Читать книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith - Страница 12

4

Оглавление

Trompie die kragman

Vroeg die volgende oggend is Trompie op die been. Hy kyk weer na die foto van Zarko – die sterkste man op aarde. Hy doen dan ’n paar oefeninge voor die spieël. As hy ook so sterk wil wees en sulke ysterspiere wil hê, moet hy nie nou tyd mors nie. Hy moet gereeld oefen sodat hy klaar fiks is teen die tyd dat hy Zarko se spesiale raad kry. Dan sal hy alles doen wat die kragman sê en binne ’n paar weke ’n tweede Zarko wees.

Trompie sit by die tafel in die sitkamer en vul die vorm sorgvuldig in. Dan stap hy na Anna se slaapkamer toe. Sy behoort mos al wakker te wees.

Hy klop aan die deur.

“Kom binne,” sê Anna.

Sy is nog in die bed.

“Jy slaap laat,” sê Trompie.

“Dis jy wat so vroeg op is.”

“Nee, dis jy wat so laat slaap.”

“Is nie!”

“Is!”

Die broer en suster stry soos gewoonlik weer.

Skielik bedink Trompie hom. Hy wil mos hê sy moet vir hom twee seëls en twee koeverte gee.

“Ek is nie hier om te stry nie,” sê Trompie.

“Nou waarom dan? Ek sê sommer nou al vir jou – ek het nie geld nie.”

“Ek kom nie geld vra nie.”

Anna wonder wat Trompie wil hê. Die enigste tyd wanneer hy ooit na haar kamer toe kom, is as hy desperaat geld soek.

“Onthou jy hoe het ek jou gisteraand met jou Engels gehelp?”

“Jy’t my nie gehelp nie. Ek het maar net ’n klein foutjie gemaak omdat ek oorhaastig was.”

“Ek het jou nog steeds ’n guns bewys, want nou sal jy nie meer dink jy praat en skryf so wonderlik Engels nie. Nou sal jy elke keer eers twee keer dink.”

“Wat daarvan?”

“Wel, nou moet jy vir my ook ’n guns doen.”

“Watse guns?”

Anna sit regop en kyk haar broer agterdogtig aan.

“Dis sommer net iets kleins …”

“Wat?”

“Twee seëls en twee koeverte. Dis al wat jy vir my moet gee omdat ek jou so met jou Engels gehelp het!”

Anna lag. Dit is darem nie te erg nie. Sy kry haar skryfblok van die tafeltjie langs haar bed en gee vir Trompie die seëls en koeverte.

“Waarvoor wil jy dit hê? Om vir meisies te skryf?”

“Moenie simpel wees nie. Ek sukkel nie met sulke nonsens nie,” sê Trompie nors. “Maar gee my so twee of drie weke – dan sal jy sien hoekom ek die seëls en koeverte nodig gehad het …”

“Hoe sal ek dit sien?”

“Jy sal sien hoe ek verander het.”

“Verander het?” vra Anna nuuskierig.

“Ja,” sê Trompie geesdriftig. “Ken jy vir Zarko?”

Anna skud haar kop.

“Wel, ek gaan binne ’n paar weke nes hy lyk,” sê Trompie. “Jy kan maar sê ek gaan dan Zarko die tweede wees – die klein Zarko.”

“En hoe lyk Zarko?” wil Anna weet.

“Hy’s die ene spiere – ysterspiere,” verseker Trompie haar. “En dis hoe ek ook gaan lyk.”

Hy is vinnig weer by die kamer uit. Hy het nie nou tyd om met sy suster te staan en ginnegaap nie. Hy moet gou maak. Hy wil die vorm vir Zarko op pad skool toe pos.

Die kragman se adres is in Johannesburg en Trompie dink hy behoort binne ’n dag of twee al ’n antwoord te kry. Hy wonder hoe lank dit gaan neem – ná hy alles begin doen het wat Zarko vir hom sê – voor hy ook so gespierd soos die sterkste man op aarde sal wees.

Trompie besluit dit sal seker ’n taamlike tydjie vat, maar ná veertien dae behoort hy darem al genoeg spiere te hê dat die ander kinders dit sal agterkom en hom begin bewonder!

By die skool vertel hy opgewonde vir Dawie, Blikkies en Rooie van Zarko. Hy noem die kragman nou al sy “goeie vriend”.

Wanneer Trompie klaar is, sê Dawie: “Dink jy rêrig daai kastig wonderlike Zarko gaan vir jou al sy geheime vertel en jou so sterk maak – verniet?”

“Ek wag heeltyd vir daardie vraag,” antwoord Trompie laggend, “maar ek sê jou – dis alles verniet …”

“Nou hoekom sal hy dit verniet doen?” wil Dawie weet.

Trompie dink hieroor na en dan sê hy: “Want hy’s ’n ou wat daarvan hou om ander ouens te help. Hy wil hê almal moet gesond en sterk wees en …”

“Jy praat nonsens!” val Dawie Trompie in die rede. “Ek sê jou nou, dit gaan jou kós! Jy gaan deur jou nek daarvoor betaal!”

“So? Dis wat jy dink, nè!” snou Trompie hom toe, en dan speel hy sy troefkaart: “As jy so slim is, sê dan vir my – wat beteken die woord ‘gratis’?”

“Dit beteken verniet,” antwoord Dawie dadelik.

“Die woordeboek sê ‘kosteloos’,” kap Trompie vinnig terug, want hy het dit opgesoek. “En ‘kosteloos’ beteken ‘sonder koste’. Jy betaal nie ’n sent nie. En die woord ‘gratis’ staan oral op die advertensie. Alles is gratis. So wat sê jy nou, slim meneertjie?”

Dawie hou nog steeds vol dat Trompie sal moet betaal. Blikkies maak ’n einde aan die argument toe hy met ’n grinnik sê: “Hoekom wag julle nie tot daai Zarko antwoord nie? Dan sal julle mos weet of hy geld wil hê, of nie.”

Dié oggend konsentreer Trompie minder as gewoonlik in die klas. Hy sit en droom. Hy dink aan Zarko. Hy wens hy het lankal die advertensie gesien, want dan het hy mos nou al Zarko se geheime geken.

Toe die onderwyser vir ’n oomblik by die klas uitgaan, lig Trompie sy regterhand op, buig sy elmboog en bal sy vuis. Hy voel aan sy boarmspier. Daar is nie veel om te voel nie. Net ’n knoppie.

“Voel, Rooie!” sê hy trots vir sy maat langs hom. Rooie voel. Hy is nie juis beïndruk nie.

“Wag maar,” sê Trompie, “oor twee weke gaan ek jou weer laat voel. Dan sal jy ’n ander ding sien!”

Trompie doen die oggend nie veel in die klas nie, maar hy kry dit nogtans reg om uit die moeilikheid te bly.

Met pouse sit die Boksombende langs die skool en toebroodjies eet.

Trompie het hulle vertel dat hulle nie meer Katrien se geld hoef terug te gee nie – en ook van sy groot opoffering: dat hy haar na die Sondagskoolpiekniek toe gaan neem. Hulle het belowe om hom daar by te staan. Die seuns hou nogal van Katrien. Sy is nie so aansitterig en snobisties soos Lucille nie.

Dawie sê skielik: “Jissie ouens, ek is nou deksels lus vir lekkers.”

“Ek ook,” mompel Trompie, “maar waar kry ons dit nou vandaan? Nommer een: ons het nie geld nie. En nommer twee: ons mag nie kafee toe gaan nie.”

Die skoolreëls verbied leerders om in skooltyd by die kafee op die hoek te gaan lekkers koop. Maar as die nood regtig druk, mag hulle wel by wyse van uitsondering ’n oefeningboek daar gaan koop.

“Ek het paar rand wat ek vanmiddag op kougom wou uitgee,” sê Blikkies, “maar ek sal suigstokkies daarvan koop as ons toestemming kan kry om kafee toe te gaan.”

Suigstokkies. Dis presies waarvoor die seuns nou lus is!

“Bedoel jy dit rêrig?” vra Trompie vir sy vriend.

“Ja,” sê Blikkies aarselend.

Hy het die ruimhartige aanbod gemaak omdat hy geweet het daar kan niks van kom nie. Nou voel hy egter onrustig. Hy hou nie van die manier waarop Trompie so ernstig sit en dink nie.

“Gee die geld hier,” sê Trompie skielik. Blikkies oorhandig dit met ’n sug.

“Hoe gaan jy toestemming kry?” vra Dawie vir Trompie.

“Ek gaan Ou Bles reguit vra.”

“Onthou, jy gee my geld terug as hy nee sê,” waarsku Blikkies.

Die onderwyser – die kinders noem hom Ou Bles omdat sy hare begin yl raak – staan naby die skoolhek. Hy is op pousediens.

Trompie stap manhaftig na hom toe. Hy hou die geld styf in sy hand vas. Dawie, Rooie en Blikkies loop ’n paar tree agter hom.

“Meneer,” vra Trompie toe hy by die onderwyser kom, “mag ek en my vriende asseblief gou kafee toe gaan?”

“Goed,” sê die onderwyser vriendelik, “maar jy weet natuurlik ek kan net vir jou toestemming gee as jy ’n oefeningboek gaan koop.”

Trompie sluk en dan stamel hy: “Ja, Meneer, ek … ek … weet.”

Die Boksombende stap vinnig weg. Trompie meen hy het nie summier ’n leuen vertel nie. Ou Bles het hom mos nie reguit gevra wat hy gaan koop nie.

Wanneer hulle by die hek uitstap, hoor hulle die onderwyser se stem: “Trompie!”

“Ja, meneer?” Trompie kyk om na Ou Bles. Daar is ’n glimlag om die onderwyser se mondhoeke toe hy sê: “Kom wys my die oefeningboek wat jy gekoop het wanneer julle terugkom!”

Trompie se hart sak in sy skoene.

“Ja, Meneer,” sê hy sag. Wat anders kan hy sê?

Die vier seuns stap mismoedig kafee toe. Blikkies is omgekrap. Hy wil sy geld terughê. Hy het dit vir lekkers aangebied – nie vir ’n oefeningboek nie! Wie wil nou ’n oefeningboek hê?

Trompie verduidelik dat hulle nou moet deurdruk. As hy sonder ’n oefeningboek by Ou Bles aankom, gaan hy detensie kry. Dis nou maar wors.

In die kafee kyk die seuns met verlangende oë na die suigstokkies. Trompie sug en dan koop hy ’n oefeningboek.

“Onthou net,” sê Blikkies kwaai, “jy skuld my nou daai geld.”

“Nie as ek dié boek vir jou gee nie.” Trompie druk die oefeningboek onder Blikkies se neus in. “Dis joune. Ek gaan dit net vir Ou Bles wys, dan gee ek dit vir jou …”

“Maar ek wil nie die simpel boek hê nie. Ek wil my geld hê. Ek wil vanmiddag kougom koop.”

Met ’n sug sê Trompie: “Blikkies?”

“Ja?” Sy maat kyk hom agterdogtig aan.

“Sê net vir my een ding: kan ’n mens bloed uit ’n klip tap?”

Ná ’n paar sekondes sê Blikkies: “Nee, seker nie.”

“Nou ja, moet dan nie so onredelik wees nie. Jy weet mos ek het niks geld nie. En buitendien, dis ’n mooi boek hierdie. ’n Nuttige boek. Dink net hoe lekker gaan jy hierin skryf …”

Blikkies besluit om nie verder te stry nie. Dis waar, ’n mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie. Hy sal maar tevrede moet wees met die oefeningboek – iets wat hy glad nie nodig het nie. Nou moet hy vanmiddag weer grashalmpies kou!

Toe die seuns by die skoolterrein inkom, stap Trompie dadelik na die onderwyser toe. Sy maats drentel ’n paar tree agter hom aan.

“Hier’s die boek, Meneer,” sê Trompie en wys dit.

“Dis goed,” sê die onderwyser met ’n glimlag, “nou kan jy lekker daarin skryf.” Daar is ’n ondeunde vonkeling in die man se oë. Trompie vermoed Ou Bles het geweet hulle wou gaan lekkers koop.

Ná skool ry Trompie die middag vinnig huis toe. Hy het Zarko se vorm vanoggend eers gepos, maar mens weet nooit – miskien is daar al ’n antwoord. Die poskantoor maak soms vinnig met sulke goed! En hulle sal mos weet dis ’n haastige besigheid, want Trompie het Dringend! Opskud! in vet letters op die koevert geskryf.

“Is daar pos vir my, Ma?” vra Trompie toe hy by die huis ingewaai kom.

Mevrou Toerien kyk hom verbaas aan.

“Pos vir jou? Wie sal vir jou skryf? Jy kry mos nooit briewe nie.”

“Dis ’n besigheidsbrief, Ma. Groot besigheid.” Trompie probeer geheimsinnig lyk. “Dit sal seker môre hier wees.”

Drie dae later is dit uiteindelik daar! Toe Trompie weer van die skool af kom en skree: “Het my brief gekom, Ma?” antwoord sy laggend: “Ja, maar kom eet eers.”

“Ek is nie honger nie, Ma. Ek sal later eet.”

Trompie gryp die brief en hardloop dadelik kamer toe. Hy gaan sit op die bed. Hy bewe van opgewondenheid. Versigtig skeur hy die koevert oop. Hy wil nie die brief – die baie belangrike dokument waarin die wonderlike Zarko vir hom sê wat hy moet doen om ’n kragman te word – beskadig nie.

Daar is ’n lang, getikte brief en ’n pamflet in die koevert. Trompie begin die brief lees:

Beste meneer Trompie Toerien

Hartlik geluk met u wyse besluit! U is op die regte pad. U besef die waarde van ’n gesonde liggaam en gees …

Trompie voel ’n gloed van tevredenheid. Hy lees die brief sorgvuldig deur.

Zarko wens hom geluk dat hy so slim is om te besef daar is net een man wat hom sterk en gesond kan maak en dit is Zarko die Grote. Trompie voel gevlei, maar hy verstaan net nie hoekom Zarko hom gesond ook wil maak nie. Hy is mos nie siek nie!

Die kragman sê dit is sy vurigste begeerte dat Trompie een van sy studente moet word. Hy wil graag hê Trompie moet ook een van die duisende gelukkige Zarko-volgelinge wees.

Trompie se hart swel van trots wanneer hy lees dat Zarko glo hy gaan een van sy fluksste en beste studente wees. Zarko sê hy het dit sommer dadelik aangevoel toe hy Trompie se vorm kry. Hy gaan nog baie trots op Trompie wees!

Zarko verseker Trompie dat hy nie net sy leermeester wil wees nie, maar ook sy raadgewer en vriend. Hy – Zarko die Grote – beskou dit as ’n besondere eer om Trompie Toerien as vriend te hê!

Trompie is in die wolke oor hierdie wonderlike brief. Sy maats gaan baie jaloers op hom wees!

Hy lees verder. Zarko vertel hom nou van die duisende manne wat kragreuse geword het, wat van ongeneeslike siektes genees is, wat vandag vol lewenslus en vreugde is en die wêreld as ’n speelbal beskou nadat hulle eers so swaar onder sy laste en sorge gebuk gegaan het.

Dit is alles vir Trompie baie mooi en interessant, maar wanneer hy die laaste deel van die brief lees, sak sy hart in sy skoene.

In die laaste paragraaf deel Zarko sy vriend, Trompie Toerien, mee dat as hy een van sy gelukkige studente wil word, en as hy sterk en gesond en ’n kragman wil wees, hy net ’n klein bedraggie moet betaal. Dis nie baie in ruil vir al Zarko se geheime oor hoe om ’n spierdier te word nie. Sodra Trompie daardie bedrag betaal het, sal hy deel in al die voorregte wat Zarko se leerlinge geniet.

In sy naskrif verseker Zarko Trompie weer eens dat hy wat Zarko is, sy ewige en getroue vriend en raadgewer sal wees, maar natuurlik eers nádat hy die skamele ou bedraggie ontvang het. Om te bewys dat hy dink Trompie gaan een van sy puikste studente word en dat hy nog baie trots op hierdie Trompie Toerien van Kwaggaberg gaan wees, bied die kragman hom selfs ’n baie spesiale afslag op hierdie fooi aan. Wat dink Trompie van hierdie goedgunstige aanbod?

Zarko sluit af met die hoop dat hy binne enkele dae van Trompie sal hoor. Hy waarsku Trompie ook dat daar duisende mans is wat regstaan om studente van die beroemde Zarko te word. Trompie moenie tyd verkwis nie. Hy moet dadelik terugskryf en sy “tjekkie” pos.

Trompie staar mismoedig voor hom uit. Dit gaan nog jare wees voor hy ’n tjekboek sal hê en so ’n ontsaglike klomp geld sal kan betaal om ’n kragreus te word. Dit lyk vir hom Zarko dink hy is ’n groot man en nie ’n graadnegetjie nie.

Die Boksombende se Grootkaptein besluit hy sal maar sonder die beroemde Zarko se raad en vriendskap moet klaarkom. Sy vyande sal voorlopig nie bleek word as hulle hom in die straat sien afloop nie en die mense – veral die meisies – sal hom nie met bewondering aanstaar nie. Hy sal maar net eenvoudig van al hierdie dinge moet vergeet. Hy kan dit nie bekostig nie. Soos sy ma sê: “’n Mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie.”

Trompie kyk na die pamflet wat ook in die koevert was. Daar is ’n foto van ’n ding wat ’n mens glo geweldig breë skouers en gespierde arms sal gee as jy dit gebruik. Dit lyk soos ’n stywe rekband met ’n handvatsel aan elke kant.

Hy lees die instruksies sorgvuldig. Soos hy dit verstaan, kan ’n mens enige soort oefeninge met hierdie ding doen. Jy hou ’n handvatsel in elke hand vas en kyk dan hoe ver jy jou hande van mekaar af kan wegtrek. Jy kan hierdie oefening voor jou borskas doen, agter jou kop en voor jou voete. Jy kan allerhande verskillende goed met die rekband aanvang en dan kry jy op die ou end breë skouers en gespierde arms.

In die pamflet sê Zarko hy het sy wonderlike gesonde liggaam en spierkrag net aan hierdie rekband te danke. Hy noem dit ’n Bonzo en beveel die rekband vir almal aan. As dit nie vir hierdie Bonzo was nie, sou hy, Zarko die Grote, vandag nog steeds tengerig en sieklik gewees het. Zarko erken ruiterlik dat sy kursus nie veel sal help as ’n mens nie ook jou eie Bonzo aanskaf nie.

Trompie kyk weer na die foto van die rekband. Die Bonzo kos ’n hele paar rand, maar is baie goedkoper as Zarko se kursus. Trompie meen hierdie ding gaan genoeg wees om hom sterk en gespierd te maak. Dan het hy mos nie Zarko se duur raad en vriendskap nodig nie.

Hy voel skielik weer optimisties. Hy het weer hoop dat sy vyande tóg sal bleek word as hulle hom sien en dat die mense – veral die meisies – hom een van die dae met bewondering gaan aankyk.

Dit behoort nie té onmoontlik te wees om geld vir die Bonzo in die hande te kry nie. Hy sal wel ’n plan kan maak.

Dié aand maak Trompie al sy eerste paar rand. Dit is die maklikste geld wat hy nog ooit verdien het. Hy kry dit deur net eenvoudig te sit.

Die ding kom só. Trompie sit in sy kamer en huiswerk doen. Sy ouers kuier by die bure. Sy suster, Anna, en haar kêrel, Jan van Dyk, is in die sitkamer.

“Hulle sit seker en handjies vashou,” brom Trompie by homself, “plaas dat Anna liewer vir my wat so hard werk, gaan tee maak.”

Dan begin dink hy weer aan moontlike planne om geld te maak. Skielik kry hy ’n idee. Hy knipoog vir homself in die spieël. Hy is sowaar ’n beeld van ’n man – en slim daarby.

Buite reën dit hard. Die twee verliefdes sal nie op die stoep kan gaan sit as hy hulle geselskap opsoek nie. Hulle sal daar in die sitkamer by hom moet bly sit en hulle sal nie voor hom wil handjies vashou nie. So hulle sal met hom moet onderhandel. Trompie knipoog weer vir homself in die spieël. Dit gaan maklik wees.

Hy staan op en stap in die gang af sitkamer toe. Hy hoes toe hy naby kom. Hy hoor die rusbank se vere kraak soos wat die twee vinnig wegskuif sodat hulle darem nie te naby aan mekaar sit nie. So ja, hy was ordentlik genoeg om hulle te waarsku.

Trompie stap by die vertrek in en gaan sit op ’n stoel voor die rusbank.

“Naand, Jan,” sê hy sedig. Hy glimlag glad nie.

“Naand, Trompie,” sê Jan met ’n sug.

“Hallo, sus,” sê hy vir sy suster.

“Ja, hallo.” Sy klink sommer baie vies.

Die drie sit. Dit is stil in die sitkamer. Jan van Dyk kyk na sy hande. Die punte van sy vingers rus teen mekaar en sy duime draai om en om mekaar. Wanneer hy moeg word om sy duime in die een rigting te draai, doen hy dit in die teenoorgestelde rigting.

Anna byt op haar lip. Sy kyk stip na die blompatrone op die mat. Dit lyk amper of sy die blomme tel. Trompie sit sommer net. Hy hoef nie te dink nie. Een van die twee op die rusbank sal wel eerste begin besigheid gesels. Al wat hy moet doen, is om stil te sit en wag.

Niemand praat nie. Die stilte is amper ondraaglik. Uiteindelik sê Anna: “Trompie?”

“Ja, sus?” glimlag hy vriendelik. Dis tyd om te onderhandel.

“Het jy nie huiswerk of iets om te doen nie?”

“Man, ja, sus, ek het nogal.” Dis al wat Trompie sê. Hy het besluit hy sal meer uitrig as hy so min moontlik praat. Hy moet net so hier voor hulle sit en na hulle kyk.

“Nou hoekom gaan doen jy dan nie jou huiswerk nie?”

“Ek sal nog.”

“Wanneer?”

“So oor ’n uur of twee,” sê Trompie en voeg dan droogweg by: “Ek rus nou eers bietjie.”

’n Uur of twee! Jan kyk mismoedig na Anna. Anna kyk mismoedig na Jan. Trompie sit sedig voor hulle en kyk hulle ernstig aan.

Jan kug.

Trompie sê effens te vinnig: “Ja, Jan?”

“Ja, wat?”

“Nee, niks. Ek dag jy wou iets sê.”

“Nee, ek wou nie.”

“Ekskuus,” sê Trompie. As Jan nie nou iets wil sê nie, sal hy wel later wil – daarvan is hy oortuig. Hy wonder hoeveel die omkoopgeld gaan wees.

Dit is weer stil in die sitkamer.

Dan kug Jan weer. Trompie sê dié keer niks nie. Sy wenkbroue word net vraagtekens.

“Trompie?’

“Ja, Jan?”

“Hoekom gaan rus jy nie liewer in jou kamer nie?”

“Man, Jan, die ding staan só: Al my skoolboeke lê daar rond en as ek die goed sien, word ek sommer naar.” Dan voeg Trompie ewe onskuldig by: “Maar as ek nou dalk iets anders het om aan te dink terwyl ek daar rus …”

“Soos wat?” vra Jan en Anna gelyktydig.

“Soos al die lekker lekkers wat ek môre vir my kan koop.”

Trompie kyk aandagtig na sy ingeduikte skoenpunt. Hy loer onderlangs vir die vryers en sien hoe Anna haar kop vir Jan knik. Om sy aanval verder te versterk, sê Trompie met ’n swaar sug: “Maar ek het niks geld nie, so dit help nie ek dink aan lekkers koop nie – so ek rus nou maar hier by julle vir so ’n uur of twee, julle weet.”

“Dink jy ’n paar rand sal jou help om in jou kamer te gaan rus?” vra Jan glimlaggend. “Dan kan jy mos dink aan watse lekkers jy môre daarmee gaan koop.”

Trompie se hart bons. ’n Paar rand! Dis meer as wat hy verwag het!

“Met ’n paar rand in my sak,” sê Trompie vinnig, “sal ek so hard dink aan watse lekkers ek môre gaan koop dat ek die spul skoolwerk in my kamer nie eens sal raaksien nie. Ek sal so diep dink dat ek vanaand nie weer ’n voet uit my kamer sal sit nie.”

“Nou hierso.” Jan gee vir Trompie ’n paar munte. “Gaan rus in jou kamer en dink aan die lekkers wat jy daarmee gaan koop.”

Trompie vat die geld vinnig. ’n Mens weet nooit – netnou maak sy suster beswaar. Dit lyk darem gelukkig nie so nie. Hierdie transaksie dra haar goedkeuring weg.

“Man, Jan, baie dankie,” sê Trompie en voeg dan ewe vroom by: “Maar jy moenie vir my geld gee nie. My ouers sal sê ek moet dit nie vat nie …”

“Hulle hoef nie hiervan te weet nie.”

“Dankie, Jan.” Trompie maak hom haastig uit die voete.

Toe hy in die gang na sy kamer toe stap, hoor hy die rusbank se vere kraak soos wat die twee verliefdes weer nader aan mekaar skuif.

In sy kamer sit Trompie die geld in ’n blikkie wat hy versigtig agter in sy kas bêre langs ’n konfytbottel waarin daar ’n dooie platanna is.

Trompie kyk weer na die foto van die Bonzo-rekband. Dan gaan staan hy voor die spieël en strek sy hande voor hom uit. Sy vuiste is styf gebal soos wat hy ’n denkbeeldige handvatsel in elkeen vashou. Hy trek sy hande stadig van mekaar af weg. Sy gesig is verwronge. Hy kreun en steun, want die weerstand wat die rekband tussen die twee handvatsels bied, is iets ysliks. Hy loer kort-kort na homself in die spieël. Hy wil mos sien hoe hy lyk wanneer hy so ’n kragtoertjie uithaal.

Hy lag en gaan sit op sy bed. Hy wonder of hy die Bonzo só ver sal kan uitrek. Hy meen so. Hy is mos sterk.

Maar hy kort nog baie geld voor hy die Bonzo kan bekostig.

Trompie werk dit vinnig in sy kop uit: wat is ’n Bonzo se prys, minus die geld wat Jan nou net vir hom gegee het, plus die posgeld vir die pakkie? Die som raak te ingewikkeld en hy gryp ’n potlood en papier om dit uit te werk.

Hy het nog steeds ’n hele klomp geld nodig. Waar op aarde gaan hy dit vandaan kry? Trompie sit fronsend en dink.

Dan straal sy hele sproetgesig skielik! Hy het ’n skitterende plan en dit gaan werk!

Trompie kyk weer na die Bonzo op die foto. Een van die dae gaan hy ook een hê – en dan sal jy vir jou ’n ding sien! Al die ander seuns gaan hom beny. Hy sien al hoe hy elke dag sterker en sterker word en meer spiere kry, totdat hy uiteindelik soos ’n tweede Zarko lyk!

Trompie Omnibus 3

Подняться наверх