Читать книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith - Страница 6

1

Оглавление

’n Donkie is ’n wonderlike ding

Dis ’n warm somersdag op Kwaggaberg.

Die vier lede van die Boksombende swem resies in die dam in die kloof. Trompie se hond, Boesman, is ook by. Hy blaf-blaf en hap na die water totdat een van die seuns hom gryp en met hom induik. Dan swem Boesman met gespitste ore wal toe waar hy weer blaffend baljaar.

Dit is nog net ’n paar dae voordat hierdie lang somervakansie iets van die verlede is. Die seuns benut elke heerlike oomblik daarvan en dink so min as moontlik aan die nare dag wanneer hulle, soos Trompie sê “weer terug hok toe” moet gaan.

Hulle besluit om een keer van die diep kant af resies te jaag na hier waar hul klere in hopies op die gras lê. Dan sal hulle in die son gaan lê en bak.

“Onthou, julle moet my voorgee,” sê Dawie dadelik.

Dawie is die kleinste en tingerigste van die vier maats. Hy is ook die jongste. Trompie, Rooie en Blikkies is nou al ’n ruk lank dertien. Dawie is nog elf, maar soos hy altyd vinnig byvoeg: “darem amper twaalf”.

Die seuns nael om die dam tot aan die ander kant. Boesman spring blaffend teen hulle op, maar hulle stamp hom af. Hulle het nie nou tyd om met hom te speel nie. Hulle is besig met ernstige sake – hulle gaan kyk wie die vinnigste kan swem.

Toe hulle al vier by die diep kant is, verduidelik Trompie die reëls.

“Jy kry vandag agt tree voor, Dawie …”

“Nee,” protesteer sy vriend. “Julle het my gister sewe tree voor gegee en my ver gewen. Ek wil vandag tien tree hê.”

Trompie, Rooie en Blikkies bekyk hom deeglik. Hy is maar klein en hulle weet ook hy swem nie goed nie.

“Gee die ou tien tree,” brom Rooie.

Dawie glimlag breed. Hy vryf sy hande voor hom en sê tevrede: “Boeta, vandag gaan julle ’n ding sien. Julle gaan my nie inhaal nie!”

Hy duik in, maar val plat op sy maag dat die water so spat. Sy drie maats lag lekker.

“Ons kon hom maar net so wel twintig tree gegee het,” sê Trompie.

Dawie swem stadig aan en kyk oor sy skouer na die drie op die wal. Toe hy omtrent tien tree weg is, skree Blikkies: “Hokaai!”

Dawie trap water, maar sorg dat hy nog verder van hulle af wegbeweeg wanneer hulle wegkyk. Wanneer Trompie skree: “Nou!” wil hy al ’n goeie entjie verder as net tien tree weg wees!

“Is julle reg?” vra Trompie vir Rooie en Blikkies. Hulle knik. Hulle is gereed. Blikkies spoeg net gou die grashalmpie waaraan hy gekou het uit.

Die drie seuns staan reg om in te duik. Hulle kyk na Dawie.

“Haai, waar dink jy gaan jy heen?” skree Trompie. “Kom terug!”

Dawie kom so effentjies terug.

Trompie staan gebukkend vooroor en sy hande is agter hom uitgestrek. Rooie hou sy hande voor hom en sy oë is stokstyf in sy kop. Blikkies staan met die een voet voor die ander. Dit lyk of hy gaan inspring in plaas van duik.

“Reg?” vra Trompie hees. Die drie se harte klop vinnig. Ses oë staar na die water. Dawie beweeg stilletjies nog ’n entjie vorentoe.

“Nou!” skree Trompie.

Die drie kaal lywe trek deur die lug en tref die water. Dawie het intussen woes begin swem. Hy is teen hierdie tyd al ’n goeie vyftien tree voor.

Trompie en Rooie het die water gelyk getref en saam opgekom. Hulle swem nou kop aan kop. Blikkies besef dit was nie so ’n goeie idee van hom om in te spring eerder as om te duik nie. Hy is ’n hele paar tree agter die ander twee. Langs hom swem Boesman met gespitste ore. Blikkies swem so vinnig as wat hy kan. Hy gaan beslis nie toelaat dat ’n hond hom klop nie!

Elke keer wat Trompie sy gesig oplig om asem te skep kyk hy eers gou hoe hy vaar. Rooie se kop is nou omtrent gelyk met Trompie se skouers, maar Dawie is nog steeds ver voor! Trompie sal moet vet gee om hom in te haal.

Blikkies probeer sy bes, maar Trompie, Rooie en Boesman trek al verder van hom af weg.

Rooie hoor ’n tjankgeluid langs hom. Hy kyk vinnig en sien hoe Boesman hom verbysteek.

Trompie bekommer hom nou nie meer oor Rooie nie. Hy konsentreer net daarop om Dawie in te haal. Hy kom vinnig nader aan sy maat, maar die wal kom ewe vinnig nader! En net voor hy by Dawie kom, steek iets hom verby – dis Boesman!

Dawie raak eerste aan die kant, toe spring Boesman op die wal uit en dan is Trompie ook by. ’n Paar sekondes later kom Rooie daar aan en ná hom Blikkies.

Die seuns sit moeg op die gras en hyg na asem.

“Jy’t gekroek!” sê Blikkies vir Dawie toe hy sy asemhaling weer onder beheer het.

“Moenie simpel wees nie,” snou sy vriend hom toe. “As ek so vrot soos jy swem, sal ek liewer stilbly. Jy’s ’n ouvrou, want jy’s laaste!”

“Ek sê ook jy’t gekroek!” roep Trompie vies uit.

“En ek ook!” skree Rooie.

Dawie gluur hulle woes aan.

“Weet julle wat ek sou gedoen het as ek julle was?” vra hy.

“Wat?” Rooie is erg omgekrap.

“Ek sou my kop in skaamte laat sak het,” sê Dawie. “Ek is baie kleiner as julle en ek het heeltemal onder julle uitgeswem – en so ook Boesman, ’n hond wat nie eens baie lief vir water is nie!”

Die drie seuns kyk Dawie vies aan. Dan sê Trompie: “Volgende keer wanneer ons resies swem, spring jy saam met ons weg.”

“Ek gee nie om nie,” sê Dawie hooghartig, “maar onthou net – ek is die kampioen tot ons eendag weer swem.” Hy besluit in die stilligheid dat dit nog baie lank sal wees voor hy weer eendag inwillig om resies te swem!

“Hoe kan jy die kampioen wees as jy tien tree voor gekry het?” wil Trompie weet.

“Tien tree wat twintig geword het,” brom Rooie.

“Dit het niks met die saak te doen nie,” sê Dawie. “Julle was heeltemal bereid om vir my die voorsprong te gee, maar noudat julle nie gewen het nie, skop julle ’n bohaai op. Wonderlike sportmangees, nè?”

Die drie antwoord liewer nie hierop nie. Uiteindelik sê Trompie net: “Dawie, die drie maande wat jy by my kom bly, gaan ek jou op jou plek sit. Jou pa en ma gaan jou nie herken wanneer hulle terugkom nie.”

“Dis nog glad nie seker dat ek na julle toe kom nie,” sê Dawie en sug mismoedig. Hy wil baie graag by Trompie-hulle gaan bly terwyl sy ouers weg is.

Die Boksombende dink aan die aaklige gedagte dat Dawie die eerste kwartaal miskien, soos hulle dorpseuns sê, ’n “koshuisbobbejaan” gaan wees.

Meneer Theron, Dawie se pa, se maatskappy stuur hom vir drie maande Kaapstad toe en hy en sy vrou wil nie hul seun ontwrig deur hom vir een kwartaal uit Kwaggaberg se hoërskool te haal nie. Hulle dink daaraan om hom eerder in die koshuis te sit.

Toe Trompie die nuus hoor, het hy sy eie ouers gesoebat dat Dawie by hom kan kom bly. Hulle was nogal heeltemal gewillig.

Die Therons is egter nie so seker nie. Hulle is bang Dawie sal glad nie sy skoolwerk doen as hy heeltyd by Trompie is nie. Hulle het Dawie egter nog nie by die koshuis ingeskryf nie. Dit is asof hulle die seuns dophou en kyk hoe hulle hul gedra voor hulle finaal gaan besluit of hul enigste en geliefde seun by Trompie mag bly of nie.

“Ons het ons tot sover goed gedra,” sê Trompie. “Ons het niks gedoen wat ons nie moes nie.”

“Niks waarvan Dawie se ouers in elk geval weet nie,” sê Blikkies droogweg.

“Dis nog net ’n paar dae voor die skool begin,” sê Trompie. “Ek moet nou net mooi loop – altyd vriendelik wees. Julle natuurlik ook.” Hy kyk na Blikkies en Rooie. “Dawie se pa-hulle weet mos hy’s altyd by ons drie. Ons moet almal mooi lewe. Hulle moet sien hoe ordentlik is ons. Ons sal hul dierbare bloedjie niks verkeerds leer nie – net mooi maniertjies.”

“Jy’s g’n snaaks nie,” sê Dawie vererg. “Maar ek dink darem nie my ouers sal my in die koshuis prop nie – behalwe natuurlik as daar iets leliks gebeur.”

“Nonsens. Niks sal gebeur nie,” sê Trompie. “Ons is mos op ons hoede. Ons sal nie moleste maak nie.”

“Môre sal ons weet wat aangaan,” sê Dawie. “Dis die laaste dag wat my pa my by die koshuis kan inskryf. Maar ek is seker hy gaan met jou pa praat en reël dat ek by julle kom bly – altans ek hoop so! Dink net hoe lekker gaan hierdie eerste kwartaal dan wees.”

Die vier seuns lê op die gras in die son en bak. Hulle dink aan al die lekker dinge wat vir hulle voorlê.

Uiteindelik trek hulle hul klere aan. Hulle het ’n lang tou saamgebring, want hulle wil vanoggend gaan bergklim en dan is tou mos ’n nuttige ding.

Dit is warm. Die seuns kyk verlangend na die koel water. Blikkies kyk na die berg. Dit gaan harde werk wees om in hierdie hitte te klim.

“Sal ons nie maar iets anders doen en dan weer swem nie?” vra Blikkies.

Hulle gaan sit weer soos een man. Blikkies word van harte gelukgewens met sy skitterende voorstel. Dit is definitief te warm vir bergklim.

En daar sit Trompie nou. Hy is die Boksombende se leier. Sy pet sit windmakerig skeef op sy kop. Sy hemp hang agter by sy broek uit. Hy het nie eens die moeite gedoen om dit in te druk nie. Soos gewoonlik lê sy kouse op sy skoene. Die regterskoen se punt is ingeduik van al die klippe, blikke en graspolle wat hy gedurig loop en skop. Daar is nou ’n frons op sy sproetgesig. Hy dink aan die feit dat daar nog net drie dae oor is voor die skool weer begin.

Langs Trompie sit Rooie. Hy is kort en sterk gebou. Hy kyk aandagtig na sy tone wat hy op en af wikkel. Rooie is altyd kaalvoet. Sy pa is die dorp se skoenmaker, maar soos Trompie altyd sê: “Rooie verdra nie ’n skoen aan sy voete nie. Dis nou maar wors!”

Langs Rooie sit Blikkies. Hy is ’n lang, skraal seun. Blikkies is op die oomblik platsak, want hy kou ’n grashalmpie. Wanneer hy geld het, kou hy kougom. Sy kake beweeg ritmies op en af. Hy versit die grashalmpie behendig van die een kies na die ander. Dan gee hy ’n droewige sug. Hy sien nie uit na die nuwe skooljaar nie.

En dan is daar die jongste lid van die Boksombende – Dawie. Sy ondeunde oë vonkel. Hy is besig om met Boesman te gesels. Hy vertel vir die hond dat dit darem lekker is om so goed soos hulle twee te kan swem. Hy sê vir Boesman hy weet van drie seuns – hy wil nie name noem nie – wat erg jaloers is omdat hulle nie so goed kan swem nie …

Dit is warm en die seuns trek hul klere weer uit. Hulle sit net in hul broeke en gesels voor hulle weer induik. Dit is maar goed hulle het hul broeke dié keer aangehou, want hoewel hulle dit natuurlik nie besef nie, is daar groot moleste aan die kom!

Die hitte maak die Boksombende lui. Die een wag vir die ander een om eerste in te duik.

Skielik beduie Dawie met sy vinger en sê: “Sien julle ouens daai ding?”

Sy maats kyk na die plek waar hy wys.

Ja, hulle sien dit ook.

Die seuns lê peinsend in die son en kyk na die “ding” – ’n donkie wat vreedsaam wei.

Dit is stil. Dan sit Rooie almal se gedagtes in woorde om wanneer hy sê: “Kom ons gaan ry hom.”

Hulle hardloop vinnig na die niksvermoedende donkie toe. Toe hulle naby kom, bekruip hulle hom.

“Versigtig!” sê Trompie. “Netnou is hy wild en hol hy weg.”

Maar die donkie is so mak soos nog iets. Toe hy hulle gewaar, lig hy net sy kop ’n paar sekondes, kyk met groot oë na hulle en wei dan weer verder – asof hulle nie enige verdere aandag verdien nie.

“Ek’s eerste,” sê Trompie.

Sy maats hou die donkie vas en hy spring op.

“Hiert! Weg is jy!” Trompie slaan die donkie met sy plat hand. Ou Langoor stap traag aan. Eers toe Trompie soos ’n barbaar gil en hom hard slaan, slaan hy oor na ’n drafstappie.

Ná ’n paar treë slof die donkie maar weer stadig en gedwee verder. Hoe meer Trompie te kere gaan, hoe stadiger loop hy.

Uiteindelik klim hy maar weer af. Hy is moedeloos.

“Dis die vrotsigste ding wat ek nóg gesien het!”

Dan is dit Rooie se beurt en ná hom Blikkies s’n. Hulle twee kry net so min met ou Langoor reg as Trompie. Hulle smaak nie eers die genot van ’n effense drafstappie nie. Die dooierige donkie stap stadig en blykbaar doodverveeld aan.

Toe Blikkies soos ’n jokkie sit en hom in die ribbes skop om hom aan te por, gaan staan die koppige dier botstil. Al sy geskree, gedreig en gepleit help niks nie. Die donkie weier eenvoudig om ’n tree verder te beweeg.

Blikkies klim uiteindelik vies af. Die vier seuns kyk met suur gesigte na die lui dier wat ongeërg staan en kou.

“Nou’s dit my beurt,” sê Dawie.

“Asof jy iets met hom sal regkry,” brom Trompie.

“Ek gaan julle wys hoe ry mens ’n donkie!” Dawie het al in die fliek gesien hoe spring ’n cowboy op ’n perd en doen nou dieselfde met ou Langoor.

“Komaan, komaan! Weg is ons!” skree Dawie. Maar dis alles tevergeefs. Al reaksie is dat die donkie sy kop oplig en verbaas kyk na die seuns wat desperaat probeer om hom aan die beweeg te kry. Almal help stoot, maar dis tevergeefs.

Die seuns staan terug en kyk moedeloos na die donkie. Dawie hou op skree en slaan.

En toe gebeur dit skielik! Of Dawie iets gedoen het wat hy nie moes nie en of die donkie net gevoel het hy het nou genoeg van die seuns se streke gehad en of ’n by of iets hom dalk gesteek het, is moeilik om te sê. Maar ou Langoor ruk skielik sy kop op. Hy balk, skop woes agterop – en Dawie trek deur die lug!

Trompie, Rooie en Blikkies help hom vinnig op na hy die grond getref het. Hy vryf sy sitvlak en sê verbaas: “Jissie, ouens, wat het gebeur?”

Niemand weet nie. Trompie probeer ’n oplossing gee deur te sê: “ ’n Donkie is ’n wonderlike ding. Dis onmoontlik om hom te verstaan.”

Dawie verseker almal nou dat die donkie hom nie sou afgegooi het as hy hom nie so onverwags gevang het nie. Hy wil nou weer probeer.

Die dier wei kalm, asof hy die insident lankal vergeet het. Dawie stap versigtig nader. Hy vryf-vryf nog steeds sy agterstewe. Die donkie beweeg glad nie.

Dawie spring vinnig op, maar ou Langoor skop net so vinnig met sy agterbene – en daar trek hy weer.

“Wat makeer die ding? Is hy mal?” vra Dawie vies. “Dis nou nie meer ’n grap nie.”

Trompie-hulle lag, maar hulle kan ook nie verstaan wat so skielik in die donkie gevaar het dat hy sulke moleste aanvang nie.

Manmoedig sê Dawie: “Ek gaan weer probeer.”

Die seuns kyk fronsend na die donkie wat nou weer kalm staan asof niks gebeur het nie. Trompie, Rooie en Blikkies dink ook Dawie moet weer probeer. Dit is nou ’n saak van eer.

En toe maak Trompie die voorstel – die voorstel wat sulke rampspoedige gevolge sou hê.

“Ek sê jou wat, Dawie. Dié keer maak ons jou met die tou aan die donkie vas. Dan sal hy jou nooit kan afgooi nie!”

Blikkies en Rooie dink dis ’n skitterende voorstel. Dawie lyk maar skepties.

Rooie gaan haal die tou. Dawie kyk bekommerd hoe die seuns daarmee na die donkie toe stap.

“Kom, Dawie,” sê Trompie opgewonde. “Jy moet vinnig opspring as ons hom het.”

Die seuns hou die dier vas. Dawie spring op. Die donkie staan gedwee. Hy is glad nie meer nukkerig nie.

Dawie word stewig op Ou Langoor se rug vasgemaak. Sy maats draai die tou om en om sy bene, lyf en arms en om en om die donkie se maag en selfs nek ook. Dawie se hande is los, maar die knoop is onder die dier se maag. Die seuns kan geen rede sien hoekom hy homself sal wil losmaak nie. Hulle het ook seker gemaak hy kan homself glad nie loswikkel nie. Dawie is, soos Trompie sê, “properlies” vas.

Trompie, Rooie en Blikkies staan ’n paar tree weg. Die donkie moet nou met sy nukke begin en skop om Dawie te probeer afgooi. Maar hy stel nie daarin belang nie; hy wei net gedwee verder. Dawie sit op sy rug, só stewig vasgemaak dat hy homself nie eens kan loswikkel nie. As hy wil afklim, sal iemand hom moet help.

Dawie se drie maats kyk vies na die donkie.

“Kry ’n lat, Rooie,” sê Trompie. “Piets hom bietjie.”

Rooie maak so – en toe begin die gemors. Ou Langoor skop woes sy agterpote in die lug in. Hy maak sy rug eintlik ’n boog soos hy bokspring om Dawie af te kry.

“Ry hom!” skree Trompie.

Dawie ry die dier. Daar is niks anders wat hy kan doen nie.

Skielik hou die donkie op rondspring. Hy staan en bewe. Dan bulk hy en hardloop op dolle vaart weg!

Trompie-hulle lê oop agter die donkie aan. Dawie skud só dat hy voel of hy niks binnegoed meer het nie. Hy val egter nie af nie. Sy maats het hom te deeglik vasgebind.

“Vang die ding!” skree Trompie. Maar die dooierige “ding” is nou gans te vinnig vir hulle.

Die donkie pyl reguit op ’n boom af. Daar is ’n dik tak wat laag hang en Dawie vol in die gesig gaan tref. Trompie skree hees: “Koes, Dawie!”

Dawie koes net betyds. Die tak suis bo hom verby.

Die seuns skree so hard soos hulle probeer om die donkie te stop dat die dier nou nóg vinniger hardloop om van hulle af weg te kom.

“Ons is in groot gemors,” sê Trompie vir die blasende Blikkies en Rooie langs hom toe hy sien ou Langoor kies koers na die grootpad – die grootpad wat reguit dorp toe gaan en die hoofstraat word!

’n Paar minute later nael die donkie in Kwaggaberg se hoofstraat af. Die drie seuns – hulle het nog steeds net broeke aan – kom gillend agterna: “Vang hom! Stop hom! Help vir Dawie!”

Elke paar sekondes kom Dawie se skril stemmetjie ook: “Help! Help!”

Mense op die sypaadjie gaap die petalje oopmond aan: die seun op die verwilderde donkie en die drie gillende barbare kort op hul hakke. Toe hulle besef die seun is aan die donkie vasgemaak, probeer ’n paar mans egter help. Ou Langoor is nou nog méér verbouereerd. Hy vleg soos ’n Springbokvleuel tussen hulle deur en ontwyk al die uitgestrekte hande.

Uit winkels en kantore stroom mense om te help. Daar is egter ’n hele klompie wat net staan lag en die snaakse spulletjie hier in die hoofstraat geniet.

Dawie se ma kom net mooi toe by haar man se kantoor uit. Hulle twee het so pas besluit om hul seun liewers wel die eerste kwartaal by Trompie-hulle te laat bly as in die koshuis.

Mevrou Theron sien die seun op die donkie. Dit gaan so vinnig dat sy hom nie herken nie. Sy hoor die geskree: “Help! Help! My binnegoed …”

Maar dis mos Dawie se stem! Die donkie swenk na links. Sy sien Dawie se bleek gesig.

“My seun …” sê sy en val flou neer.

Twee mans laaf die arme ma op die sypaadjie. Ander jaag agter die donkie aan en daar heers chaos in die hoofstraat. Die dorp se polisiemag – ’n sersant en twee konstabels – is nou ook by, maar dit help nie veel nie. Die sersant is te lomp en stadig om iets noemenswaardigs uit te rig, die een jong konstabel sukkel om deur die kordon gillende, histeriese vrouens te kom en die ander een sukkel om hulle uit ou Langoor se pad te hou.

Die donkie hardloop by ’n werf agter die garage in. Daar is nie ’n uitgang nie.

“Nou het ons jou!” skree Trompie.

Die dier is in ’n hoek vasgekeer. Almal gryp na hom. Hy skop-skop sy agterpote in die lug en almal retireer vinnig. Dawie hang nou amper onder die donkie se maag soos hy afgeskud het. Hy roep flou en skaars hoorbaar: “Help! … Help!”

Die gereg is nou voltallig en die sersant tree tussenbeide. Hy tel tot by drie. Op die derde telling spring hy en die konstabels vasberade vorentoe en kry die donkie om die nek beet. Hierdie vasberade optrede van die Suid-Afrikaanse Polisie sou indrukwekkend gewees het as Ou Langoor nog wild en gevaarlik geskop het, maar hy het intussen besluit dat hy nou vir almal gewys het wat daar in hom steek wanneer hy moeilik word. Hy is nou moeg vir hierdie affêre. Hy staan mak en gedwee en laat die polisie se bespringing ietwat belaglik lyk.

Die gevaar is verby en almal help om Dawie los te maak. Hy is asvaal.

“Al my binnegoed het uitgeskud,” kla hy.

Sy ma het intussen, danksy ’n emmer water wat oor haar uitgegooi is, haar bewussyn herwin. Sy sit by Dawie. Hy lê met sy kop op haar skoot.

“Eina au,” mompel Dawie. “My lyf is seer …”

Die omstanders kry mevrou Theron en haar seun jammer. Almal kyk kwaai na Trompie en Rooie en Blikkies waar hulle verslae eenkant staan.

“Dit lyk nie of ons baie gewild is hier nie,” brom Trompie. “Kom ons verdamp.”

Hulle wil hulle net uit die voete maak toe die sersant bulder: “Haai, waar dink julle gaan julle heen?”

“Ons gaan net ons klere haal, oom,” sê Trompie skrikkerig.

“Wat het julle aangevang?” wil die sersant weet en hy haal ’n sakboekie en pen uit sy sak.

Trompie verduidelik vinnig dat hulle niks verkeerds gedoen nie. Dawie was heeltemal gewillig dat hulle hom op die donkie moet vasmaak.

Dawie sit nou regop en beaam alles wat Trompie sê.

“Dis nie hulle skuld nie, Ma. Hulle het niks gedoen nie …”

“Ek is nou van een ding oortuig,” sê mevrou Theron beslis. “Jy gaan nie by daardie barbaar bly nie. Jy gaan koshuis toe!”

Ná ’n dreigement dat hulle lewendig afgeslag gaan word as hulle ooit weer sulke moleste aanvang, gee die sersant die drie verskrikte seuns toestemming om te gaan. Hy sit sy sakboekie en pen weg. Hy gaan nie ’n klag teen Trompie, Rooie en Blikkies aanhangig maak nie.

Die drie seuns maak vinnig spore – en ou Langoor ook! Dit lyk asof hy van hulle hou – of miskien is hulle die enigste bekende gesigte tussen al hierdie vreemde mense. Die dier stap gedwee agter die seuns aan.

By die dam trek Trompie-hulle vinnig aan. Die donkie begin weer rustig wei.

“Ek’s skrikkerig om Dawie se klere vir hom te vat,” sê Trompie. “Doen jy dit, Rooie.”

“Orraait,” sê Rooie, “maar ek is ook bang vir sy ma. Ek sal die goed sommer by sy kamervenster ingooi en dan padgee.”

“Ook maar goed ons het eers ons broeke aangetrek voor ons die donkie bygedam het, anders sou dit vir jou ’n affêre gewees het, hoor!” sê Blikkies wat nou weer rustig aan ’n grashalmpie kou.

“Dan sou Dawie se ma nóú nog flou gewees het,” brom Trompie.

Rooie en Blikkies dink hieroor na en verseker hom dat Dawie se ma nie net vir ’n uur nie, maar minstens twee volle ure lank flou sou gewees het as haar seun kaal was. Trompie meen dit is darem te lank. Dan kom die drie ooreen dat Dawie se ma vir ’n uur en ’n half buite weste sou gewees het.

Dawie se lot is nou verseël. Hy gaan vir die eerste kwartaal koshuis toe. Dis verseker.

“En ons het nie eers iets verkeerds gedoen nie,” mompel Trompie terwyl hy na ’n graspol skop.

“Dawie gaan môre pimpel en pers wees,” meen Rooie.

“Hoekom het die donkie so uit die bloute sulke streke begin uithaal?” wonder Blikkies terwyl hy sy grashalmpie lui van die een kies na die ander versit.

Almal dink hieroor na en dan sê Trompie uiteindelik asof hy alles van sulke dinge af weet: “Ja-nee, ouens, ek het julle mos gesê – ’n donkie is ’n wonderlike ding.”

Trompie Omnibus 3

Подняться наверх