Читать книгу Wag 'n bietjie - Tryna du Toit - Страница 5
ОглавлениеHoofstuk 2
Hoofstuk 2
Met ’n gefronste voorhoof en ’n misnoegde uitdrukking op haar gesig staan Magrieta Niemeyer voor haar oop hangkas en wonder radeloos wat sy die middag sal aantrek vir die onderhoud met die prokureur. So graag sou sy die indruk van rykdom en weelde wou skep; die boer moet tog nie dink dat sy bitter graag ’n paar honderd van tant Katrien se pondjies wil hê nie.
Gedurende die lang, stikkende ure van die nag toe sy slapeloos rondgerol het, het sy besluit dat dit die beste sou wees om die hele affêre as ’n grap te beskou, glimlaggend te verwys na die eksentrieke tant Katrien, en met ’n onverskillige gebaar die hele episode af te handel … miskien met die opmerking dat sy gelukkig nie die geld nodig het nie. Maar sy moet darem paslik geklee wees vir die rol, sy kan nie prinses speel in ’n bedelaar se flenters nie.
Maar die hangkas lewer niks nuuts op nie. Daar is maar net die paar kantoorrokkies, twee tennisrokkies, ’n donkerblou kerkrok wat vir alle deftige geleenthede moet diens doen en ’n swaar donkergroen linnerok, mooi genoeg en deftig genoeg, maar eintlik te warm vir die drukkende somersdag. Maar met ’n sug haal sy dit uit om dit te stryk. Die diepgroen is koel en staan haar baie goed en sy sal maar maak asof dit nie so warm is nie. Die indruk van weelde sal maar verder geskep moet word deur spesiaal baie moeite te doen met haar toilet.
Kosie het die hele môre soos ’n broeis hoenderhen daar rondgesit, bedruk en prikkelbaar soos sy Kosie glad nie ken nie, totdat Magrieta hom naderhand maar gevra het om vir hulle tee te maak.
In stilte drink hulle. Dit is Kosie wat eerste praat.
“Magrieta?”
“Ja, Boet?”
“Ek het vannag besluit!” Foei tog! dink sy, kon jy ook nie slaap nie? “Ek sal maar gaan werk. Dis nie billik teenoor jou dat ek nog verder so ’n las op jou skouers is nie. Jy het alreeds soveel vir my gedoen. Ek gaan nie toelaat dat jy langer daarmee aanhou nie.”
Kosie se gesig is rooi van skielike verleentheid, maar sy hele wese spreek van vasberadenheid: die lippe so ferm opmekaar gepers, die ernstige blou oë, sy hele besliste houding. En meteens is Kosie nie meer die ou seuntjie wat altyd na haar toe gekom het vir troos en leiding nie. Die jong seun wat by tye so moeilik en onverantwoordelik was en haar onwetend soveel kommervolle ure besorg het, is weg. Die man wat Kosie gaan word, skemer skielik deur en Magriet kyk in stilte na hom.
“Ek het ongelukkig nie vir die staatsdienseksamen ingeskryf nie; ek moes eintlik, maar ons was so seker tant Katrien sal ons help. Ek kan gelukkig dadelik begin met tydelike werk. Ou Peet werk al klaar en hy het ’n oom wat belowe het om my ook te help om werk te kry. Dis maar omdat jy siek was dat ek nog nie wou begin nie.”
Kosie heeldag opgesluit tussen vier mure, Kosie wat so hartstogtelik lief is vir die vrye natuur daar buite, wat die landboukursus wou volg met die vurige hoop dat hy later werk sal kry wat hom baie in die buitelug bring!
“Nee wat, Kosie, dit gaan ons nie doen nie. Ons het sover klaargekom en ons sal verder ook klaarkom.”
“Hoe?” vra hy bitter.
“Ek sal weer ’n verhoging kry …”
“’n Pond ’n maand? Dit behoort ons baie mooi deur te help!”
In stilte bly Magrieta sit, hartseer en ongelukkig oor die bitterheid in Kosie se stem wat op so ’n ondubbelsinnige wyse die verlange van sy hart verraai.
“Ek kan universiteit toe gaan en werk dat ek die kromme note haal,” bars hy weer los, “en miskien ’n beurs van dertig pond of so kry, maar waar sal dit ons bring?”
“Saam met die versmaaide verhoging sal dit oneindig baie help,” sê sy sag.
“Ek het dit nie versmaai nie, Griet. Ek … ek wil net nie hê jy moet langer so swaarkry nie. Kyk hoe bleek is jy! En jy weet die dokter het gesê jy moet weggaan en rus.”
“Die dokter praat onsin. Jy weet ek is so taai soos ’n ratel. Dis maar net die griep wat my so ’n bietjie platgetrek het. Ek is al klaar weer reg.” Dank die Here vir ons goeie gesondheid, dink sy. As daar nog doktersgeld moes bykom …
’n Bietjie voor drieuur die middag stap Magrieta Johannesburg se stasiegebou uit. Die prokureur se kantoor is nie ver daarvandaan nie, sy sal maar stap. Sonder om te versuim stap sy dan ook verder, deftig en onberispelik geklee in die donkergroen linnerok met hofskoene, handskoene en ’n handsak van ’n mooi donkerbruin daarby en ’n wit breërandhoed op haar pragtige hare.
’n Paar minute ná drie kom sy by die prokureur se kantoor aan, oënskynlik koel en kalm, maar in werklikheid met ’n onstuimig kloppende hart en ’n aaklige, hol gevoel op haar maag. Sy groet meneer Barnard, ’n klein, effens gesette mannetjie met ’n opvallende geel gelaatskleur en wakker swart ogies.
Toe sê hy: “Juffrou Niemeyer, laat my toe om meneer Retief aan u voor te stel. Juffrou Niemeyer – meneer Retief.”
Magrieta was met haar binnekoms skerp bewus van die teenwoordigheid van die derde persoon in die kamer, maar sy het opsetlik gemaak of sy hom nie sien nie. Maar nou draai sy stadig om na hom en koel sê sy: “Goeiemiddag, meneer Retief.”
Die man staan met sy rug na die venster en vir ’n paar oomblikke, half verblind deur die skerp lig en te ongemaklik om reguit na hom te kyk, is sy net bewus van ’n breedgeskouerde jong man van oor die ses voet lank. Dit lyk of hy sy hand wil uitsteek om te groet, maar op Magrieta se koel groet antwoord hy ook met ’n beleefde “Goeiemiddag, Juffrou.”
“Kom sit, asseblief,” sê meneer Barnard en bied elk ’n stoel aan terwyl hy self ook weer agter sy lessenaar gaan sit. ’n Paar oomblikke rol hy peinsend ’n potlood tussen sy vingers, en Magriet laat haar blik maar deur die kamer dwaal … enige plek behalwe na die kant toe van die man wat hier langs haar sit.
Toe meneer Barnard weer praat, bring sy haar blik van die plafonhoek af terug en luister afwagtend na hom.
“Julle is albei bekend met die inhoud en bepalings van my oorlede kliënt se testament. In hoofsaak is julle twee en juffrou Niemeyer se broer, Jacobus, die enigste erfgename. Maar die erflatings is aan die voorwaarde onderworpe dat julle twee binne sewe dae van vandag met mekaar trou en gedurende ’n onafgebroke tydperk van minstens ses maande as man en vrou saamwoon.”
Sy stem is kalm asof dit doodgewone voorwaardes is wat onder bespreking is. “Dis nie my taak om haar handelswyse te kritiseer nie. Sy was ’n dame met baie vaste oortuigings en sy het haar nie maklik laat beïnvloed nie.” Hy bly ’n rukkie stil, toe sit hy skielik die potlood neer en kyk beslis op. “Julle het ’n volle week tyd. Moenie haastig wees nie. Dink goed na oor die saak voor julle tot ’n besluit kom. Maar binne ’n week van vandag af moet die huwelik voltrek wees en eers ná ses maande dat julle as man en vrou saamgewoon het, gaan die erflatings oor na julle en Jacobus.”
Diep onder die indruk van die formaliteit van die geleentheid, haar stem koel en afkeurend, sê Magrieta: “Meneer Barnard, ek het u tog duidelik laat verstaan dat ek geensins belang stel in my tante se geld nie, nie op die voorwaardes waarop sy dit nagelaat het nie.”
“Ek begryp dit goed, juffrou Niemeyer. Maar ek wil graag hê julle moet goed nadink voor julle finaal van die erflatings afsien. Ek verstaan maar te goed jul eerste reaksie teenoor dié uiters vreemde testament, maar ses maande is gou verby en … wel …” Hy haal sy skouers op. “As julle nie belang stel in die plaas en die geld nie, gaan dit na ’n tehuis. Maar ek wil graag hê dat dit na julle toe moet gaan. En ek weet dat mevrou Reyneke dit baie graag so wou hê.”
Vol bitterheid dink Magriet: Waarom dan die onaanneemlike voorwaarde? Maar sy sê niks en die man bly ook stil.
“Sal julle ’n bietjie daaroor gesels?” vra die prokureur toe hulle opstaan om te gaan, “en my dan later van julle besluit verwittig?”
Voordat Magrieta kan antwoord, sê die jong boertjie met ’n diep, aantreklike stem: “Ek hoop juffrou Niemeyer sal darem ’n koppie koffie saam met my kom drink.”
Magrieta kyk na hom, die eerste maal dat sy eintlik reguit na hom kyk vandat sy die kantoor binnegekom het. Verbeel sy haar dit of is daar ’n glimlag in sy stem? Sy kyk op, vas in twee donkerbruin oë, en ja, die glimlag is in sy oë ook. Nou ja, sy het mos ook besluit om dit as ’n grap te beskou. Waarom dan so vererg voel omdat dit die jong man blykbaar ook amuseer?
“Ek moet ’n trein terug na Pretoria haal,” sê sy koel. “Ek is jammer, maar …”
“Nou kom, ek sal saam stasie toe stap. Dan kan ons verneem wanneer die volgende trein na Pretoria vertrek en miskien is daar nog genoeg tyd vir ’n koppie koffie.”
Hierteen kan Magrieta geen beswaar maak nie, anders lyk dit nog of sy haar die hele affêre so aantrek dat sy nie eens vyf minute in die man se geselskap kan deurbring nie.
Die verkeer op pad na die stasie is druk en sonder om te gesels vleg hulle vinnig tussen die mensemassa deur.
Toe hy alleen wegstap om navraag te gaan doen in verband met die treine kyk Magrieta hom agterna. ’n Boer? Dié welgeklede man, so op sy gemak, so seker van homself selfs hier in die drukte en die gewoel van die goudstad? Wat ’n interessante persoon, dink sy. Hy stap asof die ganse wêreld aan hom alleen behoort. Wat ’n vasberade mond en ken … en dan weer, in teenstelling, die vriendelike, tergende bruin oë! ’n Boer? In elk geval nie haar idee van ’n boer nie!
Die volgende trein na Pretoria vertrek eers oor ’n driekwartier. Magrieta is honger en dors en warm, en sonder om verder teë te praat stap sy saam met hom na die verversingskamer. Hy bestel koffie en toebroodjies, toe stoot hy die spyskaart wat voor hom gestaan het weg terwyl hy sê: “Ek dog die son skroei daar by ons, maar julle oortref ons nog.”
Gemaklik, sonder verleentheid, praat hy en sy dink: As die boer dit kan doen, kan ek dit ook doen. Dis in elk geval veilig om oor die weer te gesels.
“Dis nog erger in Pretoria. Daar brand ons amper dood. Dis omdat dit so bitter droog is op die oomblik.”
Sy blik rus op haar gesig, hy neem die volmaakte beenstruktuur van die fyn gesiggie waar en die gedagte kom by hom op dat as sy eendag oud is, sy net so mooi sal wees soos nou. Dis skoonheid van been en adel van gees wat baie dieper lê as die oppervlakkige skoonheid van die jeug. Maar waarom die skaduwees wat so diep onder die groen oë lê? Waarom is die fyn gesiggie so bleek? Vanwaar die trek van vermoeienis wat om die mooi mond lê wanneer sy, verdiep in haar eie gedagtes, ’n oomblik lank sy teenwoordigheid vergeet?
Half afgetrokke sê hy: “Ja, as dit nie nou goed reën nie, sal die mielieboere maar sleg vaar.”
“Is jy ook ’n mielieboer, meneer Retief?” vra sy onnadenkend, darem maar nie heeltemal op haar gemak in die boer se geselskap nie.
Die een donker wenkbrou gaan op. “In die Karoo? Nee, Juffrou, ek is ’n skaapboer.”
Skielik verleë oor haar onnosele vraag – sy weet dit tog immers – dompel sy haar nog verder in die verleentheid deur te sê: “Jy lyk nie na ’n boer nie, meneer Retief.”
Barry Retief lag.
“Het jy verwag dat ek ongeskeer in my kakiehemp en -broek en met ’n rol pruimtabak in my sak hier sal aankom, Juffrou?” En toe sy hewig bloos, vervolg hy laggend: “Selfs ’n boer moet darem ook ’n kispak hê, Juffrou. Dis noodsaaklik vir sy krediet.”
“Ek … ek … het dit nie so bedoel nie.”
“Hoe het jy dit dan bedoel?” hou hy aan.
“Ek … ek … weet nie,” stamel sy, ’n oomblik totaal van stryk gebring.
“Toe maar, ek weet,” terg hy nog. “Dis seker maar stadsnooientjies se algemene opvatting van ’n boer. So ’n Kaspaasfiguur met ’n ruie bos baard. Ek is jammer jy is teleurgesteld, Juffrou.”
Sy glimlag effens.
“Ek is nie té teleurgesteld nie. En dis ’n baie mooi kispak, meneer Retief.”
Dit is werklik ’n mooi pak van ’n ligte somerstof en die das wat hy daarby aan het, kan nie beter pas nie. Maar Magrieta se stem is spottend en met ’n glimlag ignoreer hy die opmerking. Die koffie kom en Magrieta skink dit vir hulle in. Met sy oë op die fyn wit hande wat die koffiepot en die melkbeker so lig en met grasie hanteer, sê Barry stadig: “Het jy mevrou Reyneke geken, juffrou Niemeyer?”
Sonder om na hom te kyk sê sy: “Sy was my tante.”
“Ek weet!” kom dit droogweg.
Magrieta kyk versigtig na hom, maar die bruin oë verraai niks nie en koel sê sy: “Ek het haar nie baie goed geken nie. Ek het haar ’n paar maal gesien kort voor sy oorlede is.”
“Wat het jy haar dan aangedoen dat sy so ’n testament moes maak?”
Verras en vererg kyk sy vinnig na hom en hy sien die skielike twyfel en ongeluk in die gevoelvolle oë voordat sy, bewus van die skerp oë wat haar so deurdringend aankyk, vinnig weer wegkyk. Sy antwoord hom nie, haal net haar skouers op en gaan aan om haar koffie te drink.
Ná ’n stiltetjie vra hy weer: “Jou ouers is albei dood, nie waar nie?”
“Ja.”
“Hoe lank al?”
“My pa byna vier jaar, my ma twaalf.”
“Hoe oud is jou broer?” vra hy belangstellend.
“My broer is agtien jaar oud.”
“En jy, Juffrou?” vra hy sag, ’n glimlag om sy mond. “Hoe oud is jy?”
Sy kyk na hom, koel en uitdagend, toe sê sy, haar stem heuningsoet: “Oud genoeg om te weet wat ek doen. En nou, meneer Retief, sal ons liewer weer oor jou kispak gesels? Sê my tog, is dit van jou eie skape se wol gemaak?”
’n Oomblik kyk hulle in mekaar se oë, byna asof hulle kragte meet, toe sê hy: “Ja, Juffrou. My vrou het dit self gespin en geweef en gemaak.”
“Jou vrou?”
“Ja. O, ek het ’n paar maande gelede jakkalsgif in haar pap gegooi. Sy het sulke aaklige flou koffie gemaak.”
’n Liggie begin in Magriet se oë flikker, maar sy hou haar blik bedees op die tafel gerig.
“Wat ’n verlossing was dit tog seker nie vir haar gewees nie.”
“Ek weet nie, sy was baie lief vir my!” Onverwags sê hy, sy blik deurdringend: “En jy sê jy het geen belang by mevrou Reyneke se geld nie?”
Koel en beslis, met ’n waarskuwing in haar stem, antwoord sy: “Nee, meneer Retief, ek het geen belang daarby nie.”
Tot haar verbasing sê hy nie ’n woord verder daaroor nie. Maar toe hulle na die trein stap, vra hy ewe ongeërg: “Ek gaan ook vir ’n paar dae Pretoria toe. Gee jy om as ek saamry, Juffrou?”
O so! dink sy. So-o!
“Gaan jy vir sake?” vra sy beleef.
“Ja, sake … en ander dinge ook,” antwoord hy, ’n glimlaggie om sy mond.
’n Kruier gaan haal sy koffer en jas uit die bewaarkamer waar hy dit die oggend gelaat het, en saam stap hulle na die Pretoria-trein.
“Het jy nie ’n jas gebring nie, Juffrou?” vra hy skielik.
“’n Jas? In dié hitte?” vra sy verbaas, en skielik sien sy die blou stapels donderwolke wat so onheilspellend naderkom. “O my magtie! Ek het nooit gedink dit sal reën nie.”
“Vanmiddag spoel ons weg,” sê hy. “Sal daar iemand op die stasie wees om jou te kom afhaal?”
Sy skud haar kop.
“Ek was self nie seker hoe laat ek sou terugkom nie …”
Die trein is gepak en telkemale loer die mense onrustig agter hul koerante uit na buite, na daar voor waar die blouswart weer grimmig en dreigend wag. Ek moes darem maar my reënjas gebring het, dink Magrieta. Met ’n frons tussen haar fyn, donker wenkbroue kyk sy na die verbyvlietende velde waaroor die donker wolkskaduwees vinnig beweeg. Sy vertrou die man se Pretoria-toe-ganery glad nie. Watter kamtige sake het hy nou ewe skielik in Pretoria? ’n Baie aangename en aantreklike jong man, maar blykbaar weet hy dit self ook en hoe minder sy van hom sien, hoe beter. Versigtig loer sy na hom waar hy langs haar sit en koerant lees en vind sy oë glimlaggend op haar gerig. Half vererg, koel vraend kyk sy na hom. Hy leun nader na haar en bo die geraas van die trein sê hy naby haar oor: “Ek het maar sommer gelag.”
Toe hy haar afkeurende maar darem nuuskierige blik sien, vra hy: “Wil jy regtig weet?”
Sy skud haar kop, maar hy leun tog nader en sê: “Ek het maar sommer gelag omdat ek amper ’n vrou met die naam van Grietjie gehad het.”
Tot haar ergernis bloos sy weer effens, maar sy probeer darem koel sê: “Juffrou Margaretha Helena Niemeyer is die naam.”
Die storm bars meteens om hulle los en knetterend stort die reën op die dak en teen die vensterruite van die trein wat so vinnig deur die grys namiddagskemerte beweeg. Daar is hael in die lug en ’n koel luggie kom onverwags by die venster in. Met ’n besorgde blik na die meisie wat so sonder jas daar sit, staan Barry Retief op en maak die venster langs haar toe.
“Hoe oud het jy gesê is jy?” vra hy toe hy weer sit, maar sy maak of sy hom nie hoor nie en in stilte sit hulle so tot hulle, nie lank daarna nie, die Pretoria-stasie binnetrek.
“Hoe op aarde gaan ek jou droog by die huis kry?” vra hy besorg toe hulle saam die perron afstap terwyl die reën eenvoudig neergiet.
“Ek sal my self daar besorg, dankie,” antwoord sy, maar hy steur hom nie aan haar nie. Hy roep ’n kruier en vra hom om ’n huurmotor te bestel.
“Dis nie nodig nie, dankie,” sê sy haastig, die indruk van weelde wat sy wou geskep het heeltemal vergete. Maar die Niemeyer-finansies het ’n laagtepunt bereik wat nie sonder ’n groot terugslag die huurmotorfooi kan dra nie. “Die bus is net buitekant die stasie.”
“Wel, ek gaan seer sekerlik nie met die bus nie,” sê hy. “Dus kan jy maar net sowel saam met my ry.”
“Waar gaan jy tuis?”
“Ek weet nog nie, moontlik by die Residensie. Waar woon jy, Juffrou?”
“By my broer, baie ver van die Residensie af.”
Buite drom die mense wagtend saam en die busse word bestorm die oomblik toe hulle aankom. Barry Retief kyk betekenisvol na haar, maar sy maak of sy dit nie sien nie. Die volgende oomblik hou ’n motor voor hulle stil.
“Kom, hier is ons huurmotor,” sê hy. Hy hang sy jas om haar skouers en stoot haar nader. “Nou toe, vinnig spring.”
“Maar … ek … ek … jy sal nat word.”
“Spring! Ek word al klaar nat,” en sy spring toe maar.
“Nou toe, waar woon jou broer?” vra hy toe hulle langs mekaar op die agterste sitplek sit en die huurmotor vinnig vorentoe beweeg. Sonder verdere teëpraat – wat sal dit haar tog baat om teë te praat? – gee Magriet hom haar adres.
“Ek sal ’n paar dae in die stad wees. Ek sal jou graag weer wil sien en met jou broer ook wil kennis maak, Juffrou.”
Magriet antwoord hom nie, maar kyk stip voor haar. Sy het nie die minste plan gehad om hom weer te sien nie, intuïtief weet sy dat daar groot gevaar in skuil. Hy is ’n man teenoor wie jy gedurig op jou hoede moet wees of hy sal baie gou in besit wees van feite wat sy ten alle koste van hom wil wegsteek. En solank sy hom nog sien, sal die gedagte aan tant Katrien se geld wat so amper-amper hulle s’n was telkens herrys om die lewe vir haar en Kosie te versuur.
“Ek kan sommer sien jy gaan sê jy is jammer, maar …” sê hy. “Ag kom, waarom dan so onvriendelik?”
“Ek … ek is nie onvriendelik nie, meneer Retief, maar ek dink dis beter dat ons mekaar nie weer sien nie. Ek begin môre weer werk en ek sal baie besig wees.”
Barry Retief leun stil agteroor in die motor en sy bruin oë lag nou nie meer nie. Hy sê niks weer voordat die huurmotor voor Magriet se losieshuis stilhou nie. Die reën omhul genadiglik die losieshuis en die tuin in ’n mistige mantel sodat dit ’n beter vertoning maak as op ’n helder sonskyndag.
Magrieta wend haar tot die jong man en dié keer steek sy haar hand uit.
“Tot siens, meneer Retief, en baie dankie vir jou vriendelikheid.”
Hy neem haar hand in syne, warm en vas, en sê: “Ek is nie tevrede nie, maar … tot siens.”
’n Lang ruk lê haar hand in syne terwyl hulle in die halfskemer van die donker reënmiddag na mekaar kyk. Tot siens! Dis beter so, het sy gedink. In ander, gelukkiger omstandighede … wie weet? Sy trek haar hand weg; hy maak die deur vir haar oop en met ’n gevoel van eensaamheid en bedruktheid stap sy die paadjie op.