Читать книгу Wag 'n bietjie - Tryna du Toit - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk 4

Hoofstuk 4

Magrieta het die nag omtrent nie ’n oog toegemaak nie. Nadat Barry vir haar die geskiedenis vertel het, het sy geweet dat daar vir haar geen ander uitweg was as om die aanbod te aanvaar nie, of die dag sal ook aanbreek dat verwydering soos ’n onoorbrugbare kloof tussen haar en Kosie lê. Eienaardig dat Kosie die hunkering na grond van sy voorouers geërf het. Selfs as ’n klein ou seuntjie het hy altyd gespit en geplant, was hy altyd buite doenig, het hy gedurig agter die goedige ou tuinman aangeloop. Hy het dié liefde nie ontgroei nie. Selfs hier in die losieshuis het hy met die tuinmaak gehelp, en om ’n landboukursus te volg was sy groot ideaal in die lewe. Neem dit ook nog weg van hom en wat gaan Kosie van sy lewe maak?

En die jong man in wie daardie hunkering na grond net so sterk is, wat van hom?

“Ek sal daaroor nadink,” het sy gesê toe hulle klaar tee gedrink het.

Toe hy loop, het Barry Retief gevra: “Mag Kosie môre weer die dag saam met my deurbring? Ons was van plan om dieretuin toe te gaan.”

Sy kon natuurlik geen beswaar maak nie en Barry Retief is kort daarna weg. In stilte het Kosie en Magrieta na mekaar gekyk, toe het Magrieta gesê: “Sal dit jou regtig baie gelukkig maak om terug Eendekuil toe te gaan, Kosie?”

Hy het voor Magrieta gestaan, so innig gelukkig, met ’n glinstering in die blou oë wat ’n yslike knop na haar keel gebring het, en gesê: “Vir my sal dit wonderlik wees. Maar wat van jou, Sus?”

Sy het niks verder gesê nie, maar sy het toe reeds geweet dat daar vir haar geen ander uitweg was as om die belaglike huwelik te aanvaar nie. Sy sou veel meer opgeoffer het om vir Kosie met dié lig in sy oë en die regop houding te sien en te weet dat sy toekoms veilig is. Vier gelukkige jare op universiteit en altyd die heerlike wete, soos ’n ankertou in sy lewe, dat sy plaas vir hom wag … Wat meer kon sy vir Kosie verlang?

En die ses maande saam met die boer op sy plaas? Sy het sy versekering dat dit bloot ’n gerieflikheidshuwelik sou wees en sy glo hom. Hy wil die grond hê en sy wil Kosie se toekomstige geluk verseker. Maar wat van haar? Waarin gaan sy haar begewe?

Dat dit so maklik sal gaan as wat hy voorgee, glo sy nie. Maar sy is te moeg om verder te dink en met die lig van ’n nuwe dag in die ooste gaan sy weer lê.

Sy sou Barry die middag ná kantoor ontmoet om hom haar antwoord te gee.

Dit is weer een van daardie snikhete dae wat die laaste bietjie krag en energie uit ’n mens tap, en ná die slapelose nag wat sy deurgebring het en die spanning van die dag is sy byna lighoofdig van vermoeienis toe sy na die koffiehuis stap waar sy Barry moet ontmoet.

Hy wag vir haar, lank, breedgeskouer en op sy gemak, en saam stap hulle na binne.

Lui en gemaklik begin gesels Barry oor die weer, oor die besoek wat hy en Kosie aan die dieretuin gebring het, maar Magrieta is stil, byna stroef. Noudat die oomblik aangebreek het dat sy haarself onherroeplik moet verbind, is sy weer bitter onseker; al haar swaargewonne gemoedsrus, haar vaste oortuiging dat sy reg doen, het weer verdwyn. As sy tog net iemand gehad het na wie sy haar toevlug kon neem, by wie sy raad en leiding kon kry! Maar daar is niemand nie.

Sy is nie eens bewus daarvan dat Barry sy relaas onderbreek het en met ’n frons na haar sit en kyk nie.

“Nou toe,” sê hy meteens sag, “wat hinder nou weer? Kan jy nog nie besluit nie?”

Sy kyk na hom met ongelukkige oë vol vertwyfeling en skud haar kop.

“Ek weet nie … Wat … wat sou my pa daarvan gedink het?”

Barry kyk peinsend na haar. Wat sou haar pa, Jan Niemeyer, daarvan gedink het? As hy sy dogter nou kon sien, geestelik en liggaamlik uitgeput deur die taak wat haar opgelê is, sou hy nie beskaam gestaan het omdat hy, verdiep in sy eie teleurstelling en verdriet, sy kinders se toekoms so skromelik verwaarloos het nie? Maar hy hou sy gedagtes vir homself; hy weet dat die nooientjie geen woord van kritiek teen haar pa sal duld nie.

Stilweg sê hy: “Ek dink dat jou pa baie tevrede en trots sou wees met die manier waarop jy jou van jou taak gekwyt het, en ook baie dankbaar dat die las en verantwoordelikheid so ’n bietjie van jou skouers afgeneem word.” Sy kyk na hom asof sy hom baie graag wil glo maar tog nie heeltemal oortuig is dat hy reg is nie. “Magrieta, kan jy jou nie maar verbeel dat ek jou ouboetie is wat jou graag wil help nie? En dat jy maar net ses maande lank by my op die plaas kom kuier nie?”

Lank en aandagtig staar die meisie en die jong man oor die tafeltjie na mekaar, albei doodernstig, albei diep bewus daarvan dat hulle voor die belangrikste oomblik in hul lewens staan en dat haar besluit onherroeplike gevolge vir hulle albei inhou. Afgemat na liggaam en gees, kan Magrieta nie meer helder dink nie. Sy het reeds besluit, maar op die drumpel aarsel sy nog vir oulaas om die besluit te bevestig, steeds nog onrustig en onseker. Die gestalte van die jong man groei voor haar oë: Die innerlike rustigheid en beheerste krag wat sy in die diepbruin oë en op sy ferm jong gesig lees, hou vir haar rus in en verlossing van die laste wat steeds swaarder geword het … Hy is iemand wat aan haar sy sal staan en haar sal help.

Sy merk half onbewustelik die skyn van ’n teer, begrypende glimlaggie om sy mond en in sy oë, en met ’n oorweldigende gevoel van byna fatalistiese berusting steek sy haar hand oor die tafeltjie na hom toe uit en sê sag: “Goed, ek sal dit doen. Ek sal met jou trou, Barry.”

Hy plaas albei sy hande oor hare en hou dit ’n oomblik styf vas. “Ek is baie bly. Ek sal my bes doen dat dit jou nie berou nie. Kom, drink nou eers jou koffie voor ons verder gesels. Ons het baie sakies om te bespreek en ons tyd is kort.”

Gehoorsaam drink sy haar koffie, toe sê hy: “Hoe gou sal jy alles hier kan afhandel, Magrieta? Ek sou graag as dit moontlik is Saterdagaand na Saailaagte vertrek.”

Verbouereerd sit sy met ’n stamp die koppie in die piering terug.

“Saterdag? Onmoontlik! Dis vandag Donderdag. En … en daar is tog tyd tot Dinsdag.”

“Kyk, juffroutjie,” sê Barry Retief, “ek het ’n plaas wat op my wag. Ek is baie haastig daar weg en wie weet wat alles in die tussentyd verkeerd geloop het. Waarvoor nou nog wag? Ek sal julle help inpak en regmaak …”

“Maar ek moet kennis gee by die kantoor. Ons moet by die losieshuis kennis gee. Ek weet nie wat mevrou Van Lingen sal sê nie …”

“Laat gerus alles aan my oor. Ek sal vir alles sorg.” Die woorde klink soos die soetste musiek in die moeë jong meisie se ore. Maar sy hou koppig vol dat Saterdag te gou is.

“Ek kan onmoontlik nie so gou klaar wees nie. Nie voor Dinsdag nie.”

Hy kyk na haar en ’n glimlaggie begin om sy mondhoeke speel.

“Ek weet dit was nog altyd die bruid se voorreg om die troudatum te bepaal en ek sal my seker daaraan moet onderwerp as jy daarop aandring. Maar kan ons nie ’n kompromis tref en dit Maandag maak nie?”

Ná ’n oomblik se weifeling stem sy in.

Die volgende oggend gaan sy dadelik ná haar aankoms op kantoor na meneer Steyn toe. Hy is eers skoon uit die veld geslaan, maar toe hy sien dat sy ongemaklik voel, ruk hy hom gou reg en wens haar van harte geluk. Hy gelas die tiksters om koek te koop vir elfuurtee, kry Barry se adres by die blosende Magrieta, bel hom persoonlik en nooi hom om saam met hulle te kom tee drink. Die tiksters en ander klerke hardloop haar kantoor nuuskierig en opgewonde binne en neem Magrieta onder streng kruisverhoor.

“Ek het self nie geweet nie. Ons het gister eers besluit,” moet sy telkemale herhaal.

“Wie is hy? En wat doen hy? En waar kom hy vandaan? En hoe oud is hy?” Die vrae reën op haar neer en Magrieta sit haar hande teen haar kop.

Toe hulle ’n bietjie bedaar, sê sy: “Sy naam is Barry Retief.”

“En hoe oud is hy?”

Hoe oud is Barry? Sewe en twintig? Agt en twintig? Maar die afwagtende gesigte om haar laat haar meteens ondeund sê: “Seker vyftig.”

“Vyftig?” ’n Bietjie van stryk gebring gaap hulle haar aan.

Millie Jones, ’n bottelblondine van sowat vyf en dertig, kyk Magrieta skielik koel en berekend aan. “En wat doen hy?” vra sy liefies.

Magrieta merk die uitdrukking in Millie se oë en sê bedees: “Hy is ’n boer!”

Daar is ’n merkbare stiltetjie voor Millie weer sê: “Ag nee, liefie! ’n Boer? En waar boer hy nogal?”

“In die Karoo.” Die hewige belangstelling verdwyn nou vinnig en Magrieta vervolg: “Maar hy sal netnou hier wees, dan kan julle self sien. Loop nou eers, ek het baie om te doen voor elfuur.”

“Seker.”

Toe hulle omdraai om uit te gaan voeg sy ondeund by: “Ek hoop julle sal darem vriendelik wees as hy hier kom. Julle weet, hy voel miskien ’n bietjie ontuis tussen al die vreemde mense.”

“Natuurlik sal ons vriendelik wees,” sê Susie de Lange warm. Susie met haar groot bruin oë en sproetgesiggie is self aan ’n baie gawe kêrel verloof en het Magrieta half huiwerig aangekyk. Maar Magrieta se laggende oë is op haar lessenaar gerig en sy kom niks agter nie.

“Watter soort tabak rook hy, ou dier?” vra Millie.

“Ek dink hy pruim net, Millie,” sê sy en knipoog vir Susie wat totaal verward die kamer uitstap.

Toe almal uit is, kom Piet Scholtz, ’n mooi blonde jong man wat ’n bietjie ouer as Magrieta is, op haar lessenaar sit. Sy gesig is somber. Magrieta kyk op na hom, die ondeunde flikkering nog in haar oë, en sê: “Toe maar, Scholtzie, ek het sommer geterg.”

“Gaan jy nie regtig trou nie?” vra hy verbaas.

“Ja, ek gaan regtig trou, maar hy … hy pruim nie regtig nie. Ten minste, ek dink nie so nie.”

Maar Piet Scholtz wil nie lag nie.

“Dan was daar iemand anders destyds toe jy geweier het om langer saam met my uit te gaan!”

“Nee, Piet. Dit was maar soos ek toe vir jou gesê het. Ek het jou nie liefgehad nie en ek het gevoel jy verspil jou kosbare tyd deur my uit te neem.”

“En die professor? Wat sê hy?”

“Die professor kuier by sy ouers op hul plaas in die Vrystaat. Hy sal maklik weer ’n ander tennismaat kry,” sê sy lughartig.

“En dié man, dié Barry Retief? Van waar ken jy hom?”

“Ek het hom maar onlangs ontmoet.”

Onlangs? Presies drie dae gelede.

“Magrieta?”

Die blou oë kyk ongelukkig in hare. In hul dieptes lees sy die liefde wat hy maar nog nie uit sy lewe kon verban nie. “Is dit oor … Kosie?”

Magrieta kyk weg. Piet Scholtz se liefde vir haar het hom ’n buitengewoon helder insig in haar lewe gegee. Hy weet wat Kosie vir haar beteken.

“Scholtz, ek wil vir jou iets sê wat ek nog vir niemand gesê het nie. Daar het iets gebeur wat my en Kosie se lewe heeltemal verander. My pa se enigste suster is skielik oorlede en met haar dood erf Kosie die Niemeyers se ou familieplaas, wat deur rusie en misverstand tussen my pa en my oupa na my tante in plaas van my pa gegaan het. Ek self erf ’n paar duisend pond van haar.”

In ’n mate is dit waar, sal dit waar wees as sy Maandag met Barry Retief in die huwelik tree. Maar op Barry se dringende versoek het sy en Kosie belowe om aan niemand die voorwaardes van tant Katrien se testament bekend te maak nie. Scholtz kyk verras na haar.

“Magrieta! Maar dis wonderlik! En jy het my nooit eens van so ’n tante vertel nie!’

“Dis ’n ou, ongelukkige storie van rusie en verbittering en verwydering, en dis maar onlangs dat ek die volle waarheid uitgevind het.”

“Onlangs? Toe jy die man ontmoet het?”

Piet Scholtz se buitengewone skerpsinnigheid stuur haar effens in die war. “Ja,” probeer sy kalm antwoord. “Barry Retief se plaas grens aan Kosie s’n. Hy het my tante goed geken, sy oupa en myne was bure gewees.”

“En nou gaan die buurman met die erfgenaam heen?”

Magrieta bloos vererg, maar sy moet vir Barry in die bres tree.

“Barry Retief is Kosie se voog. Hy stel nie belang in die geld wat ek erf nie.” Watter onrustige gedagtes het Scholtz nou weer in haar wakker gemaak? Seweduisend pond. Daaraan het sy nog nooit gedink nie. “Luister, Scholtzie, moet niemand vertel wat ek jou nou gesê het nie, nie voordat ek weg is nie! Hoor jy?”

“H’m,” sê Scholtz agterdogtig. “Ek wil dié meneer Barry Retief baie graag ontmoet. Hy moet ’n buitengewone man wees om jou hart so in ’n ommesientjie te wen terwyl ek en selfs die professor al die jare niks kon uitrig nie.”

Toe Scholtz uitloop, is Magrieta se wange nog rooi. Natuurlik dink Scholtz dat sy met Barry trou omdat hy “haar hart gewen het”. Hulle ken mekaar al baie jare, sy en Scholtz, vandat hulle saam op universiteit was. Hoewel hy ’n paar jaar ouer as sy is, het Magrieta haarself altyd as die ouer een beskou en kon sy nooit sy liefdesverklarings ernstig opneem nie, totdat sy eendag besef het dat sy hom ’n groot onreg aandoen deur soveel van sy aandag in beslag te neem terwyl sy goed geweet het dat sy hom nooit sou liefhê nie. Van toe af het sy nie weer saam met hom uitgegaan nie. Maar Scholtz het nog taamlik gereeld by haar en Kosie kom kuier en sou altyd ’n baie goeie vriend bly. Maar hy weet nie wat nou alles op die spel is nie!

Sy is nog besig om haar lessenaarlaaie op te ruim toe daar aan haar deur geklop word en Piet Scholtz die deur vir Barry oopmaak. Scholtz kyk met berisping in sy blou oë na haar en wil dadelik wegloop, maar Magrieta roep hom laggend terug. Sy het vergeet sy het vir hulle gesê dat Barry ’n middeljarige man is. Geen wonder dat Scholtz haar so verwytend aankyk nie.

“Scholtz, kom hier. Hallo, Barry!” Sy staan op en gaan na hulle toe, taamlik selfbewus. “Laat ek julle aan mekaar voorstel. Meneer Scholtz – meneer Retief.”

Die twee mans reik mekaar die hand, toe sê Piet Scholtz: “Ek het jou al vantevore ontmoet, meneer Retief, ek is seker daarvan. Was jy nie op Stellenbosch nie?”

“Ja.”

“Natuurlik … jy het in die eerste span voor gespeel. Jy en daardie vriend van jou, Johan de Kock, wat later Springbok geword het. Julle het ons een maal toe ek vir Tukkies gespeel het lelik in die stof laat byt.”

Glimlaggend gee Barry toe: “Ek onthou die geleentheid, maar …”

“Natuurlik sal jy my nie onthou nie. Ek het daarna verskeie kere vir jou en Johan de Kock vir Westelike Provinsie sien speel, en hom later ook teen die Wallabies. Jammer jy moes die rugby laat staan. Jou ondersteuners, waarvan ek ook een was, was baie hartseer daaroor.”

“Dankie. Maar ’n boer se speeljare is maar kort. Johan de Kock is nou ook op Saailaagte, hy is hoofonderwyser daar.”

Magrieta staan totaal dronkgeslaan daar. Barry Retief op Stellenbosch, vir Westelike Provinsie rugby gespeel! Maar wat het hom dan besiel om boer te word! En waarom het hy vir haar geen woord daarvan gesê nie! Skielik vererg, draai sy om, stap na haar lessenaar toe en begin papiere in die snippermandjie gooi.

Piet Scholtz stap na haar toe en sê: “Jy kon darem vir my gesê het, Magrieta. Maar ek trek alles terug wat ek gesê het en ek wens jou van harte geluk. En eendag as julle my nooi, kom kuier ek vir julle op julle plaas.”

Toe Piet by die kamer uit is, kom Barry ook op haar lessenaar sit. Ondersoekend gaan sy blik oor haar gesig in ’n poging om haar gemoed te peil. Hy kan raai waarom die lippe so ferm opmekaar gedruk is en die groengrys oë hom so koel aankyk. Dis Piet Scholtz se werk. Maar sy lyk darem meer uitgerus as gister, dink hy, en sê: “En toe? Van plan verander?”

“Wat bedoel jy?” vra sy koel, hoewel sy goed weet waarvan hy praat. Sy was baie beslis toe hy saam met haar kantoor toe wou kom.

“Jy was dan so vasberade om jou boer weg te steek.”

“Moenie onsin praat nie!” sê sy vinnig en toe, kwaad dat sy haar al weer deur sy tergery van stryk laat bring het, vervolg sy koel: “Kom, dat ek jou na meneer Steyn toe neem. Dit was sy voorstel dat jy moes kom.”

“Ek het gedink dis nie joune nie,” sê hy, maar wend geen poging aan om op te staan nie. “Wat het meneer Steyn gesê?”

“Wat kon hy sê? Ek dink hy glo maar nie heeltemal my storie nie.”

“Dan sal ons hom gou oortuig. Magrieta, moet ek nie eers vir jou ’n verloofring gaan koop nie?”

“Nee,” sê sy haastig en beslis. “Ek hou nie van verloofringe nie. Kom!”

Meneer Steyn ontvang Barry hartlik en een vir een kom die ander in en word hulle aan Barry voorgestel.

Millie en Susie het tegelyk ingekom. Millie gaan ’n oomblik botstil staan, haar blou oë vol verbasing op die aantreklike, welgeklede jong man wat so op sy gemak met meneer Steyn gesels, toe kom sy glimlaggend nader.

“Magrieta, jou swernoot … en ek het nogal ’n stukkie pruimtabak laat koop.”

Die klomp lag heerlik en dit is nie Barry wat verleë is nie.

Die teeparty was ’n sukses en toe Millie vir Magrieta ’n oomblik alleen kry, fluister sy vir haar: “In hemelsnaam, ou dier, as daar nog van sy soort is, laat my tog dadelik weet. Dit hoef nie eens so ’n nuwe uitgawe te wees nie.”

Meneer Steyn het ’n kort toesprakie afgesteek om hulle alle geluk en voorspoed toe te wens en’n koevert aan Magrieta oorhandig: ’n ietsie vir haar uitrusting, het hy gesê. Magrieta was totaal verslae en het ’n knop in haar keel gekry, en dit was Barry wat namens hulle albei ’n paar woordjies van dank aan meneer Steyn gerig het en hulle almal genooi het om ná die plegtigheid ’n heildronk op hul gesondheid te kom drink.

Dit was al ná halfeen toe hulle klaar is en Barry saam met Magrieta na haar kantoor toe gaan. Sy skeur die koevert oop en neem twee kleiner koeverte daaruit. In die eerste een is ’n volle maand se salaris. Ongelukkig kyk Magrieta daarna. Dit is maar die twaalfde vandag en sy het die vorige dag eers weer begin werk nadat sy meer as drie weke van die kantoor afwesig was weens haar siekte. ’n Hele maand se salaris waarvoor sy nie gewerk het nie! In die tweede koevert was twee vyfpondnote vir haar uitset.

“Maar ek kan dit nie aanneem nie,” sê sy ongelukkig.

Barry kom langs haar staan, kyk na die tjek en die geld en sê: “Waarom nie?”

“Ek het dit nie verdien nie. ’n Volle maand se salaris en ek het nie eens twee dae gewerk nie! Boonop nog tien pond present.”

“Ek is seker jy het dit oor en oor verdien. Jy kan in elk geval tog nie weier om dit te neem nie, kan jy?”

“Nee-e, maar …”

“Vergeet dit maar. Meneer Steyn weet wat hy doen. Kom jy vanmiddag saam met my eet?”

Moeg en warm en deurmekaar sê sy aarselend: “Ek … ek glo nie, dankie. Kosie … is alleen.”

“Die arme klein Kosie wat so aan homself oorgelaat word! Maar ek het jou beswaar dié keer voorgespring. Ek het Kosie al vanmôre gevra om saam met ons te kom eet.”

“Jy was baie seker dat ek ja sou sê,” sê sy koel.

“Wragtie, meisiekind! Dit lyk of die wind jou enige tyd kan wegwaai, maar soveel gedetermineerde, opsetlike, astrante parmantigheid het ek nog nooit teëgekom nie.”

“Ek is nie astrant nie.”

“Wel, my idee van ’n lieftallige bruidjie is jy sekerlik ook nie.”

“Dis die laaste ding ter wêreld wat ek wil wees.”

“Dit mag wees. Jy kan ook maar aanvaar dat ons dit roerend eens is. Maar as jy Maandag met my gaan trou, verwag ek dat jy jou, in die openbaar altans, soos ’n bruid gaan gedra. En as jy nie daarvoor kans sien nie – om hoflik en vriendelik en aangenaam teenoor my te wees nie – is dit nog nie te laat om so te sê nie.”

Magriet word yskoud. Dit het sy nooit verwag nie. Sy vou die koevert met hande wat meteens bewe en sit dit in haar handsak. ’n Ultimatum? Ja. En ’n uitdaging wat sy nie durf aanvaar nie. Kosie se stralende geluk weer vernietig nadat sy dit reeds vir hom verseker het? Sy neem haar hoed en sit dit voor die spieël teen die muur op, merk werktuiglik hoe bleek sy is, neem dan haar handsak en kyk na hom. Sy gesig is streng en onsimpatiek, die bruin oë ongelooflik koel, en met moeite bedwing sy die bewing van haar lippe.

Maar met haar kop omhoog sê sy trots: “Ek was nie onhoflik nie.”

“Dis meer as onhoflik. Dis beledigend. Aan die een kant skroom jy nie om met my te trou vir wat jy uit die transaksie kry nie, maar aan die ander kant is jy skaam om saam met my in die openbaar te verskyn.”

“Dis nie waar nie,” sê sy ontsteld.

“Dit is waar. Kom ons loop!”

Saam is hulle uit, die trappe af en toe hulle buite kom, staan Magrieta stil en kyk onseker na hom.

“Waar gaan ons eet?”

“Ons sal maar die etery laat staan. Ek sou dit nooit voorgestel het as ek geweet het jy voel so oor die saak nie.”

Magrieta, kwaad en ongelukkig, nie ver van die skande van trane nie, stap stilswyend langs hom in die rigting van die bushalte. Ná ’n sydelingse blik na die meisie langs hom gaan staan Barry skielik botstil in die straat.

“Ek is jammer, Magrieta. Ek is sommer ’n renostervelboer. Maar jy moet ook nie vir my so kwaad maak nie. Kom ons gaan eet.”

Hy neem haar arm en draai om en hulle stap terug in die rigting van waar hulle gekom het.

“Moet nou nie huil nie.”

“Ek huil nie.”

“Ja, jy is op die punt van trane. Ek het gesê ek is jammer. Ek weet jy is moeg en honger en prikkelbaar, en ek moes geen notisie van jou buierigheid geneem het nie.”

“Ek is nie buierig nie …”

“Toe maar, toe maar, ons sal nie verder stry nie. Ek sal mettertyd ook seker leer om my rooikopnooientjie se humeur nie so ernstig op te neem nie.”

Sy stem is tergend en Magriet sê nie ’n woord verder nie. So ’n man het sy nog nooit teëgekom nie. En dan sê hy sy is moedswillig! Maar wag maar ’n bietjie. Haar beurt sal ook seker kom. Sy sal maar stadig oor die klippe, eers die wêreld ’n bietjie bespied … en dan sal hy sy rieme styfloop.

Wag 'n bietjie

Подняться наверх