer dof van pyn en hartseer toe sy haar slaapkamer verlaat en op die voorstoep uitstap. Sy besef dat die jare die pyn in haar hart kan versag, maar sy weet dat die herinnering aan haar kindjie altyd sal bly . . . Ja, daar is dinge wat selfs die jare nie kan uitwis nie.

Tina is so diep ingedagte toe sy met die stoeptreetjies afklim dat sy nie die motor opmerk wat voor die deur stilhou nie. Twee mans klim uit die voertuig en loop haar tegemoet. Hulle groet haar beleef en stel hulle aan haar voor as menere Venter en Le Roux.

Dis Venter, die lang kêrel, wat vra: “Is jou pa tuis, juffrou Eksteen?”

“Nee, hy is in sy kantoor, meneer Venter. My pa kom baie selde huis toe vir middagete,” antwoord sy.

Hy kyk haar skerp, ondersoekend aan en vra dan weer: “Juffrou, is jy baie seker dat jou pa nie tuis is nie?”

Tina kyk die man half vererg aan. “Ek het jou reeds gesê dat hy by sy kantoor is, meneer Venter.”

“Juffrou, ons is van die speurafdeling en ek verseker jou dat jou pa nog nooit vanoggend by sy kantoor opgedaag het nie,” sê hy.

Tina frons verward. “Maar hy is vanoggend na ontbyt kantoor toe! Mag ek vra waarom julle na hom soek, meneer Venter?”

“Juffrou, ek is jammer dat ek die onaangename nuus aan jou moet oordra, maar ek het ’n lasbrief vir jou pa se inhegtenisneming.”

Tina kyk die speurder geskok aan. “Maar . . . maar dis onmoontlik! Wat is die . . . die aanklag teen hom?”

“Geldverduistering, juffrou,” antwoord die speurder. “Jou pa het ’n reusebedrag geld van sy firma verduister.” Hy noem ’n bedrag wat haar asem wegslaan.

“Ek kan dit nie glo nie,” sê sy. “My pa is ’n skatryk man, waarom sou hy die firma se geld steel?”

“Ek vrees ek ken nie die antwoord op jou vraag nie, juffrou Eksteen. Ek het net die lasbrief ontvang om meneer Gerhardus Eksteen in hegtenis te neem op aanklag van geldverduistering.” Hy wys die lasbrief.

“Wel, my pa is nie tuis nie, meneer Venter, en dit staan jou vry om die huis te deursoek as jy my nie glo nie,” sê sy bedaard.

Die speurder oorweeg haar voorstel en vra dan: “Mag ek asseblief die telefoon gebruik?”

Sy neem hom na die telefoon in die voorportaal toe en stap dan weer uit. Sy is oortuig dat daar êrens ’n fout in die firma se boeke ingesluip het, want haar pa is gans te trots en hooghartig om so ’n skandaal te veroorsaak . . . Of was dit die rede waarom hy Thys Joubert aan haar wou afsmeer; om hom uit sy finansiële moeilikheid te red?

Tina ruk soos sy skrik toe die speurder skielik agter haar praat.

“Juffrou,” sê hy ietwat huiwerig, “ek vrees ek het al weer onaangename nuus. Ek is pas meegedeel dat jou pa gevind is . . . Hy is dood in sy motor aangetref.”

“Dood?” Sy kyk hom geskok aan. “Hoe . . . waaraan is hy dood?”

“Deur gas van sy motor se uitlaatpyp . . . selfmoord.”

“Dan . . . was hy skuldig,” sê sy half aan haarself. “Ek sal my suster en swaer dadelik moet laat weet.”

“Sal ek dit vir jou doen, juffrou Eksteen?” vra die speurder hulpvaardig.

Tina skud haar kop.

“Dankie, dit is baie vriendelik van jou, maar ek dink dit sal beter wees dat ek self met my suster praat. Hulle woon op Groenbaai aan die suidkus. En as jy my nou sal verskoon, sal ek hulle solank in kennis stel.”

Hierna groet en vertrek die speurders.

Tina wag nie lank nie, toe is haar oproep deur en praat sy met Santi.

“Tina, dis wonderlik om weer jou stem te hoor!” roep Santi verras uit. “Ek verlang al so baie na jou, my sussie. Wanneer kom jy vir ons kuier?”

“Ek weet nie, Santi. Hier het iets skokkends gebeur, daarom bel ek jou. Dis Pa. Hy is vanoggend oorlede . . . selfmoord gepleeg –”

“Nee, ek glo dit nie!” roep Santi geskok uit. Toe bars sy in trane uit.

“Dit is waar, Santi,” sê Tina. “Ek kan jou nie al die besonderhede oor die telefoon gee nie, maar hy het dit bepaald gedoen om hom van die vernedering van ’n vreeslike skandaal te red. Dit sal natuurlik in al die middagkoerante wees en ook oor die radio uitgesaai word. In elk geval, ek verwag jou en Walter hier so gou as wat dit vir julle moontlik is.”

“Ons . . . kom dadelik,” sê Santi met ’n hees, tranerige stem. Toe sê hulle vir mekaar tot siens en lui af.

Tina het gelyk gehad. Na die nuus om kwart oor een, weet almal dat Gerhardus Eksteen ’n ongelooflike klomp geld van sy firma verduister en vanoggend selfmoord gepleeg het.

Tina weet nie veel van haar pa se sake af nie, maar sy besef dat daar beslag gelê sal word op al sy besittings. Sy besef ook dat sy so gou moontlik vir haar ’n werk sal moet vind, maar watter werkgewer sal Gerhardus Eksteen se dogter in diens neem?

Dis waar, sy sal hierdie saak met Walter en Santi moet bespreek, want haar spaargeld sal haar nie lank aan die lewe hou nie. Vandag is sy egter bly dat sy ’n matrieksertifikaat het met handelsvakke. Sy behoort heel maklik ’n betrekking te bekom.

Die stilte hang vanaand swaar oor die Eksteen-woning. Tina het nog nie een traan oor haar pa gestort nie. Die verlies van haar kind lê nog te rou in haar hart om ’n traan oor hom te stort. Sy voel dat dit sy eie trots en hooghartigheid is wat hom tot so ’n einde gedryf het. As hy destyds, na haar ma se dood, hierdie pragstuk van ’n huis verkoop en eenvoudiger gelewe het, sou dit nie vir hom nodig gewees het om sy firma se geld vir sy eie doeleindes te gebruik nie. Maar almal wat op ’n eenvoudiger skaal gelewe het as hy, was benede sy stand. Hy het selfs haar huwelik vernietig en haar kindjie weggegee omdat Renier en sy seuntjie nie in sy lewens­patroon gepas het nie.

Dis waar, sy wil hom nie verwyt nie, maar hy het te diep wonde in haar hart geslaan om nou trane oor hom te stort. Sy voel net bitter jammer vir hom omdat hy sy trots en hooghartigheid toegelaat het om hulle albei se lewe te ruïneer.

Dit is byna tienuur toe Walter se motor voor die deur stilhou. Santi is weer dadelik in trane toe sy haar suster groet. Maar toe haar aangenome seun begin kriewelrig word, vee sy gou haar trane af.

Tina groet haar swaer, en dan dwaal haar blik weer na die pragtige blonde seuntjie wat op Santi se arm sit. Hy kyk haar met intense blou oë aan asof hy wonder waarom sy nie ook huil nie, sy mamma huil dan al feitlik heeldag!

Daar is ’n brandende pyn in Tina se hart toe sy in die blonde seuntjie se donkerblou ogies kyk. Haar eie ou seuntjie, waar hy ook al is, is ook ses maande oud en, wie weet, straks het hy ook blonde haartjies en blou ogies soos hierdie kêreltjie.

Dit lyk asof die grootman Tina klaar opgesom het, want nou hou hy sy armpies met ’n breë glimlag na haar toe uit.

Tina is so beïndruk deur die kêreltjie se spontane glimlag dat sy nie eens die skielike strakheid op Santi se gelaat opmerk nie. Sy neem die babaseuntjie in haar arms en vra sag: “Wat is sy naam?”

Dit is Walter wat antwoord.

“Ons noem hom Ian, en glo my, hy ken al sy naam. Nogal ’n besonder intelligente seun. Hy klap al hande, sing homself aan die slaap en maak ons klokslag sesuur elke oggend wakker.”

“Hy . . . is pragtig,” sê Tina met ’n onvaste stem. “Ek weet nie eens hoe my eie seuntjie lyk nie, want ek het nooit die eer gehad om hom te sien of in my arms te hou nie.”

Santi is nou doodsbleek, maar Tina skryf dit toe aan haar verdriet oor hul pa se afsterwe, derhalwe bepaal sy haar onverdeelde aandag by klein Ian, wie se handjies nou met mening na haar swart hare gryp. Sy kielie hom in sy vet nekkie totdat hy kraai van genot.

Hulle gaan sit, en na ’n rukkie sê Tina weer: “Ek dink my seuntjie het ook blonde hare en blou oë soos . . . soos Renier.”

“Ek veronderstel Renier is die man met wie jy getroud was?” Walter kyk haar vraend aan.

Tina knik. “Ons was drie weke getroud toe my pa ons huwelik vernietig het, maar ek sal Renier altyd liefhê. Vir my sal daar nooit weer ’n ander liefde wees nie.”

Hulle gesels daar in die sitkamer totdat die huishulp hulle met tee en verversings bedien. Ian kry sy bottel melk en raak in Tina se arms aan die slaap.

In haar bed, daardie aand, huil Tina weer bitterlik oor haar kindjie wat sy nie eens een keer in haar arms kon vashou nie. Noudat sy klein Ian gesien en vertroetel het, is haar verlange na haar eie kindjie soveel intenser en die leemte in haar lewe soveel groter.

Die volgende oggend voel sy, soos gewoonlik, leeg en van alle lewenslus gestroop. Walter tref die reëlings vir die begrafnis, en sy bied aan om na Ian te kyk terwyl hy en Santi die ontslapene se oorskot gaan besigtig.

“Is jy seker jy wil nie saamgaan nie, Tina?” vra Walter toe sy en Ian hulle na die motor toe vergesel.

Sy skud haar kop. “Hy sal maar net soos gisteroggend lyk, en ek sal hom altyd onthou soos wat ek hom geken het . . . trots, hooghartig en verwaand.”

Walter en Santi kyk haar geskok aan.

“Waarom sê jy hy was verwaand, Tina?” vra Walter.

“Omdat hy op sommige mense neergesien het wat in elke opsig beter as hy was, en omdat hy hom die reg wou toeëien om my lewe in ’n vorm te giet wat hom gepas het, en vir mý gevoelens het hy niks omgegee nie . . . Nee, gaan julle maar, ek sal klein Ian oppas.”

“Jy klink so . . . so hard en verbitter, Tina, ek ken jou mos nie so nie!” Santi kyk haar simpatiek aan.

Tina kyk haar suster reguit aan.

“Ek is nie verhard nie, Santi, ek voel maar net . . . wel . . . nog steeds bitter seer oor die verlies van my man en my kindjie. Jy het nog nie so ’n ontsettende verlies belewe nie, dus sal jy nie kan begryp hoe ’n diep wond dit laat nie. Ek glo nie ’n leeftyd is lank genoeg om so ’n wond te heel nie.”

Na Santi en Walter se vertrek, gaan stap Tina met klein Ian in die tuin. Elke keer wanneer sy in die baba se mooi blou ogies kyk, voel dit asof haar hart wil breek van verlange na haar eie kindjie . . . en tog voel sy vreemd aangetrokke tot hierdie pragtige babaseuntjie. Dit voel vir haar asof haar eie kindjie na haar teruggekeer het in die gestalte van klein Ian.

Sy druk die kêreltjie stywer teen haar vas, soen hom liefderik op die een rosige wangetjie en mymer fluisterend, met haar lippe teen sy wang: “Jy kon my eie seuntjie gewees het, jou pragtige kleinding. Met daardie blonde hare en blou oë kon jy my en Renier se seuntjie gewees het.”

Santi is baie hartseer toe sy en Walter later terugkeer. Walter is stil en afgetrokke, en ’n somber atmosfeer heers in die huis.

“Ek dink ek sal ’n rukkie gaan rus,” sê Santi. “Ek het so ’n ellendige hoofpyn, dit voel of my kop wil bars.”

“Jy sal hoofpynpoeiers in die medisynekassie in die bad­kamer kry,” sê Tina, “en moenie jou oor klein Ian bekommer nie, ek sal vir hom sorg. Hy is glad nie ’n inkennige seun nie, en dit lyk nogal of hy van my hou.”

Die res van die oggend speel Tina met klein Ian op die voorstoep. Na die middagete sit sy hom in die bed en bly by hom totdat hy slaap. Hierna gaan sit sy langs die swembad en dink aan alles wat die afgelope vyftien maande plaasgevind het.

Renier en die Beukesse weet bepaald almal dat haar pa gevangenisstraf ontduik het deur sy eie lewe te neem, dink sy. Dan wonder sy weer waarom Riana nooit haar brief beantwoord het nie.

Sy verag my bepaald omdat ek Renier destyds verlaat het, dink sy. Ja, dis nooit anders nie. Die hele gesin was lief vir Renier, en haar ouers het haar seker belet om langer met my vriende te wees.

Nou dwaal haar gedagtes weer na Renier. Sy het dit al dikwels oorweeg om hom by die Orion-staalfabriek te bel, maar die gedagte dat hy nie eens haar brief beantwoord het nie, het haar nog telkens van die plan laat afsien. Sy besef dat hy niks meer met haar te doen wil hê nie. Ja, vir al wat sy weet, is hy straks weer getroud. Aantreklike mans soos hy bly nie lank ongetroud nie . . .

“Waarom sit jy so alleen hier langs die swembad, Tina?” praat Santi meteens agter haar.

“Ek het sommer net aan die verlede gesit en dink,” antwoord sy weemoedig. Sy nooi Santi om te sit, maar laasgenoemde skud haar kop.

“Dankie, ek wil nie sit nie,” sê sy. “Walter het my gestuur om jou te kom haal. Hy sê daar is iets wat hy met jou wil bespreek.”

Tina kom stadig orent, glad nie gretig om nou al na daardie somber huis toe terug te keer nie. Sy haak by Santi in, en tydsaam stap hulle terug huis toe.

Hulle tref Walter in die sitkamer aan waar hy diep ingedagte in ’n sagte leunstoel sit en rook. Hy nooi hulle om te sit en vervolg bedaard: “Ek dink die tyd het aangebreek dat ons oor jou toekoms gesels, Tina. Jy besef natuurlik dat al Pa se besittings verkoop sal moet word, dat die firma reeds beslag gelê het op alles wat hy besit?”

“Ja, ek weet, Walter,” antwoord sy sag. “Ek het gister daaraan gedink en ook besluit om vir my ’n betrekking in die een of ander kantoor te vind.”

“Wat is jou kwalifikasies, kleinsus?” vra hy na ’n rukkie.

“Wel, ek het ’n matrieksertifikaat met handelsvakke. Maar ek sal natuurlik nie hier in Johannesburg aansoek doen om ’n betrekking nie. Ek glo nie hier is ’n enkele werkgewer wat wyle Gerhardus Eksteen se dogter in diens sal neem nie.”

“Dis waar, jy kan nie hier bly nie. Ek dink dit sal beter wees as jy by ons kom intrek. Met jou kwalifikasies behoort jy maklik ’n betrekking by die Unika-staalfabriek te kry. Trouens, die oubaas se private sekretaresse tree die einde van volgende maand in die huwelik, en met jou kwalifikasies behoort jy die werk te kan doen. Ek sal oubaas Meiring in dié verband spreek sodra ons tuis is.”

Tina oorweeg Walter se voorstel en vra dan: “Wanneer moet ons die huis ontruim, Walter?”

“Ek was vanoggend by Pa se prokureur. Hy sê jy het vyf dae tyd om die huis te ontruim, maar ek het vir hom gesê ons vertrek die dag na die begrafnis en dat jy by ons kom woon. Jy sal dus môre moet begin inpak, Tina.”

Sy knik haar kop instemmend.

“Dis tragies dat alles verkoop moet word – hierdie huis, die strandhuis, die vakansieplaas en die hotel op Margate,” sê Tina half ingedagte. “Ek wonder of die verkoop van al die eiendomme genoeg sal oplewer om al die skuld te dek. Dit bedra derduisende rande.”

“Ons sal dit eers weet nadat alles verkoop is,” kom dit bedaard van Walter. ’n Ander gedagte tref hom ineens. Hy kyk Tina met ’n simpatieke blik aan en vra versigtig: “Wat het tussen jou en Renier skeef geloop dat julle geskei het, Tinatjie?”

Tina kyk hom verbaas aan. “Het Pa julle dan nie vertel nie?”

Walter skud sy kop. “Pa het ons net vertel dat hy van jou geskei is en dat jy swanger is.”

“H’m . . . dis tipies van hom om sy . . . sy gemene dade vir ander te verbloem,” sê Tina met minagting. “In elk geval, daar het niks tussen my en Renier skeef geloop nie. Ons was die gelukkigste mense op aarde, totdat Pa sy verskyning by ons woonstel gemaak het . . .”

Terwyl sy vir Walter en Santi vertel hoe hul pa haar huwelik vernietig het en op hoe ’n slinkse wyse hy haar van haar kindjie beroof het, is daar soveel pyn en hartseer in haar stem dat Santi ongemerk die trane uit haar oë vee.

Sy vertel dat haar pa haar weer, na die geboorte van haar kindjie, wou dwing om met Thys Joubert in die huwelik te tree, en dat sy gedreig het om Thys te vertel dat sy reeds getroud was en selfs ’n kind gehad het.

“Nou verstaan julle waarom ek nog nie een traan gestort het nie. Ek kan nie trane, berou en hartseer veins wat ek nie voel nie. Die pyn, hartseer en verlange wat ek voel, is vir Renier en ons kindjie, die twee mense wat die naaste aan my hart is.”

’n Lang stilte volg op Tina se ontboeseming, toe vra Santi: “Waarom het jy nie vir Renier geskryf en alles aan hom verduidelik nie, Tina?”

“Ek hét vir hom geskryf, maar hy het nie eens my brief beantwoord nie,” vertel sy. “Hy dink bepaald ek is ’n swakkeling omdat ek my so volkome deur Pa laat oorheers het. Maar ek kon nie toelaat dat hy Renier leed aandoen of sy loopbaan verongeluk nie, en dit was juis die dinge wat hy gedreig het om te doen.”

“Het jy nooit weer geprobeer om met jou gewese man in aanraking te kom nie, kleinsus?” vra Walter.

Tina skud haar kop. “Wat baat dit dat ek aanhou skryf en hy beantwoord nie my briewe nie?”

“Het jy hom nie eens laat weet dat jy swanger was nie?” Walter kyk haar verbaas aan.

Tina byt op haar onderlip om die bewing te stil. Sy is baie na aan trane, maar kry dit tog reg om te sê: “As ’n vrou haar man in die steek laat, kan sy tog nie verwag dat hy in haar toestand moet belangstel nie, Walter!”

“Maar jy het verkeerd, Tina, elke normale man sal in sy kind belangstel,” help Walter haar reg. “Jy het jou man verlaat, dus het hy, volgens wet, meer reg op die kind gehad as jy. Ek ys as ek dink aan wat die gevolg gaan wees as hy moet vasstel dat sy kind sonder sy medewete weggegee is, en dit nogal sy eerste kind en ’n seun daarby. Dit was ’n onwettige daad . . .”

“Dit was nie die enigste onwettige daad wat my pa gepleeg het nie, Walter,” val Tina hom in die rede. “Maar toe hy vind dat sy onwettige dade hom ingehaal het, gaan soek hy ontvlugting in die dood. In elk geval, hy het baie duur betaal.”

Tina dink ’n oomblik na en vervolg ernstig: “Ek sal vanaand vir Renier skryf en hom van ons kindjie vertel. Moontlik slaag hy nog daarin om my kind op te spoor en aan my terug te besorg.”

Tina is so diep ingedagte dat sy nie eens die onrus in Santi se oë opmerk toe sy Walter betekenisvol aankyk nie.

“Ek glo nie jy sal Renier na vyftien maande nog by die ou adres vind nie, Tina,” hoor sy Walter sê. “Ek voel oortuig daarvan dat hy na jul egskeiding in die een of ander hotel gaan loseer het.”

“Dis moontlik,” stem sy saam, “maar dit sal nie moeilik wees om sy huidige adres op te spoor nie.” Sy staan van die stoel af op en vervolg: “Ek gaan net gou die firma bel waar hy werk. Hulle sal my sy regte adres kan gee.”

In haar pa se studeerkamer neem sy die telefoongids en soek na Meyerstad. Sy skakel die regte nommer, en na ’n rukkie antwoord ’n vrou vriendelik.

“Orion-staalfabriek?”

“Goeiemiddag, dame,” sê Tina beleef. “Kan jy my asseblief meneer Dreyer, een van jul ingenieurs, se adres en kontaknommer gee?”

“Meneer Dreyer werk die afgelope jaar nie meer hier nie,” hoor sy die stem in haar oor sê. “Hy het bedank, en ek weet regtig nie waar hy nou werk nie. Hy het iets gepraat van ’n aanbod wat hy ontvang het met beter vooruitsigte.”

Tina sê dankie en lui af.

Santi is effens bleek van onrus en afwagting toe Tina haar verskyning in die sitkamer maak.

“Het jy toe vasgestel waar Renier woon?” vra sy.

Tina skud haar kop. “Die vrou in die kantoor sê hy het ’n jaar gelede al bedank en hom elders gaan vestig. Ek het dus geen hoop om hom of my kindjie ooit weer te sien nie. Ek het hulle albei nou vir altyd verloor.”

“Ek dink dit is beter dat jy die onvermydelike aanvaar, Tina,” sê Walter. “Jy sal in elk geval nie nou vir ’n baba kan sorg nie, want jy sal moet gaan werk om in jou eie behoeftes te voorsien.”

Tina antwoord nie hierop nie, en na ’n rukkie word hulle met namiddagkoffie bedien.

Die begrafnis is vir tienuur gereël. Tina is geensins verbaas omdat daar so min mense is nie. ’n Verslaggewer se kamera flits op haar, Santi en Walter, en sy vererg haar terstond vir die kêrel se voorbarigheid. Haar pa was nou wel nie ’n engel nie, maar hy het met sy lewe betaal vir al sy dwalinge en sy sien ook geen sensasie in sy begrafnis nie. Sy wens die kêrel wil liewer padgee met sy kamera as hy hom dan nie stigtelik kan gedra nie.

Tina is bly toe hulle eindelik weer tuis is, want almal om die graf het haar vreemd aangekyk omdat sy nie ’n enkele traan gestort het nie. Haar hart voel nog te rou en seer oor die verlies van haar kindjie om nou trane oor haar pa te stort. Miskien sal sy hom later mis en oor hom huil – later wanneer daar berusting in haar hart en in haar gemoed gekom het.

Na die middagete pak sy haar persoonlike besittings in terwyl Santi en Walter haar pa se klere inpak. Nou, vir die eerste keer, dring dit werklik tot haar deur dat sy met ’n nuwe lewe op Groenbaai sal begin, die lewe van ’n werkende meisie wat net ’n salaris sal hê om in al haar behoeftes te voorsien en dat sy vir daardie salaris sal moet werk.

Hierdie gedagte skrik haar nie af nie. Sy was nooit ’n verwende rykmansdogter nie. Haar ma het vir haar en Santi geleer dat ’n mens die dinge waarvoor jy hard gewerk het, gewoonlik meer waardeer, en dat dit geestelik sowel as liggaamlik gesond is vir ’n mens om te werk.

Sy neem haar en Renier se huweliksfoto uit die laai, kyk lank na sy dierbare gesig en pak dit dan versigtig tussen haar klere in. Haar hand gaan werktuiglik na haar trouring wat sy deesdae aan ’n goue kettinkie om haar nek dra. Haar huweliksfoto en haar trouring sal altyd haar kosbaarste besitting bly, want dit is die dinge wat haar nog altyd na aan Renier laat voel.

Haar gedagtes kring nou om Renier, en sy dink aan die dinge wat kon gewees het. Hulle kon so ’n gelukkige gesinnetjie gewees het as . . . Sy sug weemoedig.

Dit sal my hoegenaamd niks baat om langer aan die verlede te dink nie, bestraf sy haar. Wyle oom At het altyd gesê as is verbrande hout. My lewe is ook net ’n hopie vaal, koue assies, die oorblyfsels van gister se warm, koesterende vuur van liefde en verwagtinge.

Tina is nog besig met inpak, toe Santi haar by haar aansluit en op die voetenent van die bed gaan sit.

“Jy lyk hartseer, Tina,” sê Santi simpatiek. “Is dit omdat jy hierdie huis nou vir goed moet verlaat?”

Tina skud haar kop, haal haar huweliksfoto uit die tas en hou dit na Santi uit.

“Dis my huweliksfoto,” sê sy. “Renier se hare is die kleur van goud en sy oë is byna viooltjieblou.”

Santi kyk ’n lang ruk na die man op die foto en sê dan baie versigtig: “As dit jou so hartseer stem om na sy foto te kyk, waarom vernietig jy nie die foto nie, Tina?”

“Ek sal dit seker eendag doen, ousus. Op die oomblik maak dit nog te seer om van daardie foto afskeid te neem. Dit is die enigste foto wat ek van Renier het, en een van my kosbaarste besittings.”

Tina pak die foto weer tussen haar klere in, sodat dit nie beskadig kan word nie, en sit dan weer die inpakkery voort. Na ’n rukkie kyk sy moedeloos na die hoop klere wat nog ingepak moet word. Sy het reeds vier yslike groot tasse vol gepak.

“Ek weet eerlikwaar nie waarin jy al daardie goed gaan pak nie, Tinatjie,” hoor sy Santi sê.

“Ek weet ook nie,” kom dit ietwat verwese. “Maar ek waar­sku jou sommer nou – as ek nie nog twee tasse in die hande kry nie, gaan ek alles net so in die deken toevou en dit agter in Walter se motor sit.”

“Wel, ek moet sê, jy sal ’n baie lang tyd nie nodig hê om iets te koop nie, kleinsus.”

“Dis juis om daardie rede dat ek alles saamneem,” sê Tina. “Al is ek op die oomblik arm, wil ek darem netjies en ordentlik geklee werk toe gaan.”

Die son hang reeds in die weste toe Tina eindelik die laaste tas toeknip. Sy weet nie hoe Walter al haar bagasie in sy motor sal kry nie. Die helfte sal bepaald per spoor vervoer moet word.

Tina was egter verkeerd, want toe hulle die volgende oggend gereed is om te vertrek, merk sy dat al haar bagasie in die motor is. Sy het reeds van die huis en van die tuine afskeid geneem toe Walter die voordeur sluit.

Dis eienaardig, dink sy, hier waar sy met die stoeptreetjies afklim, maar aan alles kom daar ’n einde. Vandat ek myself ken, woon ons al in hierdie huis. As dogtertjie het ek in hierdie tuin gespeel, hier grootgeword, en nou het daar ook ’n einde aan gekom. Voortaan sal die plek nie meer aan die Eksteens behoort nie . . .

“As jy gereed is, Tina, kan ons maar gaan,” hoor sy Walter agter haar sê.

Sy werp ’n laaste blik oor die tuin, dan klim sy in die motor, en na ’n rukkie ry hulle by die groot hek uit, weg van die plek af waar sy lief en leed in oormaat geken het.

Susanna M Lingua Gunstelinge 3

Подняться наверх