Читать книгу Trompie Omnibus 4 - Topsy Smith - Страница 10
3
Оглавление’n Moeilike tydjie
Die volgende paar dae kry die Boksombende maar swaar. Dis beslis vir hulle net so ’n moeilike tydjie soos wat Rooie voorspel het.
Dawie verseker Trompie, Rooie en Blikkies dat dit vir hom ’n baie moeiliker tydjie as vir hulle is, want Mop, Bop en Pop bly in dieselfde huis as hy!
Die Darlingse meisies is drie terggeeste en Trompie-hulle kan nie wag vir die dag dat hulle weer terug Kaap toe gaan nie.
Afgesien van grappe maak, is Mop, Bop en Pop ook besonder goed in sport. Trompie, Rooie en Blikkies is hoog in hul noppies toe Pop vir Dawie uitdaag om teen haar tennis te speel. Trompie-hulle weet nie veel van tennis af nie, maar hulle praat Dawie moed in en gee vir hom allerhande wenke terwyl hulle tennisbane toe stap. Hulle wil hê hul vriend moet die meisiekind ’n goeie pak slae gee. Die drieling is gans te vol van hulself.
By die baan gee Pop Dawie net een kyk en sê dan vir Mop en Bop: “Dis konfyt.”
En vir Pop ís dit ook. Sy moker die bal keer op keer na waar Dawie nie is of glad nie kan bykom nie. Pop wen maklik.
Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie loop teleurgesteld by die tennisbane weg met Mop, Bop en Pop ’n paar tree agter hulle.
Die seuns is vies omdat hulle so grootgepraat het van hoe maklik Dawie vir Pop sou klop. Hulle hoor hoe die meisies lag en die een ná die ander “eina” sê.
Nog ’n vernedering wat die Boksombende moet sluk, is toe Dawie se ouers die klomp kinders vir ’n dag na ’n plaas in die distrik toe neem.
Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie geniet die oggend op hul eie en steur hulle nie veel aan Mop, Bop en Pop nie.
Maar die middag laat die drieling die seuns nie wegkom nie. Die moeilikheid begin toe hulle na ’n hoë boom staan en kyk en Mop sê: “Sjoe, dié boem is hoeg.”
Trompie sê vies: “Jy bedoel seker die boom is hoog.”
“Dis mos wat ek gesê het – die boem is hoeg.”
Trompie trek sy skouers moedeloos op.
Die drie meisies fluister onder mekaar. Dan giggel hulle en sê drie keer “eina” en kyk met hul laggende blou oë na die seuns.
Mop stel voor hulle moet kyk wie die hoogste in die boom kan opklim – ’n seun of ’n meisie. Die meisies kies wie namens die seuns moet klim en die seuns kies watter meisie die drieling moet verteenwoordig.
Trompie-hulle grinnik tevrede. Nou sal hulle hierdie meisies wat so grootpraat op hul plek sit!
Maar die seuns is bekommerd toe die meisies ná baie gefluister en gegiggel vir Blikkies kies. Hulle neem aan omdat Blikkies altyd so lui is en nie veel praat nie, kan hy ook nie goed boomklim nie. En hulle is reg! Blikkies word duiselig as hy hoog in die lug is.
Trompie-hulle het nie veel beraadslaag nie en kies Bop om die meisies te verteenwoordig. Dit is vir die seuns maar om’t ewe – hulle kon enigeen van die drie gekies het. Hulle weet mos nie hoe goed die drieling met boomklim is nie.
Blikkies klim eerste. Hy doen sy bes. Hy haal selfs by die eerste dwarstak die kougom uit sy mond en druk dit op die tak vas. Hy sal dit weer kry wanneer hy afkom. Hy kan nie kou en klim nie. Hy moet nou op die klimmery konsentreer.
Blikkies klim hoër op as wat hy nog ooit in ’n boom was. Trompie, Rooie en Dawie skree vir hom om nog ’n entjie hoër te gaan, maar Blikkies begin naar voel. Hy breek ’n takkie af om te wys tot waar hy gekom het en klouter dan vinnig af.
Die seuns is heel tevrede. Blikkies het hoog geklim.
Mop, Bop, en Pop kyk na die boom en na die takkie wat Blikkies afgebreek het.
Bop sê laggend: “Dis konfyt” en begin klim. Die seuns is verstom oor hoe vinnig sy is. Dit neem Bop nie lank om verby Blikkies se merk te klim nie.
“Tevrrrede?” skree sy na onder toe sy bo in die top van die boom sit.
Trompie en sy vriende kyk mismoedig vir mekaar. Bop het maklik gewen. Hulle stap ’n entjie weg sodat hulle nie die meisies se koggelende “eina”-roepery hoef te hoor nie.
Maar dit is nog nie die einde van hierdie middag van vernedering vir die Boksombende nie!
Die baas van die plaas saal vier perde vir die kinders op. Mop, Bop en Pop spring elkeen rats op ’n perd.
Trompie en sy vriende kyk half agterdogtig na die vierde perd.
“Een van julle, sprrring op,” sê Mop. “Dis konfyt. Laat ons rrresies jaag.”
Die seuns is nou al lelik skrikkerig wanneer een van die meisies sê iets is konfyt.
Uiteindelik spring Rooie op. Hy het al voorheen perdgery. Hy dink hy weet hoe om dit te doen.
Die drieling en Rooie ry op ’n stywe galop omtrent so ’n kilometer weg. Dan swaai hulle die perde om en maak gereed om resies te jaag. Die meisies skree saam: “Sa!” en die vier begin jaag om te sien wie eerste by Trompie-hulle gaan wees.
Rooie sit soos ’n rooihuid op sy perd. Sy arms en skurwe voete swaai wild. Hy skreeu asof hy op pad oorlog toe is en lê plat oor sy perd se nek en pomp hom aanhoudend in die lieste – maar dit help alles niks nie.
Mop is eerste, Pop tweede en Bop derde. Rooie kom eers ’n hele paar sekondes later by sy vriende tot stilstand.
Die Boksombende gaan sit mismoedig op die gras onder ’n boom. Die drieling het besluit om nog ’n entjie met die perde rond te ry.
Trompie sug en kyk na Dawie: “Hoe lank bly daai meisiekinders nog hier?”
“Nog drie dae.” Dawie se stem is hol en moeg. Drie dae. Dit voel soos drie eeue!
Die seuns dink aan hoeveel moeilikheid hulle al gehad het vandat die drieling hier op Kwaggaberg kuier. Die meisies eet ook verskriklik. Hulle vlieg deur die geld wat Dawie se ma vir hom gee om almal mee te trakteer. Mop, Bop, en Pop eet keer op keer twee roomyse elk en die seuns kry net elkeen een.
Verder voel die seuns die hele tyd asof die Darling-drieling op ’n baie slim manier met hulle gekskeer.
Trompie het ’n reëling gemaak dat wanneer een van hulle met een van die meisies wil praat, hy net haar naam noem en dan steek sy haar hand op. Dan praat hy met haar, want dit is dan mos die regte een. Maar die seuns het so ’n idee dat die meisies hulle kul. As Trompie byvoorbeeld “Mop” sê, gaan ’n hand op en hy praat dan met Mop. Maar dan begin die meisies giggel en “eina” sê, en Trompie kan sweer hy het nie met Mop nie, maar met Bop of Pop gepraat.
Die Boksombende se Grootkaptein sit ingedagte en kyk na sy skoenpunt wat al so ingeduik is van al die klippe, blikke en graspolle wat hy gedurig loop en skop. Dawie sug mismoedig. Blikkies sit agteroor met sy hande agter sy kop gestut en kou. Net sy roerende kake wys hy slaap nie. Rooie kyk stip na sy wikkelende tone.
Mop, Bop en Pop het die perde terug stal toe gevat en kom nou laggend na Trompie-hulle toe aangestap.
“Hier kom die moeilikhede al weer,” sug Rooie.
“Julle weet,” sê Trompie nadenkend, “Adam het ons ’n lelike streep getrek. As hy nie so ontevrede was om alleen daar in die Paradys rond te hang nie, sou ons nie nou in hierdie gemors gewees het nie.”
Die meisies grynslag vir die seuns wat maak of hulle die drieling nie sien nie.
“Wat doen jy, Rooie?” vra Pop wat aandagtig na sy wikkelende tone staan en kyk.
“Ek probeer my groottoon wikkel sonder om my ander tone te beweeg,” brom Rooie.
“Ag, dis konfyt,” sê Pop en sy gaan sit op die gras. Sy trek die skoen en sokkie aan haar een voet uit. Almal hou haar aandagtig dop. Die seuns hoop tog net nie sy gaan dit regkry nie, maar Pop doen dit speel-speel. Sy beweeg haar groottoon en die ander tone staan doodstil.
Rooie se oë is groot. Hy sukkel al hoe lank om dit reg te kry! “Hoe doen jy dit?” vra hy afgehaal.
“Ag, dis konfyt,” sê Pop en trek weer haar sokkie en skoen aan. Trompie-hulle voel nou nog meer mismoedig. Dit lyk of daar niks is wat hulle beter kan doen as hierdie drieling van Darling nie.
Trompie besluit dis goed en wel dat die meisies sy drie manskappe al elkeen uitgestof het, maar hulle het hóm nog nie met iets oortref nie. Hy begin spog en vertel hoe hy nou al jare lank die Boksombende se Grootkaptein is, hoe hy eenkeer ’n klomp gevaarlike fietsdiewe gevang het, hoe baie hy al baklei het en hoe hy nog altyd net gewen het, hoe hy ’n seuntjie genaamd Jantjie Patat van ’n vlammedood gered het, hoe hy ’n roekelose bende wat die hele kontrei die skrik op die lyf geja het, in ’n spookhuis gevang het, hoe hy klaskaptein, én kaptein van die boksklub én kaptein van die beroemde Hoërskool Kwaggaberg se rugbyspan is, hoe hy altyd die meeste vrugte uit oom Stravrinos se vrugteboord gaps en hoe hy die verste kan spoeg.
Trompie loer onderlangs na die drieling om te sien watter uitwerking hierdie toespraak van dapper dade uit die verlede op hulle het. Dit lyk egter vir hom of hulle nie veel belangstel nie.
“Al daai dinge,” sê Mop verveeld, “is sommerrr konfyt.”
“Wie is jy?” vra Trompie kwaad. Hy wil weet wie hom so beledig.
“Ek’s Mop.”
“Wel Mop, is daar enige van daai dinge wat jy miskien kan doen?”
“Ja,” sê sy en kyk na haar twee susters en hulle begin lag. Trompie kners op sy tande. As hulle nou weer gaan “eina” sê, spring hy sowaar hier op en praat nooit weer met een van hulle nie!
“Wat!” sê Trompie sissend. “Wat kan jy doen?”
“Jy bedoel van al die goeterrrs waarrrmee jy kastig so wonderrrlik is?”
“Ja!”
“Spoeg.”
“Wat?”
Trompie frons en wikkel sy neus.
“Is jy ernstig?” vra hy stadig. “Jy kan spoeg?”
“Ja.”
“Verder as ek?”
“Ja.” En dan voeg sy daardie woorde by wat nou al so onheilspellend vir die Boksombende klink: “Dis konfyt.”
Die seuns spring uitgelate op en trek ’n streep op die grond. Hulle lag nou lekker. Dawie sê ’n paar keer: “Eina!” Nou gaan die meisies voel hoe dit smaak om aan die verloorkant te wees. Trompie sal wen, sommer maklik ook.
Trompie staan op die streep. Hy trek los en spoeg met ’n hoë boog. Dawie trek ’n streep op die grond.
“Hoe’s daai?” sê Trompie trots.
“Ag, dis konfyt,” sê Mop. Sy neem posisie in en dan spoeg sy. Sy wen Trompie met ’n goeie dertig sentimeter.
“Tevrrrede?” vra die meisie.
Die seuns knik net kop. Hulle moet maar tevrede wees. Soos Rooie sê: “Ek het dit met my eie oë gesien.”
Dit is vir die Boksombende die grootste vernedering nóg op hierdie dag van vernederings. Hulle wens hierdie moeilike tydjie wil nou verbygaan.
Een middag neem die seuns die drieling fliek toe. Hulle gee nogal nie om nie, want hulle wil self ook graag die prent sien en dit kos hulle natuurlik niks nie, want Dawie se ma betaal vir alles.
Dit is ’n goeie fliek. Trompie sit langs een van die meisies. Hy dink dis Mop.
Hy dink deesdae baie aan haar. Hy is vies dat sy verder as hy kan spoeg, maar hy kan darem ook nie help om haar prestasie te bewonder nie.
Wanneer die held in die fliek met liefde in sy oë na die beeldskone heldin kyk en vir haar sê hoe innig hy haar liefhet, verander Trompie se gevoel van bewondering vir Mop se spoegprestasie in ’n gevoel van innige teerheid. Dit is of hy hom vereenselwig met die held op die doek, en dis asof Mop wat so stil hier langs hom sit skielik al die beeldskone heldin se wonderlike eienskappe besit.
Trompie draai sy kop na die meisie en sê sag en teer: “Die liefde is ’n snaakse ding, maar darem ook wonderlik, nè, Mop?”
“Ja, Trrrompie,” kom die meisie se stem sag, maar dan begin sy giggel en sê: “Eina!”
“Watse ‘eina’ is dit nou weer?” brom Trompie. “Waarvoor lag jy?”
“Ek is nie Mop nie,” sê sy. “Ek is Bop. Maar ek sal vir Mop sê hoe jy oor haar voel …”
“Sê jy net iets, dan draai ek jou nek soos ’n kuiken s’n om.”
Trompie skuif so ver as moontlik van Bop af weg. Hy kyk nou weer na die fliek. Die held vertel nog steeds vir die kastige heldin hoe mal hy oor haar is. Trompie sug verveeld. Dis sommer ’n simpel fliek dié.
Ná die fliek stap die vier seuns en die drie Darling-meisies kafee toe. Hulle het nog geld oor om lekkers of roomys te koop.
Trompie loop met sy hande diep in sy broeksakke na klippe en skop. Hy loer onderlangs na die meisies. Laat Bop net vir Mop iets sê van wat hy in die fliek gesê het, dan sal jy vir jou ’n ding sien!
By die kafee is die drieling vol fiemies. Hulle wil nie lekkers of roomys hê nie, maar appels.
Die seuns protesteer – Blikkies veral, want hy wil kougom koop. Trompie-hulle praat en praat, en praat later selfs hard, maar die meisies praat net nog harder. Op die ou end gee die seuns die stryd maar gewonne. Hulle koop veertien appels met die orige geld: twee appels vir elkeen.
En toe begin die stryery weer. Mop, Bop en Pop dink omdat hulle lede van die sogenaamde skoner geslag is, behoort hulle eerste kans te kry om elkeen twee appels te kies. Die seuns kan dié wat oorbly dan tussen hulle verdeel.
Die Boksombende maak hewig beswaar hierteen.
Dan kom Trompie met ’n voorstel wat vir almal aanvaarbaar is.
“Dis ’n speletjie waarvan ek in ’n tydskrif gelees het,” verduidelik hy. “Ons gooi al die appels in ’n emmer water. Dan dryf hulle bo en ons maak beurte om elkeen ’n appel te probeer vasbyt en met ons mond uit te haal. Maar ons moet ons hande heeltyd agter ons rug hou.
“Elkeen kry twee minute en jy kan in daai tyd soveel appels moontlik uit die water haal. En as jy nie ’n appel met jou mond gevang kry nie, dan kry jy natuurlik niks nie. Verstaan julle?”
Almal knik opgewonde. Dit gaan baie pret wees. Hulle stap vinnig met die pakkie appels na Dawie se huis toe.
Daar aangekom, tap die klomp gou ’n emmer vol water en gooi die appels daarin. Hulle trek nou lootjies om te bepaal wie wanneer aan die beurt gaan kom om ’n appel te probeer beetkry.
Dit is maar net nie Trompie se gelukkige dag nie. Hy het op die ou ent ook nie meer van die fliek gehou nie en ’n vreeslike flater gemaak toe hy met Mop gepraat het oor hoe ’n wonderlike ding die liefde is terwyl dit in werklikheid Bop was – en nou trek hy sowaar ook nog die lootjie om laaste ’n appel uit die water te probeer haal. Hy hoop maar net die ander kry dit nie reg om die groot appels raak te byt nie en probeer dan die kleintjies beetkry.
Rooie is eerste aan die beurt. Hy kniel langs die emmer met die drywende appels. Hy loer op na Trompie. Die Grootkaptein kyk op sy horlosie en dan sê hy: “Val weg!”
Rooie probeer om ’n groot appel te kry, maar hy sukkel. Die appel rol en duik in die water weg wanneer Rooie hom met sy mond probeer bykom.
Die kinders lag te lekker. Toe Rooie naderhand besluit om die groot, rooi appel maar te laat staan en ’n kleintjie te probeer raakhap, is sy tyd verstreke. Sy gesig en bolyf is papnat, maar hy het nie ’n appel gekry nie.
Die kinders probeer een na die ander en die meisies vaar verreweg die beste. Dit lyk of hulle slimmer as die seuns is – of miskien nie so gulsig nie. Hulle maak seker van die kleiner appels voor hulle die groteres probeer bydam.
Mop, Bop en Pop kry elkeen drie appels. Dawie is nogal besonder behendig en hy kry twee. Blikkies se hele kop is ’n paar keer feitlik onder die water en hy slaag uiteindelik daarin om een klein, verrimpelde appeltjie vas te byt en uit te lig.
Daar is nou nog net een appel in die emmer water oor en dit is ’n yslike grote. Trompie kry uiteindelik sy beurt. Dawie het ’n horlosie en hy hou die tyd dop.
“Begin!” sê Dawie, en Trompie is die ene konsentrasie.
Hy laat sak sy kop stadig af na die wateroppervlak. Sy oë is strak op die drywende appel gevestig. Hy wil nie graag hier voor Mop papnat word nie en byt versigtig na die appel. Maar soos hy byt-byt, duik-duik die ding weg.
Trompie probeer nou om die appel met sy neus na die kant van die emmer toe aan te jaag. Hy sal die ding daar vasdruk en dan probeer vasbyt en uitlig.
Die appel is nou teen die kant vas. Trompie maak sy mond groot oop om ’n vinnige hap te gee. Sy kop is net bo die water. Skielik voel hy ’n hand op sy nek en voor hy kan wegruk, word sy kop diep onder die water ingedruk en vir ’n paar sekondes daar gehou!
Trompie kom regop. Hy vee die water uit sy oë en spoeg die mond vol wat hy ingesluk het uit.
“Wie … wie’t dit gedoen?”
Trompie staan met gebalde vuiste en gluur die ander woes aan. Die meisies skater soos hulle lag en dit is die een “eina” na die ander. Rooie, Blikkies en Dawie glimlag net. Hulle sal dit nie waag om nou hard te lag nie.
“Ek vra weer – wie het dit gedoen?” Trompie lyk tog te koddig. Die nat hare hang oor sy voorkop. Sy hemp hang agter by sy broek uit en sy kouse lê op sy skoene. Hy byt op sy lip. Hy is woedend kwaad.
“Eina!” sê Mop.
“Eina!” sê Bop.
“Eina!” sê Pop.
Trompie kyk hulle nors aan. Hy is seker dit was een van hulle wat sy kop so onverwags onder die water ingedruk het. Hy glo nie een van sy manne sou dit gewaag het nie.
“Vir die laaste keer,” sê Trompie en sy stem klink kil en koud, “wie het my kop onder die water gedruk?”
Die drie meisies kyk na hom en dan sê een: “Wat gaan jy doen as jy weet wie dit was?”
“Julle sal sien … julle sal sien.” Trompie wikkel sy neus op en af sodat hulle moet besef hoe moeilik hy nou is.
“Wel,” sê een meisie vriendelik, “ek het dit gedoen.”
“Wie … wie’s jy?” Trompie gluur haar woes aan. “Mop, Bop of Pop?”
“Ek is Mop,” sê sy en glimlag soet. “So wat gaan jy nou doen?”
Wat kan Trompie doen? Hy sê net: “Huh … huh … jy sal nog sien wat ek sal doen,” maar besef hy sal niks kan doen nie. Wat kan hy nou eintlik aan ’n meisiekind doen?
“Hierdie appel is myne,” sê Trompie en raap die laaste een op. “Ek sou hom mos gekry het as hier nie iemand onder ons was wat gedink het sy’s snaaks nie.”
Trompie het nou meer as genoeg gehad. Hierdie insident met die appels was die laaste strooi.
Hy besluit om die drieling van Darling vir die dag en ’n half wat hulle nog op Kwaggaberg kuier te vergeet en te ignoreer. Sy vriende besluit dieselfde.
Vir Trompie en Blikkies is dit nie moeilik om by hierdie besluit te hou nie. Hulle moet dit noodgedwonge doen …
Oom Henk loop hulle die volgende oggend in die straat raak. Toe hulle hom gewaar, laat spaander hulle dadelik, maar hy bulder: “Staan stil!”
Toe staan hulle maar. Dit is te gevaarlik om weg te hardloop. Hulle ken oom Henk. Hy sal hulle by hul huise kom haal.
Die oom boender vir Trompie en Blikkies by sy haarkapperswinkel in.
“Julle meneertjies speel mos hier haarkapper terwyl ek weg is! So vandag gaan julle die werk onder my toesig doen!”
Trompie en Blikkies moet heeldag werk omdat hulle Jannie se hare gesny het.
Die twee is albei bang vir oom Henk wat ’n ou sommer maklik ’n taai oorveeg kan gee. Hulle kla nie. Hulle werk!
Hulle moet die winkel aanhoudend uitvee. Dan moet hulle al die oom se botteltjies en goed afvee, en die spieëls blink vryf. Teen die tyd dat dit klaar is, lê daar al weer afgeknipte hare op die vloer en hulle begin maar weer vee.
Oom Henk sorg dat hulle besig bly, maar so af en toe kry hulle darem kans om vinnig van die strokiesprente wat daar lê te lees.
Toe Trompie eenkeer vir die oom vra of hulle hul hare mag kam en so ’n klein bietjie haarmiddel kan gebruik, gee hy sy toestemming.
Trompie en Blikkies betakel hul hare met die haarolie van die lieflike rose wat so mooi rooi is.
Die twee werk hard, maar hulle gee nie eintlik om nie. As hulle nie so gewerk het nie, sou hulle nie so gelukkig gewees het om Mop, Bop en Pop mis te loop nie. Hulle is sommer baie in hul skik toe oom Henk laat die middag vir elkeen “ ’n ietsie” vir hul dienste gee.
Blikkies koop natuurlik kougom met sy geld. Trompie koop vir hom suiglekkers en sjokolade. Hy besluit ná diepe oorweging hy sal die sjokolade vanaand op die stasie vir Mop gee. Hy dink die rede hoekom hy dit vir haar wil gee, is om vir haar te wys hoe bly hy is dat sy weggaan – maar miskien is dit nie die regte rede nie!
Dié aand op die stasie staan Dawie se ouers, Dawie, Trompie, Rooie en Blikkies by Mop, Bop en Pop op die perron. Hulle wag vir die trein.
Trompie-hulle is opgeruimd en vol grappe. Die gevreesde drieling is op pad – die seuns se moeilike tydjie is uiteindelik verby.
Een meisie staan naby Trompie en Blikkies. Sy druk haar neus toe en staan ’n entjie weg.
“Sjoe,” sê sy, “ek het nog nooit sulke slegte haarolie geruik nie!”
“Dit wys net hoe min weet jy,” snou Trompie haar toe. “Dié haarolie is gemaak van Spanje se mooiste, rooiste rooi rose!”
“Miskien – maar ek sê nog steeds dit ruik sleg. Moenie te naby my staan nie.”
“Wie dink jy wil miskien naby jou staan?” brom Trompie.
Hy wens die trein wil nou kom.
Trompie voel aan die sjokolade in sy sak. Hy wonder weer of hy dit vir Mop moet gee of dit eerder self moet eet. Hy besluit om dit maar vir Mop te gee. Sy gaan mos nou weg en hy sal haar nooit weer sien nie. Snaaks, die gedagte hieraan maak hom so half hartseer.
Hy kyk na die drie meisies. Hulle lyk presies eenders.
“Wie’s Mop?” vra hy.
Een meisie steek haar hand op.
“O,” sê Trompie, “ek wou maar net geweet het.”
Almal lag en praat. Trompie hou Mop nou noukeurig dop. Hy staan nader aan haar. Toe hy langs haar is, sê hy sag: “Dè, Mop, hier is vir jou iets.”
Sy kyk na die sjokolade in sy hand en begin giggel.
“Ek sal dit grrraag wil hê, Trrrompie,” sê sy, “maarrr ek is nie Mop nie. Ek is Bop.”
“Huh … huh,” lag Trompie verleë. “Jammer, my fout.”
Hy staan weg van haar met die sjokolade nog in sy hand. Hy voel die meisies het weer met hom die gek geskeer. Toe hy gevra het wie Mop is, het dié een haar hand opgesteek – en nou is dit Bop!
Die trein kom by die stasie ingestoom.
Trompie het weer oor die saak gedink. Hy het besluit hy gaan tog maar vir Mop die sjokolade gee en hy is nou vasberade om dit te doen.
Hy sê vinnig vir die meisie naaste aan hom: “Dè Mop, hier is vir jou iets.”
“Ek sal dit grrraag wil vat, Trrrompie,” sê sy laggend, “maarrr ek is nie Mop nie. Ek is Pop.”
“Huh, jammer, my fout.” Trompie kyk nou vasbeslote na die derde meisie. Sy móét Mop wees. Hy wil egter nie weer ’n fout maak nie en vra: “Is jy Mop?”
“Ja, Trrrompie.”
“Dè, hier is vir jou iets.”
“Baie dankie,” sê sy en begin lag, “maarrr ek het maarrr sommerrr gespeel. Ek is nie Mop nie …”
“Maak nie saak nie!” brom Trompie. “Vat net die vervlakste ding en kry klaar!” Hy stop die sjokolade in die meisie se hand.
Die drieling skater soos hulle lag.
“Hier kom dit weer,” sê Trompie sugtend, “maar dis darem seker die laaste keer!”
En toe kom dit ook weer.
“Eina!” sê Mop.
“Eina!” sê Bop.
“Eina!” sê Pop.
Die meisies klim laggend in die trein. Die eerste een sê: “Dis konfyt!” toe sy haarself aan die arms van die perron af optrek sonder om op die trappies te trap.
Die trein fluit en stoom by die stasie uit. Trompie-hulle waai vir die laggende meisies van Darling. Die laaste wat hulle nog hoor, is drie “einas” na mekaar.
“En dit,” sê Trompie met ’n sug van verligting, “is die einde van Mop, Bop en Pop.”
Die Boksombende stap opgeruimd van die stasie af weg. Die moeilike tydjie waardeur hulle is, is vergete.
“Julle weet,” sê Rooie peinsend, “ek kan nog nie verstaan waarom hulle ’n boom ’n “boem” noem en van iets wat hoog is, praat as “hoeg” nie!”
“En al die gebrrry!” sê Blikkies laggend.
“Hulle praat so omdat die mense in die Boeland – ag, ek bedoel Boland – so praat,” sê Dawie en voeg dan by: “Julle behoort dit te kan verstaan. Dis konfyt.”
Die seuns lag hard.
“Eina!” sê Trompie vrolik.
“Eina!” sê Rooie brommend.
“Eina!” sê Blikkies kouend.
“Eina!” sê Dawie grinnikend.
Die seuns se hande is nou agter die rug en hulle stamp-stamp mekaar soos hulle in die straat afloop.
Mop, Bop en Pop, die gevreesde drieling van Darling, is iets van die verlede.