Читать книгу Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Daardie Saterdagmiddag bel Ellen Venter en nooi Margaret om die aand te kom kuier. Haar man is na ’n noodvergadering in Johannesburg, haar kinders het ander afsprake en sy is alleen.

“Ek verlang na jou,” sê Ellen. “Jy het ons die laaste tyd gruwelik afgeskeep.”

“Ek sal kom,” sê Margaret dadelik. Sy was van plan om die aand te werk, maar die hele middag al dwaal sy doelloos in die huis en tuin rond, te rusteloos om iets te doen. Omdat dit Saterdagaand is en sy alleen is? Of omdat Paul vanaand saam met Magda Jooste na die Prinsloos se partytjie toe gaan?

“Wat maak jy met jouself dat niemand jou sien nie?” raas Ellen nadat sy vir hulle elkeen ’n drankie geskink het.

“Ek werk,” antwoord Margaret liggies. “Ek woon lesings by en ek studeer. Is dit nie genoeg nie?”

“Ek weet jy werk hard, maar jy mag jou nie so aan jou vriende onttrek nie,” sê Ellen sag, verwytend.

“Ek het my nie doelbewus aan my vriende onttrek nie,” antwoord Margaret. “Maar julle het julle gesinne, julle lewens is vol en besig. Ek moet van voor af ’n nuwe lewe probeer bou. Dit neem tyd om aan te pas, om jou voete weer te vind.”

“Ek besef dit goed. Maar jou vriende wil jou graag help.”

“Ek weet nie of hulle my kan help nie. Ja, ek weet ek het my vriende verwaarloos, maar elkeen moet sy verlies op sy eie manier verwerk. Vir my is my werk by die hospitaal en my kursus die beste terapie wat ek kon gekry het. So stadigaan help dit om weer sin aan my lewe te gee.”

“Jy is gelukkig dat jy jou beroep gehad het.”

“Dis deur Paul se toedoen,” sê Margaret. “Dis hy wat vir my gesê het ek kan nie van my hartseer weghardloop nie. Dis hy wat my daaraan herinner het dat ek ’n dokter is, dat ek nog werk het om te doen.”

’n Rukkie is dit stil tussen hulle, dan sê Ellen: “Jy ken Paul al lank, nie waar nie?”

“Baie jare. Ons het saam medies geloop – hy was toe al die beste student in ons klas. Deur die jare het ons ’n bietjie kontak verloor, maar vandat Charl dood is, beteken sy vriendskap vir my baie.”

“Is dit net vriendskap, Margaret? Ons het so gehoop jy en Paul … ?”

“Ons is goeie vriende, niks meer nie. Ek wil ook niks meer hê nie. Altans, nie op die oomblik nie. Ek het my kind, my werk, my studies, my huis – ek maak die beste van elke dag wat vir my gegee is, maar te ver vorentoe kan ek nog nie kyk nie.”

“As jy nie met Paul trou nie, is daar genoeg ander wat sal spring as hulle die kans kry!”

Margaret antwoord nie, en Ellen vra: “Het jy al vir Magda Jooste ontmoet?”

“Nee.” Dan sê sy kalm: “Ek het van haar gehoor – ek het nou die aand haar suster ontmoet. Wat van Magda Jooste?”

“Sy is besig om haar flikkers vir Paul te gooi. Ek het hulle in die laaste weke al twee maal saam gesien – een aand by die simfoniekonsert en die aand met die première van Rigoletto. Hulle was saam met die Prinsloos daar.”

En vanaand is sy saam met hom na die partytjie toe! Margaret is stil. Paul het haar die afgelope tyd ’n paar keer gevra om saam met hom na ’n musiekkonsert of opera toe te gaan, maar sy het elke keer nee gesê. Nie omdat sy nie in musiek belangstel nie, maar omdat sy weet hulle vriende sal praat en afleidings maak waarvoor sy nog nie gereed is nie. Maak sy ’n fout?

“As Paul met Magda Jooste of enigiemand anders wil trou, kan ek niks daaraan doen nie,” sê sy koel. “Maar vertel my van die voortreflike Magda Jooste. Is sy mooi?”

“Baie. ’n Heuningblondine – of die kleur eg is, weet ek nie, maar dis baie effektief.”

Margaret grinnik effens. “Wat nog?”

“Jonk – sy lyk in elk geval jonk, so vyf, ses en dertig – opgewek, sjarmant en goeie geselskap. Sy trek pragtig aan. Sy was getroud met Martin Jooste, ’n sakeman wat baie ouer as sy was. Hy is verlede jaar in ’n motorongeluk dood.”

“Het sy kinders?”

“Nee. Daar is stiefkinders – wat omtrent alles erf.”

“Dis gemeen van die oubaas!”

“Sy het genoeg om goed van te lewe. Sy mag net nie aan die kapitaal raak nie – dit gaan na die kinders as sy sterf. Jy sal haar seker volgende week by Paul se verjaardagpartytjie sien. Ek hoop jy gaan vir jou ’n nuwe aandrok koop.”

“Ek het genoeg rokke wat ongebruik in die kas hang.”

“Almal horingoud. Kom, ek sal saam met jou gaan, dan gaan koop ons vir jou ’n mooi nuwe rok.”

“Dankie, ek is nie van plan om met Magda Jooste te kompeteer nie.”

“Dit het niks met Magda te doen nie – dis vir jou eie selfrespek. Jy is nog so mooi, Margaret, jy word vir my by die dag mooier. Maar jy moet na jouself kyk. Belowe my jy sal vir jou ’n nuwe rok vir Paul se partytjie koop.”

“Ek sal sien.”

“En sommer daardie paar grys haartjies by jou slape ook laat kleur.”

“Ek dink nie daaraan nie,” sê Margaret met soveel beslistheid dat Ellen lag.

“Jy sal nog eendag jammer wees oor jou koppigheid. Maar kom ons verander die onderwerp. Wat is Ingrid se planne? Wanneer trou sy?”

“Die einde van die jaar.”

“Ja, die kinders word groot, nè – een vir een vlieg hulle weg. As Hansie volgende jaar leër toe gaan, is ek – ons – ook alleen.”

“Jy het nog vir Herman,” sê Margaret sag.

Daar is ’n bitter trek om Ellen se mond. “Jy weet tog self, Margaret, Herman en ek woon saam, dis al. ’n Vreugdelose bestaan wat nie een van ons die moed het om te beëindig nie.”

Margaret se blou oë is ondersoekend. “Jy het Herman nooit daardie misstap vergewe nie, het jy?”

Ellen bloos verleë. “Ek het probeer.”

“Nie hard genoeg nie.”

Ellen is stil, dan sê sy: “Nee, jy is reg. En nou … nou is dit te laat.”

Margaret hoor die onbewuste verlange in haar stem en sê sag en beslis: “Dis nie te laat nie. Dis nooit te laat nie. Julle word nie jonger nie en julle het mekaar nodig. In die jare wat voorlê sal julle mekaar steeds nodiger kry. Moenie dat jou trots, jou bitterheid tussen julle staan nie. Herman het jou nog lief, anders sou hy nie teruggekom het na jou toe nie.”

“Hy het bloot teruggekom ter wille van die kinders, nie van my nie.”

“Ek dink nie so nie, maar ek vra net, probeer nog ’n slag. Gaan praat met jou predikant, ’n huweliksraadgewer, enigiemand … solank jy en Herman mekaar weer kan vind.”

“Ek weet nie, drie jaar is lank en daar is soveel opgehoopte bitterheid.”

“Probeer net, dis al wat ek vra. Met jou hele hart en siel.”

Dan verhelder ’n glimlag Margaret se gesig. “Kom, ek sê jou wat. Ek sal saam met jou gaan, dan koop ons elkeen ’n mooi nuwe aandrok om ons met ons nuwe voornemens te help.”

Ellen glimlag onwillig. “Goed, dis afgespreek. Kom ons gaan eet – ek sien die kos is op die tafel.”

Paul se partytjie sou die Vrydagaand wees, en die Woensdagmiddag is Margaret en Ellen stad toe om hulle inkopies te doen. Ellen het ’n mooi groen rok gekry en Margaret se rok was ’n diep roomkleur met ’n goue patroontjie daarin geweef.

“Dis jou rok,” het Ellen dadelik gesê. “Mooier kan jy nie kry nie.”

Margaret het self van die rok gehou. Die roomkleur met die goud het die glans van haar donker hare, die blou van haar oë en haar romerige vel verdiep. Die rok was effens te lank, maar die winkelassistent het belowe dat hulle dit dadelik sal korter maak en die rok die volgende dag vir haar sal stuur.

Toe Margaret die volgende aand tuis kom, was die rok nie daar nie. Sy het die winkel vroeg die volgende oggend gebel, maar hulle het haar verseker dat die rok reeds op pad was. Die res van die dag het dit so druk gegaan dat sy nooit weer aan die rok gedink het nie. Daar was ook nie tyd om haarkapper toe te gaan soos sy beplan het nie.

Vir Paul het sy die hele dag nooit gesien nie. Vrydae het hy operasies by een van die ander hospitale gedoen en gewoonlik daarvandaan na sy spreekkamer toe gegaan.

Margaret is later as gewoonlik van die hospitaal weg en op pad huis toe was sy om alles te kroon in ’n ongeluk betrokke. Dit was nie haar skuld nie, maar die bestuurder van die ander voertuig het ernstige beserings opgedoen en sy het by hom gebly totdat die ambulans opgedaag het.

Moeg en ontsteld, met ’n kloppende hoofpyn, het sy by die huis aangekom. Daar was net tyd vir ’n haastige stort en van die nuwe rok was daar geen teken nie. Hy was die hele dag tuis, het Daniel haar verseker. Daar is nooit so ’n pakkie afgelewer nie.

Sy haal ’n swart fluweelrok uit die kas en trek dit aan. Sy het heelwat skraler geword sedert sy die rok laas gedra het, maar daaraan kan sy nou niks doen nie. Sy kam haar donker hare, draai dit haastig in ’n bolla en kyk dan met ’n skewe glimlag na haarself in die spieël. Sy het ander planne vir Paul se partytjie gehad!

In die stad sukkel sy om parkering te kry en hopeloos laat, bewend en ontsteld, kom sy by die eksklusiewe klub aan waar Paul sy partytjie hou.

Paul en ’n blonde vrou staan naby die deur en gesels. Hy maak dadelik verskoning toe hy Margaret sien en kom na haar toe.

“Maggie! Ek het begin dink jy kom nie meer nie,” groet hy. Verbeel sy haar of is daar ’n tikkie verwyt in sy stem?

“Ek is jammer ek is laat,” sê sy sag. “Ek is vertraag.”

“Ek is bly jy het gekom,” sê hy. Vir ’n oomblik kyk hy af na haar en sy weet vanaand sien hy die ou swart rok, die eenvoudige bolla raak.

“Geluk met jou verjaardag,” sê sy verleë. “Jou geskenk lê by die huis.”

“Dankie, ek sal dit kom haal,” sê hy en buk om haar te soen. Sy is skielik verleë, bewus daarvan dat almal na hulle kyk, en draai haastig haar wang. Hy glimlag effens en raak liggies aan haar arm. “Kom groet die ander gaste.”

Margaret stap saam met hom tot by die blonde vrou.

“Ek dink nie jy ken vir Magda nie,” sê Paul. “Mevrou Magda Jooste – dokter Margaret van Zyl.”

Magda Jooste groet vriendelik. Sy is mooi, sjarmant en gesofistikeerd. Haar heuningblonde hare blink in die lig en sy het ’n blou-en-silwer rok aan wat glinster met elke beweging wat sy maak. Margaret sien die nuuskierigheid in die hemelsblou oë en is akuut bewus van haar te wye rok en bolla.

Sy groet die ander gaste en iemand bring vir haar ’n drankie. Na ’n rukkie kom Ellen na haar toe. Sy het die nuwe groen rok aan en lyk besonder mooi.

“Wat op aarde het gebeur?” sis sy verwytend. “Waarom is jy so laat en waar is jou nuwe rok? En jou hare – jy het belowe jy sal haarkapper toe gaan!”

“Moenie nog met my raas nie,” sê Margaret en sluk aan die knop in haar keel. “Ek het amper nie hier uitgekom nie.”

Dokter Prinsloo kom ook nader om ’n paar woorde met Margaret te wissel en ’n rukkie later moet hulle gaan eet.

Die ete word bedien in een van die privaat vertrekke waar ’n lang tafel vir die twintigtal gaste gedek is. Margaret sit – tot haar verleentheid – aan Paul se regterkant, Magda aan sy linkerkant. Die kos is keurig voorberei, die atmosfeer aan tafel gesellig, maar Margaret bly gespanne.

Magda neem ’n roos uit die bak wat op die tafel staan en steek dit vir Paul aan terwyl die ander gaste glimlaggend toekyk. Sy is in ’n opgewekte bui en Margaret voel vaal en verlep teenoor haar blonde skoonheid en sjarme. Sy sien die goed versorgde hand wat liggies op Paul se arm lê, die juwele wat in die ore en om die hals blink. Sy is ’n mooi vrou, dink Margaret, en sy weet hoe om die meeste van haar bates te maak. Lighartig, goeie geselskap, ’n aanwins by enige partytjie. ’n Aanwins vir enige man?

Dokter Bruyns stel die heildronk op Paul in, met spesiale vermelding van die rose op die tafel en die rose aan Paul se regter- en linkerkant, en die gelag en tergery van die ander gaste laat Margaret net meer ongemaklik voel.

Om haar vloei die gesprekke, lighartig, interessant, opgewek, en, bewus van Ellen se verwytende blik en die vraag in Paul se grys oë, probeer sy meedoen, maar dis of alles vanaand net te veel inspanning verg.

Toe die eerste gaste aanstaltes maak om te gaan, is Margaret ook by.

“Ek hoop jy sal my verskoon, Paul. Dit was ’n lang dag – ek wil graag huis toe gaan.”

“Dankie dat jy gekom het,” sê hy formeel. En voeg met ’n glimlag by: “Ek sal my geskenk kom haal!”

Vroeg die volgende oggend kom Ellen by Margaret aan.

“Ek kom ou klere vir die armsorg haal,” sê sy bondig. “Om mee te begin, daardie swart rok wat jy gisteraand aangehad het.”

“Jy kan dit maar kry,” sê Margaret probeer om haar hartseer en teleurstelling met ’n skewe glimlaggie te verberg.

“Dis nie al nie,” sê Ellen. “Kom ons kyk wat daar nog in jou kas is. En volgende week gaan ons weer winkels toe.”

Margaret maak haar klerekas oop en kyk hoe Ellen die een rok na die ander op die bed gooi.

“Maar daar bly niks oor om te dra nie,” sê sy. “Dit was net een van daardie dae!”

“En jou nuwe rok! Wat het daarvan geword?”

“Dit is per abuis by die bure afgelewer. Hulle het die pakkie netnou oorgestuur. Jy sien, alles was teen my!”

“Hmmm, en wat dink jy van Magda?”

“Sy is alles wat jy gesê het, en nog meer,” antwoord Margaret liggies.

“En jy en die ou swart fluweel wat soos ’n sak om jou hang. En so stil en bleek – dis nie soos ons jou ken nie, Margaret.”

“Toe maar, jy het baie mooi gelyk, en dis belangriker.”

“Hoe kan dit belangriker wees?”

“Ek het jou gesê ek is nie van plan om met Magda Jooste of enigiemand anders te kompeteer nie.”

Ellen kyk na haar, maar antwoord nie.

“Wat het Herman van jóú rok gesê?” vra Margaret terwyl hulle tee drink.

“Hy hou baie daarvan,” sê Ellen en haar gesig versag. Sy het die vorige aand, nadat sy aangetrek het, na Herman gegaan waar hy in die sitkamer vir haar gewag het.

“Ek het vir my ’n nuwe rok gekoop vir vanaand. Hou jy daarvan?” het sy liggies gevra.

Sy het die vlugtige verbasing in sy oë gesien, toe sê hy versigtig: “Dis ’n baie mooi rok. Jy lyk besonder mooi, Ellen.”

“Dankie,” het sy met ’n glimlag gesê. “Ek … ek het gehoop jy sal daarvan hou.”

Dit was al. Maar dis ’n begin.

Bewus van Margaret se blik op haar, sê sy nou: “Ek dink baie aan ons gesprek van nou die aand en ek probeer. En ek belowe jou, ek sal aanhou probeer.”

“Dis al wat ek vra,” sê Margaret.

Laat die middag, na gholf, het Paul daar aangekom. Hy het by die klub gestort en aangetrek, en het uitgerus en ontspanne gelyk. En jonk en aantreklik. Hy groet haar opgewek.

“Ek het my geskenk kom haal.”

“Dis net ’n das en ’n boek. Ek hoop jy hou daarvan.”

Hy kyk eerste na die biografie van Maria Callas. “Baie dankie,” sê hy ingenome. “Hoe het jy geweet ek wil dit hê?”

“Ek het vir Louis gebel. Hy het my gesê.”

“O so! Konkel agter my rug met my seun, nè?” Hy maak die das oop. “Hmmm, mooi! Ek gaan dit sommer nou dadelik aansit.”

Voor haar verbaasde oë haal hy sy das af en voor die spieël wat bokant die halfmaantafel hang, knoop hy die nuwe das om sy nek. “Spoggerig, nè? Dink jy nie so nie?” vra hy.

“Baie mooi,” sê sy versigtig. Hy kom doelbewus nader en sy staan effens tru. “Jy het klaar dankie gesê.”

Hy grinnik ondeund. “Daardie pikkie op die wang? Ek kan darem dáárop verbeter.”

Sy glip by hom verby. “Kan ek vir jou ’n drankie skink? Of is jy haastig?”

“Ek sal graag ’n drankie drink,” sê hy onverstoord, maar die glinstering in sy oë maak haar onrustig. “Toe maar, ek sal skink. Ek weet waar alles is.”

Sy gaan na haar stoel toe. “Ek wil nog dankie sê vir gisteraand. Dit was ’n lekker partytjie,” sê sy om die gesprek in ’n ander, veiliger rigting te stuur. “Ek is jammer ek het so laat gekom.”

“Jy het nie vir my gesê nie – waarom was jy so laat?”

Sy vertel hom wat gebeur het en hy luister fronsend.

“Waarom het jy nie gisteraand vir my vertel nie?” vra hy ontevrede. “Is jy seker jy het nie seergekry nie?”

“Ek makeer niks en my motor is ook net effens beskadig. Maar die ander bestuurder is ernstig beseer en ek moes wag tot die ambulans kom.”

Hy knik, maar die frons is nog daar. Sy kyk na hom waar hy besig is om die drankies te skink en sê liggies: “Ek het spesiaal ’n nuwe rok vir jou partytjie gekoop. Dis toe per ongeluk by my bure afgelewer – ek het dit vanoggend eers gekry.”

“Wys dit vir my,” sê Paul toe hy haar drankie langs haar neersit. Wat gaan vandag met Paul aan?

“Dis net ’n rok,” sê sy spottend. “Jy sal meer belangstel in die nuwe wit oorjasse wat ek gekoop het.”

Hy staan met sy rug teen die kaggel en kyk af na haar.

“Ek let meer op as wat jy dink. En wat ek wel gisteraand opgemerk het, was dat jy baie moeg was en ook baie skraal geword het.”

“Ek was nie gisteraand op my beste nie,” spot sy.

“Jy moenie te hard werk nie, Margaret.”

“Dit van jóú!” spot sy weer. “Jy het dit alles begin.”

“Ek het nie bedoel jy moet jou doodwerk nie.”

Sy skud haar kop. “Moet jou nie oor my bekommer nie. Ek geniet die werk en dis goed vir my.” Sy bly stil, dan vervolg sy sober: “Ek sal altyd dankbaar wees daarvoor, Paul.”

“Ek het dit nie sonder bybedoelings gedoen nie, dokter Van Zyl.”

Daar is ’n vreemde, diep klank in sy stem en versigtig vra sy: “Wat bedoel jy?”

“Ek weet die werk is goeie medisyne – die soort medisyne wat jy nodig gehad het.” Hy is ’n oomblik lank stil, dan sê hy sagter: “Maar die werk alleen is nie genoeg nie. Jy mag jou nie aan jou vriende, aan die res van die lewe onttrek nie. Ellen het ook met my gepraat – jou vriende sê almal dat hulle jou nooit sien nie, en hulle is bekommerd oor jou.”

“Ek is besig – ek werk hard. Dis nie dat ek my doelbewus aan my vriende onttrek het nie,” sê sy verdedigend.

“Jy het jou onttrek, doelbewus ofte nie. Jy is al hoe meer besig om jou toe te spin in ’n kokon waar niemand jou kan raak of enige eise aan jou kan stel nie.”

“Nee, ” sê sy ontsteld. “Nee, dis nie so nie. Ek … ek hardloop nie weg nie.”

“Ek maak nie rusie met jou nie. Ek weet jy het tyd nodig om te herstel na die skok van Charl se dood – net soos ’n pasiënt tyd nodig het om te herstel na ’n ernstige operasie. Maar jy is self ’n dokter, jy weet ons vertroetel nie ons pasiënte nie. Hulle moet opstaan en beweeg, elke dag harder en harder probeer – al kos dit absolute inspanning – omdat dít die pad is terug na genesing.”

Margaret is nou diep ontsteld. “Dink jy ek is besig om my hartseer te vertroetel, dat ek nie gesond wíl word nie?”

“Dis iets wat jy vir jouself moet besluit.” Sagter sê hy: “Ek weet, elkeen het die reg om sy hartseer en verlies op sy eie manier te verwerk. Ons almal bewonder jou moed, jou volharding met jou hospitaalwerk en jou studies. Maar dit mag nie geskied ten koste van jou vriende en die lewe nie. Dit sal weer ander frustrasies bring.”

Dis stil in die vertrek. Margaret voel die onstuimige hamerslae van haar hart. Sy staan op en stap na die venster, en kyk met onsiende oë uit oor die verdonkerende tuin.

Paul kom langs haar staan.

“Dankie, Paul.” sê sy na ’n rukkie. “Ek is jammer as ek vir my vriende ’n bekommernis en ’n verleentheid geword het.”

“’n Bekommernis soms wel, ’n verleentheid nooit! En ek … ek het spesiale belang by jou genesing.” Hy is ’n oomblik lank stil, dan sê hy sag: “Jy sien, ek wil graag met jou trou, Maggie. Maar ek wil hê as jy die dag na my toe kom, moet dit wees sonder voorbehoud, met jou hele hart.”

Die woorde is uit, lê soos blink spoelklippies tussen hulle. Sy is lank stil, en wanneer sy uiteindelik na hom opkyk, sien hy die blink van trane op haar lang, donker wimpers.

“Ek kan nie belowe dat daardie dag ooit sal kom nie,” sê sy stamelend.

Hy kyk na haar, dan vou hy sy hande liefkosend om haar gesig.

“Ek sal wag. Ek wil net hê jy moet weet.”

Hy buk en soen haar teer, dan stap hy terug na die kaggel. Met ’n glimlag sê hy: “Kom, drink jou drankie. En dan gaan ons eet. Ek het ’n nuwe restaurant ontdek waar hulle die heerlikste garnale bedien. En daarna gaan ons na die musiekprent kyk. Ek het kaartjies gekry.”

“Dit sal nie help om teë te praat nie, sal dit?” sê sy onseker.

“Nie vanaand nie. En die nuwe rok trek jy aan wanneer jy saam met my na die mediese dinee toe gaan.”

“Gaan ek saam met jou?”

“Ja. Ek het jou al weke gelede gevra, onthou jy nie?”

“Nee, ek onthou dit nie. Maar dis goed, ek sal saam met jou gaan.”

Waarom het hy al dié dinge vir haar gesê? wonder Margaret toe sy lank na middernag haar lig afskakel. Omdat hy jammer is vir haar, na gisteraand? Sy wil nie sy jammerte of hul vriende se jammerte hê nie. Sy sal hulle wys, daar is geen rede om vir haar jammer te wees nie.

Sy is bly Paul het haar gevra om saam met hom dinee toe te gaan. Dié keer sal sy vroegtydig sorg dat sy die middag af is.

Skielik verberg sy haar gesig in die kussing en die brandende trane bring uiteindelik verligting vir die teleurstelling wat sedert die vorige middag en aand al in haar opbou.

Tryna du Toit Omnibus 11

Подняться наверх