Читать книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton - Страница 6

Een

Оглавление

’n Glimlag speel om Hans se mond toe hy die jaarthek oopstoot. Hy staan ’n oomblik, oriënteer hom eers voor hy koers kry na die sinkplaathuis in die verste hoek, skuins agter die groot huis.

Hy glimlag vir homself, want, dink hy, hy moet sy kop laat lees. Hy is nie ’n vrouejagter nie, hy is vrousku, sou mens kon sê – ’n vrou moet hóm nader voor hy lewe kry. En dan, wanneer sy in sy kop is, kry hy haar nie maklik uit nie. Maar nie bloot oor haar geslag nie, oor haar menslikheid.

So was dit met die skoolmeisies, die enkeles wat oor sy pad gekom het.

En so was dit met Magrieta Cornelius, sy eerste vaste meisie. Magrieta wat hom alles van die liefde geleer het. Wat by hom aangepas het sonder dat hy enigiets moes doen om homself aanvaarbaar te maak. Want dis mos waaroor dit eintlik gaan? Aanvaarding.

En nou hierdie vrou wat hy vanoggend ontmoet het, en met wie hy ’n afspraak eerskomende Saterdag het. Hy kry haar nie uit sy gedagtes nie. Dink voortdurend aan haar, van die oomblik toe hulle uitmekaar is. By die werk die hele dag. Op pad huis toe.

Dis so stupid. Alles. Die ontmoeting. Sy simpel plannetjie. Die afspraak. So onwerklik. Soos ’n droom waaruit jy amper wakker is. Hoe meer jy daaroor dink om alles te onthou, hoe meer dink jy.

Hy en sy sin vir onafhanklikheid. Die eksperimente en sentimente rondom passief wees versus homself laat geld. Hy wat homself ná jare weer gevind het en dit ten alle koste beskerm. Want noudat hy sy selfrespek herwin het, voel dit of daar weer lewe in hom is.

Tydens die wegkwynjare het dit gevoel of hy dood is. ’n Lewende dooie.

Dís waarteen hy stry: om effens te lewe in plaas van amper dood te wees.

Dis wat hom vanoggend afgespeel het toe hy die vrou ontmoet het.

Hoe kon sy ná alles so liefies met hom wees? Ja, blind is hy wel. Halfblind. Méér as halfblind. Amper blind.

Dit het sy voordele. Simpatie, en soms empatie. Jammerkry en ag siestog. Maar nogtans. Sy moet háár kop laat lees. As hy in haar skoene was, het hy hom na sy peetjie gestuur!

Hy het ingedagte op die sypaadjie gestaan toe hy van iets voor hom bewus word. Eers die aangename geure van ’n vrou. Toe die vae beeld. Toe hoor hy die vriendelike stem.

“Môre, môre! Jy wil seker oorgaan? Kom.”

Voor hy ’n woord kon uitkry, het sy hom aan die hand beet en loop met hom oor die besige hoofweg. Voortrekkerweg, Vasco. Beheer as ’t ware sy bewegings met haar ferm optrede.

Hy het struikelend oor sy voete van die sypaadjie af getrap-trap. Sou seker platgetuimel het as sy hom nie so stewig vasgehou het nie. Toe skop hy boonop teen die randsteen vas. Maar pleks daarvan dat hy halt roep, loop hy doelbewus saam, ’n skalkse gedagte in sy kop.

Aan die oorkant, met die sonlig wat op haar skyn, sy oë wyd oopgesper, het hy iets van haar te sien gekry. Wit gesig. Ligte hare. Groot lyf.

Meer kon hy nie sien nie.

Dit het hom vies gemaak. Ergerlik. Soos dikwels tevore wanneer hy iets meer wou sien as wat sy beperkte sig hom toelaat.

Bliksemse oë! Dan sien julle iets. Dan niks. Dan help die sonlig. Dan is dit te skerp. Bliksems!

Sy oogtoestand is wyd bekend: retinitis pigmentosa. Oorerflik. Ongeneeslik. ’n Nagmerriewêreld tussen blind en amper blind, met ’n sigpersentasie van ongeveer twee persent onder gunstige omstandighede, soos in sonlig. Tegnies blind, en as sodanig gesertifiseer. Algemene simptome: nagblindheid, tonnelvisie, beperkte sentrale visie.

Aan die oorkant van die hoofweg het die vrou hom ewe vriendelik aangespreek. Selfvoldaan, het dit vir hom geklink.

“Nou toe, daar’s jy, veilig oor die pad.”

Hy het sy stem reggekry om sy plan af te rond. Bedaard, met ’n tikkie ergernis, sonder om ongeskik te klink. ’n Soort beleefde afjak.

“Dankie, maar dit was nie nodig nie.”

“Ag, dis niks. Bly ek kon help.”

“Soos ek sê, dit was nie nodig nie. Vat my terug, asseblief.”

Dít het sy klaarblyklik nie verwag nie. “Terug oor die pad?”

“Ja.”

“E . . . hoekom? Jy wou tog oorkom?”

Sy het hom teruggeneem.

Dié keer was hy in beheer. In plaas daarvan dat sy hom aan die hand vat en hom weer agter haar aantrek, het hy haar elmboog geneem en haar liggies voor hom uitgestoot, hy sowat ’n lyfbreedte agter haar. Die manier om ’n blinde te lei. Gevolglik het hy netjies by die randsteen afgetrap en aan die oorkant opgetrap.

Tóé eers het hy haar meegedeel dat hy elke weeksoggend daar op sy geleentheid werk toe wag. Hy’t verwag dat sy hom soos ’n vrot vel sou los en padgee, want hy het haar tog lelik in die bek geruk.

Maar nee, sy was as-aan, ongesteurd. Gesels met hom oor alles en nog wat nadat hulle hulself bekendgestel het. Verwys na die heerlike koel oggend wat tog nie in ’n bedompige dag moet omswaai nie. Laat val iets oor haarself. Toe vis sy oor hom uit.

En hy blaker alles uit. Amper alles. Hy wat ’n rottangwerker by die Civilian Blind Society in Soutrivier is. Hy wat met sy oë sukkel. Wat die skool vroeg verlaat het om sy ma te help.

Waarom het hy nie daaraan gedink om sy skoolopleiding te hervat nie? vra sy op die man af.

Hy het vaag en ontwykend geantwoord.

Toe sê sy hy moet daaraan dink, sy sal hom help.

“Matriek is die sleutel tot sukses, Hans,” sê sy oplaas.

Hy het stil na haar gekyk. Gehoop sy laat dit daar.

Sy het.

Toe praat sy oor sport, iets waarvan hy niks weet nie. Rolbal. Vra of hy belangstel.

Hy het gehuiwer, hom ’n balspel vir blindes probeer indink. Kon dit nie regkry nie. Kon hom ook nie skeel nie. Sy aandag was by haar: die vrou. Haar manier van praat. Sag, innemend. Die klokhelder stem. Die gesig wat so mooi vertoon en die hare wat in die ligte bries waai.

Mooi vir hom. Wit is mos mooi. Swart ook. Swart het sy eie mooi. Sy lewe bestaan immers uit wit en swart. Dis óf die een óf die ander.

So het hy gedink terwyl hy na haar staan en kyk.

“Jy sal dit geniet,” sê sy toe. Slaan sommer oor na Kaaps: “Trust me, broer. Check dit uit en see for yourself. Verstaan jy, broertjie?”

Die uitspraak net reg: broe’tjie. Hy kon nie help om te glimlag nie.

“Dink daaroor,” het sy weer met haar normale aksent gepraat. “Jy lyk onseker. Jou oë rol omtrent.”

Wat hom besiel het, weet hy nie. Seker die ding dat hy ’n swakheid het vir ’n vrou wat haar met hom bemoei, boonop wit ook. Want sonder dat hy behoorlik daaroor gedink het, antwoord hy: “Nee, dis okay, ek sal dit probeer.”

Hans steek voor die deur van hulle bywonershut vas. Rex, sy ma se waghond, lê oudergewoonte voor die huis, merk hy. Hy kyk na sy ma wat by haar werktafel besig is. Die vertrek is helder verlig met die son wat by die oorkantste venster inskyn. Voldoende lig vir sy oë wat nie sonder lig sien nie.

Hy groet en stap binne. Skuur in die nou ruimte agter sy ma se groot lyf verby.

Dis ’n tweevertrekpondok: kombuis en slaapkamer. Elke vertrek drie by een en ’n half meter. Binne is die mure uitgeplak met karton en koerantpapier. Waterverf bo-oor. Stukkies koerantpapier hang oral los soos die wind dit losgeruk het. En oral, weet hy, is daar rookmerke wat deur die primusstoof, kers en sigaretrook veroorsaak is.

Daar is net die voordeur en twee vensters, een in elke vertrek. Werktafel in die hoek van die kombuis, links van die deur. Kombuiskas langsaan. Dan die eettafel dwars onder die venster. Oorkant die kombuiskas, teen die middelafskorting, is ’n houtbank. In die beknopte slaapkamer is daar drie enkelbeddens en ’n groot hangkas met ’n vollengtespieël.

Hans val met die deur in die huis. Vertel van sy ontmoeting met Erika Basson en hulle rolbalafspraak. Erika is ’n maatskaplike werker en wil met sy ma kom praat oor sy oë en hulle familiegeskiedenis in dié verband. Oor haar voorstel dat hy sy skoolopleiding hervat en matriek voltooi, swyg hy.

Ná soveel jare, en alles waardeur hy is? En dit sal seker ’n fortuin kos. Klasgeld. Boeke. Eksamengeld.

Geld het hulle nie.

Sy ma kry ’n oorval as sy dit hoor. Dan is dit weer dokter toe.

Oor leer sal sy ma niks sê nie. Miskien haar kop skud en wonder wat nou weer in sy kop aangaan. Dis die geld waaroor sy sal kla, en sal sy verkeerd wees? Sy oë is ook nie meer wat dit was toe hy op skool was nie. Toe was die sienery alreeds ’n probleem. Helse probleem.

Terwyl Maria Meintjies luister, gaan sy voort met haar werk. Pomp die primusstoof sodat die vlam sterker moet brand en die teewater gou kook.

Sy blaas effens van die inspanning en dink: My kragte is nie wat dit was nie.

Sý is nie meer wat sy was nie. Haar kop is glad nie lekker nie. Meer aan die slaap as iets anders. Sy het die hond teen die deur hoor krap soos sy gewoonte is wanneer iemand by die hek inkom, maar sy’t nie opgelet nie. Hy is mos nie een wat blaf nie. Rover en Bruno, die ander jaarthonde, blaf sommer vir nonsens elke keer. Toe hy jonger was, ja, toe was hy grootbek nes die ander twee.

“Sê jy jy gaan veld toe?” vra sy Hans.

“Ja, Ma.”

Maria frons. Hans het laas so gesmile toe Magrieta Cornelius hom verlei het, dink sy.

Veld toe? Hy wat net af en toe sport oor die radio luister? Skaars met die kinders in die strate gespeel toe hy ’n kind was. Altyd in die huis rond, onder haar voete.

“Familiebesigheid?”

“Ja, Ma.”

“Vir wat?”

“Navorsing vir ’n databasis of iets. Of daar iets in Ma of Pa se familie is, mense wat met hulle oë sukkel.”

“Sê sy hoef nie te kom nie. Daar’s niks. Jy en Willem is al familie wat ek het. Sal ’n waste of time wees as sy all the way verniet kom. Ek praat in any case nie oor familie nie. Dit krap dinge oop wat aan my vat. Dan is dit weer dokter toe en . . . Jy ken die storie.”

“Ma, hoe sal dit lyk as ek sê sy kan nie meer kom nie? Dis ’n wit vrou.”

“Wit vrou?”

“Ja, Ma.”

“Is sy mal om hier in te kom met die volkies wat so ondeund is?”

“Social workers werk mos oral, Ma. Dis die nuwe Suid-Afrika. Mense kom en gaan waar hulle wil – wit, swart en bruin deurmekaar. Ek sal die plek moet regtrek. Toeplak en paint aansit. Ons kan nie dat die vrou hier inkom met die plek wat só lyk nie.”

Maria is skoon stomgeslaan.

Dié kind van haar is elke dag dieselfde. Werk toe en huis toe. Dan sit hy met sy boeke, of met sy oor teen die radio. Niks las of worries wat hy gee nie. Maar dan, wanneer jy dit die minste verwag, slaan hy jou bingo en laat jou wonder what is next.

Hans wil dadelik met die mure begin, maar hy kort materiaal: gompoeier, koerantpapier en verfgoed. Hoe gouer hy begin, hoe gouer kry hy klaar, hy wat alles teen ’n slakkepas doen. Môre in sy etenstyd sal hy na die hardewarewinkel gaan. Intussen sy broer opkommandeer om ou koerante by die bure te soek.

Toe Willem by die huis inloer vir iets te ete, vra Hans hom.

“No problem,” sê dié gewillig, “maar dit gaan jou kos. Twenty bucks.”

Hans betaal die afpersloon. Sy broer weet hy sal nie self koerante by die bure gaan soek nie, en hulle ma ook nie. Te veel van ’n lady. Te lief vir haar huis. Maak nie ’n oorlas van haarself by die bure nie.

Met sy aandag by die radio verwyl Hans die aand. Good Hope se polsende musiek, toe die radiodrama op RSG.

Hoe oud is Erika? wonder hy. Hy skat haar na sý ouderdom: drie en twintig? Dalk ouer? Sy klink baie volwasse.

Teen die tyd dat Willem met leë hande by die huis aankom, is Hans lankal aan die slaap. Eers die volgende middag toe hy die gom en verfgoed gereed het, ontdek hy dit.

Dit krap hom om.

“Toe, Willem, maak ’n plan. Ek het nie verniet betaal nie.”

“Relax, broer, ek gooi straight away. Check jou nou-nou.”

Terwyl hy op Willem wag, skuif hy die meubels weg en berei die plakmengsel voor. Gompoeier wat in water geroer word soos sy pa hom geleer het.

Sy ma kom sit hand by. Vat die besemstok by hom en begin roer. Werk stadig om te keer dat sy na asem moet soek.

“Los, Ma,” keer Hans. “Die paste word styf, dan roer hy swaar.”

“Ek’s okay, my kind. Jy kan nie als doen nie.”

“Solank Ma dit easy vat.”

Maria steek ’n sigaret op, blaas rook uit.

“Pasop vir as in die paste, Ma,” maan Hans.

“Ja, Hans, ek’s nie stupid nie. Los my nou in peace.”

Hans laat dit daar. Sy ma is kort van humeur. Werk haar gou op.

Willem kom terug, ’n stapel ou koerante onder die arm. Hy gooi dit op die vloer voor Hans se voete neer en draai in sy spore om.

“Check julle,” sê hy.

“Waar gaan jy?” keer Maria. “Hier’s werk om te doen.”

“Ek’s nou terug, Ma. Relax.”

“Jy bedoel seker ounag!” roep Maria by die oop deur uit. “Jy steek lekker lyf weg. Soek altyd iets in die hand voor jy ’n ding doen.”

Maar Willem lag net voor Hans sy voetstappe hoor wegraak hek se kant toe.

Hy is net mooi aan die gang met die plakwerk toe sy ma kla dat sy olik voel.

“My bors trek toe en dit voel of my kop wil bars. Moet die paste wees, die skerp reuk en so. Ek gaan ’n bietjie skuinslê.”

“Ek dink ek los als tot môre ná werk.”

“Nee, Hans, maak klaar.”

“Dis okay, Ma. Ma se siekte kom eerste. Daar’s nog tyd. Môre plak ek, dan is daar twee dae oor om te paint voor Erika Saterdag kom.”

“Hoe’t jy gesê, hoe laat kom sy?”

“Ná die game. Sy kom my mos aflaai.”

“O ja, jy’t gesê.”

Hans skuif alles terug op hulle plek. Dan maak hy die paraffienblik met die gommengsel dig toe sodat die skerp reuk nie sy ma verder pla nie.

Ná ’n beker koffie en ’n hand vol klapperbeskuit is hy reg om te gaan slaap.

Met die geur van koffie in sy neus en die primusstoof wat raas, word Hans wakker. Sy ma is oudergewoonte op haar pos vir hulle waswater, ontbyt en sy werksbrood maak.

“Is Ma okay?” vra hy.

“Fris en gesond. Soos ’n klip geslaap. Voor jy huis toe kom, skuif ek als reg en roer die paste lekker deur.”

“En as Ma weer siek word?”

“Nee wat, miskien was dit nie die paste nie. Jy weet hoe is my siekte. Op en af. Dan sus, dan so.”

“Ja, Ma. As Ma kans sien, is dit reg.”

Hans swaai sy bene van die bed af en drink sy koffie tydsaam.

So ken hy sy ma se siekte: suiker en hoëbloed. Een oomblik is sy perdfris soos sy sê. Dan, skielik, vat die siekte haar.

Die plakkery vorder vinniger as wat Hans verwag het. Sy ma sprei die papier oor die eettafel oop. Dan smeer en plak hy. ’n Aangename taak wat hom goed laat voel. Net die stof pla hom, want plek-plek moet hy stukke los papier afruk. Stof in sy hare. Stof oor sy gesig. Stof by sy mond en neus in. Stof by sy hempskraag in. Hy haat dit. Jig!

Sy ma kla openlik daaroor. Hol telkens uit om lug te skep.

“Jou pa’t so gewerk en stof maak,” merk sy eenkeer op. “My elke keer uitgedryf buitetoe. Stof werk op my bors.”

Hans knik net, sy oë op die oop deur en die stikdonkerte buite. ’n Koel windjie waai by die deur en venster in. Binne, ten spyte van die kerslig, is dit vir hom omtrent ewe donker. ’n Soort ligter donkerte.

Die kers is omtrent halfpad ondertoe gebrand, skat hy. Teen die tyd wat die plakwerk klaar is, sal hy seker driekwart gebrand wees. Miskien laer. Dalk plat teen die blakergat, besig om die laaste kersvet op te slurp tot die vlam sy asem uitblaas. Dan sal die binnedonkerte so donker soos daar buite wees.

Toe hy begin het, kort ná hy by die huis gekom het, was dit helder lig buite sowel as binne waar hy werk. Toe word die lig flou en later skemerig. Bekruip hom half. Hy het nie die oorgang gevolg nie. Net agtergekom die lig het onder sy oë uit verdwyn. En toe hy weer kyk, hy wat so ingedagte werk, is dit donker.

Eers kon hy sien wat hy doen – op sy manier sien. Nou voel en werk hy. Voel waar die muur nat is, dan weet hy daar is reeds geplak. Hoe die plakwerk daar uitsien, kom nie daarop aan nie, solank dit geplak is.

Met die verfwerk is dit anders. Dan kom hy voor die groot uitdaging te staan: om ná sonsak by kerslig te verf. ’n Kwas is ’n ding wat traan, en dit wys wanneer die verf droog is. Wys dat die verwer onbekwaam is. Useless.

Hy kan die verfwerk aan Willem oorlaat, maar sy broer werk nie verniet nie.

Geld het Hans nie. Net taxigeld werk toe en terug huis toe. Sy sakgeld opgebruik om Willem om te koop, vir verfgoed en gompoeier. Vasco en Bishop Lavis sit wyd uitmekaar; hy sal sy voete stomp loop as dit daarop neerkom. Hy wat so stadig loop. Mik-mik en koes-koes.

Sy ma is ook platsak. Koop kos op die winkelboek, en die boekskuld moet aan die einde van die maand betaal word volgens haar ooreenkoms met die winkelbaas.

Skuins ná elfuur is die plakwerk afgehandel. Huis skoon en alles terug op hulle plek.

Hans sit uitgeput by die eettafel, tee en klapperbeskuit voor hom. Sy ma sit op die bank, dompel beskuit in haar tee en slurp dit smaaklik op.

So tref Willem hulle aan.

“Biscuits en tea? Hoe lyk dit, Ma, iets vir my? Ek is uit die maag uit.”

Maria verstik aan haar beskuit, gluur haar jongste aan.

“Jy’t ’n fine cheek! Nou wat als klaar is, kom jy hier aangesit en soek eetgoed. Loop heeldag rond en niks doen nie. Doen jy iets, moet ek of Hans betaal. Hans het hom amper doodgewerk en môre moet hy weer vroeg op workshop toe.”

Willem steur hom nie, bekyk die koerantplaksels teen die mure, begin lag.

“Hans, hoe werk jy dan?”

“Hoe bedoel jy?”

“Die articles . . . Een skuins. Een dwars. Een onderstebo. ’n Man se nek sal styftrek as jy als klaar gelees het.”

Hans glimlag skeef om te wys dat hy vir homself kan lag. “Dis die hele idéé: om so kruis en dwars en onderstebo te lees. Dis nie enige ou wat dit kan doen nie.”

“Ék kan.”

Met een oog op sy ma begin Willem sy lyf na alle kante toe draai, met sy kop wat elke keer na die ander kant toe saamdraai. Diékant toe, daai kant toe, onderstebo. Lees hardop, komieklike Kaaps en hoogdrawende Engels.

Tot Maria se kwaai gesig versag en sy begin lag.

“Willem, weet jy, jy’s nie goed nie. As jy só perform, is jy dik gerook. Steek die primus op en maak vir jou tee. Daar’s biscuits in die blik. Was jou hande voor jy aan iets vat.”

Soos met die plakwerk traak dit Hans nie hoe die eerste laag verf daar uitsien nie. Wat saak maak, is dat dit gedoen word.

Die tweede laag wend hy met groot omsigtigheid aan. Kers in die een hand, verfkwas in die ander. Sy oë naby die muur, kop byna teen die verfplek.

Hy verf stelselmatig. In vierkantblokke. Tydsaam. Oor en oor op dieselfde plek, in dieselfde blok.

En hy dink skielik: Al dié suffering vir ’n wit mens?

“Hans, pasop vir jou gesig, pasop vir jou hare,” waarsku sy ma. “Die kers is amper in jou gesig. En pasop vir jou kop teen die muur. Paint kom nie maklik uit jou hare nie.”

“Ja, Ma.”

Skuins voor twaalfuur die nag is hy klaar, pootuit weens die inspanning en intense konsentrasie.

“Mooi,” prys sy ma, “nou’s dit sommer skoon vir Krismis en Nuwejaar. Jy’t jou pa se hande. Hy sou ’n ander mens gewees het as hy jou verstand gehad het. Willem kan baie by jou leer as hy die dag wil kopgee.”

Die rolbalspeler

Подняться наверх