Читать книгу Wat het geword van Dinsdag? - Tinus Horn - Страница 7
By Wits het ek van die vorige jaar af skelm in my ateljee geslaap en by die sportklub se gym gestort. Ek sê my ateljee. Dit was eintlik ’n M-student s’n; die derdejaars het ’n groot gemeenskaplike ateljee gebruik. Sy het ’n ateljee by die huis gehad en wou nie een by Wits hê nie. Bill Chymes het in my oor gefluister ek moet haar vra of ek dit kan oorneem. En sy het ja gesê. So maklik soos dit. Die admin by Wits was chaoties. Niemand het vrae gevra nie. Die volgende jaar het ek net aangebly. Simone Butler het min of meer dieselfde deal gehad. Ons was Bill se witbroodjies.
ОглавлениеDie aand nadat ek Lloyd ontmoet het, kon ek nie my sleutel kry toe ek wou oopsluit nie. Gelukkig was die ateljee op grondvlak. Ek kon omloop, ’n venster breek, oopmaak en inklim. Die sekuriteitswag se hond het aan die blaf geraak net toe ek deurklim. My balans was nie van die allerbeste nie, en ek dink die geblaf het my ontsenu. My voet het aan die vensterraam vasgehaak en ek het die teëlvloer kop eerste getref en my oogbank oopgeval.
Die wag en sy hond het aangedraf gekom en ek kon sien hy’s geskok toe hy sy kop deur die venster steek en my so bebloed in die maanlig op die grond sien sit.
Alpheus het my geken en ons het soms ’n grappie gedeel. So halfpad deur my derde jaar het ek hom een aand ’n paar rand betaal om hom blind te hou toe ek my beddegoed indra. Hy kon in die moeilikheid kom daaroor, maar ek het klaar ’n antwoord gereed gehad as iemand sou vra: dis vir die model. En dit wás ook, wanneer die model wou oorslaap.
Toe ek daardie aand bebloed en so half deur die mis opsukkel, het die sleutel langs my op die vloer gelê.
“Jy moet by Joburg Gen uitkom,” het Alpheus deur die venster gesê. “Jy bloei te erg.”
“Nee, Alpheus, nee. Gaan nou okay wees.”
“Jy moet gaan!”
Ek het net my kop geskud. Dít was ’n fout: vir ’n oomblik was die pyn nie net in die omtes van die wond nie, maar my hele kop vol.
Alpheus is onder protes weg. Ek het ’n hemp van die grond af opgetel, in repe geskeur en my wond daarmee verbind.
Vroegoggend, lank voor sonop, het ek natgesweet wakker geword en gewonder of dit die wyn of die val of al twee was wat die skuld vir my hoofpyn moes dra. Toe ek regop sit, het ek gesien – uit een oog, die ander een was toegeswel – my hele kussing is met bloed deurweek.
Ek het uitgestap na die badkamers toe en my gesig afgewas. Die sny was nie naastenby so erg soos wat al die bloed my laat vermoed het nie.
Ek het besluit ek kort ’n haarsny. Ek het dit nie gedoen om Lloyd te beïndruk nie. Inteendeel, die soort kunstenaars wat daar uitstal, is juis die tipe wat baie geld en tyd aan hulle kunstenaarsvoorkoms bestee; lang hare is goed. Dit was in elk geval nog voordat ek onthou het Lloyd het my ontbied. Oorgenooi.
Die groepuitstalling het my studentedae nie-amptelik afgesluit, en ’n nuwe voorkoms – dalk iets wat by ’n blouoog en ’n wond pas – sou deel wees van my bevryding.
Daar was ’n skêr in my ateljee. Ek het hom gaan haal en die slierte in die wasbak afgesny. Nie kort nie, so halfpad oor my kraag. Van die vuilbaard het ek gehou.
Hierdie poging het my nie juis beter toegerus vir ’n toekomstige loopbaan laat lyk nie, behalwe dalk as bouncer by ’n strip club.
My kar was nie stukkend nie. Nie regtig nie. Ek moes ’n vyfliterkan met water oral saamkarwei en elke tien minute stilhou om die verkoeler vol te maak, maar verder was die ou Rambler Classic-stasiewa – my erfporsie, met sy speedometer wat nog in myle meet, en net een jaar jonger as ek – betroubaar genoeg.
Die ou Rambler. Een keer amper-amper op die scrapyard beland, maar dit was lank voordat hy by my uitgekom het.
My pa het van karre gehou en Car van voor tot agter deurgelees, maar hy was nie meganies aangelê nie. Anders gestel: hy het nie ’n benul gehad van wat hy doen nie. En tog wou hy alewig self aan stukkende goed peuter. Dalk omdat hy regtig daarvan gehou het – mens hoef nie goed te wees om iets te geniet nie – maar meer waarskynlik omdat hy geld wou spaar, soos baie mense wat vroeër regtig swaargekry het.
My ma het gewoonlik met sy besparingsmaatreëls akkoord gegaan. Sy het brandarm in Vrededorp – Fietas – grootgeword, een van tien kinders. Paai-en-milkshake by De Beers of Monty’s in die middestad, een maal ’n jaar aan die einde van ’n rowwe dag se Kersinkopies met vier kinders op sleeptou, was in later jare vir haar ’n groot bederf. Maar oor die Rambler het sy ná baie jare begin mor. Sy wou gehad het my pa moes iets beters – dalk ’n Ford of ’n Chev – op skuld koop. Maar skuld was op my pa se karige Spoorweg-salaris helaas nooit ’n opsie nie – hy het gegrap dat ons dan luukshede sou mos opoffer. “Soos kos.”
So, toe die Rambler se ratkas inkonk, het my pa een oggend sy oudste hemp en broek aangetrek, sy lendelam gereedskapkis van die rak in die garage afgehaal en aan die werk gespring.
Die gereedskap was ’n bontspul wat my pa deur die jare bymekaargeskraap het. Party van die spanners was reddeloos geroes. Die skroewedraaiers was almal stomp. My pa moes kombuismesse uitsmokkel om vir hulle in te staan. Dié was nutteloos vir alles behalwe muurproppe vervang – dit kon my pa darem doen. Die moertjies en skroewe in ’n klein aparte boksie was almal voorheen gebruik, waarskynlik in toerusting wat my pa self reggemaak het.
Sy vaardighede was nie teen ’n stukkende ketel opgewasse nie, wat nog te sê ’n antieke ou tjor se ratkas. Hy het ook nooit uit sy foute geleer nie en elke nuwe projek met dieselfde ywer aangepak. Só was dit ook met die Rambler.
Niemand behalwe my pa het ’n gelukkige einde verwag nie, maar daar was tog ’n verrassende wending. Soos dit my ma se gewoonte was, het sy later ’n ooggetuieverslag gelewer, al was sy nie by nie.
My pa kon nie uitpluis wat fout is nie. Presies wat hy verwag het, is moeilik om te sê – hy het nie eers geweet hoe ’n fout sou lyk nie.
“En daar kry hy toe mos hierdie snaakse uitdrukking op sy gesig,” het my ma gesê. “So kwaad en vrolik tegelyk. En hy kyk so om hom rond, die jirre alleen weet waarna die man toe soek, maar daar vang iets mos sy oog. Ek probeer kyk waaroor grinnik hy so. Hy gaan staan voor ’n rak en toe hy omdraai, het hy ’n donnerse tweepondhamer in sy hand. En ek wil nog sê ‘En nou, Hekkie, wat nou?’ toe’s hy klaar by die kar en hy sê ‘moegskont’ en hy gee die gearbox een hou, één, lat die spaanders waai. En hy gaan sit die hamer mooi netjies terug, en hy vee sy oliehande af aan ’n kombuislap wat hy skelm uitgedra het, en hy lyk skoon gelukkig. Soos op hierdie troufoto van Linet. Nee-nee-nee, hierdie een. Mmmnnnn … lyk amper of Hekkie al een of twee ingehad het. Maar dit was nog by die kerk. Voor ons die boek teken. Met Hekkie weet mens natuurlik nooit. Hoe ook al. Ewe gelukkig vryf ou Hek toe die laaste bietjie olie op sy hand aan sy hemp af en hy sê vir my: ‘Mammie, drink ons tee?’ Jirre, ek haat dit as hy vir my ‘Mammie’ sê.”
Tweepondhamer. Nóg ’n pre-desimale oer-implement.
“Moegskont” – hy’t gebry – was my pa se enigste vloekwoord behalwe “donner” en “bliksem”, en hy’t ontken dat dit ’n vloekwoord was en dit met oorgawe as ’n skeldnaam én ’n troetelnaam gebruik tot die aand voor sy dood. Hy het daardie aand van my gepraat. “Waag is die klein moegskont?” het hy gevra toe hy sien ek is nie daar nie. Linet het my later vertel.
Waag wás die klein moegskont? Die klein moegskont was op die foon met ’n meisie wat hy probeer opchat het. Vergeefs.
My ma se storie kon nie waar gewees het nie – sy het nog minder van karre af geweet as my pa. Maar my ma het nie omgegee as sy die feite verkeerd kry nie. Solank daar ’n gehoor om die kombuistafel geskaar was, het sy vertel. Haar lewe het om stories gedraai. Halwe waarhede. My ma het geweet selfs goeie ware stories kan nog beter gemaak word.
My pa se probleme met die Rambler het daardie oggend by die kombuistafel al begin. Soos gewoonlik het ek en hy saam maar apart koffie gedrink – ons het nie veel vir mekaar te sê gehad nie. Nie een was kwaad vir die ander nie, dit was maar net so. Dié oggend het hy te voorskyn gekom met ’n oliebevlekte handleiding – nugter weet waar gekry – met ’n foto van ’n kar soos ons s’n op die voorblad. Selfde blougrys nommer, maar met die stuurwiel aan die linkerkant. Hy het sy leesbril opgesit en aan my ma verduidelik dat die boek lyk soos hy lyk omdat dit ’n workshop manual is wat mens nie op ’n rak êrens kan laat lê terwyl jy karre service en brieke bloei en daai tipe van ding nie.
Toe hy die boek by “gearbox” oopslaan en begin lees, het hy dadelik diep gefrons en denkbeeldige sweet van sy voorkop afgevee. “Sjoe, Mammie. Sjoe.”
Die “Mammie”-ding het die kak uit my ma geïrriteer. Ek weet vir ’n feit sy het nooit in haar lewe ’n sielkunde-handleiding onder oë gehad nie, en as sy van Freud geweet het, was dit maar net dat daar so iemand in die geskiedenis bestaan het, soos Martin Luther King, wat sy met Martin Luther verwar het.
Maar die feite in hierdie geval was verdoemend: “Mammie” was nie ’n onskuldige troetelnaam nie. My pa se ma is dood toe hy ’n pap baba was. Hy wou bitter graag gehad het my ma moet hom pamperlang, maar pamperlang was helaas nie deel van my ma se liefdesrepertoire nie. Met ons kinders, ja, tot my diepe verleentheid, maar beslis nie met my pa nie. Hy moes ’n yster wees, en “yster” was nie eintlik sy ding nie.
Irreconcilable differences, dus, maar hulle het desondanks voortgestrompel, selde baklei en by tye selfs heel voorspoedig voortgestoom, halsstarrig genoeg om nie ’n enkele vergunning te maak vir die ander een se onredelike behoeftes nie. Dit was albei se redding, reken ek.
“Ek’s nie jou donnerse ma nie,” het sy daardie keer gesnou, soos sy maar altyd gemaak het.
My pa het ’n vel papier byderhand gehad waarop hy elke blindelingse stappie sorgvuldig aangeteken het, sodat hy die proses later, wanneer die foute uitgestryk was, agteruit kon herhaal.
En die frons? Hy het twee goed gesien wat hom ontstig het:
“Ek sal die donnegse ding eegs moet uithaal. Ag nee, allamagtag. Ek moet ondeg die kag inkguip. Ai, Mammie.”
Hy het nooit by die uithaal uitgekom nie. So ek raai dit was daar, onder die kar, dat hy ná ’n uur of wat besef het die situasie is hopeloos. My uitgedinkte beskrywing van sy reaksie is sonder twyfel nader aan die waarheid as my ma s’n: Hy het onder die kar uitgeseil, reguit na die tweepondhamer toe geloop – sy garage met die armsalige gereedskap was onberispelik netjies uiteengesit – en daarmee op die engine afgepyl en die ding met een magtige, wilde swaai laat boet.
Dis hoe hy pakgegee het ook. Wild en wakker, sonder om een oomblik aan die gevolge te dink. Ek en my broers het jare later daaroor gepraat, en agtergekom al drie van ons se pakslae-kwota was twee: twee skrikwekkende pakke slae, wat mens amper kon laat wonder of jy hulle gaan oorleef. Wanneer dit uiteindelik uitbars, was sy toorn groot, sy gesig soos dié van die Skepper self waar Hy vuur en zwavel op Sodom en Gomorra laat neerdaal nadat hy net mooi genoeg gepraat het. My pa se belt het jou oral en aanhoudend getref, seker nie meer as ’n minuut of wat lank nie, maar dit het langer as ’n ewigheid in die verderf gevoel.
So, eintlik het die Rambler lig daarvan afgekom. En oor een ding was my ma waarskynlik reg: dat hy die huis kalm binnegestap en sonder sorge aan sy tee geslurp het. Dalk saam met ’n paar Bakers Marie biscuits.
Oor die Rambler se heengaan was my ma bly, veral toe sy hoor my pa bel vir Bok om die ding te kom wegsleep. Bok, een van my pa se kollegas, se broer het ’n scrapyard in Crown Mines besit.
My pa het trots gelyk, amper statig, agter die wiel van die Rambler terwyl Bok se broer hom wegsleep.
“Hy’t stilleg geloop as ou Laugie se Jaguag,” het my pa daardie aand aan die etenstafel gesê. Almal het saam gelag. Dis een van die min familie-etes wat my nog bybly.
’n Ander een is die keer toe my ma haar bord opgelig en so hard op die tafel neergesmyt het dat dit gebreek het. Beetsous het in my oë gespat.
Ek en Frankie het mekaar oor en weer sit en tik, ’n hou vir ’n hou. Frankie het my gereeld geboelie, en ek het terugbaklei, soos my aard maar is. Hy is nege jaar ouer as ek. Ek was ’n glips, lank nadat my ouers besluit het: genoeg.
Laurie was die oom – my ma se swaer – wat sy armoede gladweg in ’n melk-empire omskep het. Hy’t begin met ’n klein melkery in Fordsburg, op die munisipale pensioentjie wat hy as buskondukteur versamel het. Hy was seker so veertig. Vyf jaar later het hy die diep-wynrooi Jaguar met die swart-en-roomkleur bekleedsel uit die boks gekoop. Oom Laurie het van die Rambler af opgegradeer, en dié aan my pa verkoop.
Ek was ses, die Desember toe ons die langpad vir die eerste keer met die Rambler aangepak het. Bestemming: Ladismith in die Klein-Karoo. Langenhoven-wêreld, het my pa gespog. Ek kan nie vir seker sê nie, maar uit my herinneringe aan my ma se vertelling raai ek dit was ’n lang test drive. Of dalk het oom Laurie die Rambler vir my pa geleen.
Amptelik het ons vir my oom Janneman, my pa se ouer broer en soort van my naamgenoot, op die plaas gaan kuier, maar die eintlike sending was om my pa se oorlogsoldy, wat my stiefouma, ou Henna, dekades tevore gesteel het, te gaan terugvra.
Die gesprek tussen my ouers en my grootouers het agter toe deure geskied terwyl ons buite rondstaan.
Henna se verweer, het ek later gehoor, was dat my pa gesê het sy kan ’n bril met die geld laat maak. My ma het hoflik (of so het sy beweer) gesê ou Henna kon vir die hele familie, die hele dórp, laat brille maak het met die geld, en daar sou genoeg oor gewees het vir ’n kar. Die ou vrou het skouers opgetrek en gevra of my ma nog ’n stukkie melktert wou hê. Maar my pa het opgestaan en gesê hulle moet gaan. Hoflik. In sy geval is ek feitlik seker daarvan.
Hoe my pa toe vir die Rambler betaal het, weet ek nie. Dalk met ’n neseier wat vir iets anders bestem was.
Dit was oom Laurie se eerste kar, die Rambler, net toe die melkery mooi op dreef gekom het. Juis ’n stasiewa, want mens kon meer melkkanne daarin laai. Hy’t later ’n bakkie ook gekoop, dieselfde tyd as die Jaguar, want in dié sou daar nooit as te nimmer ’n melkkan ry nie. Oom Laurie het die Jaguar altyd met ’n hoed op bestuur. “Met daai hoed en sy beeshoringsnor lyk hy amper Brits,” het my ma gesê. As ek nou daaraan terugdink, was dit seker nie ’n kompliment nie – my ouma Chrissie was ’n konsentrasiekampkind. Maar “Brits” het vir my reg en goed geklink.
Nugter weet waar oom Laurie en antie Petro-hulle se klas en styl vandaan kom. Ek het hulle nooit geken toe hulle arm was nie. Die huis waar ons vir hulle gaan kuier het, met die wilgerboom onder in die tuin, was die ene Persiese tapyte, skilderye en after-dinner mints. “Oor die Hartmans is daar niks te skinder nie,” het my ma eenkeer gesê, dalk met ’n tikkie spyt in haar stem. Sy het hulle wel eenkeer “die Oppenheimers” genoem toe hulle op ’n eilandvakansie vertrek het.
My ma se vreugde oor die wegmaak van die Rambler vele jare later was van korte duur. My pa het die volgende dag van plan verander. “Daai Begt” – dis nou Bok se broer – “is ’n sluwe klein mannetjie. Ek soek my kag tgug.”
Bert, wat toe nog nie betaal het nie, het my pa reg bewys. Toe my pa bel, het hy gesê hy het die ding ongelukkig klaar uitmekaar laat haal. My pa het gesê “Nee, dan’s dit geg,” die foon neergesit en dadelik vir oom Laurie gebel om hom Crown Mines toe te vat.
By Bert’s Auto Spares het die Rambler gestaan, net soos hulle hom gelos het.
“Daai Begt se gevgeet was al die kleuge van die geënboog. Gooi en pegs en oganje. Hy’t nie eegs jammeg gesê oog sy liegtegy nie. Net die sleutels in my hand gepgop.”
Oom Laurie het die Rambler met die bakkie na ons huis toe gesleep. ’n Paar maande later kon my pa dit bekostig om die herstelwerk te laat doen.
Vier dae voor my sewentiende verjaarsdag is my pa dood. Ek was geskok toe my ma die Rambler se sleutels in my hand stop – hy was soort van te koop. My pa het ’n nuwe kar gehad en ons was allermins ’n tweemotorgesin. My ma het nooit leer bestuur nie.
My pa het “FOR SALE” in dik wit letters met kalk of iets agterstevoor aan die binnekant van die agtervenster geverf, maar die “S” het hy gewoonweg geskryf, en van buite af was dit dus agterstevoor. My ma het vir Frankie gestuur om dit stilletjies reg te maak.
Die Rambler het agter in die jaart gestaan, so ek weet nie aan wie presies my pa hom wou verkoop nie. Frankie het hom wel af en toe uitgevat vir ’n spin om te keer dat die battery afloop.
Nou ja. Daar staan ek toe met die Rambler se sleutel. Ai tog, het ek gedink, maar gemaak of ek dankbaar was.