Читать книгу Eendekuil - Tryna du Toit - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 1
Hoofstuk 1
Met net ’n handdoek om sy middellyf, kom ’n jong man kaalvoet met die voetpad van die dam af na die huis toe aangestap. Die son gaan net onder en hy kyk stip na die yl wolkies wat soos ’n bloedstreep teen die westerhemel lê.
’n Mooi sonsondergang, dink hy, maar in daardie yl ou wolkies is daar maar min belofte van die reën wat hulle so bitter nodig het.
Dis al byna Maartmaand en daar is nog geen teken van reën nie, net die een skroeiwarm dag wat op die ander volg en die droë, warm westewind. Dis nou ’n volle jaar gelede dat dit ’n bietjie gereën het en die wêreld is droog en vaal. As die reën nie nou gou kom nie, gaan die groeityd van die veld verby en dan sal die toekoms maar onseker wees. Die boere word onrustig; sommige het al swaar verliese gely en baie praat van trek.
Hy was tot dusver nog gelukkig gewees. Omdat sy vee min is, kon hy sy kampe om die beurt liggies bewei en het hy darem nog genoeg kos vir sy diere. Dis maar goed dat hy destyds na Barry geluister het en nie, soos sy bedoeling was, ’n groot klomp vee aangekoop het nie. Selfs met die ekstra voeding wat hy hulle kon gee, het sy skape ook al baie afgeval, en sy bekommernis sou groot gewees het as hy met meer vee gesit het.
Die jong man maak die tuinhekkie agter hom toe en staan nog ’n paar oomblikke stil om die buitengewoon mooi sonsondergang te bewonder. Kosie Niemeyer boer nou al ’n bietjie langer as ’n jaar heeltemal alleen hier op Eendekuil, daarom die handdoek wat so ongeërg om sy lende gedraai is. Hy is nou ’n jong man van drie en twintig jaar, bruingebrand, lank, skraal en sterk. Sy rooibruin hare is nog nat soos hy geswem het en die waterdruppels blink op sy gladde skouers en in die fyn blonde haartjies van sy arms en bene. Hy is ’n bietjie breër en vaster as die jong Kosie wat vyf jaar gelede op Wag ’n Bietjie aangekom het, maar hy het nog dieselfde aantreklike glimlag, dieselfde diepblou oë wat die wêreld om hom met belangstelling betrag.
Toe die helder kleure begin vervaag, stap hy stadig aan huis toe. Dis stil, nie ’n windjie roer nie, en die gewone aandgeluide van die plaas klink helder oor die werf. ’n Sug van louter geluk ontsnap hom. Met welbehae gaan sy blik oor die uitgestrekte vlaktes wat so innig en vreedsaam in die vroeë aandskemering om hom lê. Eendekuil! Sy erfenis! Die grond van sy voorgeslagte wat nou na hom, die laaste van die Niemeyers, vir bewaring gekom het. Hoe gretig het hy nie uitgesien na die dag waarop hy uiteindelik op Eendekuil kon kom boer nie! Nie dat die vier jaar op universiteit traag verbygegaan het of dat hy voel dat die tyd verspil is nie. Inteendeel!
Tog was hy baie dankbaar toe hy die dag die boeke opsy kon stoot en sy intrek kon neem in die witgepleisterde huis waar daar soveel jare net huurders van Eendekuil gewoon het.
Dit was tyd dat daar weer ’n Niemeyer op die plaas kom woon het, iemand wat met liefde en sorg die tekens van verwaarlosing kon uitwis en van Eendekuil weer die mooi plaas kon maak wat hy behoort te wees.
Hy was jonk en haastig en ongeduldig. Soos ’n man wat verlief is, het swaer Barry geterg. Hy kon nie wag nie, hy wou alles tegelyk doen, maar Eendekuil is ’n groot plaas en alte gou het hy besef dat dit nie ’n paar maande of selfs ’n paar jaar sal neem om ’n plaas wat soveel jare verwaarloos is weer op te bou nie. Dit sal tyd en harde werk en baie geduld kos. Gelukkig dat ou Potgieter, sy voormalige huurder, ’n sorgsame man was wat sy drade en water en pompe goed in stand gehou het. Ook het Barry gesorg dat Eendekuil nooit te veel vee gehad het nie sodat die plaas nie uitgetrap is nie. Maar dit moet ’n goeie twintig jaar wees dat daar laas ’n enkele verbetering aangebring is, en nou met die oorlog is draad, pale, gereedskap en masjinerie nie net peperduur nie maar haas onverkrygbaar.
Die oorlog in Europa het uitgebreek terwyl hy op universiteit was en dit brei nog steeds uit in omvang en felheid en bitterheid. Daar was van sy maats wat hul boeke vir ’n geweer verruil het, sommige vir ’n ideaal, maar die meeste bloot as gevolg van ’n drang na avontuur en verandering. Maar hy het altyd net een doel voor oë gehad: sy grond wat op hom gewag het. Daarom het hy al sy kragte ingespan om hom so goed as moontlik voor te berei vir die taak wat hy moes gaan vervul.
Terwyl hy nog op universiteit was, het Barry geleidelik vir hom ’n boerderytjie op Eendekuil aan die gang gesit sodat hy by die agthonderd merino-ooie en ’n mooi klompie Afrikaners gehad het om mee te begin. En Barry se afskeidsgeskenk aan sy swaertjie toe hy Wag ’n Bietjie die dag verlaat het, was vyf van sy jong uitsoekramme, afstammelinge van die bekende ingevoerde ram, Oubaas. Dit het hom dadelik laat voel dat hy sommer goed op pad was. Toe het hy nog nie besef hoe groot sy taak sou wees nie, nou weet hy.
Vir ’n oomblik dink hy aan Wag ’n Bietjie met sy damme, sy landerye, sy pragtige skaap, sy mooi huis en tuin. Wag ’n Bietjie is die pronkplaas van die distrik. Maar daar is geen afguns in sy hart as hy aan sy swaer se plaas dink nie. Barry Retief is ’n boer, en ’n swaer, duisend. Wag ’n Bietjie is maar net die ideaal wat hy hom gestel het; dit bly die aansporing en inspirasie om te werk en te volhard tot Eendekuil ook weer eendag so daar uitsien.
Magriet was gelukkig om ’n man soos Barry Retief te kry, peins hy, en ’n fyn glimlaggie speel skielik om sy mondhoeke as hy terugdink aan sy suster en Barry Retief se liefdesgeskiedenis. Dit was maar ’n gewaagde, gevaarlike speletjie waarin die twee hul begewe het, maar dit het niemand nog ooit een dag berou nie. Magriet en Barry is gelukkig saam en hy … hy het vir Eendekuil. As die dag kom dat hy ’n vrou moet neem, sal hy net anders te werk gaan. Barry was gelukkig, maar Barry het natuurlik vir Magriet gekry. ’n Man moet versigtig wees. ’n Boer moet sy verstand gebruik en nie net na sy hart luister nie. Jy kan nie sommer halsoorkop verlief raak op die eerste mooi gesiggie wat jy teëkom nie.
Maar daar is geen haas nie. Hy is gelukkig en tevrede hier op Eendekuil. Hy het Eendekuil lief soos ’n ander man sy vrou liefhet; dis sy grond wat in die jare wat voorlê al sy aandag en toewyding nodig het.
As hy moeg is vir sy eie geselskap of vir Selina se kos kan hy altyd op Wag ’n Bietjie ’n bietjie afleiding en ontspanning vind. Hulle speel tennis en hy vermaak hom met Magriet se kindertjies, en in die aand gesels hy en Barry oor boerdery tot Magriet hom uiteindelik huis toe jaag. Tevrede en vol planne gaan hy dan weer terug na sy eie plaas.
Op die oomblik is Wag ’n Bietjie se mense met vakansie by die see en hy mis hul geselskap meer as wat hy verwag het. Hulle is al byna veertien dae weg, maar het blykbaar geen plan om voor die middel van volgende maand terug huis toe te kom nie. Hy sal maar môre oorry en kyk of alles op Wag ’n Bietjie nog in die haak is. Hy sal ook ’n plan moet maak om weer dorp toe te gaan – sy kruideniersware is feitlik gedaan – en hy kan dan sommer ’n bietjie tennis speel.
Kwispelstert kom sy hond, Boel, hom tegemoet, en ’n oomblik lê hy sy hand liefkosend op die mooi sterk hond se kop. Magriet het Boel aan hom geskenk toe hy ’n jaar gelede hierheen gekom het sodat hy saans nie heeltemal alleen moet wees nie. Boel was toe skaars agt weke oud en baie dae moes hy hom in sy sak steek as hy in die lande of met die vee gaan werk omdat die hondjie eenvoudig geweier het om alleen tuis te bly.
Ja, hy en Boel bly lekker hier op Eendekuil. Hulle is tevrede met mekaar se geselskap, hulle is hul eie baas. Dit sal nog lank duur voor hulle die behoefte sal voel om iemand te gaan soek om by hulle te kom bly.
Die huis is toe en warm, en voor hy kamer toe gaan om aan te trek stoot hy die woonkamervensters wyd oop. Dis maar ’n eenvoudige huis, sy huis op Eendekuil, nie te vergelyke met die mooi huis op Wag ’n Bietjie en die ander plaashuise in die omtrek nie. Maar dis sy paleis. Hier voel hy soos ’n koning. Hy het die huis nou mooi reg- en skoongemaak en hy sal nog jare lank doodgelukkig hier bly solank hy spook om die wêreld daar buite weer reg te kry. Al kla die boere, wol- en vleispryse is goed, en die pryse sal nog beter word. As dit net wil reën, sal hy sommer fluks vooruitboer, en eendag, as hy met die buitewerk klaar is, sal hy vir hom ’n mooi nuwe huis aan die ander kant van die vrugteboord bou. Daar, so half teen die bult wat die eerste strale van die môreson vang, sal die nuwe huis mooi vertoon, en ’n mens sal ’n pragtige uitsig daarvandaan hê oor die groen landerye van Eendekuil, oor die kuile en die spruit met sy treurwilgers, en die klomp wag-’n-bietjies daar onder in die leegte.
Selina roep hom om te kom eet.
Sy eenvoudige aandete bestaan uit brood, ’n stukkie koue vleis, vrugte en melk, maar hy eet smaaklik met die gesonde eetlus van ’n jong man wat heeldag hard in die buitelug gewerk het.
Ou Selina kom binne om die skottelgoed te verwyder en hy trek hom neer in ’n gemaklike stoel met Boel aan sy voete en begin tydsaam die koerante lees wat vandag met die pos gekom het.
Hy het vandag hard gewerk en daar is ’n gevoel van rus en tevredenheid in hom. Sy lammerooie is pragtig. Gelukkig dat hy daardie lusernkampie het om hulle in te hou. As dit net wil reën sodat daar vir die winter ook kos kan wees!
Ná ’n rukkie word dit stil in die kombuis en hy en Boel is alleen. ’n Uur of wat lees hy verder, dan staan hy op en begin aanstaltes maak om te gaan slaap.
’n Rukkie staan hy buite onder die sterre wat vanaand so besonder helder flikker. Liggies roer die wind deur die toppe van die hoë bloekombome langs die huis. Die nag is stil en vreedsaam. Hy hoor hoe die gesang van die kriekies helder in die stilte weerklink, en terwyl hy nog so staan en wag met die aandluggie koel en verfrissend teen sy slape, hoor hy die swaar, diep stem van ’n brulpadda nie ver van die huis af nie.
Sy hart klop opgewonde. As die brulpadda sy stem verhef, dan is die reën nie ver nie. So het die ou mense altyd voorspel en hulle het gewoonlik gelyk gehad.
Hy staan nog daar, onwillig om in te gaan, die diep gebrul van die padda soos musiek in sy ore, toe hy weerlig laag teen die westerhemel sien uitslaan. Lank staan hy en wag op ’n herhaling van daardie weerlig. Hy begin net dink dat sy oë hom gekul het toe die weerlig weer teen die naghemel flikker, nou regoor die windpomp en heelwat meer na die noordekant toe as die eerste keer. ’n Oomblik was dit daar, toe is die nag weer donker en stil.
Met nuwe hoop in sy hart gaan die jong man uiteindelik kamer toe. Sy kop het skaars aan die kussing geraak of hy voel hoe die slaap hom oorval. Hy sien weer sy mooi lammerooie wat so rustig in die klein kampie wei, hy sien die weerlig wat vanaand vir die eerste keer ná baie maande weer laag teen die horison uitgeslaan het, en daar is weer daardie gevoel van innige rus en tevredenheid in hom.
Dan dink hy nie meer nie.