Читать книгу Wat het geword van Dinsdag? - Tinus Horn - Страница 9

Ek het my verbeel ek gaan by die Metropolitan Museum uitstap en oorloop van inspirasie en aan die werk spring met my lewenstaak. Hier is kilometers muur- en vloerspasie wat die hele opgetekende en vervoerbare geskiedenis van kuns, van omtrent 900 vC tot vandag, netjies opsom.

Оглавление

Dit sou mens jare vat om elke keramiekskerf, rok, frok, skildery en stuk beeldhouwerk in die Met ordentlik te bekyk. Ek kies kortpad en die millennia vlieg verby.

Toemaaktyd strompel ek uit, geheel en al oorweldig.

Die einste Metropolitan Museum het Robert Rauschenberg eendag opgebel om te sê een van sy kunswerke val uitmekaar. Hy was nie verbaas nie. Hy het nie om verskoning gevra of aangebied om die skade te herstel nie. “There is too much goddamn art in the world anyway,” het hy gesê.

* * *

In ’n youth hostel is daar altyd een of ander donnerse early bird wat sesuur moet opstaan. Ek praat nie van mense wat vlugte moet haal of so nie. Ek praat van mense wat hulle wekkers elke oggend vir sesuur stel om seker te maak hulle loop niks mis nie. Ek sou hulle wou probeer ompraat om eerder New York by night te verken, maar dit sou nie nodig wees nie; hulle zip seweuur soggens uit, ná ’n lang, raserige stort en, as daar meer as een van hulle is, ’n fluistergesprek oor die dag se dinge; dan kom hulle terug vir ’n kort middagslapie, en daar trek hulle al weer. Hulle sien sonder twyfel meer van New York as ek, maar die hel alleen weet wat máák hulle seweuur die oggend.

Ja, ek strompel snags drieuur in wanneer ek deur vreemde lande reis, maar ek sit net my goed stilletjies neer en klim in die bed.

Nou is ek wakker. Minder as drie ure slaap. Ek staan maar op, geluidloos, en trek aan. Net my baadjie; ek het skoene en al bo-op die bed aan die slaap geraak. Iewers in die nag een kant van die deken oor my getrek.

Ek sal later stort – as ek stort. Nee, ek sal moet. Ek het nie gister nie. Tienuur was al die warm water op.

Ten minste gaan ek vandag die ontbyt kry wat by die prys ingesluit is. Die basiese ontbyt by Banana Bungalow in New York is uiters basies: twee snye brood met botter en heuning of konfyt en twee bekers koffie. Mens kan eiers en spek by die kombuis bestel, baie billike pryse, maar vir eers sal die gewone, met twee ekstra snye gesteelde brood by, genoeg wees. Ek is nie hier om te eet nie. Ek wil net my maag vol kry. Soos altyd. Dit sal my hou tot so vieruur, dan ’n enorme skyf pizza, wat vir twee maaltye kan instaan.

Ek is verbaas om Michael met ’n voorskoot by die braaier te sien. En nog meer verbaas toe hy vriendelik vir my waai. Hy leun kruisbeen teen ’n kas. Daar is nog nie werk nie: dis net ek en die Argentyne, en hulle is blykbaar ook tevrede met toast en koffie.

Hy stap nader, kyk om hom rond of iemand luister, en fluister vir my: “Hoor hier, moenie nou eet nie. Ek is tienuur klaar. Dan maak ek vir jou ontbyt en ons praat bietjie kak. Um, ek wil jammer sê oor ek nou die dag so nors was. Dis nie ’n verskoning nie, maar ek was vodde. Nagmerrierit. ’n Cabby het ’n banvloek oor my uitgespreek. Ek is baie sensitief oor daardie tipe ding. Ek wonder altyd of so iemand regtig toegang het tot allerhande duister magte. Ek het amper agter in ’n ander taxi vasgejaag. Was bewerig. Kon nie my beste lewer nie. Toe sit ek maar ’n ekstra uur in. Ek durf nie afskeep nie. Vier ure in die saal. Manhattan en Brooklyn en Queens, elke paadjie, oral heen, op en af.”

“Ek sal tienuur terugkom vir ’n koffie saam met jou,” sê ek, “maar ek is nou rasend honger.”

Hy knipoog. Fluister weer: “Ek bak vir jou ’n eier. En macon – jy weet, Joodse bacon. En hash browns. Kry solank jou toast en koffie. Dan skep ek vir jou op. My baas – sy’s agtien – kom eers negeuur.”

Ek kry my ontbyt. Die eiers swem in die olie soos eende op Emmarentia-dam, maar ag. Ek is gewoond daaraan. My ma het alles in vet of olie gaargemaak.

Toe ek so tien of elf se kant was, het my pa ’n groot hartaanval oorleef. Daarna moes my ma sy kos afsonderlik gaarmaak, geheel en al sonder sout en met die minimum vet of olie – of, verkieslik, daarsonder. Haar vaardighede in die kombuis was beperk, maar sy het haar bes gedoen. Raad by vriende en familie en ons huisdokter ingewin, my gestuur om kookboeke by die biblioteek uit te neem, daai tipe van ding.

Daar is geen twyfel by my dat my pa se kos daarna gesonder was nie, maar ek was jammer vir die ou. Voorheen kon hy so lekker weglê. Ná die veranderinge het etenstye vir hom ’n straf geword. Hy’t na ons borde gestaar, oorlaai met steak en tjips, of pasta met kaas en maalvleis, of pasteie of varktjops of wat ook al, en stadig, o so stadig, die opgekookte vaal kos voor hom afgewurg.

Later het hy gesê hy kan nie meer die sielestryd verduur nie; óf hy moes in die kamer gaan eet, waar hy nie ons kos kon sien of ruik nie, óf hy moes hom vergryp aan die dinge wat die dokter sê hom na ’n vroeë graf toe sal stuur.

My pa het ook begin om soggens werk toe te stap en saans terug, en baie gewig verloor, en hy was hoogs in sy skik as iemand sê hoe goed hy lyk. Hy is baie handsome op sy oorlogsfoto, toe hy agtien was, maar sy afgryslike kinderdae en die oorlog het hom ingehaal. Hy was oud voor sy tyd, en boonop erg oorgewig voor die hartaanval. Die stappery en vaal maaltye het hom nog ouer laat lyk, diep plooie en so aan, maar ook nogal aantreklik met sy grys baard en slape.

Hy is ses jaar later dood. Hartaanval. Die aand voor sy dood het hy ’n grappie met een van die verpleegsters gemaak. “Toemaag wat, nugsie. Daggem gaan ek ’n mooi lyk wees.” En hy was ook.

Ek wonder nou hoeveel jaar al die tamaties en wortels en olywe en avokado’s en neute en piepklein hopies bruin rys en grys kookvleis by my pa se lewe gevoeg het, en of die opoffering die moeite werd was. Hy het nie eers gehou van die whisky wat hy elke aand teen slaaptyd moes drink om sy bloed te verdun nie. Tot op die einde het hy dit afgesluk soos bitter medisyne.

En ek? Ek bly maar ’n hamburger-tjips-en-bier-tipe van ou. Wie wil nou vir ewig lewe?

Ek besluit om sommer hier in die eetlokaal te bly sit tot Michael klaar gewerk het. Ek het altyd ’n sketsboek by my. Ek teken vir Michael as betaling vir die ontbyt, sy gelaatstrekke en postuur effens oordrewe. Ek moet fyn kyk en die toneel vinnig met ’n paar potloodlyne vasvang. Hy’s heeltyd heen en weer tussen die braaier en die klante. Hy’t ’n handlanger nodig. Ek teken die Argentyne. Want daar sit hulle mos. Hulle tekening hou ek vir myself. Dalk word dit eendag ’n skildery.

Ek skeur my tekening van Michael uit en pak die boekie en potlode terug in my sakkie. Michael gaan nog ’n rukkie besig wees. Sewe, agt mense staan tou. Ek kry die ou jammer, en nie net omdat hy vanoggend so alleen moet swoeg nie.

Ek voel-voel in die sakkie, haal Nina se geskenkboekie van lank gelede uit vir die eerste keer in ek weet nie hoe lank nie en glimlag weer oor die R290. Dit vat my ’n hele rukkie om te kry wat ek soek. My vertaling is derdehands, uit Engels:

Jy sal alles agterlaat wat jy die liefste het:

dit is die eerste pyl

uit ballingskap se boog.

Jy sal die soutsmaak

van ’n ander se brood ervaar en die steilte,

op en af, teen ’n ander se trappe.

En wat die swaarste op jou gemoed sal druk

is die dwaasheid van die gespuis

saam met wie jy in die sloot beland.

In matriek, terwyl ek planne gesmee het om diensplig te ontduik, het ek nog nie van Dante geweet nie, maar ek het geweet hoe lyk ’n gespuis en geweet mens gaan jou maar oral in hulle vasloop. Ek wou self gaan sien hoe die dwaasheid van dáárdie gespuis opweeg teen dié van die gespuis wat ek ten alle koste wou versaak.

Ek pak die boekie weg. Michael is nog steeds besig.

Daar staan ’n internetboks in die hoek. Ek sou graag vir iemand in Suid-Afrika ’n brief wou skryf, maar ek weet nie vir wie nie.

Die boks lyk baie soos die Asteroids-videospeletjie wat die pinball-masjien in die winkel in St Domingolaan naby Brixton-swembad vervang het. Videospeletjies was vir my ’n teleurstelling. Ek was goed met pinball. Dis die enigste sport waarin ek uitgeblink het.

Met Asteroids was my vriend Derek Lewies weer onoorwinlik. My wendae was verby.

Die winkel was om die hoek van die mooiste meisie in die skool se huis. Telana. My eerste blind date. Frankie het haar suster geken en hulle het dit gereël. Telana was toe nog in ’n ander skool. Ek het haar een Vrydagaand te voet – hoe anders? – gaan haal vir ’n skoolfliek.

By haar huis moes ek toestemming by haar pa vra, wat belaglik was; ek was immers al daar, en Telana was besig om klaar te maak. Hy’t met ’n glas in sy hand gesit. Dalk Coke, dalk brandewyn en Coke.

“Jong,” het hy gesê. “Seker maar ja. Maar jy pas vir haar op of ek donner jou dik. Dík, sê ek vir jou. Dik.”

Ek het lank gewag. Toe sy instap, was ek in ’n beswyming. Ek het opgestaan. Ek hoop ek het nie gebewe nie. Ons het haar ouers gegroet, en toe ons buite kom, het ek haar hand probeer vat. Sy het saggies weggetrek.

By die eerste hoek het sy gaan staan. “Ek is jammer. Ek kan nie.” Toe draai sy om en laat spaander, terug huis toe.

Ek was erg teleurgesteld en ’n bietjie kwaad. En tot oor my ore toe verlief, soos mens seker net op sestien kan wees.

St Domingo’s het my vernaamste pinball-winkel geword. En elke nou en dan was Telana daar. Ek het net uit die hoek van my oog na haar geloer.

Die volgende jaar was ek heel verbaas toe ek sien sy is in ons skool. Ons het mekaar nie ’n enkele keer gegroet wanneer ons mekaar teëkom nie. In die gange het sy gebloos en grond toe gekyk wanneer ek naby kom. Ek het net grond toe gekyk.

Ek was simpel genoeg om aan Derek te beken dat ek verlief was. “Ag, is jy laf? Sy’s ’n kind.” Op sewentien – dit was ’n jaar ná die blind date – het ek my verbeel ek is ’n man, nes die stomme Romeo hom verbeel het. Telana was toe al veertien, ’n volle jaar ouer as Juliet, wie se pa haar aan die eerste die beste skarminkel uit die regte agtergrond sou afsmeer.

Derek het fokkol van Romeo en Juliet geweet – wiskunde was sy ding – maar hy was toe al deur baie girlfriends en het hierdie dinge beter verstaan as ek. Toe laat vaar ek maar die gedagte om een pouse per ongeluk verby haar te stap, hallo te sê en te kyk wat gebeur.

En dit was dit.

Soms, bitter selde eintlik, wanneer ek baie ver van Suid-Afrika af is en erg alleen voel, en miskien ’n klein bietjie getrek, dink ek aan haar en verbeel my ek verstaan Dante se waansin oor sy Beatrice en die kalwerliefde wat hy lewenslank met hom saamgedra het, tot lank nadat sy met iemand anders getroud was, en ver verby die dood, waar sy hom uit die Vagevuur die Paradys in lei. Te hel met sy vrou, die ma van sy kinders! Te hel met elke ander vrou wat tussen hom en Beatrice durf staan! Te hel!

Ek en Telana is lankal mooi groot, so nou mag ek maar lawwe gedagtes koester oor “ons”, wat saam in die Uffizi ’n traan wegpink, of net amper in my geval, waar ons voor Die Venus van Urbino staan en onsself later, skoon jags van al die skoonheid om ons, aan lyflike plesier in ’n verbrokkelende hotelletjie vergryp totdat die son opkom.

Dis nie my verbeelding wat hier op loop gaan nie. Dit het presies so gebeur. Vervang net “Telana” met “Nina”. Dit was lank gelede. Baie, baie lank.

En Telana? Ek weet glad nie wat van haar geword het nie. Dalk beteken prentjies vir haar niks. Sy is sekerlik lankal getroud, soos die meeste meisies wat saam met my op skool was, met snotneuskinders wat die kak uit almal by die Spur irriteer.

Dante het net van sy Beatrice gedroom. En dit was vir hom genoeg.

Ek is verdiep in my gedagtes en skrik effens toe Michael die stoel oorkant my met sy voet nader hark.

“Skuus, man,” sê hy en sit ’n papierkoppie met koffie voor my neer. “Twee suikers, het ek geraai.”

Hy gaan sit. Ek skuif die tekening wat ek van hom gemaak het, oor die tafel in sy rigting.

“Ek lyk nie so nie!”

“Natuurlik nie. Dis Albert Einstein.”

Hy frons. “O.”

“Ag, uitgeknip jy!” sê ’n meisie wat op pad uit verbystap. Sy lag.

Michael vat die tekening en vou hom dubbel. Ek vervies my ’n bietjie, maar ag. Dis net ’n prentjie.

Michael maak sy oë toe en gooi sy kop agteroor. “Net bietjie asemskep. Sjoe.”

“Is jy voltyds kok hier … sjef?”

“Voltyds?” Hy grinnik. “Nee, nee. Ek het dinge om te doen, my vriend. Jis, dis warm voor daai braaier. Die air-con werk nie behoorlik nie. Ek het al laas week vir Silvy gesê. Dis nou my baas. Phew!” Hy vee die sweet op sy gesig met sy hemp af. “So, hoe was jou eerste ervarings van die hel?”

“Ag, die gewone goed. ’n Geween en ’n gekners van tande en so. Maar oor die musiek kan ek nie kla nie.”

“Iets uit julle boek? Die geween en die gekners? Weet nie veel daarvan nie. Behalwe dat my mense Jesus vermoor het en dis basies my skuld.”

“Toemaar wat, ek het jou vergewe.”

“Good man. Dis nou jy. Ek bedoel … Jesus ook. Ek is seker. Ons Jode glo mos nie eintlik aan die hel nie. Ek bedoel … New York is die nuwe Kanaän. Oorvloed! Melk! Heuning! Rugelach! Maar … ons loop katvoet. Die ouer geslag waarsku ons van die môre tot die aand: Pasop, pasop. Die verkeerdste ding wat mens kan doen – ’n Jood, bedoel ek nou – is om jou soos ’n Jood te gedra.”

“En hoe is dit?”

“Winkels? Vergeet nou maar eers van winkels. Wil jy ’n karikatuur van ’n Jood sien? Hulle is almal saamgekoek daar in die omgewing van Times Square. Hulle kibbel en hulle stry en as jy uitloop by een van hulle winkels – hulle spesialiseer in elektronika en I Love New York-stickers – as jy uitloop sonder ’n laptop onder jou arm of ’n sakvol stickers, sal jy weet wat haat beteken. Hulle sal iets mompel. Wat dit is, sal jy nie weet nie. Maar jy sal weet dis woorde wat uit haat gebore is. Want hoe durf jy? Maar die ding is, die ding is, nè, hulle name is almal Italiaans en hulle voorsate kom van Sicilië af. Italianers moes die Mafia stig ingeval mense dalk dink hulle is Jode. Jy lag! Gaan kyk self. Jy sal sien ek is reg. Van winkels kan ons Jode hier in New York maar vergeet as ons weet wat goed is vir ons. Ons moet maar tevrede wees met musiek maak of boeke skryf. Miskien brode en bagels bak, ja. Veral bagels. Of eiers flip in ’n youth hostel.”

“Hoekom is jy hier? In New York, bedoel ek.”

“Een ding wat jy nie moet onderskat nie, Joe, is die dieper waarheid agter die mites van die Joodse moeder.”

“Mites?”

“Mites, ja. Party kloek en party kloek nie. Party dink hulle seuntjie is dalk die Messias, ander dink die Messias-ding is ’n pot kak. Party het ’n aparte eetstel vir die Pasga, ander eet cheeseburgers uit ’n papiersak van McDonald’s. Goed, nie cheeseburgers nie. Big Mac and hold the cheese. Party Joodse moeders – en hier moet jy oplet – is heel tevrede as hulle seuns prokureurs of professore word; die dokter-ding word geheel en al uit verband uit geruk. Behalwe … behalwe as die ma se suster, die mooie, se seun klaar ’n dokter is. Dan is Michaeltjie duidelik doktermateriaal. Die D vir wiskunde staan vir ‘dokter’. Vergeet maar van die sokker waarin hy so uitblink. En van die 800-meter, wat hy van standerd 7 tot standerd 9 by die interskole-atletiek gewen het. In matriek? Vergeet nou maar vir goed van al daai dinge. Hy kan gerus maar die sokkerbal en hardloopskoene onder sy bed hou. Gerus. Maar om ’n baan hardloop of ’n bolletjie skop smiddae terwyl daar ekstra wiskundeklasse te loop is? Nee! Nou ja. Uiteindelik is klein Michael, wat toe nie meer so klein is nie, ’n mediese student. Die res is te pynlik om te beskryf. Jammer. Dalk eendag.

“Dis waar ek met die fietsryery begin het. Dit was my enigste vertroosting, my enigste hoop. Trap, trap, trap. Dis daar waar ek my droom ontdek het. Teen die middel van my vyfde jaar – vierde jaar akademies – het ek genoeg gehad. Ek het geweet ek sal nie verder kom nie. Twee maande later was ek op ’n vliegtuig, op pad New York toe. Jy wonder seker hoe. Dis maklik: geld.

“My pa was deel van die komplot. Hy sou die nuus aan my ma breek. En my droom finansier. My eie droom. Nie die een wat my ma uitgedink het nie. En hy het ook. Drie jaar lank. Ons was welaf … en toe nie meer nie.”

“Ja …?”

“Móét jy weet?”

“Nee, nee, ek …”

“Toemaar, wat. Ek weet ek kan jou met my geheime vertrou. Hy is ’n juwelier. Was. En, ag – daar is versoekinge. Jy kan mos dink. Goud en diamante. Die res moet jy maar vir jouself uitwerk. Maar die geld was op. Op. Dit was ’n aaklige tyd. Ek was in ’n dwaal. Van my sinne af. Soos ek jou mos gesê het. Soveel so dat ek een middag my fiets buite teen ’n paal laat staan het. Lieflik, sê ek vir jou. Lieflik! Glad. Blitsig. Italiaans. Ek het ’n bier gedrink. Een. Ek drink altyd net een. Toe ek buite kom …”

“Ai.”

“Ag. Vandag beskou ek dit as ’n les. Ek het gespaar en hierdie Raleigh van my gekoop. Ek het ’n Chopper op skool gehad, so ek het maar gedink: ’n Raleigh. Goed soos nuut. Hom gehaat in die begin, en kyk nou. Nou is daardie Raleigh soos ’n broer vir my. En ek het weer reggekom. So.”

Ek is effens verbaas. Ek het sommer aanvaar Michael is ná matriek land-uit. Soos ék wou maak. Maar ek het gebly, gespuis ten spyt.

Gespuis? Ek praat van die ooms en tannies wat voor ons huis verby kerk toe mik – die oom wat die pad aandui, kordaat met sy snor, die tannie trots-onderdanig ’n breukdeel van ’n treetjie agterna. Ek praat van Dominee en Pastoor, van ouderling en diaken. Ag, enige skynheilige doos in wie se denkbeeldige weergawe van Jesus Hy ’n veer voel vir naasteliefde en vergifnis en daai tipe van kak.

Ek praat van onderwysers wat jou ses houe met ’n rottang slaan omdat jou hare aan jou kraag raak. Hare wat die skoolreëls met twee sentimeter oortree, maak uit die aard van die saak van jou ’n ducktail (drie dekades laat), ’n hippie (tien jaar laat) en, les bes, ’n trassie.

Ek praat van ’n polisieman wat in my ouerhuis sit en spog het dat hy die een was wat die eerste doodskoot by Sharpeville afgevuur het. Sy naam was Paul Steyn, en hy was vir ’n baie kort rukkie my mooiste niggie, Leah, se boyfriend. Ek het die Sharpeville-storie eers baie jare later gehoor; dit het twee jaar voor my geboorte gebeur. Ek was klein toe ek dit die eerste keer gehoor het en ek het nie geweet wat dit beteken nie. Lewe en dood was maar abstrakte konsepte, soos seevakansies en gesonde kos.

Ek het wel op vier uit die bloute ’n groot verlies aan eie lyf ervaar toe die SPCA ons blinde bulldog, Max, in ’n lorrietjie kom haal het. Max, wat nooit in so ’n klein erfie soos ons s’n gelukkig kon gewees het nie, maar tog oneindig verdraagsaam was wanneer ek op sy rug duik.

Dit was in skooltyd, wat beteken het my broers en suster het die trauma vrygespring.

Ek het vooraf van niks geweet nie. Daar was ’n klop aan ons voordeur. My ma het oopgemaak. Dit was ’n swart man in ’n oorjas. Max het seker geblaf. Ma het vir die man gesê hy moet net wag. Sy het vir my oranje aanmaakkoeldrank geskink en dit na die kamer toe gevat wat ek met my broers gedeel het. Daar het sy dit op die vensterbank bokant my bed neergesit. Sy het my in die badkamer gehelp om my hande mooi te was en af te droog en gesê ek moet in die kamer wag terwyl sy met die meneer praat.

Die “meneer” was, terloops, nie ’n teken van respek nie, maar eerder so ’n halwe gespot met my pa omdat hy haar altyd berispe het wanneer sy die woorde gebruik wat so gladweg van die meeste Afrikaners se tonge gerol het, woorde wat sy nie áltyd gebruik het nie, maar wel wanneer sy kwaad was.

So, ja, ek moes wag terwyl sy met die meneer praat. Toe haal sy die groot boek vol stories en prentjies waarvan ek so baie gehou het uit die kas en sê ek mag maar alleen by die lessenaar daardeur sit en blaai, maar nie voor ek my koeldrank op die bed opgedrink en weer my hande gewas het nie.

Dit was ’n duur boek wat antie Petro vir my van oorsee af saamgebring het. Ek was opgewonde oor die boek en het die koeldrank vir eers op die vensterbank gelos. Nadat ek ’n rukkie geblaai het, het ek iets gehoor. ’n Tjankie.

Ek het opgespring en by my kamerdeur uitgehardloop. Ek het geweet iets was nie reg nie. Toe my ma my in die eetkamer sien, het sy die sifdeur voor die kombuisdeur toegeklap, maar ek het deur die sif gesien hoe die man en sy handlanger Max agter in die trokkie laai.

Ek wou uithardloop, maar my ma het my ferm aan my skouer teruggehou.

“Max!” het ek geskree. “Max-Max-MAX!” Hy moes my gehoor het, daar was weer ’n tjankie. Die man het die trokkie se swaaideure toegemaak. “Ma,” het ek gesê. Gepleit. “Ma.”

My ma het niks gedoen nie. Nie eers toe sy die lorrietjie met Max agterin sien wegtrek nie. Niks. Net langs my kom kniel en my teen haar vasgedruk en op my agterkop gesoen. Niks.

Ek het myself hees gehuil terwyl ek aan die deur se handvatsel klou, met my wang styf teen die sifdraad. Ek het my van my ma af probeer losruk, maar ek kon nie. Later het ek afgesak ondertoe en net daar bly lê en snik. My ma wou my optel en dalk vashou, maar ek het gespartel en geskree sy moet my uitlos, en sy het.

Dis waar ek later wakker geword het, met ’n klein kombersie oor my. Ek was nog steeds kwaad vir my ma. Ek het verby haar geskuur waar sy besig was om deeg vir scones te meng. Gewoonlik was scones net vir Sondae, nou en dan.

Ek is na my kamer toe en het die deur toegeklap, wat onder ander omstandighede vir my ’n harde plathandhou op die gat sou verwerf het. Ek het die koeldrank in die vensterbank sien staan, op my bed geklim en ’n slukkie gevat. Toe klim ek van die bed af, stap na die lessenaar toe en gooi die res van die koeldrank uit op die duur boek van oorsee. Ek het beter gevoel. Daar het ek bly sit.

Later het my ma ingekom en gesê: “Hallo, my engeltjie.” Toe sien sy die boek en gee twee lang treë tot by my en gryp my aan die skouer. Maar haar greep het amper dadelik versag. “My liefietjie, my lief,” het sy gesê en my saggies opgetel en teen haar vasgedruk. Eers toe sy my gesig teen haar gesig vasdruk, het ek gehoor sy huil en gevoel haar wang is nat.

Toe begin ek van voor af huil, en daar huil ons toe saam en ons huil en ons huil. Ek was weer lief vir my ma en ek het nie meer gewens die meneer het háár eerder in die trokkie gelaai nie. Ek het haar op haar rug geklop en gesê: “Toemaar, Ma, toemaar.”

En toe soen sy my hard op my mond, soos sy gemaak het wanneer sy ekstra, ekstra lief was vir my, en sy begin lag deur die trane en ek begin ook lag.

“Kom,” het sy gesê, “kom, my groot seun, ek maak vir ons koffie, dan eet ons lekker scones.”

“Ma kan my maar neersit,” het ek gesê. “Ek sal self loop.” Ek was my ma se groot seun.

Toe my broers en suster van die skool af kom, het my ma hulle van Max vertel. Net my suster het gehuil. Toe sê ek sy moenie huil nie, want nou is Max in die hemel en hy is nie meer blind nie en daar is die lekkerste kossies, ek dink viennas en frikkadelle en tjoklitkoek, en daar is baie plek om rond te hardloop en baie kindertjies om mee te speel. My ma het voor hulle gekom het gesê ander honde ook, maar daarvan het ek stilgebly, want Max speel nie met ander honde nie. Hy byt hulle. Ek het gehoop hy kom nie in die moeilikheid nie.

Ek kan nie sê dit het my veel van die dood geleer nie. So toe my broer Frankie die storie van Paul Steyn in ons kamer vir een van sy vriende vertel – van die man wat teen ’n telefoonpaal opgeklim het om die polisie beter te kan tart, en dat Paul se vinger gejeuk het op die sneller, en dat hy homself later net nie meer kon inhou nie, en hoe die koeël die man in sy keel getref het, en hoe die man van daar bo teen die paal tot onder op die grond heelpad bollemakiesie geslaan het, en hoe die ander polisiemanne sonder bevel op die mense onder op die grond losgetrek het, en hoe die kaffers begin weghol het en Paul vir oulaas twee of drie in die rug geklits het – het dit vir my maar geklink soos die soort van ding wat Trinity met die Rooihuide gemaak het in die vorige Saterdag se double feature wat ek en Frankie by die sopkombuis in die dorp gekyk het. (Ons het van die Johannesburgse middestad as “die dorp” gepraat.)

Toe ek ouer was, seker so twaalf of dertien, het ek begin wonder waddehel fout was met my pa dat hy nie vir Paul Steyn op sy neus by die voordeur uitgefok het nie.

Daar is nog ’n stukkie van die storie wat ek gewoonlik probeer weglaat wanneer ek daaraan terugdink. Ek het gehoop Frankie het die hele storie opgemaak, veral daardie stukkie wat ek probeer vergeet, maar ek het hom gevra en hy het gesê nee, dis presies soos hy dit onthou het. Frankie was nie die storie-opmaker in die huis nie. My ma was.

“Daar was hierdie meid,” het Paul Steyn in Frankie se vertelling gesê. “Vet. Met haar tiete soos beach balls wat op en af spring terwyl sy so dans en skree en met ’n piekanien in ’n kombers op haar rug vasgemaak. Sy het omgedraai en weggewaggel met die koeëls wat so klap, en toe dink ek mos: Daai klein kaffertjie gaan eendag ’n groot kaffer word. En dan gaan hy ook die polisie tart terwyl hy dans en skree. Pow! Een skoot. Piekanien en atta. Klaar. Finish en fokken klaar.”

Was die Paul Steyn van my kleintyd vir my net ’n karakter in ’n storie? Hoe is dit dan dat ek die allerfynste details van sy storie kan onthou, maar amper niks van die Man Sonder Naam in A Fistful of Dollars nie? Ek weet nie wat om hiervan te maak nie. Ek sukkel om my reaksie te meet op goed wat ’n week gelede gebeur het. En hierdie storie was – hoeveel-en-dertig jaar gelede? Hoedehel? Kan mos nie.

Ek het nie die moed gehad om my pa oor sy slapgattigheid uit te vra nie en my maar getroos aan die feit dat hy partykeer uitgestap en in die kamer gaan lê het met sy koerant wanneer hy stories gehoor het waarvan hy nie hou nie. Nie besonder heldhaftig nie, maar darem ’n flouerige protes, wat beter is as ’n stille goedkeuring langs die kombuistafel.

Ek wonder ook hoekom ek my ma nie daarvoor verkwalik nie. My enigste verklaring is dat my ma maar my ma was. Sy was vriendelik genoeg met die mense wat by ons in die huis of tuin gewerk het; Paulina het selfs saam met haar langs die kombuistafel koffie gedrink (uit ’n spesiale beker wat my ma onder die sink gebêre het). Maar my ma se gelyke? Never! My ma het Nasionaal gestem en dalk geglo Paul Steyn het die swart massas ’n welverdiende les geleer.

Sy het ons ’n keer of twee vertel van haar oupa, haar ma se pa, wat in 1938 met die honderdste herdenking van die Slag van Bloedrivier sy geweer – darem seker nie ’n sanna wat my ouma moes laai met ronde koeëls wat sy self gegiet het nie – uit die kas gehaal het. Hy het die olielappie wat die roes moes uithou afgedraai en die geweer in die hoek van die sitkamer staangemaak en gesê “die kaffers gaan opstaan”.

Hulle het hom vreeslik gespot daaroor, en my ma het jare later nog gedink dis laf genoeg om oor te vertel. Maar miskien, net miskien, het dit ’n saadjie geplant wat enige dag kon ontkiem.

My ma verwerf ook nie kwytskelding omdat my pa kamma die hoof van die huis was en ons morele gids moes gewees het nie. Glad nie. Sy was duidelik in beheer van sake en het van niemand kak gevat nie. As sy gewetensbesware teen Paul Steyn se spogtery gehad het, sou hy donnerswil gou moes verkas het, sonder om sy brandy en Coke klaar te drink.

Die enigste ander geloofwaardige verklaring vir haar vrypas was dat ek baie lief was vir haar. Ek het nie juis van my pa gehou nie. Waarvan moes ek hou? Hy het hom afgesonder van ons almal, verskans agter die Rand Daily Mail, The Star, Die Vaderland … elke koerant waarop hy sy hande kon lê.

Aan die etenstafel het hy en my ma soms oor die politiek gestry. Niks heftigs nie, maar my ma het haar nou en dan vir hom vervies. Hy was uitgesproke oor goed soos geregtigheid. Gereeld gesê dit of dat wat die regering doen, waarvan hy in die Mail gelees het, is “wgagtag nie geg nie”. Dalk dié dat ek meer van hom verwag het.

En nou? Wat nou?

Ek wou vir Frankie vra, maar ek het my bedink. Sê nou maar Frankie sê die verkeerde ding? Sê nou maar ek moet vir ’n feit weet my pa was eenvoudig te veel van ’n swakkeling om Paul Steyn die mond te snoer toe hy met sy kordaatstuk begin spog? My liefde en deernis vir my pa, waarvan daar vroeër weinig sprake was, het in die jare ná sy dood verdiep, veral toe ek meer van sy kinderdae te wete gekom het. Vandag gee ek hom maar die voordeel van die twyfel oor Paul Steyn, al weet ek nie presies wat die voordeel óf die twyfel behels nie.

Dis ’n skrale troos, maar dis ’n troos, net soos dit ’n troos was dat my beeldskone niggie Leah, wat op die Sarie Marais se voorblad was, Paul Steyn salig in sy moer gestuur het. Dit het waarskynlik niks te doen gehad met die feit dat Paul Steyn babas op hulle ma’s se rûe vermoor het nie, maar eerder omdat hy ’n doos was met ’n IK van minus hoeveel. Ek verlustig my in die feit dat hy puur verniet op sy knieë voor Leah neergeval en gehuil het en haar gesmeek het vir nog ’n kans. Toe hy sy diensrewolwer uithaal en dreig om homself te skiet, het sy gesê hy moet dit eerder buite in die tuin doen, want sy het gehoor dis goeie bemesting.

Ek wens ek kon die storie net vergeet. Maar die stories wat ek wil vergeet, is dié wat ek die beste onthou.

Ma’s. Dis my ma wat my teruggehou het toe ek wou land-uit. My pa is in Mei van my matriekjaar dood en ek het geweet nog ’n skok sou haar leed vererger. Dit kon ek nie aan haar doen nie.

Ek kyk na Michael. Hy lyk verwese.

“Kan ek jou iets vra?”

“Ja?”

“Is dit van jou ma af wat jy weggevlug het?”

“Sjoe! Ek hoor jou, maar nee. Nee, nee, nee! Miskien het ek die indruk … ek kan dink dat jy … maar nee. Glad nie. Nee. Sy wou mos net die beste vir my hê! En teen daardie tyd … teen daardie tyd het sy geweet. Ons het eendag op ’n bankie in die tuin gesit, toe sê ek vir haar my drome is elders, en sy het amper verstaan. Sy’t gevra hoekom het ek nie vroeër gesê nie. Want dis die ding: vir ’n ryk Joodse seuntjie was ek skugter verby. Kom van my pa af, dalk. Nazi’s, nja-nja-nja.

“Maar wat sy nie sou verstaan het nie, was dat ek moes land-uit om my droom te verwesenlik. Die sportboikot … dít sou sy nie verstaan het nie.

“In 1985 was daar geen teken dat apartheid ooit ’n einde sou kry nie. Dit was bomme en sanksies en vrees. Ek moes gaan.”

“En jou droom … wat … wat presies?”

“Ek moes wen! Ek moes en ek moet en ek gaan!”

“Wat wen?”

“Le Tour, natuurlik! Die Tour de France!”

Gek, ja. Stapelfokkengek.

Wat het geword van Dinsdag?

Подняться наверх