Читать книгу Wat het geword van Dinsdag? - Tinus Horn - Страница 8

Martin Jennings, ’n mede-student wat later roem verwerf het as die Weekly Mail se spotprentkunstenaar maar ná 1994 gefire en deur Zapiro vervang is omdat Martin die nuwe regering net so driftig aangeval het as die oue, het my die aand van die uitstalling met Lloyd sien gesels en so in die verbyloop vlak agter my oor gefluister: “Whore!”

Оглавление

Ek was te dronk om te reageer, of self twee keer daaroor na te dink, maar dit sou my nie gepla het nie, nugter of dronk.

Almal moet oorleef, op dié manier of dáái. Dis hoe dit is en hoe dit moet wees. Ek weet dit. Martin Jennings weet dit. Simone Butler weet dit. Vincent van Gogh het dit geweet.

Hoekom het ek dan so ’n klein bietjie vuil gevoel toe ek daardie middag, skuins ná vyf, met die ou Rambler voor Lloyd se galery stilhou? Dis maklik. Boompies en stroompies. Olifante. Ek het geweet ek hoort nie daar nie.

Die swaar staalhekke het stadig oopgeswaai. Ek het die Rambler langs ’n geel sportmotortjie ingetrek.

Die deur van die galery was oop. ’n Blonde vrou, seker dertig of so, dalk jonger, met gelaatstrekke uit growwe graniet gebeitel eerder as uit fyn porselein, het op ’n hoë stoeltjie by ontvangs gesit, maar langs die toonbank pleks van agter hom. Haar bene was gekruis en die boonste een het van die knie af ondertoe liggies vorentoe en agtertoe geswaai. Een elmboog het op daardie been gerus, haar ken op haar hand. In die ander hand was ’n glas witwyn. Rook het uit ’n sigaret in ’n asbakkie op die toonbank getrek. Daar was ’n lang spleet teen die kant van haar rok af. Sy het nie ’n bra aangehad nie. Dit was nie sommer enige stoeltjie nie. Handgekerf, uit ’n enkele boomstomp, honderde jare oud, Sentraal-Afrika. Ek raai Kameroen. En ek raai die honderde jare. Die vrou en die stoeltjie saam was ’n treffende kunswerk.

Sy het gesit en ek het gestaan, maar sy kon uit die hoogte op my afkyk, soos galerymense mos met kunstenaars maak.

“Hallo. Ek’s Joe. Ek het ’n afspraak met –”

“Ek weet. Jy het ’n afspraak met my.”

“Maar –”

“I know that it’s me that you’re coming to see. Ekskuus. Ek het na Billy Joel geluister net voor jy gekom het. Weet jy hoe moeg raak mens vir negende simfonieë en tweede bewegings en hoeveelste rapsodieë van die oggend tot die fokken aand? So, ja – dis ek en jy wat gaan gesels. Lloyd vlieg oor ’n halfuur Las Vegas toe om te gaan dobbel. Hy dobbel met kunswerke. Hy wil ’n Barbara Hepworth aan ’n versamelaar verkwansel. Britse kuns is mos deesdae shit-hot. Dankie, Francis Bacon! Dankie, Lucien Freud! Hy doen die meeste van sy transaksies in Europa en Japan. Nouuuu en dan Amerika.

“Joe, probeer asseblief om my in die oë te kyk. Met daai een oop oog van jou. Of besluit of jy op my bene gaan fokus of op my cleavage. Boontoe en ondertoe, boontoe en ondertoe – jy freak my so ’n bietjie uit. Terloops, dis nie vir jou wat ek so aangetrek het nie. Dis vir die kliënte. Ek lyk elke dag so. Kunstenaars verkoop hulleself aan ons, nie andersom nie. My naam is Elrike. Hallo!”

Sy het van die stoeltjie afgeklim en vooruit gestap na ’n vertrek met swaar leerbanke, skilderye en klein beeldhouwerke wat my oortuig het Lloyd en sy mense se smaak is onberispelik; die goeie goed hou hulle vir hulleself. Sy het gewys ek moet sit en vir my ’n groot glas rooiwyn geskink sonder om te vra of ek wou hê en haar eie glas met witwyn volgemaak. Ek het die vorige aand by die uitstalling rooiwyn gedrink.

“Hou sommer die bottel by jou.”

Sy het op dieselfde bank as ek kom sit, aan die ander end, haar skoene uitgeskop, haarself gemaklik gemaak met haar voete op die middelste sitplek en ’n slukkie wyn gevat.

“Wat het jy in jou sak?” Sy het na my skouersak beduie.

“Ag, stuff. Die gewone.”

“Jou gewone en myne is nie noodwendig dieselfde nie. Pak asseblief alles op hierdie tafeltjie uit.”

“Vir wat?”

“Dis ’n privaat gesprek. Die hele land is in sy moer. Mense vang die vreemdste goed aan. Luister gesprekke af met die hoop dat hulle dit later teen iemand kan gebruik. Dis soos ek reken Rusland onder Stalin gevoel het. Duitsland onder Hitler. China onder Mao. Moenie PW Botha se psigotiese streep onderskat nie, Joe. So ek – ons – speel veilig. Pak gou uit, asseblief.”

Ek het die sakkie leeggemaak. My ID-boek, ’n Afrikaanse skoolwoordeboek, kleingeld, ’n paar note, ’n tekenboekie, twee potlode, ’n skerpmaker, ’n uitveër en ’n boekie met ’n donkergroen kunsleerband en vergulde bladrande.

Sy tel die boekie op. “Mmmm. Óf jy het kultuur, óf jy is verlief. Vir jou part hoop ek dis die kultuur-ding. Jy weet seker Dante was verlief op homself. Soos alle digters. En skilders.”

Die boekie was die vorige jaar se Kersgeskenk van Nina. Ons eerste Kersfees saam. Ek was geskok toe ek sien Nina het R290 daarvoor betaal. My broer Dan se huurgeld vir ’n semi in Brixton was iets soos R200. En Nina was ’n student.

Sy het ’n hele paar maande later, terwyl sy op die matras in my ateljee langs my lê en vir my ’n stukkie daaruit lees, sommer so terloops genoem sy het die boekie per ongeluk in Melville gesteel.

“Per ongeluk?”

“Ja. Ag, hy was vir my so mooi. Kyk hoe mooi is hy! Kyk! Die bladsye is verbleikte herfsblare. Amper deurskynend. Seker deur honderde hande vertroetel, negentig jaar lank. Ek het gedink hoe mooi hy op my bedkassie sou lyk. Ag, en toe vra so ’n sad sack met ’n dik tuisgebreide trui, wat nogal knus gelyk het – is knus die regte woord? – wat nogal knus sóú gelyk het as dit nie Desember was nie – of ek dit al gelees het. Ek was amper seker hy sou nog hartseerder lyk as ek nee sê, toe sê ek maar ja. Maar toe weet ek hy gaan die ding met my wil bespreek, my dalk selfs nooi vir ’n koppie koffie, so ek moes vinnig daar wegkom. Ek het so skuinsweg vir hom geglimlag en uitgeglip. Eers twee blokke later agtergekom ek het die boekie in my hand. En toe is dit te laat. Ek kon nie teruggaan nie. Dit was te gevaarlik: dalk was die outjie nog daar. En ek het geweet die geheime projek waarmee jy besig was, was my Kersgeskenk. Nou ja, wel, ek wou mos vir jou ook iets spesiaals gee. Ek weet dit gaan nie om geld nie. Of course weet ek dit. Maar ek was bly toe ek sien hy’t R190 gekos. Dit sê mos iets.”

“R290.”

“Nee. R190.” Sy het die boekie op die skutblad oopgemaak. “Kyk mooi: ek het die 1 in ’n 2 verander. Gelukkig is dit in potlood. Nogal ’n wonky 2 – kyk. Maar ek wou nie te veel peuter nie.”

Sy het die boekie toegemaak en op die grond langs my matras neergesit, stywer teen my vasgeskuif, ’n arm oor my gegooi en my in my nek gesoen. “En daar is jou geskenk aan my toe sowaar ook ’n boekie! Met jou eie hande en jou eie woorde en jou eie prentjies. As ek geweet het jy maak iets wonderliks soos daai, het ek die 1 eerder in ’n 3 verander.”

Ek het die boekie by Elrike gevat en saam met my ander goeters teruggesit in my sak. Sy het vir haarself nog ’n glas wyn geskink.

“Goed,” het sy gesê, “hier is die reëls: Ek gaan alles sê wat jy hoef te weet. Niks is onderhandelbaar nie. Dis take it or leave it. Dus, geen vrae nie.”

“Maar wat –?”

“Het jy gehoor? Geen vrae nie. As daar vrae te vra is, sal ek hulle vra. As dit jou nie pas nie, sal ek verstaan. Dan kan jy jou wyn rustig klaar drink, sommer nog ’n glas of twee skink as jy wil. Was jy al in die tuin? Dis ’n oase! Jy kan daar tussen die beeldhouwerke op ’n bankie gaan sit en die hele bottel opdrink; ek gaan nog ’n tydjie lank besig wees. En dan stap jy uit en jy vergeet dat jy ooit hier was. Onthou net, dis die enigste kans wat jy gaan kry om te hoor wat ek wil sê. As jy wel bly sit, kan jy ‘ja’ of ‘nee’ sê wanneer ek klaar gepraat het.”

En toe praat sy.

Toe ek ’n uur of wat later uitstap, so iets tussen stap en huppel, eintlik, het ek nie meer vuil gevoel nie. Ek het rein gevoel.

Witter, ja, witter as sneeu.

Wat het geword van Dinsdag?

Подняться наверх