Читать книгу Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

’n Week later het Margaret in vrees en bewing by die hospitaal diens aanvaar. Aan die begin was sy senuweeagtig en gespanne, maar algaande het sy meer vertroue gekry en verbasend gou by die hospitaalroetine aangepas. Die eerste weke was sy saans totaal uitgeput, gereed om net bed toe te gaan, maar die meeste naweke was sy los, behalwe dat sy hard moes studeer om die verlore jare in te haal.

Toe sy haar weer kom kry, is dit einde Junie en tyd vir Ingrid om huis toe te kom.

“Ek is bly Ma het besluit om weer te gaan werk,” sê Ingrid toe sy die eerste aand vir haar kom nagsê. “Ek is trots op my dokterma – ek spog vreeslik by my vriende oor my mooi, slim ma! Verbeel jou – dokter Margaret van Zyl. En al die jare het ek nooit eers besef Ma is ’n dokter nie!”

“Ek het self vergeet,” erken Margaret met ’n glimlag.

“Geniet Ma die werk?”

“Ek geniet dit baie. Ek is net jammer – nou is jy bedags alleen.”

“Ek het baie om te doen. Volgende week kom my kamermaat vir ’n paar dae kuier en later kom ’n vriend van my ’n paar dae Pretoria toe.”

Iets in haar stem maak Margaret nuuskierig.

“’n Spesiale vriend?” vra sy sag.

“Ek dink so – ek weet nie, dis nog te vroeg om te sê. Nee, dis nie waar nie,” erken sy dan. “Ek het die eerste dag al geweet.”

“Vertel my van hom?”

“Sy naam is Arnold Visser en hy swot regte. Hy maak dié jaar klaar. Sy pa is ’n advokaat. Ek dink Ma sal van hom hou.”

“As jy van hom hou, sal ek ook van hom hou.”

Ingrid buk en soen haar wang.

“Ek is trots op my ma,” herhaal sy. “Om na al die jare weer te gaan werk en boonop nog te swot ook. Dis net ’n baie spesiale ma wat dit kan doen.”

“Ek is bly jy is tevrede,” sê Margaret tergend en lê haar hand vir ’n oomblik teen Ingrid se wang.

So is die lewe, dink sy. Deur haarself los te maak van Ingrid, vir haarself ’n nuwe lewe te probeer bou, het sy opnuut haar dogter se liefde en waardering gewen.

En dit alles het sy aan Paul se insig en begrip te danke.

Nie dat dit maklik was nie. Daar was dikwels nog vaal dae van eensaamheid en verlange, moeilike dae by die hospitaal wat haar uitgeput na siel en liggaam laat terugkom het huis toe. Maar dit was in die oggend as sy wakker word goed om te weet dat daar werk is om te doen en dat iemand haar nodig het. Die lewe het vir haar nuwe sin en betekenis begin kry. Sy was besig om haarself, haar eie potensiaal opnuut te ontdek.

Ingrid se vriend het gekom, en Margaret het gehou van die stil, ernstige jong man met die droë humorsin. Sy het sy kuiertjie geniet en dit was ’n voorreg om ’n rukkie deel te hê aan die kinders se vreugde en genot in die lewe. Maar te gou was die vakansie verby en is Ingrid weer Stellenbosch toe. Opnuut was sy dankbaar vir haar werk by die hospitaal, die kursus wat soveel van haar tyd in beslag geneem het.

Vir Paul het sy gereeld gesien, al was dit soms net in die verbygaan.

Wanneer hulle mekaar ’n paar dae by die hospitaal misgeloop het, het hy haar kom soek net om hallo te sê en te hoor hoe dit gaan. Soms het hy in die middag wanneer sy spreekure verby was onverwags by die huis aangekom en ’n drankie saam met haar gedrink. Dikwels het hy dan voorgestel dat hulle êrens gaan eet, sommer stil en informeel, maar hy het nooit laat gekuier nie. Hulle verhouding was gemaklik en sonder spanning.

Sy was hom dankbaar daarvoor en van haar kant was sy ook versigtig om nie misbruik van sy vriendskap te maak nie, om geen eise aan hom te stel nie.

Van haar en Charl se vriende het sy min gesien. Hoe gou word ’n vrou vergeet, opsy geskuif as haar man die dag wegval! Nie dat sy hulle dit verkwalik het nie. Die lewe gaan immers voort. Vir hulle was daar die dolle gejaag na prestige en roem en rykdom; daar was nie tyd om om te kyk na dié wat agtergebly het nie.

En daar was tog ’n paar wat gereeld gebel het om te hoor hoe dit gaan en haar genooi het om te kom kuier. Meestal het sy die uitnodigings van die hand gewys, maar soms, as dit ’n spesiale geleentheid was, het sy gegaan. Wanneer sy en Paul na dieselfde partytjie genooi is, het hy altyd aangebied om haar te kom haal, maar sy het verkies om op haar eie te kom en te gaan.

“Waarom?” wou Paul weet toe sy weer eendag weier om saam met hom te gaan.

“Ek verkies dit so.”

“Is jy bang die mense sal praat?”

“Die mense sál praat! En ek … ek is nie reg daarvoor nie.”

Hy het nie verder aangedring nie, tot haar verligting. In dié stadium was haar werk, haar studies, haar kontak met die hospitaalpersoneel, Ingrid se briewe, haar huis en tuin al wat sy nodig gehad het. Te ver vorentoe het sy nie durf kyk nie.

Die dae en weke het verbygevlieg. Die jakarandas het weer geblom en hulle pers waas oor die stad gesprei. Dit was ’n jaar sedert Charl oorlede is en dit was al weer amper tyd vir Ingrid om huis toe te kom. Haar eie eksamen was om die draai.

In Desember is Margaret en Ingrid weer plaas toe, en daarna is hulle na Pieter-hulle toe op Hermanus, waar Arnold en sy gesin ook gekuier het. Margaret het sy ouers ontmoet en baie van hulle gehou. Ingrid en Arnold het almal verras deur op Oujaarsaand hulle verlowing aan te kondig. Hulle sou die einde van die volgende jaar trou wanneer Ingrid graad kry.

“Jy wou dan verder studeer,” sê Margaret, nog half uit die veld geslaan. “Wat gaan nou van al jou mooi planne word?”

Ingrid lag. “Omdat ek gaan trou, beteken dit nie ek gaan ophou studeer nie,” antwoord sy. Tergend voeg sy by: “Ek het mos my eie ma as voorbeeld en inspirasie.”

“Ek hoop jy sal gelukkig wees,” sê Margaret sag, en sy dink aan Charl se woorde: “Ingrid is ’n selfstandige kind.”

“Ek weet ek sal,” sê Ingrid met al die vertroue van haar een en twintig jaar. Sagter sê sy: “Ek is jammer Arnold het nie vir Pappa ook geken nie – ek dink Pappa sou tevrede gewees het om Arnold as skoonseun te kry.”

Daar is ’n knop in Margaret se keel en ’n oomblik lank kan sy nie praat nie. Onverwags buk Ingrid en soen haar wang. “Gelukkig het ek nog vir Mamma. Arnold se ouers dink Mamma is fantasties. Hulle verstaan nou waarom ek so trots is op my mooi ma.”

’n Paar dae later is Margaret alleen terug Pretoria toe. Ingrid sou ’n rukkie langer by haar aanstaande skoonfamilie kuier. Haar tuiskoms by die stil, verlate huis, die tuin verwoes na ’n onlangse haelbui, was dubbel so swaar en sy was dankbaar vir die werk wat op haar gewag het.

Paul en Louis, sy negejarige seun, was vir die vakansie saam met familie Plettenbergbaai toe en Paul het ’n paar dae na Margaret teruggekom. Die eerste dag het hy haar in haar kantoor kom groet. Hy het jonk gelyk, bruingebrand en uitgerus.

“Jy lyk goed,” sê sy met ’n glimlaggie. “Lekker vakansie gehou?”

“Baie lekker, dankie.” ’n Lang oomblik kyk hy af na haar, dan vra hy sag: “En jy, Maggie?”

“Dit was lekker. Maar ek is bly om terug te wees. O ja, Ingrid het in die vakansie verloof geraak.”

“Ek het die aankondiging in die koerant gesien. Baie geluk. Ek hoop jy hou van haar keuse.”

“Baie. Arnold is ’n oulike seun en ek hou van sy ouers.”

“Nou waarom is daar dan skaduwees onder jou oë? Iets wat jou hinder?”

“Dis niks nie.” Skielik sit haar trane vlak. “Ek is net bly om weer terug by die werk te wees.”

Hy raak liggies aan haar skouer. “Kom eet vanaand saam met my. Dan kan jy my van Ingrid se planne vertel. Trek vir jou ’n mooi rok aan. Dis iets om te vier as jou dogter die dag verloof raak.”

Die goeie, begrypende vriend, wat altyd gereed is met ’n helpende hand.

Dit was op Plettenbergbaai dat Paul vir Magda ontmoet het, maar dit het sy eers later gehoor.

Margaret het hard gewerk by die hospitaal, en aan haar kursus. Haar dae was vol en besig. Dikwels moes sy met noodgevalle in die teater help, en al hoe meer het sy self operasies gedoen.

Paul is reg, ek is ’n dokter, het sy met voldoening gedink. Tot dáárdie dag.

Paul het dié dag ’n moeilike operasie op een van sy kollegas en oudprofessors gedoen. Hy wou niemand in die teater toelaat nie, behalwe sy vertroude span, maar toe Margaret vra, het hy ietwat onwillig ingestem dat sy ook mag by wees.

Die operasie was lank en veeleisend en hulle het die pasiënt ’n paar keer byna verloor. Margaret het ademloos gekyk na die mediese wonderwerk wat voor haar oë geskied, totdat sy ineens besef die wêreld om haar word swart.

Een van die verpleegsters het gesien wat aangaan en vang haar toe sy begin kantel en neem haar na die vertrek langsaan.

Het ek byna in die teater flou geword? dink Margaret verslae terwyl sy bleek en bewend met haar kop in haar hande by die tafel sit. En dit waar Paul besig is om te opereer! Sal sy óóit die skande oorleef?

Iemand sit ’n koppie tee voor haar neer, maar sy bly roerloos so sit. Toe die teatersuster later inkom, sit sy nog daar, die tee onaangeraak voor haar. Op haar vraende blik knik die suster.

“Die operasie is verby. Die pasiënt is redelik gemaklik. Hoe voel jy, dokter?”

“Ellendig,” sê Margaret met ’n verleë glimlag. “Tot in my siel verneder.”

Suster snork. Daar is geen versagting op die streng gesig nie. “Jy het seker nie vanoggend ontbyt geëet nie, het jy?”

Margaret skud haar kop. “Nee, ek was te haastig om by die hospitaal te kom.”

“Nou wat verwag jy, dokter? Dis die moeilikheid! Ons moet nie net na die pasiënte kyk nie, maar na die dokters ook.”

“Ek is jammer, suster. Ek weet ek het nie net myself nie, maar my hele geslag in die skande gesteek.”

“Jy sal dit oorleef,” is die koel antwoord. “Drink jou tee – jy sal beter voel.” Sy raak aan die koppie. “Wag, die tee is yskoud. Daar is vars tee in die sitkamer.”

Paul kom die vertrek binne. Sy masker is af, maar hy het nog sy operasieklere aan. Margaret is bewus van sy blik op haar, en sy dwing haarself om na hom te kyk. Die tekens van spanning is nog op sy gesig, maar ’n sweem van ’n glimlag huiwer om sy mond.

“Suster sê dis verby. Die pasiënt is gemaklik,” sê sy.

Paul knik. ’n Oomblik lank kyk hy af in haar bleek gesig. “Wat het gebeur, dokter?” vra hy dan bruusk.

“Dokter Van Zyl het natuurlik vanoggend nog niks geëet nie,” antwoord suster ontevrede. “Grootmense wat nie na hulleself kan kyk nie!”

Paul kyk na die onsmaaklike koppie koue tee wat voor Margaret staan.

“Kry ons nie tee nie, suster?” vra hy.

“In die sitkamer, dokter,” sê die suster koeltjies en stap uit.

Margaret haal diep asem. “Ek is jammer,” sê sy verleë. “Ek hoop jy het nie gesien nie.”

“Ek het gesien, ja. Gelukkig was ons amper klaar.”

“Ek is regtig jammer. Dit was onvergeeflik. Jy sal my seker nooit weer in die teater toelaat as jy opereer nie.”

“Nee, dit was ’n fout gewees,” sê hy koel. “Kom ons gaan drink tee.”

’n Oomblik lank aarsel sy, dan staan sy op. Sy sien die glimlag wat nog om sy mond huiwer en dink aan die goedige gespot wat op haar wag. Dan lig sy haar kop en stap voor hom uit. Hoe gouer sy dit verby kry, hoe beter.

Margaret is besig om tuin nat te gooi toe Paul laat die middag daar aankom. Sy het ’n ou langbroek en hemp aan, sy is bleek, die blou oë ongelukkig. Soos Paul verwag het, was die storm nog nie uitgewoed nie. Margaret merk dat Paul moeg lyk. Na die eerste, byna rampspoedige operasie het hy nog ander operasies ook gehad. ’n Oomblik lank kyk sy hom onseker aan, dan groet sy spottend.

“Middag, dokter.”

“Middag, dokter,” groet hy onverstoord terug.

Sy gooi die tuinslang opsy en draai die kraan toe.

“Kom jy nou van die hospitaal af?”

Hy knik. “Dit gaan beter,” sê hy in antwoord op haar blik. Sy woorde bring die oggend se gebeure weer helder na haar terug, ook haar eie rol in die drama. Verleentheid spoel opnuut soos ’n golf oor haar.

“Wat kan ek vir jou doen, dokter?” vra sy koel. “Ek moet jou waarsku, ek is nie in ’n goeie bui nie.”

“So kan ek sien,” sê hy kalm.

“Wat kan ek vir jou doen?” herhaal sy.

“Ek het gehoop jy sal vir my ’n drankie gee en later saam met my gaan eet.”

“Eerder nie vanaand nie,” sê sy onmiddellik. “Jy sal verstaan, hoop ek.”

“Dan sal jy vir my kos moet maak,” sê hy. “Louis is weg – hy het gaan kamp – en my huishulp het die dag af. Ek was seker jy sal jou oor ’n ou vriend ontferm.”

Sy gluur hom aan en hy glimlag effens.

“Ek het nie lus om vanaand te baklei nie. Gaan stort – daar is modder op jou gesig. Ek skink solank vir my ’n drankie en kyk na jou koerant.”

Na die stort voel sy beter. Of het die wete dat Paul vir haar in die sitkamer wag ook iets daarmee te doen? Sy trek ’n swart broekpak aan – sy gaan nie vanaand saam met Paul eet nie – en gaan sitkamer toe.

In die deur aarsel sy, en skielik is dit of haar hart omkeer. Paul sit in die diep stoel by die staanlamp. Sy drankie staan langs hom en hy is besig om koerant te lees. Hy het die radio aangeskakel en sagte musiek vul die kamer. Dit lyk warm en gesellig – so asof hy daar hoort.

Haastig stoot sy dié gedagte van haar weg en stap nader.

Paul kry vir haar ’n drankie en die grys oë rus ’n oomblik lank ondersoekend op haar.

“Beter?”

“Ja, dankie.”

“Jou yskas is leeg – ek het gekyk toe ek die ys uitgehaal het. Jy sal saam met my moet gaan eet.”

“Ek wil nie uitgaan nie,” sê sy koppig, “veral nie saam met jou nie. Nie vanaand nie,” voeg sy sagter by.

Hy kyk na haar, lank en stil. Dan sê hy: “Drink jou drankie en moenie kinderagtig wees nie. Ek is moeg, ek is nie lus vir argumente nie.”

Sy stem is onverwags streng en sy kyk hom verbaas aan. So praat hy met die verpleegsters by die hospitaal as hulle verbrou het, nie met haar nie. Sy soek na die regte woorde om hom te antwoord, dan sien sy die vermoeienis op sy gesig en haar verset verdwyn.

Onseker begin sy hom uitvra na die oggend se operasie en geleidelik vergeet sy haar ongemak en verleentheid.

“Ek is bly ek kon dit sien, al het ek jou so in die skande gesteek. Ek verstaan nou nog nie waarom dít gebeur het nie.”

“Ek verstaan dit goed. Jy het nie geëet nie, soos suster gesê het, en die lang staan en spanning van die operasie is vir die toeskouer dikwels erger as vir die dokter self.” Hy aarsel en sê met ’n glimlag: “Moontlik het die feit dat dit ék was wat geopereer het ook iets daarmee te doen.”

Sy kyk agterdogtig na hom en voel die harde geklop van haar hart.

“Wat bedoel jy daarmee?” vra sy koel.

“Werk dit vir jouself uit, dokter Van Zyl. Kom ons gaan eet – ek is honger.”

“Dan moet ek iets anders gaan aantrek,” maak sy beswaar.

“Dis nie nodig nie. Jy lyk baie mooi soos jy is.”

“Asof jy ooit raaksien wat ek aanhet, behalwe die wit doktersjas.”

Hulle het lekker geëet. Sy het gesien hoe Paul ontspan en hulle het na ete langer as wat hulle bedoel het nog gesit en gesels.

Hulle is met hulle derde koppie koffie besig toe ’n man en vrou na hulle tafel toe kom. Die vrou is elegant aangetrek en dra ’n blink rok met juwele en ’n swierige pelsstola.

“Geluk met die operasie,” sê die man. “Ek hoor dit was ’n skitterende sukses.”

Sy vrou wens ook vir Paul geluk en hy bedank hulle. Dan kyk hy na Margaret: “Ek weet nie of jy vir dokter en mevrou Prinsloo ken nie?” vra hy. “Dokter Margaret van Zyl – ’n ou studentevriendin van my,” voeg hy met ’n glimlag by.

Die Prinsloos groet en Margaret is bewus van die vrou se nuuskierige blik. Dit sal natuurlik gebeur dat hulle mense raakloop die een keer dat sy in ’n gewone broekpak kom eet!

“Ons sien jou Saterdagaand, nè?” sê mevrou Prinsloo. “Magda sê sy het met jou gereël – jy sal haar bring.”

“Ek sal haar bring,” sê Paul. “As jy klaar is, Margaret, is dit seker tyd dat ons ook huis toe gaan.”

Margaret staan dadelik op en saam stap hulle en die Prinsloos die restaurant uit – Margaret opnuut bewus van die elegansie en deftigheid van mevrou Prinsloo.

“Wie is die Prinsloos?” vra sy toe hulle huis toe ry.

“Dokter Prinsloo het vroeër op die platteland gepraktiseer – nou spesialiseer hy in narkose. Ek het hulle eintlik op Plettenbergbaai leer ken. Hulle het ’n huis daar.”

Eers toe hulle amper by die huis is, vra sy: “En wie is Magda?”

“Magda Jooste, mevrou Prinsloo se suster, het die vakansie by hulle op Plett gekuier.” Hy is ’n rukkie lank stil, dan sê hy: “Magda is eintlik ’n Kapenaar. Sy het verlede jaar ná haar man se dood na Pretoria verhuis.”

Margaret vra geen verdere vrae nie.

By die huis stap Paul saam met haar en sluit die voordeur vir haar oop.

“Dankie. Dit was baie lekker,” sê hy. Onverwags sit hy sy hand onder haar ken, en vir ’n oomblik kyk hy in die halfdonker af na haar. Dan soen hy haar liggies op die mond.

“Nag, Maggie,” sê hy sag, draai om en stap weg.

Sy kyk hom agterna totdat hy in sy motor klim en wegry. Sy voel nog die ligte aanraking van sy lippe op hare en is bewus van die vinnige klop van haar hart.

’n Troosgebaar ná haar verleentheid die oggend in die teater? Die goeie vriend wat altyd daar is as sy hom nodig het?

Terwyl sy gereed maak om bed toe te gaan, dink sy weer aan die Prinsloos en die nuuskierigheid in die vrou se oë toe Paul hulle voorgestel het. Asof sy met buitengewoon baie belangstelling na dokter Margaret van Zyl kyk!

En Magda Jooste? Dis of daar skielik ’n koel windjie deur die kamer waai. Sy het ’n gevoel dat sy in die toekoms nog dikwels van Magda Jooste gaan hoor.

Tryna du Toit Omnibus 11

Подняться наверх