Читать книгу Die dekonstruksie van Retta Blom - Zelda Bezuidenhout - Страница 5

2

Оглавление

Die neuroloog se spreekkamer is klinies en modern. Dit is duidelik dat sy vrou haar wildste binneversieringsdrome kon uitleef sonder dat ’n vasgestelde begroting haar pret bederf. Die getekende afdruk van ’n William Kentridge-houtskoolskets beklee die ereplek bo die bottersagte leerbank. Selfs die tydskrifte wat in netjiese stapels strategies op ontwerperskoffietafels geplaas is, getuig van goeie smaak. Visi. Habitat. National Geographic. Vanity Fair. Slegte nuus vir mense wat beweer hulle lees die Huisgenoot slegs in mediese wagkamers. Hier gaan hulle nie regkom nie, dink Suria Manser. Sy neem ’n Vanity Fair en blaai na ’n artikel oor George Clooney. Nou en dan kyk sy op na haar dogter wat langs haar sit, en glimlag bemoedigend vir die kind.

Klarabelle Manser is klein vir haar ouderdom. Hoewel sy al elf jaar oud is, raak haar voete skaars aan die mat. Sy sit in ’n diep leunstoel langs haar ma en speel speletjies op haar foon.

“Gaan hulle weer die simpel drade aan my kop vasmaak?” vra sy in ’n oordrewe fluisterstem.

Suria maak haar tydskrif toe, leun oor na Klarabelle en streel oor haar kind se wilde bos swart hare.

“Jy’t dan laas gesê dit laat jou soos die Statue of Liberty voel? Jy’t hóéveel selfies geneem en dit op Instagram die wêreld ingestuur!”

“Dit was voordat ek vir drie dae met die goed op my kop moes lê. Dis lame, Mamma-Su. En ek wil nie weer saam met al daai weirdos in die hospitaal wees nie.”

Suria druk haar kop teen Klara s’n. Die twee-en-sewentig uur in ’n Johannesburgse kliniek was nie vir een van hulle ’n grap nie. Sy verstaan waarom die kind nie meer dink die EEG-elektrodes is cool of snaaks nie. Maar dit is die Kaap hierdie, en die dokter wat hulle vandag sien, is nie die een wat haar aan die vorige marteling onderwerp het nie.

“Mevrou Manser?” Die ontvangsdame is professioneel en vriendelik, met ’n lugwaardinstem.

“Juffrou,” help Suria die vrou reg.

“Juffrou Manser, dokter sal julle nou sien.”

Suria vat haar kind se hand toe hulle agter die vrou in die kort gang afstap. Die dogtertjiehand is koel in hare, soos ’n jong plant wat met wortels en al uit klam grond getrek is. Klara laat dit net ’n paar sekondes toe voordat sy haar hand uit haar ma s’n loswikkel.

Die dokter is jonger as die een in Johannesburg. Sy lessenaar is so groot soos ’n eetkamertafel en daar’s baie min goed daarop. Daar is wel ’n indrukwekkende versameling Star Wars-figuurtjies in ’n perfekte groepie naby sy telefoon. Hulle het skaars gesit, of Klara steek haar hand uit om daaraan te vat. Suria skud haar kop kwaai en die kind trek haar hand skuldig terug.

“A, ja, juffrou Manser … Klarabelle. Gaaf om julle te ontmoet. Ek is Anton Breedt.”

Hy blaai deur die lêer voor hom en kyk met groot belangstelling na bladsye en bladsye EEG-drukstukke.

“Klarabelle, hoe was jou kuier in Johannesburg?” wil hy weet, sonder om sy oë van die grafieke af te haal.

Klara kyk na haar ma en Suria knik vir haar asof sy sê: Dis oukei, jy mag maar met die dokter praat.

“Dit was lekker, uncle. Ag, ek bedoel dokter. Ons was Gold Reef City toe. En na Maropeng, waar die eerste oermense se geraamtes gevind is.”

“A, ja … Mevrou Ples.”

Klarabelle knik haar kop instemmend.

“En jy het ook by dokter Babu se kliniek gaan kuier vir drie dae, sien ek. Jou brein het vir ons interessante prentjies daar gemaak, jonge dame.”

Suria sug hoorbaar. Sy is keelvol vir medici in peperduur kamers wat neerbuigend met haar en haar kind praat, asof hulle al twee kleuters is. “Kan u dit vir ons in Afrikaans beskryf, ’seblief, dokter? Die prentjies?”

Dokter Breedt mis blykbaar die tikkie sarkasme in haar stem.

“Kom ons kyk eers na Klarabelle se geskiedenis en kliniese beeld, juffrou Manser,” gaan hy paaiend voort. “Ek sien hier dat sy verlede maand, sover julle weet, haar heel eerste grand mal-aanval gekry het?”

“Ja, sy het by ons huis geval. Seergekry. Ek was binne oomblikke by haar. Sy het gelê en ruk op die mat.”

“Ek het my velle afgeskuur,” voeg Klarabelle by en trek haar T-hemp oor haar een skouer om te wys hoe nerfaf dit is.

“Ouch,” sê dokter Breedt en kreukel sy neus. “En sedert die val?”

“Sy het nog nie weer geval nie, dokter. Maar sy kry elke nou en dan episodes waar sy, wel … amper hang soos ’n rekenaar wat vries.”

“En hoe lank duur hierdie episodes, sou jy sê, juffrou?”

“Ek het dit nog nie gemeet nie, maar dis seker so tussen drie en sewe sekondes, as ek moet raai.”

Dokter Breedt kyk nog heeltyd na die EEG-drukstukke.

“Mmmm. Dit strook met wat ek hier sien.”

“Wat gebeur met my kind, dokter?”

“Dit wil lyk asof sy deur die dag elke nou en dan petit mal-aanvalle kry. Dis wanneer sy vries, soos ’n rekenaar. In haar geval word dit veral aangebring deur angs of hiperventilasie.”

Die dokter sit die papierwerk neer, vleg sy twee hande se vingers inmekaar en kyk om die beurt na Suria en Klarabelle.

“Daar is honderde soorte epilepsie. Party mense is ligsensitief. Ander se aanvalle word deur skerp reuke gesneller. Dit wil lyk asof Klarabelle s’n gebeur wanneer sy hiperventileer.”

“Maar Klara is tog nie ’n angstige kind nie?” Suria wonder of die dokter dink sy’s een van daai ma’s wat onnodig druk op haar kind plaas.

“Dit hoef nie noodwendig angs te wees wat ’n mens laat hiperventileer nie, juffrou. Opwinding, om oorstelp te wees van vreugde, oefening, hartseer … dit kan alles mors met mens se natuurlike asemhalingsritme.”

Suria voel asof sy ’n klomp koue klippe met ’n baie klein glasie water moet afsluk. Klara is ’n sonskynkind. Sy was nog altyd so gesond. Die hele ding voel onwerklik.

“Opwinding, vreugde, oefening, hartseer … dis tog waaruit die lewe bestaan. Hoe beskerm mens jou kind daarteen?”

Sy is nie seker of die man haar vraag opsetlik ignoreer nie toe hy vra: “Was daar nooit enige aanduiding van petit mal in die verlede nie?”

Suria dink. Klara sit en skop-skop met haar voete in die lug voor haar stoel.

“Wel, ons is oortuig daarvan dat Klara ’n bietjie disleksies is. Sy sukkel om te lees.”

Klarabelle kyk haar ma beskuldigend aan. Haar oë sê daar is sekere goed waaroor mens nie uitpraat nie.

“Dis jou dokter, Klara. Hy moet weet.”

“En ek praat nie uit nie,” verseker Anton Breedt hulle vriendelik.

“Julle weet natuurlik waarom Klarabelle stadig lees? Sy verloor die hele tyd haar plek. En dis die petit mal se skuld. Klara – mag ek jou maar so noem? Elke keer as jy ‘vries’, moet jy weer jou plek gaan soek. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink nie jy is disleksies nie.”

Dis vir ’n paar oomblikke stil in die spreekkamer. Mens hoor net die tik-tak van ’n horlosie. Suria se oë draai onwillekeurig na die bron van die monotone geluid. Dis ’n vreemde kunswerk – ’n smeltende Salvador Dali-staanhorlosie wat besig is om van een van die rakke af te “drup”.

“Hoe help ons my kind, dokter?” Suria wil net hier uitkom met ’n oplossing.

“Ons gee vir haar chroniese epilepsiemedisyne. Dit gaan hierdie woeste breingolwe van jou mooi uitplat, Klara, en jy sal weer kan konsentreer sonder om elke nou en dan te vries.”

“Klara het dus epilepsie?” Suria wil dit nie regtig hoor nie. Vallende siekte. Sy onthou so goed die antie in haar grootwordbuurt wat met ’n motorfietshelm op haar kop geloop het omdat sy so dikwels geval het en dit die beste manier was om haar brein te beskerm. Epilepsie is beslis nie ’n glamorous siekte nie, as daar so iets bestaan.

“Klara het epilepsie. En danksy moderne mediese deurbrake, kan sy ’n baie normale lewe lei as sy haar chroniese medikasie getrou gebruik. Sy kan dit ook ontgroei. Baie jongmense kry dit wanneer hulle begin hormone kry, en dit hou net twee of drie jaar voordat dit spontaan verdwyn. Dit is die beste scenario, en die een waarvoor ons hoop. Intussen moet sy ’n paar leefstylaanpassings maak.”

“Soos?”

“Liewer stort as bad. As sy alleen in die bad is en ’n aanval kry, kan sy verdrink. Dit geld ook vir swem. Nooit alleen nie.”

Suria en Klara kyk vir mekaar. Klara is die junior swemkampioen by haar skool.

“Kry genoeg slaap. Slaapgebrek kan lei tot aanvalle. En neem jou medikasie baie getrou op presies dieselfde tye elke dag.”

“Ek mag nie swem nie?” Klara het skynbaar niks gehoor nadat die dokter daardie bom laat val het nie.

“Nooit alleen nie. Dis wat die dokter gesê het, Klara,” help Suria haar reg.

Die rit huis toe is lank en stil.

Toe Klara uiteindelik haar gesig na haar ma toe draai om iets te sê, is dit met ’n stem vol huil en wange nat van trane.

“Mamma-Su, wat beteken petit mal? Beteken dit ek is net ’n biétjie mal?”

Suria se hart breek meteens in stukke vir haar kind.

“Haai néé, my baby! Daardie ‘mal’ is ’n Franse woord wat ‘sleg’ of ‘verkeerd’ beteken. Petit mal beteken ’n klein, klein foutjie het ingesluip by jou breinaktiwiteit. Dis al.”

“Hoekom kon dit nie met iemand anders gebeur het nie? Iemand wat nié van swem hou nie?”

Uit die hoek van haar oog sien Suria hoe Klara deur die venster na die sopnat stad staar. Daar was bitter min winterreën hierdie jaar en vandag se lentebui is ongewoon, asof selfs die stad saam met hulle huil. Sy vat haar kind se hand en bring dit na haar mond, soen die soepel jongmeisievel.

“Alles gaan oukei wees, Klara Banana. Jy sal sien.”

Die dekonstruksie van Retta Blom

Подняться наверх