Читать книгу Die tronkgesprekke - Willie Esterhuyse - Страница 7

2.

Оглавление

Stuksgewyse hervorming en groeiende gewelddadige verset

OP 6 JUNIE 1976 ontplof ’n gewelddadige verset, wat georkestreer is deur hoofsaaklik skoolkinders, in Soweto en ander plekke in ons land. Die Morris Isaacson-skool in Soweto en die bekende Regina Mundi-kerk word simbole van dié verset. ’n Foto van ’n jong seun wat deur die polisie doodgeskiet en gedra word deur angstige en huilende skoolmaats, word wêreldwyd voorbladnuus; inderdaad ’n voorbeeld van die groeiende rol van ’n onafhanklike media in politieke en ander prosesse. Franklin Sonn, ’n bekende onderwysleier en opvoedkundige uit die bruin gemeenskap en iemand wat hom daaraan gewy het om interrassige gesprekskanale oop te hou, verklaar gedurende ’n gesprek: “Vandag is dit ook verby met apartheid en die Nasionale Party. Soos dié kind se lyk, sal apartheid se lyk ook weggedra word. Niemand sal egter daaroor huil nie. Dis ’n kwessie van tyd.”

Dié opmerking word ’n redelik algemene gevoel onder swart mense. Afrikaans, as onderrigtaal op skool, word ook ’n teiken, geregverdig of nie. Populistiese politieke protes en opstandsbewegings word nie net uit feite gebore nie, maar ook uit persepsies, waarde-oordele en die gewelddadige toepassing van amptelike ordemaatreëls – soos die skietdood van Hector Pieterson, byvoorbeeld. BJ Vorster was toe die eerste minister, hy wat minister van polisie was toe Sharpeville in 1960 plaasgevind het. Die groot verskil was egter dié keer dat die verset- en geweldgolf besig was om oor die hele land te spoel met die jonger geslag as dryfkrag.

Die Cillié-kommissie van ondersoek na die proteste vind gedurende 1976 plaas. Winnie Mandela, toe alreeds ’n bekende nasionale en internasionale aktivis, versoek George Bizos om namens haar voor die komitee te verskyn. Vir Suid-Afrika, en veral in swart geledere, was 16 Junie 1976, benewens 1952 (Versetveldtog), 1955 (Vryheidsmanifes) en 1960 (Sharpeville), ’n uiters belangrike politieke kantelpunt.

Toe PW Botha in Augustus 1979 in Durban verklaar die wêreld bly nooit dieselfde nie, beleidsaanpassings en verstellings is nodig, was dit nogal ’n skok vir baie Afrikaners. Dit is ook in dié jaar dat hy die nasionale veiligheidsbestuurstelsel ingestel het. Hy besoek selfs Soweto en ontmoet leiers van die destydse etniese tuislande. Soweto 1976 het ook die sakesektor uit sy orde- en veiligheidsbewussyn uitgeskud. Die Stedelike Stigting, onder leiding van regter Jan Steyn, kom tot stand en dit word ’n invloedryke ontwikkelingsinstelling. Die Stigting was nierassig en mettertyd gemik op drie hoofdoelwitte:

•Beter woon-, leef- en onderwysomstandighede in swart stedelike gebiede.

•Verkryging van regte, soos eiendomsreg – ten minste 99 jaar huurpag – vir stedelike swart mense.

•Die skrapping van opsigtelik rassediskriminerende maatreëls soos die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike.

Daar is ’n belangrike rede waarom na die Stedelike Stigting verwys moet word. Dit was naamlik Suid-Afrika se eerste omvattende nie-politieke en nierassige hervormingsinisiatief. Uiteenlopende korporatiewe leiers was betrokke, onder andere Anton Rupert, Harry Oppenheimer, Clive Menell, Raymond Ackerman, Jan van der Horst en Basil Hersov. Swart en bruin leiers, soos Richard van der Ross, Franklin Sonn, Sam Motsuenyane, Debbie Mabiletsa, Nthato Motlana en andere, was ook baie ondersteunend. Die personeel van die Stedelike Stigting het hierdie demonstrasie van nierassigheid en vennootskap grootliks weerspieël.

Afgesien van die samestelling van dié ontwikkelingsvennootskap – ’n bepalende faktor in die geloofwaardigheid en inklusiewe aanvaarbaarheid daarvan – was ’n ander vraag van ewe groot belang: Hoe moet te werk gegaan word om die belange en doelwitte van die Stedelike Stigting, en die gemeenskappe waarop gefokus is, só te behartig dat die Stedelike Stigting wel ’n oor by die owerheid het, maar nie ’n politieke handperd is nie? En hoe moet politieke verandering wat van ’n strukturele en omvangryke aard is hanteer word? Revolusionêr of stuksgewys, met sogenaamde piecemeal engineering?

Die Stedelike Stigting het ten gunste van laasgenoemde gekies.

Dit is teen dié agtergrond dat ’n mens na PW Botha se toespraak in Augustus 1979 in Durban moet kyk. Botha lewer sy toespraak ’n jaar ná ’n geregtelike ondersoek bevind het dat niemand vir Biko se dood in 1977 verantwoordelik gehou kan word nie. En met Botha se toespraak sit Nelson Mandela al 16 jaar lank agter tralies. Vir die Vrye Weste, én vir die kommuniste, was hy toe reeds ’n simbool van politieke onderdrukking en die lewende inkarnasie van apartheid se fisieke en strukturele gewelddadigheid; ’n simbool van ’n onvoltooide vryheidstryd.

Botha se eintlike punt was dat die wêreld verander en steeds besig is om te verander en dit word wel baie goed gesnap. Ook deur swart mense. Soos gesê is: Die toekoms het ons ingehaal. Trouens, Botha wek met dié toespraak hemelhoë verwagtings in swart geledere.

Dit was ook nie ’n Botha-foefie nie. Hy wás hervormingsgesind. Die “hoe” en die “wat” daarvan was weliswaar die eintlike vraagstuk. En wat hy en sy raadgewers nie besef of selfs wou aanvaar het nie, is dat sy hervorming-georiënteerde openbare toesprake, én praktiese inisiatiewe in dié verband, nie net stygende verwagtings gewek het nie, maar ook geleenthede én energie vir diegene wat méér dramatiese veranderings gevra het. Trouens, stuksgewyse hervorming word in meer radikale kringe dikwels, en nie ten onregte nie, as regimeverswakking beskou en niks meer nie as pogings om tyd te wen. Botha se hervormingspogings is hoofsaaklik vanuit dié perspektief deur die ANC-leiers en rolspelers binne organisasies soos byvoorbeeld die UDF beoordeel.

Darem nou ook nie deur almal nie. Daar is altyd in alle samelewings mense wat bereid is om hervormingspogings ’n kans te gee en pleks van pogings tot gewelddadige oorname van mag, ten gunste van gefokusde ontwikkeling, beleidsverandering en onderhandelde skikkings sal kies. Dit is nooit bloot ’n keuse tussen revolusie en gestadigde evolusie of streng bestuurde veranderings nie. Belangrike veranderings, met uiteindelik sistemiese rimpeleffekte, kán stuk-stuk in ’n ontvouende skikkingsproses bevorder word.

Botha se stuksgewyse hervormings was nie ’n lukrake affêre nie, maar deel van ’n strategie: Hoe om regstellings en veranderings te maak, en selfs regte te verleen, sonder om inisiatief en beheer te verloor. In sy opvatting oor magsdeling was dit vir hom belangrik om in dié tipe omstandighede militêre en ander vorme van veiligheid te verseker. ’n Stuksgewyse hervormer is inderdaad nie iemand wat belang stel in die progressiewe of onmiddellike oorgawe van politieke en ekonomiese mag nie. In sy magsdelingsmodel was daar gespesifiseerde voorwaardes wat selfs die rolspelers ’n geselekteerde groep gemaak het. Vandaar ook die doelgerigte poging om koalisies met voorheen gegriefde partye en leiers te vorm. Stuksgewyse hervorming kan inderdaad uiteindelik nét met behulp van sterk koalisies werk. Dis waar die Botha-projek misluk het.

Botha word die vader van die driekamerparlement, met swart mense steeds uitgesluit. Hy skaf nietemin die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike af. Hy aanvaar ook besitreg van eiendom vir swart mense in stedelike en ander gebiede. Die rol wat die Stedelike Stigting hierin gespeel het, illustreer iets van die aard van stuksgewyse hervorming, die strategiese en taktiese voetwerk wat dit vereis en die werklik kritieke probleem wat dit skep: Die beskuldiging was dat dit ’n ongeloofwaardige poging is om maghebbers in beheer te hou en daarom nie ’n oorgang na ’n aanvaarbare inklusiewe en gedemokratiseerde bedeling is nie, maar eerder ’n vorm van onproduktiewe verdraagsaamheid bevorder as om wesenlike verandering teweeg te bring.

In 1985 word artikel 16 van die Wet op Gemengde Huwelike geskrap. Botha, wat baie konsekwent die idee van een-mens-een-stem in ’n eenheids- of federale staat verwerp het, het nietemin vroeg in 1985 in die parlement die permanensie van swart mense in die stad aanvaar. Hy het ook aanvaar dat hulle politieke regte het. Binne welke politieke model dit moes geskied, was die groot kopseer. En wie die leidende figure moes wees wat die model moes bemiddel, was ’n ewe belangrike vraag. Dié soort kernkwessies was nie eenvoudig nie. Gewelddadige straatproteste het toe al verhewig en die ANC was ’n verbode organisasie. Vrylatings en ontbannings was vir die ANC ’n noodsaaklike voorwaarde vir verkennende gesprekvoerings.

Al dié hervormingspogings en ander aanpassings neutraliseer nie die toenemende georganiseerde protes en selfs geweld nie. Dit word nie net bloot as te min, te laat beskou nie, maar as ’n teken dat die apartheidsregime op die agtervoet is en besig is om sy veiligheidsbeheer oor die land en sy mense te verloor. Die UDF speel ’n groot rol in die wegkalwing van die persepsie van apartheid se onoorwinlikheid. Die verbode ANC doen in die middel 1980’s iets wat strategies slim was: Hulle begin om oor onderhandeling as nóg ’n pilaar van die vryheidstryd te praat; iets wat Oliver Tambo en Thabo Mbeki se breinkind was. Daar word in dié kringe nie net oor gewere, bomme en sabotasie gepraat nie, maar ook oor gesprek-met-die-vyand, onderhandelinge en grondwetlike kwessies.

Niks het Botha se projek van stuksgewyse hervorming so erg ondermyn as die stigting van die United Democratic Front (UDF) in 1983 in Mitchells Plain nie. Dr. Allan Boesak speel hierin ’n sleutelrol om nie net kerke nie, maar talle anti-apartheidsorganisasies (meer as 560) in ’n verenigde front te organiseer. Ook spog die UDF met leiersfigure soos biskop Desmond Tutu, Albertina Sisulu, Steve Tshwete, Frank Chikane, Archie Gumede en ander. Dit val saam met die inwerkingstelling van die driekamerparlement. Vorster en Botha se anti-Moskou en anti-kommunistiese retoriek en propaganda verloor in dié proses alle geloofwaardigheid. Die UDF was hoofsaaklik kerklik en Christelik geïnspireer en is nie deur Moskou voorgeskryf nie.

Die UDF word gedurende die tagtigerjare Suid-Afrika se belangrikste binnelandse protes- en versetbeweging; selfs belangriker as die ANC, want dit was intern georganiseer, met interne leiers, interne strukture en interne groeperings. Die UDF was bowenal intern sigbaar. Die Botha-regime was totaal en al op die agtervoet, en ook in ’n situasie ingedruk waarin die regime verplig was om intern ferm op te tree ten einde veral wit mense se veiligheidsbewussyn te beskerm. Verbodsbepalings teen mense én organisasies word ’n norm, asook noodmaatreëls en selfs staatsgeorkestreerde politieke moorde.

Die John Vorsterplein-gebou in Johannesburg word berug. So ook later die BSB (Burgerlike Samewerkingsburo) van Ferdi Barnard en ander polisiemanne. Die 1980’s word een van Suid-Afrika se ontstellendste en bloedigste tydperke. Neil Aggett, ’n aangehoue vakbondleier, word byvoorbeeld in 1982 in sy sel dood aangetref. Opgehang. Amptelike bewering: Deur homself. Barbara Hogan, ’n latere minister en lewensmaat van Ahmed Kathrada, kry in 1982 ’n vonnis van tien jaar gevangenisstraf vir hoogverraad. Sy was die eerste vrou wat daarvan skuldig bevind en gevonnis is.

Tot met sy dood het Botha aan drie basiese veronderstellings vasgehou:

•Moskou en die kommuniste is die wêreld en Suid-Afrika se grootste bedreiging. Die ANC was Moskou se handperd. Selfs die verskyning van Gorbatsjof was vir hom in die verband geen gerusstelling nie.

•Nelson Mandela kan net vrygelaat word as hy geweld om politieke doelwitte te bereik, onvoorwaardelik afsweer.

•’n Een-mens-een-stem politieke bedeling vir Suid-Afrika is ’n resep vir rampspoed. Afrikaners en bruin mense, so sê hy in 1987 vir lede van die Steyn-span, “sal ondergaan as die ANC en die swart meerderheid oorneem”. En hy sal dit met alles waaroor hy beskik, verhoed. As nagedagte: “Ek skuld dit aan bruin mense.”

Stuksgewyse hervorming, sonder ’n duidelike visie met aanvaarbare doelwitte, baar egter altyd onvoorsiene resultate. Wat gewoonlik gebeur, is dat dit hoop en verwagtings wek wat die energie of brandhout word vir teleurstellings, onvervulde drome en onderdrukte mense se woede. Botha hét verwagtings en hoop gewek, selfs tot in Lusaka. Maar hy kon nie regtig resultate lewer nie. Swart mense, van wie hy op die trappe van die Uniegebou gesê het dat hulle “nie weggewens kan word nie”, het presies so gevoel.

Trouens, in 1980 was Botha nogal uitgesproke: Hy sal nie met mense praat wat “revolusionêre verandering” soek nie. Nelson Mandela is een van hulle – dit is wat hy soek: revolusionêre verandering. Bygesê, die ANC in Lusaka het nogal in sy kaarte gespeel. Soos byvoorbeeld deur die ANC se sekretaris-generaal, Alfred Nzo, se openbare verklaring in 1984: Die sentrale vraag in Suid-Afrika se politiek is die omverwerping van die wit minderheidsregime, die oorname van mag deur die mense en die ontworteling van die totale apartheidstelsel deur die onoorwinlike massas. ’n Strategiese Politieke Militêre Kommissie word selfs deur die ANC ingestel. Tambo verklaar dat die interne konflik in Suid-Afrika verhewig moet word. Massamobilisasie, ondergrondse versetgroepe, ’n verhewigde gewapende stryd en die internasionalisering van die apartheidskwessie, tesame met isolasie van Suid-Afrika, moet bespoedig word. En Nelson Mandela moet vrygelaat word.

So word Nelson Mandela die eintlike spil van die onderhandelings- en uiteindelike skikkingsproses. Die politieke troefkaart. Sy vrylating word trouens vir PW Botha ’n groot kopseer: Mandela kón nie in die tronk sterf nie. Hy wou ook nie. En hy het geweet hý is die troefkaart. Dit is binne dié politiek gelaaide verband dat Kobie Coetsee sy verskyning maak.

Botha was, vanuit ’n strategiese hoek gesien, baie goed bewus van die Mandela-dilemma. Nelson Mandela was ’n terroris. Volgens alle getuienis ook ’n kommunis. Waarom moet hy, as president en leier van die Nasionale Party, met ’n terroris en kommunis praat? Wat kan hy bereik? Versoening? Vrede? Om met die vyand te praat was nie iets wat by die militaris, Botha, se strategiese én taktiese verwysingsraamwerk ingepas het nie.

Verskeie pogings om tussen vredesoekende binnelandse en uitgeweke leiers brûe te bou en gesprekskanale te open, vind wel plaas. Enos Mabuza, hoofminister van die KaNgwane-tuisland, was so ’n persoon. In Lusaka was hy hoogs gerespekteerd onder die ANC se politieke leiers. In Pretoria was hy nie by almal ewe gewild nie. Hy kon egter nie geneutraliseer word nie. In Natal was daar natuurlik die unieke Mangosuthu Buthelezi, wat ’n besonder belangrike posisie in Suid-Afrika ingeneem het. Reeds in Oktober 1979 vind daar ’n gesprek tussen hom en Oliver Tambo plaas oor die pad vorentoe. Tambo wou toe niks van onderhandelinge met die oog op ’n skikkingsproses weet nie. Volgens hom veg “die vyand” (die Afrikanerregime) op sowel politieke as militêre gebied teen die ANC en swart mense. Daarom moet die ANC die vyand polities én militêr konfronteer en verslaan. Onderhandelinge met die vyand is nie moontlik nie.

Dit is ná dié gesprek dat die verhouding tussen die ANC en Inkatha algaande meer problematies geword het en in openlike geweldsaksies losgebars het. “Swart-op-swart”-geweld, soos dit genoem is, maak sy verskyning; inderwaarheid interne swart magstryde oor posisies, goedere en geld. Hierdie spanning is dikwels deur die regime bevorder, maar nie noodwendig eensydig geïnspireer nie. Mag, invloed, goedere en geld ken nie grense nie. Dit was nie ’n eenvoudige of eensydige kwessie nie. Die instelling van die driekamerparlement ná ’n referendum in 1983 het nie relatiewe vrede gebring nie. Buthelezi, ongetwyfeld toe Suid-Afrika se belangrikste swart binnelandse leier, was fel in sy kritiek en het dit as ’n reusagtige verraad teen swart mense beskou.

Die jaar tevore, 1982, is die Interne Veiligheidswet aanvaar, wat alle veiligheidswetgewing byeengebring het as deel van die Totale Strategie teen revolusie, geweld en opstand. Dit verhoed egter nie dat skoolkinders in Augustus 1984 met ’n boikot teen apartheidsopvoeding begin nie. Sommige kolleges en universiteite neem ook deel. Sambokke word gebruik om protesteerders te verjaag. Huurboikotte word ook georganiseer, soos in September 1984 ná die verhoging van munisipale huurgelde. In botsings met die polisie sterf ongeveer 30 mense. Die regering se plaaslike owerheidstelsels vir swart mense skep meer sorge as vreugde.

In Oktober 1984 moet die Botha-regime die weermag inroep om orde saam met die polisie te herstel. Dit was ’n teken dat Botha se sekuriteitstaat onder erge druk was. Botha het dit geweet. Op 20 Julie 1985 verskyn hy op televisie om ’n noodtoestand af te kondig. Hy verklaar dat dit in die geskiedenis van volke soms nodig is om baie moeilike keuses te maak – soos keuses tussen oorlog en vrede. Daarom is ’n noodtoestand nodig om onrus en geweld in swart woonbuurte onder beheer te kry. Hierna volg ’n vlaag arrestasies, inperkings en die verbanning van ongeveer sewentig organisasies. ’n Totale Strategie van onderdrukking; ’n staat en regering onder erge druk.

Die ANC neem met genoegdoening kennis van al hierdie gebeure. Die vryheidstryd moet nie net in intensiteit op diplomatieke vlak verhewig word nie, maar ook binne Suid-Afrika. Die ANC moet ook betyds oor onderhandelinge praat en ’n plan met ’n program voorberei. Veral vanaf 1985 word dié strategie al meer en meer suksesvol toegepas. In Maart 1985 word ’n begrafnis in Uitenhage as ’n politieke demonstrasie deur duisende ontevredenes gebruik. ’n Gewelddadige botsing tussen die polisie en die betogende begrafnisgangers vind plaas. Ook kinders sterf. Regter Donald Kannemeyer, wat die gebeure moes ondersoek, huiwer nie om die polisie ernstig op die vingers te tik nie. In die buiteland word dié voorval as ’n voorbeeld van die gewelddadigheid van die Botha-regime gebruik. Nuwe martelare word geskep.

Ongeveer ’n maand ná die afkondiging van die noodtoestand (20 Julie 1985) en ná etlike weke van onrus en geweld sedert die Uitenhage-voorval, lewer Botha weer ’n toespraak in Durban – op 15 Augustus 1985. Dié keer is sy boodskap: “Don’t push us too far.” En voeg nog daarby: “Our readiness to negotiate should not be mistaken for weakness.”

Daar was groot verwagtings, binnelands en wêreldwyd, wat dié toespraak betref, want daar is gespekuleer dat Botha sou aankondig dat Nelson Mandela vrygelaat sou word. Die minister van buitelandse sake, Pik Botha, was nie teenwoordig by Botha se Durban-vergadering nie. Hy was ’n groot medewerker aan dié internasionale verwagtings. Mense oor die hele wêreld het na dié sogenaamde Rubicon-toespraak geluister. So ook ANC-leiers wat nogal angstig was, want niks is met hulle oor dié moontlike vrylating uitgeklaar nie. Al was hy in die tronk, was Nelson Mandela die hoofsimbool van die ANC se gewapende stryd en ’n ikoniese ANC-leier. Sy vrylating, as hy dit aanvaar het, kon vir die ANC ’n politieke ramp gewees het.

Botha was egter nie in ’n vredesoekende of inskiklike bui nie. Hy is, so verklaar hy, in beginsel bereid om Mandela se vrylating te oorweeg, maar dan moet hy eers alle geweld afsweer. Botha het toe nog nie besef dat Mandela se vrylating lankal nie meer eensydig van hom afgehang het nie. Mandela self, en die ANC-leierskorps, was toe reeds bepalende faktore. Dit het, vir toekomstige ontwikkelinge, eintlik niks beteken toe die skare Botha entoesiasties toegejuig het vir sy versekering dat hy nie bereid was om wit Suid-Afrikaners en ander minderheidsgroepe op ’n pad van selfmoord en abdikasie te lei nie.

Gegewe die hoë verwagtings wat voor die tyd in Washington, Londen, Bonn en ander hoofstede gewek is vir die toespraak, verdien dié kwessie verdere aandag. Sy toespraak, so is vertel, sou ’n wegbreek van beheerde, stuksgewyse hervorming wees. Die besinning oor en konseptualisering van die toespraak is immers voorafgegaan deur ’n dag lange bespreking op 2 Augustus 1985 by die ou sterrewag in Pretoria. Kabinetslede en senior amptenare was teenwoordig. Die idee was dat dit ’n voorlegging sou wees vir die belangrike openingstoespraak in Durban op 15 Augustus. Vroeg in dié jaar het Botha ’n kaart gespeel wat hy gereken het ’n politieke troefkaart sou wees: die vrylating van Mandela en ander sekerheidsgevangenes indien Mandela en die ander sekerheidsgevangenes geweld as middel om politieke doelwitte te gebruik, onvoorwaardelik afsweer. Mandela wys die aanbod egter van die hand. Botha het dit waarskynlik verwag. Hy het toe, volgens hom, ’n goeie argument gehad: Mandela wíl nie geweld afsweer nie.

Die Durban-toespraak was ’n erge katastrofe, waarskynlik een van die ergste wat die land nog ooit getref het, want miljoene mense wêreldwyd kon op TV na Botha se vertoning kyk. Dit was by verre nie die oorsteek van ’n politieke Rubicon of selfs net ’n aanduiding dat die soort verwagtings wat gekoester is om ’n onderhandelde skikkingsproses aan die gang te kry, ’n ware moontlikheid was nie. Hiervoor is die onvoorwaardelike vrylating van Mandela en ander gevangenes toe reeds as noodsaaklik beskou. Dat Botha en sy regering deurgaans van sekerheidsgevangenes gepraat het en nie politieke gevangenes nie, was ook waardelose semantiek.

Wat presies tussen die sterrewag-vergadering met sy hoë verwagtings en voorstelle en Botha se gelewerde toespraak verkeerd geloop het, het die onderwerp van heelwat bespiegeling geword. In sy insiggewende boek The Last Afrikaner Leaders verwys die bekende historikus Hermann Giliomee na ’n beroerteaanval wat Botha in Maart 1985 sou gehad het. Giliomee skryf dat dié aanval geheim gehou is en dat selfs kabinetslede nie ingelig is nie. Botha se familie en ’n baie klein groepie amptenare en dokters is wel ingelig. Die gevolge van dié beroerte was onder meer woedebuie. Daarom is Botha glo aangeraai om soveel as moontlik te rus en situasies te vermy wat tot emosionele uitbarstings kon lei. Botha se kondisie kon dalk, volgens Giliomee, die rede gewees het waarom hy nie juis aan die gesprek by die ou sterrewag deelgeneem het nie.

Giliomee identifiseer drie redes wat tussen September 1984 en September 1985 Botha se verbeterde goeie diplomatieke betrekkinge, die isolasie van die ANC en sy reformistiese beeld én program, ondergrawe het:

•Die versetsoptrede deur stedelike swart mense teen plaaslike owerheidsprojekte vir swart mense.

•Botha se beroerteaanval “that seriously affected his temper and judgement” 7 en

•sy Rubicon-toespraak.

Giliomee se verduideliking het opslae gemaak en die middelbladsye van koerante gehaal. Dit wás inderdaad sensasionele nuus.

Giliomee het ongelukkig ’n ernstige feitefout begaan wat hy later moes regstel. Botha het nié ’n beroerteaanval gehad nie. Botha is dikwels ten onregte vanweë die aard van sy persoonlikheid gekritiseer en aangeval.

Wat ook al die geval mag wees, stuksgewyse hervorming wás nie ’n geslaagde versoenings- en vredesoefening nie. Dit het op ’n dooiepunt uitgeloop, nie vanweë ’n beweerde beroerteaanval nie, maar weens ’n beleids- en hervormingsprogram wat tekort geskiet het. Dit is wel opvallend dat Prisonier 913 in sy verwysings na Botha nooit neerhalend, verkleinerend of pedanties was nie. Hy het die amp van staatspresident gerespekteer en wou graag met Botha gesprek voer, al het hy radikaal van Botha verskil – soos duidelik is uit sy onderhoud met twee konserwatiewe joernaliste waarna in Hoofstuk 8 verwys sal word.

Die tronkgesprekke

Подняться наверх