Читать книгу Rewolusie van die hart - Adriana Faling - Страница 5
Hoofstuk 1
ОглавлениеLUXOR. AUGUSTUS 2010
Saleh Samir maak haarself nog kleiner in die hoek teen die muur waar sy hurk. Haar bene kramp van die inspanning, maar sy durf nie laer sak en haar gemaklik maak nie. Langs haar is die badkamer se walglike dreinuitloop en teen die ander muur staan ’n donkie vasgemaak. As sy nou ’n verkeerde beweging maak, sal die dier begin bulk en dit sal dadelik haar wegkruipplek verklap. Sy bewe onbedaarlik en koue sweet slaan oor haar hele liggaam uit. Wat gaan sy doen? Waarheen kan sy gaan? Sy is vasgekeer in hierdie plek. Het sy tog maar die swart abaya aanhou dra sodat sy doodluiters in die straat kon afstap en met die mensemassa in die strate kon saamsmelt. Met dié eenvormige swart gewaad is ’n vrou immers bykans anoniem. Nou sal haar klere haar van ver af laat uitstaan en sal hulle haar onmiddellik raaksien. Sy moet dink. Waarheen? Dit is net sekondes voor hulle haar hier vind.
O Vader, U is nog so ’n nuwe God vir my, maar ek wil U nie nou al verloor nie. Help my. Isa! Sy was in haar hele lewe nog nooit so bang nie. Die vrees wurg haar.
Die kat wat teen haar bene skuur, kan sekerlik haar hart hoor klop. Sy probeer hom wegstamp. Hy loop luiweg ’n paar treë verder, gaan staan op ’n mangat en kyk rustig oor sy skouer na haar.
Die drein. Dankie, Vader God. Sy huil amper van verligting.
Versigtig kyk sy om haar rond en gaan lê skuins op die grond tot sy die swaar staaldeksel kan bykom. Dis loodswaar; sy skuur haar vingers teen die growwe sement om dit te probeer oopkry. En dit beweeg sowaar! Stadig sukkel sy om dit weg te skuif en uiteindelik is die gat oop voor haar. Die stank styg in haar neus op. Dit voel of die wêreld ’n oomblik tydloos en doodstil word terwyl sy haar liggaam skuinswaarts vorentoe sleep en sleep. Na die opening. Na vryheid.
Maak my onsigbaar, asseblief, Vader, smeek sy, te bang om te kyk of iemand haar nou sien.
Haar armspiere ruk soos sy haar stut om in die donker stink gat af te sak. Sy hang met een arm aan die trapreling aan die binnekant terwyl sy die swaar staalplaat met haar ander hand toeskuif. Stadig. Die staalplaat wat skuur teen die sement weergalm om haar en die vrees dat sy gehoor sal word, is oorweldigend. Sy skuif dit heeltemal toe. Dis gitswart en bedompig van die walglike reuk. Sy klou aan die leer vas terwyl sy die naarheid terugsluk en haar oë aan die donker gewoond raak.
Dis stil.
Sy hoor die geroep van woedende stemme, toe voetstappe. ’n Voet trap hard op die mangat se deksel reg bokant haar kop en sy ruk soos sy skrik. Die voetstappe loop woedend verder. Toe is dit stil. Stink en stil. Sy staan lank bewend aan die leer en klou tot sy seker is sy is veilig. Verligting spoel oor haar voor sy geluidloos begin ruk van die huil. Toe bring sy op.
Saleh probeer haar sintuie afskakel, forseer haarself moeisaam vorentoe in die donker. Dit is onbeskryflik warm. Sy is so dors. Die stank is ondraaglik en sy het reeds alles wat in haar maag was, uitgebraak soos aan die begin van haar swangerskap. Haar hande vou weer beskermend om haar ronde buik – die rede vir soveel waansin.
Sy beur vorentoe in die donker, dankbaar dat sy liewer nie kan sien wat rondom haar is nie. Elke nou en dan is daar ’n dun ligstraal wat deur ’n lasplek in die dik dreinpyp beur en sy volg net ligstraal vir ligstraal vorentoe, net vorentoe. Moenie dink nie. Net vorentoe. Sweet. Dors.
Sy hoor die minarette in die verte die adhan roep.
Ag, God, bewaar Ashraf. Bewaar hom teen die woede van sy familie, bid sy haar eie gebede.
Vorentoe en vorentoe.
Ure aaneen. Geen plan nie. Beur net aan.
Haar rug is seer van die vraggie wat sy saamdra.
Later dreunsing die minarette die salat: “Laa-ilaaha illa Ilaah, Muhammed resolu’lla!” Daar is geen god soos Allah nie en Mohammed is sy profeet. Dit word vyf keer per dag geproklameer oor hierdie stad, soos in alle Moslem gedomineerde gebiede wêreldwyd.
Langsaam het die lig wat deur die dreinpype sypel minder geword en nou is daar ’n negentiggradehoek waarteen sy haar vasloop. Reg bokant haar is ’n dreinopening. Die behoefte na vars lug en na lig oorwin haar momentele stryd teen vrees. Sy moet spring om die leertjie by te kom wat na die mangatopening lei en met die ekstra gewig van haar baba is dit moeilik, skielik onmoontlik. Sy is gedaan. Sweet. Dors.
Vader, gee my krag. Gee my uitkoms, bid sy moeg.
Saleh kyk lank op na die leertjie, stoot haar arms boontoe en probeer spring met alles wat sy het. Gryp raak. Hang. Haar arms is te swak om haar op te hys en sy sal nie weer kan opkom as sy nou laat los nie.
“Vader!” roep sy uit, haar stem hees van die dors.
Sy begin haar bene heen en weer swaai. Met dié momentum kry sy dit op die leertjie se onderste sport tot by haar hande en begin stadig soos ’n apie opklouter. Die verligting om uit die drek te wees is onbeskryflik. Sy staan eers op die leer en klou net vas. Toe stadig boontoe, boontoe, tot haar kop by die dreinopening is.
Die lig wat deurkom, is min.
Sy stut haar kop eers moeg op die boonste sport.
Vader God, ek weet nie wat hier bo vir ons wag nie. Ek weet nie waar ons is nie. Maar ek weet ek moet verskriklik lyk en ruik. Help my, Here. Steek ons weg.
Haar arm bewe van inspanning toe sy aan die mangat se deksel druk. Dit beweeg nie. Sy druk harder en voel dit effens meegee, maar dis seker styf toe ná dit jare in onbruik verval het. Met haar rug krom skuif sy hoër op teen die leer om met haar skouer meer krag in te sit. Een, twee, drie stampe. Niks. Die noute wurg haar.
“Help my, Isa,” roep sy paniekerig na Jesus. Nog een harde, desperate stamp en die deksel lig uiteindelik. Vars, warm lug vul haar neus in ’n oomblik. Verlig skuif sy die deksel oop en kyk versigtig uit.
Dis ’n afgeleë oopte, sien sy in die sterk skemer en klouter uit. Sy bly gehurk langs die gat sit en haal ’n paar keer diep asem voor sy na haar klere afkyk. Wat sy sien, laat haar maag onmiddellik weer murmureer, maar daar is nog net slym oor wat sy kan opbring. Sy skuif die deksel oor die mangat se opening en staan behoedsaam op. Hier is niemand nie. Dankbaarheid oorspoel haar. Wat nou? Turend in die donker, luister sy. Water! Sy stap stadig na die geluid, beur deur die riete. Die Nylrivier.
Isa, dankie.
Sy sit haar kosbare rugsak op die wal neer en loop met klere en al die water in. Dis gelukkig nou donker genoeg dat niemand haar hier naby die wal sal kan sien nie. Die verligting om haar stink klere af te spoel is onbeskryflik.
Sy bly naby die wal teen die riete. Hoe wens sy hier was seep. Sy spoel haar hare af, trek haar klere uit en spoel en spoel en spoel. Maar die reuk van drek hang steeds verbete aan haar.
Sy trek die een stel skoon klere aan wat Ashraf in haar rugsak gebondel het en lê die ander klere op die oewer neer om droog te word. Sy verlang magteloos na hom en sien hom weer in die oomblikke voor sy deur die venster gevlug het. Hy wat sterk en vasberade ’n paar goed in haar rugsak druk en ’n paar kriptiese reëlings deurgee. Sy wat onbedaarlik huil en passief toekyk hoe hy haar klere, beursie en selfoon in die rugsakkie druk.
Hoe onbeskryflik dors sy ook al is, sy durf nie die water uit die vuil Nylrivier drink nie. Sy sluip tussen die riete uit en probeer desperaat in die donker na iets soek wat haar dors sal les. ’n Paar meter in een rigting, dan weer in ’n ander rigting, dan om ’n vullishoop om te sien of daar nie iets lê wat sy kan drink nie. Koorsagtig begin sy krap en skud aan elke plastiekhouer waarin daar vloeistof is. Die dors maak haar amper waansinnig. Uiteindelik kry sy ’n botteltjie met nog ’n paar slukke flou, warm koeldrank in, sluk dorstig, stik en soek verder, maar alles wat sy in die hande kry, is leeg.
Sy gaan terug na haar skuilplek. Wat nou? Gedaan gaan lê sy net eenvoudig op die harde grond. Haar bene is tam van die dag se inspanning. Die versoeking om haar selfoon aan te skakel en Ashraf te bel is baie groot, maar hy het haar ten strengste verbied om dit te doen. Só sal hulle albei maklik opgespoor kan word. Eers ’n ander SIM-kaart koop.
Ag, my Vader, bewaar Ashraf vannag. Ek weet nie waar hy is en of hy veilig is nie. Bewaar U hom, asseblief. En bewaar my en my baba hier vanaand, bid sy en vryf saggies oor haar maag voor sy totaal uitgeput in ’n diep slaap wegsink.
Saleh word skielik helder wakker. Dit is nog donker, maar die maan het opgekom en skitter oor die Nyl. Haar lyf is seer gelê op die harde grond, maar die ongelooflike uitputting van ’n paar uur gelede is weg. Sy voel-voel oor die nat klere wat sy uitgespoel het; dis nog klam. Dit ruik steeds na die goorheid waarin sy die verskriklike lang ure onder die grond deurgebring het. Sy wonder of sy dit ooit sal uitkry, daardie reuk. Hoe laat is dit? Dringendheid oorval haar. Sy moet hier wegkom, sy moet so gou moontlik uit Luxor padgee en dit is baie makliker om ongesiens in die donker te beweeg. As sy net nie so dors was nie!
Sy pak die klam klere in die rugsak en druk haar beursie en selfoon in haar broeksakke. Met ’n skoon hijab om haar kop gebind, kies sy koers tussen die riete deur.
Sy het nie ’n benul waarheen sy moet gaan nie. Die eerste busse vertrek laatoggend uit Luxor, maar dit sal net te opsigtelik wees as sy daarmee ry. Hulle sal dit verwag en haar daar inwag. Nee, beslis nie. Die treinstasie het dieselfde risiko. Ryloop? As vrou sal dit hoegenaamd nie ’n veilige opsie wees nie. Stap? Stap tot in Kaïro? Dit sal haar weke neem en hoe gaan sy op pad oorleef? Sy weet nie. Dus stap sy bloot die donker in. Nyl-op is die maklikste manier om rigting te hou en ook weg te kruip tussen die riete. Sy is versigtig vir loonwerkers wat op die plase langs die Nyl werk en snags tussen die riete slaap. Sag stap. Stap en stap weg van soveel herinneringe. Stap.
Saleh het geen benul van tyd of hoe lank sy al stap nie, maar die dringendheid om weg te kom, dryf haar.
Isa, wys my die pad. Ek weet glad nie wat ek nou moet doen nie en ek is regtig bang hulle sal my vind.
’n Ent verder in die maanlig is daar toeristebote en sy wil eers in ’n ander rigting koers kies, maar toe onthou sy: Farouk. Farouk werk op een van hierdie bote. ’n Idee begin posvat. Miskien kan sy hom vra om haar te help? Wat is tog die naam van die boot waarop hy werk? Sy kan glad nie onthou nie.
Behoedsaam maar doelgerig stap sy in die rigting van die bote wat twee-twee in die kaai vasgemeer lê. Sy hou in die skaduwees, stap saggies verby ’n paar. Moondance, Nile Cruiser, Prince of the Nile, Royal Lilly, maar nie een naam klink bekend nie. Ag, wat is die kans dat Farouk nou hier sal wees? Moedeloosheid dreig om haar te oorweldig, wil haar laat omdraai.
Ek gee uitkoms in die nag van gevaar.
Dit was nie ’n stem nie, maar ’n wete binne-in haar gees.
Vader? Ek ken U nog so sleg. Is dit U wat met my praat?
Ek gee uitkoms in die nag van gevaar. Ek steek jou weg onder my vleuels.
Kalmte kom oor haar. Sy weet nie presies hoekom nie, maar sy stap verder langs die bote verby. Toe sien sy die naam van die heel voorste boot: Jewel of the Nile. Ja! Dis die een. Dis die naam van die boot waarop Farouk werk.
Sy skuil steeds in die skaduwees en wonder hoe op aarde sy hom in die hande gaan kry. Die boot lê slaapstil vasgemeer in die donker. Daar is ’n voetbrug van die kaai na die boot en ’n flou lig brand in die portaal. Durf sy oorstap en kyk of die deur oop is? Waar gaan sy begin soek na Farouk op die boot?
Terwyl sy nog haar opsies oorweeg, hoor sy stemme agter haar. Sy wriemel haar dieper tussen die bougainvilleas in wat welig langs die kaai groei en moet op haar tande byt om nie uit te roep toe die dorings haar steek nie. Die mense lag uitbundig en loop effe onvas op hulle voete.
“Kom, ons moet gou maak!” roep iemand in Engels. “Hulle het gesê hulle sluit tweeuur die deur.”
“Hoe laat is dit nou?”
“Daar is nog net drie minute oor.”
“Maak gou!”
Toe begin hulle senuweeagtig lag en hardloop in die rigting van die boot.
“Moenie so lawaai nie.”
Nog gelag klink op.
Sy is weer eens dankbaar vir die Engels wat sy op skool geleer het. Dit was een van die beste dinge wat haar pa haar ooit gedwing het om te doen. Drie minute. Drie minute om ’n plan te maak. Miskien moet sy agter hulle by die deur inglip. Maar ’n mens kan van ’n myl af sien sy is ’n plaaslike inwoner, nie ’n toeris nie. Haar kopdoek afhaal? Sy pluk dit af en kom saggies uit die skaduwee. Die mense beweeg luidrugtig oor die voetbrug. Sy draf saggies in die skaduwee agterna. Skielik gaan die deur oop en die lig val in ’n baan buitentoe. Farouk! Kan dit wees? Dis beslis sy kenmerkende neus en hoë voorkop. Hy staan in die deur en heet die gaste welkom.
“Ons het nog net vir julle gewag,” sê hy, steeds vriendelik ten spyte daarvan dat dit so laat is.
Sy staan in die skaduwee aan die ander kant van die brug. Durf sy na hom roep? Netnou hoor hulle haar. Die gaste loop in en Farouk tree ’n oomblik na buite om seker te maak dat almal binne is.
“Farouk!”
Hy bly staan en tuur die donker in.
“Farouk,” roep sy weer sag.
“Wie is daar?” vra hy in Arabies.
“Saleh,” antwoord sy, maar bly in die donker staan.
Hy maak die deur na die boot eers versigtig toe en steek toe die brug tot by haar oor.
“Farouk. Dank God, dis jy.”
“Saleh? Wat maak jy hier? Dis die middel van die nag,” sê hy verbaas.
“Ashraf se familie … Hulle’t fatwa oor ons uitgespreek.”
Daar is skok op sy gesig. “Voëlvry verklaar. Hoe het hulle van julle uitgevind?”
“Dis ’n lang storie waarvan ek jou alles sal vertel, maar eers het ek jou hulp dringend nodig. Asseblief, Farouk, ek vlug.”
“Hoe kan ek jou help?”
“Versteek my op die boot, asseblief, Farouk. Ek kan nie ’n trein of bus neem sonder dat iemand my sal herken nie. Dit is al manier waaraan ek kan dink om ongesiens hier te kan wegkom.”
“Nee, Saleh. Ek kan my werk verloor. Ek kan dit glad nie doen nie,” sê hy uit die veld geslaan.
“Ek weet, Farouk,” antwoord sy sag. “Dit skree ten hemele om iets so gevaarliks van jou te vra, maar ek weet nie wat anders om te doen nie.”
“Ek het ’n vrou en kinders, Saleh.” Sy stem is beslis. “Werk is skaars. Ek kan nie bekostig om my werk te verloor nie. Ek is jammer.”
“Ek verstaan, maar ek is so bang. Ek weet nie hoe anders om hier weg te kom nie.”
“Ek is jammer vir jou, maar ek kan jou nie help nie. Nie ten koste van my gesin nie. Ek moet nou die deur sluit; dis die reëls.”
Die wind is uit haar seile. “Ek verstaan. Jammer dat ek jou gepla het, Farouk.”
Hy draai om en stap oor die brug. Die deur gaan agter hom toe, maar sy bly geplant in die donker staan. Die slot word gegrendel en die lig gaan af. Sy bly net staan. Die vrees omhels haar van agter af, en sy het geen verweer nie. Wat doen sy nou?
Isa?
Die slot kras weer en die deur gaan onverwags oop.
“Saleh!”
Sy gee ’n tree uit die donker.
Kom, wys Farouk met sy kop.
Sy hardloop oor die brug en laat die vreesjas op die kaai agter. Die trane kom spontaan toe sy die veiligheid van die boot se portaal bereik. “Dankie, Farouk.”
“Dis malligheid, maar ek sal nooit met my gewete kan saamleef as ek jou hier los nie,” fluister hy en kam gefrustreerd met sy vingers deur sy hare.
“Ek sal onder jou bed wegkruip,” pleit sy.
“Nee, ek deel ’n kajuit.” Hy sluit die deur agter hom. “Kom, maar loop op jou sagste. Ek neem jou na ’n kajuit op die gang waar ek werk. Daar is baie oop plekke, maar niemand mag weet jy is daar nie, gehoor?”
Sy knik en volg hom op haar tone.
Dis doodstil. Saleh hoor haar eie asemhaling in haar ore. Sy probeer haar asem ophou, doodbenoud dat iemand hulle nou sal betrap. Dis egter maklik om sag te loop op die dik matte. Oral is sagte beligting. Dis luuks en pragtig binne, presies soos Saleh al in die brosjures gesien het. Elegante binneversiering, swaar donker meubels, spieëls. Een stel trappe op, nog ’n stel op, en toe regs.
Soos skimme beweeg hulle. In die gang af, tot by die heel laaste deur. Hy haal ’n kaart uit sy sak, laat gly dit deur die gleuf en maak die deur oop. Só skakel die ligte aan en skielik is daar ’n lieflike kajuit voor haar met ’n luukse bed en ’n en suite-badkamertjie. ’n Kamer geskik vir ’n koningin. Dankbaarheid en verligting spoel oor haar, maar sy sien die spanning op Farouk se gesig en sy verstaan die offer wat dit van hom vra.
“Dankie, Farouk,” fluister sy weer diep dankbaar en die trane rol spontaan.
Hy knik net. “Jy kan nie waag om hier uit te gaan nie, Saleh,” fluister hy. “Ek sal later vanoggend vir jou iets te ete probeer bring. Moenie nou stort nie; ek is bang iemand sal die water hoor. Wag tot jy hoor die ander gaste stort. Maar jy sal moet stort, want jy ruik vreeslik,” glimlag hy skeefweg.
“Dis ’n lang storie.” Sy kyk verleë weg. “Baie, baie dankie, Farouk.”
“Ek moet nou gaan slaap, want ek moet weer vroeg op. Ek moet die kamers op hierdie gang kom diens wanneer die gaste ontbyt gaan eet, so tussen agt- en negeuur. Sodra ek klaar is en dit veilig is, kom loer ek in. Moenie die gordyne oopmaak nie.”
“Reg so. Dankie, Farouk,” herhaal sy vir die soveelste keer.
“Die boot vertrek soggens om vyfuur. Dan eers is jy veilig. Ons sal later die res van die reëlings uitsorteer. Heng, Saleh, dis ’n gemors. Wat gaan jy doen?” Sy donker kuif met die grys strepies val skeef oor sy gesig en dit laat hom skielik baie moeg lyk.
“Ashraf het gesê ek moet Kaïro toe gaan. Dis nog baie deurmekaar en ek probeer nie te ver vooruit dink nie, want ek weet nie presies nie. Ek is so bekommerd oor hom, Farouk.”
“Ek sal vir julle bid. Slaap nou eers. Ons praat weer wanneer die son skyn.”
“Ek is verskriklik dors, Farouk.”
“Daar staan ’n bottel water op die spieëlkas; gebruik dit solank. Moenie kraanwater drink nie.” Hy tree saggies uit.
Saleh sak op die sagte mat neer. Dankie, Vader. U het woord gehou.
Toe staan sy op en reik na die bottel op die ingeboude spieëlkas.
Sy drink en drink en drink van die skoon water. Verligting spoel soos die water deur haar. ’n Bietjie van die water los sy vir môreoggend. Sy trek die skoon lakens van die bed af, skop haar skoene uit en nestel haar in die sagte rusplek in. Hoe ironies dat sy in doodsgevaar omring word deur meer luuksheid as wat sy nog ooit gehad het. Sy voel veilig in die afsondering, die duvet vertroostend om haar gevou. Dankie, Here. Wees asseblief met Ashraf in hierdie nag. Sy raak vinnig aan die slaap met haar arm beskermend om haar buik gevou.