Читать книгу Trompie Omnibus 4 - Topsy Smith - Страница 8

2

Оглавление

Mop, Bop en Pop

Dié aand sien Trompie hoe sy ouers en Anna elke keer hul koppe draai en na hom kyk as hy naby aan hulle kom.

Eenkeer sê Anna terwyl sy haar neus optrek: “Wat makeer jou? Hoekom ruik jy so sleg?”

“Noem jy dit sleg?” vra Trompie verontwaardig. “Dit wys hoe min jy weet. Die haarolie wat ek aanhet, ruik na rooi rose …”

“Staan bietjie verder van my af weg,” sê Anna.

Trompie staan nie net weg nie. Hy loop ook sommer na sy kamer toe. Hy hou nie van almal se neusoptrekkery nie. Weet hulle dan nie wanneer iets propperlies lekker ruik nie?

Toe Trompie die volgende oggend wakker word, wonder hy of hy by sy ma in die moeilikheid gaan kom. Sy hele kamer is nou vol van ’n muwwe reuk in plaas van om soos vars, rooi rose te ruik.

Dit is egter nie waaroor Trompie bekommerd is nie. Die wit kussingsloop waarop sy kop gelê het, is vuil en vol haarolie.

Hy draai die kussing om sodat die skoon kant bo is en voel dan sommer beter.

Ná ontbyt gaan Trompie na Rooie se buitekamer toe. Hy en Blikkies het hul ander twee vriende en lede van die Boksombende, Rooie en Dawie, gister glad nie gesien nie. Rooie het sy pa in die skoenwinkel gehelp en Dawie was saam met sy ouers stad toe.

Met sy hande diep in sy broeksakke, sy pet windmakerig skeef op sy kop, sy kouse wat op sy skoene lê en sy hemp wat agter by sy broek uithang, stap Trompie ingedagte met die straat af.

Hy loop en wonder wanneer hy en Blikkies iets sal hoor van die affêre met Jannie se hare. Hulle het besluit om in die toekoms wye draaie om die posmeester se huis en oom Henk se haarkapperswinkel te loop.

Naby Rooie se buitekamer fluit Trompie. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een, die Boksombende se sein. Hy hoor iemand op dieselfde manier terugfluit. Dit moet Rooie wees.

Trompie klim deur die buitekamer se venster. Blikkies is al hier by Rooie.

“Haai!” sê Trompie.

“Haai!” groet hulle hom.

Trompie swaai die stoel om sodat die rugkant voor hom is. Hy gaan sit wydsbeen en sy bolyf rus nou op die stoel se rugkant. Trompie het ’n cowboy-held dit eenkeer in ’n fliek sien doen. Nou sit hy ook altyd so – behalwe natuurlik by die huis.

“En toe,” sê Rooie laggend, “wanneer sny jy weer iemand se hare?”

“Moenie lag nie,” sê Trompie ernstig. “Daai storie kan dalk nog lelike gevolge hê.”

“Jy’t gesê jy verstaan die kuns om hare te sny,” sê Blikkies smalend. “Ek wonder hoe sou ek gelyk het as ek jou toegelaat het om my hare te sny!”

“Nie slegter as wat jy nou lyk nie,” snou Trompie hom toe.

Rooie sê vir Trompie hulle was op pad na hom toe om uit te vind wat hulle vanoggend gaan doen.

“Waar’s Dawie?” vra Trompie.

Sy woorde is nog nie koud nie, toe hoor hulle ’n gefluit – die Boksombende se sein.

Dawie spring deur die venster.

Almal groet oor en weer en Dawie kom sit op die bed langs Blikkies. Al vier lede van die Boksombende is nou teenwoordig.

Trompie voel ’n gloed van trots wanneer hy na hulle kyk. Dit is sy vriende. Dit is sy bende en hy is hul Grootkaptein.

Daar op die tafel sit Rooie – fris en sterk gebou. Hy is besig om sy tone te roer. Hy wil sy groottoon wikkel sonder om die ander te beweeg, maar dis nogal moeilik.

Blikkies sitlê op die bed. Sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n grashalmpie kou. Sy hare lyk blink en vetgesmeer van die “rooi rose” haarolie.

Langs Blikkies sit Dawie. Sy wakker oë lyk nie so ondeund soos gewoonlik nie. Hy ruik-ruik in die lug en skuif dan effens weg van Blikkies af.

“Wat het jy op jou hare?” vra Dawie.

Blikkies hou op kou en antwoord: “Dit ruik lekker, nè? Dis die vars, heerlike geur van rooi rose in die maanskyn.”

Dawie skuif nog verder van Blikkies af weg. Hy hou nie van hoe hierdie rooi rose in die maanskyn ruik nie, maar nou sit hy te ná aan Trompie en skuif weer effens terug. Dit ruik mos of Trompie dieselfde haarolie gebruik het.

Die seuns lag en vertel Dawie van hul kaskenades in die haarkapperswinkel met Jannie, die posmeester se seun.

“Julle sal nog weer daarvan hoor,” waarsku Dawie. Hulle dink ook so, maar hulle hoop maar nie so nie.

Dawie gee skielik ’n lank uitgerekte sug. Hy lyk soos iemand wat die wêreld se probleme op sy smal skouers dra en sê: “Daar is nog ander moeilikheid ook.”

Daar is ’n diep frons op Dawie se voorkop. Hy wag nou dat sy vriende die nodige moet doen en die verwagte vraag moet vra.

Rooie is die een wat dit doen. “Watse moeilikheid is dit?” mompel hy.

“Raai bietjie,” sê Dawie.

Trompie, Rooie en Blikkies dink, maar hulle het geen idee wat dit kan wees nie.

“Moenie kastig so geheimsinnig lyk nie,” sê Trompie vir Dawie. “Dit pas jou nie. Hoe moet ons kan raai? Sê vir ons wat die moeilikheid is.”

“Miskien sal jy dit nie as moeilikheid beskou nie, Trompie.”

“Hoekom nie?”

“Omdat jy mos kastig so ’n hartedief is.”

“Probeer jy snaaks wees, hè?” snou Trompie hom toe.

“Nee,” verseker Dawie hom, “allesbehalwe.”

“Nou sê dan wat is die moeilikheid!” brom Rooie ongeduldig.

“Reg, kom ek vertel julle.” Dawie skuif nader en vertel vinnig vir hulle sy nuus. Sy drie vriende kyk hom verslae aan.

“Jy sê drié?” kry Trompie uiteindelik iets uit.

“Drié, ja – en die een lyk glo presies soos die ander.”

Die seuns skud hul koppe. Drie! As dit een was, was dit miskien nie so erg nie, maar drie!

“En onthou,” sê Dawie, “julle moet my help om hulle besig te hou …”

“Nie ek nie,” mompel Rooie.

“Ek ook nie,” sê Trompie.

“En ek ook nie,” sê Blikkies kouend. “Ek’s nie ’n ou wat my aan sulke goed steur nie.”

“Maar julle sal my móét help,” sê Dawie. “Die meeste van die dorp se meisies is weg en ons kan mos nie dat hulle hier weggaan en sleg dink van Kwaggaberg nie. My ma het gesê sy sal vir ons geld gee vir fliek en lekkers en sulke klas van goeters.”

Trompie, Rooie en Blikkies stel nou meer belang.

“Hoe oud is die drie?” vra Trompie.

“Veertien.”

“Al drie?”

“Ja, natuurlik – hulle is dan ’n drieling. Hulle kom van Darling af.”

“Dárling – dis mos liefling,” brom Rooie.

“Dis ook ’n dorpie daar anderkant Kaapstad, naby die Weskus,” sê Dawie hooghartig. Hy is mos die ou hier met die meeste kennis.

“Hoe lyk hierdie meisiekinders?” wil Trompie nou weet.

“Ek het hulle nog nooit gesien nie. Hulle is ’n vriendin van my ma se dogters.”

“Wat is hul name?” vra Blikkies en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog by die venster uit om sy minagting te kenne te gee.

“Mop, Bop en Pop,” sê Dawie sedig.

“Wat?” vra al drie sy vriende tegelyk.

“Mop, Bop en Pop. Dis natuurlik nie hul regte name nie, maar dis glo wat die mense hulle noem.”

Die seuns is nou stil. Almal dink oor Mop, Bop en Pop. Soos Trompie, Rooie en Blikkies die ding verstaan, het Dawie se ma se ou vriendin haar gebel en hulle het besluit die vriendin se drie dogters moet hier op Kwaggaberg kom kuier.

Trompie besluit om meer inligting te kry oor die fliek en lekkers en sulke klas van goeters.

“Gaan jou ma vir alles betaal?”

“Ja,” sê Dawie en glimlag, want hy kan sien Trompie stel al hoe meer belang. “Sy’t gesê ons moet hulle besig hou en sy sal vir ons die geld gee om dit te doen.”

“Huh,” brom Trompie. Dit klink darem nie te sleg nie.

“Wanneer kom die goed?” vra Rooie. Sy tone is nou stil. Hy probeer nie meer om sy groottoon te wikkel sonder om die ander te beweeg nie. Dis te moeilik.

“Ons gaan hulle vanmiddag by die stasie haal.”

“Hoe lank bly hulle?” vra Trompie.

“Net ’n week.”

Almal dink dit is darem nie te lank nie.

Trompie dink aan die fliek en die lekkers en sulke klas van goeters. Dan sê hy: “Ek hou nie eintlik van die idee nie, Dawie, maar jy’s ons vriend, so ons sal jou seker maar moet help om daai … Mop, Bop en Pop besig te hou.”

Trompie trek ’n suur gesig toe hy die name sê.

Blikkies en Rooie dink ook aan die fliek en die lekkers en sulke klas van goeters, en stem dan ook maar in. Hulle sal almal vir Dawie help om die drie meisiekinders besig te hou.

“Miskien hoef ons nie al die geld wat Dawie se ma vir ons gee op daai goed te spandeer nie,” sê Trompie grinnikend. “Ek bedoel, miskien hou hulle nie van lekkers en roomyse en sulke klas van goeters nie. Dan eet ons sommer hulle s’n ook.”

Die seuns is skielik opgewonde. Sê nou hulle is so gelukkig dat die meisies nie hul monde aan soetgoed sit nie? Hulle sien skielik uit na hierdie drie kuiergaste.

“Julle moet vanaand oorkom om hulle te ontmoet,” sê Dawie en voeg vinnig by: “My ma bak vanmiddag koek.”

“Ons sal daar wees,” sê Trompie dadelik. Hy weet watse lekker koek Dawie se ma bak. Maar dan trek hy skielik ’n skewebek en sê: “Mop, Bop en Pop. Ek het nog nooit in my lewe sulke lelike name gehoor nie.”

“Hulle’s seker net so lelik soos hul name,” brom Rooie.

“Kom ons vergeet die goed nou,” sê Blikkies, “en gaan swem.”

Voor die Boksombende in die kloof se dam gaan swem, stap hulle na die Griek se kafee in die hoofstraat. Hulle gaan lekkers koop. Trompie het mos nog die haarsnygeld wat oom Henk vir hom teruggegee het omdat hy en Blikkies die oom se winkel opgepas het.

Hulle stap natuurlik met die agterstrate langs kafee toe, sodat hulle nie verby die haarkapper hoef te gaan nie.

Trompie sê ook vir die ander hy wil graag sy belofte nakom en vir Jannie ’n hand vol lekkers koop. Maar hy sal mos sy kop in die leeuhok steek as hy na Jannie se huis toe gaan om vir hom die lekkers te gee. Trompie is seker die outjie se ma soek hom wat Trompie is met ’n seer hart.

Die vier vriende baljaar die hele oggend in die kloofdam se verfrissende water. Hulle dink nie vir een oomblik aan iets soos meisiekinders nie – veral nie drie met name soos Mop, Bop en Pop nie.

Maar die Boksombende weet nie wat vir hulle voorlê nie!

Dié aand ná ete maak Trompie hom in sy kamer netjies. Hy het ’n skoon hemp aangetrek en is nou besig om sy pas gesnyde hare sorgvuldig te kam. Hy dink dit is niks minder as ordentlik om netjies en skoon te wees wanneer hy die drieling van Darling ontmoet nie.

Trompie dink naderhand hy lyk heel goed. Hy is mos ’n mooi seun.

Met sy hande diep in sy broeksakke stap hy fluit-fluit die straat af op pad na Dawie se huis om Mop, Bop en Pop te ontmoet. Hy fluit onwillekeurig: “Nee, nee, nee, my dolla, nee – ek vry nie met ’n loskop dolla nie …”

Trompie stap eers by Rooie se buitekamer aan. Blikkies wag al daar.

“Haai,” sê Trompie.

“Haai,” antwoord hulle hom.

“Kom ons waai,” sê Rooie. “Netnou eet daai drie goeters baie en dan is daar niks koek oor wanneer ons daar kom nie.”

Die seuns is reg om te loop, maar dan praat Trompie: “Rooie, ek dink jy moet vanaand skoene aantrek …”

“Hoekom? Ek hou mos nie van die goed nie. Dit druk my en kraak as ek loop.”

“Maak nie saak nie,” sê Trompie. “Jy kan die skoene later uittrek wanneer jy vir Mop, Bop en Pop beter ken. Jy moet darem net ordentlik lyk wanneer jy hulle ontmoet. Wat dink jy, Blikkies?”

Blikkies stem saam.

“Ek gaan nie soontoe om die meisiekinders met die belaglike name te ontmoet nie,” brom Rooie. “Ek gaan vir die lekker koek wat Dawie se ma bak.”

Maar Rooie pluk nogtans sy groot skoene onder die bed uit en druk sy skurwe voete met ’n gesug en gesteun daarin.

Trompie en Blikkies glimlag. Dit bly maar vir hulle snaaks dat ’n skoenmaker se seun nie skoene aan sy voete kan verdra nie.

Die drie stap in die maanlig na Dawie-hulle se huis toe. Rooie loop mank en sy skoene kraak elke keer as hy sy voete neersit.

Op die stoep klop Trompie aan die voordeur. Terwyl hy wag dat iemand moet kom oopmaak, druk hy sy kuif met sy vingers reg.

Die deur gaan oop en Dawie sê: “Kom in, ouens!” Sy ondeunde oë vonkel. “Kom ontmoet vir Mop, Bop en Pop van Darling in die Kaap.”

Die seuns stap deur die voorportaal sitkamer toe. Trompie se hande is diep in sy broeksakke. Hy kom nie agter dat sy kouse op sy skoene lê en sy hemp agter by sy broek uithang nie. Blikkies kou aan ’n stukkie kougom wat hy met sy deel van Trompie se haarsnygeld gekoop het. Rooie probeer liggies op sy tone loop sodat sy skoene se gekraak darem nie soos donderslae in die huis moet klink nie. Sy skoene kraak-kraak nou nie meer nie – hulle kriek-kriek.

In die sitkamer se deur gaan staan Trompie, Rooie en Blikkies met oop monde. Blikkies vergeet selfs om te kou! Dawie glimlag.

Op die rusbank teen die muur sit daar drie meisies. Trompie is seker dit móét drie van hulle wees, want hy het sy oë al ’n paar keer geknip omdat hy seker was hy sien dieselfde ding drie keer.

Die meisies lyk presies dieselfde. Hulle dra presies dieselfde klere en het blonde hare en helderblou oë. Al drie glimlag en ses presies eenderse kuiltjies verskyn in ses presies eenderse wange. Al drie se tande is ewe perfek en skitterwit. Al drie se hare is presies eenders gekam en met presies dieselfde kleur haarrekkie vasgebind.

Hoe op aarde, wonder Trompie, gaan ’n mens ooit weet wie is wie?

“Kom nader, dat ek julle voorstel,” sê Dawie.

Trompie, Rooie en Blikkies kom nader. Rooie probeer nou op sy hakke loop sodat die meisies nie moet hoor hoe sy skoene kraak nie, maar dit help nie veel nie en sy vreemde houding laat hom boonop belaglik lyk.

“Mop, Bop en Pop,” sê Dawie stadig toe die seuns – ná heelwat gegiggel van die drieling oor Rooie se snaakse houding – voor die meisies staan, “ontmoet my drie beste vriende. Hierdie ou is Trompie. Hy is ons Boksombende se Grootkaptein.”

Trompie is hoog in sy skik. Hy hou van die manier waarop Dawie hom voorgestel het. Hierdie Darling-meisies moet verstaan dat hy wat Trompie is, nie sommer so ’n alledaagse ou is nie.

Trompie gee ’n tree vorentoe, maak ’n elegante buiginkie en sê: “Bly om julle te ontmoet.”

Hy glimlag breed. Hy dink hy lyk nou vriendelik en aantreklik.

“En hierdie ou is Rooie,” kondig Dawie aan.

Rooie gee ’n tree vorentoe. Kraak-kraak maak sy skoene. Die meisies giggel. Rooie wou ook op sy manier ’n elegante buiginkie gemaak het, maar hy doen dit nou nie. Hy mompel net: “Aangename kennis.”

Kraak-kraak gee hy weer ’n tree terug.

“En dit is Blikkies.”

Blikkies beweeg sy kakebene vinnig en bêre die stukkie kougom agter in sy kies.

“Bly te kenne,” mompel hy en met ’n paar vinnige bewegings van sy tong is die stukkie kougom weer uit die wegsteekplek en sy kake beweeg weer ritmies op en af soos hy smaaklik kou.

“Ek weet regtig nie wie is wie nie,” sê Dawie met ’n skouerophaling vir die drieling. “Julle moet julle maar liewer self voorstel.”

Die meisies kyk na mekaar en giggel. Dan spring die een aan die kant soos ’n kisduiweltjie op en sê: “Ek is Mop en ek kom doerrr van die Boeland af.”

Die een langs haar wip op en sê: “Ek is Bop en ek kom ook doerrr van die Boeland af.”

Die derde een spring ook soos ’n kisduiweltjie op. “Ek is Pop – ook doerrr van die Boeland af.”

Die seuns kyk verstom na mekaar en dan gaan sit hulle op stoele. Rooie se skoene kraak soos donderslae.

“Eina!” sê Mop skielik laggend.

“Eina!” sê Bop laggend.

“Eina!” sê Pop laggend.

Dan is dit weer stil in die sitkamer.

Die seuns kyk met groot oë na mekaar. Is hierdie drieling van Darling besimpeld of iets? Hoekom praat hulle so snaaks? Hulle bry die “rrr” en praat van “doerrr” en “Bóéland” in plaas van “daar” en “Bóland”. En hoekom sê hulle sommer so vir niks “eina” en dan lag hulle?

Trompie kyk die drie meisies fronsend aan. Dawie sit en glimlag. Blikkies kou ingedagte. Rooie sit met sy bene lank voor hom uitgestrek en sy voete rus op sy hakskene. Hy wonder wanneer kom die koek.

Trompie dink hierdie stilte is nie ’n goeie ding nie. Hy het mos goeie maniere. Hy moet darem nou begin gesels.

Hy glimlag vriendelik en sê: “Julle weet, ek is nes Dawie. Ek weet sowaar nie wie van julle is wie nie …”

“Ek is Mop.”

“Ek is Bop.”

“Ek is Pop.”

Trompie sluk.

“Reg, nou het ek dit.”

As die meisies nou net nie van posisie verander nie, sal hy darem weet wie is wie.

Dit is weer stil.

“Sê jy nou iets,” brom Trompie vir Blikkies langs hom.

“Wat moet ek sê?” wil Blikkies weet.

“Enigiets. Moenie soos ’n houtpop sit nie. Maak oop jou mond!”

Blikkies bêre die stukkie kougom in sy kies met sy tong. “Is … is die dorp waar julle vandaan kom ’n groot plek?”

“Taamlik,” sê Mop.

“Taamlik,” sê Bop.

“Taamlik,” sê Pop.

Blikkies sit weer gemaklik agteroor en haal sy kougom uit die bêreplek en begin weer kou. Hy het mos nou sy plig gedoen. Dawie se ma kan die eetgoed nou maar bring.

Trompie en Blikkies gluur vir Rooie. Hy moet mos ook sy deel bydra om die gesprek aan die gang te hou!

Rooie sluk en dan brom hy: “In watter klas is julle?”

“Graad agt,” sê Mop.

“Graad agt,” sê Bop.

“Graad agt,” sê Pop.

En dan bars die drie weer uit van die lag.

“Eina!” sê Mop.

“Eina!” sê Bop.

“Eina!” sê Pop.

Die seuns kyk agterdogtig na mekaar. Dieselfde gedagte registreer in almal se oë. Is dit die moeite werd om hier te sit soos swape wat niks verstaan wat die meisies sê nie? En dit net om van die lekker koek wat Dawie se ma gebak het te kry?

Trompie besluit om weer ’n geselsie te probeer aan knoop.

“Is julle slim?” vra hy.

Die drie meisies kyk na mekaar en giggel. Dan sê Mop: “Ja, skoolwerk is vir ons konfyt.”

“Konfyt, ja,” sê Bop.

“Ja, konfyt,” sê Pop.

Trompie begin hom nou stadigaan vererg. Hy kry die ongemaklike gevoel dat hierdie giggelende drieling met hom en sy vriende gekskeer.

“Dink julle miskien julle is snaaks?” Trompie wikkel sy neus op en af om hulle te laat verstaan hy word nou moeilik.

Nee, skud hulle giggelend saam kop, hulle dink nie hulle is snaaks nie. En dan bars hulle weer uit van die lag.

“Eina!” sê Mop.

“Eina!” sê Bop.

“Eina!” sê Pop.

Die seuns kyk met nors gesigte na mekaar. Hierdie meisiekinders is besig om te mors met hulle, die lede van die beroemde – of is dit berugte? – Boksombende.

Trompie besef hy as die Grootkaptein moet iets aan die saak doen.

“Hoekom lag julle en dan sê julle ‘eina’?” vra hy vies. “As ’n mens ‘eina’ sê, kry jy mos seer.”

Die drieling kyk na mekaar en dan antwoord Mop: “Dis sommerrr ’n manierrr van prrraat wat ons het. As ons lag, sê ons ‘eina’.”

“Hoekom?” wil Trompie weet.

“Daar is twee rrredes,” sê Mop. “Wil julle altwee hoorrr?”

“Ja,” brom Trompie. Hy besluit in sy stilligheid hy hou niks van hierdie Mop, Bop en Pop nie.

“Wel,” begin Mop hooghartig verduidelik, “ ’n ‘funnybone’ in ’n mens se arrrm is ’n ‘einabeentjie’ in Afrrrikaans. ‘Funny’ beteken mos snaaks, so as ons iets snaaks sien wat ons amuseerrr, dan sê ons ‘eina’. En verrrderrr sê die Maleierrr-mense doerrr in die Kaap altyd ‘eina’ wanneer hulle lag.”

Trompie, Rooie en Blikkies en Dawie dink ernstig hieroor na. Dit klink vir hulle maar na ’n belaglike affêre en Trompie sê dit ook sommer reguit vir die drie meisies.

“Jy bedoel ’n ‘eina’-affêrrre?” sê Mop.

Trompie besluit om haar nie te antwoord nie. Hy brom net: “En hoekom sê julle skoolwerk is vir julle konfyt?”

Die drieling kyk mekaar verbaas aan en dan lag hulle.

“Hier kom dit weer,” sê Trompie met ’n sug en hy is heeltemal reg.

“Eina!” sê Mop.

“Eina!” sê Bop.

“Eina!” sê Pop.

Die seuns rol hul oë en wag dat die drieling se simpel gelag moet endkry.

“Julle is darrrem vrrreeslik onnosel,” sê Mop uiteindelik. “As iets doerrr in Darrrling maklik is, sê ons kinderrrs altyd dis konfyt.”

“Dis belaglik,” sê Trompie.

“Jy bedoel dis ‘eina’,” sê Mop.

Gelukkig kom Dawie se ma by die sitkamer in met ’n skinkbord vol koeldrank en ’n groot roomkoek.

“Oe, ons hou baie van rrroomkoek, Tannie,” sê die drieling feitlik gelyktydig.

“Ons hou ook van rrroomkoek, Tannie,” sê Trompie vinnig en bry onwillekeurig ook.

Mevrou Theron sny die koek voor sy by die vertrek uitgaan. Die seuns tel vinnig met hul oë. Daar is twee stukke koek vir elkeen. Maar die meisies sal natuurlik net een stuk elk vat, so die seuns kan elkeen drie stukke kry. Dit is die moeite werd om vir sulke lekker roomkoek na die giggelende meisies se simpel ge-eina te luister.

Trompie spring galant op en hou die bord koek voor die drieling. Die meisies vat elkeen ’n stuk – die drie grootstes op die bord!

Trompie is vies. Dit lyk nie of hierdie meisies van Darling goeie maniere het nie. Mop het daardie een ekstra groot stuk wat hy wou gehad het, vir haarself opgeraap.

Dit is stil in die sitkamer. Almal eet roomkoek en drink koeldrank. Mop, Bop en Pop het eerste koek gekry en hulle is ook eerste klaar. Hulle staan soos een man op en vat elkeen ’n tweede stuk.

Trompie-hulle eet nou vinnig. Hulle is bekommerd. Die meisies het nie net elkeen twéé stukke koek gevat nie, maar daar is ook ’n goeie kans dat hulle elkeen nóg een gaan vat!

Almal eet nou vinnig, baie vinnig. Die drieling is ’n sekonde of twee voor die seuns klaar. Hulle staan weer soos een man op en glimlag vriendelik.

“Julle gee nie om as ons elkeen nog ’n stukkie vat nie? Ons hou só van rrroomkoek,” sê Mop en hulle voeg sommer dadelik die daad by die woord.

Die seuns kyk verslae na mekaar. Daar lê nou net ’n paar krummels op die bord.

Rooie vee dit met sy vingers bymekaar en druk dit in sy mond. Hy lyk soos ’n martelaar.

Die Boksombende kyk met suur gesigte na die drie meisies. Hulle het elkeen net een stuk koek gekry en die meisies het sowaar elkeen drie gehad!

“Dit lyk nie of die mense doerrr in Darrrling,” brom Trompie hard genoeg sodat die meisies hom kan hoor, “enigiets van goeie maniere af weet nie!”

Ná hierdie insident met die koek is die gesprek nog strammer as voorheen.

Rooie spring op. Sy skoene maak hom te seer.

“Verskoon my,” sê hy en loop kraak-kraak buitentoe. Op die stoep trek Rooie sy skoene uit. Hy sit sy kouse in sy sak, maak die veters aan mekaar vas en gooi die skoene oor sy skouer.

Hy stap terug sitkamer toe en sê in die deur: “Ek gaan waai. Kom julle saam?”

Trompie en Blikkies laat hulle nie twee keer nooi nie. Hulle staan op. Die drieling staan ook op en stap saam met hulle tot by die deur.

“Ek hoop jy’t die koek geniet, Mop,” sê Trompie smalend vir die meisie langs hom.

“Ek het, ja, dankie. Maar ek is nie Mop nie. Ek is Bop.”

Trompie kyk vies na die meisie wat langs Bop staan.

“Ek hoop jy’t die koek geniet, Mop.”

“Ek het, ja,” sê sy, “maar ek is nie Mop nie. Ek is Pop.”

Trompie gluur woes na die derde suster. Sy glimlag en sê: “Ja, ek is Mop. En ek hét die koek geniet. Het jy?”

“Ja, ek het,” brom Trompie. “Net jammer dit was net een stukkie.”

Toe die seuns omdraai, begin die meisies lag. Trompie lyk tog te koddig met sy hemp wat agter by sy broek uithang. Om nie te praat van Rooie met die skoene oor sy skouer nie.

“Hier kom dit weer, ouens,” sê Trompie. En toe kom dit ook.

“Eina!” sê Mop.

“Eina!” sê Bop.

“Eina!” sê Pop.

Trompie, Rooie en Blikkies gee vinnig pad.

Die seuns loop vies in die helder maanligaand. Toe Dawie se ma die koek en koeldrank ingebring het, het hulle haar belowe hulle sal die drieling die volgende oggend op die dorp rondneem.

Die aand was ’n hopelose mislukking. Elkeen het net een glas koeldrank en een stukkie koek gekry.

“Ek sê julle ouens,” kondig Rooie met ’n sug aan, “daar lê vir ons ’n moeilike tydjie voor.”

Trompie en Blikkies stem volkome met hom saam.

Trompie Omnibus 4

Подняться наверх