Читать книгу Wag 'n bietjie - Tryna du Toit - Страница 8
ОглавлениеHoofstuk 5
Hoofstuk 5
Sondag pak hulle heeldag in. Barry bring die dag by hulle deur en help hulle. Die koffers wat vier jaar weggepak was, is uit die pakkamer gehaal, afgestof en skoongemaak: goeie leerkoffers wat nog van hul dae van welvaart getuig.
Die koffers is goed, ja, dink Magrieta, maar, o vader, wat pak ek daarin? Kosie, wat in die laaste jare so vreeslik gegroei het, sonder die minste konsiderasie vir hul skraal inkomste, en wat tog altyd netjies geklee skool toe moes gaan … Kosie se klere het ’n groot gat in hul inkomste gemaak en hy het nog niks nie. En sy … maar daar is die geld wat sy van meneer Steyn ontvang het en sy het nog sowat tien pond weggebêre. As hul losies betaal is, sal daar darem ’n hele paar pond oor wees … as sy dit net durf gebruik. Want dan sit sy totaal sonder geld of inkomste. Wat ’n haglike posisie om in te wees! Alleen het sy deur die donkerste en moeilikste dae geworstel en nou moet sy afhanklik wees van die goedgunstigheid van die jong boer wat so skielik sy verskyning in hul lewe gemaak het. Maar dis maar deel van die prys wat sy moet betaal.
Barry en Kosie is in Kosie se kamer besig om die kaste vol boeke en ander goed wat gestoor moet word toe te spyker en naderhand gaan sy na hulle toe. Sy gaan sit tussen die boeke op die grond by hulle. Sonder baadjie en met sy hempsmoue opgerol, is Barry besig om die laaste spykers in ’n groot kis te slaan. Glimlaggend sê hy vir haar: “Kry ’n mens dan nie tee hier nie? Nee, sit jy doodstil, Kosie kan vir ons gaan maak.”
“Ek sal nou gaan,” sê Kosie met sy mond vol spykers. “Nog net drie spykers.”
’n Lang tydjie kyk sy in stilte hoe hulle werk, toe sê sy: “Barry.” Nou gaan dit darem makliker om sy naam te gebruik.
“Ja?”
“Sien ons dikwels mense op jou plaas?”
Hy kyk skuins af na haar, toe sê hy, sy gesig doodernstig: “So af en toe, Magrieta. Waarom?”
“Ek … ek wil klere koop vir my en Kosie, maar as ons nie dikwels mense sien nie, dan kan ek die geld bêre vir Kosie se universiteitsbehoeftes.”
Barry is ’n rukkie stil en sekuur slaan hy die een spyker na die ander in, toe sê hy: “Magrieta, wat is nou eintlik jou indruk van ’n Karoo-plaas? Ek weet nou al wat jy van ’n Karoo-boer dink …”
“Ek weet,” spot Kosie, “en ek sal vir jou sê: ’n kaal, uitgedroogde stuk wêreld waar daar net klippers en vaal bossies en ’n rooibaksteenhuisie en ’n paar maer skape te siene is …”
“Jy dink verniet jy’s snaaks, Kosie …”
“Jy het self vir my gesê dat die mense daar nie eens was nie omdat daar nie water is nie; dat Eendekuil ’n lugspieëling is wat ’n ou boer, seker Oupa, een skreeuwarm dag bo van ’n windpomp af gesien het …”
“Koos!” sê sy kwaad en onthuts, maar Kosie lag terwyl hy opstaan om tee te gaan maak.
“Koos is sommer snaaks,” sê sy half verontskuldigend, maar Barry antwoord nie. Met ’n vroom gesig slaan hy die laaste spyker in die kis, sit die hamer neer en toe kom hy langs haar sit met sy rug teen die kis. Iets spottends in die blik wat hy op haar vestig, verplig haar om aan te gaan: “My pa het my somtyds vertel van sy lewe as boerseun, van die verskriklike droogtes wat die Karoo teister. Was hy dan verkeerd?”
Sy gesig word stil en ernstig, asof hy in sy gedagtes weer so ’n droogte beleef.
“Nee, hy was reg, nooientjie. As die droogte regtig kom, is die Karoo ’n plek van smart en verdriet.”
En daar wil Kosie gaan bly, Kosie met sy jong geesdrif. Daar wil hy sy mooi droomwêreld gaan opbou, om dit dan weer net so voor sy oë vernietig te sien word terwyl hy magteloos toekyk! ’n Afsku van die wêreld wat ’n man met mooi beloftes lok en roep en hom dan, as hy eers eenmaal magteloos in sy greep is, vernietig, pak haar beet. Haar pa was reg! Hy kon die hartseer en verdriet nie verduur nie. O, doen sy die regte ding om Kosie weer daarheen terug te neem?
Barry se koel, effens spottende stem dring meteens deur haar mymeringe.
“Toe maar, jy’s verniet so ontsteld. Die jare van hartseer en droogte is eers weer agter die rug. Ons sal probeer om vir ons stadsvlinder die blink kant bo te hou sodat sy lekker kan speel die ses maande van haar gedwonge verblyf tussen ons.”
Magrieta se wange word rooi, die groen oë skitter.
“En dink jy dis al hartseer wat daar is, om tevergeefs te wag op die reën wat nie wil kom nie en jou skape om jou te sien doodgaan? ’n Stadsvlinder!” begin sy driftig, toe byt sy skielik haar onderlip vas. Wanneer sal sy tog leer om koel en kalm teenoor hom te bly, nie op loop te raak as hy haar so moedswillig soek nie?
“Watter hartseer is daar dan nog, Magrieta?” vra hy sag, en toe sy nie antwoord nie, sit hy sy hand ’n oomblik op hare. “Toe maar, ek weet jy is nie net vlinder nie. Ek het jou maar net geterg. Ek wil jou ook net laat besef dat hartseer en verdriet nie tot die Karoo en sy mense beperk is nie. En eendag sal jy nog vir my van joune vertel, nè? Maar moenie jou verder oor Kosie bekommer nie, en moet hom nie een oomblik van sy erfenis probeer terughou nie … al is ’n groot deel van daardie erfenis ook hartseer en verdriet.”
Hy neem sy hand weg en op heeltemal ’n ander toon vervolg hy: “Maar ek wil graag hê dat jy op Wag ’n Bietjie moet kom vlinder speel, en daarvoor het ’n mens darem ’n paar mooi rokkies nodig. Ek is bly julle speel tennis, dan sal jy darem nie maklik verveeld raak nie. Koop vir jou genoeg tennisrokkies, ’n aandrok, die mooiste wat jy kan kry – ’n groene om by jou oë te pas – en ’n baie mooi trourok. Verder sal jy tog self weet wat ’n vlinder nodig het.”
“Dankie,” sê Magrieta styf, want sy is al weer verleë. “Ek sal probeer om te voldoen aan jou begrip van ’n stadsvlinder.”
Tergend sê hy: “Ek hou niks van die dreigement wat in daardie woorde opgesluit is nie. Maar wag maar. Ons sal sien of jy nog so groot sal praat en so parmantig is as jy alleen daar op die eensame Karoo-plaas is en dit word donker en die jakkalse en wolwe begin huil en kom nader huis toe.”
Sy kyk hom agterdogtig aan en Barry vervolg glimlaggend: “Wag maar … wag maar, jou parmantige rooikop. Op Wag ’n Bietjie sal ons jou mak maak.”
Sy kyk hom uitdagend aan en sê spottend: “So! ’n Groot sterk boer en dan maak hy klein stadsmeisietjies bang! Foei tog!”
Barry Retief staan op, buk vooroor, neem Magrieta aan haar elmboë en gemaklik, asof sy ’n kindjie is, tel hy haar op en laat haar op haar voete staan. Dan vra hy: “Is daar darem iets, Magrieta Niemeyer, waarvoor jy bang is?”
“Wel … ek is nie vir jou bang nie.”
“Ek is bly,” sê hy glimlaggend. “Kom ons gaan kyk waar Kosie met die tee bly.”
Kosie was in Magrieta se kamer besig om ’n snaar aan sy raket reg te maak. Toe hy dit neersit om die tee te maak tel Barry dit op.
“Maar dié raket is mos heeltemal te swaar vir jou, Kosie.” Hy bekyk die raket noukeurig, toe sê hy weer: “Waar is Magrieta se raket?”
“Laat staan my raket, asseblief. Ek laat nie vreemde mense daaraan vat nie.”
“Ek is nie vreemde mense nie. Ek is jou aanstaande man,” antwoord hy ongeërg terwyl hy opstaan en die raket wat teen die muur hang, afhaal en bekyk.
“Ek wil ook ’n nuwe raket koop. Ons sal môre vir ons elkeen een uitsoek en dan wil ek sien hoe julle tennis speel.” Hy bly stil, toe sit hy die raket neer, wend hom tot Magriet en sê beslis: “Ons het nog nie geldsake bespreek nie. Ek wil ook nie heeldag daaroor gesels nie. Saam met my erfporsie van tant Katrien het ek vir ses maande die verantwoordelikheid vir julle twee gekry, en dit beteken finansiële verantwoordelikheid ook. En ek wil geen teëpratery hoor nie. Ek sal vir Kosie se universiteitskoste sorg, vir alles wat hy nodig het. Ek het julle losies reeds vereffen. Het jy nog geld nodig? Rekenings? Doktersgeld?”
“Nee, dankie.”
Die koel stem, die trotse beweging van die rooi kop, was hy te wagte. Maar hoe moeilik dit ook al is, die saak moet afgehandel word. Skielik draai sy na hom en sê onseker: “Dis … baie gaaf van jou, dankie. Ons sal alles weer terugbetaal.”
Barry kyk na haar, na die sierlike kop so hoog in die lug terwyl sy met moeite die bewing van haar lippe stil, en sag sê hy: “Natuurlik. Bekommer jou nou nie verder daaroor nie.”
Magrieta en Barry is in die Pretoria-Oos-kerk getroud in die teenwoordigheid van Kosie en meneer Steyn en Magrieta se ander kantoorvriende. Op die tafel voor die preekstoel het ’n groot bak vol pragtige wit lelies gestaan en Magrieta het ’n ruiker van rose en angeliere gehad. Barry het die blomme vir haar gebring toe hy haar kom haal het om kerk toe te gaan. In stilte het sy die papier waarmee dit so sorgvuldig toegedraai was, afgehaal en na die lieflike ruiker gekyk. Toe, met ’n skewe glimlaggie om haar mond, het sy ’n wit angelier afgebreek en dit met vingers wat skielik bewe vir hom aangesteek.
“Dankie, Magriet.”
Sy stem is buitengewoon diep en sy hou haar blik stip op die wit angelier.
“Die strooijonker moet ook ’n ruiker kry,” probeer sy opgewek sê en pluk vir Kosie ook ’n blom af en steek dit vir hom aan. Sy waag ’n blik na Kosie se gesig, maar dit moes sy nie gedoen het nie. Die volgende oomblik is haar arms om sy nek, terwyl sy haar voorkop styf teen hom vasdruk.
Krampagtig sluit sy arms om haar terwyl hy angstig sê: “Magriet? Wat is dit, Magriet?”
Die angs in sy stem maak haar dadelik weer kalm. ’n Oomblik lank lê sy haar hand teen sy wang, maar sy waag dit nie om te praat nie. Toe sy omdraai, staan Barry voor die oop venster met sy rug na hulle gekeer, sy hande diep in sy sakke gesteek.
Daar is ’n atmosfeer van rustigheid, van stille gewydheid, in die pragtige, eenvoudige kerk. Die woorde van die huweliksformulier, so plegtig, so lieflik in hulle eenvoud, so ewig in hul begrip, tref Magrieta eers diep en ontstel haar later. Hoe durf hulle die seremonie gebruik ter bevordering van hul eie selfsugtige planne? Hoe durf Barry Retief hier in die plegtige atmosfeer van gewydheid en heiligheid trou aan haar beloof as hy nie ’n woord daarvan bedoel nie! En sy, kan sy daarmee voortgaan, met dié onsinnige, liefdelose huwelik? Paniekbevange kyk sy na hom en kry weer gerusstelling in die eerlike bruin oë. Hy neem haar bewende hand, sit versigtig die ring aan haar vinger en hou haar hand beskermend in syne vas; so kom sy tot bedaring.
Toe dit haar beurt is, fluister sy: “Ja!”
Toe die Kaapse sneltrein die aand uit Pretoria vertrek, verlaat die gevoel van opwinding wat Magrieta gehelp het om deur die middag te kom haar skielik en paniek pak haar beet. Die liggies van Pretoria vlieg vinnig verby en daarmee ook die bekende, moeilike en tog geliefde wêreld wat al tuiste was wat sy geken het, en verder en vinniger gaan sy die onbekende nag en die onbekende toekoms in.
Sy sit saam met Barry en Kosie in die kompartement. Haar koepee is net langsaan. Hoe Barry dit reggekry het, weet sy nie, sy is net innig dankbaar dat sy nou-nou alleen en ongestoord met haar gedagtes kan wees.
Hulle sit nog geruime tyd en gesels, totdat Kosie met ’n lang gaap van vermoeienis sê dat hy gaan slaap. Magrieta wil sy voorbeeld volg, maar Barry stel voor dat hulle eers iets gaan drink. Toe hulle daar kom, is die eetsalon egter vol. Barry vra die kelner om die bestelling na Magrieta se koepee te bring en hulle gaan weer terug soontoe.
In stilte sit hulle langs mekaar, Magrieta by die venster, haar kop teen haar hand gestut, haar oë op die donker velde wat so vinnig verbyvlieg; Barry langs haar, sy kop agteroor teen die kussings, sy oë half toe op die prentjie voor hom.
“Wel, Magrieta?” sê hy ná ’n rukkie.
“Wel?”
“Dit lyk dan vir my dinge is nie wel nie.”
Sy antwoord nie.
“Wat is dit, Magrieta? Baie moeg?”
“’n Bietjie,” fluister sy, ’n tamaai knop in haar keel toe sy die simpatie in sy stem hoor.
“Moeg … en wat nog?” En toe sy weer nie antwoord nie: “Moeg en bang en ongelukkig?”
“Nee,” stry sy koppig.
Daar kom ’n klop aan die deur en die kelner sit twee drankies op die tafel neer, neem die geld by Barry en trek weer die deur agter hom toe. Barry gooi water by die brandewyn en bied vir Magrieta een glasie aan.
“As jy dan heeltemal seker en gelukkig is, Magrieta, drink ons op jou verblyf op Wag ’n Bietjie.”
Sy kyk na hom … en twee trane begin meteens oor haar wange loop. Haastig draai sy haar kop weg en Barry neem die glasie uit haar hand en sit dit weer op die tafel neer.
“En nou?” sê hy.
Sy het die eerste trane reeds weggevee, maar so vinnig as wat sy hulle wegvee, kom ander weer en toe laat sy maar haar kop op die vensterbank sak en gee haar oor aan die tranebui wat haar oorweldig. Barry laat haar begaan en toe sy ophou en haar trane afvee, nog steeds met haar rug na hom gekeer, praat hy steeds nie, maar steek sy hand uit en neem haar hand in syne. ’n Rukkie sit hulle so, toe sê Barry: “Ek is jammer jy is so ongelukkig, Magrieta.” Sy skud haar kop. “Ja, jy is. Ek kon dit al heeldag sien. Dit was tog nie trane van geluk wat nou so vryelik gevloei het nie, was dit?”
Daar is nog geen antwoord nie en Barry laat haar hand los, sit sy arm om haar skouers en trek haar sag nader na hom toe. “Kom! Verbeel maar vir jou ek is vanaand jou pa of jou oom of jou broer, en sê vir my wat is verkeerd. Ek het dan gedink alles gaan nou regkom!”
Magrieta wend geen poging aan om haarself te onttrek aan sy arms nie. Sy laat haar kop teen sy skouer rus terwyl sy dink: O, om ’n pa of ’n oom of ’n broer te gehad het na wie sy haar toevlug kon neem, by wie sy kon gaan troos en leiding soek as dinge so verkeerd lyk soos hulle vanaand vir haar lyk! ’n Pa wie se sterk, beskermende arms so gerusstellend om haar kon sluit as sy moeg en ongelukkig is … soos nou.
“Is dit Kosie?”
“Nee.”
Hy moet laag buk om te hoor wat sy sê en word bewus van die fyn geur van rose wat van haar hare en persoon uitgaan.
“Dis nie Kosie nie. Ek is seker maar moeg en ek is ook so ongelukkig oor die situasie waarin ons beland het. Hoe gaan ek dit regkry?”
“Waarvoor is jy bang? Vir my?”
“Nee.” Daar kom ’n fyn glimlaggie om haar mond.
“Dan is alles reg. Jy sal sien hoe maklik dit sal gaan. Dis maar net die eerste paar dae wat vreemd sal wees, dan sal dit maar vir jou voel asof jy altyd met my getroud was.”
Hy neem haar hand en kyk na die ring aan haar vinger, die fyn platinumtrouring met diamantjies wat die seël druk op die wilde, onmoontlike avontuur wat vir hulle voorlê. Sy neem haar hand weg en sê: “Dit is asof ek rustig op die wal gestaan het en die sterk vloedwaters van die stroom gesien verbyvloei het. En toe ek my weer kom kry, was ek ook binne-in die stroom en nou word ek ten spyte van al my spartelings saamgesleur.”
Barry glimlag.
“’n Uitstekende vergelyking. En jy is natuurlik al weer besig om stroomop te sukkel, en natuurlik is jy uitgeput van spook en veg teen die stroom. Jy is nou eenmaal daarin, Magrieta, moenie verder spook nie. Jy kan tog niks daaraan doen nie. Haal nou maar diep asem en laat die stroom jou voer waar hy wil. Netnou-netnou is die vloedwaters afgeloop en kan jy opstaan en weer jou eie gang gaan. Kom nou, ek het vir jou gesê ek wil hê jy moet kom vlinder speel op Wag ’n Bietjie. Vergeet nou al die kommer en sorge. Ek wil nie ’n vrou hê wat heeldag huil en met ’n lang gesig sit nie. Jy weet, jy het vandag baie mooi gelyk. Piet Scholtz is verlief op jou, Magrieta.”
“Ja.” Wat help dit tog om te stry.
“En jy? Nee, sit stil, vanaand tel nie. Jou ouboetie probeer net uitvind of jy nie met die verkeerde man getrou het nie.”
“Die ouboetie is ’n bietjie laat. Maar jy … jy kan maklik spot, Barry Retief. Jy gaan terug na jou eie huis en wêreld toe. Ek weet niks van jou af nie, behalwe wat ek bloot toevallig van ander mense verneem. Ek weet nie eens of jy nie alreeds ’n vrou op jou plaas het nie.”
Barry glimlag.
“Dink jy ek gaan jou maande lank in die solder toesluit? Of sommer so openlik met twee vrouens saamleef? Nee, Magrieta, ek het alreeds vir jou gesê ek bly heeltemal alleen op my plaas.”
“Wel, verloof dan?” hou sy koppig vol.
Barry kyk haar stip aan, toe sê hy: “Ek is nie getroud nie en ek is ook nie verloof nie, en daar is niemand wat enige beswaar kan maak teen my huwelik nie. My ouers is al baie lankal dood, my oupa wat my grootgemaak het, is ook vier jaar gelede dood, en my mense het al herhaalde kere vir my gesê dis tyd dat ek nou trou.”
“Jou mense?” vra sy met groot oë.
“Familie op die dorp. Nie mensvreters nie, maar doodgewone boeremense.” ’n Glimlag verhelder skielik sy gesig. “Behalwe my tant Wilhelmien, maar vir haar is ek nie verantwoordelik nie. Ek het haar maar so gekry. Maar môre vertel ek jou verder. Nou gaan jy slaap. Maar eers jou drankie drink.”
Hy oorhandig weer die glasie aan haar en neem sy eie, en Magrieta maak gebruik van die geleentheid om weer na haar eie hoekie te skuif.
“En nou het ek ’n ander heildronk: my bruid!” Al weer die tergende bruin oë, en toe sy hom wil berispe, vervolg hy glimlaggend: “En toe het ek tog ’n vrou gekry met die naam van Grietjie.”
Parmantig gaan die ken weer op.
“Moenie so kinderagtig wees nie! My naam is nie Grietjie nie.”
“Wat is jou naam?” terg hy nog.
“Margaretha Helena Niemeyer.”
Maar hy lag.
“Nee, nie nou meer nie. Dis nou Margaretha Helena Retief.”
Sy kyk na hom en voel dat sy soos ’n skooldogter bloos.
“Jy is ’n onmoontlike man,” sê sy vererg, “en jy het op die oomblik baie te sê. Maar wag maar, my beurt sal ook kom. Jy sal die dag miskien nog bitter berou dat jy met die rooikop-Niemeyers deurmekaar geraak het.”
“Die Retiefs is al baie, baie jare met die Niemeyers deurmekaar en hulle was nog nooit aan die beroukant gewees nie.”
Sy glimlag liefies.
“Dit mag wees … maar hulle was nie rooikop-Niemeyers nie.”
“Ons sal sien,” glimlag hy. “Drink nou jou drankie.”
Sy proe daaraan en gril.
“Drink dit maar, dit sal jou goed doen. Wag, ek sal nog ’n bietjie water bygooi. Beter? Nou ja, Margaretha Helena Retief, ek drink op jou gesondheid en op jou gelukkige verblyf op Wag ’n Bietjie.”
Net daarna is hy weg. ’n Rukkie het Magriet nog so gesit, verdiep in haar gedagtes, toe begin sy uittrek. Die donker spookgedaantes waarvoor sy so bang was, het verdwyn en sy slaap tot die volgende oggend.