Читать книгу Eendekuil - Tryna du Toit - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 2

Hoofstuk 2

Kort ná middagete die Woensdag is Kosie en Boel al weer op pad huis toe in sy tweedehandse blou Chevrolet-motortjie. Hy is vroeg die oggend dorp toe met die bedoeling om al sy inkopies en goed gedurende die oggend af te handel, dan in die middag tennis te speel en selfs miskien ’n nooi te soek om die aand saam met hom bioskoop toe te gaan. Maar toe hy teen twaalfuur sien hoe pragtig die wolke in die weste begin saampak, het hy dadelik van voorneme verander. Hy wil op Eendekuil wees as die eerste druppel reën daar val.

Hy is haastig om by die huis te kom en moet eenvoudig vinnig ry op die slegte sinkplaatpad as hy nie uitmekaar wil skud nie. Maar ten spyte van die slegte pad voel hy ’n groot opgewondenheid in hom. Hy wil sing en lag en skree as hy na daardie blou weer daar voor kyk.

“Vandag spoel ons weg, ou Boel,” sê hy en sit ’n oomblik sy hand op die hond se nek. Dan begin hy sing, ’n bietjie van die wysie af, maar met groot genot:

Aai aai, die witborskraai,

Hiervandaan na Mosselbaai.

Oompie wil na Tannie vry,

Tannie trek haar neus opsy.

Opgewonde blaf Boel saam en Kosie kry groot lag vir hulle twee. Stemmiger ry hy verder. Kort-kort loer hy maar weer besorg na die weste. As die pragtige weer tog net nie verbygaan sonder om sy seën oor hulle uit te stort nie. Maar hy dink weer aan die weerlig wat die laaste paar aande aanhoudend geslaan het, aan die wind wat nog die hele tyd reg uit die ooste waai, en sy sekerheid dat hulle reën eindelik hier is, groei vinnig aan.

In sy motorspieëltjie sien hy ’n groot swart motor met ’n lang stofstreep agter hom aangejaag kom. Dit lyk na sy buurman, oom Gideon Bruwer, se motor. Oom Gideon is ook haastig om by die huis te kom, dink hy. Op Skeerpoort het daar die afgelope twee jaar maar baie min reën geval en die veld is kaal en bruin en uitgetrap. Hy weet oom Gideon was alreeds verplig om van sy skaap te verkoop wat hy baie graag nog ’n paar maande langer sou wou gehou het.

In ’n stofwolk ry die Bruwers by hom verby. Oom Gideon druk die toeter van sy motor en die kinders en tant Lenie waai vriendelik vir Kosie. Ewe plesierig waai Kosie terug, hoewel hy byna verstik in oom Gideon se stof.

Skeerpoort het sowat vyf jaar gelede ná die skielike afsterwe van oom Bêrend du Plessis in die mark gekom. Hy onthou dit nog goed, want dit was net so ’n rukkie ná hy en Magriet saam met Barry na Wag ’n Bietjie gekom het. Oom Gideon het glo vroeër in Prieska se wêreld geboer, maar hy was al lankal op die uitkyk na ’n geskikte plaas in dié kontrei. Oom Gideon is ’n wakker, vooruitstrewende boer en ’n groot aanwins vir die distrik. Hy het al heelwat verbeterings op Skeerpoort aangebring, maar die afgelope maande het die droogte hom ook lelik geknyp. Hy was altyd gaaf en vriendelik teenoor Kosie en hoewel hy heelwat ouer as Kosie is, het die jong man soms daar gaan kuier en dan het hy en oom Gideon heerlik gesels. As dit ook nie was dat Magriet en Barry so naby was nie, sou hy seker meer dikwels daar gekuier het. Nou het hy maar altyd as daar ’n los uurtjie was, Wag ’n Bietjie toe gegaan. Dit was ook na Barry wat hy gegaan het as daar moeilikheid was of as hy raad nodig gehad het.

Hier is maar min jong mense van sy ouderdom in die omtrek. Dis almal ouer, gevestigde boere met wie ’n jong man nie maklik gesels oor die drome en ideale wat hom besiel nie. Oom Gideon se kinders is weer jonger as hy en ongelukkig die grootste gedeelte van die jaar weg op skool en universiteit, maar hulle het nogtans die afgelope jare groot maats geword en vakansietye as hulle tuis is, is dit ’n gesellige heen-en-weer-kuiery. Veral Isak, ’n skrander, stil seun van sowat agtien jaar, kuier graag by hom op Eendekuil. Esther is net ouer as Isak, ’n tweedejaar op Stellenbosch, maar so ’n klein rabbedoe dat ’n mens nooit aan haar as ’n jong dame kan dink nie. Sy kan pragtig perdry en dis waarlik ’n plesier om haar in die saal te sien.

Oom Gideon is nie net ’n skaapboer nie. Hy is ook ’n teler van volbloedperde, en die mooiste en spoggerigste van oom Gideon se perde is gewoonlik Esther se ryperde as sy met vakansie tuis is. Jammer dat hy hulle die vakansie so min gesien het, maar tant Lenie se gesondheid was nie so goed nie en die hele gesin het gedurende Desember en Januarie op Hermanus vakansie gehou. Die paar keer dat hy Esther gesien het ná hulle teruggekom het, was sy te perd, geklee in ’n verbleikte hemp en ’n langbroek, haar goudbruin hare los in die wind, bruingebrand met sproete oor haar neusie, ’n volkome teenstelling met Elaine, die blonde nooientjie wat hy vanaand bioskoop toe wou geneem het.

Esther sal seker nooit Elaine Pienaar se sjarme hê nie, besluit hy. Dis nie iets wat ’n mens aanleer nie. Jy word daarmee gebore. Elaine was nogal ’n bietjie vies toe hy aan haar verduidelik het dat hy dadelik plaas toe moet gaan en nie vir die bioskoopvertoning kon bly nie. Maar toe hy die wolke sien saampak, kon niks hom in die dorp hou nie. Hy sal maar ’n ander aand spesiaal ingaan om Elaine bioskoop toe te neem.

Dis seker al weer tyd vir Esther en Isak om terug te gaan universiteit toe, dink hy. Hy moet ’n plan maak om hulle te gaan groet. Isak het hom verlede week ’n hele dag gehelp om sy ou motortjie uitmekaar te haal en weer inmekaar te sit. Hy kan gerus weer vir hom gaan dankie sê. Die seun is besonder oulik met masjiene. Hy het ook nooit sy belofte nagekom om vir Esther daardie boek te neem wat hy Kersfees present gekry het nie.

Haar mense noem haar Koekie, maar sy kan so kwaad en verleë word as hy haar met die bynaam terg.

“Waar op aarde het hulle aan so ’n naam gekom?” het hy haar geterg toe hy met hulle begin maats maak het.

“Dis omdat ek so mooi en soet was toe ek klein was dat al die mense my so genoem het,” het sy koel en uit die hoogte verklaar, maar daar het ’n warm blos op haar wange gelê.

“Ongelooflik,” het hy met ’n doodernstige gesig gesê. “Maar ’n mens verander natuurlik baie soos jy ouer word.”

As hy haar nou wil kwaad maak, moet hy haar net Koekie noem. Sy en oom Gideon het hom weer altyd geterg met sy perde.

“Noem jy dit ’n perd?” vra Esther wanneer hy die slag met Vossie of ou Vaaltyn gaan kuier. “Jy moet jou geld bymekaarmaak en ’n perd by my pa kom koop.”

Toe hy by Eendekuil se hek indraai, het oom Gideon met stofwolk en al in die verte verdwyn. Een van ou Jonas se seuns is besig om sy melkbokke na die stroois toe aan te keer en ewe beleef haal die knaap sy flenterhoed van sy kop af toe Kosie verbyry.

Agter hulle draf ou Jonas se maer windhond met sy neus op die grond en ou Boel vlieg byna deur die venster in sy gretigheid om by sy vriend te kom.

“Los die windhond, man, en kom saam huis toe,” paai Kosie hom met ’n hand op sy kop. Boel staan regop teen die kussings, maar gehoorsaam tog.

Kosie stoot dadelik die motor in die waenhuis en gaan huis toe om eers van sy das en dorpsklere ontslae te raak. Die weer bly pragtig. Dis drukkend warm en daar is ’n gevoel van stille afwagting oor die vlaktes.

Hy is nog in die kamer besig toe hy Jonas in die kombuis na hom hoor roep. Sy stem is hard en dringend en met ’n skielike voorgevoel van onheil stap Kosie vinnig kombuis toe.

Hy herken vir ’n oomblik amper nie vir ou Jonas nie, so anders lyk hy. Sy gesig is asvaal, sy oë soos pierings gerek, en hy hyg na sy asem soos een wat ver en vinnig gehardloop het.

“Ag, dankie tog, Heretjie, dat meneer Kosie gekom het,” stamel hy uitasem. “Ou Jonas weet nie wat om te doen nie. Vandag is die duiwel los hier op Eendekuil.”

“Wat is dit, Jonas?” vra Kosie verskrik.

“Daardie swart duiwelshond van meneer Gideon is by die lammerooie en het byna die leste een al doodgebyt. Kom tog, en maak gou.”

’n Oomblik staan Kosie versteen. Dis of hy nie kan glo wat ou Jonas vir hom sê nie. Sy lammerooie! Onmoontlik!

“Gou maak,” herhaal ou Jonas dringend, en vinnig vlieg die jong man om.

“Maak oop die waenhuis,” beveel hy. “Ek gaan net die motorsleutels haal.”

Hy is al by die deur uit toe hy skielik weer omvlieg en terughardloop kamer toe. Hy gryp die geweer wat in die hoek naby sy bed staan, pluk ’n laai oop en haal ’n hand vol patrone uit. Sy hande bewe so dat hy amper nie die patrone kan vashou nie.

“Stadig, man, stadig,” vermaan hy homself streng. “Koel bly. Dis seker nie so erg soos ou Jonas dit maak nie.”

Maar dis moeilik om koel te bly as hy aan die lot van sy arme lammerooie dink en vaster sluit sy hand om die geweer. In die aandraf waenhuis toe laai hy dit. Hy merk hoe die blou stapelwolke vinnig die lug inklim, maar die opwinding en afwagting wat hom die hele dag gevul het, is nou nie meer daar nie. Hy voel naar en siek.

Ou Jonas sal die rit na die onderste kampie waar die lammerooie loop nooit vergeet nie. Kosie jaag of die duiwel agter hulle is. Jonas hou maar net vas en bid terwyl sy oë al wyer en wyer rek.

Hulle is nog ’n hele ent weg toe hulle al die jammerlike geblêr van die ooie hoor. Dit is ’n haglike toneel wat hul oë begroet. Verskrik en verwilderd hardloop ’n klompie ooie daar rond, dan hierheen, dan daarheen, terwyl die hond, ’n groot Dobermann, soos ’n besetene tussen hulle te kere gaan. Oral lê daar dooie en beseerde ooie.

Toe hulle uit die motor klim, is die geweer in Kosie se hand. Daar is by hom nie die minste twyfel dat dit oom Gideon Bruwer se hond is nie en hy aarsel nie ’n oomblik nie. Die hond het hulle gewaar en staar hulle met ’n moorddadige blik aan. Sy bek is vol bloed. Kosie stap ’n paar tree nader en vat sekuur korrel. Nou bewe sy hande nie meer nie. Die volgende oomblik klap die skoot en die hond sak in sy spore neer.

“Hy sal nie weer skape byt nie,” sê ou Jonas, nog bewerig, langs hom.

Stadig laat Kosie die geweer sak. Hy praat nie. Dis soos ’n droom, ’n aaklige droom waaruit hy netnou sal ontwaak. ’n Oomblik staan hy nog roerloos terwyl Jonas angstig na hom opkyk. Dan is dit of die ellende van sy skape tot hom deurdring en vinnig sit hy die geweer in die motor neer.

Dit is oom Gideon se hond, hy is heeltemal seker daarvan. Hy ken die Dobermann. Eintlik Esther se hond. Oom Gideon het hom twee jaar gelede aan haar present gegee omdat hy nie daarvan gehou het dat sy so alleen in die veld rondstap en -ry nie. Die hond was lief vir haar en het haar oral gevolg, selfs wanneer sy te perd was, maar Kosie het nooit van hom gehou of hom vertrou nie. Hy was buierig en het dikwels selfs die plaaswerkers aangeval en gebyt. Hy en Boel kon mekaar nie verdra nie en Kosie kon dit nooit waag om Boel saam te neem as hy Skeerpoort toe gaan nie. Meer as een keer het hy sy bedenkinge teenoor oom Gideon uitgespreek dat die gevaarlike hond so los loop, maar oom Gideon het nie veel aandag daaraan geskenk nie. Hy het gelag en gesê hy het ’n kwaai hond nodig om sy dogter op te pas.

Hy bekyk die hond se wrede kake, vol bloed en wol en stukkies vleis, en hy is met afsku en walging vervul.

Dan begin hy en Jonas kyk wat hulle vir die arme, verskeurde ooie kan doen. Dié wat nog enigsins kon beweeg, het op die vlug geslaan, mank, bloedbevlek, beangs, met net een doel voor oë: om so ver moontlik van daardie wrede bek af weg te kom. Hoe hy en Jonas hulle almal in die hande gaan kry, weet hy nie. Die kampie lê vol ooie wat te erg uitmekaar geskeur is om te beweeg en hulle staar hom met groot, smekende oë aan.

Hy kyk op na die wolke. Die weer is swaar en dreigend. Dit sal niks baat om Jonas te stuur om hulp te gaan haal nie. Hy en Jonas moet maar doen wat hulle kan. Hy kniel by die ooi wat naaste aan hom lê en ondersoek haar vlugtig. Haar maag is uitmekaar geskeur, haar ingewande lê langs haar op die grond, maar sy lewe nog en begin weer effens spartel toe hy aan haar raak.

“Jou mes, Jonas,” beveel hy kortaf en bitter.

Toe hulle die eerste ooi keelafsny, hoor hy die sagte, veraf dreuning van die weer. Maar hy kyk nie eens op nie.

Daar het die langverwagte reën hulle ’n halfuur later getref, maar selfs in die harde, gietende reën het hulle aangehou werk tot dit later te donker geword het om te sien.

“Ons sal maar huis toe moet gaan, ou Jonas.” Kosie voel siek en uitgeput ná die aaklige middag. Hy en Jonas is albei tot op die vel nat. Dit reën nog altyd sonder ophou, maar dit val nou sagter, byna geruisloos.

“Net soos dit môreoggend lig word, bring jy vir Aaron en maak die skaap bymekaar en soek dié wat nie kan loop nie.”

“Ja, dis reg so.” Simpatiek kyk die ou plaaswerker na die jong boer, maar daar is niks wat hy vir hom kan sê om hom te troos nie. Hy weet dis nie net die groot verlies wat Kosie gely het nie. Kosie het die skape lief, hy werk altyd met hulle of hulle mense is wat kan hoor en voel en verstaan. En dis Kosie se uitsoekooie hierdie. “En wat sal ons met die hond maak? Neem ons hom saam huis toe?”

“Die hond?”

Met afkeer en bitterheid kyk hy na die hond wat uitgestrek op die grond lê daar waar hy hom geskiet het.

“Ja. Ons moet die hond oppas. Meneer Kosie moet dalk nog bewys dat hy die skape gebyt het.”

“Ja … dis reg,” sê Kosie stadig. So ver het hy nog nie gedink nie. “Ons sal hom huis toe neem. Laai hom maar in die motor, Jonas.”

Hulle sluit die hond in die waenhuis toe en daarna gee Kosie vir Jonas ’n stywe dop brandewyn.

“Dankie, Jonas. Jy het my baie fluks gehelp.”

“Dis nie te danke nie. Dis maar net my werk wat ek gedoen het. Skink maar vir meneer Kosie self ook ’n goeie dop in. Dit sal help om die koue uit die liggaam te jaag.”

Kopskuddend is die ou man daar weg. Vanaand is die allenigheid nie goed vir meneer Kosie nie. Vanaand is die aand wat ’n man ’n vrou nodig het. Jammer tog dat meneer Barry-hulle daar ver in die Kaap sit.

Kosie gaan bad en trek droë klere aan en ook hy wens dat sy swaer en suster vanaand by die huis was. Dis die eerste maal sedert hy begin boer het dat hy Barry se raad en bystand werklik nodig het en nou is Barry nie daar nie. Moet hy nie maar dadelik vir Barry telegrafeer en vra dat hy moet kom nie? Hy weet Barry sal nie ’n oomblik aarsel as hy vir hom sê hy het sy hulp nodig nie. Maar Barry, en veral Magriet, het so lank uitgesien na die vakansie dat hy onwillig is om hulle lastig te val. En waarom sal hy nou eintlik? Hy is mos darem mans genoeg om na sy eie belange te kyk. Hy is mans genoeg vir oom Gideon Bruwer. Daar sal tog seker nie die minste moeilikheid wees nie. Hy het die hond daar by die skaap doodgeskiet. Hy is jammer vir oom Gideon, maar daar is nou niks aan te doen nie. Later vanaand, as hy eers ’n stukkie geëet het, sal hy met oom Gideon gaan gesels. Hy kan hom natuurlik bel, maar hy wil nie hê die hele wêreld moet weet nog voor hulle ’n geleentheid gehad het om die saak te bespreek nie.

En die plaastelefone …

Moeg vly hy hom in ’n stoel neer. Boel kom staan met sy neus op sy knie asof hy begryp dat sy baas vanaand troos nodig het, en afgetrokke streel hy die hond se mooi kop. Hy voel bitter en ongelukkig.

Esther sal ook omgekrap wees oor haar hond. Nee, hy sien nie uit na die besoek aan oom Gideon nie.

Eendekuil

Подняться наверх