Читать книгу Wag 'n bietjie - Tryna du Toit - Страница 6
ОглавлениеHoofstuk 3
Hoofstuk 3
Die volgende oggend moes Magrieta weer begin werk.
Dit was ’n lieflike oggend met skoongewaste blou lug, voëls wat aanhoudend tjirp en sing, duiwe wat salig koer bo in die veiligheid van die ou dennebome, blomme wat dankbaar hul weelderige geure versprei. Bekommerd is sy werk toe, skaars bewus van die mooi oggend en die son se strale wat so strelend op haar skouers val.
Kosie het aan die ontbyttafel gesê dat hy daardie dag begin werk soek en Magrieta het hom nie teengegaan nie. Laat hom maar soek, het sy gedink, daar is nog meer as ’n maand tyd voordat die universiteite begin. Voor dan sal ek wel ’n plan beraam het. Maar Kosie is moeg en oorspanne, hy het ’n vakansie nodig voordat hy sy studie aanpak en sy voel glad nie gelukkig by die gedagte dat hy gaan werk nie.
Dit was te warm om vir middagete huis toe te gaan en toe sy laat die middag ná ’n vermoeiende dag op kantoor moeg en warm tuis kom, is Kosie nog nie daar nie. Sy gaan bad en trek ’n koel, wit moulose tennisrok aan. Dit word later etenstyd, maar Kosie daag nie op nie. Waar sou hy tog bly? wonder sy onrustig. Dit het haar baie gehinder dat Kosie die hele dag so aan homself oorgelaat word terwyl sy op kantoor is. Sy beste vriende is almal weg met vakansie en netnou is dit weer verkeerde geselskap. Kosie word groot en selfstandig, hy laat hom nie meer so maklik deur haar lei en beïnvloed soos vroeër nie. Hy het ’n pa se sterk hand nodig, sy wysheid en raad en standvastige voorbeeld.
Toe die losieshuiseienares ’n rukkie later ’n boodskap van Kosie vir haar bring, is sy nog steeds bekommerd. Kosie het laat weet hy eet by ’n vriend, maar hy sal vroeg tuis wees.
Sy probeer eet, maar stoot die kos weer net so opsy, neem haar koppie tee en gaan na haar kamer. Sy wonder waar Kosie is, maar is eintlik te moeg om haar daaroor te bekommer. Lank lê sy in die donker op haar divan, maar later staan sy op, skakel die lig aan, kam haar hare en neem ’n boek terwyl sy vir Kosie wag. Om sy ontwil moet sy maar die skyn bewaar dat alles reg is. Kosie is self moedeloos genoeg. As sy nog moet toegee aan die neerslagtigheid … Maar dis net vanaand dat dit so donker lyk. Môre sal sy die wêreld met nuwe moed en geesdrif aanpak.
Doelbewus vermy sy dit om aan tant Katrien se testament te dink, maar skielik skiet ’n nuwe gedagte haar te binne. Sou die jong man net so teleurgesteld wees soos sy en miskien ook te hoogmoedig om dit te erken? Het hy ook met groot moeite die kispak uitgesoek met die bedoeling om ’n goeie indruk te maak? Sou tant Katrien nou regtig gedink het so ’n huwelik kon slaag?
Sy is bly toe sy Kosie se voetstappe in die gang hoor. Liggies klop hy aan die deur, maak dit oop en staan terug … en die volgende oomblik is Barry Retief in die kamer. Sorgvuldig sit sy haar boek neer en langsaam staan sy op. Is dít Kosie se vriend? Die selfversekerde, astrante, ongevoelige jong man wat hom teen al haar wense en begeertes hier aan hulle kom opdring? Hoe durf hy dit doen? Magrieta is wit tot aan haar lippe. Koud en onvriendelik staar sy hom aan en wend geen poging aan om sy groet te beantwoord nie. Maar hy kom tog nader, tot reg voor haar, kyk af in die vyandige groen oë en sê verontskuldigend: “Is jy baie kwaad vir my, Magrieta?”
“Is my gevoelens dan van enige belang, meneer Retief?”
“Ek weet ek verdien dit. Maar dis jou eie skuld. Jy weet ons kon dinge nie so laat nie en jy het botweg geweier om my weer te sien.”
“En toe knoei jy agter my rug?”
“Dis al wat ek kon doen.”
Sy kyk na hom, haar oë groen vlamme in die wit gesig.
“Ek sal jou dit nooit vergewe nie! Nooit! Nooit solank ek lewe nie!” En toe, bitter: “En het jy toe alles uit Kosie getrek wat jy wou weet?”
Kosie, wat ook nadergekom het, onrustig, half skuldig toe hy sien hoe kwaad sy suster is, word rooi en kyk verleë na haar. Maar die jong man staan sy man.
“Ja. Ek het alles uitgevind wat ek wou weet.”
“En wat het jy toe alles uitgevind?”
Die bitterheid in haar stem sny soos ’n mes deur Barry Retief se hart. Sy oë, donker en onpeilbaar, rus lank op die meisie voor hom, toe sê hy sag: “Ek het uitgevind dat Kosie ’n suster het soos ek baie graag sou wou gehad het, dapper, vol moed en volharding, en ek is jammer dat ek haar vanaand verder ongelukkig maak.”
“Maar dat Kosie enige lojaliteit teenoor sy suster verskuldig is, het nie een van julle bygeval nie?”
“Moenie nou vir Kosie ook kwaad word nie. Dis alles my skuld. Ek het Kosie vanmôre gebel en hom gevra om saam met my te kom tee drink en toe het hy die dag saam met my deurgebring.”
Het Kosie die hele dag saam met Barry Retief deurgebring in die vertwyfelde, ongelukkige stemming waarin hy was? Nie vir een oomblik het sy gedink dat die jong boer so ver sou gaan nie. En noudat hy alles weet wat hy graag wou weet?
Kosie kom langs haar staan en sit sy arms om haar, soos hy al so baie maal gedoen het as hy weet hy het verkeerd gedoen. Daar is ’n opgewonde flikkering in sy oë wat Magrieta onrustig laat voel, maar sy kan nie nou voor die man met hom gesels nie. Sy stoot hom sag weg en sê: “Toe maar, Kosie, jy kon dit seker nie help nie.”
“Kosie,” sê Barry Retief meteens, “ek wil ’n bietjie met jou suster gesels.”
“Ek wil nie met jou gesels nie,” sê sy driftig. “Bly hier, Kosie.”
“Asseblief, Kosie.” Sy stem is gebiedend en Kosie, wat verleë staan en wag het, draai om en stap na sy kamer.
Minagtend kyk Magrieta hom op en af.
“Nou kan ek sien dat jy ’n boer is: ’n onbeskaafde, ongevoelige, opdringerige renostervelboer.”
Hy kyk haar vas in die oë.
“My liewe rooikoprissie, dit help nie om my te beledig nie. Maar jy is in te ’n verkeerde bui vanaand. Ek sal maar liewer môre as jy ’n bietjie afgekoel het weer met jou kom gesels.”
“Ek wil jou nooit weer voor my oë sien nie. As jy iets vir my wil sê, sê dit nou.”
Die jong man se oë flikker.
“Wel, as jy nou daarop aandring …”
Magrieta byt haar onderlip vas en sê nie ’n woord verder nie.
“Nou goed, juffrou parmant. Maar voor ons verder gaan, wil ek dit vir jou sê: As dit ’n boer se prerogatief is om onhoflik, stuurs en onmanierlik te wees, dan is jou boerebloed darem ook nie te verbloem nie. Ek het jou in alle vriendelikheid gesê dat ek graag met jou wil gesels, maar nee, juffrou is te fyn ontwikkel, te beskaaf om ’n halfuurtjie met ’n takhaar-Karooboer te gesels. En hier staan ek nou al byna ’n kwartier lank in jou kamer en jy het my nog nie eens gevra om te sit nie.”
Magrieta kyk hom aan, haar gesig uitdrukkingloos. Koel sê sy: “Ek het jou nie na my kamer genooi nie.” En ná ’n oomblik, asof sy daartoe geforseer is: “Maar terwyl jy nou hier is, wil jy nie sit nie?”
“Nee, dankie. As jy nie beter kan doen nie, sal ek liewer staan.”
“Nou praat dan klaar,” snou sy hom byna toe. “En maak dat jy wegkom.”
Hy beskou haar ’n oomblik aandagtig, toe neem hy haar aan haar skouers en druk haar op die divan neer.
“Sit daar … voor jy omval. Ek sal so gou maak as wat ek kan. Sê eers vir my, weet jy meer van die rusie tussen jou pa en sy familie as wat Kosie weet?”
Sy skud haar kop.
“Het hy nooit met julle oor sy mense gesels nie?”
“Byna nooit nie,” erken sy onwillig.
’n Rukkie is hy stil, blykbaar besig om sy gedagtes te rangskik.
“Ek wil jou iets vertel wat jou tant Katrien se testament miskien beter sal laat begryp. Eendekuil was die Niemeyers se familieplaas. Jou pa het ook daar grootgeword.”
Verras kyk sy op na hom, onmiddellik geïnteresseerd.
“My familie en joune was baie jare lank bure en goeie vriende gewees. Ek het tant Katrien baie goed geken en ná haar man se dood kon ek haar somtyds van hulp wees. Sy was kwaai en eksentriek, maar ons het goed oor die weg gekom … ten spyte van die feit dat sy net so hardkoppig soos jou oupa geweier het om ’n sekere stukkie grond aan ons te verkoop, grond wat ons baie graag vir landerye wou hê en wat vir haar vir dié doel waardeloos was omdat die dam op ons grond moet kom. Om billik te wees moet ek darem erken dat die Niemeyers net so graag die hoërliggende grond by ons wou koop om self die dam te bou, maar ons het ewe taai behou wat ons besit het. Dis daardie stukkie van Eendekuil, en ’n bietjie by, wat tant Katrien aan my bemaak het sodat ek my dam kan aanlê.
“Ek het tant Katrien dikwels gesien en ons het later goeie vriende geword. Sy het dikwels met my gesels oor haar broer, jou pa, en eendag het sy vir my julle geskiedenis, en hare, vertel. Baie daarvan het ek natuurlik al geweet soos almal wat daar grootgeword het dit weet, en ek het die storie vandag vir Kosie vertel omdat ek dink julle behoort dit te weet voordat jy finaal nee sê vir julle erfenis.
“Die rusie wat daar gekom het en die gevolglike verwydering het juis as gevolg van Eendekuil ontstaan. Ou Koos Niemeyer, jou oupa, was baie ontevrede en teleurgesteld omdat jou pa, die enigste seun wat hy oorgehou het, nie in die boerdery belang gestel het nie en advokaat wou word. Hulle het baie rusie gemaak en hy het jou pa later sy sin gegee en hom laat studeer en as advokaat laat praktiseer, altyd met die heimlike hoop dat hy tog sou terugkom. Toe sy hoop nie verwesenlik is nie, het hy Eendekuil en alles wat daarop was aan sy eerste vrou se dogter, Catherina Niemeyer, bemaak. Sy het al die jare getrou by hom gebly en hom op die plaas gehelp. Jou pa het ’n bietjie geld geërf, maar verreweg die grootste gedeelte van die boedel het na tant Katrien gegaan. Jou pa was bitter ontevrede en het haar daarvan beskuldig dat sy hulle pa in sy later jare sterk beïnvloed het en opgesteek het teen hom, en ’n hewige rusie het tussen hulle ontstaan. Tant Katrien, wat bereid was om die helfte van Eendekuil, wat ’n baie groot plaas is, aan haar broer af te staan mits hy self daarop kom boer, het met bitterheid sy onregverdige aantygings aangehoor en hom so laat weggaan. ’n Paar maande later, toe sy ’n bietjie afgekoel het, het sy vir jou pa ’n brief geskryf en hom tog die helfte van Eendekuil aangebied, maar hy het haar aanbod hooghartig bedank en hulle het mekaar nooit weer gesien nie.”
Met gespanne aandag volg Magrieta die verhaal, haar oë onafgebroke op sy gesig, en hy vervolg: “Tant Katrien is later getroud. Sy was nie meer jonk nie, seker oor die veertig, en daar is nooit kinders uit die huwelik gebore nie. Ná haar man se dood het sy op Eendekuil aangebly, tot omtrent twee jaar gelede toe haar gesondheid so treurig was dat sy die plaas net sien agteruitgaan het sonder om iets daaraan te kon doen. Die plaas is verhuur en sy het Johannesburg toe gegaan, oud en siek en moeg en alleen. En terwyl sy daar siek was, aan die einde van haar lewe, het die dogter van die broer wat haar so smadelik behandel het, na haar toe gekom … om geld te vra.”
Magrieta kyk na hom, wit en gespanne, en sê ongelukkig: “Ek het dit nie geweet nie. Vader het ons nooit vertel nie.” Sy het, eienaardig genoeg, nie een oomblik die jong man se verhaal in twyfel getrek nie. “Ek het gedink dis sommer maar ’n rusie … en sy is tog familie, en miskien sal sy nie meer so kwaad wees noudat Vader dood is nie. En ná die eerste dag was sy so lief en menslik. Sy het gevra ek moet Kosie na haar toe bring en daarna het ek weer gegaan …” ’n Pynlike blos verkleur haar wange. “Natuurlik sal jy dink dis oor die geld en … sy het natuurlik ook so gedink. Maar ek was jammer vir haar. Sy was oud en alleen en ek het gevoel ons kan miskien nog iets vir haar beteken. Ons wou nie baie geld gehad het nie, net ’n paar honderd pond by haar geleen het. Maar nou verstaan ek … sy kon Vader nie vergewe nie … en sy kinders moet dit ontgeld.”
“Nee, Magrieta, ek dink jy is verkeerd. Dan sou sy reguit gesê het dat sy nie bereid was om julle te help nie. Dit sou met haar geaardheid strook, sy was altyd baie reguit. Sy was bly dat jy na haar toe gekom het om hulp. Dis jammer dat jy nie lankal gegaan het nie, want sy het julle nodig gehad en julle het haar nodig gehad. Moontlik wou sy die Niemeyer-trots en -hardkoppigheid wat al die jare die oorsaak was van die verwydering en verbittering tussen haar en haar broer so ’n bietjie verneder. Ek dink ek verstaan wat in haar kop aangegaan het. Sy wou Eendekuil vir Kosie gee – dit kom hom toe – en sy wou haar geld aan jou nalaat, maar miskien was sy bang dat julle die plaas dadelik sou verkoop en wou sy julle verplig om eers ’n paar maande in die wêreld te bly waar julle pa grootgeword het. Sy weet Kosie moet universiteit toe, hy is te onvoorbereid, te jonk en te onervare om uit die staanspoor te probeer boer, en om dieselfde redes sou jy nie alleen daar kon aanbly nie. Dis seker toe dat sy aan my gedink het. En, het sy geredeneer, as ek ’n halsbandjie bysit wat aanloklik genoeg is, sal my ou buurman seker nie omgee om ses maande lank na my twee kinders te kyk en om later vir Kosie by te staan as hy regtig wil gaan boer nie. Sy het my huishoudelike omstandighede geken – ek woon alleen op my plaas – en sy ken my goed genoeg om te weet dat as ek jou die versekering gee dat dit bloot ’n gerieflikheidshuwelik sal wees, ek daarby sou bly en vir jou en Kosie sou help. Ek dink dit was bitter onregverdig van haar, maar so is dit nou. En van jou, en van jou alleen, hang dit af of Kosie sy oupa se plaas kry en of hy maar sy mooi drome en begeertes opsy moet sit om sy brood te gaan verdien. Want Kosie is vasbeslote, en ek is dit heeltemal eens met hom, dat hy nie langer kan toelaat dat jy die finansiële verantwoordelikheid alleen moet dra nie.”
Magrieta praat nie, maar sit soos ’n verslae kind daar op die divan, en die jong man vervolg: “Toe ek die eerste keer van die voorwaardes hoor, was ek so kwaad dat ek dadelik op die trein wou klim en huis toe ry. Maar hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het dit my gehinder. Die Niemeyers was baie, baie jare ons naaste bure en ons was goeie vriende gewees, en miskien kon ek vir oulaas nog iets vir tant Katrien doen. Jy het geweier om my weer te sien, daarom het ek met Kosie in aanraking gekom en so al die stukkies inmekaar gepas.”
Hulpeloos kyk Magrieta na hom, al haar selfstandigheid en selfvertroue weg. Dit is asof sy totaal dronkgeslaan is, asof haar brein nie helder wil dink nie.
“En nou?” vra sy.
Die jong man bly ’n rukkie stil. Hy steek sy hande diep in sy baadjiesakke voor hy sag antwoord: “En nou moet jy besluit of jy vir Kosie sy plaas gaan gee, of nie.”
Die groen oë kyk ongelukkig, smekend, op in syne en sag sê hy: “Wat my betref, ek is bereid om die voorwaardes van die testament te aanvaar. Ek kry ’n stuk grond wat my familie al byna twintig jaar in die hande probeer kry. Ek kry ’n nuwe boetie … en ’n sussie.”
Magrieta staan op en loop tot voor die oop venster. Buite is dit stikdonker afgesien van die vierkantige ligkol wat deur die venster op die veelkleurige jakobregops val wat onder die venster staan. ’n Stil, rustige somersaand met die geluide van paddas en krieke in die lug, die sagte geur van nat aarde en blomme wat na binne dring, en hier in haar binneste ’n warboel van onstuimige gedagtes.
Waarom het haar pa haar nooit die hele geskiedenis vertel en haar die verleentheid waarin sy haar vanaand bevind, gespaar nie? Was hy toe reeds skaam en jammer oor sy gedrag maar darem te hoogmoedig en hardkoppig om dit te erken? En Kosie, in wie die verlange na die grond van sy vaders diep en sterk vloei; Kosie, die regmatige erfgenaam van sy oupa se plaas … sou Kosie haar ooit vergewe as Eendekuil vir ewig vir hom verlore moet gaan … terwyl dit hier binne sy bereik was? En sy? Selfs die gedagte aan die onheilige voorwaardes wat haar opgelê is, voel soos ’n verkragting van alles wat vir haar die heiligste en dierbaarste is. Is haar verpligting teenoor Kosie dan so groot dat sy haarself, en in ’n mate haar hele toekoms, moet opoffer?
Meteens staan Barry Retief langs haar. Lank kyk hy af na die meisie wat so roerloos daar staan, al die verset en weerspannigheid van nou pas daarmee heen, toe sê hy sag: “Wel, Magrieta Niemeyer … gaan jy met my trou?”
Stadig draai sy na hom en vraend, deurtastend, byna smekend, asof sy sy diepste wese wil peil, kyk die groen oë in die bruines. Weer vloei daardie gevoel van bewustheid van mekaar wat sy in die huurmotor ervaar het tussen hulle … en haar oë val voor syne. Vinnig draai sy haar gesig weg en vol vertwyfeling fluister sy: “Ek weet nie. O, ek weet nie. Hoe kan ek dit doen?”
“As ek aanbied om vir Kosie geld te leen om sy studie voort te sit, sal dit help?” vra hy ná ’n rukkie.
Met oë groot van verbasing staar sy hom aan, toe skud sy haar kop.
“Nee, dankie.”
“Dan sal jy?”
Nog antwoord Magrieta hom nie. Moet Eendekuil weer eens die oorsaak wees van verbittering tussen broer en suster? Tussen Kosie en my? Want Kosie sal altyd onthou dat ek Eendekuil vir hom kon gegee het.
“Ek weet nie,” sê sy moeg en uitgeput. “Ek wil daaroor nadink. Sal jy asseblief vir Kosie gaan roep? Sy kamer is net hier langs myne.”
Sy stap na die tafel en sit die ketel aan. Toe Barry Retief en Kosie terugkom, sê sy stil en beleef: “Sit asseblief, meneer Retief, ek maak vir ons tee.”
Barry Retief gaan in die grasstoel sit en Kosie kom help haar koppies uit die kas haal en regsit, maar toe hy die tweede koppie omstamp en byna die bak met rose van die tafel stamp in ’n poging om die koppie te keer, stoot sy hom sag opsy.
“Loop sit maar, Koos. Ek sal dit self doen, dankie.”
Nou verstaan sy waar die opgewonde flikkering in Kosie se oë vandaan kom. Terwyl sy wag dat die teewater kook, sê sy: “Meneer Retief het nou vir my ook die hele storie vertel, maar jy het al die hele dag gehad om daaroor na te dink. Sê my eerlik, Kosie, wat verwag jy van my?”
Kosie kyk na haar, ongelukkig, ongemaklik, verleë.
“Dis nie ek wat moet sê nie, Magriet. Ek … ek wen alles daarby. Dis jy … wat moet besluit. En as jy nie kans sien nie, sal ek jou dit nooit kwalik neem nie …ek sal nooit eens weer daaroor praat nie.”
Maar Magrieta sien ook die groot verlange in die jong blou oë.