Читать книгу Die dekonstruksie van Retta Blom - Zelda Bezuidenhout - Страница 7

4

Оглавление

“Partykeer dink ek ek moet sommer permanent Kaap toe trek. Ek’s meer hierdie kant as by die huis.” Die stem aan die ander kant van die selfoon behoort aan Koba Retief. Sy praat soos gewoonlik asemloos, asof sy net sekondes het waarin sy ’n voorafbepaalde kwota woorde moet opgebruik.

Retta kan hoor dat haar vriendin ’n hele paar dinge gelyk doen terwyl sy die gesprek met haar voer. Nou en dan hoor sy die geklikklak van hoë hakke op die agtergrond, of die geluid van iets wat hard op ’n lessenaar neergesit word.

“Ons moet net nog jota en tittel,” hoor Retta hoe Koba vir iemand fluister – vermoedelik haar assistent, Felicity. Koba het haar eie woordeskat vir die werk wat sy doen. Retta weet al dat “jota en tittel” verwys na die laaste vergadering voor ’n “produksie” – haar woord vir ’n funksie wat A-list Events reël. Die kontras tussen Retta se voorspelbare dae met net een of twee afsprake, netjies in haar skooljuffrouskrif op die witbord in die opwaskamer geskryf, en Koba se maller-as-mal werkskedule is vanoggend weer skreiend. Maar sy het regtig ’n behoefte daaraan om met haar vriendin te gesels en het gehoop hulle kan dalk saam koffie drink. Ongelukkig sit Koba nou in die Kaap.

“Maar as ek na my dagboek kyk, tiep die skaal nog steeds Jozi se kant toe,” rammel Koba voort. “Ek sou sê so sestig persent van my kliënte is Joburgers.”

“Die ding is,” sê Retta, “jý is ’n Joburger, Koba. Ek kan jou sowaar nie permanent in Slaapstad sien woon en werk nie. Die pas is vir jou te stadig. Daai Capies sal jou mal maak. En jy vir hulle.”

“Mmmm, jy’s dalk reg. Maar ek hét darem genoeg Kaapse kliënte vir ’n corner office in Loopstraat, baby!”

Retta glimlag. As daar een mens is wat verstaan van window dressing, is dit die glansryke Koba Retief.

Skaars twee jaar gelede het sy wat Retta is A-list Events se Kaapse kantore eerstehands beleef toe Koba haar uitgenooi het om haar te kom help intrek. Sy het spesiaal daardie week saam met Tobias Kaap toe gegaan om haar vriendin by te staan, maar toe sy daar kom, het sy besef dat sy heeltemal oorbodig was. Soos altyd, was Koba geheel en al in beheer. Alles het reeds soos ’n goed geoliede masjien geloop en eintlik is Retta net vir spogwaarde genooi.

Haar mond het oopgehang toe sy die plek die eerste keer sien. Hoewel die perseel nie baie groot was nie, het elke klein besonderheid van die interieur ’n subtiele stelling oor sukses en onderbeklemtoonde styl gemaak. Van die bloedrooi telefoon op Koba se lessenaar (Hoekom mag net die Withuis ’n rooi foon hê?) tot die duur koffiemasjien, dikpooltapyt en ligte Skadinawiese meubels in die ontvangsportaaltjie. En natuurlik die sexy sekretaresse. Koba het destyds die fyne Felicity Carelse aan Retta beskryf as “’n porn-ster met die siel van ’n bibliotekaresse”. Dit was duidelik dat Felicity ’n magtige wapen in A-list Events se arsenaal was – veral as daar met manlike kliënte onderhandel moes word. Retta onthou goed hoe Felicity se doeltreffendheid haar beïndruk het daai eerste dag toe sy saam met haar vriendin ’n glas Veuve Clicquot by die pas geopende Kaapse A-list-kantoor gaan drink het.

Koba het haar in die portaal van die pragtige ou gebou in Loopstraat ingewag, opgewonde soos ’n tiener by ’n rockkonsert. Die twee van hulle het net-net in die klein gietysterhysbakkie ingepas, en toe hulle op die tweede verdieping uitstap, het Felicity reeds reggestaan met ’n silwerskinkbord met twee elegante sjampanjefluite daarop.

“Welkom in die Kaap, mevrou Blom,” het sy gespin, die skerp punte van haar rooi stiletto’s aan’t wegraak in die diep pool van die roomkleurige tapyt.

Daardie dag het Retta gevoel soos ’n kind wat saam met haar ma werk toe is vir Beroepsdag. Sy moes haarself meer as een keer herinner om haar mond toe te maak, want sy was letterlik oopmond-verstom oor Koba se wêreld. ’n Wêreld van oëverblindery, het sy later besef. Smoke and mirrors.

Terwyl Retta lomp in die deuropening van haar sakevrou-vriendin se kantoor bly staan het met ’n glasie goue borreltjies in haar een hand, het Koba haar sonbril afgehaal en na ’n netjiese stapel papier op haar lessenaar gekyk. Alles was mooi geprioritiseer met geel kleefnotas. Servet- en breekgoedmonsters was oor die hele tafelblad uitgestal en met genommerde plakkers gemerk.

Koba se wysvinger het in die rigting van die servet- en ander monsters op haar lessenaar rondgedans.

“Ons wys vir hulle nommer drie en vier, Felis, met sewe as ’n safety as hulle regtig nie van een van die ander twee hou nie. Vir die underplates, geen keuses nie. Netnou kies hulle iets gruweliks soos nommer vier. Eenvoudige pewter. Finish en klaar.”

Felicity het koorsagtig aantekeninge gemaak van alles wat Koba sê. Sy was duidelik gewoond aan haar baas se blitsige besluite oor glase en koppies en messegoed. Na die tyd het Koba verduidelik dat Felicity alles sou stileer, met haar slimfoon afneem en ’n e-pos sou saamstel met foto’s aangeheg. Die finale besluit lê by die kliënt, maar sy wat Koba is, doen altyd die aanvanklike “bossies uittrek” – nog een van haar selfgemaakte besigheidsterme. Dit voorkom dat kliënte voor te veel keuses te staan kom en moontlik dom besluite neem. Vir Retta was dit soos om twee uur lank in ’n ander land te gaan kuier. ’n Land waar Koba Retief die welbeminde alleenheerser was. G’n wonder Koba het nie ’n man of kind in haar lewe nodig nie, het sy besef. Sy het reeds ’n hegte, met die hand uitgesoekte klein familie wie se salarisse sy betaal om lojaal aan haar te wees en die grond te aanbid waarop sy in haar Louboutins trippel. Hoe sleg kan dit nou wees?

Nou is dit nog nie eens twee suksesvolle jare later nie, en Koba se Kaapse tak bring amper net soveel werk in as die een in Johannesburg. Dit voel asof haar vriendin al hoe minder in Johannesburg is. En op dae soos vandag laat dit Retta ’n bietjie afgeskeep voel.

“Wanneer is jy weer hierdie kant?” Retta trek aan die klein wolletjies van die sybokhaarkombers wat oor die voetenent van haar en Tobias se bed hang. Sy wens dit was heeltemal glad. Hoekom kan sybokhaarkomberse nie heeltemal glad wees nie?

“Jissie, vriendin, ek weet nie.” Koba klink vir haar ontwykend. “Maar sodra ek weet, maak ons dadelik ’n date – oukei?”

“Dis nou my luck. Ek het ’n man én ’n vriendin wat trekvoëls is,” sê Retta dikbek.

Sy voel teleurgesteld, soos ’n kind wat op ’n sonskyndag nie buite mag gaan speel nie. Sy wou so graag vandag saam met Koba gaan koffie drink het. Vir eens en altyd haar twyfel oor die vreemde lughawegesprek uitwis. Sy hoor weer die geskuifel en gefluister aan die ander kant van die foon. Sy wonder of Koba haar vermy. ’n Ongemaklike vermoede roer in haar. Hoe lojaal kan iemand wees wat ander mense betaal om lojaal aan háár te wees? Hoe eerlik kan iemand wees wat oëverblindery en egostreling as ’n loopbaan gekies het?

Toe Retta aflui, sit sy ’n hele paar minute in doodse stilte op haar bed. Dan gaan haal sy ’n skeermes in die badkamer en begin die wolletjies van die sybokhaarkombers met pynlike presisie afskeer.

Toe die ouwêreldse deurklokkie in die Victoriaanse dubbelverdieping klingel, skrik Suria en skuif haar stoel met ’n skraapgeluid agtertoe. Sy kyk na die tyd op haar selfoon. Dis baie later as wat sy besef het. Sy struikel oor die stapel boeke op die vloer langs haar lessenaar en trap amper op die kat, wat haar geïrriteerd aankyk waar hy in ’n sonkol die tuin lê en bespied. “Fok!” gil sy en gryp haar groottoon terwyl sy op een been in die rigting van die voordeur begin hobbel. Sy sien haarself in die gangspieël en fluister hierdie keer direk vir die vervaarde vrou in die weerkaatsing: “Fok, fok, fok.” Dis die tweede dag wat sy dieselfde klere dra: ’n uitgerekte jogabroek en ’n los langmou-T-hemp. Haar donker bos hare staan in alle rigtings. Sy vorder tot by die hoedestaander wat in die Manser-huishouding bekend staan as “Lost and Found”, want dis waar sy en Klara allerhande items sommer met die intrapslag neersit en dan vir dae los. Halfvol bottels koeldrank en water, pos, tydskrifte, reklamepamflette wat op straathoeke deur die motorvenster gedruk word. Sy sien een van Klara se haarrekkies op die hoedestaander lê en bind haar hare behendig in ’n losserige bolla vas. Dan steek sy haar voete in die paar silwer plakkies wat altyd by die voordeur staan vir die kere wat sy uitvlug tuin toe vir vars lug of inspirasie. Voordat sy die voordeur oopmaak, trek sy haar asem diep in.

“Koba!” Suria sê die naam ’n titsel te hard, asof sy met haar skitterende glimlag en entoesiasme wil kompenseer vir haar onversorgde voorkoms. Die vrou wat voor haar staan, is die toonbeeld van elegansie.

“Suria. So gaaf om jou te ontmoet.” Suria herken dadelik die skakelpersoon in Koba. Die geoefende sjarme wat moeiteloos uit elke porie straal. Hulle is twee eende van dieselfde dam, besef sy. Dan korrigeer sy haarself. Hulle is van dieselfde dam, ja. Maar Koba is beslis ’n swaan.

“Stap sommer deur na my studeerkamer. Dis lekker sonnig daar. Kan ek vir jou iets kry om te drink?”

Suria stap vooruit. In die gangspieël sien sy dat Koba se oë vlugtig op haar boude rus. Haar agterstewe lyk seker enorm in die uitgerekte jogabroek. Boesmanboude, noem Jas dit as hy haar goedig spot of speels knyp. ’n Ander vrou sou miskien aanstoot neem of haar wip, maar nie sy nie. Sy weet hy is gek oor haar lyf. Elke wulpse sentimeter daarvan. Die seningrige vrou se afkeurende blik laat haar haar heupe aspris ’n bietjie meer swaai. Sy wou om verskoning vra vir die feit dat sy vanoggend lyk asof sy uit ’n tuimeldroër geklim het, maar nou gaan sy nié. Sy wou ook verduidelik het van Klara, en hoekom alles hierdie week so deurmekaar is by haar, maar sy skuld die vrou niks nie.

In plaas daarvan, koer sy: “Koffie? Ystee? Lemoensap?”

“Niks vir my nie, dankie.”

Die ongeskrewe reëls van besigheidsetiket geld vanoggend, dink Suria toe sy weer agter haar oorlaaide lessenaar inskuif. Sy is duidelik die kliënt hier, gemaklik in haar ou klere en plakkies. Koba is uitgevat in ’n sake-uniform: snyersbroekpak van wit linne en Christian Louboutin-skoene wat met elke tree ’n parmantige flits rooi sool wys. Sy ril om te dink wat die vrou se spykerhakkies aan haar houtvloere doen. Jas gaan ’n oorval kry.

Voordat Koba Retief kan sit, moet sy eers die pienk babamonitor van een van die stoele afhaal. Sy sit dit op die lessenaar neer.

“Supermamma,” sê sy geoefen en flits ’n glimlag vir Suria.

Dis seker hier waar ek haar vertel hoeveel kinders ek het, maar ek gaan nie, dink Suria en glimlag net terug. Sy kan die vrou se koue blik op haar agterstewe nie uit haar kop kry nie. Sy is beslis geweeg en te swaar bevind.

“Jou dogter?” Koba wys na die foto van Klara in die silwer raam wat op die lessenaar staan.

“Jip. Klarabelle. Mens kan nie dink dat niemand ná al die dekades nog ooit met ’n varser idee vir skoolfoto’s opgekom het nie, nè? Dis altyd die gevreetjies met die aangeplakte smiles, wat agter ’n lessenaar sit met ’n pen in die hand.”

Koba tel die raampie op. “Ja! En daar moet altyd ’n appel in die foto wees – het jy al opgelet? Jip. Daar’s hy. Die famous appel!” Sy wys na die blinkrooi appel op die foto.

Suria glimlag. Dis waar van die appel. Sy het nog nooit so daaraan gedink nie. An apple for the teacher.

“Nou toe, sal ons begin?” Suria skuif ’n dokument na Koba se kant van die lessenaar. “Alles is eintlik hierin vervat, maar kom ons gaan sistematies daardeur, sodat jy vir my ’n omvattende kwotasie kan gee. Is dit reg met jou?”

“Natuurlik. Dis presies hoe ek daarvan hou om te werk. En wag, ek het ietsie vir jou ook.” Koba haal ’n rooi boksie uit haar groot Louis Vuitton-handsak en stoot dit na die ander kant van die lessenaar.

“A! Ek het al gehoor van Koba Retief se legendariese ysbrekers! En nou het ek een van my eie! Baie dankie. Ek sal later kyk wat in die boksie is. Nou-nou moet ek deel.” Sy knik stout vir Koba toe sy dit sê. “Jy moet darem weet hoe absoluut chuffed ek is dat A-list ons as kliënt aanvaar het, Koba. Ek het gedink ons joppie is te klein vir jou. Die mense in die Kaap rave oor jou.”

Hier begin die wedersydse egopoetsing, dink sy terwyl sy dit sê. Suria besef dat sy die stylvolle vrou hier voor haar aan haar kant moet kry as sy ’n suksesvolle produkbekendstelling die lig wil laat sien.

“Dankie vir die kompliment. Vir my is dit ’n geval van kwaliteit versus kwantiteit. Ek verkies eintlik kleiner geleenthede, omdat mens baie meer beheer het oor die detail. God is in the details, soos hulle sê. En ek dink ons gaan goed saamwerk.”

Twee uur later sit Koba haar pen neer.

“Ek dink ons het dit. It’s in the bag,” sê sy.

Suria kyk ’n bietjie verbaas op. Sy het nie gedink sy en hierdie hoogs gepoleerde pop gaan so sinergisties kan saamwerk nie. Dit was eintlik moeiteloos. En groot pret ook, as sy eerlik moet wees. Mediese instrumentasie is nie juis sexy produkte om te bemark nie, maar sy dink die Medstruments-span gaan hoogs beïndruk wees. Wat meer is, ortopede gaan dol wees oor die bekendstellingsidees wat sy en Koba het. Die groot uitdaging met medici is om hulle opgewonde oor enigiets te kry. Hulle is soos bedorwe kinders wat aan alles gewoond is. Die skemerpartytjie, met sexy kelnerinne in wit-en-swart Sia-pruike en skrapse uitrustings op die dak van een van Kaapstad se funkyste hotelle, gaan die ding doen. Die revolusionêre nuwe instrumentasie is van titanium gemaak, en Sia se treffer “Titanium” gaan die amptelike musiek wees vir die geleentheid. ’n Silwerdoek sal gespan word om die promosiefliek op te vertoon. Met Leeukop en Seinheuwel in die agtergrond en bitter min kans op reën daardie tyd van die jaar, gaan dit ’n aand wees wat niemand gou sal vergeet nie. Suria voel verlig en dankbaar. Sy het nodig dat iets in haar lewe nou reg loop. Sy het die regte keuse gemaak met A-list.

“Hoe lyk dit nóú met iets te drinke?” vra sy. Die tyd het regtig gevlieg, en sy besef nou eers dat sy dors is.

“Nee dankie, ek loop ’n bietjie laat. Maar ek sal graag jou badkamer gebruik? Ek moet my gesig fix voor my volgende afspraak,” sê Koba en pak haar notaboek en pen in haar sak.

“Sure. Gebruik sommer die een in my slaapkamer. Anders moet jy met die trappe op boontoe. Dis nou een ding van hierdie ‘charming Victorians’: Hulle kom met charming tekortkominge.”

Koba bly besonder lank weg. Lank genoeg vir Suria om haar te begin bekommer oor die toestand van haar en Jas se slaapkamer en die en suite-badkamer. Sy wonder wat alles op die vloer lê.

Toe Koba klaar is in die badkamer, haar lippe vars geverf met die posbusrooi wat sy klaarblyklik verkies, staan Suria al by die voordeur.

Sy wil vir Koba sê haar huis lyk nie altyd so nie. Dat sy hierdie week van die huis af werk omdat haar kind met epilepsie gediagnoseer is en op chroniese medisyne is. Dat dit in ’n eksperimentele fase is en dat die dokter nie seker is of die dosering presies reg is nie. Dat sy nooit regtig ontspan nie, omdat sy die hele tyd met een oor luister vir iets oor die pienk babamonitor. Rukgeluide, valgeluide, hiperventilerende asemhaling. Dat hoe hard sy ook al probeer, sy nie die rillerfliek in haar kop kan pause of uitvee nie. Die een waar sy haar kind op die vloer sien lê en konvulseer. Oor en oor en oor. Sy wil ook noem dat sy gewoonlik beter lyk as vandag. Héélwat beter. Maar sy doen niks van die aard nie. Sy sê bloot: “Jy was reg, ons gáán lekker saamwerk.” Dan draai sy die koperknop van die ou deur.

“Ons gaan Medstruments op die map sit, ek en jy,” voeg Koba by en steek weer haar koel, gemanikuurde hand uit vir ’n professionele handdruk.

Nadat die Mercedes SLK geruisloos weggetrek het, loop Suria haastig terug na haar studeerkamer. Haar kop krioel van idees na die dinkskrum. Koba Retief is nou wel nie haar cup of tea nie, maar die vroumens is ongetwyfeld een van die bestes in die bedryf. Terug agter haar lessenaar maak sy dadelik die leeromhulsel van haar tablet oop. Sy wil notas daarop maak terwyl haar breinkinders nog babatjies is.

Haar oog vang die babamonitor en sy besef meteens hoe stil dit was terwyl sy en Koba besig was met hul vergadering. Gewoonlik kom daar ’n konstante, krakerige wit geraas uit die pienk boepensie. Toe sy die toestelletjie optel om seker te maak dit is aangeskakel, sien sy dat die koord by die elektrisiteitsok uitgetrek het. Dit moes gebeur het toe Koba die monitor van die stoel na die lessenaar geskuif het. Net vir ’n oomblik sit sy versteen. Dan storm sy by haar studeerkamer se deur uit, hardloop die gang af en vat die trappe twee-twee na die boonste verdieping waar Klara se slaapkamer is.

Die dekonstruksie van Retta Blom

Подняться наверх