Читать книгу Rewolusie van die hart - Adriana Faling - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

EDFU, NYLRIVIER. AUGUSTUS 2010

Die boot beweeg weer teen ’n rustige vaart verder met die Nyl op. Saleh kan haar net voorstel hoe die toeriste op die dek in die son lê en lees of die uitsig langs die Nyl bewonder. Dit is een van die toptoeristeaantreklikhede in Egipte.

Die gewag maak haar egter mal. Sy wens die boot wil versnel. Haar kop bly vashaak by die gedagte dat hulle in die verkeerde rigting vaar. Hoe is dit moontlik? Lewe Ashraf nog? Is hy veilig?

Sy wens sy kon hom bel en net weet of hy lewe. As hy die foon optel, kan sy dadelik neersit. Nee! Dis te gevaarlik. Miskien kan sy Farouk vra? As hy net sy selfoon kan laat lui tot hy antwoord. Maar dis gevaarlik vir Farouk ook. Dit sal hom verbind met Ashraf en dan sal hulle dalk vermoed sy is by Farouk. Nee, die risiko is te groot.

Ek het nie ’n idee wat om nou te doen nie, Vader God. Maar ek vertrou U met my hele lewe. U het my tot hier gelei en U sal my verder lei.

Daar kom ’n werklike vrede in haar hart. Een ding is seker, sy dink nie haar skoonfamilie sal haar in die teenoorgestelde rigting van Kaïro gaan soek nie. Almal sal seker verwag dat sy direk soontoe sou vlug. So dit is ’n uitstekende stand van sake dat die boot nie daarheen op pad is nie.

Maar Aswan? Sy ken geen mens daar nie. Wat gaan sy doen?

Farouk kom laatmiddag saggies in. Hy het weer ’n bord eetgoed saamgebring.

Sy eet hongerig terwyl hy praat. “Daar is ’n groep Amerikaners aan boord. Toeriste. Hulle is Christene.”

“Hoe weet jy?”

“Hulle bid voor ete en bid soms in ’n groot groep saam. Hulle is mos nie bang om te wys hulle is Christene nie. Blykbaar het hulle deur die hele land kom bid. Boonop vis hulle heeltyd uit of ek ook ’n Christen is.”

“Wat doen jy dan?”

“Ek glimlag maar net en hou my dom. Dis te gevaarlik om iets te sê. Maar ek het begin wonder of ons jou nie dalk saam met hulle kan laat verder reis nie, asof jy ook ’n toeris is?”

Haar hart klop vinniger. “Hoe bedoel jy?”

“Hulle gaan in Aswan ’n klomp besienswaardighede bekyk en dan per oornagtrein na Kaïro reis.”

“Ja?” vra sy baie versigtig.

“As jy vir een dag kan deel word van hulle groep en dalk per trein saamry, kan hulle jou in die bondel wegsteek?”

“Maar dink jy hulle sal?”

“Wel, hulle is Christene en daar is een man met wie ek moontlik eenkant kan gesels. Hy is die toerleier en dit lyk of ’n mens hom kan vertrou. Maar ek het jou toestemming nodig om jou storie te vertel.”

Sy dink eers na. “Dink jy dit is veilig?”

“Nee, dis nie veilig nie, maar dis die enigste oplossing waaraan ek nou kan dink,” antwoord hy eerlik.

“Dankie, Farouk. Dit is gevaarlik vir jou ook.” Sy is stil. “Wanneer kom ons in Aswan aan?”

“Die dag ná môre.”

Sy het dus nie veel tyd nie. “Kan ek net eers bid daaroor en dan sal ek jou vanaand sê?”

“Goed. Ek sal ná ete weer ’n draai kom maak.”

Sy kan aan geen ander plan dink nie, dus stem sy in.

“Goed, Saleh, ek sal kyk of ek vanaand alleen met die man kan praat.”

“Dis baie gevaarlik vir jou as hulle uitvind dat ek hier is.”

“Ek gaan nie sê jy is op die boot nie. Ek gaan net noem dat ek iemand ken wat in Kaïro moet kom en dan in breë trekke jou storie vertel.”

“Ja, dis slim.”

“Maar kom ons kyk eers wat hulle antwoord is. Ek laat weet jou sodra ek hoor.”

Sy bid vir Farouk terwyl hy weg is. Vir sy veiligheid, vir haar eie en haar baba s’n en dat God se wil sal geskied. Sy wens sy het ’n Injeel by haar gehad dat sy kon lees en ’n antwoord kon soek. Maar Ashraf het gesê dit is te gevaarlik om hulle kopie van die Nuwe Testament in te pak na sy ouers toe. Sy het saamgestem. Sy bid weer vir Ashraf.

“Hulle stem in,” bring Farouk later die nuus.

“Sjoe, rêrig?” Sy het min geslaap in afwagting op die antwoord en al die “wat as?” wat sy teen mekaar afgespeel het.

“Kort voor hulle reis hierheen het iemand kop uitgetrek nadat alles betaal was. Dus is daar ’n ekstra betaalde treinkaartjie. Jy sal wel met iemand ’n kajuit moet deel. Die trein hou deur die nag op party stasies stil, maar daar word nie nog mense aan boord geneem nie. Ek dink dus dat dit ’n veilige opsie vir jou is.”

“Ja, Ashraf se familie sal my ook nie maklik uit Aswan verwag nie.” Sy is onseker opgewonde oor die uitkoms. “Ek sal my wel op Kaïro-stasie moet onsigbaar maak. Daar is oral oë.”

“Ek het gedink ons moet jou ’n bietjie vermom.”

“Hoe?”

“Hier is ’n winkeltjie op die boot. Hulle verkoop allerhande tipiese toeristeklere. As jy dalk genoeg kontant het, kan ek vir jou ’n T-hemp koop, en ’n serp of ’n ding, dat jy meer soos ’n toeris kan lyk.”

“Dis ’n uitstekende plan; ek kort juis skoon klere,” glimlag sy wrang. “Maar hoe gaan jy verduidelik waarom jy vroueklere koop?”

“ ’n Geskenk vir my vrou of so iets. Ek sal aan iets dink.”

Hy daag op met ’n T-hemp met kameelprente daarop, ’n pet en ’n tradisioneel geborduurde Arabiese hemp waarvoor veral die toeriste baie lief is. Saleh is baie dankbaar vir die skoon klere. Haar senuwees knaag egter as sy dink aan wat voorlê.

“Hoe het jy gedink gaan ons dit doen, Farouk?”

“Jy moet môreoggend vroeg gereed wees, want ek sal jou kajuit eerste moet skoonmaak, voor die ander mense uit hulle s’n trek. Een ekstra stel lakens en handdoeke sal nie aandag trek tussen al die wasgoed nie. Dan moet jy ongelukkig wag tot almal uit hulle kajuite getrek en hulle uitstaande rekeninge betaal het. Net voor ons aan wal gaan in Aswan, sal ek jou kom roep. As jy jou toeristeklere aantrek, behoort jy saam te smelt met die bondel. Soos hulle uitbeweeg, beweeg jy saam. Moenie oogkontak maak met enige van die ander personeel op die boot nie en bly in die bondel. Die toerleier weet van die reëlings. Hulle sal jou dan saamneem in hulle toerbus en later na die oornagtrein.”

“Sjoe, jy’t aan alles gedink.”

“As dit uitwerk, dan sê ons vir Isa dankie. Dan was dit sy plan.”

“Amen.”

“Ek moet nou gaan. Ek bring hopelik later vir jou iets te ete.”

“Miskien moet ek liewer vas en bid.”

“Jy kan nie jou baba laat vas nie. Jy kan bid, maar ek bring vir jou kos. Ons weet nie wat lê vir jou voor nie.”

“Nee, ons weet nie. Ek vat maar een dag op ’n slag.”

Sy slaap min en is vroeg op.

Toe Farouk aanklop, kyk hy haar goedkeurend aan. Met haar hare in ’n poniestert deur die pet gehaak en die T-hemp met die kamele op, lyk sy soos die ander toeriste.

“Het jy nie dalk ’n sonbril nie?”

“Nee, ongelukkig nie.”

“Kyk of jy vandag een kan koop. Dit gaan jou help.”

Die lakens is reeds afgetrek en sy hou hom dop terwyl hy die kamer van hoek tot kant gereedkry vir die volgende gaste. Hy is ook senuweeagtig, kom sy agter, al werk hy met geoefende hande.

Sy haal geld uit vir die klere en die water wat sy gebruik het, en nog ekstra. Die oomblik het aangebreek dat hulle moet groet. “Farouk, ek het nie genoeg woorde nie.”

Hy kyk haar met deernis aan. “Jy het nog baie hekkies om te oorkom. Ek is bly dat ek jou met hierdie een kon help.”

“Mag ons Vader en God jou en jou familie seën.”

“Dankie, Saleh. Ek sal aanhou bid dat jy en Ashraf mekaar lewend vind,” sê hy ernstig.

“Dankie,” sê sy sag, aangedaan.

“Maar nou kan ons nie foute maak nie. Jy wag hier tot ek jou kom roep. Dit kan nog ’n uur of twee neem. As ek nie kan roep nie, sal ek drie keer aan die deur klop. Moet my nie groet of laat blyk dat jy my ken nie. Stap reguit deur tot in die portaal met jou sak en probeer so gou moontlik in die middel van die groep kom.”

Sy knik.

“En moet asseblief nie op die bed sit nie. Dit moet lyk of die kamer onaangeraak was.”

“Reg so.”

“Vrede vir jou, Saleh.” En toe is hy uit.

Sy is gedaan gewag en baie senuweeagtig toe die klop uiteindelik kom. Met ’n laaste skietgebedjie maak sy seker dat sy niks in die kamer agterlaat nie en stap regop uit. Dit moet lyk of sy presies weet waarheen sy gaan.

Sy loop verby Farouk in die gang waar hy die waentjie met wasgoed stoot. Hy kyk nie op nie en sy kyk nie om na hom nie. Haar oë soek die pad van ’n paar nagte gelede, wat voel soos ’n ewigheid terug. Alles lyk anders in die daglig. Skeller. Vyandig.

Sy hoor die stemme van onder kom. Een stel trappe af en toe is daar ’n geroesemoes in die voorportaal. Geen tyd vir weifel nie; sy stap reguit af en sonder om iemand in die oë te kyk gaan staan sy in die middel van die groep jolige Amerikaners.

Dit voel of alle oë op haar gerig is en tog gaan almal om haar hulle gang. Sy hou haar oë op ’n pamflet wat sy uit die kajuit geneem het. Dit is vol advertensies van besienswaardighede in Aswan. Sy ken dit al van binne en buite, maar sy hou haar oë belangstellend daarop gerig. Haar hart klop met swaer slae in haar borskas. Wanneer gaan die deure oop?

Ná wat soos ’n ewigheid voel, tree een van die personeel uiteindelik nader en maak die deur oop. Die vars buitelug wat instroom, maak haar lighoofdig. Almal begin nader bondel om na buite te gaan. O genade, die personeellid groet elkeen by die deur persoonlik! Sy neem stelling in regs van iemand anders sodat hy tussen haar en die man by die deur sal wees. Miskien kan sy net verbyglip. Hulle beweeg stadig vorentoe, tree vir tree. Dit voel of sy gaan flou word toe die mense voor hulle groet en hulle die volgende gaste by die deur is. Sy sal nie ongesiens kan deurglip nie.

Toe hoor sy Farouk se stem. Die man by die deur kyk dadelik op na waar sy naam geroep is, sy aandag ’n oomblik afgelei. Sy glip deur. Hou aan stap oor die brug, stap agter al die mense wat in ’n tou beweeg na die toerbus en kyk nie om nie. Dankie, Farouk! roep haar hart terug.

Sy is by die bus en klim in. Sy sien gesigte wat na haar kyk, maar sien in werklikheid niks nie. Sy stap tot amper agter en glip by ’n leë sitplek in. Haal uiteindelik weer asem.

Die dag word ’n nagmerrie. Saleh is omring deur mense met sulke goeie bedoelings, maar dis asof hulle nie besef dat hulle met al die aandag wat hulle aan haar gee meer kwaad as goed doen nie.

Eers was dit die toerleier, wat toe almal uiteindelik in die bus sit, oor die mikrofoon aankondig dat hulle “geloofsheldin-gas” nou saam met hulle op die bus sit en dat hulle almal vir haar moet hande klap. “Kom ons almal heet Sally welkom!” Dit is die naaste wat die Amerikaner se uitspraak aan “Saleh” kan kom.

Sy het gewens dat sy onder die bus se banke kan inkruip.

“Sally, staan asseblief op sodat ons almal jou kan sien.”

Sy het haar kop geskud en met ’n verleë glimlag probeer wys dat dit nie is wat sy wil doen nie.

“O, sy is skaam,” het die toerleier gelag.

“Kom ons gee haar nog ’n rondte applous!” Hy het in breë trekke verduidelik hoe sy vir haar familie vlug en dat sy die volgende dag en nag saam met hulle sal deurbring.

Nog applous.

Saleh het behoedsaam in die rigting van die busbestuurder gekyk, maar hy het net stip voor hom uitgekyk. Sy kan maar net hoop dat hy nie die Amerikaners goed verstaan nie. Maar hy sal sekerlik, want hoe anders neem hy hulle rond?

Dadelik het die eerste persoon langs haar kom inskuif en haar begin uitvra. Skielik was sy omring deur ’n klomp belangstellendes. Sy word die verpersoonliking van al hulle verhoorde gebede. Hulle kan huis toe gaan en van hulle wonderlike reis na Egipte vertel en dat hulle hierdie arme swanger vrou ontmoet het wat moet vlug vir haar lewe en dat hulle haar weggesteek het en help vlug het. En wat dan? Sal hulle net weer vergeet? Gee hulle regtig om of wil hulle net helde in hulle eie verhaal wees? Sy wil nie ongeskik wees met haar weldoeners nie, maar die hele saak steek haar so dwars in die krop dat sy bot en teruggetrokke is.

Elke keer wat hulle uitklim om na ’n besienswaardigheid te gaan kyk, wens sy dat sy in die veiligheid van die bus kan bly, maar sy is versigtig vir die busbestuurder. Dus klim sy uit en probeer so ongesiens moontlik tussen die groep beweeg. Tevergeefs. Almal wil deel hê aan die suksesstorie van die Egiptiese Christenvrou wat vlug, dus gesels hulle juis met haar en haak by haar in, sleep haar van stalletjie na stalletjie. Op die ou end is sy seker sy trek baie meer aandag as wanneer sy net tussen hulle sou beweeg en met niemand praat nie. Die Amerikaners is opvallend en luidrugtig. Sy wil so graag ’n SIM-kaart en ’n sonbril koop, maar is versigtig om die begeerte te noem, want dit voel of hulle dan eers op loop sal gaan.

Agter in die groep loop ’n ouer vrou. Hoewel sy vriendelik vir Saleh glimlag, kan sy sien dat sy haar amper eenkant hou. Saleh vermoed sy loop en bid soos hulle van plek tot plek beweeg. Sy kry dit oplaas reg om haar los te maak van die gebondel en langs die dame te stap. Dit is stil tussen hulle, wat ’n welkome verligting is.

“Sjoe, dis seker vir jou intimiderend?” sê die vrou later vriendelik.

“Nogal,” antwoord Saleh met ’n skewe glimlag.

Hulle stap weer in stilte verder. Uiteindelik kan Saleh haar omgewing ’n bietjie bekyk. Aswan het meer ’n Afrika-atmosfeer; die pas is veel meer ontspanne en stadiger as in Luxor. Hier is die Nyl op sy mooiste, gekus deur die koperbruin woestyn en granietrotse soos dit reeds eeue lank deur Egipte kronkel. Die lug is swaar van parfuum en speserye terwyl die wit seile van die feluccas rustig in die bries wapper en vissermanne met blink bolywe geduldig hulle vangs afwag.

Hulle stap in stilte langs die kaai af toe Saleh die moed bymekaarskraap. “Sal jy my dalk kan help om ’n sonbril en ’n SIM-kaart by een van die stalletjies te koop? Ek durf nie self met een van die verkopers praat nie, want hulle sal dadelik agterkom dat ek Arabies praat.”

“Natuurlik sal ek jou help.”

Saleh oorhandig geld aan haar en gou sien hulle ’n stalletjie. Die vrou onderhandel behendig met die verkopers en kom teruggestap met die sonbril.

“Dis nie jou eerste keer hier nie?” sê-vra Saleh.

“Nee,” glimlag sy goedig. “My hart is op ’n manier verbind aan hierdie land.”

“Dankie vir die bril; dit help my om my beter as toeris te kamoefleer.”

“Groot plesier. Ek is egter nie seker waar om die SIM-kaart te vind nie?”

“Ek sal uitkyk vir ’n winkel en jou wys, dankie,” antwoord Saleh.

Hulle vind dit gou en Saleh is so verlig, sy kan nie wag om op die bus te kom en te probeer bel nie.

Sy gaan sit hierdie keer by die vrou agter in die bus. “Wat is jou naam, as ek mag vra?”

“Ruth.”

“Dankie, Ruth, jy het my baie gehelp.”

“Plesier. Ek is bly ek kon.”

Saleh se hande bewe terwyl sy die SIM-kaart in die foon steek. Sy skakel die foon aan. Durf sy hom nou bel? Nee, netnou kan hulle agterkom waar sy is en dan het hulle ’n hele dag om haar hier op te spoor. Sy sal vanaand bel, net voor die trein vertrek. Dan weet sy hulle sal haar nie meer in Aswan kan opspoor nie. Sy wens die ure verby en is dankbaar vir die stil kameraderie tussen haar en Ruth.

Uiteindelik breek die tyd aan dat hulle na die treinstasie toe moet gaan. Saleh is verlig en vreeslik senuweeagtig, alles gelyktydig. Op stasies is baie oë en ore en sy is op haar hoede. Sy is oneindig dankbaar toe sy in die trein is en die portier haar en Ruth hulle slaapkajuit wys. Dit is baie klein en sy voel verleë dat sy Ruth se persoonlike ruimte deel.

Maar Ruth glimlag gerusstellend. “Dis ’n voorreg om met jou te deel.”

Saleh dring daarop aan om op die boonste bed te slaap, ten spyte van haar boepie wat dit moeilik maak om op te klouter. Sy kan nie die ouer vrou laat bo slaap nie.

Hulle eet in stilte ’n voorafverpakte aandete. Saleh is dankbaar vir elke bord kos en drinkgoed wat vandag ruimhartig na haar kant toe gestroom het. Sy kry nou skaam vir haar bot houding. Hierdie mense is baie goed vir haar.

Toe Ruth ’n oomblik uit die kajuit is, skraap sy die moed bymekaar om haar selfoon aan te skakel. Haar hart klop in haar keel by die vooruitsig om Ashraf se stem te hoor. Dalk het hy lankal gevlug, wag hy reeds vir haar in Kaïro en weet hy nie waar sy is nie. Sy skakel sy nommer versigtig. Die foon lui egter nie en skakel net direk na die antwoorddiens oor. Die teleurstelling is so groot, dit voel of sy in trane gaan uitbars. Sy probeer weer en weer.

Só vind Ruth haar. In trane met die foon in haar hand.

“En nou, Saleh?” Sy trek die deur agter haar toe.

“Ek is so bekommerd oor my man en wonder of hy nog lewe,” fluister sy.

“Ag, jou arme ding,” sê Ruth sag en simpatiek en gee haar ’n druk.

Toe begin Saleh se trane soos ’n kraan loop. Dae se spanning wat net te veel geword het, loop oor. Ruth hou haar vas en laat haar huil. Sy sê niks nie, behalwe om saggies ’n gebed te prewel. Saleh mis skielik haar ma.

Uiteindelik kom die trein in beweging. Verligting spoel deur Saleh. Sy bedank Ruth skaam en maak haar bed gereed. Nou wil sy net slaap en hierdie nagmerriedag uitwis.

Die trein is egter gevul met die vrolike energie van ’n klomp toeriste wat ’n nuwe avontuur beleef. Nie een van hulle was al op ’n oornagtrein in Egipte nie. Saleh ook nie. Dit is iets wat net vir toeriste bestem is. Sy ervaar egter glad nie opwinding nie en hoop om gou te kan slaap, ten spyte van die vreeslike lawaai.

Baie later word dit stil, maar die slaap bly Saleh ontwyk. Sy sluimer in en word weer wakker. Voel die oneweredige geskommel van die trein. By elke stasie waar die trein in die donker nag stilhou, verbeel sy haar dat haar skoonfamilie opklim met masjiengewere om haar te soek. Dan lê sy bewegingloos en haal skaars asem tot die trein weer vertrek. Haar lyf is seer van die ongemaklike slaapbank en die spanning van die dag. Sy sluimer weer onrustig in.

Rewolusie van die hart

Подняться наверх