Читать книгу Die dekonstruksie van Retta Blom - Zelda Bezuidenhout - Страница 4
1
Оглавление“Jy sal nie glo hoe die ma’s by Luka se skool met mekaar wedywer nie. Oor flipping alles. Van dit wat hulle in die kinders se kosblikke sit tot hoeveel tafels hulle vir die Lentebal borg. Dis crazy.”
Berdine Serfontein praat hortend en uitasem terwyl sy en Retta vir die hoeveelste keer die tweekilometer-sirkelroete in die sekuriteitslandgoed draf.
“Jy hoef seker nie deel te neem aan die kompetisie nie?” waag Retta.
Haar jongste kind is al amper ’n jaar uit die skool. Dis waarskynlik die rede waarom sy nou die nieamptelike biegsuster vir ma’s van tieners in haar vriendekring geword het.
“Wel, mens kry baie gou die reputasie van iemand wat lyf wegsteek of net nie omgee nie, Retta. Dalk kan jy nie meer onthou hoe dit in die laer grade was nie.”
Eina. Dis ’n lae hou. Retta is minstens vyf jaar ouer as enigiemand anders in die groep, maar dis nooit lekker om daaraan herinner te word nie.
Berdine praat sonder ophou terwyl die twee vroue draf. Soos gewoonlik dek sy ’n groot verskeidenheid onderwerpe: die bure se tuine, die Duitse herdershond wat gedurig ontsnap, die onooglike kleur van die Kotzes se tuinmuur. Kotze-groen, soos die hele buurt dit noem wanneer hulle onder mekaar skinder.
Vandag sukkel Retta om saam te klets. Sy kan eenvoudig nie die prentjie van Tobias se piepklein tassie in die Mercedes se enorme kattebak uit haar kop kry nie. Hoekom pla dit haar so? Dis tog dieselfde tas wat hy elke Donderdag in sy kar laai? Met dié dat hy sy tyd tussen sy firma se Johannesburg-kantoor en die Kaapse tak naby Kuilsrivier verdeel, het hulle jare gelede by ’n praktiese roetine ingeskakel: Sondag tot Donderdagoggend is Tobias in Johannesburg, Donderdagmiddag tot Saterdagaand in die Kaap.
Dan gaan staan Retta skielik botstil.
“Berdine?”
Berdine is al ’n hele paar treë vooruit voordat sy agterkom haar drafmaat is nie meer langs haar nie.
“Het jy ’n kramp?” raai sy.
Dit voel inderdaad asof Retta ’n kramp het. ’n Kramp wat haar hart vasgryp en soos ’n nat handdoek uitdraai om die lewe uit haar te wring. Sy sukkel om asem te kry. Toe Berdine na haar stap en besorg voor haar gaan staan, vra Retta: “Dink jy Tobie sal my verneuk?”
“Dis sy tas,” verduidelik sy later dieselfde dag aan Leigh.
Haar vriendin trek ’n laaste paar hale op die skilderdoek waaraan sy werk, sit haar kwas en palet neer en draai dan na Retta.
“Wat van sy tas?” Sy vee haar hande aan haar oorjas af en kyk Retta ’n bietjie skepties aan. Toe haal sy ’n pakkie sigarette en ’n aansteker uit haar verfbesmeerde oorjas se sak, tik ’n sigaret uit en steek dit aan.
“Dis hóé hy sy tas in die kar gesit het, Leigh.”
Leigh teug diep aan haar sigaret en rek haar oë. Retta weet dat Leigh al gewoond is aan haar paranoia en dit aan haar “obsessiewe geaardheid en skreiende gebrek aan opwinding” toeskryf. Eintlik is sy en die vrygeestige Leigh baie onwaarskynlike vriende. Tog werk dit. Veral op dae soos vandag, wanneer die landgoedkliek eenvoudig nie die regte klankbord sou wees nie.
“You must be kidding. Jy dink jou man cheat op jou oor die manier waarop hy sy tas in die kar gesit het?” Leigh bars uit van die lag en dit lei tot ’n growwe, slymerige rokershoesie wat heeltemal te lank aanhou. “Fok, Retta. Nou het ek alles gehoor.”
Leigh maak met een hand die band los wat haar hare uit haar gesig gehou het, skud die ontploffing rooi krulle los en sê: “Ek dink jy’t ’n dop nodig.”
Die twee vroue stap deur die chaotiese ateljee na die klein kombuisie, waar Leigh onmiddellik rek om ’n bottel jenewer en twee glase van die rak af te haal.
Retta maak haar tuis by die smal kombuistoonbank. Hierdie hoek van Leigh se tuinwoonstel werk altyd vir haar soos ’n sielkundige se sofa. Nadat hulle jare gelede by ’n kunsuitstalling vir liefdadigheid ontmoet het, het Leigh ’n baie belangrike rol in Retta se lewe begin vervul. Die uitstalling was in die indrukwekkende voorportaal van die ikoniese Mutual Heights-gebou in die Kaapse middestad. Die hemelhoë plafon, groen marmer van die art deco-muurpanele en sierlike vlekvryestaal-detail was die volmaakte agtergrond vir Leigh se kleurvolle abstrakte werk. Maar Retta was daardie aand beslis uit haar gemaksone. Hoewel Tobias saam met haar daar was, het hy onmiddellik met een van sy welgestelde Kaapse verbintenisse begin gesels en haar alleen by die sjampanjetafel gelos. Dis nie iets wat hy normaalweg sou doen nie. Hulle was nog altyd ’n pakket, sy en Tobias. ’n Formidabele span wat by sosiale geleenthede nooit meer as ’n meter van mekaar beweeg nie. Die soort paartjie wat betekenisvolle kyke vir mekaar gee of glimlag vir grappies wat net hulle verstaan. Later het hy verduidelik dat die man met wie hy so intens in gesprek was, ’n potensiële kliënt vir ’n baie groot kontrak was. Die ding is, Retta het soos ’n dom muurblommetjie gevoel. Sy het amper niemand daar geken nie en het beslis nie genoeg van kuns af geweet om intelligent daaroor te gesels nie. Dis toe dat Leigh asof uit die niet tot haar redding gekom het.
“Weet jy, ek dink hierdie mense gee nie ’n hel om oor kuns nie en nog minder oor arm kindertjies, hulle is net hier om hulle labels af te show en shine te vang. Wat dink jy?”
Retta was so geskok dat sy aan haar sjampanje verstik het. Die borreltjies wat by die verkeerde keelgat af is, het ’n proesende lagbui ontketen. Leigh het haar spontaan op die rug begin klop en kliphard saam gelag. Die res van die aand het sy Retta beter laat voel oor haar karige kunskennis.
“Ek hoor netnou iemand sê die herhaling van hierdie rooi smeersels in my werk simboliseer my eie sterflikheid. Regtig? As ek reg onthou, het ek ’n helse voorraad Crimson Red op uitverkoping gekry voordat ek met die projek begin het!”
Dis hierdie fieterjasielose eerlikheid van Leigh waarop sy nou weer reken. Retta neem ’n sluk van haar drankie, sit haar glas effens te hard op die tafel neer en haal diep asem voordat sy praat.
“Oukei, Leigh. Verduidelik dan vir my waarom iemand wat alleen lughawe toe ry, sy tassie so netjies héél agter en héél links in die kar se kattebak sal sit. Jy moes dit gesien het. Hy het dit nie net ingegooi nie. Hy het dit hiperversigtig teen die agterste rand van die boot gestoot en toe saggies na heel links geskuif, asof hy plek hou vir ’n ander, veel groter tas.”
“Jy bedoel ’n vrou se tas,” sê Leigh aspris.
“Ek kan sien jy dink ek is paranoïes. Jy dink Retta, die arme ou huisvroutjie, se verbeelding hol met haar weg. Dat ek te veel Netflix kyk of iets.”
Sy kyk na die glas voor haar. Die vrolike oranje roerstokkie wat Leigh gebruik het om die drankie met mening te klits, woer nog in die rondte in die helder vloeistof. Vir ’n paar oomblikke hipnotiseer dit haar. Dan kyk sy op haar polshorlosie.
“Dis heeltemal te vroeg om te drink.”
Leigh sug oordrewe en steek nog ’n sigaret aan.
“My goeie bliksem, Retta. Wie het besluit wanneer dit ’n goeie tyd is om te drink? Die drinkpolisie? As mens nie mag drink wanneer jy dink jou man laai ’n skelmpie se bagasie in sy boot nie, wanneer mág jy drink?”
“Ek het nie gesê …” Retta knip haarself kort. “Man, los dit net. Jy’s reg. Ek is simpel. En ek is laat. Ek moet Charlie by die hondesalon gaan haal.”
Sy skud haar hare reg, gryp haar motorsleutels van die toonbank af en begin doelgerig aanstryk voordeur se kant toe. Dan draai sy om, neem haastig ’n sluk van haar G&T en gee vir Leigh ’n drukkie sommerso skuins uit die heup.
“Jammer ek het jou kreatiewe vloei …”
“Opgefok?” stel Leigh voor.
“Jip. Dit.”
“Sê dit, Retta Blom!” tart Leigh. “Wat het jy met my creative juices gedoen?”
“Ek het dit opgefok.”
“Daar’s hy. Onthou, iemand wat nie lekker kan vloek of eet nie, kan gewoonlik ook nie lekker …”
“Ja, ja! Ek’s freaking laat, Leigh,” roep Retta terwyl sy na haar motor trippel. Leigh kan tog so aanhou met ’n ding.
“Jy bedoel fokken laat, Retta Blom!” gil Leigh agterna.
Sy kan haarself skop. Hoe kon sy oor iets so simpel soos die posisie van ’n tas in ’n kattebak op hol gaan? Boonop het sy haar onsekerheid nie net aan een nie, maar aan twéé van haar vriendinne erken. Veral Berdine se reaksie toe hulle vanoggend gedraf het, het vir haar soos ’n belediging gevoel. Haar geproes het binne oomblikke oorgegaan in ’n hulpelose skaterlag. Asof sy nie dink die vervelige Tobias Blom sal ooit die opwinding van ’n affair najaag nie. Leigh se reaksie was nie veel anders nie. En hulle is reg, dink Retta. Haar man het sy foute soos enige ander mens, maar ontrouheid is nie een daarvan nie.
Sy is besig om die granaatbos in haar tuin te snoei toe haar foon piep. Tennisklub 17:00. Be there or be square. Dis Hermien de Wet. Sy het die manier om ’n paar pelle op die ingewing van die oomblik bymekaar te kry, gewoonlik om van die stilte van haar huis te ontsnap, ’n sappige brokkie nuus te deel of bloot om haarself te vermaak. Christa sal seker ook daar wees. Moontlik Berdine. Dalk selfs Mark, hul “vriendin-met-balle”, soos hy graag na homself verwys. Koba sal nie daar wees nie. As Retta reg onthou, is sy by die Kaapse tak van haar besigheid, A-list Events. Sy kyk na die tyd op haar slimfoon. Sy het nog ’n uur. Waarom nie? Dis nie asof sy aandete hoef te kook nie.
Hermien en Mark sit al om een van die ronde tafeltjies op die klubhuis se stoep, elkeen met ’n drankie voor hulle, toe Retta daar aankom.
“Life is betta with Lauretta!” gil Mark sy gebruiklike groet toe hy haar sien. “Long time no see, girl. Jy lyk amazeballs.”
“Jou balls lyk ook amazing,” sê Retta droogweg.
Haar onverwagte pittigheid laat hulle lê soos hulle lag.
“Om die woord ‘balls’ uit jou mond te hoor, Retta, is soos om ’n muis te hoor brul of ’n non te hoor poep. Dis net nie reg nie,” sê Hermien terwyl sy lagtrane afvee.
“Hei, ek is nie ’n muis nie.” Sy raak soms ’n bietjie geïrriteerd met haar vriende se alewige gespottery. Net omdat haar lewe uitgesorteer is en sy nie elke week ’n vars, selfgemaakte krisis beleef nie, hang hulle graag ’n vaal etiket om haar.
“Toemaar, ou Retta, jy’s my favourite koek. En almal weet ek hou nie eens van koek nie.” Mark staan op en slaan sy lang, maer arms om haar in ’n speelse druk.
“Chips, hier kom pastoor Biddulph,” fluister Hermien aspris hard genoeg vir Christa Biddulph om te hoor.
“Ek sal julle klomp Filistyne nog uitsort, moenie worry nie,” kondig Christa aan en gooi haar handsak op die klein tafeltjie neer. Sy val dramaties op een van die stoele neer en strek haar kort bene voor haar uit.
“Wat ’n dag! Soos Oprah altyd sê: ‘No more lessons today, God.’ ” Christa is ’n groot aanhanger van Amerikaanse geselsprogramme, en praat altyd asof sy en Oprah Winfrey hand op die blaas is.
“Is jy beproef vandag, girlfriend?” Mark wys vir die kelner dat hy Christa se gewone bestelling, wit druiwesap in ’n wynglas, kan bring.
“Kyk, ek glo dat God nie goed voor my deur sal lê wat ek en Hy nie saam kan handle nie. Maar op dae soos vandag kyk ek boontoe en vra: ‘Rêrig?’ Kan Hy nie vir ’n slag iemand anders se file trek nie?”
Retta kyk besorg na haar petite vriendin. Die koddige bont rompie wat Christa vandag aanhet, laat haar nog korter lyk as wat sy is.
“Wil jy daaroor praat?” vra sy.
“Nee, ’seblief nie. Ek het ’n break nodig.” Christa neem die glas druiwesap by die kelner en vat dadelik ’n groot sluk.
“As dit help, ek glo dit ook. ’n Mens kry nie méér as wat jy kan dra nie.” Retta sit haar hand op haar vriendin se arm en gee haar ’n ondersteunende druk.
Mark rol sy oë teatraal. “Vandat jy in ’n religious drol getrap het, is jy net nie meer soveel fun nie, Chris.”
“Los haar uit. Jy maak haar dag nog slegter,” raas Retta en klap hom speels teen sy kop.
“Asseblief!” gil Hermien. “Los nou die ongevraagde berading. Ek het ’n belangrike aankondiging om te maak.” Toe almal uiteindelik bedaar, tik sy met haar rooi kunsnaels op die tafelblad. Selfs nadat almal tjoepstil is, hou sy nog ’n rukkie daarmee aan, asof sy spanning wil opbou.
Die vriende kyk na mekaar en dan na Hermien. Retta kyk op haar horlosie. Dit lyk nie asof Berdine gaan kom nie. Dankie tog. Sy wil haar eers vra om liefs niks te sê oor hul gesprek van vanoggend nie.
“Jy’s swanger!” raai Mark kamma met oordrewe skok.
“Very funny.” Hermien gee hom ’n koelbloedige kyk. En dan, met die fanfare van iemand wat ’n ryprooi kersie stingel-in-die-lug bo-op ’n koek plant, kondig sy aan: “Ek het ’n man ontmoet.”
Die geskokte stilte wat hierop volg, word net betyds verbreek voordat dit ongemaklik raak.
“Next best thing!” Christa jil en klap haar hande uitbundig soos ’n kleuter.
“Pray tell! Ons soek al die juicy bits. Wat is sy naam?”
“Hoe oud is hy?”
“Who cares! Het hy geld?”
“Waar’t julle ontmoet?”
Hermien slaan gemaak kwaad met albei hande op die tafel om almal weer tot bedaring te bring. “My goeie bliksem! Julle is erger as die paparazzi!”
“Wel, ons wil wéét of hierdie Papa darem kan razzi!” Mark is vandag weer op sy stukke.
Hermien neem ’n lang teug van haar wyn.
“Oukei. Moet my nie onderbreek nie. Daar sal ’n vraag-en-antwoordsessie aan die einde van die bespreking wees,” sê sy streng. “Sy naam is Stoffel en ek het hom op Hartklop.com ontmoet.”
“Die internet?” Retta fluister dit met afgryse, soos party mense die woorde “kanker” of “vigs” sou sê.
“Welkom in die een-en-twintigste eeu, Retta. Die internet is die nuwe singles bar.” Mark se lang donker kuif wip toe hy weer sy kop na Hermien draai. “Het jy ’n foto?”
Sy soek entoesiasties op haar foon na ’n foto van haar kuberkêrel. “Hy woon in die Kaap. Hy kom binnekort kuier.”
“Great. Dan kan ons hom ons stamp of approval gee.”
“Jy speel seker. Ek laat julle klomp wildehonde nie so gou al los op hom nie. Ek moet hom darem eers inbreek.” Hermien het ’n foto van haar nuwe liefde opgespoor en stuur nou haar foon aan sodat almal mooi kan sien. Die man het ’n vol, vriendelike gesig en dra ’n John Lennon-ronderaambrilletjie.
“Ons gesels al ’n rukkie lank. Hy dink ek’s awesome.”
“Well, of course. Want jy is!” Christa sit haar leesbril op om die foto beter te kan sien. “Hy lyk nice, Miens. Ek hou van sy look. Jy kan altyd vir hom ’n nuwe brilraam koop.”
Retta lag eerste, dan begin Mark en Christa ook giggel, totdat die drie van hulle hulpeloos skud.
“Sien? Hier begin dit al! Die ongevraagde kritiek!” Hermien lyk kamma ontsteld en trek ’n lang lip. Dan kyk sy self na die foto van Stoffel. “Dit ís eintlik ’n ou kak brilletjie. Maar dit sort ons tjoef-tjaf by Spec-Savers uit. Die man is vreeslik slim en oulik. En glad nie skaam nie. Ons gesels te lekker oor die lyflike. Hy hou van ’n vrou met ’n voller figuur. Ietsie om aan te vat.” Sy streel oor haar rojale lyf in die geblomde kaftan en glimlag ingenome.
“Mmmm, en hy kan natuurlik nie wag om te kom kuier nie, sodat hy aan jóú ietsie kan vat.” Mark knik stout vir Hermien.
“Ag, flippit, hou op om so basies te wees, Mark. Hierdie is romanse! Dis so opwindend. Ek’s so bly vir jou, Miens.” Retta lig haar glasie en stel spontaan ’n heildronk in. “Op die liefde!”
“Op die lewe!” sê Christa.
Almal lig hul glasies en klink op Hermien.
“En daai heel eerste, hemelse spyker!” voeg Mark by.
Vrydagaande was altyd haar gunstelingaand van die week toe die kinders nog in die huis was. Met Tobias uitstedig op Vrydae, het sy, Ben en Dawid maklike kos soos vetkoek met stroop en kaas gemaak of sommer ’n wegneemete gekry en voor die TV uitgekamp tot slapenstyd. Dit was vir haar die lekkerste ding om vir ’n paar uur saam met haar twee seuns op die bank te parkeer – sorgeloos in die wete dat niemand die volgende oggend douvoordag hoef op te wees en reg te staan vir iets of iemand nie. Dit was die één aand in die week wat sy toegelaat het dat skottelgoed ophoop in die wasbak, dat mindless flieks gekyk mag word en dat haar twee langbeenkinders hulself oor die meubels kon drapeer nes hulle wil.
Met Dawid by die hotelskool en Ben op sy sabbatsjaar in Londen, is Vrydagaande nou loshande die laagtepunt van haar week.
Haar huis lyk vanaand vir haar besonder leweloos. Die netheid waarna sy so obsessief strewe, is ’n bietjie pateties, dink sy. Soos ’n blanko skilderdoek waarop iets veronderstel is om te gebeur, maar nié gebeur nie. Die witgeverfde houtvloer, die roomkleurige meubels, die glaspot met drie perfekte bleek proteas … selfs die onmoontlike skoon Charlie met sy botterkleurige pels wat so mooi inpas. Alles lyk soos agtergrond. Dis nie ’n lewe nie, dink sy. Dis muurpapier.
Sy kies ’n Woolies-kitsmaaltyd uit haar vrieskas en maak dit in die mikrogolf warm. Dan skink sy vir haar ’n glas wyn, deel die kos presies in twee en skep een helfte vir Charlie in sy Alessi-bak – een van haar vriendin Koba se statement gifts. Sy gaan sit by die kombuistafel en eet haar herderspastei. “Cheers,” sê sy vir Charlie en lig haar glas. Die labrador is al lankal klaar met sy deel van die aandmaal en kyk haar hoopvol aan.
Hoekom voel dit vanaand vir haar asof sy die enigste persoon ter wêreld is wat nie ’n doel met haar lewe het nie? ’n Spoghuis sonder ’n rafel uit plek is nie ’n doel nie.
Toe sy klaar geëet het, staan sy op, maak die glasdeur van die kombuiskas oop en draai een van die wit porseleinbekers op die rak se oor ’n halfsentimeter na regs, sodat dit perfek in gelid is met die res van die ry identiese bekers. Dan gaan daar skielik ’n liggie in haar kop aan. G’n wonder Tobias het sy tassie vanoggend so versigtig in die kar gelaai nie. Die arme man. Dis seker omdat sy langs hom gestaan het. Hy woon immers al amper ses-en-twintig jaar onder haar meedoënlose netheidsregime. Hy moes noodwendig aanpas. Adapt or die. Sy onthou dat sy iewers in ’n artikel oor evolusie gelees het dat dit nie die sterkste spesie is wat oorleef nie, maar die spesie wat die maklikste by veranderde omstandighede kan aanpas. Dis presies wat gebeur het.
Sy vang haarself dat sy idioties glimlag, stoksielalleen in haar superskoon voorstedelike kombuis met net ’n verveelde labrador as geselskap. Sy moet meer uitkom, iets anders doen. Iets wat belangrik is. Die netjiese, stil huis sonder kinders smokkel met haar kop.
Sy tel Charlie se bak op en stap daarmee na die opwaskamer. Dan verander sy van plan en sit die leë bak weer op die vloer neer. Sy sal dit môre was.
Hoe vreemd is dit dat op die dag wat jou lewe dramaties en onomkeerbaar verander, jy heeltemal normaal wakker word, die slaap uit jou oë vee, piepie en terloops na jou eie weerkaatsing in die badkamerspieël kyk voor jy kombuis toe loop om koffie te maak. Presies soos amper elke dag wat dit voorafgegaan het. Min wetend dat jy nooit, ooit weer die persoon sal wees wat daai spesifieke oggend vir jouself teruggekyk het in die spieël nie. Daar behoort ’n tipe waarskuwing te wees, soos ’n spesiale alarm wat wild skril of ’n skerp swaelreuk wat in die lug hang wanneer jy uit die newels van jou slaap ontwaak. Iets wat jou sintuie, jou siel en jou niksvermoedende self waarsku oor die naderende onheil. Dít dink Retta Blom Saterdagmiddag ná haar vriendin Koba se oproep.
Sy het pas teruggekom van die winkels af, waar sy spesiale voorraad gaan koop het vir haar en Tobias se weeklikse weersiens-aandete, toe haar selfoon lui. Met al die pakkies op die marmerblad van die kombuis se eilandtoonbank, was dit eers ’n gesoek om die luiende foon op te spoor. Sy het dit net gemaak voor die twaalfde lui, wanneer die foon outomaties sou oorgaan na die stemboodskapfunksie.
“Koba! Sorry, man, ek kon glad nie my foon kry nie.”
“Retta, kan jy praat?”
Koba Retief het waarskynlik al moed opgegee, want dit het geklink asof sy onkant gevang is. Almal weet dat geduld nie een van haar sterk punte is nie. Dis moontlik een van die redes waarom haar geleentheidskoördinasie-maatskappy so ’n groot sukses is – as Koba iets gedoen wil hê, moet dit onmiddellik gedoen word, geen verskonings nie. Dis ook waarom sy ’n kliëntebasis het wat soos die wie’s wie van Suid-Afrika se mense-wat-tel klink. Van wynboere tot eiendomsmagnate tot politici. Swart, bruin en wit. Ou geld en nouveau riche.
“Jip. Is iets fout? Is jy orraait?” Retta het haar foon teen haar oor vasgeknyp sodat sy die artisjokke op die toonbank kon uitpak. Sy wou dit voorberei soos Tobias daarvan hou – net die hart van die blomplant, deurdrenk met suurlemoenbottersous.
“Nee, man. Ek is op die lughawe, op pad terug Joburg toe. Wou sommer bietjie klets.”
Iets in Koba se stem het Retta alles net so laat los. Haar volle aandag was nou by die oproep.
“Hoe gaan dinge in die Kaap? Als reg by A-list Events?”
“Als goed, ja. Was Tobias ook in die Kaap hierdie week?”
“Jip, jy weet mos. Elke week tot Saterdagmiddag. Hy sal seker binnekort op die vliegtuig klim. Hy stuur gewoonlik ’n check-in-boodskap op Facebook. Maar dit sal ’n paar uur wees voordat hy by die huis is. Jy klink vreemd, Koobs. Wat’s fout?”
“Niks fout nie, dolla. Ek het gedink ek het hom gesien, maar was nie seker nie.”
Retta kan die lieg hóór. En dit laat iets vreemds met haar gebeur. ’n Reaksie wat sy aan haar lyf kan voel. Kleiner as skok, maar groter as blote verbasing. Koba kan amper alles baie goed doen. Leuens vertel is skynbaar nie een van daai dinge nie.
“En dis waarom jy my bel? Om seker te maak jy’t gesien wie jy dink jy’t gesien?” As mens soveel aandag aan detail gee soos sy wat Retta is, is jy ook ’n kundige op die gebied van klein tekens wat groot stories vertel. “Is daar iets wat jy my nie vertel nie, Koba?”
Maar daar was net stilte, met die vae geluid van ’n eentonige lughawe-aankondiging in die agtergrond.
“Flippit, Koba, spoeg dit uit. Wat gaan aan? Wat het jy gesien?”
“Niks weirds nie, man. Hy is deur vriende by die lughawe afgelaai, en dis waarom ek nie seker was dit is hy nie. Jy ruk nou weer die hol uit die hoender. Ek wou maar net bietjie gesels terwyl ek vir my vlug wag. Jy weet mos jy’s my go-to girl wanneer ek hierdie dooie tyd op lughawens en in kliënte se voorportale het. Ek sien anyway nie vir Tobias hier in die VIP lounge nie. Hy sit seker saam met die plebs in die vertreksaal.”
“Vriende?” Die hartlike woord het koue doringdraad omgehad toe Retta dit sê.
Haar vriendin se poging om die gesprek in ’n ligter rigting te stuur, het haar nie vir een oomblik ontspoor nie.
Koba het oordrewe gesug aan die ander kant van die selfoon.
“’n Vrou en kind. Dit het gelyk asof hy hulle goed ken. Hy het die kind op die voorkop gesoen. Anyway, girl, ek moet gaan. Hulle gaan ons binnekort roep en ek is twee roltrappe van my instaphek af.”
Retta was meteens yskoud. Soos blits het sy deur die lêers in haar kop geblaai vir moontlike verduidelikings. Tobias se personeel in die Kaap. Vriende. Familie. Hy sou in die firma se woonstel bly, waar hy altyd tuisgaan wanneer hy in die Kaap is. Hy gebruik tog altyd Uber-motors vir sy vervoer in die Kaap? Miskien het hy hierdie keer daarteen besluit? Hy deel immers nie elke klein detail van sy werk met haar nie. Hy is nogal streng daaroor. Werk is werk, gesin is gesin. Dalk het hy ’n rygeleentheid gedeel met iemand wat ook lughawe toe moes gaan? Dalk het die vrou eers haar man by die internasionale vertreksaal afgelaai, en toe vir Tobias? Maar hoekom sou hy die kind op die voorkop soen?
Voordat Koba kon aflui, het Retta vinnig gesê: “Dis seker sy Kaapse sekretaresse. Sy’t ’n kind.”
Sy weet nie waar die spontane leuen vandaan gekom het nie. Sy weet net dat sy woedend was vir Koba. Hoe durf sy haar so bemoei met goed wat niks met haar uit te waai het nie?
Tobias het al vir jare nie meer ’n sekretaresse in die Kaap nie. Hulle ken niemand in die Kaap met ’n jong kind nie. Om die waarheid te sê, hulle ken glad nie meer mense met jong kinders nie. Dis wat gebeur as mens op hulle ouderdom nog nie kleinkinders het nie.
“Well, that explains it!” het Koba ’n bietjie té lighartig gesê. “Anyway, daar roep hulle ons nou om aan boord te gaan. Jammer ek het jou op hol gejaag. Ek dink ek is net moeg na vanoggend se vergadering met die Queen.”
“Die Queen?”
“Dis ’n lang storie. Ek vertel jou Maandag. Gotta go. Geniet date night met jou man.”
Toe Koba aflui, het ’n naarheid in Retta opgestoot. So erg dat sy nie tyd gehad het om badkamer toe te hardloop nie. Sy het dit net-net tot by die asdrom gemaak. Lighoofdig oor die blink silinder van die ontwerpersblik gehang lank nadat sy opgehou braak het. Sweet het op haar voorhoof uitgeslaan. Toe sy op haar horlosie kyk, het sy gesien dat dit tien oor vier op 11 Augustus 2018 was. Die oomblik toe alles verander het.
Sy het nog sowat twee uur voordat hy terugkom. Sy weet nie regtig waar om te begin nie. Kruideniersware wegpak of kosmaak is nie meer op haar lysie nie.
Vroeg in hul huwelik het sy en Tobias besluit dat hulle mekaar eenhonderd persent sal vertrou. Hulle sal nié die paartjie wees wat skelm na mekaar se dagboeke loer of in snippermandjies rondkrap vir koopstrokies nie. Hulle verdien tog elkeen hul eie privaatheid en dit sluit leefruimte in wat die ander een nie mag betree nie.
Toe hulle jonk was en die seuns nog klein, was daar nie soveel geld nie. Die huis was heelwat kleiner en die privaat ruimtes ook. Tobias het sy garage gehad en Retta ’n klein buitekamer, waar sy kon naaldwerk doen en musiek luister. Soms het sy haar daar gaan toesluit as hulle baklei het. In die beginjare het hulle nogal dikwels baklei. Toe die verhouding nog eg was, dink sy. Maar wag, oorreageer sy nie nou nie? Die mansmense in haar huis beskuldig haar nogal dikwels daarvan. Daar is tog seker ’n doodnormale verduideliking vir wat Koba by die lughawe gesien het? Moet sy nie eers uitvind voordat sy op loop gaan met ’n idee nie?
Deesdae is Tobias se studeerkamer sy heiligdom. Sy weet dat sy nie daar mag skoonmaak sonder om hom minstens ’n paar dae voor die tyd te waarsku nie. Hy pak dan sy vlieghengelgoed en belangrike dokumente weg en gee vir haar die groen lig om met haar arsenaal skoonmaakgoed, lappe en stoffers daar in te vlieg. Dit gebeur miskien drie keer per jaar. Sy het haar eie werkskamer aan die sonnige kant van die huis. “Sewe skakerings van wit,” soos Dawid dit beskryf. En selfs netjieser as die res van die huis, as dit enigsins moontlik is.
Die studeerkamer voel vir haar soos die logiese plek om te begin. Sy weet immers wat in elke hoekie en kas van die res van die huis is. Indien Tobias iets het wat hy vir haar wegsteek, sal sy die leidrade in sy privaat ruimte vind. Haar verstommende oplettendheid is ’n byproduk van haar fanatiese netheid, en hy is deeglik bewus daarvan.
Verstommende oplettendheid. Dis iets wat Tobias en die seuns dikwels van haar sê. Dat sy ’n forensiese speurder soos ’n amateur laat lyk. Hierdie soort aanmerkings is veral in die seuns se tienerjare gemaak nadat sy ontdekkings in die twee jong mans se kamers gemaak het. ’n Paar lang, blonde hare op Dawid se kopkussing. ’n Halfgerookte daggazol binne-in ’n vulpen. En eenkeer ’n kondoom, nog in die pakkie verseël, tussen die blaaie van Popular Mechanics. Ben was maar dertien. Nou laat die frase “verstommende oplettendheid” haar minagtend vir haarself snork. As haar man haar verneuk, sê dit baie oor haar sogenaamde skerp sesde sintuig. Die enigste verstommende aspek van haar oplettendheid, is dat dit haar moontlik liederlik in die steek gelaat het.
Sy draai die knop van Tobias se studeerkamerdeur. Dis koud in die vertrek en ’n bietjie donker. Sy skakel die lig aan. Daar staan bokse en lêers op die mat langs die lessenaar. Iets wat sy glad nie in die res van haar huis sou duld nie. Sy dink weer aan die manier waarop hy sy naweektas so versigtig teen die agterwand van die kattebak geskuif het, en net daarna tot teen die linkerwand. Hier in sy studeerkamer is hy duidelik homself. Sy vlieghengelboksie met kunsvlieë staan met die deksel oop op sy lessenaar en ’n paar kleurvolle vere en wolletjies lê die hele wêreld vol. Daar’s twee leë bierbottels in die snippermandjie. Olyfpitte. Fotopapierknipsels. Sy haal dit uit om dit van nader te bekyk. Dit lyk asof hy ’n foto kleiner geknip het om in ’n spesifieke raam te pas. Ongelukkig is daar geen oorblyfsels van die foto self nie, net die wit fotopapier wat ’n raam om die foto gevorm het. Nie een van hulle het meer fotoalbums nie. Dis tog iets wat in die laat negentigs al uitgesterf het. Wat sou hy geraam het? Die foto was nie baie groot nie. Haar oë draai outomaties na die twee geraamde foto’s op sy lessenaar. Een van haar as jong vrou, haar donkerblonde hare wild geperm. Die ander een van Dawid en Ben langs ’n dam naby Dullstroom. Die twee boeties glimlag breed in ’n ongekende oomblik van kameraadskap, elk met ’n blink, pangrootte forel as trofee. Hy het nie die foto vir enige van hierdie rame uitgeknip nie – dié staan al lank hier. Sy tel die wit fotopapier-repies op en sit dit versigtig in haar jeans se agtersak.
Retta begin laaie ooptrek. Die boonste een is gesluit. Sy sal dit vir later los. ’n Sleutelmaker kry om dit te kom oopmaak as dit moet. Sy kyk op haar horlosie. Sy het nie genoeg tyd om alles te ondersoek soos sy graag wil nie. Dis nie asof sy wéét waarna sy soek nie. Seker maar iets wat die koue, onseker gevoel op haar maag sal wegvat en dit met ’n ander emosie sal vervang. Verligting. Dalk woede. Enigiets is beter as dit wat sy nou voel.
Daar is niks ongewoons in Tobias se lessenaarlaaie nie. ’n Paar onoopgemaakte koeverte wat lyk soos bankstate. Sy kan nie glo hy kry nog sy bankstate per pos nie. Sy het lankal digitaal gegaan met e-state. Enigiets wat minder gemors by haar huis inbring, is ’n bargain.
In die onderste laai maak sy ’n eienaardige ontdekking: die boek The Women’s Room deur Marilyn French. Beslis nie iets wat Tobias sal lees nie. Sy het dit as ’n jong vrou in die tagtigerjare gelees en gedink dis dapper, soos enigiets feministies destyds was, veral in Suid-Afrika. Die eksemplaar is oud en vuilgevat, maar dis nie hare nie. Retta hou nie boeke nadat sy dit gelees het nie. En soos met alle inligting in haar lewe, verkies sy deesdae die papierlose weergawe. Sy skud die boek om te kyk of daar iets uitval. Daar’s niks nie.
Die res van die studeerkamer lewer geen verrassings op nie. Sy soek sistematies deur die boekrakke om te kyk of daar dalk iets tussen of agter boeke weggesteek is. Waarna sy nou eintlik soek, is sy nie seker nie. Bewyse. ’n Tweede selfoon, dalk? Toe sy niks vind nie, besef sy dat indien daar ’n tweede foon is, dit waarskynlik saam met Tobias Kaap toe is.
Hy gaan binnekort terug wees. Sy wil stort en die kombuis regruk voor hy daar is. Sy kyk weer na die werksvlak van sy lessenaar. Dalk is daar leidrade wat sy gemis het. Vlieghengelgoed. Skryfgoed. ’n Leë bierglas. Sy moet haarself dwing om dit nie op te tel en kombuis toe te vat nie. Sy ruik daaraan. Dit ruik soos ou plaasbrood. Dis maklik om dit presies op dieselfde plek neer te sit, want daar’s ’n blink ringvlek op die hout waar dit gestaan het. Alles in haar wil ’n stoflap en meubelpolitoer gaan haal om die ringetjie uit te vryf voordat die vlek permanent is. Miskien is dit reeds te laat. Maar sy doen dit nie. Sy skakel die lig af, stap uit die vertrek en maak die deur agter haar toe.
Sy is in die slaapkamer, besig om ’n hangertjie agter haar nek vas te maak, toe hy instap. Sy het nie sy kar gehoor nie en ook nie dat hy die huis binnegekom het nie. Sy was dalk nog onder die stort. Dit beteken dat hy redelik lank geneem het om boontoe te kom. Sy wonder waarmee hy besig was.
“Daar’s my girl,” sê Tobias met ’n waarderende glimlag. Hy los sy tas op die vloer en stap na haar om haar met die vasmaakmeganisme van die hangertjie te help. Dis ’n silwer ewigheidsteken met ’n pienk diamant aan ’n ragfyn kettinkie – Tobias se geskenk aan haar twee Kersfese gelede. Nadat hy die hangertjie vasgemaak het, druk hy sy neus in haar nek en snuif diep.
“Jy ruik hemels.”
“Ek het pas gestort.”
Retta kyk na haar en haar man se weerkaatsing in die spieël. Sy het besluit hulle sal uitgaan vanaand, en het die sexyste rok in haar kas aangetrek. Swart, noupassend en so gewaagd dat sy nog nooit die moed gehad het om dit te dra nie. Die lae hals stel haar 36C-bates baie mooi ten toon – Tobias se geskenk vier Kersfese gelede. Sy het nie kos gemaak nie, maar sy weet nie of dit die hoofrede is waarom sy juis vanaand wil uitgaan nie.
“Hoe was jou trip?”
“Same old, same old.” Tobias wikkel sy das los.
“Volgende keer kom ek sommer saam. Dan doen ons saans iets lekkers.” Retta probeer agterkom of haar woorde enige reaksie uitlok. Sy sien niks.
Sy trek ’n borsel deur haar hare. Hy kom staan weer agter haar, druk haar teen hom aan. Sy voel hoe sy penis hard word teen die plekkie net bo haar boudspleet, waar daar twee vlak kuiltjies is.
“Wat van ons doen sommer vanaand al iets lekkers?”
Hy trek haar ritssluiter stadig oop. Die bostuk van haar rok val vorentoe en een volmaak-herskape bors ontsnap, dan die ander een. Met die laag uitgesnyde rugkant van die swart rokkie is daar geen manier waarop mens ’n bra daaronder kan dra nie.
Retta hou al ’n paar jaar nie meer van seks nie. Soms wonder sy of sy ooit daarvan gehou het. Miskien heel in die begin, voor die kinders. Sy onthou vaagweg uitgerekte buitelug-liefdemaaksessies met die son op haar boude en Rodriguez op die CD-speler. Tobias wat witwyn van haar lyf aflek. Al wat sy sedert daai eerste paar sorgelose jare kan onthou, is ’n tipe pligsbesef dat sy darem twee maal per week by haar man moet slaap. Dis wat Cosmopolitan se meningsopname as die gemiddeld vir getroude paartjies gerapporteer het. In hul vroeë veertigs het dit verminder na een keer per week en daarna besonder ongereeld gebeur. So ongereeld dat sy angstig daaroor geraak het wanneer weke verbygaan sonder enige intimiteit. Sy was kurkdroog en seer wanneer dit uiteindelik gebeur, totdat Leigh haar vertel het van die opwindende lubrikasiemiddels in allerhande kleure en geure wat mens kan gebruik.
Dis waarom Retta nou so verbaas is oor haar liggaam se reaksie op Tobias se ongeskeduleerde toenadering. Toe sy regterhand om haar een bors vou en haar tepel speels kielie, word al twee haar tepels kliphard en dit stuur aangename skokgolfies deur haar onderlyf.
Die orgasmefabriek werk nog, besef sy verbaas. Sy kan glad nie onthou wanneer laas Tobias haar tot orgasme kon stimuleer nie.
Jou bliksem, dink sy. Jou oë is toe, want jy maak asof ek sy is. Sy vind die gedagte onverwags eroties.
Sy draai om sodat sy na Tobias kan kyk. Sy ereksie beur nou so hard teen sy gulp dat hy nie vir haar kan wag nie, maar self die rits ongeduldig ooptrek. Sy trek die rok opwaarts oor haar heupe en borste en toe dit by haar polse kom, staan sy en Tobias vir ’n oomblik na mekaar en kyk. Retta met haar hande omhoog in die materiaalboeie van die swart rokkie, met net ’n bitter klein swart broekie aan. Tobias se oë is nie meer toe nie. Sy mond ook nie. Sy kan nie glo hoe magtig dit haar laat voel om hom so te sien nie. Die belaglike ereksie wat sy boxers laat lyk asof daar smokkelgoed in is. Sy glasige uitdrukking en idiotiese oop mond. Met haar hande nog vasgedraai in die swart materiaal, beur sy vorentoe en byt hom hard op sy bolip. Tobias skrik en lek met sy tong oor die bytplek. Hy proe seker die ystersmaak van bloed, want hy raak aan sy mond en kyk na sy vingers. Vir ’n oomblik kyk hulle na mekaar asof vir die eerste keer. Dan stamp Tobias vir Retta sodat sy op die bed val, haar hande steeds bo haar kop, verstrengel in haar rok.
Toe hy die flentertjie lap van haar broekie eenkant toe skuif en haar penetreer, is hul lywe honger vir mekaar en die seks hou nie lank nie. Dit eindig met ’n oerkreun wat sy oorsprong iewers in Retta se onderlyf het en boontoe beur soos lawa uit ’n vulkaan. Die ongewone byklanke uit die room-en-wit hoofslaapkamer het vir Charlie wakker gemaak en hy sit nou bekommerd en tjank aan die voetenent van die bed.
“Flippit, engel, watse boek het jy gelees?”
Tobias lê natgesweet teen die wit kussings en Retta weet hy kyk haar kaal lyf agterna terwyl sy badkamer toe stap.
Cheating Husbands and the Women Who Love Them, dink Retta wrang toe sy op die toilet gaan sit. Haar hele liggaam tintel nog van die aardskuddende klimaks. Die blote gedagte dat Tobias moontlik seks met iemand anders ook het, het haar in ’n dier verander vanaand. Sy is nie seker wat om met hierdie nuwe faset van haar psige te doen nie. Wat gebeur volgende? Hoe handhaaf sy hierdie nuwe standaard wat sy in die bed gestel het?
Retta Blom sit haar volgende stap net daar op die toilet en beplan. Sy sal haar japon aantrek en die bottel chenin blanc in die yskas gaan haal. Miskien ’n bietjie kaas en olywe. Postkoïtaal sal Tobie net so sag wees soos sy toerusting. Presies die regte tyd om hom vriendelik uit te vra oor sy Kaapse besoek. Nie onnodig baie vrae nie. Net ’n liefdevolle vrou wat belangstel in haar man se werk. Hy moenie weet sy vermoed iets nie. Sy sal hom bietjies-bietjies tou gee waarmee hy homself kan ophang.
Maar toe sy uit die badkamer kom, is Tobias vas aan die slaap.
“Chill, Ma.”
Dawid wil iemand huis toe bring vir aandete. Retta weet nie waaroor sy die mees paniekbevange voel nie: die meisie, wat saam met hom by die hotelskool studeer en seker met kritiese oë na haar kliniese kombuis gaan kyk, of die feit dat Dawid die kookwerk wil doen en ongetwyfeld haar wit heiligdom in ’n shebeen gaan omskep.
“Kan ons julle twee nie maar net na Chez Alphonse neem nie?” Die klein bistro om die hoek van haar huis word nou wel elke aand deur die welgestelde landgoedinwoners volgepak, maar sy is seker dat sy nog ’n bespreking sal kan maak.
“Shit, Ma. Laat my net toe om vir ons te kook. Dit kos julle ’n kakhuis vol geld vir my kursus. Laat ek julle wys dat dit actually werk. Ek belowe ek sal skoonmaak. Amy sal help.”
Die oomblik toe Retta instem, weet sy dat sy dit gaan berou.
“Nooi van julle tjommies ook. Dis ewe veel moeite om vir twaalf te kook as vir twee.”
Dis dalk nie so ’n slegte idee nie, dink sy. Hulle skuld al lankal vir Christa en Paul Biddulph ’n ete, en dit sal lekker wees as sy nie self hoef bont te staan nie. Wie weet, dalk kan sy ’n bietjie spog met Dawid se talente. Christa kan tog so aangaan oor haar begaafde kinders met skoolbaadjies wat drup van die balkies en erekleure.
Sy staan ’n rukkie stil nadat Dawid afgelui het. Sy was in haar en Tobias se slaapkamer toe die oproep deurgekom het, op pad na Tobias se kant van hul ekstra lang koninggrootte huweliksbed. Hy is by die werk en sy kan rustig deur sy bedkassie snuffel vir leidrade. Sedert Saterdagaand se koorsagtige en totaal onkenmerkende seks met haar man, het sy nog nie vir ’n oomblik ophou dink aan die vrou en kind by die lughawe nie. Sy en Koba sou vanoggend ontbyt gaan eet het in Greenside, maar haar vriendin het dit gisteraand gekanselleer. Dit voel vir haar asof Koba haar vermy.
Sy hurk voor haar man se bedkassie en staar na die intens persoonlike hoekie wat so baie van Tobias sê. Die ruimte aan sy kant van die bed lyk vanoggend vir haar soos ’n ou, vergeelde Polaroid-kiekie. ’n Oomblik uit die verlede wat vasgevang is en wat nou geheel en al uit plek lyk in ’n nuwe era. Op die kassie lê ’n biografie oor die ingenieur Nikola Tesla. ’n Pakkie Strepsils. Drie wit sakdoeke, in vierkante gevou. Tobias se neus gaan dikwels spontaan aan’t bloei in die middel van die nag. Hy het ’n hekel aan papiersnesies. Die enigste ander goed op die tafeltjie langs sy kant van die bed is ’n roomkleurige bedlampie en ’n klein kraffie portwyn met ’n glas – sy slaaptydplesiertjie elke aand.
Voordat Retta die bedkassie se enigste laai ooptrek, kyk sy eers na haar kant van die bed, waar ’n identiese kassie staan. Behalwe die bedlampie, is daar net drie items: haar houtkissie met Christelike dagstukkies, ’n potjie duur handeroom en ’n dun glasvaas met ’n enkele wit roos uit haar tuin. Alles perfek met mekaar belyn. Sy wonder hoe Tobias se bedkassie sou gelyk het as hy alleen gewoon het, of saam met iemand soos Leigh. Is dit regverdig om haar fanatiese netheid op haar huismense af te dwing? Maar dis seker simpel om na ses-en-twintig jaar se getroude lewe oor so iets te wonder.
Sy trek die laai oop. Tydskrifte. ’n Flits. Skuifspelde. Batterye. Kougom. Naelknipper. Die afstandbeheer vir die TV in hul kamer. Niks snaaks nie.
Sy stap na die wasgoedmandjie en kry die klein bondeltjie wasgoed wat vanoggend gedoen moet word. Sy sien die jeans wat sy Saterdag aangehad het, vroetel in die sak vir die knipsels fotopapier en gaan sit dit in die klein houtkissie met dagstukkies. Dan neem sy een van die kaartjies uit die boksie. Dit sê:
Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. – Hebreërs 13:5
Maar jou man sal heel moontlik, dink sy sinies. Sy buk af en kyk na die klere wat Tobias in die mandjie gegooi het. Sy tel een van die hemde op, ruik daaraan. Dit ruik na Tobias. Daar is geen sweempie parfuum of lipstiffie op die hemp nie. Ruk jou reg, dink sy. Jy fundeer al jou vrese op die posisie van ’n tas in ’n kattebak. En ’n vriendin se gebabbel.
Retta besluit om daadwerklik op te hou om haar man te wantrou. Sy was Saterdagaand so gedetermineerd om inligting oor die misterieuse ma en kind in die Kaap uit hom te kry. Maar toe sy Sondagoggend wakker word, het sy heeltemal anders gevoel oor die saak. Bang vir wat sy sou uitvind. Bang om haar twyfel voor hom oop te vou soos ’n tafeldoek waarop hulle ’n siek piekniek kon dek. Dis nie wie Tobias en Retta Blom is nie.
Sy tel die wasgoedmandjie op en trippel met die trappe af ondertoe. Op die witbord in die waskamer is net twee woorde geskryf: Bel sleutelmaker. Sy kyk na die netjiese boepensletters. “Ma se handskrif lyk soos die karaktertjies in South Park,” het Ben eenkeer opgemerk. Sy neem die bordveër en vee die woorde uit. Sy laai die wasmasjien, maak haar tuis op een van die stoele by die kombuistoonbank en bel vir Christa. “Hoe lyk dit, Chris, wil jy en Paul by ons kom eet? Dawid en sy meisie gaan vir ons kook.”