Читать книгу Rewolusie van die hart - Adriana Faling - Страница 11
Hoofstuk 7
ОглавлениеKAÏRO. AUGUSTUS 2010
Ruth het vroegoggend vir Saleh gebid nadat hulle die slaapbanke opgeslaan het. Dit het haar rustiger gemaak, maar nou klop Saleh se hart in haar keel. Hulle het lank gesit en gesels terwyl die trein sy laaste skof uitploeg.
“Wat gaan jy maak wanneer ons in Kaïro kom?” het Ruth besorg gevra.
“Ek weet eerlikwaar nie.”
“Kan jy nie saam met ons kom nie?”
“Maar julle vlieg vanmiddag terug, nie waar nie? Net voor Ramadan.”
“Ja, ons wil uit die land wees voor die vastyd aanbreek. Ons het egter kontakte in Kaïro wat ons kom afhaal by die stasie en vandag rondneem. Dalk kan hulle jou help?”
“Christene?”
“Ja.”
“Koptiese Christene?”
“Ja.”
“Hulle sal my nie wil help nie.”
“Hoekom nie?”
“Ons MBB’s maak die lewe baie moeilik vir die Koptiese Christene.”
“Wat is MBB’s?” vra Ruth.
“Muslim Background Believers.”
“Hoekom maak julle dit vir hulle moeilik?”
“Hulle lewe of kerke kom in gevaar die oomblik wat dit uitkom dat hulle skuiling aan ’n voormalige Moslem gebied het. Dit is teen die Islamitiese wette.”
“Ek verstaan nie. Julle is tog almal Christene?”
“Ja, maar die geskiedenis van ons land tel teen ons. Die Koptiese gelowiges is die oudste bestaande Christelike kerk in die wêreld. Omtrent tien persent van Egipte se bevolking is Kopties. Ongelukkig word hulle al vir jare swaar onderdruk deur die meerderheid Moslems. Dit is die filosofie van dhimmitude. Dit beteken hulle word toegelaat om te bestaan, maar word swaar belas en soos tweedeklasburgers behandel. Hulle kinders gaan nie saam met Moslemkinders skool nie, hulle kry nie beurse om te studeer nie en moet dikwels na die buiteland gaan vir verdere studie. Hulle sal ook nie maklik werk kry nie en moet dus hulle eie sakeondernemings begin. Daarom is hulle dikwels verarm en onderdruk. Hulle doen die slegte werk. In Kaïro werk en woon baie van hulle byvoorbeeld op ’n rommelhoop om die vullis te sorteer. Daar het hulle ’n hele gemeenskap en ’n kerk, wat die ‘garbagekerk’ genoem word. Was julle nie al daar nie?”
“Nee, maar ek het gehoor ons gaan vandag daarheen.”
“Ja, ek weet dit is gewoonlik ’n hoogtepunt van Christen-toeriste se besoeke. In elk geval, deur die jare het daar so ’n haat tussen die twee groepe ontwikkel, dat die Koptiese Christene sukkel om iemand uit die Moslem-agtergrond te vertrou, al het hulle tot bekering gekom.”
“Tree die MBB-Christene dan nie anders op wanneer hulle tot bekering kom nie?”
“Ja, maar daar is altyd die twyfel of dit opreg is, of hulle nie dalk spioene is nie. Dié wat wel die MBB’s in hulle midde verwelkom en aan hulle skuiling gebied het, se kerke of huise is al afgebrand, of hulle is gedreig met die dood. Jy moenie die wrewel van Islam onderskat nie.”
“Nou waarheen gaan julle dan om te aanbid, die evangeliese kerke?”
“Daar is van die evangeliese kerke wat MBB’s ingeneem het, maar vir hulle is die risiko dikwels nog groter. Hulle het nie die outoriteit van die Koptiese Kerk agter hulle nie. Hulle is minder; daarom word hulle nog makliker aangeval. Ons aanbid maar in die geheim van ons huise, of saam met die enkele vriende wat ons weet ook ’n oorgawe gemaak het. Maar ons moet baie versigtig wees. ’n Mens weet nie eintlik wie die ander bekeerdes is nie. Selfs nadat ons mans tot bekering gekom het, gaan hulle steeds Vrydae moskee toe.”
“Maar dis mos afgodediens!”
“Moenie oordeel nie, Ruth,” sê sy driftig. “Jy weet nie hoe dit is om die enigste Christen te wees in ’n gemeenskap soos ons s’n nie. Ons word almal van kleins af juis teen shirk gewaarsku, om aan iemand anders as Allah goddelikheid toe te dig. Jy weet nie hoe dit is om elke dag bang te wees jou familie of vriende vind uit nie. Hulle wil ons summier doodmaak as hulle dit vermoed. Jy weet nie hoe dit is om lief te wees vir mense en hulle die waarheid van Isa te wil vertel om hulle lewe te red maar terselfdertyd vir jou eie lewe te vrees nie.”
“Ek is jammer,” sê Ruth spytig.
“Ons mans gaan moskee toe en bid op hulle gebedsmatte voor die mihrab wat die rigting na Mekka aandui, maar hulle harte is by Isa wanneer hulle bid. Ook wanneer hulle bid vir die ander mans rondom hulle. Het jy al die mans met die donker kolle op hulle voorkoppe gesien? Dis van die herhaalde gestamp van hulle koppe teen die vloer wanneer hulle bid.”
Ruth knik.
“My man het ook so ’n kol. Maar dit is ons behoud.”
“Ek verstaan nou beter.”
“In die stad is dit wel makliker om ’n gebed of wat by die moskee oor te slaan. Maar meer as dit gaan steeds nie ongesiens verby nie. Die imams ken hulle mense.”
“Imams?”
“Die leraars by die moskees.”
“Hoe bly julle dan staande in julle geloof?”
“Dit is moeilik. Baie van die MBB’s keer later terug na Islam. Die eensaamheid en die druk van hulle familie raak net vir hulle te veel en dan ‘bekeer’ hulle hul weer tot Islam. Ek wens soms ons kan net na ’n diens van die kerke toe gaan, maar ek het nie die vrymoedigheid nie,” sê Saleh eerlik.
Dis ’n rukkie stil.
“Hoe het jy dan tot bekering gekom?” vra Ruth.
“Ons het altyd geweet van die Koptiese Christene, maar ’n mens het hulle soos die pes vermy. Ons het met so ’n vooroordeel jeens hulle grootgeword. Dus is dit regtig ’n wonderwerk dat ek en my man tot bekering gekom het. Nadat ek gaan studeer het, het ek ’n werk gesoek en toe was hier buitelanders wat my in diens geneem het. Hulle het ’n kantoordame gesoek om die administrasie van hulle besigheid hier te behartig. Ek was gelukkig dat ek goeie Engels kon praat en skryf en ek het die pos gekry. My ouers was wel gekant teen die feit dat hulle Amerikaners was, maar ek was opgewonde. Mettertyd het ek besef dat hulle nie hier was om net sake te doen nie, maar ook ter wille van die evangelie. Hulle het my nooit daarmee gekonfronteer nie. Dit was eerder die stil en mooi manier waarop die man en vrou met mekaar gepraat het wat my so nuuskierig gemaak het. Dit en die feit dat hulle my gehelp het toe ek op my desperaatste was.”
“Wat het gebeur?”
Sy voel so op haar gemak by Ruth dat sy maar kan vertel. Boonop laat dit die tyd vinniger verbygaan. “Ek en my man was al ’n hele ruk getroud, maar ek het nie swanger geword nie. Dit is hier ’n baie groot skande vir ’n man om nie ’n seun te hê nie. Ons hele kultuur gaan oor skande en eer; iets wat ek besef die mense van die Weste nie altyd verstaan nie. In elk geval, ons het alles probeer. Ons het dokters gaan spreek, medikasie en behandeling wat ons ’n fortuin gekos het probeer. Maar niks het gewerk nie.”
“En toe?”
“Ek het eendag weer in trane by die kantoor aangekom ná nog ’n dokter se bevinding. Ek was so moedeloos en bang dat my man my sal verlaat omdat ek nie vir hom ’n seun kan gee nie. Die vrou het na my toe gekom en gevra of sy en haar man nie saam met ons kan bid hieroor nie. Ek was so desperaat dat ek my man oortuig het om saam met my na hulle huis toe te gaan daardie aand. Hulle het die evangelie met ons gedeel en ons was so verras oor wat ons geleer het dat ons aand vir aand gegaan het om nog te hoor. Ons was so dors vir hierdie goeie nuus soos mense wat vir jare in ’n woestyn sonder water geloop het. ’n Groot struikelblok was egter dat Isa ’n Jood was. Ons is van kleins af geleer om die Jode te haat. Om te dink dat ’n Jood vir ons sondes sou sterf, was amper ondenkbaar.”
“Ek kan dit net dink.”
“Ná sowat twee weke het hulle gevra of ons al ’n oorgawe wil maak. Ons was baie bang omdat ons presies geweet het waarop ons ons rug sou draai. Ons het vir die volgende twee weke glad nie weer gegaan nie, maar elke aand met mekaar daaroor gepraat en geredeneer. Bedags het ons op webtuistes oor die Christelike geloof gelees en saans met mekaar gedeel wat ons gelees het. Ons was baie bang en baie opgewonde. Dit was so vreemd. Ek en my man was nader aan mekaar as ooit tevore. Toe waag hy dit een aand om tot hierdie Isa te bid. Ons het mooi geluister hoe ons vriende bid, maar om dit self te waag was ’n groot stap. Dit is glad nie dieselfde as die geleerde gebede van die Koran, die salat nie. Jy kon uit jou hart praat. Ek was bang daar kom weerlig uit die hemel en kloof ons woonstelgebou oop sodat die hele stad sal weet ons het gebid. Maar daar het nie. Daar het net ’n diep vreugde en ’n vrede in ons harte gekom. ’n Vrede wat ek nog nooit in my lewe ervaar het nie. Ná ’n paar weke is ons weer terug na ons vriende en ons het gesê dat ons gereed is om ’n oorgawe te maak. Hulle was oorstelp en het saam met ons gebid. Sedertdien het hulle ons uit die Injeel geleer.”
Ruth frons verward.
“Die tweede deel van die Bybel, hoe sê julle nou weer …?”
“Die Nuwe Testament?”
“Ja. Dit het gevoel of ons sweef vir dae, weke. En toe vind ons uit ek is swanger.”
“Sjoe, so jou bekering was onlangs? Hoe ver is jy nou swanger?”
“Sestien weke, môre sewentien. Ek verwag die baba die negentiende Januarie.”
“Jy het nou van jou skoonouers vertel. Maar wat van jou ouers?”
“Hulle is oorlede kort voor ons troue. My ouers en my enigste broer was in ’n motorongeluk. My pa en my broer is op slag dood en my ma later in die hospitaal. Ek dink nie sy wou verder lewe nadat sy van hulle dood gehoor het nie.”
Sy wat Saleh was, was nie genoeg rede vir haar ma om te wou lewe nie – sy was nie ’n seun, ’n man, ’n ma se trots nie. Diep binne het Saleh dit maar altyd geweet. Sy het eers later regtig getreur oor hulle. Later toe sy besef het hulle is dood sonder Isa.
“Dankie dat jy my al hierdie dinge vertel het, Saleh,” sê Ruth ná ’n lang stilte. “Wanneer ek hier weggaan, kan ek met ’n baie beter begrip vir jou en julle land bid. En ek sal bid, dis my onderneming aan jou,” verseker Ruth haar in opregtheid.
Saleh klou aan daardie onderneming vas, soos sy bang en onseker sit en wag dat die trein by sy bestemming aankom en haar uitspoeg.
Dele wat te persoonlik was, het sy nie vir Ruth vertel nie. Van Uncle George se vrou, die liewe Sister Martha, wat haar eenkant geneem het die dag toe sy uitgevind het dat Saleh nie kan swanger raak nie.
“Ek is jammer as dit ’n baie persoonlike saak vir jou is, maar ek moet jou vra, liewe Saleh, het jy ook khifad ondergaan, die vroulike besnydenis?” het sy met soveel deernis gevra dat Saleh nie geaffronteerd kon voel nie.
“Ja, ek het, toe ek ’n jong meisie was,” het sy geantwoord en die trane weggeknip by die gedagte.
Dit was normale praktyk dat meisies, veral vanuit die plattelandse dorpies, deur die prosedure gaan. Dit was die pynlikste en vernederendste ervaring van haar lewe.
Die vrou voor haar se oë was skielik vol trane. “My liewe, liewe kind,” het Sister Martha oor en oor gesê terwyl sy haar vasgehou het.
Daardie eerste aand nadat hulle die evangelie met haar en Ashraf gedeel het, het sy en Uncle George die netelige kwessie weer opgehaal en met hulle gepraat. Hulle het vertel hoe dit in God se hart was dat ’n man en ’n vrou die liefdesdaad moet geniet en dat die besnydenis totaal teen sy wil en plan is. Blykbaar was daar ’n prosedure om, in sommige van die gevalle, die operasie om te keer.
Dit was vir hulle albei nuwe nuus. Hulle het daarna dikwels met mekaar daaroor gepraat en toe besluit dat hulle dit sou doen as dit beteken dat Saleh sou swanger raak.
Sister Martha het nie gras onder haar voete laat groei nie en haar die volgende dag na ’n buitelandse spesialis geneem om haar te laat ondersoek.
Dit was ’n vroulike dokter, iets wat Saleh se hart verbly het.
Ná die ondersoek het ook die dokter trane in haar oë gekry. “Jammer, mevrou Samir, maar hierdie tipe besnydenis is nie omkeerbaar nie.”
Daar het sagte musiek in die vertrek gespeel; Engelse musiek oor Jesus, kon sy uitmaak. Soortgelyk aan dié wat in Uncle George-hulle se huis gespeel het. Die teleurstelling was so groot. Die musiek het op ’n manier getroos.
“Daar bestaan ook geen mediese verband tussen vroulike besnydenis en onvrugbaarheid nie, hoewel ek tog al gesien het dat vroue swanger raak ná ’n omkeringsoperasie. Al wat ek nou nog kan doen, is om vir julle te bid,” het sy vervolg.” Ek dien die God wat die heelal geskep het en daarom lewe uit niks kan voortbring nie. Hy kan ook vir julle ’n lewe skep. Ken jy vir Isa?”
“Ek weet van Hom,” het Saleh versigtig geantwoord.
“Kom ons bid dat julle Hom volkome sal leer ken en dat Hy vir julle ’n wonderwerk sal doen.”
“Ek gaan by die stasie maar net probeer verdwyn in die massa,” sê Saleh aan Ruth. “Ek sal nie die ander kan groet nie, maar dra asseblief my opregte dank oor aan julle toerleier. En dankie vir jou. Om my storie te kon vertel, het my goed gedoen.”
Ruth druk haar vas. “Die Here sal jou seën en jou beskerm; die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees; die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.”
Toe die trein tot stilstand kom en die deure oopgaan, glip Saleh tussen die massa mense op die perron uit met haar rugsakkie oor haar skouer. Sy het weer die hijab en haar gewone klere aan en lyk nie meer soos een van die toeriste nie. Dit sal vreemd wees om as toeris alleen te beweeg, het sy gedink. Sy bid, soos sy tussen die gedrang inbeweeg, dat sy onsigbaar sal wees vir oë wat na haar mag soek. Doelgerig stap sy in ’n rigting, al voel sy totaal paniekbevange. Sy maak oogkontak met niemand terwyl sy dwarsdeur die stasie stap, uiteindelik by die groot stel trappe op en uit die stasiegebou.
Sy stap na waar die bekende bushalte is en koop ’n kaartjie. Op die ingewing van die oomblik kies sy die voorstad waar sy werk, al het Ashraf gesê sy moenie daarheen gaan nie. Sy weet eenvoudig nie wat anders om te doen nie. Sy moet met Uncle George praat; hy sal weet wat om te doen. Hoe sy ongesiens by hom gaan uitkom, weet sy nie, maar dit sal sy uitwerk soos sy vorder.
Terwyl Saleh in die bus sit en staar na die massa mense en die verkeer waardeur hulle tydsaam beur, wens sy sy het haar ou lewe terug. Sy wens sy kan net weer werk toe gaan soos enige ander dag, wens sy kan daarna na hulle gesellige woonstel gaan. Sy was so gelukkig om daar te kon aanbly ná haar ouers se dood en dat Ashraf by haar kon intrek ná die troue. Gewoonlik sal paartjies amper vyf jaar moet wag om hulle eie woonstel in die stad te kry as gevolg van die groot inwonertal in Kaïro. Sy wens sy kon soos elke ander aand saam met Ashraf kosmaak en eet en kuier en later dalk TV kyk en dalk liefde maak.
Wens sy ook dat sy nie tot geloof gekom het nie? troef haar eie gedagtes haar meteens.
Nee, dit was soos ’n lang winter wat uiteindelik tot ’n einde gekom het toe sy tot geloof in Isa gekom het. Maar sy wens dit was steeds net hulle geheim.