Читать книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith - Страница 10
3
ОглавлениеTrompie die student
Toe Trompie later die middag van die dam af terugkom, sien hy vir Katrien op ’n bankie in die bure se tuin sit. Hy besluit dat dit nou sy kans is om met haar oor die geld te praat.
Trompie vee sy kuif reg. So ja, nou lyk hy mooi netjies. Hy glimlag en wys sy tande. Hy is mos ’n vriendelike ou. Hy kyk na Katrien oor die muurtjie. Sy sit en boek lees.
Hy kug beleefd. Sy kyk op en frons.
“Ja?” Haar stem is kil.
Trompie glimlag ekstra breed.
“Haai, Katrien. Ek kom maar net hallo sê.”
“Wel, nou hét jy! Wat wil jy nóg hê?”
Trompie sluk. Die meisiekind verbaas hom. Sy het baie verander. Sy was vroeër altyd baie gaaf en het hom gereeld met sy huiswerk gehelp.
“Ek wil eintlik niks hê nie,” sê Trompie effens vies, maar dan dink hy aan die geld en glimlag weer. Belangstellend vra hy: “Wat doen jy, Katrientjie?”
“Kan jy nie sien ek lees nie?”
“Ja, maar ek het maar net gewonder, dis al.”
“Wel, nou weet jy.” Katrien tel haar boek beslis op en begin weer lees.
Trompie leun verder oor die muurtjie. Dit lyk of sy oordrewe poging om vriendelik te wees nie veel vrugte afgewerp het nie. Sy neem glad nie notisie van hom nie.
Hy besluit hy moet weer probeer. Hy kan mos nie aan sy drie maats terugrapporteer en sê hy kon nie met Katrien oor die geld gesels omdat sy geweier het om hom ’n kans te gee nie! Nee, dit sal ’n skande wees. Hulle dink mos hy is ’n haan onder die henne. Hulle verwag groot dinge van hom.
Trompie vee sy kuif weer uit sy oë. Hy sien sy hemp hang by sy broek uit en druk dit vinnig in. Hy glimlag soos daardie held in verlede week se fliek geglimlag het toe hy liefdevol na die beeldskone heldin gekyk het. Hy dink hy lyk nogal baie soos daardie held. Katrien is ongelukkig nie beeldskoon nie en ook nie ’n heldin nie, maar hy moet maar weer probeer – geld is ’n skaars ding.
“Katrientjie,” sê hy en probeer sy stem so grof soos daardie filmster s’n maak. Hy is seker hy lyk nou ook so romanties soos daardie held toe hy na die heldin gekyk het. Met hierdie uitdrukking op sy gesig wil hy Katrien goed laat verstaan dat hy wat Trompie is, ’n baie romantiese figuur is. Hy wil ook vir haar wys hy is ’n sterk man, ’n vasberade man, ’n man wat onheil en gevare sal trotseer ter wille van die vrou wat hy so liefdevol aankyk.
“Ja?” sê sy. Katrien leun vorentoe om hom van nader te bekyk. “Wat makeer jou?” vra sy. “Voel jy siek?”
“Nee,” sê Trompie nors. “Hoekom vra jy?”
“Omdat jy so ’n lelike gesig trek.”
Trompie skop vererg na ’n graspol. Meisies! Hulle is onverstaanbare goed. Hy kyk na Katrien met ’n sagte glans in sy oë en ’n soet glimlag om sy mondhoeke. Sy hele gesig spreek van liefde – groot, innige liefde – en wat doen sy? Sy vra hom of hy siek voel!
Trompie besluit hierdie soetsappige stories is net tydmors. Hy gaan nou sommer reguit sy sê sê! Hulle gaan haar nie die geld terugbetaal nie. Hulle kan nie, want hulle het niks om haar mee te betaal nie – en wat gaan sy daaraan doen?
Hy spring ligvoets oor die muurtjie en kom sit op die bankie langs die meisie.
“Ek kan nie onthou dat ek jou genooi het om hier te kom sit nie,” sê sy uit die hoogte.
“Ek kan dit ook nie onthou nie,” sê Trompie vies, “maar ek sit nou hier. En wat daarvan?”
“Ek gaan my ma roep dat sy jou uit ons tuin kan wegjaag!”
Trompie loer onwillekeurig oor sy skouer na die huis. Hy is maar skrikkerig vir Katrien se ma.
“Jy sal dit nie doen nie.”
“Hoekom nie?”
“Want ek het iets wat ek vir jou wil vertel en jy’s nuuskierig om te weet wat dit is!”
Terwyl sy besluit of sy haar ma gaan roep of nie, kyk sy na Trompie se sproetgesig, sy ongekamde hare en die pet wat so skeef op sy kop sit.
Dan sê sy: “Nou sê dan wat jy my wil vertel.”
Trompie dink aan ’n uitdrukking wat sy ma al meer as een keer gebruik het wanneer hy haar vir geld vra. Hy meen dit sal hier goed van pas wees.
“Sê my, Katrien, kan ’n mens bloed uit ’n klip tap?”
Sy dink ’n paar oomblikke hieroor na. Nee, dis onmoontlik.
“Nou kyk,” sê Trompie gemoedelik, “net so min as wat mens bloed uit ’n klip kan tap, kan ons vir jou die geld teruggee – want ons het dit nie. Daar is nie bloed in ’n klip nie en daar is ook nie ’n enkele sent in die Boksombende se sakke nie – om nie eens van ’n hele paar rand te praat nie.”
Sy kyk hom agterdogtig aan.
“Julle kan mos ’n plan maak om die geld iewers vandaan te kry.”
“Man, Katrientjie,” sê Trompie ernstig, “weet jy wat het ons vier vanmiddag gedoen?”
“Nee, wat?”
“Ons het daar in die warm son in die kloof gesit en gedink en gedink. Ons voel baie sleg oor die geld wat ons jou skuld. So ons het lank daar gesit en gedink en gedink. Ons het die middag glad nie geniet nie, want ons voel so sleg oor alles. Maar al ons dinkery het niks gehelp nie. Ons kan eenvoudig nie aan ’n plan dink om die geld in die hande te kry nie, al wil ons jou so graag terugbetaal.”
Trompie sug en staar mismoedig na sy ingeduikte skoenpunt. Hy loer egter onderlangs na Katrien om te sien watter uitwerking hierdie woorde op haar het. Hy hoop maar net sy vind nie uit dat hy en sy maats die hele middag in die dam geswem het nie – en nie vir een oomblik aan haar en haar geld gedink het nie!
“Wel,” sê sy skielik saaklik, “julle moet maar net eenvoudig harder dink, want ek wil my geld terughê.”
Jissie, dink Trompie, maar so ’n meisiemens is darem koppig!
“Laat ek jou net aan iets herinner, Trompie …”
“Ja, Katrientjie?” sê hy gedwee.
“Toe jy verlede kwartaal vir Lucille skoolfunksie toe gevat het, het jy nie so ’n tekort aan geld gehad nie.”
“Maar dit was anders. En ek het haar ook mos nooit weer gevra nie …”
“Omdat sy nooit weer saam met jou sal gaan nie! Jy het haar tone pap getrap op die dansbaan!”
Trompie onthou dit ongelukkig nog soos gister. “Maar wat het daai goed te doen met die geld wat die Boksombende jou skuld?” vra hy fronsend.
“Baie!” sê Katrien bitsig. “Die Sondagskoolpiekniek is oor twee weke, en dan gaan jy natuurlik weer genoeg geld hê om Lucille soontoe te vat, nè?”
Skielik kry Trompie ’n briljante ingewing!
Hy kyk na Katrien soos ’n man wat baie ly omdat die wêreld hom nie verstaan nie. Dan sê hy sag: “Ek gaan nie vir Lucille piekniek toe vat nie. Ek het jou mos gesê ek wil vir jou iets vertel – ek moes eintlik gesê het ek wil jou iets vrá. Het jy regtig gedink ek wil net gesels oor die geld wat my bende jou skuld?”
“Nou waaroor anders dan?” Katrien kyk agterdogtig na Trompie. Enigiemand wat hom goed ken, kyk agterdogtig na hom wanneer hy skielik so spraaksaam word.
“Die geld was maar so terloops. Ek wil jou eintlik iets vra.”
“Ja, Trompie?”
“Dis ’n vreeslike groot guns …”
“Wat is dit?”
“Katrientjie …”
“Ja, Trompie?” Haar stem klink nou glad nie meer so kil nie.
“Ek wil jou vra of jy saam met my na die Sondagskool-piekniek toe sal gaan.” So ja, dink Trompie verlig, dis uit. Hy hoop nou net dit gaan die gewenste uitwerking hê – dat sy vir hom sal sê hulle kan maar van die Boksombende se skuld vergeet; sy wil dit nie meer wil hê nie.
Katrien se gesig straal.
“Bedoel jy dit, Trompie?” vra sy en snak na haar asem.
“Natuurlik bedoel ek dit. Ek dink al die hele vakansie lank ek gaan jou vra sodra jy terugkom. En toe ek jou by die skool wou vra, toe het jy gepraat van die geld wat ons ouens jou skuld.” Trompie kyk diep in haar oë en voeg saggies by: “Sal jy groot asseblief saam met my gaan, Katrientjie?”
Katrien besef skielik sy lyk dalk te bly – miskien verraai haar gesig haar emosies. Sy kug en sê so sedig moontlik: “Dit sal lekker wees om saam met jou te gaan. Dankie, Trompie.”
“Nie te danke nie,” mompel Trompie. Hy wens sy wil nou oor die geld gesels.
Katrien sit en dink aan al die pret wat sy en hy by die piekniek gaan hê. Sy sien al hoe jaloers Lucille op haar gaan wees.
Trompie sit en dink dat Blikkies, Rooie en Dawie sal moet sorg dat hulle die hele dag by hom en Katrien bly. Hy wat Trompie is, gaan nie dat Katrien heeltyd net agter hom aan stertjie nie. Sy maats moet goed verstaan – hy het haar net gevra sodat sy die Boksombende se skuld sal afskryf.
Hy wonder wanneer gaan sy nou oor die geld praat. Hy kan dit darem nie eerste noem nie. Sy moet begin.
Trompie staan op. “Ek moet nou gaan, Katrien.”
“Ja,” sê sy sag en staan ook op.
Nou raak Trompie baie bekommerd. Sê nou sy sê niks van die skuld nie? Sê nou sy verwag nog steeds hulle moet haar terugbetaal, al het hy haar gevra om saam met hom piekniek toe te gaan?
“Trompie,” sê sy sag.
“Ja, Katrientjie?”
“Jy weet, daardie geld wat julle my skuld …”
“Toemaar,” sê hy glimlaggend, want hy kan aanvoel hy het nou die oorhand, “ons sal jou betaal so gou as wat ons …”
“Nee, julle hoef nie,” sê sy vriendelik. “Ek wil nie die geld hê nie …”
“Nee, ons skuld jou dit en ons sal jou betaal,” sê Trompie vroom.
“Maar ek wil dit nie hê nie. Ek het sommer ’n grap gemaak.”
“Dis niks minder as reg dat ons jou betaal nie.”
“Wel …” sê Katrien peinsend.
Trompie ys. Dit lyk of hy sy hoflikheid te ver gevoer het. Hy sê vinnig: “Ons wíl jou betaal, maar as jy regtig nie die geld wil hê nie, dan …”
“Ek wil dit regtig nie hê nie.”
“Goed, Katrien, en baie dankie. Dan skuld ons jou niks nie.” Hy voeg hoogheilig by: “Ek hou nie eintlik van die idee nie, maar as jy wil hê ons moet van die geld vergeet, dan maak ons so.”
“Ja, vergeet daarvan,” antwoord Katrien effens oorgretig. “Ek wil oor die piekniek praat. Ons twee gaan baie pret hê, nè?”
“Ja-nee,” sê Trompie met ’n swaar sug. “Ons gaan baie pret hê.”
Die aand ná ete doen Trompie sy huiswerk by die tafel in die sitkamer. Hy is met Engelse grammatika besig.
Sy pa sit in die leunstoel en koerant lees. Sy ma brei. Sy suster, Anna, skryf briewe.
Dit is stil in die vertrek. Trompie worstel vanaand met die meervoudsvorme van die werkwoord in Engels. Hy het nog altyd net “is” gebruik en dit was nog altyd goed genoeg. Hy het gepraat van “The boy is sick” en ook sommer van “The boys is sick” en dit het hom en niemand anders ooit gepla nie.
Toe kom hy op hoërskool agter as die onderwerp of gesegde in die meervoud is, moet die werkwoord ook meervoud wees. Hy het geleer van “are” en al die ander meervoudsvorme en heel goed gevorder. Hy het nie meer gepraat van die “boys” wat siek “is” nie. Nee: “The boys are sick.” Trompie was hoog in sy skik dat hy hierdie ingewikkelde besigheid so goed verstaan.
Maar nou vind hy hier in graad nege uit dit is glad nie so eenvoudig soos hy gedink het nie! Saam met hierdie reël dat die onderwerp en die werkwoord moet ooreenstem, is daar nou sommer ’n hele klomp ander goeters wat hy ook in gedagte moet hou!
Hy kyk na sy pa, ma en suster. Hy is seker hulle verstaan nie kop of stert van wat hy nou hier sit en doen nie. Hy sal hulle toets!
“Hoe is Pa se Engels?” vra hy.
“Heel goed,” sê meneer Toerien. “Ek is volkome tweetalig.”
“En Ma se Engels?”
“Redelik, sou ek sê.”
“En joune, Anna?”
“Uitstekend! Onthou, ek het A’s vir al my matriekvakke gekry!”
“Ek is seker julle sal nie die Engels kan doen waarmee ek nou hier besig is nie!”
Meneer Toerien sit sy koerant neer.
“Nou toe, laat ons sien,” sê hy glimlaggend.
Trompie verduidelik dat hy vir hulle ’n sin in Engels gaan lees en al wat hulle moet doen, is om dan te sê watter een van die twee werkwoorde wat hy lees die regte een is. Om te sorg dat sy huismense mekaar nie sommer napraat nie, moet elkeen die korrekte werkwoord neerskryf.
Hulle is heeltemal gewillig en Trompie deel vir hulle stukkies papier uit.
Sy ouers en Anna is gereed. Trompie lees: “A hospital, as well as three houses, was/were destroyed.”
Hy kyk na sy pa, ma en suster.
“Al wat ek nou wil weet, is of die werkwoord in daai sin ‘was’ of ‘were’ moet wees. Skryf net ‘was’ of ‘were’ neer.”
Trompie lees die sin weer stadig. Hy hoop hulle kom agter hoe goed hy die Engels lees en hoe foutloos sy uitspraak is.
Hy spring op en neem die papiertjies in.
Trompie is seker hulle het almal verkeerd geantwoord. Hy maak sy pa se papiertjie vinnig oop. Meneer Toerien het “was” geskryf.
Dit is korrek. Trompie dink daaraan dat sy pa slim is. Hy is darem ’n bankbestuurder. Hy behoort so iets te weet.
Hy maak sy ma se papiertjie haastig oop.
“Onthou net,” sê sy met ’n verleë laggie, “ek was jare gelede op skool …”
Trompie sug teleurgesteld. Sy ma het ook “was” neergeskryf.
“Ma is ook reg,” sê Trompie.
Mevrou Toerien sug verlig en begin weer brei. Trompie loer agterdogtig na haar. Hy het so ’n idee sy het sommer ’n raaiskoot gevat.
Hy maak sy suster se papiertjie oop. Sy sal dit seker ook reg hê. Sy het mos vir alles in matriek A’s gekry en sy lees gedurig Engelse boeke.
Trompie kyk verbaas na haar papiertjie en dan skree hy: “Hoera!”
“Wat’s dit?”
“Jy’s verkeerd, sus!” Trompie is hoog in sy skik. “Jy’t ‘were’ geskryf en dit moet ‘was’ wees.”
“Nee, Trompie,” sê Anna vies. “Jý’s die een wat verkeerd is …”
“So, nè?” kap hy terug. “Sê jy Pa en Ma is verkeerd – en hierdie boek ook?” Trompie slaan met sy hand op sy handboek.
“Maar hoe kan dit wees?” vra Anna fronsend.
“Dit lyk my Pa het sy skoolgeld op jou gemors,” sê Trompie spottend. “Ek weet nie hoe jy ooit ’n A kon gekry het nie. Dit was seker ’n fout.”
Trompie geniet dit gate uit om onderwyser met sy suster te speel. Hy verduidelik vir haar dat wanneer twee selfstandige naamwoorde met “as well as” verbind word, die werkwoord altyd met die éérste selfstandige naamwoord ooreenstem en nie met die twééde een nie.
Hy kyk selfvoldaan na sy ouers en sy suster. Hulle lyk verbaas. Trompie vorder goed en hy het vanaand vir hulle al drie iets geleer.
Later die aand lê Trompie in sy kamer op sy bed. Hy voel gelukkig en tevrede met die lewe. Hy het sy huiswerk alles netjies gedoen en ’n goeie indruk gemaak. Sy pa het vir hom gesê: “Dit lyk my jy gaan vanjaar sommer ’n goeie student wees!”
En dit is mos presies wat hy is – ’n goeie student. Hy gaan vanjaar hard werk. Hy wil nie weer elfde in die klas kom nie – hy wil eerste staan. Hy wil bó uitkom. Hy is mos Trompie die student.
Hy blaai vakerig deur ’n tydskrif. Dan vang ’n volbladadvertensie sy oog. Daar staan ’n man in ’n swembroek en wit tekkies. Dit is al wat hy aanhet.
Hy staan wydsbeen en bokant sy kop hou hy ’n swaar ysterbal in elke hand vas. Onder hom staan daar in vet letters:
Zarko – die sterkste man op aarde!
Trompie is skielik wawyd wakker. Hy verkyk hom aan hierdie Zarko.
Die man het geweldige dik bene en arms, tamaai breë skouers en die spiere op sy maag lê soos slote op die Vrystaatse vlaktes. Trompie het ook nog nooit iemand met so ’n dik, sterk nek gesien nie.
“Jissie,” brom hy vol bewondering, “as dié ou jou beetkry, druk hy jou so pap soos ’n papie.”
Trompie lees die advertensie:
Wil jy sterk wees?
Ek is klaar sterk, dink hy, maar ek sal nie omgee as ek nog sterker kan wees nie.
Wil jy spiere soos Zarko s’n hê?
Trompie kyk na die slote op Zarko se maag, sy gespierde bene en die knoppe op sy skouers en arms. Hy sal alles wat hy besit weggee om sulke spiere te kan hê!
Trompie lees gretig verder:
Wil jy hê al die mense – veral die meisies – moet jou met bewondering aanstaar wanneer jy in die straat afloop?
Trompie dink ernstig oor hierdie vraag na. Hy dink hy sal nogal baie daarvan hou as al die mense, veral die meisies, hom op straat aangaap.
Wil jy die sterkste man in jou stad of dorp wees?
“Ja,” sê Trompie onwillekeurig hardop.
Wil jy hê jou vyande moet bleek van skrik word as hulle jou sien aankom?
Verseker, dink Trompie. Hy kan ongelukkig nie nou aan enige vyande dink nie, maar as hy so sterk soos Zarko is en sulke spiere het, sal hy vinnig vyande maak – net om te sien hoe bleek hulle word as hulle hom sien naderkom.
Daar is geen verdere vrae om te beantwoord nie. Trompie lees die instruksies nou sorgvuldig om uit te vind wat hy moet doen as hy so sterk soos Zarko wil wees. Hy wil definitief ook so ’n wonderlike lewe soos die kragman hê.
Trompie is opgewonde. Soos hy die ding verstaan, het ’n mens nie eens geld nodig om ’n tweede Zarko te word nie. Al wat jy moet doen, is om die vorm in te vul en saam met ’n gefrankeerde koevert met jou adres op vir Zarko te pos. Dan sal hy jou laat weet hoe om so sterk soos hy te word!
Trompie is hoog in sy skik. Hy gaan hierdie vorm vroeg môreoggend invul en by Anna ’n koevert en seël leen. Dan pos hy dit sommer op pad skool toe.
Hy onthou skielik dat hy twee seëls en twee koeverte gaan nodig hê, want op die een moet hy mos sy eie naam en adres skryf.
Hy hoop Anna sal die goed vir hom gee. Hy het haar mos vanaand met haar Engels gehelp. Sy skuld hom iets in ruil daarvoor.
Trompie kyk weer na Zarko, die sterkste man op aarde. Dan spring hy uit die bed. Hy trek sy pajamahemp uit en gaan staan voor die spieël.
Zarko se foto lê op die tafel langs hom. Hy kyk na die foto en neem dan dieselfde houding in. Hy verbeel hom hy hou twee swaar ysterballe bokant sy kop vas.
Trompie trek ’n gesig. Dit kos mos krag en inspanning om die balle so hoog in die lug te hou. Hy loer na sy maag. Daar is niks spiere nie. Hy kyk na sy arms. Hulle lyk maar dun. Hy kyk na sy skouers. Nadat hy Zarko se skouers gesien het, lyk syne vanaand nog smaller as gewoonlik!
Hy sug en gaan sit op die bed. Hierdie in-die-spieël-gekykery maak hom net moedeloos.
Maar dan besef Trompie hy het mos nog nie Zarko se raad oor hoe om spiere op te bou begin volg nie.
Hy voel nou weer heelwat beter.
Toe Trompie die lig afskakel, dink hy weer daaraan dat hy môre vroeg moet opstaan om die vorm in te vul sodat hy dit kan pos. Hoe gouer hy dit doen, hoe gouer sal Zarko – die sterkste man op aarde – vir hom wat Trompie is laat weet hoe hy ook so sterk kan word.
Dan, dink Trompie vakerig, gaan sy vyande bleek word as hulle hom net sien aankom. En wanneer hy in die straat afstap, gaan al die mense – veral die meisies – hom met bewondering aanstaar.