Читать книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton - Страница 8

Drie

Оглавление

Sy eerste wedstryd is teen Bongani Ngema, hoor Hans. ’n Aangename mens met ’n rustige geaardheid, het hy agtergekom. Selfs nou wat hulle die baan betree, kom Bongani houtgerus voor, klaarblyklik geen bekommernis oor die wedstryd nie.

Hans self voel hoe die angs hom beetpak. En dit ná hy so uitgesien het na sy eerste volwaardige wedstryd.

Hy staan onseker rond terwyl almal om hom besig is. Bongani om sy balle uit die rolbalsak te haal en met ’n lappie blink te vryf. Sy afrigter, Ayanda Melani, om die middeltou wat effens opstaan teen die baanvlak plat te druk. Erika om die telbord reg te kry.

Hans se oë is op Erika gerig. Haar bolyf effens vooroor gebuig, vlegsel oor haar skouer teen haar linkerbors af.

Sy draai om, kyk na hom.

“Hans!” roep sy, haar stemtoon skerp. “Jou bowls!”

Dit ruk hom. Maak hom selfs meer angstig, want wat sy eintlik bedoel, is: Kan jy nie vir jouself dink nie?

Hy gryp na die rolbalsak en ruk die ritssluiter oop. Haal die balle uit. Hou haar terselfdertyd onderlangs dop.

Hy verstaan dit nie. In die motor op pad hierheen was sy haar ou self. Rustig en liefies. En in die klubhuis was alles nog reg tussen hulle.

Dis nie die eerste keer dat hy hierdie verandering by haar opmerk wanneer hulle die baan betree nie. Sy word half . . . tense. Streng. Onnodig streng. Bossy.

Vir wat? Dis ’n game. Net ’n game. Stupid balle wat gerol word.

Agterna, van die baan af, in die klubhuis, in die motor, is sy weer haarself.

Hy hou niks daarvan nie. Krap hom om. Voel of hy opstandig wil word elke keer.

Maar hy kan mos nie?

Hy maan homself tot kalmte. Laat hy haar instruksies en opdragte sonder teëstribbeling uitvoer. Met dit in gedagte, sy konsentrasievlak hoog – want dis iets waarop sy tot vervelens toe hamer – staan hy gereed.

“Lovely day for bowls, Hans,” gesels Bongani vriendelik terwyl hulle op Ayanda wag om die kietie te sentreer.

“Hmm,” is al wat Bongani uit hom kry.

Hans het ’n goeie begin. Hy speel ’n trekskoot, draw, soos die spelers daarna verwys. Aflewering seepglad soos Erika dit by hom ingedril het. Goeie balbeheer. Uitstekende balansering. Bal knap agter die kietie op eenuur, soos sy dit volgens die klok beskryf.

“Mooi, Hans!” sê sy, haar stem weer normaal. “Baie mooi.”

Hy glimlag, tevrede dat hy die afranseling gekanselleer het.

Sy vreugde is egter van korte duur, want met ’n genomineerde skoot, chop-’n-lie, soos Ayanda en Bongani dit beplan, neem Bongani die skoot terwyl hy Hans se bal sowat twee meter wegstamp.

“Ag nee!” roep Erika teleurgesteld uit, klap haar hande dringend saam. “Hans, ons doen dieselfde: chop-’n-lie. Jou eerste bowl was ’n draw. Hou dit so. ’n Meter ekstra gewig.”

Hy konsentreer hard, oorweldig deur die druk wat sy afrigter op hom plaas.

Die bal trek windskeef.

“Hans!”

Dit klink vir hom of Erika se kwaai stem vanuit die lug op hom afpyl.

Sy kom tot by hom, trek hom van die mat af sodat Bongani sy volgende bal kan afstuur. ’n Trekskoot, hoor hy uit Ayanda se kommentaar.

Ayanda en Bongani jubel van vreugde.

Hans se moed verkrummel. Hy vou onder die druk. Die wedstryd eindig met 5/21 in Bongani se guns.

In die motor op pad huis toe hou Hans nabetragting. ’n Gebrek aan temperament, daardie X-faktor waaroor hy seker nie beskik nie, en sy kort humeur het tot die treurmare bygedra, is die slotsom waartoe hy kom. Veral laasgenoemde.

Toe sake begin skeefloop het, het hy Erika se afrigtingswyse bevraagteken en voorstelle gemaak. Soos om voorhand in plaas van rughand te speel. En omgekeerd. Of ’n skoot te trek in plaas van te chop-’n-lie.

Die eerste keer het sy botweg geweier.

“Nee, Hans.”

En toe hy uitvra oor die klokaanwysings om dit beter te verstaan, sê sy skerp: “Dis nie nou belangrik nie. Konsentreer op jou gewig en jou follow-through.”

Hy het dit as ’n onnodige afjak beskou en die daaropvolgende balle sonder geesdrif afgestuur.

Erika het dit besef, het hy agtergekom, want sy het sy hand al stywer vasgehou, asof sy verwag het dat hy die hasepad sou kies.

Een keer het sy troostend oor sy rug gestreel en hom moed ingepraat. “Relax, Hans, dis nie jou dag nie. Volgende keer sit jy vir Bongani ore aan.”

Dit het hom opnuut oor haar laat wonder.

Soos nou in die motor waar hulle stil langs mekaar sit en radiomusiek luister.

Sy het ’n obsessie om ’n suksesvolle afrigter te wees. Dit blyk duidelik uit haar geselsies oor klubsake, gewoonlik as hulle op pad is rolbal toe. Sy het dit in haar kop gekry dat sy van hom ’n kampioen gaan maak.

Dis fine. Hy wil niks anders as ’n kampioen wees nie. Hy wil uitstyg in alles wat hy aanpak. Wat hy nie kan kleinkry nie, is haar obsessie om ’n topafrigter te word. Sy het tog nie nodig om haarself te bewys nie? Soos hy? Sy het alles wat saak maak?

Het dit te doen met haar verlede? Haar kinderjare?

Daar is baie hartseer in haar lewe, het hy al agtergekom. Probleme tussen haar ouers. Probleme tussen haar en haar ouers. Sy en haar ma het nie juis ’n goeie verhouding nie, en vir haar pa het sy geen ooghare nie.

Hans loop om die huis na die agterjaart. Die son helder waar hy kyk, soos ’n soeklig wat voor hom uitskyn.

Hy gaan staan en kyk ’n oomblik lank na die huis. Na die silwergeverfde sinkplate. Helderblink soos die son daarteen weerkaats. Blou-en-wit deur.

Mooi, dink hy. ’n Teken van netheid. Mense van die onderklas met ’n sin vir waardigheid en selftrots.

Sy pa se nalatenskap, al is sy pa nie dood nie. Net weg, soos een wat heen is.

Sy ongeletterde pa met die vaardige hande waarmee hy omtrent enigiets kan doen.

Handyman, jack of all trades, só het sy pa na homself verwys. Self opgelei.

“Steel met die oog en try vir jouself,” onthou Hans sy pa se woorde. “As daai ou dit kan doen, kan jy ook. Die main ding is: gebruik jou kop en werk reg. Vergeet van short cuts. Dit kom terug na jou toe, dan moet jy alles oordoen. Dit kos geld en effort, en wie’s die loser? Jý.”

Sy blik verskuif van die huis na die graspolle wat wild opstaan en plek-plek stukkies grasperk vorm. Dit strek van die kant van die huis tot teen die sinkplaatheining. Steek lelik af teen die netjiese sinkhuis. Soos die ongeverfde heiningplate met die roesplekke wat oral sigbaar is. Vieslike vuil kolle soos dit vir hom lyk elke keer wat hy dit van naderby bekyk, soos nou.

Die gras hou die sand weg. Daarom los hulle dit. Sodra dit te hoog opstaan, sny hy dit met ’n grasskêr. Of hy betaal sy broer om dit te doen.

’n Moeisame taak, want jy moet heeltyd op jou hurke of knieë bly. Omtrent soos boomswaai – om die bodem van ’n rondvormige rottangmandjie te vleg.

Die huiseienaar – Pastoor se broer, soos hy bekend is – het ’n grassnyer, maar hy steur hom nie aan die graspolle nie. Hy is omtrent nooit tuis nie. Altyd iewers in diens van die kerk.

Rover lê lekker teen die heining in die son en bak. Bo-op die heining sit ’n klompie duiwe in ’n ry. Lyk of hulle in gesprek is met die paar wat op die dak sit en koer, dink Hans toe hy opkyk soontoe.

Teen die kant van die huis is ’n hopie rommel. Kruiwa langsaan. Graaf en hark bo-op die kruiwa.

Hans skud sy kop soos een wat vir homself wil lag. Hy het Willem vanoggend gevra om die jaart skoon te maak.

“Fifty bucks,” het Willem gesê.

“Twenty.”

“Hans, waar val jy uit? Twenty bucks is niks. Maak dit thirty, dan maak ek lekker skoon. Al die klippe en papiere wat so rondlê. Die gras top ek tjop-tjop.”

“Okay, thirty bucks.”

Met die loongeld in sy gatsak het Willem fluks begin. Sing en gaan tekere. En elke keer ’n geselsie met Bruno en Rover soos sy gewoonte is. Toe is dit skielik stil buite.

Dis hoekom Hans nou hier rondloop – op soek na Willem, al weet hy sy broer is lankal jaartuit.

Maar dalk sit hy tog iewers teen die heining in die skadu en asemskep? Kyk dalk vir hom wat Hans is sonder om sy teenwoordigheid bekend te maak. Dis mos hoe Willem is: ’n opperste grapjas. Hy sal doodstil sit tot Hans oor hom struikel voor hy praat of hardop lag. Nie lelik nie, lag van pure lekkerte.

Nee, die mannetjie is beslis jaartuit. Sal hom leer. Hy moes ’n ogie oor Willem gehou het.

Hand in die sak skuifel Hans na die oorkant waar Magrieta Cornelius se houthut is. Dié staan leeg sedert hulle twee opgebreek het en sy terug is De Doorns toe na haar ouerhuis.

Hy loop om die hut. Lyk woester as rondom hulle huis, merk hy. Meer papiertjies en plastieksakke. Meer graspolle en onkruid. Klim onnet teen die hut op en teen die sinkheining langs.

Daar lê Bruno, die ander jaarthond, kop op die voorpote. Hy en Rover is seker haaks, dié dat hulle weg van mekaar lê. As hulle nie saam op verbygangers jag maak of iewers op die erf baljaar nie, knou hulle mekaar af.

Verder weg, aan die kant van Magrieta se hut, bevind Hans hom voor die buitetoilet. ’n Smal sinkhok met ’n wegneempot wat een keer ’n week leeggemaak word. Jy ruik die lorrie voor jy hom hoor aankom. Druk jou neus toe tot die pot leeg is en die lorrie verby is.

’n Geritsel agter hom.

Dis Rex, sy ma se waghond. Kom kyk seker waar hy ronddwaal. Hy wat net die pad van die hek af huis toe ken. Dan weer by die hek uit werk toe. En van die huis af tot hier by die toilet of die buitekraan. Loop dan en wan ’n draaitjie om die huis wanneer die mure hom vasdruk of sy ma se sigaretrook sy oë laat traan.

Hy dwaal verder. Loop hom in ’n skadukol vas – die groot baksteenhuis van Pastoor se broer. Hy hou niks van skadukolle nie. Maak hom blind. Hierdie oë van hom: sien dáár waar die son skyn, niks hier waar hy kyk nie.

Hy staan stil om te kyk hoe lank dit hom gaan neem om iets te sien terwyl ’n gedagte in sy kop inkruip: Erika wat hom druk om sy skoolopleiding te voltooi.

Hoe het hy nie daaroor gedink nie, daaroor gedroom . . .

Hy glo aan drome, maar mens kan tog nie aan ’n droom klou wat dood is nie?

Só het hy homself wysgemaak voor Erika oor die leerdery begin praat het.

Iets is besig om met hom te gebeur; ou drome wil in sy kop loskom. Maar wat hy vir sy ma en die huis beteken, mag hy nie uit die oog verloor nie. Hy moet getrou bly aan sy belofte aan sy pa om sy pa se plek in te neem. Dis nie ’n droom nie, net iets wat hy moet doen. Hy het nie ’n keuse nie.

As dit nie vir mevrou De Waal was nie . . .

Hy het destyds met niks by die maatskaplike werker opgedaag. Sonder ’n afspraak. Sonder ’n brief. Net homself en die flenterbril om te wys. En sy trane en treurige verhaal van hulle gesin wat teen die grond is van sy pa weg is.

Toe het mevrou De Waal hom gehelp om op sy voete te kom. Omdat hy klaar sestien was, kon hy skool los. Sy het vir hom werk gekry by die Civilian Blind Society. Gesorg dat hy vir rehabilitasie gaan, leer hoe om as blinde oor die weg te kom.

By die werk is hy ’n boy, maar dis beter as niks. Beter as useless.

Sy ma dink nie hy is useless nie. Ánders, ja. Dis wat sy ma dink.

Willem dink nie hy’s useless nie. Net stadig. Vat alles uit sy hande om dit tjop-tjop af te handel – teen betaling.

Hans loop stadig terug. Agter hulle huis sak hy op ’n graskolletjie neer, skuif homself gemaklik. Rug teen die warm sinkplate, bene in ’n driehoekvorm.

Rex is nie meer langs hom nie. Hy’s natuurlik terug na sy lêplek voor die huis.

Hoe anders? Dis nie sy hond nie. Sy ma s’n. Een van haar kinders, soos sy sê.

Die leerdery . . .

Ja, hy weet dat hy elke keer doelbewus weggeskram het van die leergedagtes. Nie net omdat hy hom nie weer wil blootstel aan die hel van mislukking nie, ook uit onkunde weens die geslote lewe wat hy lei. Net die radio as inligtingsbron. Het eers onlangs geselsradio ontdek. Sukkellees soms deur ’n Huisgenoot of Die Burger.

Erika het hom rêrig onkant gevang met haar leerpraatjies. Maar hoe meer hy daaroor dink, hoe meer dink hy. Dink meer na sy ma se kant toe.

Maar . . . is dit nie dalk ’n ompad na hom toe nie? Want alles draai om sy ma en dan terug na hom toe.

Hy wil sy ma tevrede stel om homself tevrede te stel. Hy wil niks doen om sy ma om te krap nie, want dan is hý omgekrap. ’n Kind lewe vir sy ma en pa. So word jy geleer. So word jy grootgemaak.

So, dis nie so maklik soos Erika dink nie. Dis nie net vir leer en klaar nie. Daar is goed wat in aanmerking geneem moet word. Goed soos familie.

Die rolbalspeler

Подняться наверх