Читать книгу Rewolusie van die hart - Adriana Faling - Страница 10
Hoofstuk 6
ОглавлениеPRETORIA. AUGUSTUS 2010
Die dae glip vinnig weer in die gewone ritme terug. Dis so reg as Petrus tuis is, dan funksioneer hulle weer soos ’n normale gesin. Petrus gaan elke dag kantoor toe en saans ontwerp hy webtuistes vir ’n ekstra inkomste. Sy is weer baie besig met die skoolaktiwiteite. Die revue-optredes begin volgende week en die kunswedstryd is om die draai.
Sy is dankbaar dat Markus se arm so goed herstel. Die dokter reken dat daar nie eens letsels sal oorbly nie. As Petrus tuis is, gaan dit ook goed met Alexander en daar was nog nie weer enige vuurwerke nie. Talitha gaan stil haar gang.
“Ek gee Sondag by ons gemeente terugvoer oor die laaste gebedsreis,” kondig Petrus aan. “Kindertjies, julle moet asseblief help dat ons betyds is.”
“Ja, Pappa,” koor hulle.
Salomé trek haar wenkbroue op. “Hoe lank het jy hierdie keer geleentheid om te praat?”
“Vyf minute,” antwoord Petrus afgehaal. “Maar dis darem iets.”
Sy skud haar kop en kyk simpatiek na hom. Petrus se grootste werkfrustrasie is sekerlik dat baie van die kerke doof is, of verkies om te wees, vir die nood van die gelowiges in ander lande. Hulle het al soveel daaroor gefilosofeer.
“Mense het seker te veel probleme van hulle eie en wil nie van ander s’n ook hoor nie,” het sy probeer troos.
“Ek is nie onsimpatiek teenoor mense se probleme nie, Sally. Ek weet die lewe is dikwels ’n gekompliseerde en moeilike plek. Maar dis nie ’n verskoning om nie te wil hoor nie. Dit is juis goed om ons probleme in perspektief te sien. En ja, ons probleme sal sekerlik meer en meer word, as ek die Woord reg verstaan, maar ons het soveel te leer by die gelowiges wat alreeds hierdie pad gestap het.”
Daar was die geleentheid toe Petrus by ’n megagemeente wou praat. Die kerk se antwoord was dat hulle in die “welvaartsteologie” glo: Die Here wil sy kinders met rykdom en gemak seën en kan nie glo die Here sal toelaat dat gelowiges so vervolg word nie. Daar moet sekerlik sonde in hulle lewe wees.
Hulle het belowe om tog ’n geldelike bydrae te maak om die huidige nood te help verlig, waarop Petrus so kwaad geword het dat hy sarkasties gesê het hulle moet dit liewer gebruik vir hulle gemeente se nuwe bouplan. Dalk kan hulle lugverkoeling installeer, dat die mense nog gemakliker kan kerk hou?
Salomé het hom lanklaas so kwaad gesien.
“Wat dink hulle?” het hy gebelg gesê. “Het Jesus in lugverkoelde kerke met gemakstoele gepreek? Het Hy hoegenaamd ’n huis gehad? Hy het in die veld geslaap en van mense se dankoffers gelewe. Is hulle nou beter as Jesus self?”
Salomé het al geleer om net te luister.
“Hoe kry hierdie kerke dit reg om net hulle harte te verhard en die nood van ons medegelowiges te ignoreer?”
Hy kan dit nie regkry nie. Dit is ’n las waarmee hy elke oggend opstaan en elke aand gaan slaap. Dit is waaraan hy sy ure by die werk en op reise bestee, om die stem te wees van ’n kerk wat die wêreld wil stom hou.
Elke keer spring hy weer vuur en vlam aan die werk en probeer manalleen die wêreld verander, net soos die Petrus van ouds. Hoe gepas is sy naam nie, het sy al dikwels gedink.
Petrus lyk altyd effe ongemaklik met ’n das om sy nek. Met sy groot postuur lyk dit steeds soos ’n dun vlag om die dik mas van ’n boot. Die kinders sit ook netjies gekam en aangetrek in ’n rytjie langs mekaar. Voorwaar ’n perfekte pastorieprentjie. Hoe anders voel die realiteit nie.
Uiteindelik is dit Petrus se beurt. Haar fors man met die nederige hart maak haar altyd trots wanneer hy praat. Sy vriendelike geaardheid wen meestal die gehoor vinnig. By hulle tuisgemeente is hy welbekend en geliefd, maar ook reeds in ’n boksie geplaas: “O, Petrus praat weer vandag oor ’n sendingreis. Ag, dis altyd ’n mooi storie.”
Salomé glimlag bemoedigend vir hom en kyk onderlangs na die gemeente.
“Liewe gemeente, daar is ’n paar maniere om hierdie spreekbeurt te begin: ‘Die oesland is groot en die arbeiders min,’ of ‘As een deel van die liggaam ly, ly almal.’ Maar hierdie Bybeltekste ken julle al uit julle kop, nè?”
Die gewone gesigte knik belangstellend. Dié wat gewoonlik ’n geldjie bydra tot ’n sendingreis of hulle naam op die gebedslys sit. Die res se oë is afwesig.
“Vandag gaan ek dus begin deur die volgende stelling te maak. Ons as gemeente en as kerk in die Weste, verpas die geleentheid van ’n leeftyd as ons nie betrokke raak by die werk wat God reeds in die Midde-Ooste doen nie. Nog nooit was die tyd so ryp en die omstandighede so gunstig om met die evangelie ’n impak te maak nie. Ons hoef nie meer motors volgepak met Bybels deur grense te smokkel nie. Ons het TV, radio, internet en wie weet hoeveel ander hulpmiddels. Ons kry die evangelie tot by die mense sonder dat ons eers self daar is. Maar die oesland ís groot en die arbeiders ís baie min,” sê hy ernstig. “Ons moet die klein persentasie vrywilligers waarop ons staatmaak om hierdie boodskap uit te dra, se hande versterk. Hulle werk met die minimum hulpmiddels om die evangelie te bring. Die Here is altyd getrou. Ons hoor weekliks getuienisse van hoe Hy die groei bewerkstellig. Maar daarna moet ons daardie kerk versterk en help groei. Ons moet hierdie kerk, ons jong sussie, se hand vat en haar leer uit die Woord en ons moet ons trots laat staan en toelaat dat ons jong sussie ons leer oor die pad van geloof. Want dit is waar: As een deel van die liggaam ly, dan ly ons almal saam. Ons het so baie te leer by haar.” Hy wys ’n paar skyfies van verskillende lande, noem statistiek en verduidelik aan die hand van wêreldgebeure waarom hy so sê.
Die sangleier begin saggies in die agtergrond op die klawerbord speel; die teken dat Petrus moet klaarmaak. Sy sien die frustrasie oor sy gesig flits.
“Dit is ons mandaat as kerk van God om sy evangelie na die verlore mensdom te bring. Ons broers en susters in die vervolgde kerk is gehoorsaam aan hierdie opdrag, in dapperheid. Hulle doen hulle bes om te oorleef en die goeie nuus te bring, maar hulle smeek ons vir ons ondersteuning en gebede. Hulle het dit nodig dat ons hulle besoek en bemoedig. Ons mag ons nie doof hou vir hulle versoeke nie. Kom skryf dus jou naam op vir ’n gebedsbrief, gee geld vir hierdie werk en bo alles: bid. Moet hulle nie vergeet in julle gebede nie.”
Toe hy weer kom sit, gee sy sy hand ’n drukkie. Hy kyk af na haar en sy sien sy bewolkte oë.
Die predikant se boodskap is goed, maar bevat geen verdere verwysing na wat Petrus met die gemeente gedeel het nie. Was sy terugvoer net nog ’n item op die kerk se spyskaart van die oggend?
Salomé wil ná die diens net in die motor klim en by die huis gaan wegkruip. Sy is kwaad vir almal en vir niemand in die besonder nie. Hulle moet egter bankvas in die voorportaal staan om met enige belangstellendes te gesels. Alexander rem aan haar hand en kerm luidkeels dat hy honger is.
’n Paar vriendelike gesigte kom skud hand en skryf hulle name op die gebedsbrief. Een of twee vra belangstellend verder uit na die werk.
“Julle doen bewonderenswaardige werk, hou so aan,” koer ’n ander een.
En nog een: “Bless julle, hoor, dis awesome!”
Vriendelike, goed bedoelde woorde wat nie die diepte van die werk omvat nie.
Of: “Ag, ek wens ek kon ’n keer saamgaan, maar my werk, kinders en finansies laat dit net nie toe nie.”
Vroeër sou Petrus redeneer oor al die flou verskonings, maar hy het al geleer dat dit in elk geval nie ’n verskil maak nie en reageer dus nie meer daarop nie.
Een man kom staan voor hulle. “Vir wat gaan foeter julle na ander lande terwyl hier in Suid-Afrika soveel nood is? En dan kos dit die kerk so ’n hoop geld. Reg op ons voorstoep gaan mense dood van die honger en dit sonder die evangelie.”
“Jy’s reg, Meneer. Ek stem saam met jou dat ons beslis daaraan moet aandag gee. As dit op jou hart is, gaan vertel dit. Die Here gee vir ons elkeen ’n roeping,” kom Petrus se antwoord sonder ompaaie.
“Nee, ek is nie ’n sendeling nie. Julle vir wie die Here geroep het om sendelinge te wees moet dit doen. Boonop sê die Woord eers Judea, dan Samaria en dan die res van die wêreld,” haal hy die Skrif vry aan.
“Nie die een of die ander nie, maar albei,” antwoord Petrus bondig. “Dit was ook die model van die eerste apostels en daarom mag ons mekaar nie kwalik neem as ons in verskillende areas werksaam is nie.”
Die man stap sonder ’n verdere woord weg.
Die volgende man wat op hulle afstap, betrap hulle onverhoeds. “Ek stem glad nie saam daarmee dat julle tyd en geld mors om na die Midde-Ooste te gaan nie. Ek lees tans ’n boek oor die miljoene mense wat oor die eeue heen deur Moslems vermoor is. Hulle is ’n klomp vloekstene en swerkaters.”
Petrus het ’n oomblik nodig om sy selfbeheersing terug te kry. Salomé ken al die trek van sy mond. Die man moes al gedink het dat hy hom nie gaan antwoord nie, toe Petrus gevaarlik stil sê: “Islam is ’n godsdiens waaruit onnoembare pyn voortgevloei het, ja, Meneer. Maar Jesus het die Moslems ook lief en het vir hulle sondes gesterf net soos vir joune.”
“Gmf,” snork die man en stap weg.
’n Stil, maer ou vroutjie stap ook nader. “Julle stories laat my dink aan die plaasmoorde hier. Dit gebeur elke week, maar niemand doen iets daaraan nie.” Sy skud haar kop hartseer. “Die Here moet ons almal genadig wees. Hoe durf ons ons oë wegdraai van soveel onreg. Ek sal vir julle bid.” Sy gee Salomé se arm ’n drukkie en stap moeisaam weg.
Hulle is stil toe hulle uiteindelik huiswaarts keer. Lamppale skree die nuus uit dat nog iemand vermoor en verkrag is en nog ’n bekende sanger sy vrou verneuk het. Die Wêreldbeker-sokkertoernooi het toe nie soveel geld ingebring soos wat daar gehoop is nie.
Ons is ’n volk wat lamgeslaan word deur slegte nuus, dink Salomé.
Voos maak sy koffie. Sak op die rusbank neer.
“Maak dit alles enige verskil, Sally?”
Sy sê niks nie.
“Maak nie saak wat ek sê nie, dit voel vir my die kerke bly horende doof.” Toe, as ’n nagedagte: “Jesus het dit twee duisend jaar gelede ook gesê.”
“Dis darem nie almal nie, Petrus,” troos sy.
“Jy’s reg, dis nie almal nie. Ek besef ook dat almal nie betrokke kan raak nie; elkeen het sy roeping. Maar daar is nog veels te veel wat nie betrokke is nie. Dit is aaklig om te voel dat jy die draer is van sulke ongemaklike nuus en dat niemand jou boodskap wil hoor nie.”
Sy luister stil.
“Ek wil nie ’n skuldlas op mense plaas nie, Sally. Dit sal so verkeerd wees om mense skuldig te laat voel en só ’n geldjie uit hulle te wurg. Bewaar my daarvan. Ek wil hulle net laat besef wat ’n geleentheid ons as kerk deur ons vingers laat glip as ons nie betrokke raak nie. Ek weet dat hulle nie weet wat ons mis nie.”
Sy knik simpatiek.
“Soms is ek lus en pak ons goed op en trek na die Midde-Ooste. Dan hoef ek niks te make te hê met die slapende kerke in Suid-Afrika nie.”
Sy skrik.
“Dan hoef ek nie vir soveel weke van julle af weg te wees nie. Dan is ons heeltyd bymekaar,” sê hy passievol.
Sy dink aan hulle huis, die kinders se skool en haar werk en weeg dit op teen die onbekende Midde-Ooste.
“Sally?”
“Ek deel nie jou roeping nie, Petrus,” sê sy sag.
Dit slaan hard. Hy sit terug op die leunstoel.
“Ek is jammer. Ek wens dit was anders,” probeer sy opmaak.
“Dis nie jou skuld nie,” sê hy moedeloos.
Die dag is bederf.
“Kom ’n keer saam met my, Sally?” vra hy die aand.
“Ek was mos al saam met jou.”
“Nee, ek bedoel op ’n gebedsreis, nie net ’n besigtigingstoer nie.”
’n Koue hand klem om haar keel. Sy het gedink hulle rolle is verdeel: Hy behartig die reise en die geestelike deel, sy pas die kinders op en hou die fort.
“Wat van my werk en die kinders?” Sy weet sy klink soos die mense by die kerk en sy haat dit.
“Ons kan dit in vakansietyd probeer reël en ons kan mos vir een keer iemand vra om ons uit te help met die kinders? Of nog beter, die kinders kan saamkom,” maak Petrus planne.
“Volstrek nie.” Haar juffroustem. “Ek sal nooit instem dat jy my kinders na so ’n gevaarlike plek neem nie.”
“Dis my kinders ook,” sê hy waarskuwend, hoewel redelik. “En Suid-Afrika is net so gevaarlik. Die mense in die Midde-Ooste kan nie glo dat ek jou en die kinders alleen in hierdie gevaarlike land agterlaat nie.”
Sy dink aan die koerantopskrifte. “My ouers kry ’n oorval!”
“Dis ons kinders, nie hulle s’n nie.”
“Nee, Petrus, vergeet daarvan.”
“Nou goed, ek onderhandel nou eers vir jou teenwoordigheid, U Majesteit,” sê hy ondeund.
Hy gaan hierdie rondte wen, sy kan dit op sy gesig sien. Sy wonder of hy weet dat sy enigiets vir hom sal doen. “Petrus, ek weet nie, ek …”
“Ek wil hê jy moet verstaan en sien, Sally.” Hy is skielik weer baie ernstig.
“Dis hoekom ek saam Doebai toe was en ek het steeds nie verstaan nie.”
“Dan probeer ons weer. Ek sal probeer tot jy verstaan.”
“Ag, Petrus.”
“Sally, ek het Jesus in die Midde-Ooste in die vervolgde kerk leer ken op ’n manier wat ek Hom nog nooit in ons kerke beleef het nie,” sê hy intens.
“Bedoel jy Hy is nie in ons kerke nie?” vra sy versigtig.
“Nee, glad nie. Natuurlik is Hy hier. Maar dis anders. Hoe kan ek dit verduidelik? Dis daardie aspek van Jesus wat Petrus op die water laat loop het wat ek daar leer ken, Sally. Dit is Hy wat vir mense blinde geloof gee, dapperheid. God se vaderhart beleef ek so intens daar. Ag, en nog ’n duisend ander eienskappe van Hom!” roep hy uit.
Sy is stil.
“Ek wil so graag hê jy moet Hom en sy kerk ook so ervaar, Sally. Ek wil hê jy moet verstaan. Dink daaroor. Bid daaroor. Ek sal nie nou ’n antwoord vra nie, maar belowe my jy sal bid daaroor?”
Sy kyk eers lank ernstig na hom. Hulle maak nie leë beloftes teenoor mekaar nie. Toe knik sy. Dit is vir hom baie belangrik.
Dis meer as net die kinders wat sy vir ’n ruk hier sal moet agterlaat, of om haar ouers te moet vertel, of die vrees vir Moslem-mans wat blonde vroue ontvoer en deel maak van hulle harems, wat haar huiwerig maak. Dit is Petrus se wêreld wat haar intimideer. Sy haat elke werksfunksie. Haat die binnekring van sy werk waar almal lyk of hulle op ’n ander geestelike planeet as sy beweeg. Mense wat dae lank kan vas en bid en sy kry dit skaars vir een dag reg. Mense wat haar altyd so innig vriendelik groet, asof hulle in hulle gebedstyd die een of ander voorkennis oor haar by die Heilige Gees opgedoen het en dit nou in hulle koppe oor en oor maal terwyl hulle haar met iets soos simpatie betrag. Sy voel altyd heeltemal uit haar diepte.
Niks van haar vrese bespreek sy met Petrus nie. Sy wonder net in stilte oor die ure wat hulle in gebed bestee op so ’n reis. Sal sy dit kan doen? Sal haar klere reg wees vir die kultuur daar? Eintlik voel sy skaam dat sy ná al die jare wat hy al hiermee besig is eerder minder van die detail wou weet as meer. Sy is niks beter as die mense van die kerk wat hulle horende doof hou nie. Soos hulle is sy trots op Petrus, maar wil nie self haar hande gaan vuilmaak nie en sy vermoed hy weet dit. Sy verkwalik haarself daarvoor. Soms dink sy selfs dat hy met die verkeerde vrou getrou het. Nie oor sy nie vir hom lief is nie, maar bloot omdat sy nie die diepte van sy werk verstaan en sy passie deel nie. Sy wens sy was ’n beter vrou vir hom. Miskien moet sy tog saamgaan. Sy wíl God ook so ervaar soos hy sê. Maar wat van die kinders? Moet Petrus nie juis nou in hierdie seisoen by die huis wees en hulle help grootmaak nie? Versuim hy nie sy plig nie? Moet hy nie ’n beter man en pa wees nie? So begin haar gedagtes weer van voor af die sirkelgang en rol sy die hele nag daaroor rond.
Die lewe gaan Maandagoggend volstoom voort. Sy jaag om betyds klaar te kry vir skool, dankbaar dat Petrus vir Alexander by die skooltjie gaan aflaai; dit spaar tyd. In die motor moet sy hoor dat Markus sy sportklere vergeet het.
“Ag, Markus. Hoeveel keer moet ek vir jou sê dat dit jou verantwoordelikheid is om jou sportklere in te pak? Nou moet jy maar in jou skoolklere speel,” sê sy beslis.
“Maar Mamma, ek het nie my krieketkolf of handskoene nie.”
“Dis jou eie skuld,” sê sy met finaliteit, maar sy werk klaar uit wanneer sy ’n af periode het en dalk gou weer huis toe kan skiet. Nee, dit gaan nie uitwerk nie, want sy het gereël dat die revuehoofrolle hulle solo’s by haar kom oefen in daardie tyd. Deksels.
Dirk kom tot Markus se redding. Hy het vroegoggend reeds ’n periode af en bied aan om gou te ry. Sy gee vir hom die huissleutel.
Dirk was effens bot toe hy terugkom, maar sy het nie veel daarvan gemaak nie. Haar aandag was by die kinders.
Tuis loop sy egter vas in ’n buffel wat ’n rooi doek gesien het.
Petrus stuur die kinders na hulle kamers toe. “Van wanneer af het Dirk ’n huissleutel?’
“Ekskuus?” Sy is uit die veld geslaan.
“Van wanneer af het Dirk ’n huissleutel?” vra hy weer ’n keer afgemete.
“Hy het nie ’n huissleutel nie. Ek het myne vir hom gegee omdat hy Markus se krieketkolf kom haal het.”
“En presies weet waar Markus se kamer is en sommer regdeur stap, so tuis is hy.”
Terwyl Salomé verduidelik, word sy kwaad. “Hy is tuis in hierdie huis omdat hy al so baie goed moes kom regmaak wat my man nie kan nie, omdat hy in die buiteland rondflenter.”
“Dan kry jy ’n handyman en betaal hom. Nie gunsies van Dirk nie,” sê hy smoorkwaad.
Sy staan nie terug nie. “Ons kan nie ’n handyman bekostig nie, want my man is ’n sendeling,” spoeg sy vuur.
Sy het te ver gegaan, sy weet dit. Maar maande en maande se alleen sukkel en dan so ’n insinuasie, laat haar rooi sien.
Hy is so kwaad dat hy nie kan praat nie, kyk haar net met ysige oë aan.
“Dirk is net ’n vriend wat my uithelp wanneer dit wild gaan by die huis en alles uitmekaarval en hier niemand is wat my kan help nie.” Sy huil nou. “Ek moet vir baie maande per jaar sonder jou regkom, maar ek was nie een dag ontrou aan jou nie. Nie fisiek of in my gedagtes nie. Ek moet jou verdedig so ver ek gaan, ek moet die vrugte pluk van kinders wat hulle pa mis. En nou dit? Nou verdink jy my?”
Sy oë versag, maar hy is steeds kwaad. “Dit is nie snaaks om ’n vreemde man in my huis teë te kom wat my kind se krieketstel kom haal nie, Sally. Jy kon my gevra het om dit te doen. Ek is sy pa en ek is wel nou hier.”
Sy het nie eens daaraan gedink nie. “Ek het gedink jy is kantoor toe.”
“Nee, ek het jou gesê ek het vanoggend ’n vergadering by ’n kerk hier naby en gaan eers daarna in kantoor toe.”
“Ek het vergeet,” sê sy skuldig.
“Luister dan wanneer ek praat.”
“Wat het jy vir hom gesê, Petrus?”
“Vir wie?”
“Vir Dirk. Het jy hom ook uitgetrap?”
“Nou is jy nog bekommerd ook oor die vent.”
“Ek wil net weet of jy hom sleggesê het nadat hy my ’n guns gedoen het?”
“Nee, ek het hom nie sleggesê nie; jy kan rustig slaap. Maar ek het hom nie bedank omdat hy in my huis ronddwaal nie.”
“Petrus …”
“Ek gaan draf,” sê hy toe hy by haar verbystap.
Haar woorde het diep gesny, sy weet dit.
Nog ’n aand is bederf.
Die volgende dag by die skool tel sy beslis ’n ongemaklikheid by Dirk op. Hoe om dit aan te spreek weet sy nie, want sy weet nie wat is gesê nie. Sy wil net huis toe gaan en in die bed gaan klim en slaap en slaap, so gedaan is sy. Daar is egter geen genade nie; die dag beur voort.
Die middag kom Thea met die kinders kuier. Salomé het so baie werk om klaar te maak, maar hulle het lanklaas gekuier, dus laat sy niks blyk nie.
“Wat het Petrus toe gesê?”
“Van wat?” Salomé is op haar hoede.
“Die hele ongeluk, Markus se arm? Gaan hy nou meer tuisbly?”
“Nee, hy sien dit as ’n aanval van die bose op ons huishouding. Hy sê dit is die vyand se manier om hom te keer om sy werk te doen.” Sy kan net raai hoe pateties dit in haar suster se ore moet klink – hierdie gesprekke waar sy probeer brûe bou tussen twee wêrelde.
Haar suster rol haar oë. “Nou wat gaan dit vat om hom by die huis te hou? Moet ’n kind eers doodgaan?”
“Hou op om so te praat,” keer Salomé kwaad.
“Eerlikwaar, Salomé, ek weet nie hoe hou jy dit uit nie.”
“Ek is heeltemal gelukkig, dankie.” Sy dink skuldig aan gister se bakleiery. “En dit was werklik onnodig om die hele storie teenoor Ma uit te lap.”
“Jy lýk heeltemal gelukkig,” snip Thea sarkasties. “En Ma het die reg om te weet as haar kleinkinders seergekry het.”
“En ek het die reg om vir Ma te vertel soos en wanneer ek goeddink.”
“Nie as ons elke keer die kastaiings uit die vuur moet krap wanneer jou man nie hier is nie!”
“As jy my nie wil help nie, sê so, dan vra ek iemand anders.”
“Soos wie?”
Skaakmat.
Sy vertrou niemand anders met haar kinders nie. Sy het eerlikwaar nie eintlik vriende nie. “Kom ons praat oor iets anders, Thea. Ek is so moeg gebaklei hieroor.”
Haar suster laat die onderwerp met moeite staan. “Nou goed. Hoe gaan dit met die revue?”
Maar die kuier is reeds bederf en Salomé is bly toe hulle ry. Sy kan nie help om met ’n tikkie jaloesie te kyk na haar sussie se mooi motor waarmee sy na haar spoghuis toe ry nie. Thea het dit so maklik, dink Salomé bitter.