Читать книгу Die tronkgesprekke - Willie Esterhuyse - Страница 8

3.

Оглавление

Politieke dooiepunt

I WILLIAM ZARTMAN probeer in sy belangrike boek Ripe for Resolution: Conflict and Intervention in Africa (1985) die vraag beantwoord of skikkings- en vredesonderhandelinge enigsins moontlik is terwyl georganiseerde geweld tussen vegtende partye voortwoed.

Wanneer en waarom word gewelddadige konflik ryp vir skikking met die oog op vrede? Hy munt in die beantwoording van dié vraag ’n term wat wye inslag gevind het, naamlik mutually hurting stalemate. Sodra belangrike deelnemers aan die konflik, borge vir die konflik en ook wêreldmagte dié situasie aanvaar, is die konflik ryp vir skikkings- en vredesintervensies. Omdat nie een van die partye regtig kan wen nie (die zero-som-spel), word die moontlikheid van ’n wen-wen-skikking strategies gesien as ’n noodsaaklike opsie. Skikkings- en vredesprosesse hou dus baie min verband met morele kwessies; veel eerder met strategiese kwessies en belange, byvoorbeeld die aanvaarding van ’n dooiepunt wat al die vernaamste vegtende groepe op ’n pynlike wyse daaraan herinner dat niemand regtig kan wen nie.

Nie dat morele kwessies sonder ’n rol in konflikgeteisterde state is nie. Presies wát dié rol was, is in die geval van die apartheidsregime en veral die ANC en UDF ’n leersame illustrasie. Die ANC en die UDF het hul gewelddadige en geweldlose verset geregverdig deur die standpunt in te neem dat die apartheidstaat en NP-regering geen legitimiteit (morele bestaansreg) het nie, want dit is ’n onderdrukkende en rassistiese stelsel. Dit was ’n argument wat nie net binnelands diep gesny het nie, maar ook buitelands. Westerse lande het immers enkele dekades tevore uit ’n rasgeoriënteerde Tweede Wêreldoorlog gekom. Hulle is voor ’n erge dilemma geplaas, want geen Westerse staat met enige aansien kon die apartheidstaat moreel regverdig nie. Anti-apartheidsorganisasies het dus in Westerse lande gefloreer.

Alle georganiseerde geweld binne state tussen vegtende partye hou – benewens ander kwessies – met twee hoofdoelwitte verband: die mobilisering van “die mense” en die demonisering van “die vyand”. Mobilisering en demonisering is twee kante van dieselfde munt. Die sukses hiervan, en nie bloot die gewapende geweld nie, bepaal die uitkoms van die konflik. Die ontstaan van ’n “mutually hurting stalemate”, al het een van die partye wél die meeste gewere en kanonne aan sy kant, kan ook bepalend wees. In die geval van Suid-Afrika kon die apartheidstaat se gewere en kanonne nie ’n “alles-of-niks”-strategie regverdig nie.

Die apartheidstaat het die legitimiteitsoorlog loshande verloor, hoewel nie die gewapende stryd nie. Eersgenoemde oorlog het al in 1969 begin met die Lusaka-manifes, ’n verklaring van die ANC se versetopsie met die ondersteuning van die frontliniestate, selfs deur middel van geweld. Wat gebeur het, is dat die destydse frontliniestate, oftewel state binne die omgewing van Suid-Afrika, daarop aangedring het dat die manifes ook ’n bereidwilligheid om oor Suid-Afrika se toekoms te onderhandel, moes insluit. Wat presies die rede vir dié welwillendheidsgebaar was, is nie seker nie. Handelsbetrekkinge met Suid-Afrika kon dalk ’n rol gespeel het. Dit maak eintlik nie saak nie, want agterna gesien, was dit strategies ’n baie slim posisie om in te neem.

’n Openbare bereidwilligheid om konflik deur onderhandelinge te bemiddel, skep altyd die morele hoë grond, en ook ’n mate van legitimiteit vir opstandelinge: “Ons is bereid om te praat. Die apartheidstaat wil nie praat nie.” Soos dit in 1987 by geleentheid verduidelik is deur ’n senior ANC-amptenaar tydens die eerste ontmoeting in Brittanje van die sogenaamde Mells Park-groep, ’n vertroulike en informele gespreksgroep tussen ANC-leiers en Afrikanermeningsvormers: “Dis nie bloot ’n kwessie van ‘ons is bereid om te praat’ nie. Ons wou baie vroeg al vir die regime sê: ‘Sonder ons sal julle nooit vrede en vryheid hê nie. Ons het ’n politieke veto-reg, ook oor tuislande se aanvaarding of sukses.’ Pretoria wou dit nie aanvaar of insien nie. En nou is die kaarte wat ons hou beter as destyds. Dit is die probleem met onderdrukkende en veral minderheidsregerings: Hulle dink altyd hulle kan tyd koop en posisies van groter mag inneem.”

Was Suid-Afrika in die tagtigerjare by ’n politieke dooiepunt? Die antwoord is ja, ondanks openbare en soms bombastiese verklarings van die militêre en die veiligheidspolisie. Dit is immers so dat wanneer ’n staat militêr geïnisieerde moordbendes moet gebruik om sekuriteit te handhaaf, of deur middel van sy veiligheidspolisie aktiviste moet neutraliseer, daardie staat reeds op ’n politieke glybaan is; iets wat deur noodtoestande bevestig word.

John Vorsterplein in Johannesburg se staatsterreur en die berugte staatsgefinansierde moordbende, die BSB (Burgerlike Samewerkingsburo), is belangrike aanwysers van die dooiepunt. Regsprosesse is deur staatsterreur omseil. Wit-beheer-tot-elke-prys, etniese tuislande inkluis, was die credo. Die ANC se diplomatieke offensief, voortgedryf deur Oliver Tambo, het die aanneemlikheid van die apartheidstaat en sy leiers gedurende die tagtigerjare effektief ondermyn.

Toegegee, die ANC se Moskou-bande, die kommunisties beheerde militêre opleiding in veral die 1980’s en die Kuba-konneksie in Angola was wel negatiewe faktore vir die Westerse lande. Pretoria se propagandaveldtog teen kommunisties geïnspireerde terreur, en Moskou se planne vir suidelike Afrika, het nie op dowe ore geval nie. Die Koue Oorlog was immers ’n werklikheid, al was die apartheidstaat vir Westerse demokrasieë ’n yslike verleentheid. Dit het selfs vanaf die middel 1980’s tot ’n erge krisis vir die apartheidstaat gelei: finansiële sanksies. Dit is in dié tye dat die apartheidstaat probeer het om die politieke regte van Indiërs en bruin mense institusioneel te akkommodeer deur die driekamerparlement. Gedurende Januarie 1986, tydens die opening van die driekamerparlement, wys PW Botha sy dubbelsinnigheid by uitnemendheid: sterk taal teen revolusionêres, versoenend teenoor stuksgewyse hervormers, dreigend teenoor diegene wat “Suid-Afrika wil vernietig”, vrede en voorspoed vir diegene wat die reformistiese pad “saam met ons” wil stap. Ouderwetse apartheid, so reken hy, se tyd is wel verstreke. Veelrassige magsdeling is die pad wat vorentoe ingeslaan moet word.

Nelson Mandela se vrylating is ook op die agenda. Sonder dat hy dit pertinent stel, erken Botha dat ouderwetse apartheid misluk het. Hoe om daarvan en van die nalatenskap wat dit geskep het ontslae te raak, revolusionêre aksies te neutraliseer en sekuriteit te waarborg was die groot vraag. Hy kon dié vraag nooit regtig beantwoord nie. Sy verbintenis tot stuksgewyse hervorming was onverbiddelik.

Dit bring hom in ’n ernstige botsing met sy minister van buitelandse sake, Pik Botha. Pik Botha was, soos baie ander mense – veral uit die sakesektor en die kringe van die Stedelike Stigting – opgewonde oor PW Botha se versoenende uitsprake en voornemens. Pik Botha spreek buitelandse joernaliste op 6 Februarie 1986 toe: Hy is, binne ’n bedeling van ’n interrassige politieke stelsel, bereid om onder ’n swart president te dien. Politieke pandemonium volg. Niemand in NP-kringe het nog ooit so ver gedink nie, want nierassigheid was nog nie vir hulle ’n aanvaarbare morele beginsel nie. Hervorming was in die praktyk eintlik koöptering. Pik Botha, so reken sy kritici, maak ook voorbrand vir Nelson Mandela se onvoorwaardelike vrylating en die moontlikheid dat Mandela president kan word.

PW Botha was briesend. Hy verneder Pik Botha in die openbaar op 7 Februarie 1986 deur te verklaar dat geen minister van die regerende party die reg het om sy partygenote in die openbaar te kompromitteer as hulle nie geraadpleeg is nie. Hy dank Pik Botha egter nie af nie, maar sê dat sy minister erken het dat hy verkeerd was. President Botha vra op ’n manier namens Pik Botha om verskoning.

Dié episode was wel ’n deurbraak want die sakesektor het sy stem sterk begin verhef. Dié sektor het skielik besef dat PW Botha nie ’n konsekwente en toegewyde hervormer of vernuwer was nie. Hy was eintlik ’n handhawer wat nie bereid was om die volle pad van demokratisering na ’n nierassige bedeling te loop nie. Een van die vernaamste sakeleiers in Afrikanergeledere, dr. Anton Rupert, was nogal uitgesproke in ’n brief aan PW Botha. Rupert maak die volgende punt: Apartheid is géén waarborg vir die belange én oorlewing van wit mense nie. Dis eerder ’n bedreiging. PW Botha was baie ontsteld. Hy wou slegs aanpassings aan sy apartheidsregime maak. “Magsdeling” was sy verlossende woord, met Afrikaners stewig in beheer van die proses.

Nog iets wat die dooiepunt versterk het, was dat die Suid-Afrikaanse Weermag, met Militêre Inligting aan die voorpunt, hoog opgegee het oor die kommunistiese bedreiging teen Suid-Afrika. Vandaar dan die idee van ’n soort bufferstrook en selfs buurlande waar die bedreiging beveg moes word. Daar was hieroor ’n langdurige en intense debat in staatsveiligheidsraadkringe. Dié raad het gewoonlik elke tweede week vergader. Nasionale Intelligensie het toe al gereken dat die eintlike bedreiging nie die kommuniste was nie, maar die feit dat ’n minderheid die meerderheid geregeer het. Die polisie, en natuurlik die invloedryke veiligheidspolisie, het ook hul eie menings oor die veiligheidsituasie gehad. Daar was dikwels skerp verskille, selfs tussen die Weermag en die Polisie. Op ’n keer was Adriaan Vlok, wat deel was van Botha se kabinet, by albei die instansies betrokke in ’n poging om ’n werkende protokol gevestig te kry. Sommige van die weermag se leierskorps was ook glad nie opgewonde oor die Nkomati-ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Mosambiek nie. Van hulle, so is beweer, het op allerlei maniere gepoog om dié ooreenkoms te saboteer. Of Botha daarvan bewus was, maar besluit het om niks daaraan te doen nie, is nie seker nie.

Die ANC het sy eie aanneemlikheidsprobleme in die Westerse wêreld gehad, afgesien van sy Moskou-verbintenisse en alliansie met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Dade van terreur, waarin burgerlikes gesterf het, het die beeld van die ANC as ’n vryheidsbeweging wat vrede en geregtigheid deur middel van onderhandeling wil soek, erge skade aangedoen. In Londen en Washington was die ANC nie juis welkom nie. Die organisasie was te na aan Moskou wat toe nog drome oor revolusies in Afrika gehad het.

In 1983 ontplof ’n bom voor die hoofkantoor van die SA Lugmag in Kerkstraat, Pretoria. Negentien mense sterf en 217 word ernstig beseer. Stedelike terreur het hoofsaaklik wit burgerlikes geteiken, al is die gebou deur die ANC as ’n simbool van die amptelike vyand beskou. Na die Kabwe-konferensie van die ANC (Junie 1985), waar dié tipe versetsoptrede amptelik as strategie goedgekeur is, ontplof ’n bom kort voor Kersfees op 23 Desember 1985 in die Sanlamsentrum van die vakansiedorp Amanzimtoti aan die gewilde Natalse Suidkus. Dit word wêreldnuus. Daar is talle dooies en beseerdes. Dit was ook in dié jaar dat begrafnisse van politieke aktiviste belangrike massamobiliserende gebeurtenisse word.

Kort na die Kabwe-konferensie, en ’n paar maande na die Uitenhage-botsing, kondig president PW Botha op 20 Julie 1985 ’n noodtoestand af. Baie politieke aktiviste beland in die tronk. Ander word inperkingsmaatreëls opgelê. Ongeveer sewentig organisasies word verban. Botha was desperaat: Suid-Afrika se argitek van veiligheid en orde kon nie meer die openbare sekuriteit waarborg nie. Militêre hulp aan die polisie was al meer noodsaaklik. Dit is binne dié woelige politieke omgewing dat Nelson Mandela (67 jaar oud) in November 1985 in die Volkshospitaal in Kaapstad opgeneem word. Hy is goed ingelig oor die woelinge in die land. Dit is ’n groot geskarrel in veiligheidskringe van die Botha-regering. As Mandela iets sou oorkom en dalk sterf, gaan die land ontplof. Hy moet die beste denkbare mediese sorg kry.

“Mandela móét gesond word,” sê Jan Steyn gedurende ’n private gesprek. “PW weet dit. Ons almal weet dit. Sonder hom sal ons ingesuig word in ’n allesvernietigende gewelddadige warrelwind. Die wêreld sal ons nooit vergewe as Mandela iets oorkom nie.” Hy het ’n rukkie stilgebly, en toe gesê: “Ek is ’n regter. Nelson is lewenslank vir ondermyning van die staat, sabotasieplanne en allerlei ander staatsgevaarlike kwessies veroordeel. Maar – Nelson Mandela is die Afrikaners se enigste redding. Hoe gouer hy vrygelaat word, hoe beter sal dit met Afrikaners se toekoms gaan. Hoe langer ons met sy vrylating wag, hoe slegter sal dit gaan. Ons, as Afrikaners, se toekoms hang af van hoe vroeg ons Mandela vrylaat. Ons kan hom dalk te laat vrylaat.”

Baie mense het soos Steyn gedink, onder wie die minister van buitelandse sake, Pik Botha. Suid-Afrika se dooiepunt verhef Prisonier 913 trouens tot ’n sleutelspeler. Die SA regering het dit ook al meer besef. Wat ook al van die Botha-regering en van PW Botha self gesê kan word, hulle het binne die verband van veral die staatsveiligheidsraad en kleiner formele en informele vorme van kommunikasie, van die allerbeste strategiese en taktiese inligting en advies ontvang. Botha en sy binnekring was nie oningelig nie. Hulle het net nie altyd geweet hoe om dié inligting in vernuwende beleidsinisiatiewe te vertaal nie. Ook oor Nelson Mandela, die ANC, die UDF en ander organisasies, het die Botha-binnekring oor van die beste binnelandse en buitelandse inligting beskik. Hul reaksie op inligting en hul onvermoë om hul revolusionêre en ander opponente met ingrypende voorstelle te oorweldig en aan die Suid-Afrikaanse politieke dooiepunt te ontkom, was helaas hul grafskrif.

Die politieke dooiepunt waarin die RSA beland het, was die resultaat van ’n proses wat nie bloot in die warboelkantore van die ANC in Lusaka begin het nie. Dit het onder meer ook in die Pollsmoor-gevangenis afgespeel. Trouens, dit is hoofsaaklik in die tronk dat die NP-regering nie net die legitimiteitsoorlog verloor het nie, maar ook die stryd om Mandela se vrylating. Prisonier 913 het sélf ’n bepalende faktor geword. Hoe langer sy gevangenisskap duur, hoe kragtiger het sy leierskapsprofiel geword. EA Venter, ’n generaal-majoor in die veiligheidsdienste, se memorandum aan sy kommissaris in 1985, is ’n veelseggende bydrae oor Suid-Afrika se politieke dooiepunt en Nelson Mandela, Prisonier 913, se groeiende politieke én morele statuur as bevrydingsleier. Prisonier 913 het naamlik vir toenemende en vermoedelik bedoelde irritasie by die senior gevangenispersoneel gesorg.

Venter rapporteer:

•Hy aanvaar nie die benaming sekerheidsgevangene vir hom en sy vriende nie. Hulle is politieke gevangenes. Volgens die amptelike posisie van die gevangenisowerhede, was daar egter geen politieke gevangenes in die RSA se tronke nie, slegs sekerheidsgevangenes wat skuldig bevind is aan misdade teen die veiligheid van die staat. Dit word meer as bloot ’n kwessie van terminologie. Wat die gevangenisowerhede betref, word Mandela en alle gevangenes behandel volgens die Wet op Gevangenisse en die regulasies daarin vervat. Mandela daag dit egter uit. Hy wil, so beweer die owerhede, hom as ’n leier in die tronk van wat hy die politieke gevangenes noem, en ook ander, voorhou.

•Prisonier 913 het so ver gegaan as om die gevangenisdiens te versoek om ’n nie-rassistiese administrasie in te stel. Baie verontwaardig word hierop gesê dat die gevangenisdiens nie sy administrasie aan gevangenes hoef te verantwoord nie. Hy is, so word geïmpliseer, selfs in die tronk ’n moeilikheidmaker.

•Hy probeer deurgaans “om sy persoonlike behoeftes met die hoogste moontlike gesag op te neem”. Hy gaan selfs so ver as om in sy versoek om met die kommissaris van gevangenisse ’n gesprek te voer, te stipuleer dat só ’n gesprek wel van ’n voorwaarde afhang, naamlik “om eers met sy medesekerheidsgevangenes te beraadslaag voordat hy kan instem om met die kommissaris te praat”. Dié houding van Prisonier 913, so sê die memorandum, word ’n konsekwente patroon: Konsultasie met sy mede-sekerheidsgevangenes.

•Hy rig onmoontlike versoeke. Terwyl die beleid rondom voorregte byvoorbeeld “tans die aandag van die voorregtekomitee (geniet)”, vra hy vir ’n televisie en kookplaatstofie. Dit is alles onder oorweging, maar ’n kookplaatstofie is buite die kwessie: “Die rantsoen wat gevangenes ontvang, word smaaklik voorberei en warm bedien – dus het dit tot gevolg dat ’n elektriese warmplaat nie nodig is nie. Afgesien hiervan hou die gebruik van ’n elektriese toestel ook ’n onnodige veiligheidsrisiko in.”

•Prisonier 913 wil ook boeke vir ontspanning (fiksieboeke) aankoop. Dit word ’n turksvy. Die bevelvoerende offisier van Pollsmoor het daarop gewys dat die aankoop van boeke, behalwe studieboeke, verbied word. Prisonier 913 wil hê die beleid moet verander word, in elk geval sover dit sekerheidsgevangenes betref.

Dit word ’n geskarrel. Voorheen kon die sogenaamde sekerheidsgevangenes drie boeke per maand uit eie fondse aankoop. Vanaf 31 Januarie 1982 is dié beleid verander omdat dit nie as wenslik beskou is nie. As ’n alternatiewe rede is aangevoer dat daar nie genoeg bergingsruimte in gevangenisse was nie. Gevangenisbiblioteke, so is beweer, is toe só aangepas dat genoeg boeke vir gevangenes beskikbaar is. Mandela se versoek om boeke te kan aankoop uit eie fondse, en dat die bestaande beleid nie op sekerheidsgevangenes van toepassing gemaak moet word nie, is ’n strategie om die eiesoortigheid van sekerheidsgevangenes na vore te bring – “met krygsgevangenestatus as einddoel”. Hy berei hom ook voor op die besoek van die Internasionale Rooi Kruis, word gewaarsku.

’n Interessante versoek van Prisonier 913, wat afgekeur is, was om die gevangenistuine te besoek. Hy wou glo, volgens Venter se memorandum, “tuinboumetodes besigtig en bestudeer”. Mandela het gereken dat dit ’n billike versoek was en dat die bevelvoerende offisier geen rede gehad het om dit te weier nie. Baie jare later sou hy die tuine besoek en ’n paar tamaties pluk. In 1985 was só ’n besoek buite die kwessie.

Venter kom tot ’n merkwaardige besluit wat ons iets vertel van ons land se kneusende én pynlike dooiepunt in 1985: “… dit is uiteraard geweier. Weens voor die hand liggende redes kan sekerheidsgevangenes nie toegelaat word om met gewone gevangenes te meng nie – veral leierstipes onder sekerheidsgevangenes soos gevangene Mandela en ander. Dit sal net tot gevolg hê dat hy sy invloedsfeer verder uitbrei en sy beeld verder uitbou. As gevolg van sy persoonlikheid (leierseienskappe) is hy in staat om ander gevangenes tot onrus op te sweep.”

Wat Venter nie besef het nie, was dat Prisonier 913 rééds ’n ikoniese figuur was. Sy besluit en aanbevelings het aan Prisonier 913 verdere status as martelaarleier gegee. Selfs kleinlike kwessies het hierin ’n rol gespeel. ’n Brief van Mandela aan die destydse president van die Transkeise tuisland, Kaiser Matanzima, verskyn in die pers. Prisonier 913 beskuldig die gevangenisowerheid, wat alle briewe gesensureer het, dat hulle vir die lek van die brief verantwoordelik was. Hulle reken weer dat dit sy vrou was wat die inhoud van die brief aan die pers beskikbaar gestel het na sy dit gememoriseer het tydens haar besoek aan hom op 26 Desember 1984, waar hy dit aan haar gedikteer het. Mandela, met veel groter sake op sy agenda, maak egter nie hiervan ’n bohaai nie.

Hy maak wel beswaar oor briewe wat hy aan ’n prof. Dash, lord Bethel en mev. Duncan geskryf het, maar wat nie deurgestuur is na hulle nie. Dié briewe is, volgens die memorandum, weens amptelike redes teruggehou. Prisonier 913 reken ook dat briewe en pakkies wat aan hom gestuur word, nooit opdaag nie. Die bevelvoerende offisier meld dat alle voorskrifte nagekom word, en dat familie en vriende soms dinge belowe, maar dit nie uitvoer nie.

In ’n verslag van brig. FC Munro, ’n bevelvoerende offisier, kry ’n mens ’n insig in die hele kwessie van briewe aan sekerheidsgevangenes. Mev. S Matthews, eggenote van die ANC-leier prof. ZK Matthews, het ’n lang brief aan Nelson Mandela geskryf. Sy wou ook aan hom ’n kopie van haar man se biografie laat kry. Brig. Munro reken die brief is ’n “lang relaas oor uitgewekenes, waar hulle hul tans bevind, wat hulle doen, ensovoorts. Die brief is hoegenaamd nie in die gees van die beleid dat briewe bedoel is om goeie familie- en/of vriendskapsbande te bewaar of te bewerkstellig nie.”

Mandela word oor dié besluit van sensorskap ingelig. Hy aanvaar die bevelvoerende offisier se beslissing dat nóg die brief nóg die biografie aan hom oorhandig kan word. Sy amptelike gespreksgenoot kan ontspan. Maar, sê hy, dis ’n verouderde sensorbeleid. Sekerheidsgevangenes ontvang tans nuusblaaie en tydskrifte. Hulle luister radio. En daar is geen sensorering nie. Wanneer pas die amptenare aan? Waarom briewe sensureer? Dié bevat minder inligting as koerante.

Prisonier 913 se amptelike gespreksgenoot het die geykte amptenaarsantwoord in sy memorandum gegee: “Dit dien gemeld te word dat die inhoud van bovermelde brief deur die bevelvoerende offisier as ongewens beskou is en derhalwe is dit nie aan die gevangene oorhandig nie. Voorskrifte betreffende sensor is op alle gevangenes van toepassing.”

Prisonier 913 is as ’n baie moeilike gevangene beskou. Hy het te veel vrae gevra en hom baie konsekwent op sy (beperkte) regte en die regte van medegevangenes beroep. Die interaksie tussen hom en die gevangenisowerheid was vir baie lank gespanne, maar het mettertyd meer ontspanne geword. Prisonier 913 is egter vir baie jare as ’n gevaarlike terroris en kommunis beskou. Trouens, nie eens Chris Heunis, die minister wat aan grondwetlike ontwikkeling aandag moes gee en die driekamerparlement help bedink het, kon met Mandela ’n gesprek voer nie. Hy sou glo by twee geleenthede so versoek het. Sy medeminister, Kobie Coetsee (justisie), het dit egter afgekeur. Waarom is nooit amptelik gesê nie.

Die dooiepunt het erger geword. En die dooies meer.

Dit was ’n dooiepunt wat nie net deur Botha se regstreekse toedoen en die maneuvers van die ANC ontstaan het nie. Daar was ook ’n ander belangrike rede: die onvermoë en selfs onwilligheid van die Botha-regering om sy mees belangrike en selfs internasionaal erkende politieke rolspeler, Mangosuthu Buthelezi en sy Inkatha-beweging, meer erkenning, speelruimte en veral inspraak te gee in die reformistiese prosesse wat in die land aan die gang was. Die ANC se doelbewuste poging om Buthelezi te marginaliseer, was eintlik ’n erkenning van sy en sy beweging se politieke belang.

Die onderhandelinge en driekameruitkoms van die Botha-regime se fokus op die politieke en grondwetlike verhouding tussen wit mense, Indiërs en bruin mense, het Buthelezi se verhouding met die Botha-regime, en spesifiek met Botha en Heunis, ernstig geskaad. ’n Vierde kamer vir stedelike swart mense, en selfs ’n grotere federasie of konfederasie tussen die politieke en staatkundige rolspelers van Suid-Afrika, was nie eens ’n ernstige debatspunt op Botha se reformistiese agenda nie. Daar was ook in hierdie opsig ’n dooiepunt.

In die internasionale wêreld onder invloedryke regerings en ander saakmakende partye en groepe was daar groeiende eenstemmigheid dat die oplos van dié dooiepunt slegs bereik kon word deur nakoming van die volgende noodsaaklike voorwaardes:

•Die vrylating van Prisonier 913 en alle politieke gevangenes wat deur die owerheid sekerheidsgevangenes genoem is.

•Die ontbanning van alle verbode organisasies.

•’n Verklaring van voorneme deur die regering van ’n skikkingsproses, waaraan veral die ANC, maar ook ander belanghebbende politieke partye kan deelneem.

•’n Ooreenkoms oor die kwessie van georganiseerde geweld.

Dié kwessies sou vanaf die middel 1980’s van deurslaggewende belang word.

Die tronkgesprekke

Подняться наверх