Читать книгу Trompie Omnibus 4 - Topsy Smith - Страница 12
4
ОглавлениеDie Boksombende se gevangene
Die volgende twee weke baljaar Trompie en sy vriende nog meer as gewoonlik. Hulle vang selfs nog meer kattekwaad aan, indien dit moontlik is, op die dorpie Kwaggaberg aan die voet van die berge.
Trompie se ouers is vir twee weke weg Kaapstad toe. Sy pa is die bankbestuurder op Kwaggaberg en hy moet ’n konferensie bywoon. Trompie se ma is saam en hy en sy suster, Anna, bly alleen by die huis agter. Trompie steur hom nie veel aan haar nie en sy steur haar nie veel aan hom nie. Dit is ’n reëling wat albei uitstekend pas.
Anna en Trompie sit net een keer vas.
Sy en haar kêrel, Jan, gaan kuier die aand by mense. Rooie, Blikkies en Dawie kom sit in die tuin by Trompie. Hulle word naderhand honger en stap kombuis toe.
Trompie wil vir sy vriende wys hoe ’n goeie kok hy is. Hy wil vir hulle wat hy noem ’n Trompie-special maak.
Die Trompie-special word gemaak van botter, brood, koue vleis en eiers. Alles word saam in die pan gegooi, deurmekaar gewoel en gebraai.
Die botter is in die pan, ’n paar snye brood word fyn gekrummel en die koue vleis word in blokkies opgesny. Alles is, soos Trompie sê, eksie-perfeksie.
Maar toe ontdek hy daar is nie eiers in die kombuis nie.
“Kom saam met my, Rooie!” Trompie en Rooie loop haastig na die hoenderhok agter op die werf om te gaan eiers haal.
Trompie dink vir ’n oomblik daaraan dat die eiers al oud is, want hulle lê al lank daar buite in die neste, maar dan besluit hy hulle sal niks makeer nie.
In die kombuis gryp elkeen ’n eier en kap die doppe stukkend. Skielik steier almal terug. Daar is ’n aaklige swaelreuk in die vertrek.
“Die goed is vrot,” sê Dawie.
“Moenie simpel wees nie,” sê Trompie. “Dit ruik net so bietjie sleg. Dis maar al.”
Nóg eiers word oopgebreek en in die pan gegooi. Die reuk in die kombuis word al hoe erger.
Dan kry Trompie ’n dooie kuikentjie in ’n eier wat hy oopbreek en Dawie skrik só groot dat hy die bak eiers wat hy in sy hand het op die grond laat val.
Die seuns hou hul neuse toe, want die slegte reuk is nou oorweldigend. Trompie kyk na die slymerige vloer. Daar lê drie dooie kuikentjies. Selfs Trompie moet nou erken die eiers lyk of hulle vrot kan wees.
Terwyl die seuns nog so met toegedrukte neuse en gewalgde gesigte na die gemors staan en kyk, kom Anna en Jan by die kombuis in. Hulle steier albei terug en gee dadelik pad uit die kombuis. Anna roep Trompie uit gang toe.
Sy is lelik omgekrap en dring daarop aan dat die seuns die kombuis skoonmaak en selfs die vloer was. Dawie word naar en Trompie, Rooie en Blikkies moet die werk doen.
Die volgende dag is daar nog steeds ’n bedompige swaelreuk in die huis.
Anna sê sy gaan vir hul ouers vertel wat Trompie aangevang het, maar hy steur hom nie veel daaraan nie. Dis nog ’n lang tyd voor hulle terugkom en buitendien het hy mos nie eintlik iets verkeerd gedoen nie. Hy en sy vriende was maar net honger en toe wou hulle iets maak om te eet. Hy kan nie help dat die eiers vrot was nie.
Een oggend kom vra Rooie Trompie moet saam met hom winkel toe loop. Rooie moet iets vir sy ma gaan koop.
Trompie het niks om te doen nie en is maar net te bly om uit die huis te kom.
Toe die twee kêrels by die winkel instap, sien hulle ’n ander seun daar rondstaan. Sy naam is Johan Geel. Hy is van die begin van die jaar af in Hoërskool Kwaggaberg.
Johan is bleek, stil en teruggetrokke en het ná ’n hele jaar nog steeds met niemand by die skool vriende gemaak nie.
Trompie dink nou daaraan dat dié Johan seker baie arm moet wees. Hy is kaalvoet en sy klere lyk maar verwaarloos en gelap.
Toe hulle verby die maer, skraal seun stap, besluit Trompie om hom darem te groet en nie soos gewoonlik by die skool te ignoreer nie.
“Haai.”
Die seun knik met sy kop en glimlag flou.
Trompie en Rooie kyk na al die verskillende goed in die winkel terwyl hulle wag dat die klerk hulle bedien.
Johan Geel staan ’n entjie skuins agter hulle terwyl hulle ’n krieketkolf bekyk.
“Ek sal nogal nie omgee as ek dié ding kon koop nie,” sê Trompie.
“Wat wil jy daarmee maak?” vra Rooie. “Jy weet mos niks van krieket af nie.”
“Dis wat jy dink,” snou Trompie hom toe. “Ek het dit al baie gespeel.”
“Waar en wanneer?” wil Rooie weet.
“Maak nie saak nie. Ek sê jou, ek kan krieket speel en ek het dit al baie gespeel. Sê jy miskien dit is nie so nie?”
Nee, verseker Rooie vir Trompie, hy vra net omdat hy belangstel waar en wanneer Trompie krieket gespeel het.
Omdat Trompie nie kan antwoord nie, ignoreer hy Rooie se vraag.
Toe Trompie die kolf weer neersit, sien hy uit die kant van sy oog hoe Johan Geel buk en iets opraap. Dan stap hy vinnig by die winkel uit. Trompie wonder wat aangaan, maar besluit om hom nie daaraan te steur nie.
Rooie kry die goed wat sy ma wil hê en dan voel hy in sy hempsak vir die geld wat sy vir hom gegee het om mee te betaal.
Daar is ’n frons op Rooie se gesig. Die geld is nie daar nie. Hy voel in sy een broeksak en frons nou nog meer.
“Wat’s dit?” vra Trompie.
“Die geld wat my ma vir my gegee het om mee te betaal – dis weg. Ek dink ek het dit verloor.” Rooie se stem bewe effens.
“Kyk in jou ander sak.”
Rooie haal diep asem en steek sy hand in sy ander broeksak. Hy vroetel rond.
“Hoe lyk dit?” vra Trompie.
“Nee,” sê Rooie en sug swaar, “dis ook nie daar nie.”
“Probeer weer al jou sakke.” Rooie maak so, maar daar is geen teken van die geld nie.
“My ma slag my sowaar lewendig af,” sê Rooie.
“Wag ’n bietjie,” sê Trompie en hy hou ’n vuil hand op.
Rooie wag. Trompie dink diep. Sy hele sproetgesig is op ’n plooi. Hy dink aan Johan Geel wat gebuk het om iets op te raap en toe so vinnig verkas het. Hy is seker dis Rooie se geld wat Johan opgetel het!
Trompie vertel nou vinnig vir Rooie wat hy gesien het en wat hy vermoed. Rooie sê vir die winkelklerk hy sal nou-nou terug wees.
Die seuns hardloop by die winkel uit. Hulle gaan daai ellendige Johan Geel soek. Rooie sê: “Die blikskottel – hy’t my geld gesteel!”
Die twee hardloop in die hoofstraat op. Hulle kyk oral rond, maar daar is nêrens ’n teken van Johan nie.
“Waar bly hy?” vra Trompie hygend.
“Ek het eenkeer gehoor hulle bly in ’n klein huisie iewers in die heuwels,” sê Rooie.
“Kom ons gaan soontoe,” sê Trompie en hulle hardloop nou nog vinniger.
Hulle draai af in ’n systraat wat lei na die heuwels net buite die dorpie. Toe hulle om die draai kom, sien hulle Johan Geel omtrent ’n honderd meter voor hulle.
“Haai!” bulder Trompie en Rooie feitlik gelyktydig.
Die seun kyk vinnig oor sy skouer. Hy word nog bleker as gewoonlik toe hy die twee so op dolle vaart sien aankom. Hy begin nael.
Trompie is ’n kampioenatleet. Hy beweeg al hoe verder van Rooie af weg en kom al hoe nader aan die seun wat nou so verskrik weghardloop. Trompie is kort op Johan se hakke.
“Staan stil!” skree Trompie.
Johan besluit om aan te hou hardloop, maar hy maak ’n groot fout. Trompie duik met ’n boog deur die lug. Dit is ’n laagvat waarop enige Springbokvleuel trots sou wees. Johan slaan hard neer en Trompie is op hom. Hy gryp die seun aan die kraag en skud hom dat sy tande klap.
“Waar’s daai geld?” bulder Trompie.
Johan Geel kyk verskrik na Trompie. Rooie is nou by en hy pak die seun ook. Hulle pluk hom regop.
Rooie staan met gebalde vuiste en Trompie gluur die hygende seun aan. Die sweet pêrel op Johan se voorkop.
“Waar is Rooie se geld wat jy gesteel het?” Trompie se stem is kil.
Johan kyk vlugtig van die een gesig na die ander en dan sê hy: “Ek het dit nie gesteel nie. Ek het dit opgetel.”
“Maar jy’t geweet Rooie het dit verloor! En toe vat jy dit en hardloop weg. Dis steel – dís wat dit is!” sê Trompie kwaai.
“Ek was nie seker of Rooie dit verloor het, of iemand anders nie,” sê Johan sag.
Rooie besluit om nou ook sy sê te sê. Hy stel nie belang in hierdie verskonings nie. Hy moet die geld terugkry, anders trek sy ma sy vel van sy lyf af.
“Waar’s my geld?” bulder hy in Johan se gesig.
“Hier … hierso.” Die seun is so mak soos ’n lammetjie. Hy steek sy hand in sy broeksak en haal die geld uit. Hy gee dit vir Rooie.
Trompie en Rooie kyk na die verskrikte seun voor hulle.
“Wat doen ons met hom?” vra Rooie.
“Hy’s skuldig aan diefstal,” sê Trompie ernstig. “Ek dink dis ons plig as eerbare burgers van ons dorp om hom polisie toe te neem …”
“Nee, moenie. Asseblief nie,” pleit Johan en daar blink trane in sy oë. “Dit sal vir my ma en boetie verskriklik wees.”
“Jy moes daaraan gedink het toe jy die geld gevat het,” sê Trompie bars.
Die maer seun met die verwaarloosde klere sê in ’n hol, moeë stem: “Julle kan enigiets aan my doen, maar moenie my polisie toe vat nie.”
Trompie kyk aandagtig na die seun. “Kom saam met ons. Ons gaan eers met jou gesels, dan sal ons sien wat om met jou te doen. Jy besef jy moet gestraf word, nè?”
Johan Geel antwoord nie. Daar is ’n hartseer uitdrukking op sy bleek gesig. Sy onderlip bewe.
“Stap,” sê Trompie en hy pomp Johan in die ribbes, maar nie so hard soos wat hy ’n minuut of twee gelede sou gedoen het nie. Trompie kan dit nie verstaan nie, maar hy voel skielik ongemaklik. Johan is nou nie meer so ineengekrimp nie. Hy stap trots en regop. Daar is ’n veraf kyk in sy donkerbruin oë.
Rooie kyk die seun wat sy geld gevat het ook nie meer so woes aan nie. Dit lyk of daar iets is wat hom ook pla.
Johan stap voor en Trompie en Rooie volg so twee tree agter hom. Hulle gaan hom nie weer ’n kans gee om weg te hardloop nie.
By die winkel gaan Rooie gou in en betaal vir die goed. Dan vat hy die pakkie huis toe vir sy ma.
Trompie neem Johan Geel solank na die Toeriens se huis toe. Rooie sal hulle daar ontmoet.
Trompie stap effens agter sy gevangene. Hy kyk na die gelapte klere, die kaalvoete en die maer, tingerige lyf. Trompie kry Johan skielik bitter jammer, maar hy wil dit nie wys nie. Hy sê bars: “Moenie links of regs kyk nie. Kyk net voor jou en stap reguit aan.”
Johan maak soos Trompie hom beveel.
Toe hulle by die Toeriens se tuinhekkie instap, is Rooie weer by.
“Hy’t nie probeer ontsnap nie?” vra Rooie.
“Nee, hy’s te veel van ’n papbroek.”
Dawie en Blikkies sit op ’n bankie onder die skaduboom in die tuin.
“Haai,” groet die seuns mekaar.
“Ons het gewonder waar’s julle,” sê Dawie. Dan wys hy na Johan en vra: “Wat doen julle met daai maer derm?”
Rooie vertel vinnig hoe die “maer derm” sy geld probeer steel het.
“So!” sê Dawie en sy ondeunde oë vonkel. Hy doen danspassies voor Johan en slaan met sy vuiste in die lug. “So jy’s ’n dief! Wel, vandag gaan ons jou ’n les leer!”
Johan sê niks nie. Daar is nog steeds ’n vreemde, hartseer trek om sy mondhoeke.
“Bring hom in, bring hom in!” sê Dawie manhaftig en sy regtervuis trek naby Johan se kop verby. “Laat ons hom gaan vonnis!”
Die vier lede van die Boksombende en hul gevangene sit in Trompie se kamer. Johan Geel sit in die middel van die vertrek en staar strak voor hom uit.
Trompie sit op ’n stoel wat hy omgeswaai het sodat sy bolyf oor die rugkant kan leun. Hy kyk peinsend na sy ingeduikte skoenpunt.
Dawie sit op die tafel en praat aanhoudend, al luister niemand juis nie. Hy vertel hoe ’n lelike ding dit is om iemand anders se geld te steel. Hy sê as ’n ou so iets begin doen, is jy al ’n goeie ent op pad verderf toe.
Blikkies sit op die bed met sy rug teen die muur. Sy kake beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n grashalmpie kou.
Rooie sit langs Blikkies en as hy nie woes na die gevangene gluur nie, wikkel hy sy tone. Hy probeer nog steeds om sy groottoon te roer sonder dat die ander beweeg. Hy wens daardie meisie van Darling het vir hom die geheim van hierdie kuns vertel.
Net toe Trompie vir Dawie sê: “Bly nou stil, ek wil die ou bietjie ondervra,” klop sy suster aan die deur.
Anna glimlag vriendelik.
“Ek wil net sien hoeveel julle is,” sê sy, “want ek wil vir julle koeldrank bring en van die koek wat ek gebak het.”
“Dankie, Anna!” sê Trompie ingenome. “Ons is net vier. Ons tel hierdie ou nie by nie.” Hy wys na Johan.
Maar dan sien Trompie weer daardie hartseer uitdrukking op Johan se gesig en sê vinnig: “Of toemaar, bring maar vir hom ook.”
Wanneer Anna weg is – Dawie het opgespring om haar te gaan help, want hy dink mos hy is die enigste ordentlike ou met maniere – vra Blikkies: “Wat is dit met haar dat sy so vriendelik is?”
“Ek weet nie,” sê Trompie, “maar dis nou al van gister af so. Sy stap heeltyd met ’n glimlag op haar bakkies rond. Toe ek haar vra hoekom sy lyk of sy droom, het sy net geglimlag en gesê sy’t ’n groot geheim en sy gaan niks sê voor ons ouers terugkom nie.”
Trompie, Rooie en Blikkies dink nou na oor wat die geheim kan wees. Wat kan ’n meisie van een-en-twintig laat verander van iemand wat gedurig op hulle pik en hulle as ’n oorlas beskou, na iemand wat nou vir hulle koeldrank en koek aanbied?
“Ek dink ek weet wat dit is,” sê Trompie. “Sy’s verlief.”
“Op daai prokureur, Jan van Dyk?” vra Blikkies.
“Ja. Hy boer mos deesdae hier. Ek dink hulle’t besluit om verloof te raak. Dis wat dit is – dís haar groot geheim.”
Die ander twee stem saam met Trompie. Rooie sê: “Dis goed so. As hulle verloof raak, sal daar ’n partytjie wees met baie kos en koek en goeters – ons gaan ons dik eet aan alles!”
Anna en Dawie bring die koeldrank en ’n hele paar snye koek in. Trompie, Rooie en Blikkies kyk Anna goed deur. Ja-nee, dis nou maar wors: sy lyk heeltemal anders. Haar oë skitter en daar speel ’n soet glimlag om haar mondhoeke. Sy lyk beslis soos ’n verliefde kalkoen – soos iemand wat gaan verloof raak.
Elkeen gryp ’n koeldrank. Trompie gee een vir Johan Geel wat nog steeds die hele tyd moedeloos voor hom uitstaar en glad nie na hul gesprek oor Trompie se suster geluister het nie.
“Gee ook vir hom ’n stuk koek,” sê Dawie. “ ’n Ou wat gehang gaan word, kry mos altyd eers iets om te eet.”
“Dankie,” sê Johan sag toe Trompie vir hom koek gee. Hy eet dit vinnig.
Toe almal een stuk koek weggepak het, gryp hulle ’n tweede sny.
Johan kyk met verlangende oë na die orige koek op die bord.
“Kry nog,” sê Trompie. “Vat soveel soos jy wil hê.”
“Dankie,” sê Johan en hy neem nog ’n stuk. Trompie is bang die ander dink miskien hy is te saggeaard omdat hy die gevangene so bederf en sê bars: “Sodra ons klaar geëet het, neem ons jou onder kruisverhoor en reken met jou af.”
Die seuns verslind die koek. Die gevangene ook. Maar die Boksombende verslind die koek omdat dit so lekker is, terwyl Johan dit doen omdat hy honger is.
Toe hulle klaar is, vat Dawie die glase en die leë bord waarop daar nie ’n enkele krummel meer oor is nie kombuis toe.
“Wag tot ek terug is,” sê hy, “voor julle met die ou begin.”
Daar is vrees in Johan se oë wanneer hy na Trompie-hulle kyk en sien hoe woes hulle hom aangluur.
Dawie kom terug en gaan sit weer op die tafel. Trompie maak keel skoon en begin met die ondervraging.
“Het jy of het jy nie Rooie se geld gesteel nie?” Trompie se vuil wysvinger is reg onder Johan se neus.
“Jy weet mos hy het,” brom Rooie. “Ons het die geld dan by hom gekry.”
“Bly stil,” sê Trompie. “Ek weet wat ek doen. Ek ken die regte prosedure met hofsake en sulke klas van goeters.”
Trompie draai weer na die gevangene en wikkel sy neus woes op en af sodat die ou kan sien hoe moeilik hy nou is.
“Het jy of het jy nie?”
“Ek het die geld op die vloer gekry,” sê Johan bot.
“Het jy gesien hoe dit uit Rooie se sak val?” vra Trompie en hy loer vlugtig na sy vriende om te sien watter indruk sy briljante ondervraging op hulle het. Dit lyk nogal of hulle beïndruk is, want hulle leun almal effens vorentoe en wag vir Johan se antwoord.
“Ja,” sê Johan skaars hoorbaar.
“Wat?” kom Trompie se stem bulderend.
“Ek het gesien hoe die geld uit Rooie se sak val.”
Trompie kyk triomfantelik na sy vriende.
“Jy is dus skuldig aan diefstal!” verklaar hy.
“Ja, seker,” mompel die gevangene.
“So nou moet ons hom vonnis,” sê Blikkies lui.
“Ek weet! Los dit vir my!” snou Trompie hom toe. “Kan julle nie sien ek weet wat ek doen nie? Of is julle ontevrede met die manier waarop ek die saak hanteer?”
Nee, skud sy manskappe hul koppe, maar Rooie brom darem: “Jy’s baie langdradig. Die ou het mos gesê hy’t die geld gesteel. Kom ons vat hom nou polisie toe, en klaar.”
Trompie kyk uit die hoogte na Rooie en sy stem is koud wanneer hy sê: “Het jy nog nooit van iets soos ’n motief gehoor nie?”
Rooie erken hy het nie en hy is ook nie eintlik lus om nou van sulke klas van goeters te hoor nie. Johan het mos erken hy het die geld gesteel, so nou moet hy gestraf word.
“ ’n Mens kan eers ’n vonnis uitspreek en ’n ou straf as jy weet wat is die ou se motief – die ding wat hom daartoe gedryf het om die misdaad te pleeg,” sê Trompie. Hy kyk na Blikkies en Dawie en skud sy kop. Rooie se onkunde is verstommend. Hulle verstaan nie te goed wat presies Trompie bedoel nie, maar skud nogtans hul koppe en kyk na Rooie. Sy onkunde verstom hulle ook.
“Reg, kom ons vind dan uit wat was die motief,” sê Trompie saaklik en hy kyk weer na Johan. “Hoekom het jy die geld gesteel?”
“Ek is jammer ek het dit gedoen,” sê Johan. “Maar ek wil nie meer sê nie.”
“Nogal astrant, nè?” brom Rooie vies.
“Nie astrant nie,” lug Dawie ook nou sy mening, “net vrek bang.”
Trompie besluit om weer te probeer.
“Wat wou jy met die geld gemaak het?”
“Ek wou dit net hê.”
“Hoekom?”
“Sommer.”
Die seuns kyk na die gevangene. Hy sit met ’n geboë kop.
“Kom ons vat hom polisiekantoor toe,” brom Rooie.
Trompie dink aan hoe groot Johan geskrik het toe hy hom gevang en gesê het hulle gaan hom polisie toe neem.
Trompie staan op.
“Reg, kom ons gaan lewer hom aan die sersant oor. Hy sal weet wat om met die dief te doen.”
Die seuns staan op. Johan is bleek en die vrees in sy oë is nou wild.
“Asseblief, Trompie,” soebat hy. “Ek belowe ek sal nooit weer so iets doen nie. Moet my nie polisie toe vat nie. My ma sal dit nooit oorleef nie.”
Trompie beduie vir die ander om weer te sit. Hy sit ook.
“Gaan jy nou antwoord op die vrae wat ek jou vra?”
“Ja, ek sal.” Die sweet pêrel op Johan se voorkop.
“Het jy ooit vantevore geld gesteel?”
“Nee – nog nooit nie.”
Trompie kyk smalend na sy vriende en sê: “Weet julle hoekom vra ek hom dit?” Voor hulle iets kan sê, antwoord hy self: “Omdat die ou se antwoord miskien as versagtende omstandighede kan dien.”
“Is jy seker jy lieg nie?” blaf Trompie bars vir Johan.
“Ek vertel nooit leuens nie.” Die gevangene kyk Trompie reguit in die oë.
“Orraait dan,” mompel Trompie. “So sê nou vir my – hoekom wou jy die geld hê?”
Johan lek sy lippe eers effens nat.
“Ek wou dit hê om … om …”
“Ja?”
“Om ’n mondfluitjie mee te koop.”
“En wat wil jy met die mondfluitjie doen?” vra Dawie wat nou te lank stil gesit het sonder om iets te sê.
“Dis ’n simpel vraag, Dawie,” snou Trompie hom toe. “Wat doen ’n mens gewoonlik met ’n mondfluitjie? Jy speel op die ding. Dís wat hy daarmee wou gedoen het.”
“Ek wou dit nie vir myself koop nie,” sê Johan.
“Vir wie dan?” vra Trompie.
“Vir my boetie,” antwoord Johan. “Hy is lief om op ’n mondfluitjie te speel en hy speel baie mooi. Maar sy ou mondfluitjie wat hy al lankal het, het laas week gebreek. Nou is my boetie baie hartseer en niks wat ek en my ma sê of doen, beur hom op nie. Ek het al alles probeer om geld in die hande te kry om vir hom ’n nuwe mondfluitjie te koop. Ek het allerhande werkies vir mense gedoen, maar ek het nog steeds nie genoeg geld nie. En toe ek daai noot uit Rooie se sak sien val, het ek dit opgeraap sonder om te dink wat ek doen. Ek is seker ek sou dit later vir hom teruggegee het, want my ma en boetie sou mos wou weet waar ek die geld vandaan kry om ’n nuwe mondfluitjie te koop – en ek kan nie vir hulle jok nie.”
Johan praat amper asof hy ingedagte met homself praat. Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kyk verbaas na mekaar.
“Dis die meeste wat ek hierdie lang lel nog ooit hoor praat het,” brom Rooie.
“Ja, maar is dit alles die waarheid?” wil Dawie weet.
“Hoe oud is jou boetie?” vra Trompie vir Johan.
“Hy is tien.”
Blikkies dink hy moet darem ook nou ’n bydrae maak. Hy het die hele tyd dan nog amper niks gesê nie.
Hy skuif die gekoude grashalmpie na die kant van sy kies. “En hoe oud is jy?” vra hy vir Johan.
“Veertien.”
Blikkies sit weer lui terug op die bed en sy kake beweeg ritmies op en af. Hy is nou tevrede. Hy het sy vraag gevra en hy dink dit was ’n goeie een.
“Hoekom,” vra Trompie agterdogtig, “kan jou boetie nie self uitspring en ’n plan maak om weer ’n mondfluitjie te kry nie? Hoekom moet jy dit doen?”
“Dis wat ek ook wil weet,” brom Rooie.
“Ek ook,” sê Dawie.
“Ek ook,” kom Blikkies se lui stem.
Johan kry weer daardie hartseer trek in sy oë en om sy mond. “My boetie kan nie loop nie.”
“Vir wat nie?” vra Rooie. “Het hy dan nie bene nie?”
“Stil!” sê Trompie bars. Hy kan Johan se hartseer aanvoel. Hy sien ook hoe die lang seun se oë blink.
“My boetie het bene, maar hy kan hulle nie gebruik nie,” sê Johan sag. “Hy het nooit iets makeer nie. Hy kon nog altyd goed hardloop, swem en boomklim. Maar ’n bietjie meer as ’n jaar gelede …” Johan staar strak voor hom uit. Hy byt effens op sy onderlip.
“Wat het gebeur?” Trompie se stem is sag.
“Ons het op ’n plaas in Mpumalanga gebly,” vertel Johan verder, “en toe gaan swem ons twee eendag in ’n gat in die rivier. My boetie was nog altyd ’n waaghals en ’n klein karnallie.” Johan glimlag teer. “Hy’t daai dag by ’n hoë rots afgeduik, maar daar was ’n groot klipbank onder die water. Hy het daarin vasgeduik en sy nek en rug seergemaak. Sy nek het weer reggekom, maar nie sy rug nie. Nou kan hy nie meer loop nie. Hy sal nooit weer kan loop nie.”
Dit is stil in die kamer. Niemand praat nie en hulle kyk ook nie na mekaar nie. Trompie dink aan hoe aaklig dit moet wees – ’n jong outjie vol lewenslus, en nou kan hy nooit weer loop nie! Aan die somber uitdrukkings op Rooie, Blikkies en Dawie se gesigte is dit duidelik dat hulle ook hieraan dink.
“My boetie,” sê Johan met ’n skor stem, “was ná die ongeluk nog altyd opgeruimd en hy’t altyd sulke vrolike deuntjies gespeel, maar nou kan hy dit ook nie eers meer doen nie, want sy mondfluitjie is gebreek. My ma sê hy kwyn weg. Hy lê net daar en staar met sulke dowwe oë voor hom uit.”
Daar is weer ’n ongemaklike stilte in die kamer.
“Wat is jou boetie se naam?” vra Trompie, net om iets te sê.
“Dirk, maar ons noem hom sommer Boetie.”
“En jy wou vir hom ’n mondfluitjie koop?”
“Ja, want dis al plesier wat die outjie het.”
Dit is weer stil. Dan mompel Rooie: “Ek stel voor ons gaan kyk na hierdie boetie wat nie kan loop nie. Miskien maak die lang lel gekke van ons.”
“Ek vertel nooit ’n leuen nie,” sê Johan en kyk Rooie reguit in die oë.
Trompie twyfel nie ’n oomblik aan Johan se eerlikheid nie, maar hy is lus om uit die kamer te kom, so hy staan op en sê: “Nou kom, weg is ons.”
Die seuns staan op. Johan vra mooi: “Asseblief, belowe my julle sal nie vir my ma of my boetie van die geld sê nie.”
“Ons belowe,” sê Trompie plegtig namens homself en sy vriende.
Die seuns stap met die straat af na die heuwels buite die dorp. Johan loop ’n paar tree voor hulle.
Die Boksombende praat nie veel nie. Trompie sê net een keer: “Jissie, om te dink ’n ou wat so goed kon hardloop en swem en boomklim en alles lê nou in ’n bed en sal nooit weer kan loop nie!”
Die seuns stap stil na die huisie waar Johan, sy ma en sy bedlêende boetie woon.