Читать книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton - Страница 7
Twee
ОглавлениеErika lyk heeltemal anders as die vrou wat hy Maandag ontmoet het, merk Hans toe hy langs haar in die motor klim. Breërandhoed op die kop. Vlegsel in plaas van die los hare. Wit rok aan die groot lyf.
Sy gesels vriendelik met hom, oor die heerlike somerweer hier aan die begin van die jaar. Oor sy skoene, dat hy onthou het om platsoolskoene aan te trek. Sê iets oor toeval. Sy wat daar verbyry op pad na ’n kliënt toe, hom op die sypaadjie opmerk, en hier is hulle nou op pad vir rolbalsake.
En daar was ietwat van ’n kontroversie oor hom, vertel sy. Maar eintlik oor haar, korrigeer sy haarself. Phillip Abrahams, voorste afrigter en die een wat deur die komitee aangewys is om nuwe spelers touwys te maak, is ongelukkig omdat sy gesê het sy wil Hans Meintjies onder haar vlerk neem. Die voorsitter, John Wright, asook Derek Barnes wat die klub agter die skerms bestuur, ondersteun haar daarin.
Elkeen weens sy eie redes, skinder sy ’n bietjie. John omdat hy en Phillip gedurig haaks is oor wie die beste afrigter is. Derek omdat hy ’n politieke agenda het, en omdat hy haar goedgesind is aangesien hy ook haar baas is.
Daar is ’n geskarrel na nuwe talent. Swart spelers wat vir die nasionale span ontwikkel moet word. Transformasie. Hy weet mos van die politiek belaaide debat rondom sport? En terloops, swart verwys na swartes sowel as bruines. Almal wat nie wit is nie.
’n Onsinnige kwessie, want sedert 27 April 1994 is almal mos Suid-Afrikaners, dan nie? In elk geval, dis haar siening. Mense soos Phillip Abrahams en Derek Barnes sien dit anders, en sy kan dit verstaan. Die rassekwessie kom ’n ver pad; dis naïef om te dink dat dit sommerso sal verdwyn.
Hy haal diep asem, kry sy vraag in.
Of sy ’n goeie afrigter is? Sy dink so, maar voorste afrigters soos Phillip en John dink nie so nie. Sy wil hulle verkeerd bewys deur van Hans ’n kampioen te maak. Of die volgende nuwe speler wat oor haar pad kom. Tot dusver het sy haar toegespits op die swakker spelers wat deur afrigters soos John en Phillip geïgnoreer word. Maar ’n afrigter word gemeet aan die prestasies van die speler wat hy afrig, dit het sy eers onlangs besef.
Dan, terwyl hulle rustig saam met die verkeer in Voortrekkerweg vloei op pad na die rolbalbane in Mowbray, vra sy: “Het jy lank gewag?”
“Nie te lank nie.”
“Ek het gewonder of jy hier gaan wees.”
“Hoekom?”
“Ná Maandag.”
“O, dit?” Hy gee ’n kort laggie.
“ ’n Mens weet nooit . . .”
Hy is nie seker wat om daarop te sê nie, bly liewer stil.
“Die spelers is sweet. Jy kan met hulle toor, die meeste van hulle. Maar daar is ’n paar wat geneig is om dwars te trek. Ek steur my nie aan hulle nie. Sit my voet neer. Maar genoeg oor my, ek praat ook sonder ophou.”
“Dis okay, ek is nie een vir praat nie. My ma sê ek is van dink aanmekaargesit.”
“En waaraan dink jy nou?”
“Maandag,” jok hy.
“Toe ek jou oor die pad ontvoer het?”
Hy lag verleë.
“Was dom van my,” lag sy ook. “Maar jy’t my lekker afgejak, jy.”
Hy glimlag by die venster aan sy kant uit. Nie net vir die waarheid uit Erika se mond nie, maar ook vir haar wat so gemaklik met hom is. So asof sy nie wit is nie maar bruin soos hy.
Sy skakel die radio aan. KFM, ’n mooi ballade.
Hulle luister in stilte tot hulle by die rolbalklub aankom.
Met sy hand in hare, terwyl Erika hom van die parkeerterrein oor die plaveipaadjie na die klubhuis lei, kyk Hans rond.
Motors waarom hulle moet vleg. Verder weg bome rondom die baan, of donker goed wat soos bome lyk. Nog verder, hoër op, kompleet of hulle bo-op die boomtoppe rus, huise met blink vensters soos die son daarop glim. Alles vaag en dof, maar darem sigbaar danksy die helder sonlig.
Trappies.
Hy skop teen die grondtrap en lig sy voet.
Een. Twee. Drie.
Hulle is op die stoep. Dit besef hy nie tot Erika vir hom sê.
Dis ’n groot saal waarheen sy hom lei. Rye tafels waar klublede sit en gesels en koffie en beskuit geniet. Groot vensters wat op die hoofbaan uitkyk. Met die eerste oogopslag alles feitlik onsigbaar vir Hans. Sy oë rol wild om iets uit te maak. Hy kan hulle net sowel toeknyp, dink hy. Dan sal dit nagdonker wees, ja, maar dit en hierdie wasigheid voor sy oë is omtrent dieselfde.
Nagblindheid, waarmee hy al sy lewe lank te make het: om so uit die helder lig na binne of in skadu’s in te kyk. ’n Nagmerrie-ervaring.
Soos tonnelvisie: om net een ding op ’n slag te kan waarneem weens sy beperkte sentrale visie. Hou hy iemand in die oog wat in sy rigting by ’n paal verbyloop, loop hy in die paal vas, of omgekeerd.
Ten spyte van die wasigheid voor hom is hy egter van een ding seker: hier is baie mense. Blindes. Hulle gesels soos blindes – luidrugtig.
Erika stuur hom na ’n tafel, stel hom aan ’n paar mense voor, onder andere Melvin Petersen en Graham Stevens. Hans drink stil sy koffie, luister geamuseerd na almal se stories.
Melvin beweer dat daar teen hom gediskrimineer word omdat hy bruin is.
“Ek’s van die begin af hier. Part van die furniture, maar ek weet nie hoe dit voel om in ’n Springbokbaadjie te klim nie. Is dit fair, Hans? Is dit?”
Graham kan nie uitgepraat raak oor sy rolbalprestasies nie. Klubkampioen. SA kampioen. Wêreldkampioen.
“Jy het dit of jy het dit nie. Hulle noem dit die X-faktor. Jy word daarmee gebore. Maar ek’s bly jy kom ons join, Hans. Ek soek ’n challenge. Hier is nie ’n challenge vir my nie.”
Van die afkondigings maak Hans g’n kop of stert uit nie. Tog luister hy aandagtig. Hy hou van die formele aanslag. Waardeer die noem van sy naam aan die einde om hom te verwelkom.
“Good bowling,” sluit die voorsitter af, waarna almal na die rolbalbaan verskuif.
Met sy hand in hare stel Erika Hans aan die baan bekend.
’n Breedvoerige uitleg oor alles: die baan is in ses speelbane verdeel sodat ses wedstryde op dieselfde tyd kan plaasvind. Die middeltou oor die lengte van elke speelbaan as hulpmiddel vir die spelers om hulleself te oriënteer wanneer hulle gereed maak om ’n bal te rol. Dit help ook die afrigters om die kietie, die kleiner bal waarna jy rol, te sentreer, en om die gras, die rigting wat die bal moet rol, te bepaal.
Sy praat oor die ditch, ’n vlak slootjie aan die kant van die baan, en die bank, die grasperkwal rondom die baan, sowat ’n halwe meter hoër as die speeloppervlak. Dan verduidelik sy die spel.
“Jy bowl van die mat af. Reguit arm. Voete in die rigting van die gras. En follow through.” Sy demonstreer dit deur ’n bal te rol.
Die groot lyf buig sierlik, sien Hans. Sweef as ’t ware vorentoe, een voet van die mat af. Dan skiet die bowlhand uit en stuur die bal met ’n reguit arm weg soos dit vir hom lyk. Met sy oë wyd oop sien hy hoe die arm geleidelik terugswaai terwyl die geboë lyf effens orent kom en nog ’n raps vorentoe mik asof dit spoed optel om die bal te volg.
So grasieus soos sy begin het, kom Erika orent, haar oë op die bal tot dit naby die kietie tot stilstand kom. Dan kyk sy na Hans.
“Het jy mooi gekyk?”
“Ja.”
“Mooi. Dis hoe dit gedoen word.”
Voorts praat sy oor rondes en koppe.
Aan die einde van ’n ronde, wanneer elke speler sy kwota balle gerol het, word die kop, die balle rondom die kietie, bekyk om te bepaal aan wie die skoot of skote behoort. Dan word die volgende ronde van die oorkant af teruggespeel.
Hans probeer alles inneem. Alles waarneem. Bevoel alles. Die kietie. Die rolbal wat so swaar in sy hand lê. Sy hand is steeds in Erika s’n soos sy hom oor die baan rondlei. Net wanneer hy moet tas en iets vat, laat los sy. Dan het sy hom weer beet.
Hy begin al meer ongemaklik raak daaroor noudat hy weet hoe dinge werk. Boonop is dit helder lig met die son wat op hulle neerbak. En die onophoudelike gepraat oor dit wat so eenvoudig voorkom – om ’n bal te rol soos hy om hom sien – begin hom irriteer. Maar hy is steeds gefassineer deur haar en daarom verduur hy dit.
Hy kyk weer na die spel wat op die aangrensende baan plaasvind. Hy sien ’n bal rol, dan verdwyn dit uit sy gesigsveld. Dan is daar nog een, en nog een wat wegraak. En almal gesels en gaan tekere. Allerlei krete wat opklink, kompleet asof hulle dit geniet. En dit onder hierdie warm son.
Om met ’n bal voor jou voete of onder jou arm te hol, sal darem meer exciting wees. Dit sal nou iets wees om oor te gil en alles. Só sal hy nie tekere gaan nie, maar nou wil hy ’n slag aan die gang kom, al is hy nie werklik hier oor die game nie.
Hy kyk terug na Erika. Die vlegsel val hom op, al swaaiende soos sy met haar lyf en kop gesels en verduidelik.
Sy waai met haar hand voor haar gesig. Hy het agtergekom dat die son haar pla. En tog het sy nie einde nie. Gaan aan oor hierdie stupid game asof haar lewe daarvan afhang. Hoe lank loop hulle al rond? ’n Uur? Langer? Voel na ’n uur en ’n half.
Sy oog vang nog ’n bal. Swart bal oor die wit baan, al weet hy die baan is nie werklik wit nie. Groen, natuurlik. En waarskynlik is die balle ook nie swart nie. Dalk bruin of groen, of ’n ander donker kleur.
Vir hom is alles wit of swart.
Uiteindelik hou Erika op met die verduidelikings. “Tyd vir tee,” sê sy. “My keel is droog gepraat en die son keil my op.”
Binne die klubhuis is dit heerlik koel.
Erika kies ’n tafel naby die groot vensters. Weens die sonlig in sy oë help dit Hans egter glad nie om iets te sien nie. Hulle sit swygend oorkant mekaar terwyl hy angstig wag dat sy oë aan die binnelig gewoond raak.
Dit gebeur geleidelik. Soos dagbreek. Eers die ligdonkerte. Dan die ligskynsel. Dan lig.
Die vrou wat die tafels bedien sit tee en eetgoed voor hulle neer.
“Hoe drink jy jou tee?” vra Erika.
“Melk en twee suiker, asseblief.”
Erika skink uit die teepot, roer melk en suiker by, skuif ’n bordjie met ’n mosbolletjie op langs die koppie voor Hans.
“Geniet dit,” sê sy.
Hy knik sy kop, verlig dat hy sy sig terughet.
Hy drink ’n mondjie tee en kry die koekie beet. Dit maak sy hande taai, jig!
“Gebruik die lepel,” stel Erika voor.
Hy doen dit, ongemaklik bewus van haar oë op hom. Donker oë in die wit gesig.
Uit die kroeg aan die agterkant van die saal klink die geluid van glasskerwe op. Die kroegman wat ’n glas van die toonbank afgestamp het.
Buite klink die uitbundige krete steeds op. Hulle sal binnekort inkom vir tee, sê Erika, waarna hulle hulle wedstryde sal hervat.
Ná ’n rukkie, met die stilte tussen hulle wat voortduur, kyk Hans vlugtig op.
Erika is klaar, sien hy, besig om haar hande met ’n servet af te vee. Sy koekie is halfpad.
Hy probeer om vinniger te eet. Hy het die gewoonte om so te pik-pik. Dan staan Willem reg om klaar te maak wat hy in sy bord oorlos.
“Ná tee bowl jy jou eerste bowl,” sê Erika. “Hoe klink dit?”
Hy kyk op. “Goed,” wurg hy. Verstik byna. “Kan nie wag nie.”
Sy oë rus op haar mond. Effens oop, wit tande. Glimlag sy?
Ja, hy dink so.
Dis mooi, besluit hy. Te mooi vir woorde.
Hy voel hoe hy glimlag – ’n warm gloed om sy mond.
Hy wil die oomblik laat draal. Die prentjie voor hom vir so lank moontlik vashou. Maar dit sal voorbarig wees. Onhoflik. Ongeskik.
Hy slaan sy oë af en drink sy tee klaar, versigtig om nie te verstik nie.
Hans staan gereed om sy eerste bal te rol, sy oë op Erika gerig. Sy staan vier meter van hom af, haar voet die teiken waarheen hy moet rol. Die kietie op dertig meter gesentreer. Hy moet die bal so na moontlik aan die kietie probeer bowl.
Hy luister aandagtig na Erika se instruksies. Hoe hy moet staan. In die rigting van die gras. Hoe hy die bal moet vashou. Regop, met sy vingers stewig daarom gesluit. Absolute konsentrasie. Fokus net op die aflewering van die bal. En uiters belangrik: sy follow-through ná hy die bal met ’n reguit arm gebowl het.
Hy bowl met ’n kragtige aksie, ’n gewig van dertig meter, dink hy.
Hy ruk orent. Onthou dan van die follow-through en ruk sy lyf afwaarts. Tuimel amper op die mat neer. Dis ’n moeilike balanseeraksie om so krom-lyf-twee-voete staande te bly.
Hy kom geleidelik orent soos die balanseeraksie vereis. Ingenome met homself dat hy die bal weggekry het, al kan hy dit nie sien rol nie.
“Hoe was dit?” vra hy.
“Baie kort. Twintig meter.”
“Het hy net tien meter getrek?” vra hy ongelowig.
“Ja.”
“Ek het dan so hard gerol.”
“Dit het miskien so gevoel. Jy moet baie meer gewig gee as jy by dertig wil uitkom. Jou delivery en follow-through moet reg wees om dit reg te kry.”
Sy wys hom weer hoe dit gedoen moet word, waarna sy hom terug op die mat plaas.
Dié keer kry hy gewig, maar die bal trek windskeef, tot in die speelbaan langsaan.
Maria staan voor die deur toe Hans en Erika by die hek inkom. Rex soos ’n getroue waghond langs haar, terwyl die ander jaarthonde, Bruno en Rover, blaffend naderdraf.
Sy verwilder hulle. “Voertsek! Terug met julle!”
Die honde draf stert tussen die bene weg.
Dis dan ’n kind waarmee Hans hier aankom! dink Maria verontwaardig. Die vroumens kan nie ’n dag ouer as hy wees nie, miskien jonger. Hier staan sy heeltyd en wonder of sy Missis of Madam moet sê, maar as dit ’n skone kind is . . .
Miskien juffrou so-of-so, whatever haar naam is. Sy’s daa’m breed om die lyf, maar glad nie onaansienlik nie. Oulike gesiggie, en die mooiste hare.
Sy groet hartlik. “Bly te kenne, en kom in. Kom in, julle.”
En terwyl sy opsy staan sodat hulle kan verbykom: “Dis maar eenvoudig hier by ons. Hans het seker gesê?”
Die meisie lag vriendelik. “Nee, hy’t niks gesê nie. Ek moet als uit hom trek.”
“Dis hoe hy is. Van kleins af. Altyd met ’n mond vol tande.”
Binne word die nodige voorstellings gedoen. Dié Erika lyk sonder fiemies, dink Maria. Besluit om haar op haar naam aan te spreek soos sy haarself voorstel.
Hans wys sy stoel onder die venster aan Erika toe. Hyself sit voor die tafel. Só kry hy vir Erika sowel as sy ma wat by haar werktafel besig raak in die oog. En as sy ma op die bank kom sit, sal hy ook ’n goeie blik op haar hê.
Sy oë juis nou op haar, wat tot sy verleentheid staaltjies uit sy kinderjare aan Erika begin opdis. Goed wat mens nie oorvertel nie. Beslis nie aan ’n wit vrou wat vir die eerste keer huisbesoek doen nie. Hoe is sy ma aanmekaargesit?
“Nou’s hy groot en uitgegroei,” sê sy ma ongestoord, kyk by sy waarsku-oë verby. “Maar ek het nie las met hom nie. Willem bietjie. Dis mos hy en Willem. Hy is die oudste; Willem onder hom. Willem is ’n goeie kind, maar hy is ’n hand vol. Maar ek sit my voet neer. Nou nie meer so erg soos voorheen nie. Ek sit mos met die siekte wat my kragte opvreet. Maar as ek vir hom kyk, dan weet hy hy moet sy nonsens laat staan. Of ek skree: Willem! Dan lag die bliksemse kind en voor ek my kry, lag ek saam. Soos ek sê, ek het nie las nie. Ons is ’n happy family al is hulle pa nie hier nie. Familie is mos belangrik en as almal happy is, beteken dit daar’s niks om oor te worrie nie.”
Hans voel ongemaklik omdat sy ma so onophoudelik praat soos haar gewoonte is. En die stem so half skril, soos netnou ook toe sy die honde verjaag het. Maar aan die ander kant, hoe sal hy wat nie een vir praat is nie die geselskap aan die gang hou? En dankie tog sy lyk goed in haar Sondagklere en met die uitgaandoek op haar kop. Die wit sandale pleks van haar huissloffies pas mooi by die wit doek en streeprok. En sover hy kan sien, lyk die huis spic en span. En die primus gedra hom. Brand mooi sonder dat sy kop raas en hom laat rook.
Hy sit ’n bietjie terug in sy stoel. Net jammer sy practice effort was so vrot, anders was alles reg. Hoop nie Erika lap als uit nie, want dan trek sy ma weer los met ’n storie oor hy wat nie soos die ander kinders was nie.
Terwyl sy gesels, dek Maria die eettafel met klapperbeskuit, Simbaskyfies, grondbone, rooibostee en Oros.
“Eet lekker,” sê sy. “Ek het specially vir Willem winkel toe gestuur vir biscuits. Toe soek hy geld vir cigarettes en om games te speel. Die eerste ding wat uit Willem se mond kom, is geld. En hy werk nie, sit met sy gat by die huis en loaf. Maar dis oor die factories nie werk het nie. Werk is mos deesdae skaars. In my tyd, die tyd van die Nasionale Party, was daar altyd werk. Nou met die nuwe government is als opgeneuk, maar hulle sê daar’s werk vir almal of so iets. Ek verstaan nie als so mooi nie. Stel ook nie belang nie. My mind is op my familie. Hoe het dit toe op die veld gegaan? Het Hans daa’m reggekom? Hy’s mos nie een vir sport nie. Op die radio, ja. Of hy sit met sy kop in ’n boek en lees. Dan praat ek met hom, maar sy aandag is nie by my nie. At least is hier iemand om mee te praat. Willem is mos nie een vir die huis nie. Eet net en weg is hy na sy vrinne toe. Kom ounag terug en vat die huis op horings. Speel kaart en dis wilde musiek.”
Maria gaan sit op die bank, beker in die een hand, beskuit in die ander wat sy, tot Hans se ergernis, in die tee dompel en dan opslurp.
“Het Hans reggekom?” vra sy weer, kyk na Erika.
En dis waarheen Hans se oë ook draai. Is dit ’n glimlag wat hy op Erika se gesig sien?
“Reggekom?” Erika gee ’n laggie. “Maria, Hans het vreeslik gesukkel. Ek was amper in trane.”
“Dis waarvoor ek bang was,” sê Maria. “Was dit só erg?”
“Erg, Maria.”
Maria kyk verontwaardig na haar seun.
“Hans, jy kon mos gedink het. Dis die laaste. Jy weet jy’s nie soos die ander kinders nie.”
“Hy’t darem teen die einde reggekom,” keer Erika. “Oefening, dis al wat nodig is.”
“Bedoel jy hy moet weer saam veld toe?”
“Natuurlik. Elke Saterdag. En ek oordryf sommer, dit was glad nie so erg nie.”
Die deur klap oop en Willem kom in. Oë op Erika, merk Hans.
“Hallo,” groet Willem, verskuif sy blik na die eetgoed. “Just in time vir iets lekker.”
Hy mik vorentoe, tussen Maria en Hans se bene deur, maar sy ma trek hom aan sy hemp terug.
“Met jou vuil hande? Staan soontoe. Ek sal vir jou iets skink en biscuits uit die blik haal.”
Willem draai na Erika.
“Ma is maar so,” lag hy. “Skel oor als. Ons lag dit af. Ek hou van jou hairstyle. Suit jou lekker.”
“Eet en kry jou loop,” beveel Maria, hou Oros en beskuit na hom toe uit. “Jy haal mens se vel van jou gesig af. Het jy nie respek vir Hans se visitor nie?”
Maria blaas liggies soos een wat asem soek. Gaan sit weer op die bank.
“Sien wat ek bedoel?” sê sy vir Erika. “Ek try om hom maniere te leer, maar ’n seunskind is mos wild.”
“Wie’s wild?” Willem kyk kamma verontwaardig na sy ma. “Hoe moet ek voel as Ma sulke goed voor die visitor praat? Wat moet sy van my dink?”
Erika lag, geniet klaarblyklik die onderonsie, tot Hans se verligting.
Maar Maria het genoeg gehad. Sy spring van die bank af op, stoot Willem by die deur uit. “Toe, weg is jy!”
Willem lag net sy tartlaggie en klap die deur agter hom toe.
“Kinders,” blaas Maria. “Askies vir sy maniere, Erika. Maar Hans sê jy wil met my praat oor familie? Oor sy oë en so, of daar iets in die familie is?”
“Ja. Vir ons databasis. Enigeen behalwe Hans?”
“Van my kant af niks waarvan ek weet nie. Ek is mos alleen in die lewe. Sonder enige familie, behalwe my eie. Ek en die kinders. Die kinders se pa is ook sonder familie. So, daar is niks. Dis net Hans wat met sy oë sukkel. Maar dis nie iets om oor te worrie nie. Met sy oë soos dit is, is hy die een wat vir my sorg. Soos ek sê, dis nie serious nie.”
“Ek sien.”
Erika kyk van Maria na Hans, wat sy oë afslaan.