Читать книгу Die dekonstruksie van Retta Blom - Zelda Bezuidenhout - Страница 6

3

Оглавление

“Oukei, nou het ek alles gesien.” Paul Biddulph staar geskok na die flambojante krul skuim op sy skemerkelkie. “Wat sê jy is dié?”

“Net wat oom daar sien,” sê Dawid. “’n Cocktail met skuim op.”

Paul leun terug in sy stoel en stoot sy gesellige boepmagie uit. Sy besnorde bolip is altyd vir Retta die fokuspunt wanneer sy na hom kyk. Maar vanaand is dit die ontevrede mondjie onder die snor wat haar aandag trek. Hy lyk regtig asof daar van hom verwag word om enjinolie te drink. Terwyl almal vol afwagting toekyk, trek hy sy vet voorvinger deur die skuimkroon en proe versigtig daaraan. “Smaak lemoenerig.”

“Bingo,” sê Dawid terwyl hy skuim op Christa se daiquiri skep. “Dis eierwit met ’n bietjie Grand Marnier.”

“Wel, grand is dit beslis. Weet net nie of ék grand genoeg is hiervoor nie.” Paul spreek die “grand” uit soos in Grand Marnier.

’n Klein, stywe bolletjie vorm in Retta se maag. Paul is nou sommer aspris en sy kan sien hoe Dawid hom vervies.

Toe Christa haar kelkie kry, suig sy behaaglik aan die kort strooitjie in die martiniglas.

“Dis flippen lekker, Dawid. Los ek die skuim vir laaste, of moet ek dit soort van inmeng?”

“Tannie Chris kan eintlik self besluit. Dis maar soos cappuccino. Party mense eet eers die skuim af met ’n lepel, ander roer dit in en die res los dit vir laaste.” Retta kyk dankbaar en verlig na haar vriendin. Dis duidelik dat Christa vanaand sal opmaak vir Paul se gebrek aan takt.

“Wel, ek love dit,” spin Christa met toe oë.

“Dan kan jy gerus myne ook drink,” sê Paul en stoot sy glasie oor na haar kant van die kombuistoonbank. Voor enigiemand iets kan sê, vervolg hy: “Is daar bier in jou yskas, Tobie?”

Retta kyk na Dawid en sien hoe die spiertjies in sy kakebeen op- en afspring soos hy hard op sy tande byt. Tobias spring van sy kroegstoeltjie af met die dringendheid van iemand wat ’n vuur moet blus.

“Is dit ’n retoriese vraag?” vra hy lighartig en klop sy vriend op die skouer op pad yskas toe.

“Bier? Ek het eintlik gedink oom drink deesdae net nagmaalwyn.” Dawid se oë is kil toe hy die vol skemerkelkie voor Paul wegneem.

Retta kry haar oudste seun in die opwaskamer, waar hy besig is om Paul se drankie in die uitlaatgat af te gooi. Amy is besig om crostini voor te berei en kyk verslae na Dawid wat bloedrooi van woede staan en stoom voor die wasbak.

“Moenie vir oom Paul ter harte neem nie, my kind. Hy’s sommer aspris. Lag dit af.”

“My fok, Ma. Kon Ma nie oopkop mense genooi het vir vanaand nie? Ma weet mos ek kook eksperimenteel. Die hele aand gaan ’n fokop wees.”

“Jy’t gesê the more the merrier, Dawid. Ek het nie geweet daar was psigografiese voorvereistes nie.”

“Van al julle tjommies, moes Ma nou wragtag die twee Bible punchers nooi.”

Amy krummel gorgonzolakaas op klein stukkies roosterbrood, sit ’n skyfie vars peer op elkeen en drup dan heuning daaroor. Die groot opdienbord lyk feestelik met die veelkleurige konkoksies op die mini-broodjies.

“I’ll serve the crostini so long. Calm down, Davey Jones,” sê sy, garneer die eetgoed met twee lang roosmaryntakke en verdwyn om die hoek met die bord.

“Moenie onredelik wees nie, Dawid. Tannie Chris love jou cocktail. Daar gaan altyd iemand wees wat nié van jou kos hou nie. So werk die lewe. Deal daarmee. The customer is always right. Jy tree nou soos ’n prima donna op.”

Toe Retta die laaste sin sê, stap Amy by die opwaskamer in en las haar stukkie wysheid by: “Yeah. You can only do that when you’re famous. You’re not there yet.”

Wat veronderstel was om ’n informele kuier om die kombuistoonbank met aptytwekkers en skemerkelkies te wees, word nou ’n stywe sosiale dans vol ongemaklike passies en krapperige stiltes. Na ’n paar futiele pogings om die geselsery weer natuurlik op dreef te kry, nooi Tobias vir Paul met sy bier tuin toe om na sy gesofistikeerde nuwe besproeiingstelsel te gaan kyk. Retta kan haar man soen vir hierdie strategiese stap. Dit lyk darem asof die crostini redelik goed afgegaan het. Sy verorber sommer nog drie van die roosterbroodjies, kort na mekaar, om die bord leër te laat lyk. Enigiets om die vrede te bewaar. Sy sal môre weer reg eet.

Teen die tyd dat die vier vriende formeel aansit by die patiotafel met die lang wit damastafeldoek, is almal in veel ligter luim danksy die ysbreker-eienskappe van alkohol.

“Man, dis lekker as mens se kinders jou begin bedien. En met sulke goeie kos daarby!” Christa vou haar servet oop en sprei dit uit op haar skoot. Daar is ’n diep wit bak met water in die middel van die tafel. Tientalle klein teeligkersies dryf daarop, en Amy is besig om hulle een vir een met ’n lang aansteker in feetjieliggies om te tower. Wit rose uit Retta se tuin is staangemaak in glaspotjies van alle groottes en vorms. Die atmosfeer is klassiek en feestelik.

“What a magical setting you’ve created,” sê Christa gulhartig.

“Thanks. It was Dawid’s idea, the floating candles.” Dawid se meisie is sonder ego of fieterjasies. En soos die lewe dikwels maak, het twee baie uiteenlopende mense aanklank by mekaar gevind in die romanse-afdeling. In Dawid en Amy se geval, twee kokke. Dawid is die temperamentele, kreatiewe een en Amy die pragmatikus. Toe Amy kombuis toe verdwyn, skink Tobias vir almal ’n glasie wyn en die vriende kuier vir ’n paar minute gemoedelik om die flikkerende kerslig.

“Hoe vaar BluSol in die Kaap?” wil Paul by Tobias weet terwyl hy die inhoud van sy wynglas behaaglik inadem.

“Goed genoeg. Die vraag na doelgemaakte watertenks is steeds hoog daar, so ek kan nie kla nie.”

“Ek weet nie hoe julle twee dit doen nie,” merk Christa met opregte verstomming op.

“Hoe ons wát doen nie?” Retta is besig om die glasbotteltjies in die middel van die tafel te herrangskik sodat hulle in ’n perfekte reguit lyn staan.

“Die sondermekaarwees vir soveel dae van die week. Ek en Polla sal dit nooit oorleef nie.”

As enigiemand anders hierdie opmerking gemaak het, kon dit as bitsig geïnterpreteer word. Maar Christa Biddulph is van goedhartigheid aanmekaargesit. Dit weet almal. Dis net dat haar eerlikheid dikwels aan taktloosheid grens.

“Nee wat, Chris, ons is al so gekonfyt met die roetine. Dis eintlik lekker, die uitsien na saamwees terwyl mens alleen is,” sê Tobias. Hy vang Retta se oog en hulle glimlag vir mekaar in die flonkering van die kerslig.

“Dis soos ewigdurende vlerkslepery. Perpetual dating, soos Leigh dit noem,” dra Retta by.

Daar is voelbare oplewing om die tafel toe die jong sjefs elkeen met borde op die patio verskyn.

“Madame,” sê Amy toe sy een van die borde voor Christa neersit – in die middel van die pikswart bord is ’n klein kunswerk in groen en pienk.

“Wow!” Christa slaan haar hande kinderlik saam.

“Wat het ons hier?” vra Paul versigtig.

“Deconstructed avocado ritz,” kondig Amy ’n bietjie selfvoldaan aan. Dis duidelik dat sy besonder trots is op die kleurvolle klein offerande.

“Deconstructed? Is dit ’n ander woord vir stukkend?” Paul Biddulph is weer die enigste een wat vir sy grappie lag. “Want dit lyk beslis of my ritz op my bord ontplof het.”

Sonder om ’n woord te sê, draai Dawid om en stap terug kombuis toe. Asof Amy besef dat sy nou solo moet vlieg, gooi sy haar vadoek oor haar skouer, haal diep asem en begin die gereg aan haar gehoor verkoop.

“Deconstructed food breaks apart the elements that are traditionally combined to make a dish and serves those items separately in a creative way.” Dit klink asof sy uit haar studienotas aanhaal.

Retta luister met ’n halwe oor, want met alles in haar wil sy opspring en vir Dawid gaan soek. Wat het haar besiel om hierdie aand met Paul en Christa te reël? Sy is amper seker die avokado ritz is nie die enigste ontploffing wat hulle vanaand sal moet hanteer nie.

“Aha!” roep Christa vrolik uit. Dierbare, vredebewarende Christa, dink Retta verlig. “Hier sien ek nou alles op my bord. Ek love die stapeltjie garnale en avo – so kunstig gedoen! En die pienksous lyk regtig asof Matisse dit self hier op die bord kom verf het. Amy, it’s beautiful.”

’n Ongemaklike stilte volg toe al vier vriende begin eet. Die twee vroue neem delikate happies en maak waarderende geluide met hul oë toe. Tobias punktueer sy kos met klein slukkies wyn. En Paul stoot alles op sy bord kru bymekaar voordat hy dit soos ’n stootskraper op sy vurk laai vir die eerste hap. Dankie tog Dawid is nie hier om dit te sien nie, dink Retta met ’n knoets paniek.

“Nóú smaak dit soos avokado ritz!” verklaar hy. “Noudat alles gemeng is soos dit veronderstel is om te wees. Ek verstaan die dekonstruksie-ding glad nie. Is die hele idee van kosmaak dan nie die bymekaargooi van goed nie?”

Tobias maak Paul se wynglas vol. “Dalk is dit goed om nou en dan na die essensie van iets te kyk, om dit opnuut te waardeer vir dit wat intrinsiek is.”

“Baie filosofies, Toobs,” sê Christa gemoedelik en lig haar glasie. “Op ou vriende en nuwe koservarings!”

Hierna vloei die geselskap makliker en teen die tyd dat Amy die vuil borde wegneem, is die vriende so onbevange aan’t klets dat hulle haar skaars opmerk.

Retta skiet blitsig ’n dankgebedjie op toe sy die hoofgereg sien. Varknek met ’n jogurt-en-kruiekors. Patats met salie en sitrus. Mikrokruie en kappertjies as garnering. Darem niks te volksvreemd nie. Hopelik sal Paul sy mond hou.

Paul geniet dit so dat die enigste ongepoetste opmerking wat hy maak, ’n klagte is oor die volmaakte klein porsie in die middel van sy groot, wit bord.

“Jy kan mos nie sulke jimmelse kos maak en dan vir ’n man net ’n sample’tjie gee nie, Dawid. Was die begroting bietjie tight, ou seun?”

Retta vang Dawid se oog en knik vir hom. Hy glimlag skeef terug en sy weet hy het darem die onbeholpe kompliment gehoor. Die vrede hou egter nie lank nie. Dawid skink klein doppies muskadel in Retta se pewterglasies. Terwyl hy besig is met die laaste een, kom Amy uit met vier borde op ’n skinkbord.

“Now, for the pièce de résistance!” Sy sit ’n bordjie voor elke gas neer.

Op elke bordjie is ’n hardgekookte eier met twee repies spek.

“Brekfis? Wat het van poeding geword? Is dit nou uit die mode?” Paul klink opreg teleurgesteld.

“Sjuut,” maak Christa hom vies stil.

“Heston Blumenthal se spek-en-eier-roomys,” kondig Dawid trots aan.

“Hester wie? Ek hoop sy is familie van Jan Ellis, want dis die poeding waarvan ék hou.”

Die twee jong sjefs ignoreer Paul Biddulph se aanhoudende gekarring en pogings om snaaks te wees. Dawid gaan staan langs Christa.

“Kan ek tannie Chris se eier voorberei?”

“I’m intrigued, young man!” sê Christa en leun afwagtend terug in haar stoel.

Amy speel nou assistent en gee vir Dawid ’n klein emaljekastrol en ballonklitser aan. Hy neem die eier wat voor Christa in die kelkie staan, breek die eierdop en giet die inhoud in die kastrol. Hy kantel dit sodat Christa die inhoud kan sien. Dis nie bloot eiergeel en -wit nie. Dis ’n romerige mengsel wat op ’n wonderbaarlike manier in die heel eierdop beland het. Amy giet ’n bietjie vloeistof uit ’n termosfles daarby en die mengsel begin onmiddellik rookwolke maak.

Christa snak hoorbaar na haar asem.

“Droë ys?” wil Tobias verwonderd weet.

“Liquid nitrogen,” sê Amy.

Dawid klop die mengsel totdat dit soos roereier lyk.

Dan skep hy dit versigtig terug in die eierkelkie en sê: “Smaaklike ete!”

Hierdie ritueeltjie word by elke gas uitgevoer, elke keer met meer selfvertroue. Hy los Paul vir laaste, en sê dan: “Amy, why don’t you do oom Paul’s. I’ll assist.”

“Ek kan nie onthou wanneer laas ’n jong meisie aan my eiers gevat het nie,” kom die onafwendbare simpel grappie.

Niemand lag nie.

“Dis absoluut hemels. Roomys met ’n speksmakie. Wie sou nou kon dink dit sal werk? En die bros karamel om die spekrepe is onbeskryflik lekker. Julle is geniuses!” Christa is in kulinêre vervoering.

“Dis blerrie lekker, julle twee. Well done.” Tobias trek al by sy tweede stukkie spek. “Jan Ellis kan gaan slaap.”

Paul eet sy roomys binne twee happe klaar en knaag dan raserig aan die karamelagtige spekrepe. Toe hy klaar is, kyk almal vir hom.

“En?” wil Retta weet.

“Call me crazy, maar ek dink spek en eiers is Wimpy-kos.”

Uit die hoek van haar oog kan Retta sien hoe Amy aan Dawid se arm vat.

“Dis seker nie almal se ding nie, Paul. Maar vir my was dit regtig spesiaal,” sê Retta. “The entire meal was something rather wow. Thanks, Amy; dankie, my kind. Onvergeetlik.”

Dis asof die hele aand se aanhoudende klein stekies ’n lelike wond in Dawid veroorsaak het. Dit bars nou oop en allerhande ongure derms peul uit.

Hy staan nog met die fles stikstof in sy hand. Dan gaan sit hy reg oorkant Paul by die tafel, sit die fles hard neer en haal diep asem.

“Oom Paul, het oom ’n probleem met my?” vra hy reguit.

“Natuurlik nie, ouboet. Ek het maar net nie gesofistikeerde smaak nie. Jy moet my maar vergewe.”

“Maar oom het tog maniere? Oom is tog ’n Christen? Staan dit iewers in die Bybel dat mens ’n pyn in die gat moet wees en vir niemand anders enigiets moet gun nie?” Dawid is nou bloedrooi in sy gesig, en dis nie van die gespook in die kombuis nie. Van kleins af kon hy sy humeur op skouspelagtige wyse verloor.

“Dawid, dis nou genoeg,” probeer Tobias sy oudste seun kalmeer.

“Nee, Pa, ek gaan dit nié los nie. Ek en Amy beplan al ’n week aan hierdie ete. Dit was ’n mission om stikstof in die hande te kry. Ons het kilometers na die Italiaanse deli gery vir presies die regte gorgonzola. Dit was ’n labour of love. Nou vat oom Paul daai love en verander dit in … in … kak!”

“Dawid!” Retta spring op en begin verbouereerd borde opmekaarstapel.

Toe Dawid en Amy by die huis instap, is Retta kort op hul hakke.

“Jissis, Ma, moet tog net nie vir my preek nie,” gooi Dawid wal toe hulle al drie in die kombuis is.

“Ek gaan nie vir jou preek nie. Ek wil vir jou en Amy dankie sê vir ’n ongelooflike maaltyd. Vergeet nou van Paul Biddulph en sy reaksie. Hy fight sy eie demone.”

“Wel, ek dink hy’s ’n opperste doos.”

“Jy het die reg om jou mening te lug, Dawid,” sê Paul, wat van nêrens af in die kombuis verskyn het. “Maar ek het ook. Onthou net, nie almal gaan van jou kos hou nie. You win some and you lose some. As jy dit persoonlik vat, sal jy nie lank hou as ’n sjef nie. Jy het ’n mooi talent gekry. Nou moet jy net leer om nie so arrogant te wees nie.”

“Whatever,” sê Dawid.

Die volgende oomblik staan Christa ook in die deur.

“For what it’s worth, julle kos het my weggeblaas vanaand. Ek dink julle het ’n groot toekoms. Ek gaan nou vir ou suurgat huis toe neem. Kom, Paul, ek dink jy’t genoeg skade gedoen vir een aand.”

Toe die Biddulphs afgesien is en Dawid en Amy die skottelgoedwasser gepak en opgeruim het, sê Tobias: “Kom drink ’n glasie port saam met ons voor julle gaan, toe?”

Retta het haar slaapklere en japon gaan aantrek, ongelooflik dankbaar dat die stresvolle aand verby is. Dit het nie uitgedraai soos sy dit beplan het nie. Haar kombuis lyk oppervlakkig darem redelik skoon. Sy sal môre diep skoonmaak met al haar eie lappe en skropgoed.

Die twee jongmense lyk uitgeput en vaal in die skerp buislig van die kombuis. Hul mandjies met toerusting en bestanddele staan gepak en Amy het hul wit sjefsbaadjies oor haar arm gedrapeer.

“Pa, ek sien regtig nie kans vir ’n diep, filosofiese gesprek nie.”

“Ek ook nie, seun. Geniet ’n glasie port saam met my en jou ma, en dan kan julle waai. Die ete was ongelooflik. Daai spek-en-eierpoeding was my gunsteling. Dit was soos iets tussen kos en ’n magic show.”

“I know, hey?” sê Amy.

“Verduidelik net vir my een ding, Pa. Hoekom is oom Paul so suur? Is dit vandat hy en tannie Chris in daai religious drol getrap het?”

Retta wonder of Dawid die lelike sêding by Mark gehoor het.

“I thought you weren’t up for a deep, philosophical discussion?” herinner Amy hom.

“Wat het jy deesdae teen Christenskap, Dawid?” wil Retta weet. “Jy het tog self belydenis van jou geloof afgelê?”

“Please, Ma. Bedoel Ma die worsmasjien van fine, upstanding jongmense wat aan die einde van graad elf in hulle beste kleertjies voor in die kerk gaan staan en rympies opsê? Dis soos Forty Days of die postmatriekjol by Hartenbos. Tradisie, Ma. As mens sestien of sewentien is en nog onder jou ouers se dak woon, het jy nie exactly ’n keuse in die saak nie.”

Retta voel skoon naar. Dit is haar dierbare Dawid-kind hierdie. Die sagte een met die groot hart. Die een wat altyd ekstra kos saamgeneem het vir maatjies wie se ma’s nie ingepak het nie. Wat rondloperhonde en afvlerkvoëltjies huis toe gebring het. Wanneer het hy so hard geword? Hoe het sy en Tobie hom gefaal? Sy sien net vir ’n oomblik weer die tas in die een hoek van die kattebak. Van hoeveel goed is sy nie bewus nie? Sy wat Retta Blom is, die mees together mens wat haar vriende ken?

“Ek het geen benul gehad dat jy so voel oor Christenskap nie, my kind.” Tobias kyk bekommerd na sy oudste seun.

“Ek het nie ’n probleem met Christenskap nie, Pa. My pyn is met die actual Christene. Christenskap is soos Frankryk. Dis ’n cool plek, maar party van die mense wat daar woon, kan regte poepholle wees. Let’s go, Amy.”

Met dié gryp die twee jongmense hul mandjies en groet.

Leigh is koorsagtig aan’t ateljee skoonmaak toe Retta skuins na middagete daar aankom.

“A. Presies die neat freak wat ek nou nodig het,” sê sy en stop vir Retta ’n sponsie en emmer vol seepwater in die hand. “Ek maak net een keer per jaar my pozzie skoon en jou timing is impeccable. Ek het reeds Handy Andy in die water gesit.”

Tom Petty and the Heartbreakers sing “Free Falling” op Leigh se foon, wat via Bluetooth aan die klein luidspreker in die ateljee gekoppel is.

“Hoe was Dawid-hulle se ete toe?”

“Interessant.”

“Hmm. Dáár’s nou ’n woordjie wat baie sondes dek. Was die kos oneetbaar? Was daar weird stuff? Is sy girlfriend ’n psycho freak?” Leigh hou nie ’n oomblik op skrop terwyl sy praat nie.

“Die kos was hemels. Regtig besonders. Amy is dierbaar. Die atmosfeer was … gelaai.”

“Spill it!”

“Spill wat?”

“Die beans. Die boontjies. Die skinner. Dis after all waarom jy hier is, Retta Blom!”

Retta sit haar sponsie neer. “Wel, jy’s verkeerd. Ek het nie kom skinder nie, Leigh. Ek het aan jou voete kom sit sodat jy jou pêrels van wysheid voor my kan strooi. Ek voel asof ek besig is om mal te word. Asof ek skielik nie meer my wêreld verstaan nie. Het jy al ooit so gevoel?”

Leigh hou vir ’n oomblik op skrop.

“Mmmm, nee. Miskien een of twee keer toe ek te veel en te vinnig gedrink het. Maar dan moet ek byvoeg dat die wêreld die meeste van die tyd nie vir my sin maak nie. Ek is dus nie die regte persoon om te vra nie.”

Retta sug. “Leigh, die aand was ’n ramp.”

“Jy bedoel, ’n totale fokop?”

“Net so.”

“Het ons gin nodig?”

“Ek dink so.”

Die twee vroue gaan sit in die klein binnehoffie by die agterdeur van Leigh se tuinwoonstel. Die bottel Bombay Sapphire staan tussen hulle en die son op die blou glas laat Retta dink aan ’n seevakansie lank gelede.

“Ek moes nooit vir Paul en Christa genooi het nie. Paul kan so blerrie ongepoets wees. En jy weet hoe passievol hulle oor hul geloof is. Toe moet ek gisteraand agterkom Dawid is nié.”

“Wat bedoel jy?” Leigh knibbel aan die stukkie suurlemoen wat sy uit haar glas gevis het.

“Wel, Dawid dink skielik Christene is die skuim van die aarde. Ek bedoel, wanneer het dit gebeur? ’n Paar jaar gelede het hy voor die hele gemeente sy geloof bely. Nou reken hy dit was niks anders as groepsdruk nie.”

“En wat dink jy? Dink jy dit was groepsdruk?”

“Wel, nee. Ek weet nie. Miskien? Flippit, Leigh. Is ek dan so uit voeling met my eie kind?”

Leigh skeur ’n pakkie pistasieneute oop en gooi ’n paar in haar handpalm uit. “Ek het nog nooit gedink Dawid is gelowig nie.”

“Hoekom nie? Wat het hy vir jou gesê?” wil Retta ietwat geskok weet.

“Dis nie wat hy sê nie. Dis wat hy nié sê nie.” Leigh kyk na haar vriendin soos iemand wat vir ’n spesifieke reaksie wag.

“Ek verstaan nie.”

“Retta, is jy vertroud met die konsep van negatiewe ruimte in kuns?”

Retta skud haar kop stadig van links na regs.

“Wel, om proporsies en skaal reg te kry, werk kunstenaars dikwels met die negatiewe ruimte rondom die eintlike onderwerp wat hulle wil skets. Hulle teken dus dit wat nié daar is nie, eerder as dit wat wel daar is. Wanneer al hierdie negatiewe detail ingeteken is, kom die objek vanself lewensgetrou na vore.”

Retta lyk steeds totaal verward.

“Kom, laat ek jou wys.”

Leigh gaan haal ’n vel papier en potlood in haar ateljee en sprei die papier op die tuintafeltjie oop.

“Sê nou maar ek wil daai bottel gin teken sodat die skaal en proporsie eenhonderd persent reg is in verhouding met alles wat om die bottel staan …”

Retta skuif reg om beter te kan sien wat haar vriendin op die skoon vel papier teken.

“… dan teken ek die agtergrond in plaas van die eintlike bottel Bombay. So … sien jy?”

Leigh teken die ruimte om die bottel. Die plante, die tafeldoek, die stuk stoel wat bo die tafel uitsteek. Toe sy klaar is, is die vorm van die ginbottel die enigste stukkie wit wat oor is op die papier. En dis perfek.

“Wow. Amazing.” Retta is verstom.

“Nè? En dis ’n metafoor vir die lewe, glo my. As jy wil weet wat regtig in iemand se kop aangaan, luister na dit wat hy of sy nié sê nie. Kyk na dit wat hulle nié doen nie.”

“Ek verstaan nog steeds nie.”

“Laat ek vir jou ’n storie vertel, dan sal jy beter verstaan.”

Leigh skink vir hulle vars glasies, steek ’n sigaret aan en leun terug in haar stoel.

“Toe ek in my twintigs was, het ek smoorverlief geraak op ’n ou. Brandon was lank en stil en ’n bietjie moerig, nes ek van my mans hou. Slim ook. Met die mees sensuele mond wat kon soen soos niemand voor of na hom nie. Ons het vir wéke gesoen voordat ons op enige ander manier gevry het. Dit was hemels. En soos dinge maar verloop in romantiese verhoudings, het die soen uiteindelik oorgegaan in full-on, witwarm seks. Die man was ongelooflik in die bed. Dit het hoeveel keer gebeur dat ons planne maak om uit te gaan vir ete en eenvoudig nooit daarby uitkom nie, omdat ons mekaar gryp en dan nie kan end kry nie. Ek dink nie ek was ooit weer so maer soos toe nie. Of so jags nie.”

Leigh maak ’n weemoedige geluidjie. “Dit het vir meer as ’n jaar so aangehou. Die koorsagtige middae in die bed, gesteelde oomblikke hier, daar en oral. Ons het alles probeer, mekaar oral bygekom. Op elke meubelstuk en in elke hoekie van my tuin. Eenkeer selfs in ’n aantrekhokkie by Woolworths. Maar die vryery het altyd dieselfde begin: met daai hemelse mond van hom op myne. Toe, eendag, verander dit.”

“Verander? Hoe?” Retta is vasgevang soos ’n klein dogtertjie wat na ’n slaaptydstorie luister.

“Een middag val hy by my in en begin my klere van my lyf afskeur. Ons het wilde, superhot seks. Maar iets is anders. Hy soen my nie. Glad nie. Nie as deel van die voorspel nie, maar ook nie tydens of na die daad nie. Net dit. Ek het dadelik geweet dis verby. Nie oor iets wat hy gedoen het nie, maar oor die een ding wat hy nié gedoen het nie. Verstaan jy? Die heel belangrikste tekens is die onsigbares, verskuil tussen ander shit. Twee dae het verbygegaan sonder dat ek van hom gehoor het. Hy het nie sy foon geantwoord nie. En op die derde dag het hy ’n boodskap gestuur. Net ’n paar woorde: Sal jou altyd onthou. That was it.”

Retta dink aan al die verskuilde tekens wat sy moontlik gemis het. Dawid wat nooit reageer as sy vir hom sê “Ek bid vir jou” nie. Nie eens met ’n dankie nie. Sy stilte wanneer sy vertel hoe God haar met dit of dat geseën het. Hoe hy nooit meer sy oë vlugtig toemaak voor ete nie. Dis inderdaad die dinge wat nié gedoen en gesê word nie, wat die meeste gewig dra.

Sy is meteens terug by die tas in die kattebak. Dis nie die tas nie, besef sy nou. Dis die ruimte óm die tas wat die storie vertel. Voor haar geestesoog sien sy hoe Leigh die asimmetriese ruimte in die kattebak teken sodat net die buitelyne van Tobie se leer-naweektas oorbly. Netjies heel links, heel agter. Om plek te maak vir nóg iets waaroor hy nie praat nie.

“Retta?”

Leigh se stem swem vasberade boontoe om deur die oppervlak van Retta se gedagtes te breek.

“Lauretta?”

“Ek dink ek verstaan. Jy weet, die negatiewe-ruimte-ding. Ek moet leer om daai onsigbare goed raak te sien. Hoe het jy so slim geword?”

“Een woord: oorlewing.” Leigh lag. Sy druk haar sigaret dood en kyk haar vriendin in die oë.

“Dawid moet sy eie pad vind, Retta. Jy kan hom nie dwing om te glo waarin jy glo nie. Hy’s ’n grootmens. En jy weet mos, ek sukkel self om te glo aan die fairy tale van God wat vir ons sondes gesterf het. Maria wat sonder seks preggies geraak het. Die hele ding is vir my net te weird.”

“Ja, ja. Maar jy’s ’n uitvaagsel. Dawid is my sagte kind, my hart se punt.”

“Oh well, thank you very much! Jy gee dus nie om dat ek ’n one-way ticket na die verderf het nie? Jy’s net geworried oor jou kosbare Dawid?”

Leigh gryp geskok na haar hart met haar een beringde hand. “Weet jy wat staan in Moses drie vers drie?”

Retta rol haar oë, want sy kan net raai wat nou kom.

“If all else fails, have another dop.”

Met dié skroef Leigh weer die Bombay se prop los.

“Weet jy, Leigh, my lewe is vrot van die negatiewe ruimte.” Dis asof daar vir Retta Blom ’n lig opgegaan het. Sy het ’n kode uitgewerk en voel asof sy op die randjie van ’n deurbraak is.

“Ons almal se lewens is, girlfriend.”

“Ek bedoel, daar is meer goed wat nié gesê en gedoen word nie as wat wel gesê en gedoen word. En ek staar my blind teen die krummels van die sê en doen.”

Retta dink aan haar grootwordjare met haar pynlik netjiese ma. ’n “Senuweelyer”, soos mense destyds na neurose, psigose en enigiets siekerigs aan die sielskant verwys het. Sy kan eerlikwaar nie onthou dat daar ’n enkele oomblik van warmte tussen hulle was nie. Nie ’n drukkie of ’n sagte woord of ’n koekblik met tuisgemaakte beskuit voor sy koshuis toe moes gaan nie. Net die alewige druk om alles perfek netjies en reg te hou, veral haar lyf en klere. Dit wat die wêreld kan sien. Die diëte wat haar ma vir haar en haar suster uitgeskryf en op die yskas geplak het saam met knipsels van vet mense. Die Atkinson-dieet. Die druiwedieet. Die Hartstigting se dieet. Sy glimlag.

“En dié smile?” wil Leigh weet.

“Ek dink nou net aan die keer toe my ma vir my en Irma op die Hartstigting se dieet gesit het. Op dag twee of drie kon mens net een vrug vir aandete eet. Dit was somer, en Irma het summier na die Portugees op die hoek gery en vir haar ’n hele waatlemoen met haar sakgeld gaan koop. Ek sal nooit vergeet hoe sy met daai yslike waatlemoen in haar fiets se mandjie aangery gekom het nie. Ek was verslae, en toe ek vra wat aangaan, het sy net gesê: ‘Aandete.’ Sy het daai hele waatlemoen probeer verorber daai aand. Ek het gehelp. Ons het deur die nag aanhoudend opgestaan om te piepie.”

Leigh skud soos sy lag. “Dis classic!”

Dan is sy weer ernstig. “Die alewige diëtery – dis natuurlik ook negatiewe ruimte. Dink mooi daaroor: ons praat hier van die kos wat julle nié geëet het nie. Die samesyn wat julle nié gehad het nie.”

Retta knik haar kop instemmend. Is dit regtig die liefde wat sy nié as kind gekry het nie wat haar gevorm het? Sy dink aan die kere wat sy en Irma saam met hul ma dorp toe is om klere te koop, en moes aanhoor hoe dik hulle was, hoe groot hul plaasvoete was, hoe g’n gewone klere of skoene hulle ooit sal pas nie. Hoe hulle nooit mans sal kry met sulke lywe nie. Sou sy minder obsessief-kompulsief gewees het as haar ma haar nou en dan vasgehou het? Sy het altyd gedink dis haar ma se verbale afknouery waaraan sy so swaar dra in haar grootmenslewe. Dalk is dit baie eenvoudiger as dit. Dis die gebreke en verlies, die “oop ruimte” om haar, wat haar afets as persoon. Gebrek aan liefde en hartlikheid in haar grootwordhuis. Die verlies aan haar pa op ’n tere twaalfjarige ouderdom.

Sou sy beter kon cope op universiteit as daar ’n koekblik met fudge en kleinkoekies van haar ma in haar kas was? ’n Briefie in haar boekesak wat sê: Sterkte vir die termyn, my kind. Ek is so trots op jou, soos haar kamermaat se ma gemaak het? Sou sy meer onderskeidings in haar onderwyskursus gekry het en meer suksesvolle verhoudings aangeknoop het as haar ma haar self kom aflaai het en nie elke keer ’n saamrygeleentheid vir haar en Irma gereël het nie?

Irma. Retta voel hoe prik trane agter haar oë. Haar jonger suster is al ses jaar dood. Sy mis haar nog elke dag. Negatiewe ruimte het vir Irma ingesluk.

“Ek wil vir jou ’n song speel,” sê Leigh en verdwyn in die huis. Die volgende oomblik is die volume van die Bluetooth-kassie op sy hoogste en die eerste note van ’n nuwe snit weerklink deur die huis en spoel uit na die klein tuintjie.

“Dis die Dave Matthews Band,” kondig Leigh aan toe sy weer kom sit. “ ‘The Space Between’. Luister na die woorde, Rets.”

Retta hoor hoe Dave Matthews sing van die ruimte tussen mense, emosies en gebeure. Van alles wat mense nié vir mekaar sê nie. Die leuens wat ons vertel om ons teen pyn te probeer beskerm. Sy het die song al hoeveel keer gehoor, maar nog nooit regtig na die woorde geluister nie.

“The wicked lies we tell,” eggo Retta die lirieke ingedagte. “Leigh, daar’s iets wat ek jou nog nie vertel het nie. Die tas in die boot …”

“Urgh, not that old chestnut!” sug Leigh oordrewe.

“Ek weet jy dink ek’s net neuroties. Maar daar’t nog iets gebeur waarvan ek jou nié vertel het nie.”

Leigh se gesigsuitdrukking lyk soos dié van iemand wat sien hoe lank die ry by die belastingkantoor is. Retta sluk die laaste jenewer uit haar glasie met een lang, gedetermineerde teug. Sy het iemand in haar hoek nodig. Iemand wat nie sal oordeel nie en wat vir haar perspektief sal gee. Sy is so gatvol daarvoor om stil te bly en privaat te wroeg oor alles. Dis net nóg goed wat nie gesê word nie, en wat haar aanhou definieer as die een wat cope, die een wat volmaak is, die een met die wit-en-beige lewe. Sy voel dit aan haar water dat iets verkeerd is. So what as sy oorreageer of ’n bietjie paranoïes is? Paranoia is nie gevaarlik nie. Gelatenheid wel. Dit kan mens in die moeilikheid kry. Die afgelope ruk se maak-asof-alles-oukei-is werk nie meer vir haar nie.

“Koba het gesien hoe iemand vir Tobias by Kaapstad se lughawe aflaai. ’n Vrou met ’n jong kind. Sy het my net daar van die lughawe af gebel. Wat my laat dink sy het gevoel iets was nie heeltemal pluis nie. Tobias het die dogtertjie op die voorkop gesoen en gelyk asof hy hulle baie goed ken.”

Dave Matthews rasper sy waarhede oor die speletjies wat mense met mekaar speel terwyl daar nou ’n onkenmerkende stilte tussen die twee vroue hang. Vir die eerste keer lyk dit vir Retta asof Leigh dalk haar twyfel ernstig opneem.

“En hy het jou niks oor sy lift lughawe toe vertel nie?”

“Nee.”

“Jy’t hom ook niks daaroor gevra nie?”

“Nee. Ek wou. Maar op die ou end was ek te bang vir wat ek gaan hoor.”

Noudat Retta dit hardop sê, besef sy vir die eerste keer dat dit wel die rede is waarom sy besluit het om nié vir Tobias te konfronteer nie.

“Daar’s waarskynlik ’n baie logiese verduideliking vir die lift lughawe toe. Jy besef dit, nè?”

“Ek is nie so seker nie. Ons ken nie mense met jong kinders nie. Veral nie in die Kaap nie. Tobias vertel my nie alles van sy werk en kollegas nie, maar ek dink hy sou vir my genoem het as een van sy kollegas se vrouens hom by die lughawe afgelaai het. Hy gebruik gewoonlik ’n Uber.”

Leigh skud haar kop en maak ’n geluid tussen ’n snork en ’n lag.

“Wat?” wil Retta weet.

“Fokkit, Retta. Jy’s net weird, dis al. Ek sou die man ingewag het en dadelik met vrae gepeper het. Nee, hel, ek sou hom al op die lughawe gebel het, die oomblik wat ek uitgevind het van sy lift. Jou restraint is amper bomenslik.”

Die goed wat ons nié sê nie.

“Ek is nie weird nie, Leigh. Ek is net nie soos jy nie. Daar’s ’n verskil.”

“Ook waar. Maar hoekom vra jy hom nie net prontuit of hy hierdie keer ook ’n Uber gehuur het in die Kaap nie?”

“Ek wil nie een van daai vrouens wees nie, Leigh.”

“Maar obviously ís jy een van daai vrouens! Kyk hoe wroeg jy dan oor die hele ding?”

Retta dink mooi daaroor na. Haar verduideliking is nie die volle waarheid nie. Sy voel op ’n eienaardige manier dat sy die hef in die hand het en dat sy die inligting vir haarself moet hou as sy Tobias wil “uitvang”.

“Sodra ek Tobias begin uitvra oor goed, sal hy snuf in die neus kry oor mý snuf in die neus. En dit sit my in ’n swakker posisie om agter die waarheid te kom. Maak dit sin?”

Leigh knik haar kop stadig.

“Dit doen. Knowledge is power. Terwyl hy nie weet jy wantrou hom nie, sal hy nie op sy hoede wees nie, en as daar iets is om uit te vind, sal jy dit makliker kan uitvind. I get that.”

“Presies.”

“Maar ek dink nog steeds jy sit jouself verniet deur al hierdie pyn, Retta. Tobias is net nie die soort ou wat so iets sal doen nie. Ons weet dit al twee.”

“Weet ons? Weet ons dit régtig, Leigh?”

“Girl, ek dink dis tyd dat jy iets vir jouself doen. En daarmee bedoel ek nie jy moet jou slaapkamer optert met behulp van Mark Tossels nie. This isn’t something you can throw scatter cushions at. Ek praat van iets cools nét vir jou. ’n Nuwe hobby. ’n Ontdekkingsreis. Kleur die Retta-prentjie so ’n bietjie in. En vergeet van jou obsessie met die negatiewe ruimte om jou. Daai is ander mense se shit. Konsentreer op dit wat jou gelukkig maak. For once in your life.”

Leigh is natuurlik reg. Sy wat Retta is, is altyd besig met goed wat haar gesin gelukkig hou, of ander mense beïndruk. Selfs mense wat sy glad nie ken nie moet geakkommodeer en gepaai word. Sy ly aan akute ordentlikheid. Soms wonder sy of sy regtig so baie van haar wit paleis hou. Mark put egter soveel genot daaruit om Retta as een van sy binneversieringskliënte te hê, dat sy soms die opknappingsprojekte aanpak bloot om hóm happy te hou.

Sy kyk om haar na die chaos van Leigh se leefruimte. Selfs die stoepie waar hulle sit, is ’n ontploffing van kleur en tekstuur. Mosaïek op potte en teen die lae muurtjie, oral plante wat uitbundig blom, sonder struktuur of plan. Leë bierbottels in ’n krat. Twee vet katte op ’n verslete ou kussing. Retta sal nooit in só ’n deurmekaarspul wil bly nie, maar sal nie omgee vir ’n kleiner, eenvoudiger huis nie.

“Komaan, gryp jou skoonmaakgoed. Ons kan kuier terwyl ons skrop.” Leigh maak die leë bottel en glase bymekaar en stap binnetoe.

Toe hulle binne is, wil sy by Retta weet: “Nou wat het actually gebeur gisteraand? Hoekom was dit so interessant?”

“Wel, die kids het soveel moeite gedoen. Een of ander bekende sjef se nagereg gemaak. Nie iets eenvoudigs soos pavlova of mousse nie, Leigh. ’n Hele produksie. Dit was spek-en-eier-poeding of so iets.”

“Yuck.” Dit lyk asof Leigh tot in haar kleintoontjie gril.

“Dis juis die ding. Dit was ongelooflik lekker. Maar Paul het dieselfde reaksie as jy gehad, en dit het vir Dawid vreeslik ontstel.”

“Sorry, maar my eerste reaksie is dat ek regtig nie van brekfis as poeding sal hou nie.”

“Ek weet. Maar die beroemde sjef bedien dit glo al jare in sy restaurant in Londen, en mense is gek daaroor. Nadat ek dit geëet het, verstaan ek waarom. Mens moet net oopkop wees.”

Leigh lag lekker. “Jý lecture mý oor oopkop wees. Well, that’s a first!” sê sy en knik vir Retta.

“Dis nie net die nagereg nie. Die hele aand was Paul regtig onsmaaklik teenoor Dawid en Amy en hul pogings met die kos. Negatief oor alles. Wou nie eens die aptytwekkerdrankie drink nie en het gevra vir ’n bier. Maar dis my skuld. Ek moes jóú genooi het. Of vir Hermien. Mense wat nuwe goed sal probeer.”

Retta is besig om die flesse waarin Leigh se verfkwaste gebêre word, met ’n bottelborsel skoon te maak. Stadig, metodies en presies gaan sy te werk. Maar dan gryp Leigh die borsel uit haar hande.

“My goeie fok, Retta. Ek het daai bottels al vanoggend skoongemaak. Doen iets anders. En baie dankie dat jy my nié na die eksperimentele aandete genooi het nie. Shit, wat ’n close call. Jy kan my liewer aan ’n stoel vasmaak en my dwing om na countrymusiek te luister.”

Retta staan nou verbouereerd rond met leë hande. Dan sit Leigh ’n lappie in haar regterhand en sê: “Hierso. Was liewer die vensters.”

Die twee vriendinne werk ’n ruk lank in relatiewe stilte. Retta was die vensters met haar kenmerkende deeglikheid en Leigh sorteer haar verf en palette.

“Hierdie is soos die tweede stadium van Morita-terapie.”

“Huh?” Retta hou nie op om die vensterglas te poets nie.

“Jy weet, Shoman Morita, die Japannese sielkundige? Hy het hierdie vierledige terapiemodel gehad vir sy pasiënte met angs en depressie. Eers ’n tydperk van bedrus. Dan ligte, vervelige werk, soos wat ons nou hier doen. Daarna harder werk, meer uitputtend. En laastens het hy hulle die wêreld ingestuur om hul nuutgevonde krag te gaan uittoets.”

“Mmm, ek is seker jy dink al plannetjies uit oor hoe jy my gaan inspan vir die volgende stadium, die bloedsweet-fase. Ek gaan seker ’n muur moet bou of iets.”

Leigh glimlag. “Mure bou is after all jou spesialiteit, Lauretta Blom.”

Retta hou vir ’n oomblik op werk en gaan sit op die koue sementvloer. “Dit is so, nè? Hoekom doen ek dit? Flip, dit irriteer my so van myself. Hoekom kan ek nie meer soos jy wees nie?”

“Glo my, daar’s net plek vir een van my in hierdie wêreld.”

Retta se selfoon vibreer in haar broeksak. Dis Dawid.

“Hallo, seun. Is iets fout?”

“Niks is fout nie, Ma. Ek wou maar net jammer sê vir gisteraand. Dat ek so uitgefreak het omdat oom Paul ’n doos was. Hy is seker reg. Mens gaan customers kry wat nie van jou kos hou nie. Hy het my seker ’n moerse guns gedoen.”

“Jy hoef nie om verskoning te vra nie, my kind. Julle het ’n amazing maaltyd gekook. Dis Paul Biddulph se verlies as hy dit nie kon geniet of waardeer nie. Ek hoop jy en Amy sal weer vir ons kook.”

“Ja! En hierdie keer hoop ek jou ma nooi mense wat actually proeknoppies het!” skree Leigh vanuit die ander hoek van die vertrek.

“Sê vir Leigh ek sê howzit, Ma.”

“Ek sal.”

“Oukei. Dan groet ek maar. Be cool, Ma, don’t do drugs.”

“Dawid, wag! Ek wou nog sê, ek en Pa hou baie van Amy. Julle moet oorkom vir ’n kuier nou en dan. Ons bestel sommer pizza of iets.”

“Yes, oukei, Ma. Whatever. Ons doen nie eintlik Fiefie-en-Faffie stuff nie. Maar cool. Ek’s bly julle like haar. Gotta go.”

Dawid verbreek die verbinding en los vir Retta hangende. Sy het haar reggemaak vir ’n gesprek – al is dit ook hoe kort – oor sy meisie.

“Wat beteken dit, vra ek jou?” wil sy by Leigh weet, nog met haar selfoon in haar hand.

“Wat beteken wat?”

“Ons doen nie eintlik Fiefie-en-Faffie stuff nie.”

“Is dit ouboet wat so praat? Van hom en sy girl?”

“Jip.”

“Retta, relationships val deesdae nie in ’n enkele, oorkoepelende kategorie nie. Toe jy nog gedate het, was dit ‘Boy meets Girl, Boy dates Girl, Boy marries Girl’. Nou kan dit enigiets wees van ‘Boy dates many girls but bonks only one girl’ tot ‘Boy loves Boy but needs a Baby Mama Girl’ – en natuurlik al die variasies tussenin. Los die kinders net uit. En moenie te veel vrae vra nie.”

“Hoe het jy so slim geword, Leigh-Anne Dunbar? Jy’t nie eens kinders nie, maar jy weet alles van die bloedjies af. Jy’t nog nie ’n dag se angs ervaar nie, maar weet alles van dokter Marita se metodes af.”

“Mo-rita,” help Leigh haar reg.

“Morita. Jy is voorwaar ’n menslike wonderwerk.”

“Jip. En dis waarom jy my love, girlfriend. Retta, as daai glasdeur nog skoner raak, gaan mense en voëls hulself afskryf omdat hulle nie die glas kan sien nie. I think you’re done there.”

“Vertel my net een ding, en dan belowe ek ek sal huis toe gaan.” Retta vou die lap waarmee sy gewerk het sorgvuldig in ’n piepklein vierkantjie.

“Shoot.”

“Hoe hanteer jy die aanslae van die lewe as jy nie in iets glo nie?”

Leigh gaan staan met haar hande op haar heupe. “Wag so ’n bietjie, ek glo nie in niks nie. Ek glo net nie soos jy glo nie. Daar’s wel ’n verskil, hoor.”

“Oukei, sure. Maar wat doen jy as jy leiding nodig het, of troos, of as jy dankbaar voel vir al jou blessings? Met wie praat jy?”

“Is dit hoekom jy in God glo, Retta? Omdat jy iemand nodig het om mee te praat? ’n Big Daddy wat jou verstaan en alles regmaak?”

Retta dink ’n rukkie en sê dan: “Dis beslis ’n groot deel van waarom ek glo, ja. Ek kan my nie die hopeloosheid indink van ’n wêreld sonder daai Big Daddy nie.”

“Jy kiés dus om te glo, want dit maak die lewe net makliker? Dis ’n besluit wat jy geneem het?”

“Miskien. Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat ek nog nooit anders geglo het nie, en nooit sal nie. Vir my is God en die hiernamaals ’n feit. Finish en klaar. Maar hoe het jy my vrae nou met nog vrae beantwoord? Jou blerrie skelm!”

Leigh stoot die laaste houer vol verfbuisies onder een van die tafels in.

“Oukei. Hier’s wat ek glo. Ek glo in liefde. Ek glo in balans. Ek glo in what goes around, comes around. Energie kan nie vernietig word nie. Positiewe energie lok positiewe energie uit. Dieselfde gebeur met negatiewe energie. Dit kry plek om nes te maak en dis nooit goed nie. Ek glo dat enigiets moontlik is en dat die menslike brein nie die grootsheid van alles wat daarbuite bestaan, kan verstaan nie. Ek glo dat godsdiens ’n euwel is wat veroorsaak dat broers mekaar doodmaak. Godsdiens lei tot oorlog. Deur al die eeue heen nog. Ek kan eintlik nie sien hoe slim mense nie daai som gemaak kry nie. In die naam van God word die allervreeslikste kak aangejaag. En sorry, Retta, jy het my nou gevra en daarom gaan ek doodeerlik met jou wees: Baie mense, soos jy ook nou weer bevestig het, glo in God as ’n soort versekeringspolis om hulle eendag op die Goeie Plek uit te bring. Net ingeval daai plek wel bestaan. Dit werk nie vir my nie.”

Retta kyk na haar eksentrieke vriendin. Sy bid baie vir Leigh. Veral wanneer sy alleen gaan draf, sonder Berdine se aanhoudende gekwetter in haar ore.

“En waar dink jy sal jy wakker word wanneer jy dood is?”

“Ek gaan nie wakker word nie, girlfriend. Ek gaan dood wees. Soos in, vir ewig en altyd. Die Groot Swart. En ek moet sê, dit klink nie vir my onaangenaam nie. Ek is mos lief vir slaap.”

“Dis seker wat Dawid ook glo,” dink Retta hardop.

“Wat bedoel jy, ‘seker’? Hoekom vra jy hom nie reguit wat hy glo nie? Jy is tog sy ma? For fuck’s sake, Retta!”

“Ek moet waai. Kyk waar staan die tyd. Thanks vir die luister, Leigh. En vir die Morita-terapie. Ek voel regtig beter.”

“Wel, jy lyk soos shit. Gaan vroeg bed toe en kry ordentlike slaap. En dink aan ’n projek net vir jouself. Project Retta. Jy het dit nodiger as wat jy besef.” Leigh gee haar ’n drukkie. “Thanks vir jou harde werk, dolla. Volgende keer doen ons stap drie. Jy gaan mure afbreek!”

Die dekonstruksie van Retta Blom

Подняться наверх