Читать книгу Trompie Omnibus 4 - Topsy Smith - Страница 6
1
ОглавлениеTrompie die mooi seun
Die vyftienjarige Trompie Toerien sit lui in sy kamer. Hy het besluit om vanoggend deur sy tafel se laai te gaan en al die gemors wat hy gedurende die jaar daarin geprop het, weg te gooi.
Trompie dink aan die lang somervakansie wat voorlê. Hy en sy vriende gaan baie pret hê.
Hy dink ook daaraan dat sy ouers die laaste twee weke van die vakansie weggaan en dan gaan hy en sy vriende nog méér pret hê! Sy suster, Anna, sal wel hier by die huis wees, maar hy steur hom mos nooit veel aan haar nie.
Trompie is deesdae baie gewild by sy ma-hulle. Hulle was so bang hy gaan nie graad nege deurkom nie. Maar hy hét – en boonop sommer maklik!
Maar, dink Trompie, dit het werk gekos. Dis nou maar wors. Hy is ’n ou wat sy plig ken, ’n ou wat weet wanneer dinge begin druk en hy moet begin leer. Die laaste tien dae – nee, dit was die laaste elf dae – voor die eksamen het hy vir homself gesê: “Trompie, jy moet nou alles insit, anders dop jy!”
En toe hét hy alles ingesit. Hy het daardie hele elf dae net twee middae by die dam in die kloof gaan swem en net een middag by sy drie vriende ’n draai gaan maak. Hulle was egter self ook besig om te leer en hy is maar weer terug na sy kamer toe om verder te leer.
Trompie glimlag by die gedagte dat selfs sy ma later bekommerd geraak het oor haar seun wat so hard werk. Sy het hom aangemoedig om uit te gaan en ’n bietjie vars lug te kry, maar hy het net gesê: “Nee, Ma, daar is nie tyd vir my om te speel of vars lug te soek nie. Ek moet werk. Ek wil julle nie teleurstel nie. Ek wil deurkom en góéd deurkom!”
Sy ma het met simpatieke oë na hom gekyk en dit was nie lank nie, toe is sy terug in sy kamer met ’n glas gemmerbier en ’n bord soetkoekies.
Ja-nee, dink Trompie, hy het die elf dae toe hy hom amper dood geleer het, nogal baie gemmerbier en soetkoekies weggepak.
Sy vriend, Dawie, wat slim en hardwerkend is, het hom eenkeer daarop gewys dat hy nie so hard sou hoef te geleer het as hy van die begin van die jaar af sy plig gedoen het nie. Trompie het hom egter nie veel daaraan gesteur nie. Hulle toets ’n mens nie op daardie klas goeters nie, maar op jou kennis. En hy het genoeg kennis gehad – oorgenoeg, want hy het goed geslaag.
Dawie, Blikkies en Rooie, die ander lede van Trompie se beroemde – of dalk eerder berugte – Boksombende, het ook almal geslaag. Hulle gaan volgende jaar almal saam in graad tien wees.
“Ons het al ver gevorder in die lewe,” sê Trompie sag. “Dis nou maar wors.”
Hy dink aan al die jare wat hulle vier al sulke boesemvriende is. Hulle het sommer op laerskool al begin saamstaan teen die buitewêreld. Dis toe dat hulle die Boksombende gestig het.
Trompie sitlê op sy bed. Sy hond, Boesman, snork ’n paar keer, verander van posisie en lê dan gemakliker op die vloer aan die bed se voetenent.
Trompie dink aan sy drie vriende en al die pret wat hulle al saam gehad het – soveel ontberinge en avonture.
Hy dink aan Dawie wat twee jaar jonger as die ander drie is, maar ook ongelooflik slim is. Hy is ’n ondeunde karnallie en altyd bereid om enigiets te probeer wat Trompie voorstel.
Dan is daar die rustige, ewig kouende Blikkies. Dit lyk of sy kakebene nooit rus nie. As hy nie geld het om kougom te koop nie, kou hy grashalmpies. Blikkies praat nooit veel nie. Hy dink dit vat te veel energie. Maar lui ofte nie, die lang, skraal Blikkies is ’n blitsige vleuel op die rugbyveld en hy het al baie drieë aangeteken.
Rooie is die derde lid van Trompie se Boksombende. Trompie dink aan hoe sy vriend se aspirasies om hul leier te word, verskiet het saam met die sterretjies wat hy gesien het toe Trompie hom eendag ’n blouoog gegee het. Maar dit was lank gelede. Vandag is Rooie ’n lojale ondersteuner.
Trompie besluit om nie nog langer so te sit en droom nie. Hy sal die laai nou deurgaan en alles wat hy nie meer wil hê nie uithaal en weggooi.
Hy trek die laai uit, keer dit op die tafel om en sit die leë laai op sy bed neer. Nou kyk hy ingedagte na wat alles op die tafel lê.
Daar is nie veel nie. Trompie dink daaraan dat ’n mens selfs met geweldige verbeeldingskrag, nie sal kan sê hy is ryk nie.
Daar is ’n plakboek vol foto’s van boksers wat hy uit koerante en tydskrifte geknip het. Die boek is vuil en plek-plek verfrommel soos wat baie vuil hande dit in die verlede al hanteer het.
Trompie het lanklaas nuwe uitknipsels ingeplak of selfs na die boek gekyk, maar hy sit dit nogtans terug in die laai op sy bed. Hy kan dit darem nie weggooi nie.
Nou tel Trompie die volgende voorwerp op. Dit is ’n kettie. Al wat daarmee fout is, is dat die houtmik gebreek het. As hy ’n ander mik aansit, sal die ding weer goed kan skiet. Trompie sit die kettie terug in die laai. Hy gaan nog eendag weer baie pret daarmee hê.
Volgende aan die beurt is ’n uitgedroogde padda. Trompie onthou hy het die padda in die laai gegooi omdat hy dit in ’n fles paraffien wou sit om te sien of die paraffien die padda sal preserveer. Maar hy het nooit so ver gekom om dit te doen nie.
Hy bekyk die padda peinsend en wonder of die ding nog verder sal krimp. Miskien moet hy dit maar hou en kyk wat gebeur. Die ding ruik gelukkig nou ook nie meer so sleg soos toe hy hom gekry het nie.
Trompie sit die uitgedroogde padda versigtig langs die stukkende kettie en die vuil plakboek in die laai. Hy gaan hierdie drie besittings van hom definitief hou.
Hy kyk weer op die tafel, sien ’n hopie uitgedroogde lemoenskille en begin aan een kou. Dit smaak nogal glad nie sleg nie. Die droë skille word langs die verkrimpte padda terug in die laai gesit. Hy sal die skille hou, dan kan hy mos as hy honger is daaraan kou.
Nou tel Trompie ’n klomp vuil, geskeurde strokiesprente op. Hy kyk weer vlugtig deur al Die Skim se opwindende avonture. Nee, besluit Trompie, al is hierdie strokiesprent-boeke feitlik al flenters, kan hy hulle darem nie weggooi nie. As hy hier in sy kamer is en hy het niks om te doen nie, kan Die Skim hom mos lekker besig hou.
Die strokiesprentboeke word langs die ander besittings wat hy gaan hou – die verkrimpte padda, die verweerde plakboek, die stukkende kettie en die hopie uitgedroogde lemoenskille – in die laai gesit.
Trompie kyk peinsend na die goed wat nou nog op die tafel oorbly. Daar is ’n klomp klippies, ’n paar albasters, twee velle papier waarop geskryf is, ’n kort, stomp potloodjie, ’n paar droë perskepitte en ’n ou liniaal.
Trompie huiwer ’n oomblik, dan bring hy die laai nader en vee alles op die tafelblad met sy voorarm weer terug in die laai. Hy voel daar is niks wat hy kan weggooi nie. Hy hou die klippies, want dan sal hy ammunisie byderhand hê wanneer hy die kettie se mik reggemaak het. Die albasters sal hy weer gebruik wanneer dit albastertyd is. Daar is nou wel al op die velle papier geskryf, maar daar is darem nog oop deeltjies. En hy wat Trompie is, is mos ’n spaarsame outjie. As die gier hom nou beetpak om iets te skryf, dan het hy mos papier byderhand. Die potloodjie is ook nog in ’n uitstekende toestand. Dit moet net skerpgemaak word. Die droë perskepitte sal hy eendag as hy tyd kry in die tuin gaan plant en die liniaal is oud, maar makeer niks nie.
Die laai word weer in sy opening onder die tafel ingeskuif. Trompie voel goed. Hy hou alles, so hy hoef nie na die asblik buite die kombuis te loop om dit wat hy wil wegmaak daarin te gooi nie. Hy sit op sy bed met sy rug teen die muur. Hy rus nou. Hy het vanoggend hard gewerk.
Skielik hoor Trompie iemand in die tuin fluit. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dis die Boksombende se teken. Trompie fluit op dieselfde manier terug. Hy dink daaraan dat dit seker Blikkies moet wees, want Dawie is saam met sy ouers vir die dag Johannesburg toe en Rooie moet sy pa in die skoenwinkel help.
Blikkies se lang bene kom eerste deur die venster en dan volg sy bolyf.
“Haai,” sê hy en verskuif ’n grashalmpie van die een kies na die ander terwyl hy ook op die bed kom sit.
“Haai,” sê Trompie. “Die ander twee snare kom nie vandag nie. Wat gaan ons doen?”
“Wat wil jy doen?” vra Blikkies.
“Wat wil jý doen?” vra Trompie.
Die twee sit nog so en dink aan moontlikhede toe Trompie se ma hom roep.
“Weg is ons!” Blikkies spring op en maak vir die venster.
“Nee, wag,” sê Trompie, “ek is seker my ma wil nie vir my werk gee nie. Dit moet iets anders wees. Wag jy hier.”
Blikkies wag, maar hy lyk nogal agterdogtig. Hy is nie hier om Trompie met die een of ander werk te help nie.
Ná ’n paar minute kom Trompie terug. Hy lyk vies en sê: “Ek moet my hare laat sny – nou dadelik. My ma karring al die laaste week daaroor.”
“Maar jou hare lyk orraait,” sê Blikkies lui.
“Ek dog ook so.” Trompie kyk in die spieël na sy ongekamde boskasie en sê sugtend: “Maar jy weet mos hoe is ma’s.”
Blikkies skud sy kop. Ja-nee, hy weet maar te goed. As hulle ’n ding sê, dan moet dit gedoen word. ’n Ou kan teëpraat en so lank as moontlik probeer uitstel, maar op die ou end moet dit maar gedoen word.
Die seuns stap saam na oom Henk, die haarkapper, toe. Sy winkel is in Kwaggaberg se hoofstraat.
Blikkies loop en kou. Hy dink aan niks in die besonder nie. Trompie loop ingedagte na graspolle en skop. Sy pet sit skeef op sy kop, sy kouse lê op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit.
Trompie dink aan die geld in sy broeksak. Dit sou darem lekker gewees het as hy vir hulle twee lekkers daarvan kon gaan koop. Maar nou moet hy dit gebruik om sy hare te laat sny – en hy het nie eintlik eers ’n haarsny nodig nie! Die lewe is darem maar moeilik. Trompie sug en trek terselfdertyd los en tref ’n graspol netjies met sy ingeduikte skoenpunt.
“Môre, oom Henk,” sê die twee seuns vir die gryskopman met die groot wit jas toe hulle by die haarkapper se winkel instap.
Oom Henk is al meer as dertig jaar die dorpie se haarkapper. Almal ken hom en hy ken almal. Hy kyk na Trompie se hare en brom: “Jy moes al ’n maand gelede hier gewees het.”
“Ja, Oom,” sê Trompie gedwee. Die seuns is maar skrikkerig vir oom Henk. Wanneer hy kwaad word, gee hy ’n ou sommer ’n oorveeg.
Trompie sit op die groot stoel. Die oubaas vat die skêr en begin sny.
“Nie te veel nie, Oom,” sê Trompie. “Ek wil dit nie te kort hê nie.”
“Stil, jy! Ek ken my werk en ek weet hoe jou ma jou hare gesny wil hê. Ek doen dit al van jy ’n bogsnuiter van twee is – en jy’s nog steeds ’n bogsnuiter!”
“Ja, Oom,” sê Trompie. Blikkies gaan sit op ’n bank teen die muur en grinnik.
Oom Henk sny behendig en vinnig. Terwyl Blikkies wag, lees hy ’n paar strokiesprente.
Uiteindelik is Trompie se hare gesny en netjies gekam. Hy kyk na homself in die spieël om te sien of sy paadjie mooi reg lê. Hy besluit sy hare lyk darem nie te sleg só nie.
Hy haal die geld wat sy ma hom gegee het uit om die oom te betaal, maar die oubaas sê: “Ek sal jou sê wat, Trompie. Jy kan die geld hou as jy vir my iets sal doen.”
“Wat, Oom? Sê net!” Trompie probeer nie eens sy gretigheid wegsteek nie. Blikkies staan nou ook belangstellend nader.
Die ou haarkapper kyk met sy waterige blou oë na die twee seuns. Hy weet hy kan hulle vertrou, maar hy wonder of hulle nie een of ander kattekwaad hier sal aanvang terwyl hy weg is nie.
Oom Henk voel aan die hare wat agter in sy nek al oor sy boordjie hang. Nee, hy moet dit vandag laat sny.
“Ek wil my hare gou op die buurdorp laat sny,” sê die oom. “Dit is maar net twintig kilometer hiervandaan. Ek sal so oor ’n uur terug wees. Pas julle vir my die winkel op en sê net vir enige kliënte wat my soek hulle moet oor ’n uur weer terugkom. Sal julle dit vir my doen?”
Trompie se ondeunde oë vonkel.
“Oom bedoel ons sit net hier en sê vir die mense wat hier kom, hulle moet later weer terugkom. En daarvoor kry ons die geld vir my haarsny?”
“Ja, maar ek trek jul nerwe af as julle enige kattekwaad aanvang. Julle sit doodstil en raak aan niks nie!”
Albei verseker oom Henk dat hulle dit nie sal waag nie.
Trompie het sy ma se geld weer terug, en die haarkapper is daar weg om sy hare te laat sny.
Die twee seuns gaan sit op die bankie teen die muur. Hulle sit doodstil en raak aan niks nie.
Maar dan begin Trompie skielik glimlag. Die glimlag word ’n grinnik en nou lag hy hardop.
“Wat’s dit met jou?” vra Blikkies en versit die grashalmpie waaraan hy kou behendig van die een kies na die ander.
“Ek lag sommer,” proes Trompie, “omdat oom Henk wat ’n haarkapper is, na ’n haarkapper toe moet gaan om sy hare te laat sny. Dis vir my snaaks, dis maar al.”
“Haarkappers is ook mense,” sê Blikkies ingedagte. “So hul hare groei mos ook en dan moet hulle dit laat sny. Ek dink nie dis snaaks nie.”
“Wel, ek dink dis baie snaaks,” sê Trompie en kyk nors na Blikkies.
“Ek dink glad nie dit is nie,” sê Blikkies lui.
Trompie gluur woes na Blikkies en wikkel sy neus op en af om sy vriend te laat verstaan dat hy nou moeilik is. Hy sê bars: “Ek sê dis snaaks, en as jy weet wat goed is vir jou, sal jy ook so sê.”
Blikkies kou peinsend.
“As dit vir my snaaks was, sou ek mos gelag het. En ek het nie.”
“So jy bedoel dis nié vir jou snaaks nie?” wil Trompie weet.
“Nee, dit is nie.”
“Wel, dit ís vir my!”
“Orraait, maar dis mos nie te sê dit hoef vir my ook snaaks te wees nie.”
Trompie bars skielik weer uit van die lag.
“Wat’s nou vir jou snaaks?” wil Blikkies weet.
“Ek lag sommer omdat ons so oor niks sit en stry nie terwyl ons baie ander dinge kan doen.”
Blikkies lag nou saam met Trompie. Dis nie vir hom snaaks dat ’n haarkapper na ’n haarkapper toe moet gaan om sy hare te laat sny nie, maar dit ís wel vir hom snaaks dat hulle twee so oor niks sit en stry nie.
Dan word dit weer stil in die haarkapperswinkel. Uiteindelik vra Blikkies die vraag waarvoor Trompie gewag het: “Watse baie ander dinge kan ons doen?”
Trompie skuif nader en vryf sy hande in die lug terwyl sy oë blink.
“My hare is gesny, nè, Blikkies?”
“Ja.”
“En dis mooi gesny, nè?”
Blikkies kyk na Trompie se hare. “Dis nie te sleg nie,” sê hy.
“Wel, ek sê vir jou, ek kan beter as oom Henk hare sny.”
Blikkies kyk agterdogtig na Trompie.
“Ja?”
“My hare is mooi gesny, maar kyk net hoe lyk jy – soos ’n orangoetang!”
Blikkies kyk onwillekeurig met groot oë na homself in die spieël. Sy hare is nogal lank, maar hy lyk darem nie soos ’n orangoetang nie.
“Ek sê jou wat, Blikkies. Ek sal jou vandag ’n groot guns doen, net omdat jy my goeie vriend is.”
“Wat?”
Blikkies lyk ongemaklik.
“Ek sal jou hare vir jou sny en jou nie ’n sent daarvoor laat betaal nie.”
“Nee dankie,” sê Blikkies vinnig. “Ek los my hare liewer soos dit is.”
Trompie stry nou kliphard met Blikkies. Hy wil so graag vir sy vriend die groot guns doen om sy hare te sny.
Blikkies byt egter nie. Hy wys Trompie se aanbod beslis van die hand en begin sommer weer ’n strokiesprent lees.
Trompie wys sy vriend op alles wat hy in die verlede al vir hom gedoen het, maar dit het geen uitwerking op Blikkies nie.
Trompie sê sy hare is nou so mooi gesny en gekam dat hy skoon skaam voel om saam met Blikkies in die straat te loop. Blikkies lyk regtig erg verwaarloos met sy ongekamde boskasie. Dit is vir Trompie ’n vernedering om saam met so iemand op straat te verskyn.
Maar Blikkies gee nie kop nie. Hy hou net aan om die strokiesprent te lees.
“Ek weet nou wie my vriende is en wie nie,” mompel Trompie. “Ek wil jou help om soos ’n ordentlike mens te lyk en wat kry ek daarvoor? Nie eers ’n dankie nie. Jy lyk nie net soos ’n misoes nie; jy’t ook g’n maniere nie!”
Blikkies kyk nou van die strokiesprent af op.
“Maar ek hét mos dankie gesê dat jy aanbied, maar ek wil rêrig nie hê jy moet my hare sny nie …”
“Hoekom nie?”
“Omdat dit dan nog slegter sal lyk as nou.”
“Dis onmoontlik!” sê Trompie verontwaardig. “Ek sny baie goed hare!”
“En waar het jy dit nogal geleer?”
“Ek hou my oë oop wanneer oom Henk myne sny.”
“Nee, Trompie,” sê Blikkies en tel die strokiesprent weer op. “Ek gaan nie dat jy my hare sny nie. Baie dankie.”
“Nie te danke nie … orangoetang!” brom Trompie vies en hy staan op.
Trompie staan nou voor die spieël. Hy het ’n kam in sy linkerhand en ’n skêr in sy regterhand. Hy knip-knip met die skêr in die lug en maak met die kam asof hy iemand se hare daarmee oplig en dan die punte afsny. Hy wil mos vir Blikkies wys hoe behendig hy is.
Sy bewegings is egter maar lomp – selfs hy kom dit agter. Hy sit die skêr en kam neer.
Nou kyk Trompie aandagtig na die verskillende blikkies en bottels haarmiddels op die glasblad voor die spieël. Hy voel oom Henk kon darem ’n bietjie olie aan sy hare gesit het.
Daar is ’n rooi roos op die een bottel. Trompie kan nie die etiket daarop lees nie, want dit is ’n vreemde taal. Maar die prentjie laat hom dink die olie ruik seker soos rooi rose. Hy besluit om dit te probeer.
Trompie haal die prop af en gooi van die botteltjie se inhoud op sy hande uit. Dan vryf hy dit oor sy hare. Van die olie loop by sy voorkop en agter sy ore af. Hy vryf dit weer terug na sy hare toe. Blikkies staan nader en hou Trompie dop. Hy dink sy boskasie sal minder soos ’n orangoetang s’n lyk as hy ook van die haarolie aansit en sy hare dan mooi kam.
Die twee seuns se koppe is vol olie en nou kam hulle hul hare. Trompie het ’n groen blikkie vetterige salf oopgemaak en daarvan ook op sy kop geplak.
Wanneer Trompie klaar is, kyk hy lank na homself in die spieël. Hy trek sy neus op en af, plooi sy voorkop wat blink van die olie, knipoog, draai sy kop effens skeef en loer dan uit die hoeke van sy oë om te sien hoe sy profiel lyk. Ja-nee, hy is tevrede. Hy wat Trompie is, is sowaar vir jou ’n mooi seun.
Hy kyk na Blikkies en kondig met simpatie in sy stem aan dat die haarolie in Blikkies se geval nie enige verskil gemaak het nie. Hy is bitter jammer om so iets te sê, maar Blikkies lyk vir hom nog maar steeds soos ’n orangoetang – nou net ’n blink, vetgesmeerde een.
“Moenie simpel wees nie,” sê Blikkies en smeer nog ’n handjie vol van die haarolie wat soos rooi rose behoort te ruik aan sy kop.
’n Kort buksie verskyn in die deur. Dit is Jannie, die posmeester se seun. Hy is nog op laerskool. Hy het eenkeer vir Trompie ’n kreunende ballon gegee en toe moes Trompie hom leer swem.
Jannie kyk verbaas na die twee groter seuns. Sy oë dwaal deur die vertrek. Hy soek oom Henk.
Trompie en Blikkies kyk na mekaar en dieselfde gedagte registreer in albei se oë. Hier is Trompie se kans om te bewys dat hy die kuns van hare sny verstaan!
“Kom in, Jannie, kom in!” Trompie vryf sy hande in die lug voor hom en glimlag vriendelik.
Jannie kom niksvermoedend binne. Blikkies glimlag. Iets laat hom skielik dink aan die storie van die vlieg wat in die spinnekop se web beland het.
“Wat kan ek vir jou doen?” vra Trompie en sit sy oliebesmeerde hand vriendelik op Jannie se skouer.
“Waar is oom Henk?” wil Jannie weet. “Ek het gekom om my hare te laat sny.”
“Nee, dis mooi, Jannie, dis mooi,” sê Trompie glimlaggend. “Oom Henk is nie hier nie, maar ons hou die fort hier. Ek sal jou hare sny!”
“O … nee … nee, dankie,” sê Jannie skrikkerig en begin deur toe retireer.
“O … ja … ja, ek sal.” Trompie kom nader aan Jannie. Blikkies beweeg vinnig tussen die seun en die deur in.
Jannie staan botstil. Hy besef daar is niks wat hy aan die saak kan doen nie. En wie weet, miskien sny Trompie regtig goed hare, want oom Henk sou hom mos nie hier gelos het as hy nie kan nie.
“Jy hoef nie bang te wees nie,” sê Trompie vriendelik. “Ek verstaan die kuns van hare sny.”
Jannie beweeg sleepvoet na die haarkapperstoel toe en gaan sit.
“Blikkies, kry my wit jas,” sê Trompie saaklik. Hy bekyk Jannie se kop peinsend en draai dit in verskillende rigtings.
Blikkies is in sy skik. Trompie gaan nie sý hare sny nie, maar Jannie s’n.
Daar hang twee wit jasse agter die deur. Blikkies gee die een vir Trompie en hy trek die ander een aan. “Ek is jou assistent,” deel hy sy vriend mee.
“Reg so. Jy moet net vinnig aangee as ek iets nodig het.”
Dit lyk amper of die twee seuns in die lang wit jasse ’n ernstige operasie gaan doen.
Jannie kyk strak na homself in die spieël. Sy oë is groot.
“Skêr,” sê Trompie ernstig.
“Skêr,” sê Blikkies ewe ernstig en oorhandig dit.
“Kam!”
Die kam word oorhandig.
Trompie knip-knip ’n paar keer met die skêr in die lug. Hy dink dit maak ’n goeie indruk, maar hy knip een of twee keer gevaarlik naby aan Jannie se oor. Die outjie buig effens weg en sy oë is nou nóg groter.
“Hoe wil jy jou hare hê, Jannie?” vra Trompie saaklik. “Heeltemal kort, of so tussenin, of lank?”
“So tussenin,” antwoord die kleintjie. “Oom Henk weet, want my ma het vir hom verduidelik hoe hy my hare moet sny sodat al die krulle nie afgeknip word nie.”
“Nee, maar dis reg. Dis al wat ek wou weet. Jou ma gaan baie tevrede wees. Ek sal jou hare baie beter as oom Henk sny.”
En toe begin Trompie sny. Hy knip ’n groot hap aan die een kant van Jannie se kop en staan effens terug om sy handewerk te bewonder.
“Jy moet goed oplet,” sê Trompie vir Blikkies en hy begin weer sny. “As ’n mens goed oplet, kan ’n mens baie leer.”
Jannie sit met sy oë styf toegeknyp.
Trompie sny vinnig. Daar kom al hoe meer groot happe in Jannie se hare, maar Trompie verduidelik vir Blikkies dat die ergste eers afgesny moet word – dan sal hy die kam gebruik om alles mooi netjies te kry.
Dit is lekker om die lang hare so met die linkerhand te vat en dan met die regterhand stomp af te sny. Trompie vergeet van die krulle waarop Jannie se ma so gesteld is. Hy knip te lekker en hy is seker Blikkies bewonder sy vaardigheid.
“So ja,” sê Trompie toe daar nie meer veel hare op Jannie se kop oor is nie, “nou gebruik ’n ou die kam om dit mooi netjies te sny.”
Trompie begin met die kam werk, maar Jannie kla dat hy sy hare trek.
“Moenie simpel wees nie,” sê Trompie. “Sit stil. Jy gaan vandag só goed lyk dat jou ma jou nie sal ken nie!”
Jannie sit nog steeds met styf toegeknypte oë.
Trompie sny bo-op Jannie se kop. Die kleintjie skree skielik: “Eina! Jy trek my hare!” en ruk weg.
Trompie is net mooi besig om te sny toe hy wegruk. Daar is nou ’n hand vol hare in Trompie se hand en ’n kaal kol op Jannie se kop.
Die kleintjie vryf die kaal kol.
Blikkies mompel: “Nou is dit vir jou ’n storie, hoor!”
“Dis sy skuld,” sê Trompie. “Hy’t weggeruk.”
“Jy’t my hare getrek!”
“Ek sou nie as jy nie weggeruk het nie!” snou Trompie.
Hy kyk peinsend na die plek met die kort hare.
“Daar is nou net een uitweg,” sê Trompie. “Ek sal jou hare moet kort afsny.”
“My ma gaan baie kwaad wees.”
Trompie en Blikkies kyk na mekaar. Hulle is skielik skrikkerig. Hulle wens hulle kan nou net verkas.
Trompie begin weer sny. Al wat hy nou kan doen, is om al Jannie se hare ewe kort, teen die kopvel, af te sny. Gelukkig is dit glad nie moeilik nie.
Uiteindelik is Trompie klaar. Jannie maak sy oë oop. Hy lyk soos ’n spook met sy bleek gesig, groot oë en stomp afgeknipte hare.
“Dit lyk mooi,” sê Trompie. “Kort hare lyk altyd baie mooier as lang hare vir ’n ou soos jy. Dit spaar ook baie tyd en moeite, want nou hoef jy jou hare mos nie meer te kam nie. Jy moet dit vir jou ma sê as sy daaroor kla, hoor.”
“Ek sal, maar ek dink sy gaan baie kwaad wees,” antwoord Jannie.
Trompie sien nou Jannie se hare is nie mooi gelyk nie, al is dit so kort afgesny. Daar is dele wat dikker en donkerder as ander lyk.
“Ek sê jou wat, Jannie,” sê Trompie vriendelik. “Omdat jou hare so mooi kort is, maar jy dit eintlik effens langer wou gehad het, sal ons jou hare skeer – verniet! Jy betaal niks ekstra nie!”
Jannie sug maar net. Sy oë is weer styf toegeknyp.
Trompie het die lang wit skeermasjien in sy hand. Blikkies druk die kragpunt in die muur.
Toe die skeermasjien aangeskakel is, kom Trompie daarmee na Jannie se kop toe. Hy kyk stip na ’n swart kol waar die hare dik is, bring sy hand vinnig vorentoe en skeer die hare. Jannie vlieg uit die stoel.
“Eina! Sjoe! Eina!” skree hy. “Jy’t my raakgesny!”
“Moenie laf wees nie,” sê Trompie, maar skakel die skeermasjien af. Miskien kan ’n ou nie iemand se hare skeer as dit so kort op die vel is nie.
Trompie en Blikkies kry Jannie uiteindelik tot bedaring en praat vriendelik met hom. Wanneer hy alles vir sy ma vertel, wil hulle darem ook hê hy moet vir haar sê hoe gaaf hulle met hom was. Hopelik sal dit as versagtende omstandighede dien.
Hulle betakel sy kop met die haarolie wat soos rooi rose behoort te ruik en Jannie hou nogal daarvan. Trompie belowe ook hy sal môre vir hom ’n handvol lekkers gee.
Jannie betaal vir die haarsny en stap daar uit met sy kort geknipte hare en blink, oliebesmeerde kop.
Die twee groot seuns vee Jannie se afgesnyde krulle op en pak alles netjies reg. Hulle gaan staan net mooi in die deur toe oom Henk daar aankom.
“En toe?” vra hy. “Was hier enige kliënte?”
Trompie sluk en sê vinnig: “Net een seuntjie, Oom, en ons het hom toe sommer gehelp. Hier is die geld wat hy betaal het.” Trompie gee Jannie se geld vir oom Henk.
“Wat het julle gedoen?” vra die oubaas verbaas.
“Die outjie wou ’n haarsny hê, Oom weet, toe help ons hom maar …”
Blikkies staan ’n entjie agter Trompie. Hy sien skielik hoe Jannie en sy ma – die tannie stap voor, vinnig en vasberade – na die haarkapperswinkel toe aankom. Blikkies trek hard aan Trompie se hemp wat uithang en beduie straat toe.
“Vertel my presies wat julle met die seuntjie gedoen het …”
“Ons is haastig, Oom,” sê Trompie en hy en Blikkies mik vinnig deur toe. “Daar’s nie ’n probleem nie, Oom. Ons het niks verkeerd gedoen nie.”
Trompie en Blikkies glip by die winkel uit en verdwyn om die hoek van die gebou, net mooi toe Jannie se woedende ma met haar seuntjie sonder sy krulle by oom Henk instorm.
Die twee seuns verdamp vinnig na hul onderskeie huise.
Toe Trompie by die Toeriens se tuinpaadjie afstap, trek hy los en skop ’n dahlia netjies raak. Die blom trek met ’n boog deur die lug.
Trompie tel die dahlia vinnig op en loer oor sy skouer of sy ma, pa of suster hom nie miskien gesien het nie. Dan skop hy die blom met ’n pragtige skepskop oor die heining.
Ja-nee, sug hy toe hy weer aanstap, die lewe is maar moeilik. Hy het vandag gedink hy doen ’n goeie ding deur klein Jannie se hare te sny, maar hy voel sommer aan sy bas hy is al weer in die moeilikheid.
Trompie wonder wat oom Henk en Jannie se ma gaan doen. Die tannie lyk vir hom na iemand wat lelik moeilik kan raak.