Читать книгу Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Charl se werk het steeds meer veeleisend geword en Margaret het later gevoel dat hulle te midde van al die partytjies, onthale en Charl se ander verpligtings by mekaar verbyleef, net hier en daar kontak maak. Watter sin het so ’n lewe? het sy gewonder. Ter wille van Charl het sy stilgebly, maar sy was dikwels ongelukkig en bekommerd oor hulle dogter wat grootword en haar nodig het.

Soms het sy Ellen haar rustiger bestaan beny, maar sy het geweet dit is ook nie die antwoord nie. Sy het nie die wyse ou strydros se woorde vergeet nie. Ná ’n moeilike dag op kantoor wil ’n man nie na ’n leë hotelkamer terugkeer nie. Hy het iemand nodig met wie hy kan praat oor die dag se frustrasies; hy het die rus en aanmoediging nodig wat net sy vrou vir hom kan gee. As hy dit nie by haar kry nie, soek hy dit elders.

En toe gebeur dit.

Margaret het onrustig na die eerste half skertsende praatjies oor Herman en sy nuwe sekretaresse geluister. ’n Mooi jong meisie wat blykbaar besig was om die – soos almal gedink het – standvastige Herman se voete onder hom uit te slaan.

Was dit net kwaadwillige praatjies, of was daar waarheid in?

Margaret en Charl het Herman en die meisie een aand in ’n restaurant raakgeloop en Herman het haar later na hulle tafel toe gebring.

“Julle ken vir Lizelle,” het hy met ’n glimlag gesê, maar Margaret kon sien hy is nie op sy gemak nie. “Ons begroting is dié week aan die gang, soos julle weet, en ons werk ons byna oorhoeks. Ek het die arme kind gebring om iets te eet voor sy beswyk.”

Die meisie was op haar gemak, mooi en jonk, die onskuld self. Botter sou nie in haar mond smelt nie.

Herman se vriende het minder en minder van hom gesien. Hy was altyd besig, of net nie beskikbaar nie. Intussen het Margaret gehoor hy en Lizelle is saam by die perdewedrenne gesien, op ’n partytjie, ’n Sondag op die strand by Clifton. Margaret was ontsteld en ongelukkig. Moet sy met Herman praat? Vir Ellen bel en sê sy moet dadelik Kaap toe kom?

Voor sy iets kon doen, het die bom ontplof. Herman en Lizelle was ’n naweek alleen by ’n skilderagtige hotel by een van die kleiner strandoorde, waar vriende hulle gesien het. Binne ’n dag het dit die hele Kaap vol gelê.

Dit was ongelukkige, hartseer dae. Die stof het uiteindelik gaan lê, ander nuus het die skinderstories op die agtergrond geskuif. Daar sou geen egskeiding wees nie. Ter wille van die kinders sou hulle weer probeer. Ellen sou voortaan saam met Herman Kaap toe kom terwyl haar ma vir die kinders huishou. Maar dit was ’n ouer, ontnugterde Ellen. Daar was ’n hardheid in haar wat vroeër nie daar was nie. Die barsie in die kruik was daar.

Met Paul se werk het dit goed gegaan. Hy het hom toegelê op vaskulêre chirurgie en groot sukses behaal. Dikwels wanneer Margaret van sy prestasies hoor, het sy gedink aan die dae toe hulle studente was. Toe al het die professore ’n mooi toekoms vir Paul voorspel.

Ja, met Paul se werk het dit goed gegaan, maar in sy private lewe is hy hard geslaan.

Anita het aangegaan met haar musiek. Sy het steeds opgetree en was veral gewild as begeleidster. Daar was af en toe gerugte dat dit nie so goed gaan met die Wagners se huwelikslewe nie, maar Margaret het gehoop dit is net praatjies. Dis altyd die hoë bome wat die meeste wind vang.

Sy was verlig toe sy hoor dat Paul vir ses maande Amerika toe gaan vir navorsing, en Anita en die twee seuns saamneem. Soos sy verwag – en gehoop – het, was die gerugte ongegrond.

Die Wagners was pas terug van Amerika toe Paultjie, hulle jongste seun, verongeluk het. Hy het met sy fiets voor ’n vragmotor beland en is op slag dood.

Margaret en Charl het begrafnis toe gegaan, en later het Margaret weer die Wagners besoek. Dit was asof sy ’n behoefte gehad het om met Paul te praat. Anita was in die bed met griep, en sy en Paul het lank gesels. Hy was kalm en rustig – soos ’n man wat in sy werk ook die skadukant van die lewe goed leer ken het – maar die hartseer in die grys oë het haar nog dae lank bygebly.

Margaret en Charl was die volgende jaar in die Kaap vir die sitting toe sy hoor dat Anita ’n groot operasie ondergaan het. Sy het vir Anita ’n briefie geskryf en haar ’n spoedige beterskap toegewens. Paul het self die briefie beantwoord. Hy was kort en saaklik: dit is ’n kwaadaardige gewas en reeds wyd versprei. Die prognose is swak: ses maande, op die meeste ’n jaar of twee.

Margaret was geskok en verslae. Anita is die dogter en die vrou van twee vooraanstaande geneeshere – kon hulle werklik niks vir haar doen nie?

Terwyl Charl en Margaret net na die sitting in Switserland was, is Anita Wagner oorlede. Die einde het gouer gekom as wat hulle verwag het.

Die ironie van die lewe, het Margaret gedink. Die briljante geneesheer wat so baie ander siekes gehelp het, kon sy eie vrou nie help nie.

Hulle het Paul besoek toe hulle terug was in Pretoria: ’n stil, ingetoë Paul tot wie Margaret vir die eerste keer nie kon deurdring nie.

In Januarie is hulle terug Kaap toe sonder dat sy Paul weer gesien het.

Die dolle gejaag het voortgeduur. Charl was ’n ruk lank ernstig siek met ’n kwaai griepaanval wat hy nie kon afskud nie. Selfs nadat hy beter geword het, was hy moeg en prikkelbaar. Hy het sleg geslaap en was dikwels tot laat in die nag in sy studeerkamer besig om die agterstallige werk in te haal. Aan sy dokter se waarskuwing dat hy die pas nie kon volhou nie, het hy hom nie gesteur nie. Pretoria, Kaapstad, Londen, Rome – dit was sy werk en sy lewe, ’n opwindende spel waarvan hy elke oomblik geniet het.

In Ingrid se matriekjaar is Margaret weer vir ’n paar weke saam met Charl na Switserland, waar hy ’n konferensie moes bywoon. Sy wou Ingrid nie graag op dié tydstip alleen los nie, maar Charl het net geweier om sonder haar te gaan.

“Ingrid is ’n selfstandige kind – sy het jou nie nodig nie. Ek het. Ek wil hê jy moet saamkom, Margaret.”

“Natuurlik moet jy saamgaan, Mamma,” het Ingrid gesê toe sy van Charl se planne hoor. “Ek kan na myself kyk.”

Maar daar was trane in haar oë toe sy Margaret groet, ’n stille verwyt wat Margaret die hele tyd in Switserland nie kon vergeet nie.

En toe was dit weer tyd om Kaap toe te gaan. Ingrid sou Stellenbosch toe gaan. Sy het drie onderskeidings in die matriekeksamen gekry en Charl het trots en tevrede geglimlag. Hy ken sy dogter!

In die Kaap het die lewe weer in die ou patroon verval. Daar was besoekende handelsendings en samesprekings; dit was vir Margaret of daar nooit ’n einde aan al die onthale en partytjies was nie. Daarby was sy bekommerd oor Charl. Hy het weer griep gekry, dié keer met longkomplikasies daarby, en was byna twee weke lank in die hospitaal.

In Julie is Charl, blykbaar volkome herstel, saam met die minister oorsee. Margaret is na haar suster op hulle plaas in die Karoo. Daar op die mooi, rustige ou plaas kon sy ’n bietjie tot stilstand kom, haar lewe in oënskou neem, en miskien helderheid in haar eie gemoed kry.

Toe Charl terugkom, het sy lank en ernstig met hom gesels. Hulle kan nie so voortgaan nie. Hulle is albei moeg, hulle het albei ’n goeie vakansie nodig. Hy het soveel verlof, sy stel voor dat hy dadelik langverlof neem – minstens twee maande, verkieslik langer – en dat hulle êrens langs die see ’n huisie huur waar hulle rustig kan ontspan en alleen kan wees.

Dis ’n goeie plan, het Charl gesê. Hy besef hy is moeg en het rus nodig. Maar nie nou nie. Dis ’n besige tyd wat voorlê, ’n Japanse sending, oorsese besoekers. Hy kan die minister nie in die steek laat nie, hy durf nie nou verslap nie. Dis nog ’n geheim, maar die minister het hom by die kabinet aanbeveel vir ’n belangrike pos wat in sy departement vakant word. Dit sal ’n groot pluimpie vir hom wees as hy die bevordering oor die koppe van ander ouer, meer ervare amptenare kry. Dit sal ook beteken dat hulle voortaan heelwat rustiger kan lewe.

Die Japanse sending het gekom en die minister was baie in sy skik met die onderhandelings. Dit het beter gegaan as wat hulle verwag het, en hy het Charl gekomplimenteer met sy aandeel in sake. Charl was geesdriftig en vol energie. Af en toe het hy gekla oor ’n vae pyn in die bors, maar hy het geweier om dokter toe te gaan. Hy het belowe om minder te werk, en dat hulle voortaan net die belangrikste funksies hoef by te woon. En sodra dit stiller word, kan hulle oppak en vakansie gaan hou. ’n Maand, twee maande … sy kan solank dink waarheen sy wil gaan.

Hy het belowe, ja, maar hy het nie daarby gehou nie. Daar was altyd belangrike sake wat sy persoonlike aandag vereis het.

Die tempo het versnel namate die einde van die jaar nader gekom het … tot die middag toe Charl se sekretaris hom huis toe bring, wit en strak, met ’n fel pyn in sy bors.

Hy het probeer glimlag, maar dit het inspanning gekos.

“Ek voel ellendig,” het hy met moeite gesê. “Jammer, dit sal nou beter wees.”

Die dokter het dadelik gekom en hom ’n inspuiting gegee, maar die pyn het nie bedaar nie. Nog voor die ambulans gekom het, terwyl die dokter besig was om hom ’n tweede inspuiting te gee, het Charl gesterf.

Ingrid het huis toe gekom, bleek en verslae. Margaret se suster en swaer en Charl se familie het gekom; Charl se kollegas was daar, verbyster. Die briljante Charl Marais, met sy helder en nugter siening van sake, nog so jonk, so plotseling weggeneem uit hulle midde.

Margaret was weer soos ’n slaapwandelaar, sy was daar en ook nie daar nie. Die jakarandas het geblom, die pers blommewaas het die stad in ’n sprokieswêreld omtower, maar sy het niks gesien nie.

Paul het ’n paar maal kom kuier, maar niks of niemand kon haar eintlik raak nie. Sy was alleen met haar hartseer en verlies.

Toe die begrafnis verby is, kom Ingrid die een oggend na haar toe.

“Wil Mamma hê ek moet by Mamma bly?” vra sy.

Margaret skud haar kop. “Nee, Ingrid. Natuurlik nie. Jy het hard gewerk, jy moet jou jaar gaan klaarmaak.”

“Ek sal bly as Mamma my nodig het.”

“Dis nie nodig nie. Tannie Elise sal ’n rukkie by my bly, daarna sal ek moet leer om alleen te bly. En jy is mos een van die dae ook weer terug by die huis.”

“En volgende jaar?” vra Ingrid.

“Volgende jaar?”

“Sal ek teruggaan Stellenbosch toe? Of wil Mamma liewer hê ek moet hier kom studeer?”

Sy kyk na die mooi jong meisie – Charl se dogter in so baie opsigte – en ’n oomblik lank aarsel sy. Dit sal wonderlik wees om Ingrid by die huis te hê, om te hoor hoe sy en haar vriende die leë huis met hulle stemme en jeugdige geesdrif vul. Maar sy het nie die reg om dit te vra nie.

“Ingrid is ’n selfstandige kind – sy het jou nie nodig nie,” hoor sy weer Charl se stem.

Ingrid het geleer om sonder haar klaar te kom. Sy sal moet leer om sonder Ingrid klaar te kom.

“Nee, hartjie,” sê sy. “Ek wil nie hê jy moet Pretoria toe kom nie. Ek weet jy is gelukkig op Stellenbosch – jy het lekker vriende daar en jy geniet jou kursus. Bly waar jy is. Daar is mos altyd vakansies om na uit te sien.”

Sy sien die vlugtige verligting in Ingrid se oë, en weet sy het reg gedoen.

Ellen het gereeld kom kuier, gehelp waar sy kon. Op ’n ander manier het sy vir Margaret probeer troos.

“Charl is dood, ek weet, maar jy het mooi herinneringe aan hom en aan julle lewe saam. Niks en niemand kan dit by jou wegvat nie. Op ’n ander manier het ek ook my man verloor, en al wat oorgebly het, is ontnugtering. Ek wonder wat die swaarste is.”

Die bitter, ongelukkige woorde skok Margaret uit haar apatie.

“Jy mag nie so praat nie, Ellen,” bestraf sy haar vriendin. “Herman het teruggekom na jou en die kinders – hy het berou oor wat gebeur het. Met jou hulp kan julle met julle kinders nog ’n mooi en vol lewe saam bou.” Sy sien die verbittering op haar vriendin se gesig en sagter, byna pleitend sê sy: “Ellen, julle het nog mekaar. Vergeet wat gebeur het, dis die toekoms wat tel.”

“Jy kan maklik praat,” antwoord Ellen. “Ja, ek weet julle dink dis my eie skuld, maar ek het hom vertrou. Hoe kan ek in die toekoms ooit weer seker wees …”

“As jy so voel,” sê Margaret streng, “moes jy hom nie toegelaat het om terug te kom nie.” Sagter vervolg sy: “Jy is gelukkig, jy het ’n tweede kans gekry. As jy Herman nog liefhet, moet jy hom vergewe, met jou hele hart. Waarom anders het jy hom teruggeneem?”

Ellen is ’n lang ruk stil, dan sê sy: “Ek weet nie of ek hom nog liefhet nie. Ek weet nie of ek alles wat gebeur het ooit sal kan verwerk nie.”

Arme Ellen! Margaret kon net hoop en vertrou dat haar bitterheid met die tyd sou verdwyn en sy genesing sou vind.

Desember is Margaret en Ingrid na haar suster Elise-hulle op die plaas. Dit was die eerste keer in twaalf jaar dat sy nie gereed gemaak het om vir die sitting Kaap toe te gaan nie. In Februarie is Ingrid terug na Stellenbosch, en Margaret is na Charl se broer, Pieter, en sy vrou op Hermanus. Almal was lief en goed en begrypend, maar sy het rusteloos en gespanne gebly; die pad vorentoe het soos ’n eensame woestyn gelyk.

Pieter en Hettie sou in Mei Ooste toe gaan en hulle het Margaret probeer oorreed om saam te kom.

“Ek sal daaroor dink,” het sy gesê. Waarom nie? Ingrid is versorg en gelukkig. Waarvoor wil sy tuisbly?

Sy wou nie langer as tien dae by Pieter-hulle bly nie – sy was haastig om huis toe te gaan, waarom het sy self nie geweet nie. Om haar sake in orde te kry, het sy vir Pieter gesê. Een van die dinge waaroor sy moes besluit, was of sy in hulle huis wou aanbly, en of sy die huis in die mark moes sit.

“Verkoop die huis,” het Pieter gesê. “Kry vir jou ’n lekker woonstel. Dis nie goed en ook nie veilig vir jou om so alleen te bly nie.”

“Ek sal sien,” het sy gesê.

Soveel besluite wat geneem moes word. In die verlede het Charl na alles omgesien. Al die besluite geneem, alle reëlings getref. Sy sou van voor af moes leer om vir haarself te dink en haar eie sake te behartig.

Die huis was stil en verlate. Sonder lewe, sonder warmte. Net Daniel het daar rondgedwaal, getrou op sy pos, en elke beweging van haar met angstige oë dopgehou.

Sy is ’n week tuis toe Paul die oggend bel.

“Ek hoor jy is terug,” sê hy. “Ek wil met jou gesels, Maggie. Sal jy vanmiddag na vyf tuis wees?”

“Ek is hier en ek sal bly wees om jou te sien,” antwoord sy. “Ek … ek wil graag jou raad vra.”

Paul het gekom, nog dieselfde Paul, en tog ouer, ernstiger. Hulle het saam tee gedrink, maar sy was vreemd gespanne en senuweeagtig.

“Waaroor wil jy met my gesels, Paul?” vra sy later, bang – waarvoor weet sy self nie.

“Dit kan wag,” sê hy. “Jy het gesê jy wil my raad vra. Wat kan ek vir jou doen, Margaret?”

“Dis oor die huis. Pieter, Charl se broer, dink ek moet verkoop en ’n woonstel kry. Ek weet nie wat om te doen nie.”

Paul is ’n rukkie stil. Dan sê hy: “Ek sou die huis nie dadelik verkoop nie. Wag eers, die tyd sal jou leer wat om te doen. Of jy hier bly of na ’n woonstel toe gaan, jou hartseer en verlange gaan saam met jou.”

“Ek weet. Dit hoef jy my nie te vertel nie.”

“En wat van Ingrid?” vra hy. “Dit sal vir haar lekker wees om te weet die ou huis is nog hier wanneer sy en haar vriende met vakansies huis toe kom.”

“Jy is seker reg,” erken sy, maar hy kan die moedelose klank in haar stem hoor.

“Dis beter so, Maggie. Nie net vir Ingrid nie, maar ook vir jouself. Dis hier in die huis waar jy en Charl al die jare saamgewoon het dat jy jou verlies moet verwerk, weer vrede moet maak met die lewe.”

“Ek is bly jy dink so. In my hart is ek nog nie reg om die huis te laat gaan nie.”

“Bly hier solank jy lus het,” sê hy. “Wat is jou planne vir die toekoms?”

Sy vertel hom van Pieter-hulle se uitnodiging dat sy saam met hulle oorsee gaan, maar hy skud sy kop.

“Nee, jy kan nie gedurig weghardloop nie. Dit sal jou niks baat nie. Ek het jou gesê, jy moet jou hartseer hier verwerk, hier berusting kry. Dan eers sal jy reg wees om weer die wêreld daar buite aan te durf.”

“Maar wat moet ek doen, alleen hier in die groot huis, sonder Charl en sonder Ingrid?” vra sy wanhopig.

“Jy moet gaan werk, natuurlik, hoe gouer hoe beter. Dis eintlik waaroor ek vanmiddag met jou kom gesels het.”

“Werk?” vra sy sonder begrip. “Waar moet ek werk?”

’n Vreemde glimlaggie raak aan sy mondhoeke.

“Jy is ’n dokter, Maggie. Het jy vergeet?”

“’n Dokter!” Sy kyk skerp na hom, seker hy spot met haar, maar die grys oë is ernstig.

Hulpeloos skud sy haar kop.

“Jy weet, beter as enigiemand anders, hoe medies die laaste twaalf jaar verander het. Ek sal weer van voor af moet klas loop.”

“Dis presies wat jy moet doen,” antwoord hy kalm. “Daar is ’n deeltydse nagraadse kursus by die hospitaal – dit duur drie jaar – wat jou sal help om in te haal. Jy sal dit geniet.”

Hy haal ’n koevert uit sy sak en sit dit op die tafel neer. “Hier is al die inligting, jy kan later daarna kyk. Die klasse het reeds begin, maar hulle sal jou nog neem.” Sy kyk hom sprakeloos aan en kalm vervolg hy: “Intussen kan jy dadelik by die hospitaal begin. Ek het met dokter Heyns, die superintendent, gepraat – hulle is maar te gretig om jou dienste te kry.”

“Hoe kan ek, Paul?” vra sy en voel die trane wat agter in haar keel brand. “Ek het alles vergeet wat ek geleer het, ek sal die vreeslikste foute maak.”

“Jy sal gou regkom. En – ek het jou dit al vantevore gesê – werk is goeie medisyne vir ’n seer hart. Ek weet waarvan ek praat.”

“Dit sal wonderlik wees,” sê sy, steeds onseker. “Maar ek is bang …”

“Jy hoef nie bang te wees nie, jy sal sien. En die hospitaal het jou regtig nodig. Wil jy nie probeer nie?”

“Ek sal graag probeer, as jy dink ek kan,” fluister sy, en die blou oë is blink en mooi.

“Ek weet jy kan,” antwoord hy, en die oortuiging in sy stem is al wat sy nodig het.

Paul skink vir hulle ’n drankie en stel voor dat hulle êrens gaan eet.

“Ek sal vir jou ’n omelet maak of eiers bak,” bied sy aan. “Ek … ek is nie lus om uit te gaan nie.”

Maar hy skud sy kop. “Ek is honger. Ek het nie vanmiddag geëet nie en ek is seker jy ook nie. Kom, kry vir jou ’n jas, daar waai vanaand ’n koel windjie. Toe, dit sal ons albei goed doen.”

Tryna du Toit Omnibus 11

Подняться наверх