Читать книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith - Страница 14

5

Оглавление

Trompie en die Bonzo

Die volgende dag by die skool vertel Trompie vir Rooie, Blikkies en Dawie dat hy nie meer in Zarko se stories belangstel nie. Hy het op ’n baie beter spierbouer afgekom – Bonzo!

“Wie op aarde is Bonzo?” vra Rooie verbaas.

“Dis nie ’n wie nie; dis ’n wát,” verduidelik Trompie. “Dis ’n ding wat ’n mens sterk maak. Weet julle hoekom Zarko ’n spierdier is?”

Sy maats skud kop. Nee, hulle weet nie.

“Toe hy nog jonk en boonop sieklik ook was, het hy die Bonzo begin gebruik. Dís wat hom soveel spiere gegee het.”

“Hoe lyk hierdie … Bonzo-ding?” vra Blikkies terwyl hy ’n grashalmpie behendig van die een kies na die ander versit.

“Dis ’n rekband met ’n handvatsel aan elke punt – en as jy sterk spiere en breë skouers wil hê, dan doen jy oefeninge daarmee. Jy kyk hoe ver jy die band kan uitrek. Jy kan honderde verskillende oefeninge met die Bonzo doen.”

Die drie seuns dink diep hieroor na. Dan sê Dawie: “En wat van die wonderlike Zarko? Ek dag dan hy gaan skryf en vir jou al sy geheime gee – nogal ‘gratis’, soos jy gesê het.”

“Ag, vergeet van hom,” sê Trompie half verleë. “Kom ek vertel julle meer van die Bonzo …”

“Sê my eers – het jy toe ’n brief van Zarko gekry?” dring Dawie aan om te weet.

“Ja,” brom Trompie nors.

“En het hy jou geld gevra voor hy vir jou sy kursus stuur?”

“Ja.”

“Ek het jou mos gesê jy sal moet betaal!” Dawie lyk tevrede met homself. “Hoeveel het hy jou gevra?”

“’n Hoop geld,” sê Trompie suur.

“Ek het jou mos gesê jy gaan deur jou neus betaal!”

“Oukei, Dawie, vergeet nou van Zarko,” kap Trompie geïrriteerd terug. “Ek het hom en sy raad en sy kursus nie meer nodig nie. As ek die Bonzo het, sal ek op my eie so sterk soos Zarko word – én sterker.”

Trompie verduidelik weer vir sy maats hoe die rekband werk. Hulle stel baie belang. Dit klink vir hulle na iets wat enige seun graag in die hande sal wil kry.

“Hoeveel kos so ’n Bonzo?” vra Blikkies.

“Maar net ’n paar rand.”

“En waar dink jy gaan jy ‘net ’n paar rand’ vandaan kry?” vra Dawie.

“By die bank, waar anders?” sê Trompie laggend en beduie hulle moet nader staan. Hy vertel vir hulle in ’n fluisterstem van sy skitterende plan.

Omdat meneer Toerien ’n bankbestuurder is, leer hy sy seun om versigtig met geld te werk. Trompie moet aan die begin van elke maand ’n kwart van sy sakgeld in sy spaarrekening inbetaal, dan trek sy pa aan die einde van die maand ’n staat en hulle kyk saam hoe sy geld meer word danksy die rente wat hy daarop verdien.

Trompie se plan is om die geld vir die Bonzo te gaan trek sonder om sy pa daarvan te vertel en dan voor die einde van die maand daardie bedrag terug te betaal in sy spaarrekening.

Rooie frons. Blikkies kou stadiger. Feitlik gelyktydig vra hy en Dawie dieselfde vraag: “Maar wat van die rente? Jou pa sal mos agterkom jy’t hierdie maand baie minder rente verdien.”

“Dis nie ’n probleem nie,” lag Trompie. “Ek sal ’n bietjie meer geld as wat ek getrek het inbetaal om op te maak vir die rente.”

“Goeie plan,” sê Blikkies. “Maar waar gaan jy die geld vandaan kry as jy nou nie eers ’n sent op jou naam het nie?”

“Dis maklik,” sê Trompie ewe kordaat. “Ek gaan dit met die Bonzo maak!”

“Hoe?” vra Dawie.

“Die ding gaan vir homself betaal!”

“Hoe?” brom Rooie. Hy verstaan nie Trompie se logika nie. Dawie en Blikkies volg nou ook nie meer so lekker nie.

“Hoekom sê jy nie net reguit wat jy bedoel nie, Trompie?” Blikkies spoeg sy grashalmpie met ’n boog uit. “Hou op om kastig so geheimsinnig te wees.”

Die Boksombende se Grootkaptein lig sy een hand vir stilte: “Luister mooi, dan verduidelik ek vir julle hoe die Bonzo vir homself sal betaal en ek die geld wat ek gaan trek binne twee weke weer terug in die bank gaan hê.”

Sy maats is die ene ore.

“Niemand in ons skool het ’n Bonzo of weet wat dit is nie,” sê Trompie selfvoldaan. “So as ek nou vir almal daarvan vertel, gaan die ouens nuuskierig word – en wat sal dan gebeur?”

Die drie seuns skud hul koppe. Hulle weet nie.

“Ek sal julle sê,” gaan Trompie opgewonde aan. “Ek ken mense. Ek weet hoe hul koppe werk. Al die ouens gaan dink: ek is sterker as Trompie; ek sal daai ding verder as hy kan uitrek. Weet julle wat gaan hulle dan sê?”

Trompie wag vir ’n antwoord. Toe hy nie een kry nie, gaan hy aan: “Die ouens sal een na die ander na my toe kom en sê: ‘Laat ek probeer, Trompie.’ Dis wat hulle almal gaan sê, want elkeen van hulle sal in sy hart glo hy kan die Bonzo verder as ek uitrek. So dan gaan hulle almal vir my kom sê: ‘Laat ek probeer, Trompie.’ Dink julle nie so nie?”

Sy maats stem saam met hom. Die skool se ouens gaan almal wil bewys hulle is beter as Trompie met die Bonzo.

“Wel, dis daai ‘Laat ek probeer, Trompie’ wat gaan sorg dat ek die geld wat die Bonzo gekos het binne ’n paar dae terugmaak,” sê Trompie en sy oë glinster van genot. “Elke keer wat ’n ou dit sê, gaan dit hom vyf rand kos! Dis my prys – vyf rand om die Bonzo een keer te probeer uitrek. Twintig rand vir vyf keer! Maar teen daai tyd sal die ou se arms al afval van moegheid.”

Trompie en sy vriende grinnik saam.

Maar dis nog nie die einde van sy planne nie: “As ’n ou die Bonzo vir ’n hele middag wil huis toe vat, gaan dit hom vyftig rand kos. En ek dink ook aan ’n kompetisie – dan vra ek ’n inskrywingsfooi, sê so tien rand, en die een wat die Bonzo die verste uitrek, kry ’n prys: sê maar ’n derde van al die inskrywingsgeld saam. Die res van die geld gaan ek gebruik om vir die Bonzo te betaal. Verstaan julle nou?”

Dawie, Blikkies en Rooie kyk hom vol bewondering aan. Dan sê Dawie: “Jy weet, as jy so slim met jou skoolwerk was soos met sulke besigheidgoeters het jy sowaar eerste gestaan, pleks van elfde.”

“Ek dink jy gaan meer verdien as wat jy uitgegee het,” sê Blikkies. “Dan kan ek my kougomgeld terugkry en jy kan daai simpel oefeningboek vir jou vat.”

Rooie wil nou weet of hulle, die lede van die Boksombende, ook sal moet betaal as hulle die Bonzo wil aandurf.

“Natuurlik nie,” sê Trompie. “Julle gaan mos my helpers by die kompetisie wees.”

Trompie peins ernstig oor iets en dan sê hy sag, amper asof hy met homself praat: “Wie weet, dalk wen een van julle nog die kompetisie. Dan deel ons die wengeld tussen ons vier.”

Hy kyk na Rooie. Die skoenmaker se seun is nogal sterk en hy sal natuurlik baie meer as die ander mededingers kan oefen, want hy gaan mos nie soos die ander hoef te betaal om die Bonzo te gebruik nie.

Trompie besluit om nog ’n dag of wat te wag voor hy sy spaargeld gaan trek. Hy wil so min as moontlik rente verloor en hy is bang sy pa kyk dalk in die middel van die maand hoe sy geldjies groei.

Trompie voel hy doen nie eintlik iets verkeerd nie. Hy leen maar net sy eie geld sonder om sy pa daarvan te vertel. Dis mos maar al wat hy doen. Maar dit kan vir jou ’n gedoente afgee as hy nie binne twee weke genoeg geld bymekaarmaak om in die bank terug te sit nie! Trompie wil liewer nie dink wat sy pa sal maak as hy agterkom sy spaargeld het minder geword nie!

Daar is nog ’n ander kwessie ook – ’n klein ou puntjie wat Trompie effens bekommer. Kan ’n mens die Bonzo koop as jy nie een van Zarko se studente is nie? Hy het Zarko se brief en die pamflet waarin die Bonzo geadverteer word sorgvuldig deurgelees, maar hy kry nie ’n antwoord op hierdie vraag nie.

Trompie vra Dawie se raad. Sy vriend lees die brief en pamflet ook sorgvuldig deur. Hy meen Trompie kan die rekband nie op sy eie koop nie. Soos Dawie die ding verstaan, moet ’n mens eers ’n lid van Zarko se klub wees voor jy dit mag doen.

“Jy sien,” verduidelik Dawie, “die Bonzo is relatief goedkoop. Maar jy kan dit net koop as jy een van Zarko se studente is – dís waar die ou ons vas het.”

Trompie glo vas Dawie het dit mis. Daar staan dan niks van sulke goeters in die brief of die pamflet nie!

Dawie verseker hom dat ’n mens dit tussen die reëls kan lees, maar Trompie bly optimisties – hy hou vol hy is reg en Dawie verkeerd.

En wonder bo wonder is Trompie toe reg! Net die volgende dag is daar ’n brief vir hom, weer van Zarko die Grote.

In hierdie brief pleit Zarko dat meneer Toerien nie die grootste fout van sy lewe moet begaan nie. Meneer Toerien moet tog nie hierdie gulde geleentheid om een van die beroemde Zarko se studente te word laat verbygaan nie. Zarko spreek sy verbasing uit dat hy nog nie van meneer Toerien gehoor en die meneer se “tjekkie” ontvang het nie.

Hy verseker meneer Toerien dat hy meneer Toerien te alle tye met raad en daad sal bystaan. Dit is Zarko die Grote se grootste begeerte om meneer Toerien nie alleen as een van sy studente te hê nie, maar ook as ’n gewaardeerde vriend!

Verder is hy oortuig dat meneer Toerien een van sy beste studente sal wees, iemand op wie Zarko die Grote altyd trots sal wees. Hy maak vir meneer Toerien ’n spesiale aanbod – iets wat hy vir niemand anders doen nie – en bied hom afslag op die kursus aan, net omdat hy weet meneer Toerien gaan nog een van sy topstudente word! Hy hoop om baie gou van meneer Toerien te hoor en verseker meneer Toerien weer eens dat sy dienste, raad en vriendskap altyd tot die meneer se beskikking sal wees.

Dit is vir Trompie ’n baie mooi brief. Dit lyk vir hom of hy nou in Zarko se agting gestyg het, al het hy nie die “tjekkie” gestuur nie. Hy word in hierdie tweede brief nie meer so baie as “vriend” aangespreek nie, maar as “meneer Toerien”!

Wat Trompie egter die gelukkigste maak, is die naskrif. Hierin vertel Zarko vir meneer Toerien dat as meneer Toerien nie van hierdie ongelooflike aanbod gebruik maak nie, die meneer tog nie van die Bonzo moet vergeet nie. As meneer Toerien om die een of ander duister rede nie die “tjekkie” vir die kursus stuur nie, dan moet hy maar net een vir die Bonzo pos en Zarko sal hierdie merkwaardige rekband per kerende pos vir geagte meneer Toerien aanstuur.

Trompie glimlag van oor tot oor. Ja-nee, meneer Toerien is nou in sy noppies. Dawie het dinge tussen die reëls gelees wat glad nie daar is nie.

Die volgende middag gaan hy bank toe om sy geld te trek. Hy het oor middagete gehoor sy pa het ná ete ’n vergadering by die munisipaliteit. Trompie wil hom nie in die bank raakloop nie!

Gelukkig werk daar vandag ’n nuwe kassier. Sy ken nie vir Trompie nie en hy kry sy geld in die vorm van ’n bankgewaarborgde tjek, sonder dat hy as die bestuurder se seun herken word.

Hierna gaan Trompie dadelik poskantoor toe. Hy het al ’n paar dae gelede vir Zarko ’n brief geskryf waarin hy die Bonzo bestel. Hy sit sy “tjekkie” in die koevert. Sy hart klop wild wanneer hy die koevert in die posbus gooi.

Hy wonder hoe lank hy nou vir die Bonzo gaan moet wag, maar sy geluk is in. Die Donderdagmiddag is die Bonzo sowaar al daar!

Trompie het sy fiets net mooi in die agterplaas neergesit en by die huis ingehardloop soos hy die afgelope twee dae al doen om uit te vind of daar vir hom pos is toe hy die posbode by die hekkie gewaar. Soos ’n weerligstraal is Trompie by hom. Hy teken vir ’n pakkie wat aan meneer Trompie Toerien geadresseer is. Sy sproetgesig straal.

Sy ma het vir hom kos op die tafel gelos. Hy onthou nou sy het gesê sy gaan nie etenstyd tuis wees nie. Trompie is alleen in die huis. Hy kan die Bonzo na hartelus bekyk en daarmee begin oefeninge doen.

Trompie is nie eens honger nie. Hy gaan dadelik na sy kamer toe. Hy sit op die bed en maak die pakkie nuuskierig oop.

Uiteindelik, nadat hy bolle en bolle sagte wit papier uit die boks gehaal het, sien hy die Bonzo. Trompie haal dit versigtig uit. Hy bekyk die rekband en vat-vat oral daaraan. Dit lyk net soos op die foto, maar hy is nogtans effens teleurgesteld. Hy het gedink die Bonzo sou baie groter en meer indrukwekkend wees.

Maar dit maak nie saak nie. Trompie gaan nou dadelik begin oefeninge doen. Hy trek sy hemp uit en gaan staan voor die spieël. Hy hou die een handvatsel in sy linkerhand en die ander een in sy regterhand vas. Hy hou die rekband voor hom. Nou moet hy sien hoe ver hy sy hande van mekaar af kan wegtrek. Dit is die eerste oefening wat hy gaan doen.

Trompie wil net begin toe hy aan iets dink. Hy moet sy spiere eers meet. Hy wil kan sien hoe hulle elke dag groter en groter word en hoe sy arms dikker en dikker raak.

Trompie buig sy regterarm en bal sy vuis styf. Hy wil sy boarmspier meet. Hy sit ’n stukkie tou om die knopspiertjie en hou die punte onder sy arm vas. Dan laat hy die een punt van die tou los. Hy knip die tou af op die plek waar hy met sy linkerduim en wysvinger styf vashou. So ja, hierdie stukkie tou pas nou net mooi om sy boarm as hy die spier bult. Wanneer hy ’n dag of twee met die Bonzo geoefen het, sal die tou nie meer om sy arm pas nie. Die spier sal al groter geword het en dan sal die tou te kort wees. Trompie is tevrede dat hy sy resultate kan meet.

Nou stel hy die Bonzo op die proef. Hy trek so hard soos hy kan. Hy kreun en steun, maar die rek gee net omtrent vyftien sentimeter skiet. Trompie kry dit niks verder uitgerek nie.

“Jissie, dis moeilik,” kreun hy. “Dié Bonzo is vir jou taai!”

Met sy tweede poging lyk dit darem vir hom of hy sy hande nou effens verder van mekaar af kan wegtrek. Hy is in sy skik. Hy begin al klaar sterker word!

Trompie probeer allerhande oefening met die rekband doen. As hy die ding agter sy kop hou, kan hy dit amper glad nie uitrek nie. Die maklikste manier om die Bonzo ver oop te rek is om die een handvatsel met albei voete vas te trap en dan met alle mag en albei hande aan die ander handvatsel te pluk.

Ná ’n lang oefensessie besluit Trompie om die rekband gou vir Blikkies en Rooie te gaan wys. Voor hy sy hemp aantrek, meet hy sy boarm eers weer met die stukkie tou van vroeër. Dit pas nog steeds om sy arm, wat beteken die spier het nog nie groter geword nie. Trompie sê vir homself dit is seker ’n bietjie te gou om nou al resultate te verwag. Hy bêre die tou in ’n laai.

Blikkies kuier by Rooie in sy buitekamer. Die twee sit en huiswerk doen. Trompie is te opgewonde oor die Bonzo om eens aan môre se huiswerk te dink. Hy sal dit vanaand doen – of miskien môreoggend vroeg opstaan.

Rooie en Blikkies is baie beïndruk met die Bonzo. Hulle trek dadelik hul hemde uit en durf die rekband aan.

Blikkies is eerste. Trompie voel ’n gloed van tevredenheid wanneer hy sien sy maat kan die ding nie so ver soos hy uitrek nie. Blikkies swoeg, maar sy hande beweeg skaars verder van mekaar af.

Nou pak Rooie die Bonzo. Hy haal eers diep asem. Hy staan wydsbeen met sy hande voor sy bors – ’n handvatsel in elkeen. Dan begin Rooie trek en Trompie kan sy oë nie glo nie. Sy maat trek die ding baie verder uit as wat hy dit kon regkry. Rooie se gesig word bloedrooi, maar hy byt op sy tande en trek selfs nog harder.

“Hoe’s daai vir julle!” sê Rooie trots.

Trompie meen dis goed, maar ’n mens kan nie sommer so op die oog af sê wie rek die ding die verste uit nie. ’n Mens moet dit behoorlik meet.

Die seuns besluit om die kamermuur hiervoor te gebruik. Elkeen kry ’n beurt om met die Bonzo teen die muur te staan en dit dan uit te rek. Wanneer hy nie meer verder kan nie moet die een wat trek met sy kop knik. Dan word daar ’n potloodstepie teen die muur gemaak waar sy hande is. Hulle besluit om die strepies regoor die duime te maak, so dit is belangrik om jou hande te draai sodat jou duime na buite wys vir die metery.

Trompie meen hulle kan dit sommer ook as ’n reël gebruik vir die kompetisie waaraan al die seuns – natuurlik net dié wat betaal – gaan deelneem.

“Onthou net,” sê Rooie, “jy kan nie dat al die ouens deelneem nie.”

“Hoekom nie?” wil Trompie weet.

“Die kleintjies sal mos nie ’n kat se kans hê om teen die groot ouens te wen nie,” sê Blikkies.

“O, ja,” sê Trompie en frons. Hy het nooit só oor die saak gedink nie. “Dan maak ons dit maar net vir ouens onder vyftien.”

Die drie begin nou met hul eie vriendskaplike kompetisie.

Blikkies is eerste. Hy trek hard tot daar sweet op sy voorkop pêrel. Dan knik hy met sy kop. Regoor sy linkerduim maak Trompie ’n potloodmerk op die wit muur. Rooie doen dieselfde met die regterduim.

“Los maar,” sê Trompie, “ons het jou merke.” Blikkies los en die rek skiet terug.

Nou is dit Trompie se beurt. Hy doen so ’n paar danspassies. ’n Mens moet altyd eers opwarm voor jy sport begin doen, anders kan jy jou spiere seermaak. Trompie gee ’n paar bokspringe en slaan dan woes met sy vuiste deur die lug. Hierna pluk hy sy skouerblaaie ’n paar keer vorentoe en terug.

Rooie en Blikkies hou sy manewales grinnikend dop.

Dan voel Trompie hy is warm genoeg. Hy kry die Bonzo beet. Hy staan wydsbeen. Sy hande is styf teenaan mekaar. Rooie kyk of hulle mooi regoor die streep is wat op die muur getrek is en dan sê hy: “Orraait, begin!”

Trompie trek. Hy swoeg. Hy sweet. Hy kreun. Hy loer na Blikkies se twee merke. Sy hande is al ’n hele entjie verby. Dan knik hy sy kop. Sy merke word gemaak en hy ontspan. Hy het Blikkies maklik geklop.

Rooie kom laaste aan die beurt. Hy gee ook eers ’n paar bokspringe en slaan woes deur die lug soos wat Trompie gedoen het. Dit het hom nogal beïndruk.

Nou staan Rooie reg. Trompie meet sorgvuldig. Sy maat se hande is regoor die streep.

“Trek!” sê Trompie.

Dit lyk of Rooie glad nie sukkel nie. Hy is binne ’n oogwenk verby Blikkies se strepe en toe, stadig maar seker, gaan sy hande verby Trompie s’n ook. Hy span al sy kragte in en sy hande beweeg selfs nóg ’n entjie verder van mekaar af. Dan knik Rooie sy kop.

Rooie het taamlik maklik gewen. Trompie troos homself aan die gedagte dat hy die Bonzo die hele tyd by hom het. Hy kan baie meer as Rooie oefen. As die rekband so uitstekend is soos die pamflet sê en so gou vir ’n mens resultate gee, sal hy Rooie mos binne ’n paar dae uitstof!

Hy sal sy maat egter nie in die kompetisie kan klop nie, want hy wat Trompie is, kan mos nie daaraan deelneem nie, aangesien hy dit organiseer. Trompie wil nie hê Rooie moet té sterk word nie, maar hy wil darem ook hê sy maat moet die kompetisie wen.

“Julle kan maar sê ek het die prysgeld al klaar,” sê Rooie laggend.

“Onthou net,” herinner Trompie hom, “ek kry die res van die inskrywingsgeld om vir die Bonzo te betaal en ons gaan jou wengeld onder ons vier verdeel om lekkers mee te koop.”

“Orraait, maar ek gaan nie inskrywingsgeld betaal nie!”

“Nee, jy en Dawie en Blikkies betaal nie, maar ons sê nie vir die ander ouens daarvan nie.”

“Dankie tog, daar is darem een ou wat ek sal klop,” sê Blikkies.

“Wie’s dit?” vra Trompie.

“Dawie, natuurlik!”

Dié aand oefen Trompie lank. Hy doen nie huiswerk nie. Wanneer hy gaan slaap, is hy moedeloos. Hy het weer met die toutjie gemeet en sy boarmspier is nog niks groter nie.

Die volgende oggend gaan Trompie vroeg skool toe. Nie om huiswerk te gaan doen nie, maar om met die Bonzo te woeker. Hy moet nou geld verdien. Dis nog net ’n week en ’n paar dae, dan moet die geld terug in sy bankrekening wees.

Die seuns drom om Trompie en sy maats saam. Die Grootkaptein was toe reg. Meer as een wat sien hoe hy met die rekband sukkel, sê sommer dadelik: “Laat ek probeer, Trompie.”

Trompie was egter verkeerd toe hy gedink het almal wat hul hand aan die Bonzo wil waag, sal die geld hê om daarvoor te betaal. Skoolseuns is meestal maar platsak.

Die drie wat dit kan bekostig, kry elkeen ’n beurt om die rekband aan te durf en om die ander aan te moedig om die volgende dag geld skool toe te bring, laat Trompie dié wat betaal nie net een keer nie, maar sommer ’n hele paar keer probeer.

Rooie lyk vies en Trompie fluister vir hom: “Toemaar, dis hoe mens besigheid doen.”

Toe die klok lui vir die skool om te begin, tel Trompie die geld in sy broeksak. Daar is net vyftien rand. Dis nie ’n goeie begin nie. Hy hoop maar dit sal later beter gaan, veral wanneer sy advertensie vir die kompetisie op die kennisgewingbord kom.

Pouse is daar heelwat belangstellendes, maar net een seun wat kan bekostig om met die Bonzo kragte te meet. Trompie probeer optimisties bly en sê vir homself – elke bietjie help.

Dié middag werk Trompie hard in sy kamer. Hy maak ’n advertensie vir die kompetisie. Hy besluit om dit Donderdag te hou, want sy geld moet die volgende Maandag terug in die bank wees.

Hy skryf sorgvuldig bo-aan ’n vel papier: Aandag! Aandag! Aandag! Die laaste Aandag! is drie keer so groot soos die eerste een. Trompie hou van hoe die woord wat al groter word.

Dan dink hy daaraan dat hy nie so mooi hoef te probeer skryf nie. Wanneer hy klaar is, gaan hy die advertensie vir Katrien gee. Sy kan mos pragtig teken en skryf. Sy sal dit vir hom mooi netjies oordoen. Sy sal net móét, want hy vat haar mos volgende week piekniek toe.

Trompie dink diep en skryf stadig. Wanneer hy uiteindelik klaar is, lees hy sy advertensie sorgvuldig deur. Hy is in sy skik. Hy is seker almal sal sy skryftalent bewonder wanneer hulle hierdie meesterstuk lees, maar wat vir hom belangriker as dit is, is dat hulle bereid moet wees om te betaal om die Bonzo op die proef te stel.

Hy lees die advertensie hardop – hy wil hoor hoe dit op die oor klink.

Aandag! Aandag! Aandag!

Donderdag is die Groot Dag. Hoekom? Lees en word wys!!!

Donderdag vind die grootste kompitisie wat Kwaggaberg, Noordwes Provinsie, Suid-Afrika, die Suidelike Halfrond, Die Wêreld nog ooit gesien het hier in ons dorp plaas!!!

Lees die res van hierdie kennisgewing versigtig en onthou – alles wat ek hier sê, is so waar as parravet!!!

Enige ou onder 15 (moenie oor jou ouderdom probeer jok nie, want ek het maniere om uit te vind!) kan aan hierdie GROOT KOMPITISIE deelneem. Wiesie sterkste? Dis die vraag!!! Wie kan die Bonzo die verste uitrek? Dissie selde vraag!!!

Jy betaal net R10,00 en jy kan tien keer soveel wen. Dink net daaraan! Het jy al ooit van so ’n aanbot gehoor? Of gelees?! Ongelooflik, né?

Kontak dadelik vir my, Trompie, of een van my helpers (Rooie, Blikkies en Dawie) vir meer inligting. Maar al die geld moet direk en net aan my betaal word!

Opskut!!! Laat ons van julle hoor! Onthou wat sêê die digter: Wie nie waag nie, wen nie!” en Van uitstel kom afstel!”

En vir dié van julle wat eers wil oefen – dis g’n probleem nie! Vir net R20,00 kry jy vyf probeerslae – genoeg om jou spiere sterker as ooit te maak! En as jy die Bonzo vir ’n hele middag na jou huis toe wil vat sodat ne’t jy op hom kan oefen en ons Bonzo-kampioen kan word, gaan dit jou net R50,00 kos!

So lat hoor van jou – vandag nog!

Opskut! Opskut!! Opskut!!!

Trompie Toerien

Net toe Trompie sy meesterstuk vir Katrien wil vat sodat sy dit netjies kan oorskryf en miskien ’n tekening van ’n sterk seun met geweldige spiere daarby kan teken, kom Rooie en Blikkies by hom aan.

Trompie lees die advertensie vir hulle voor. Hulle dink ook dit is baie goed geskryf. Blikkies maak egter beswaar teen die sin dat al die geld direk en net aan Trompie betaal moet word. Hy voel dit beteken Trompie vertrou hom, Rooie en Dawie nie.

Die Grootkaptein verseker hom dit is glad nie die geval nie. Dit sal maar net makliker wees as hy al die geld self hanteer.

Rooie het ’n ander beswaar.

“Die ouens het nie geld nie,” sê hy. “Jy moet die inskrywingsgeld minder maak.”

Trompie dink Rooie het miskien ’n punt beet. Kyk net hoe min ouens het vandag by die skool genoeg gehad om die Bonzo aan te durf. Hy besluit om net vyf rand per inskrywing te vra.

Almal is tevrede. Hulle stap na Katrien toe. Sy doen huiswerk in die tuin en glimlag breed wanneer die drie seuns oor die muur leun en haar groet. Vandat Trompie haar gevra het om saam met hom na die Sondagskoolpiekniek toe te gaan is sy besonder vriendelik.

Trompie verduidelik vir haar wat hy wil hê sy moet doen. Sy lees die advertensie aandagtig deur. Die seuns hou haar stip dop.

“Ek sal dit vanaand netjies oorskryf, en ook ’n gepaste tekening daarby maak.”

“Baie dankie, Katrien!”

“Maar wil jy dit nét so hê?”

“Natuurlik, ja.”

“Moet ek niks verander nie?”

“Soos wat?”

“Hier’s ’n paar foutjies in.”

“Soos wát?” wil Trompie weet. Hy hou nie van die manier waarop Rooie en Blikkies grinnikend na hom kyk nie.

“Wel, hier is spelfoute en die aanhalings van die ‘digter’ is eintlik idiome …”

“Maak nie saak nie. Ek wil dit nét so hê. Jy verander niks nie!” sê Trompie nors.

“As jy so sê,” antwoord Katrien gedwee.

Die volgende paar dae verloop dinge glad nie so seepglad soos Trompie gehoop het dit sou nie. Almal het die advertensie op die leerders se kennisgewingbord gelees, maar die geld kom maar stadig in – nog net drie seuns het ingeskryf.

Die meeste seuns is nie lus om geld te betaal om net een keer te voel hoe die Bonzo werk nie. Niemand het nog van die twintigrand-aanbod vir vyf probeerslae gebruik gemaak nie. Daar wás wel ’n paar navrae, maar dit het net by navrae gebly.

Niemand vra eers uit oor die gebruik van die Bonzo vir die hele middag nie. Geld is skaars. Besigheid is glad nie goed nie.

Teen die Dinsdag het Trompie nog lank nie genoeg geld gemaak nie. Afgesien van die eerste drie seuns het nog tien nou al vyf rand elk betaal om aan die kompetisie deel te neem, maar ’n derde daarvan moet nog vir die wenner afgetrek word en Trompie word benoud. Die tyd raak min. Hy hoop maar Rooie wen – dalk kan hy omgepraat word om al sy geld vir die Bonzo-fonds te skenk. Dit sal beslis help!

Trompie is teleurgesteld in die rekband. Die ding verrig glad nie sulke wondere soos wat Zarko gesê het nie. Trompie oefen hard, elke dag, maar die toutjie in sy laai pas nog steeds om sy boarm. En ten spyte van die feit dat hy die Bonzo by hom het en baie meer as Rooie oefen, kan hy sy maat nie uitstof nie. Die Bonzo maak ’n mens glad nie sterk nie. Om alles te kroon, kom Trompie agter dat die rekband teen die handvatsel begin uitrafel. Hy is seker as ’n groot, sterk man net een keer met sy volle krag daaraan trek, gaan dit klaarpraat met die ding wees.

Die Woensdag en Donderdagoggend begin dinge darem beter lyk. Trompie maak nog R75,00 wanneer nog vyftien seuns vir die kompetisie inskryf.

In die laaste periode maak Trompie ’n paar sommetjies. Hy het op die ou end altesaam dertig rand uit oefenlopies gemaak. Agt-en-twintig deelnemers het vyf rand betaal – ’n totaal van R140,00. Saam met die dertig rand (wat hy eintlik nie wou byreken nie, maar die nood druk, so nou moet hy maar) het hy dus nou R170,00, minus ’n derde vir die wenner (R56), wat sy totale wins op R113,00 te staan bring. En dis nie genoeg om sy bankbalans weer te kry waar dit hoort nie! Rooie sal eenvoudig net móét wen en van sy wengeld bydra.

Ná skool stap die seuns wat aan die Bonzo-kragmeting gaan deelneem na die muur by die skietbaan. Daar is ook al klaar ’n groot groep toeskouers.

Trompie het ’n stukkie kryt. Hy trek ’n dik wit streep teen die muur. Almal kyk aandagtig na hom. Dan verduidelik Trompie die reëls: ’n Handvatsel in elke hand; hande teen mekaar en in lyn met die wit streep; trek vir al wat jy werd is en knik jou kop wanneer jy nie meer verder kan nie sodat jou duime se posisies gemerk kan word.

Almal verstaan. Die seuns trek hul baadjies en hemde uit. Hulle is gereed. Daar is agt-en-twintig wat betaal het en drie – Rooie, Dawie en Blikkies – wat nie het nie.

Die seuns kry een vir een ’n beurt. Trompie merk net die ouens wat die sterkste is, se eindposisies. Dis mos onnodig om vir almal strepe te trek. ’n Dorpseun wat een van die eerstes was om die Bonzo aan te durf, loop nog steeds voor. Sy strepe bly die verste.

Daar is later nog net ’n paar seuns oor wat moet trek.

Uiteindelik is dit Rooie se beurt. Hy dans ’n paar passies en slaan gate in die lug. Blikkies en Dawie het klaar uitgeval, maar hulle vryf Rooie se rug. Trompie kan niks doen om hom te help nie. Hy is mos die organiseerder en beoordelaar. Hy moet heeltemal onpartydig wees.

Toe Rooie sy plek inneem, fluister Trompie hees: “Jy moet álles uithaal. Dinge is kritiek.”

“Ek sal wen,” sê Rooie vol selfvertroue.

Hy staan reg. Trompie kyk of sy maat se hande teenoor die wit streep is. Dan sê hy: “Begin!”

Rooie begin. Hy steun en kreun. Die seuns hou hom opgewonde dop. Rooie se hande is nou regoor die verste strepe – dié van die dorpseun. Rooie byt op sy tande; die spiere bult op sy arms en die are op sy voorkop. Toe gaan sy hande stadig oor die twee wit strepe – en nog verder. Hy knik met sy kop. Trompie trek vinnig die strepe. Rooie wen sover!

Daar is nog net twee deelnemers oor. Hulle moet nou probeer om by Rooie se strepe verby te kom. Die een outjie lyk maar klein en tengerig.

Die ander seun is egter fris en sterk gebou. Sy naam is Willem Burger. Hy is in die koshuis. Hy het vanjaar eers hier kom skoolgaan – sy ouers bly glo iewers in die Vrystaat. Willem is ’n boelie. Dawie het Trompie-hulle al baie van hom vertel.

Al is hy ook maar net ’n eerstejaar in die koshuis, doop hy die kleiner outjies agter die prefekte se rûe en knou hulle lelik af.

Willem is in dieselfde klas as die Boksombende, maar hulle het nog nie veel met hom te doen gehad of met hom gesels nie.

Die boelie is nou in posisie. Hy lyk besonder groot.

“Is jy so oud soos wat jy sê jy is?” vra Trompie.

“Natuurlik! Wat dink jy!”

Willem vat die Bonzo vas en begin met mening trek. Trompie se hart sak in sy skoene. Stadig maar seker, asof dit nie juis veel inspanning kos nie, beweeg die boelie se hande by Rooie se merk verby. Uiteindelik knik hy met sy kop! Trompie trek nie eens strepies vir hom nie. Almal kan sien hy wen die kompetisie sommer maklik.

“Waar’s my geld?” wil Willem bars weet. Gedwee gee Trompie vir hom sy geld.

Toe Willem juigend saam met ’n paar van sy trawante wegstap, sê Trompie sag: “Ek weet nie hoekom nie – ek dink nie dis oor hy gewen het nie – maar ek hou niks van daai ou nie.”

“Skuus, Trompie,” sê Rooie teleurgesteld, “maar ek het my bes gedoen.”

“Ek weet.”

Dié middag sit Rooie en Blikkies by Trompie in sy kamer. Die drie is mismoedig. Hulle het getel en getel, maar die geld wil nie meer word nie. Dit bly maar net dieselfde en dis nie genoeg om Trompie se bankrekening teen Maandag weer te kry wat dit was nie.

Trompie wys vies na die rekband.

“Julle ouens weet,” sê hy, “ek dink nie dié simpel ding beteken veel nie.” Trompie kyk weer na die band wat nou nog meer by die handvatsels afskilfer. Dis natuurlik daardie sterk Willem Burger wat dit nog verder beskadig het.

Skielik kry Trompie ’n blink idee.

Maar hy moet darem net eers dubbeld seker maak die Bonzo beteken regtig niks nie. Hy pluk sy hemp uit en gaan staan met sy rug voor Blikkies en Rooie wat op die bed sit.

Trompie bal sy vuiste en buig sy arms. Hy trek sy skouerblaaie tot teen mekaar in.

“Sien julle spiere – groot spiere?” vra hy vir sy maats.

Hulle is jammer om dit aan hom te doen, maar albei verseker hom hulle sien nie groot spiere nie – hulle sien om die waarheid te sê niks spiere nie.

Trompie draai om.

“Kyk goed na my skouers,” sê hy. Hulle maak so. Blikkies hou selfs op kou aan die grashalmpie in sy mond.

“Dink julle my skouers het hierdie week wat ek gereeld met die Bonzo geoefen het groter geword? Kyk baie goed voor julle antwoord!”

Hulle doen dit, maar sien nie enige verbetering nie.

“Dit lyk vir my of jou skouers nou nog smaller as gewoonlik is,” mompel Rooie.

Trompie gaan nog ’n laaste toets doen voor hy finaal besluit.

Hy haal die toutjie uit sy laai. Hy bult sy regterboarm se spier so groot soos hy kan.

“Meet,” sê hy vir Blikkies. Sy maat weet wat om te doen. Hy en Rooie het Trompie dit die afgelope week baie sien doen.

“Nee,” sê Blikkies, “die spier het nie groter geword nie – miskien selfs ’n bietjie kleiner. Die twee punte kom nie meer so netjies by mekaar uit nie. Die een gaan nou ’n entjie óór die ander een …”

“Ek het so gedink!” sê Trompie vies. “Die simpel ding beteken net mooi niks!

Rooie en Blikkies stem saam en knik vies kop.

Maar Trompie lyk nie so ontsteld soos wat hulle verwag het nie. Daar is ’n stout kyk in sy oë wanneer hy vir sy maats vra: “Raai wat gaan ek nou doen?”

Die Grootkaptein kondig trots aan dat hy die Bonzo gaan verkoop: “Aan Gerrit Moerdyk. Hy stel baie belang en hy het altyd geld, want sy pa is mos die rykste ou in die dorp.”

Die seuns spring op hul fietse en ry na Gerrit-hulle se groot dubbelverdiepinghuis. Rooie en Blikkies dink dis ’n slim plan van Trompie. As hy die Bonzo verkoop, sal hy mos genoeg geld hê om sy bankbalans weer reg te kry én daar sal nog van die geld wat hy uit die kompetisie gemaak het oor wees vir lekkers. Blikkies spoeg sy grashalmpie met ’n boog uit. Nog net ’n rukkie, dan kou hy weer kougom!

Hulle tref Gerrit in die tuin aan. Trompie sê vir hom die rekband wat van jou ’n spierdier maak, is te koop en Gerrit glimlag.

“Hoeveel wil jy daarvoor hê?” vra hy.

Trompie maak sy prys, maar die ryk seun wil nie byt nie. Gerrit weet duidelik hoe om te onderhandel en begin die prys afstry. Wanneer Trompie sê: “Tot hiertoe en nie verder nie!” kom Gerrit met sy troefkaart.

Hy wys na die uitgerafelde plekke by die handvatsels en sê: “Die ding is al stukkend.”

“Nooit!” sê Trompie en maak of hy dit vir die eerste keer sien. “Dis maar net van my wat so hard daarmee geoefen het. Dis niks. Hierdie Bonzo gaan nog jare hou en hy sal jou so sterk soos ’n leeu maak – jy gaan yslike spiere kry!”

“Oukei, maar ek soek nog steeds afslag omdat die ding tweedehands is,” kap Gerrit terug.

Op die ou end besluit Trompie om te vat wat Gerrit hom aanbied. Eerder dit as wat die ryk seun hom opruk en sê hulle moet van die transaksie vergeet.

Gerrit haal ’n paar note uit sy agtersak en Trompie gee vir hom die Bonzo. Hy verwens die dekselse ding wat hom soveel moeite besorg het sonder om vir hom een enkele spier te gee.

Wanneer hulle by die Moerdyks se huis wegry, slaak Trompie ’n sug van verligting. Net Maandag gaan hy die geld wat hy getrek het – plus die rente wat hy hierdie maand daarop sou verdien het – terug in sy bankrekening betaal. Boonop het hy en sy maats nog ’n paar rand oor ook.

Die drie ry reguit kafee toe. Dis tyd om lekkers te gaan koop!

Trompie Omnibus 3

Подняться наверх