Читать книгу Die tronkgesprekke - Willie Esterhuyse - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Voorpuntdiplomasie

DIE TONEELSTUK A Walk in the Woods deur Lee Blessing het ’n klompie jare gelede groot gehore getrek en baie aandag geniet. Die tema daarvan was die uitgerekte, ingewikkelde en soms stormagtige onderhandelingsproses in Wenen oor atoomontwapening. Die Amerikaners en die Russe het mekaar gereeld die harnas ingejaag, soms doelbewus. Toe, op ’n dag, ontmoet die Russiese onderhandelaar en Amerikaanse onderhandelaar mekaar toevallig in die sneeubedekte omgewing van ’n woud waar hulle op ’n bankie gaan sit. En een-tot-een begin praat. Dié ontmoeting en persoonlike gesprek lei uiteindelik tot die amptelike ooreenkoms oor atoomontwapening in Wenen.

Die histories korrekte verhaal het heelwat anders verloop as Blessing se gedramatiseerde weergawe. Die dooiepunt tussen veral die Russe en Amerikaners is deur die persoonlike ingryping van ’n Rooms-Katolieke priester, Theodore Hesburgh, beredder. Hy was self Amerikaans, maar het baie moeite gedoen om op persoonlike vlak met die Russe kontak te maak en ’n verstandhouding op te bou. Hy slaag uiteindelik daarin om Emeljanof (die Rus) en McCone (die Amerikaner) met mekaar ’n alleengesprek te laat voer een Sondag in die Sacher Hotel in Wenen. Hulle vier later selfs op dié Sondag saam die Heilige Mis in die Katedraal van die Heilige Stefanus, bedien deur Hesburgh.

Dit is ’n storie oor wat vandag tweedespoor-diplomasie, avant garde-diplomasie of voorpuntdiplomasie genoem word. Dit is gesprekke agter die skerms, buite-om die openbare toneel, vertroulik, persoonlik, privaat en relatief openhartig. Dit is ’n noodsaaklike faset van die proses wat normaalweg as “om-met-die-vyand-te-praat” getipeer word. Die term avant garde kom natuurlik uit kunskringe. Dit dui op iets oorspronkliks wat op hoogs kreatiewe wyse ánders is as die geykte en algemeen aanvaarde. Die woord verwys immers na advance guard, oftewel vanguard.

Voorpuntdiplomasie is nie onderhandeling nie. Dit verteenwoordig wat soms ook gesprek-oor-gesprek genoem word, is daarom nooit amptelik nie en sluit geen bindende besluitneming in nie. Dit is eerder persoonlike afsprake, verbintenisse en boodskappe wat aan belanghebbende partye oorgedra moet word. Daar het sedert die laat sestigerjare ’n ryke literatuur en talle studies ontstaan oor dié tipe bemiddelingspogings en inisiatiewe om met die vyand te praat ten einde vredesprosesse op dreef te bring. Hierdie publikasie is daarom bedoel as ’n bydrae tot die groeiende literatuur oor die onderwerp. Dit verteenwoordig ’n gevallestudie van die verskil wat individue in konflikgesteisterde omgewings kan maak.1

Daar is ook ’n ander faset van agter-die-skerms-aktiwiteite wat genoem moet word. Dit is die rol van intelligensiedienste, oftewel staatsgeorganiseerde instellings, wat besluitnemers van strategiese en taktiese inligting moet voorsien en veral ook die veiligheid en stabiliteit van die staat moet beskerm. Hulle word oor die algemeen en baie oppervlakkig met spioenasie vereenselwig. In baie gevalle speel hulle egter ’n belangrike agter-die-skerms-rol in vredesinisiatiewe.

Selfs die Bybel bevat ’n interessante voorbeeld. In die Ou Testament is daar ’n verbeeldingryke storie oor die Israeliete se verowering van die vestingstad Jerigo. Hulle het eers verspieders uitgestuur om inligting te versamel oor dié stad se sterk en swak punte. In moderne taal uitgedruk was dit ’n intelligensieverslag, opgestel deur kundiges wat strategies én takties kon waarneem en dink, en dit is vóóraf ontwikkel. Intelligensiedienste is so oud soos die berge. Magtige state beskik gewoonlik ook oor baie doeltreffende intelligensiedienste. Sukkelende state het ook sukkelende intelligensiedienste; dienste wat nóg oor die personeel, nóg oor die vermoë beskik om aan hul leiers strategiese en taktiese inligting te verskaf, dit wil sê enersyds langer termyn doelwitte en planne om dit te bereik en, andersyds tersaaklike, onmiddellike en tydige inligting en aksieplanne om krisisse te voorkom of te ontlont én te bestuur.

Dit is glad nie vreemd dat intelligensiedienste ’n deurslaggewende rol in voorpuntdiplomasie en vredesprosesse speel nie en is daarom ’n onderwerp wat in hierdie boek toegelig sal word aan die hand van die rol wat minister Kobie Coetsee, dr. Niël Barnard en die gevangene Nelson Mandela daarin gespeel het.

’n Ander interessante voorbeeld het in meer resente tye in Turkye gebeur. Abdullah Öcalan, die Koerdiese leier wat vryheid vir die Koerde beoog het, word op 15 Februarie 1999 deur militêre agente van die eerste minister, Recep Tayyip Erdoğan, se regering ontvoer. Die Turkse president was toe Abdullah Gül.

Öcalan2 word in eensame opsluiting op die eiland Imrah aangehou en deur soldate bewaak. Die eiland word selfs tot militêre gebied verklaar en kry die bynaam van die Europese Guantánamo, verwysende na die Amerikaners se berugte plek van aanhouding. Öcalan kan geen briewe skryf of ontvang nie, en ook nie besoekers ontmoet nie. Vroeg in 2009 gebeur daar egter iets hoopgewends: Hakan Fidan, later die direkteur-generaal van die Turkse nasionale intelligensiediens, MIT, ontmoet Öcalan saam met ander amptenare tydens verkennende gesprekke oor ’n moontlike skikking van die gewelddadige konflik tussen die Turkse regering en die Koerde.

Daar word baie goeie vordering gemaak. Öcalan stel selfs voor dat ’n Waarheids-en-Versoeningskommissie aangestel word. Hy maak ook ander voorstelle om ’n roetekaart na ’n vredeskikking op te stel, presies soos ons sal sien Prisonier 913 (Nelson Mandela) lank voor hom gedoen het. Die konflik tussen die Turkse regering en die Koerde het toe al 20 jaar geduur.

Verskeie gesprekke vind plaas tussen Fidan en Öcalan en dit lei daartoe dat ’n vredesafvaardiging van 26 ongewapende Koerdiese vegters en politieke vlugtelinge gedurende Oktober 2009 vanaf Irak in Turkye toegelaat word. Die hoop op ’n skikking van die gewelddadige konflik het hoog opgevlam. Selfs Erdoğan het versoenende geluide gemaak.

’n Verkiesing in April 2009, waaraan ’n pro-Koerdiese party deelgeneem het, sneller egter ’n vlaag van staatsgeweld, arrestasies en verbannings van Koerdiese politieke aktiviste – geïnspireer deur die Turkse militariste en natuurlik Erdoğan self. Daar is selfs ’n vermoede dat die vredesinisiatief eintlik ’n set was en dat dit nie ernstig bedoel was nie. Dié verloop van sake illustreer ’n baie belangrike bousteen van geslaagde voorpuntdiplomasie: die betroubaarheid van die hoofspelers en die integriteit van die proses. Daarom word voorpuntdiplomasie ook as ’n berekende waagstuk beskou. Sukses is nie gewaarborg nie.

Voorpuntdiplomasie kan soms lank duur en verg geduld, soos vertel deur Jonathan Powell in sy boek Talking to Terrorists. How to End Armed Conflicts.

Powell was tussen 1997 en 2007 die Britse regering se hoofonderhandelaar oor Noord-Ierland. Na hy Downingstraat (Londen) verlaat het, het hy ’n groot opskudding veroorsaak toe hy in die openbaar verklaar het dat Brittanje die leiding moet neem om met die Taliban, Hamas en selfs al-Kaïda agter die skerms te begin praat.

Hy was gereeld vanaf 1997 vertroulik met die Ierse “terroristeleiers”, Gerry Adams en Martin McGuinness, in gesprek. Hy vertel hoe hy hulle aanvanklik nie die hand wou gee nie. Jy vat nie aan die hand van terroriste en moordenaars nie. Soos president PW Botha aan twee Stellenbosse akademici (Sampie Terreblanche en Willie Esterhuyse) gesê het na sy intelligensiemense hom ingelig het dat dié twee op pad na Lusaka was om met die verbode ANC ’n gesprek te gaan voer: “Ons praat nie met moordenaars nie” (1984). Dié beoogde besoek is onder groot geheimhouding deur professor HW van der Merwe van die Universiteit van Kaapstad, ’n Kwaker, gereël. Terreblanche en Esterhuyse het toe die beoogde gesprek gekanselleer.

Powell maak ’n belangrike punt: Leiers van terroristegroepe bly gewoonlik langer aan die stuur van sake as demokraties verkose regerings. Gerry Adams en Martin McGuinness het nie minder nie as agt Britse eerste ministers oorlewe, en pres. Fidel Castro selfs elf VSA-presidente! Daarom reken dié leiers dat hulle ’n strategiese en taktiese voorsprong het: Na vier tot vyf jaar kan hulle met ’n ander regeringsleierskorps onderhandel.

Wat Powell se boek belangrik maak, is dat dit ’n faset van voorpuntdiplomasie na vore bring waarop nog nie genoegsaam in die literatuur gefokus is nie, naamlik die rolle van en samewerking tussen intelligensiedienste en uitgesoeke individue in dié tipe diplomasie; byvoorbeeld diplomate, sakelui, gemeenskapsleiers, kruis-kulturele vriendskappe, humaniste en vroue-organisasies. Akademici en intellektuele is minder suksesvol. Hul rolle speel gewoonlik op ’n ander vlak uit, naamlik die van meningsvorming, verskuiwing van persepsies en beredeneerde ontleding. Voorpunt- of tweedespoor-diplomasie verteenwoordig ’n eiesoortige rol: agter-die-skerms, sonder openbare verklarings.

So ook die verhaal van Prisonier 913, Nelson Rolihlahla Mandela, wat vir baie dekades as Suid-Afrika se mees gevaarlike terroris én kommunis in veral Afrikanergeledere beskou en tot lewenslange gevangeneskap gevonnis is. ’n Sogenaamde sekerheidsgevangene, dit wil sê ’n bedreiging vir die veiligheid oftewel sekerheid van die apartheidstaat. En volgens die apartheidstaat nie ’n politieke gevangene nie.

Dié sekerheidsgevangene som lank voor sy vrylating in Februarie 1990 die idee én belang van voorpuntdiplomasie glashelder op teenoor ’n vriend en vertroueling wie se naam ongenoem kan bly. Dit is trouens meer as bloot ’n verduideliking en in ’n belangrike mate ’n belydenis: “All I am saying is that I am discussing with the government and nobody knows with whom I am discussing an(d) I will never disclose that. I am the only person who knows about that and I make this particular request especially now that I am alone (in Pollsmoor) … I am not in a position to say anything which is not consistent with my undertakings, but will keep this confidential. Discussions of this nature can go on without (the) public knowing … to see somebody and Minister Coetsee said that he would see me but that I must not let anybody know about it. I doubt if anybody in the NP knows that, and I have kept it to myself. As an attorney I dealt in very sensitive matters …”

Dié opmerking illustreer die absolute kern van alle vorme van voorpuntdiplomasie, naamlik dat daar sonder ’n hoë mate van integriteit nie “trust and confidence-building” in konflikgeteisterde samelewings in gesprek-met-die-vyand moontlik is nie. Getekende ooreenkomste is belangrik en noodsaaklik, maar persoonlike ondernemings en verbintenisse (commitments), oftewel ongeskrewe en ongetekende rules of engagement – soms rigtinggewende eksistensiële waardes en beginsels genoem – eweseer so. Prisonier 913 beklemtoon dié posisie. En ook dat die integriteit van prosesse en die integriteit van mense in wisselwerking met mekaar staan – ’n belangrike subtema van die volgende hoofstukke. Moraliteit (dit wat algemeen as reg aanvaar word), en algemene belang (dit wat in alle demokratiese samelewings aanvaarbaar en menseregtelik die beste opsie is), is die dryfkrag agter Prisonier 913 se strategiese en taktiese oorweging om met die vyand te praat. In Kobie Coetsee vind hy ’n gewillige gespreksgenoot.

Dié boek fokus egter nie bloot op Prisonier 913, Nelson Mandela, en Kobie Coetsee nie. Alle skikkings en beslegting van konflik deur middel van gesprek en onderhandeling is per definisie ’n ingewikkelde en soms tydrowende proses. Prisonier 913 en Coetsee was belangrike spelers in dié opsig. Maar hulle was nie die enigste nie. Voorpuntdiplomasie en skikkings- en vredesprosesse in diep verdeelde en gewelddadige samelewings veronderstel immers baie spelers.

Die fokus van voorpuntdiplomasie, en Prisonier 913 en Coetsee se rolle, wil wel beklemtoon: skikkings- en vredesprosesse in diep verdeelde samelewings veronderstel ’n spesifieke vorm van leierskap; soos byvoorbeeld dat die betrokke leiers nie ’n obsessie met voorbladberigte oor hul doen en late het nie, nie doelbewus publisiteit soek om hul eie beeld te bou of die sogenaamde publiek se guns probeer wen nie. Die onbesonge helde van die staatsdepartement van justisie en gevangeniswese se rolle in dié ingewikkelde proses is ’n voorbeeld.

In dié boek sal meer vertel word oor die tweedespoor- of voorpuntdiplomasie wat uiteindelik tot pres. FW de Klerk se opspraakwekkende toespraak op 2 Februarie 1990 gelei het. Dit sal ons doen aan die hand van dokumente uit die nagelate dokumenteversameling van mnr. Kobie Coetsee – ’n adjunkminister in eerste minister BJ (John) Vorster se kabinet en mettertyd minister in die kabinette van presidente PW Botha en FW de Klerk.

Die versameling bevat ’n verskeidenheid notas, verslae en transkripsies van gesprekke tussen politieke gevangenes en hul besoekers (familie of vriende), leiersfigure wat toestemming gekry het om die gevangenes te besoek of selfs amptenare wat van tyd tot tyd gevangenes te woord gestaan het. Al die gesprekke is gemoniteer – die amptelike term wat gebruik is, maar eintlik net beteken gesprekke is afgeluister. Daar is soms ook verslae oor gesprekke opgestel wat op die lessenaar van Kobie Coetsee as minister van justisie en gevangeniswese beland het.

Die hooffokus was natuurlik op Nelson Mandela, mettertyd in gevangenistaal gedepersonaliseer en herdoop tot Prisonier 913. Hy het voorheen ook ander nommers gehad gedurende sy 27 jaar lange gevangenskap.

Sy gespreksmonitering het met ’n heilige ywer plaasgevind. Dit het nie saak gemaak of hy nou met sy dogter, sy vrou of sy prokureur gepraat het, of met lede van die Statebond se Eminent Persons Group (EPG) wat Suid-Afrika in 1986 besoek het om oor vredesprosesse en die vrylating van politieke gevangenes te praat nie. Selfs gesprekke tussen Kobie Coetsee en Prisonier 913 is op band vasgelê. Van dié gesprekke is spesiaal deur die intelligensiediens bestudeer om leiding aan die magtige staatsveiligheidsraad (SVR) te gee. Niël Barnard van die Nasionale Intelligensiediens (NI) was die sekretaris van die SVR.

Dit is ’n verhaal waarin Prisonier 913, Nelson Mandela, ’n sleutelrol speel. Amptelik was hy ’n terroris én kommunis wat op 27 Mei 1962 tot vyf jaar tronkstraf op Robbeneiland gevonnis is en toe tot lewenslank op 12 Junie 1964. Sy vonnisoplegging en ook die van sy medestryders, soos Walter Sisulu, Govan Mbeki, Ahmed Kathrada en Denis Goldberg, deur regter Quartus de Wet, laat ’n wrang smaak in die mond vanuit die perspektief van vandag.

Die Paleis van Justisie, waar die verhoor plaasgevind het, was aan Kerkplein geleë in die buurt waar Jopie Fourie, ’n Boere-rebel, deur die Smuts-regering gefusilleer is. En dit is hier waar Mandela se lang opmars begin het om by uitstek die wêreldsimbool van vryheid, geregtigheid en martelaarskap te word.

Sy vrylating word uiteindelik die NP-regering se mees ernstige nasionale en internasionale probleem. Dit was só erg dat dit Prisonier 913 in ’n posisie gestel het waarin ook hý ’n leidende rol in die vrylatingsproses kon speel en nie bloot presidente PW Botha en FW de Klerk nie. Aanvanklik “bestuur” Prisonier 913 sy eie vrylatingsproses informeel en later selfs formeel. Kobie Coetsee speel hierin ’n belangrike rol. So ook Niël Barnard.

Voorpuntdiplomasie vereis agter-die-skerms-vredesinisiatiewe; die bou van persoonlike vertroue tussen individuele leiersfigure van openlik strydende partye. Geselekteerde binnekringondersteuning van die gesprek-met-die-vyand is ’n voorwaarde vir sukses. Prisonier 913 was hierin ’n meester. Ondersteuning van sy mede-gevangenes, soos Walter Sisulu en selfs OR Tambo, en Kobie Coetsee, senior amptenare van die gevangenisdiens en natuurlik die Nasionale Intelligensiediens se rolle was eweneens deurslaggewend.

En dan was daar Komvang, oftewel die kommissaris van gevangenisse – ’n invloedryke posisie. Die kommissaris en sy personeel was sleutelfigure in die gespreksproses wat vanaf veral 1985 ontwikkel het om Prisonier 913 op sy uiteindelike vrylating voor te berei. Dit illustreer dat die konstruk van die vyand – oftewel die etikettering van die vyand as die “ander” wat antagonisme, verwerping, teenstand en selfs gewelddadige versetaksies verdien – nie so dominerend is dat daar nie op interpersoonlike en individuele vlakke wel gesprek, verstandhouding, vertroue en selfs vriendskappe kan ontstaan nie.

Hierdie agter-die-skerms-proses was in die geval van Suid-Afrika ’n spanpoging. In die tronk was dit eers tussen Coetsee, senior gevangenispersoneel en Prisonier 913. Later het ook Niël Barnard bygekom en, in ’n mate, president PW Botha. Soos dit die geval met alle politici is, was Botha se deelname sodanig dat hy alles sou kon ontken indien openbare bewerings gemaak sou word. Die interaksie was immers nie-amptelik en veral nie op papier met opskrifte en stempels nie – ’n algemene handelingswyse tydens voorpuntdiplomasie. Daar was dus eerder mondelinge as geskrewe ooreenkomste.

Om iets van dié spanpoging te snap, is dit nodig om ’n agtergrond te skets van die destydse politieke konteks. Dié konteks het immers ’n vormende invloed op die ANC as protes- en uiteindelik versetbeweging gehad.

Nelson Mandela speel ’n leidinggewende rol in die verskuiwing vanaf blote protes na openbare verset. Hy was, as vryheidsvegter en versetsleier, in ’n sin die “produk” van die NP, wat uiteindelik die NP “oorneem” en na sy graf stuur. Sy eggenote, Winnie Mandela, was trouens self as vryheidstryder en versetsleier die noodwendige en noodsaaklike teenspeler van die apartheidsregime.

Daar was ’n polities bepalende en selfs dwingende konteks wat verstaan moet word.

Dit word in Afdeling 1 gedoen. Die fokus op die apartheidsregering se stryd teen kommunisme en terrorisme hou onder meer verband met die feit dat die ANC ’n kongresbeweging was wat verskillende organisasies en bewegings (movements) ingesluit het, waaronder die Moskou-georiënteerde SAKP. Talle wit Suid-Afrikaners, onder andere Bram Fischer en Joe Slovo, was lede van die SAKP. Die ANC, as movement, later selfs ’n breë kerk genoem, het daarop aanspraak gemaak om ’n verenigende rol kragtens ’n paar sleutelwaardes (nie-rassigheid, gelykheid, geregtigheid) en sleuteldoelwitte (bevryding) te speel. Dit was, so is gesê, ’n dinamiese en groeiende organisasie wat die diverse belange van sy lede verteenwoordig. Gevolglik was die ANC besonder selfversekerd van ’n uiteindelike oorwinning.

Dié konteks-analise hou verband met die volgende: Vir die NP-regering was die teenwoordigheid van die SAKP binne die beweging ’n sentrale kwessie, soos vertolk binne die werklikhede van ’n felle ideologiese stryd. En toe Umkhonto we Sizwe (MK), die militêre vleuel van die ANC, verskyn, met opleiding en wapenvoorsiening uit hoofsaaklik kommunistiese lande, word die ideologiese stryd ook ’n stryd teen terrorisme wat vanuit Moskou georkestreer is. ’n Belangrike gevolg was die vraag: Is Prisonier 913 ’n swart nasionalis of ’n kommunis? Afrikanernasionalisme was immers fel anti-kommunisties.

Daar word in dié afdeling ook aangevoer dat die NP-regering se stuksgewyse hervormingsprogram en balkanisering van Suid-Afrika deur middel van selfregerende etniese swart state (tuislande), nie die vryheidstryd kon troef met standhoudende vredesprosesse of dit selfs net kon demp nie. ’n Politieke dooiepunt was ewe onafwendbaar as gesprek-met-die-vyand. Wit mense, sowel Afrikaans as Engels, ontdek wel ’n reddingsboei: hervorming. En die ANC reken: Die apartheidstelsel is aan die wankel. Apartheid kan nie hervorm word nie. Dit moet afgeskaf word. Dit is trouens in dié tye dat die vertroulike tronkgesprekke met Prisonier 913 begin vlam vat het, aangevul deur ewe vertroulike gesprekke vanaf 1987 tussen Afrikanermeningsvormers en ANC-leiers soos Thabo Mbeki en Jacob Zuma.

Al dié gesprekke lei tot die werklike Rubicon-ontmoeting op 12 September 1989 tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma van die ANC aan die een kant, en twee baie senior lede van die Nasionale Intelligensiediens aan die ander, in ’n hotel in Luzern, Switserland. Dit was ’n dramatiese en nuwe fase in die proses van voorpuntdiplomasie. En FW de Klerk, wat enkele dae vantevore by Botha as president oorgeneem het, tel die bal op. Hy word uiteindelik tereg, saam met Mandela, met die Nobelprys vir vrede beloon.

Afdeling 2 vertel die verhaal van Prisonier 913 se rol in die beslegting van die dooiepunt, die rolle wat ’n paar ander instansies en individue, onder andere Kobie Coetsee, gespeel het en Prisonier 913 se uiteindelike vrylating, en die herstel van sy volle naam en reputasie: Nelson Rolihlahla Mandela, oftewel Madiba, soos hy in die volksmond bekend sou staan.

Nie meer as ’n prisonier nie, maar as die eerste president van ’n gedemokratiseerde RSA.

Die tronkgesprekke

Подняться наверх