Читать книгу Rewolusie van die hart - Adriana Faling - Страница 8
Hoofstuk 4
ОглавлениеPRETORIA. AUGUSTUS 2010
Die dae wat Petrus weg is, gaan altyd stadig verby. Op ’n manier het Salomé en die kinders al daarmee leer saamleef, maar dit bly lank. Met elke reis is daar ’n ander kind wat swaar trek. Hierdie keer is dit beslis Alexander en hy haal dit op sy ma uit, dink Salomé wrang. Sy moet nog iets sinvols bedink wat sy saam met hom kan doen.
Dis gelukkig nog net een aand voor Petrus terugkom. Dit voel vir Salomé of sy net nog die laaste entjie tot by die wenpaal moet hardloop, dan kan sy rus. Maar sy is fisiek en emosioneel so moeg dat sy nie eens weet hoe sy dit tot daar gaan maak nie. Die revue wil nog nie lekker aanmekaarvloei nie en sy is nie seker wat om te verander om dit te laat vlot nie. Die kinders se sangitems vir die kunswedstryd ken sy nou uit haar kop en sy wil ’n oorval kry wanneer hulle oor en oor dieselfde foute maak. Kan hulle dan nie hoor dat hulle dit verkeerd sing nie? Maar sy byt op haar tande en probeer dit vir hulle prettig hou om te oefen, anders het sy dalk volgende jaar geen kandidate nie. Soos hulle nou aangaan, gaan hulle beslis nie A-simbole kry nie.
“Agge nee, die krag is af,” sê Talitha toe hulle teen skemeraand by die huis instap.
Oral op pad terug van Talitha se balletklas was die verkeersligte ook af.
Salomé het gelukkig al vanoggend sop uitgehaal om te ontvries, maar sonder krag sal sy dit nie warm kan kry nie. Sy sal aan ’n plan moet dink. Dirk sal nie kan help nie; by hulle sal die krag ook af wees. Sy kan seker wegneemetes gaan koop, maar sy weet nie tot waar die krag af is nie. Hoe ver sal sy moet ry vir iets te ete, en dan nog wag dat hulle dit klaarmaak? En wat gaan dit kos? Sy het nie daarvoor begroot nie. Nee.
Die gasstofie. Sy vind die gasbottel in die motorhuis en die plaatjie iewers in ’n stowwerige boks op die rak. Die gaslampie staan ook daar. Goed, nou moet sy vinnig werk terwyl dit nog lig genoeg is.
Sy kry met ’n gesukkel die gasplaat aan die bottel gedraai en sit die pot met die sop bo-op om warm te word terwyl sy gou vir Alexander gaan bad. Deels om hom by die vlam weg te hou en deels omdat sy dan nog kan sien wat sy doen.
“Markus, hou ’n ogie oor die gasplaat, maar moet asseblief nie daaraan karring nie.” Tussen ’n vlam en ’n seun is daar mos ’n magnetiese aantrekkingskrag. Miskien is hy nie die regte persoon vir die werk nie, maar Talitha probeer nog gou haar huiswerk klaarmaak in die laaste lig.
Die gespeel en gespartel waarvoor Alexander lus het, is die laaste ding waarvoor sy krag het, maar sy jaag hom gangaf en hardloop agter hom, om en om die eetkamertafel. Dit is bloot makliker om met ’n vrolike kind as ’n moeilike kind oor die weg te kom; daarom dat sy saamspeel.
Sy ruik die sop.
“O jitte, Alexander, die sop gaan brand! Kom nou asseblief dat ek jou kan aantrek.”
“Jy kan my nie vang nie. Jy kan my nie vang nie!”
“Asseblief, Alexander. Vinnig nou.”
Maar hy hardloop al weer gangaf.
Sy hardloop eers om die sop te gaan roer. Dit het gelukkig nie te erg aangebrand nie. Sy draai die gas ’n bietjie sagter en haal solank die lamp uit die boks. ’n Gesukkel in die skemerdonker. Sy weet nie mooi hoe ’n mens die lamp se mussie oortrek nie.
“Kan ek probeer, Mamma?” vra Markus.
“Nee, Markus, gee net kans dat ek gou kyk.” Haastig.
“Jy kan my nie vang nie. Jy kan my nie vang nie!” Alexander is kaalstert hier om hulle. “Ek kry koud, Mamma!” kla hy.
“Ja, ek het gesê ek wil jou eers gaan aantrek,” sê sy terwyl sy sukkel. “Markus, ag help gou vir Alexander aantrek, asseblief.”
“Nee, Mamma moet my aantrek.” Alexander trek aan haar arm.
“Alexander, asseblief! Gee my net ’n kans om die lig aan te steek.”
“Kom, Mamma.”
Die lamp gly uit haar hande en toe sy dit probeer gryp, stamp sy die pot warm sop van die plaatjie af. Sy gil en Alexander skree. Markus gryp sy arm geskok vas en kyk na haar met ’n gepynigde uitdrukking. Die sop het oor hom uitgeskiet.
“Markus! My kind!” Sy is by hom met een tree. “Ag, Here, help.” Sy probeer sy klere saggies wegstoot om te kyk. “Here, dankie dat hy langmoue aanhet,” bid sy kliphard.
Die vel is rooi opgehewe en lyk sommer dadelik of dit ’n blaas vorm. Dit gaan binnekort baie seerder word.
Talitha kom in en kyk geskok rond. “Wat het hier gebeur?”
Alexander skree steeds en hou sy voet vas. Hy het dit gesny op die glasstukke van die lampie wat geval het.
“Sien jy nou wat het gebeur, omdat jy nie vir Mamma luister nie?” tier sy na Alexander.
Waar is die vuurhoutjies dat sy net ’n kers kan aansteek? Haar hande bewe toe sy dit kry en ’n lig aansteek. Haar hart breek vir die huilende Markus. “Toemaar, Markus, ons sal nou ry.”
“Bly kalm, Salomé,” praat sy hardop met haarself. Eers tel sy Alexander op en sit hom kaalbas op die kombuiskas, weg van die glas. Hy huil nou kliphard. Sy hou die kers naby en trek die glasstukkie uit.
“Talitha, klim in die kar, ons moet hospitaal toe,” sê sy koorsagtig terwyl sy in die noodhulpkas vir pleisters krap. Pilhouers val op die grond soos sy krap en nie mooi kan sien nie. Dis die brandspuitgoed wat sy raakvat. Wonderlik. Sy het al vergeet sy het hierdie goed.
“Trek jou mou hoog op, Markus, dat Mamma dié kan opspuit.”
“Gaan dit seer wees?” huil hy.
“Nee, ek dink dit gaan dit beter laat voel.”
Sy spuit dit mildelik op sy arm en sien op sy gesig dat die brandpyn effens bedaar.
“Hou hierdie botteltjie vas en spuit die hele tyd dat dit nie seerder word nie, reg so?”
“Ja, Mamma.”
Sy vryf oor sy gesig. Sy wange is so nat soos hare. “Ag, my liewe seun. Ek is baie jammer.”
“Toemaar, Mamma, dit was ’n ongeluk.” Hy byt op sy tande.
Talitha het intussen stil die pleisters gevind en probeer Alexander se seerplek toeplak. Effe onhandig, maar darem.
“Dankie, poppie. Nou toe, kom dadelik en klim in die kar.” Sy sluit die deur oop.
“Ek kry koud, Mamma,” huil Alexander.
Ag aarde, die kind is nog kaal. Sy gryp inderhaas sy nagklere en trek dit vir hom aan. Hy is nou heel bedees en laat haar begaan. Sy tel hom op en gryp die motorsleutels in die verbygaan. Blaas die kers dood.
In die truspieëltjie kan sy Markus se gesig uitmaak. Ag, Here. Waarom? Ek haat Petrus. Iemand het eenmaal gesê dat liefde en haat baie naby aan mekaar lê. Vanaand haat sy hom. Waarom moes hy juis nou weg wees?
Die noodgevalledokter reken die brandspuitgoed was ’n bestiering. Hulle wil Markus nog ’n paar uur hou vir observasie, dan kan hy huis toe gaan. Hy het pynmedikasie gekry en lê nou en slaap in die ongevallebed. Sy en Talitha sit op ’n plastiekhospitaalbankie en Alexander lê op haar skoot en slaap. Sy is honger en besef nou eers hulle het nog niks geëet nie. Haar horlosie sê dis halfnege.
“Is jy honger, pop?”
“Nee, Mamma, net moeg.”
“Ek het tannie Thea gebel. Sy sal julle nou kom haal, hoor,” en sy vryf oor haar hare. Dirk se foon was af, anders sou hy dalk kon kom. Sy is nie lus vir haar sus se ewige kritiek nie, maar nou ja.
“Gaan ons by tannie Thea slaap?”
“Ja. Mamma sal julle môreoggend vroeg kom haal, voor skool.”
“Maar Pappa kom môreoggend.”
“Ja, ek weet. Julle sal hom dan direk ná skool sien. Reg so? Hy kan môre by Markus bly.” Hy beter!
“Goed,” antwoord Talitha teleurgesteld. “Ek mis vir Pappa.”
“Ek ook,” sê Salomé terughoudend. Sy haal haar selfoon uit om vir Petrus ’n SMS te stuur oor wat gebeur het. Sien daar het intussen een van hom deurgekom: Nou in die vliegtuig. Op pad huis toe. Mis julle baie. Liefde. Hy sal dus nie nou haar boodskap kan kry nie. Sy vee die boodskap driftig af. Bêre die foon en staar net.
Uiteindelik daag Thea op.
“Ag, dankie, Thea.”
“Natuurlik! Hoe gaan dit met Markus?”
“Hulle het vir hom ’n drip opgesit, om seker te maak dat hy nie dehidreer nie.”
“Nou toe. Dan kry ek ’n dogtertjie vir die aand. Jippie!” Sy vat Talitha se hand.
Talitha glimlag terug.
“Ek sal Alexander na jou kar toe dra, Thea. Hy sal hopelik regdeur slaap. Ek hoop net nie hy huil in die nag nie; hy soek soms na my.”
“Toemaar, dis nie die eerste keer dat hy by sy tannie slaap nie. Ons sal regkom.”
“Dankie, sus. Jy’s ’n ster.”
“Ek weet,” glimlag Thea. “Maar jy lyk soos die dood self,” voeg sy ernstig by.
“Dankie,” sê Salomé wrang.
“Nee, regtig. Hierdie reise van Petrus raak nou ’n bietjie erg, vir ons almal. ’n Man hoort by die huis.”
“Kan ons later hieroor praat?”
“Ek sê maar net.”
“Ek sê ook maar net.”
Salomé sit met ’n koppie koffie voor haar en uitstaar toe hulle weg is, dankbaar dat die ander twee kinders versorg is. Die rekening het haar bekommerd. Sy glo nie ongevalle word deur die hospitaalplan gedek nie. Betaal ’n mens per uur wat jy hier is? Sy is te gedaan om te gaan uitvra daaroor.
Die ouer vrou oorkant haar staan op en stap na haar toe. “Mag ek?” vra sy vriendelik en wys na die oop sitplek langs haar.
Salomé knik. Sy is stom van die moegheid en hoop nie die vrou wil gesels nie.
“Ek het jou sien inkom met jou seuntjie?”
“Ja.”
“Wat het gebeur?”
“Ek het kokende sop oor hom uitgegooi.” Sy het dit aspris só gesê. Om haarself daarmee te straf en hopelik die gesprek te beëindig.
Die tante deins egter nie terug nie.
“Sjoe, eina! Darem net oor sy arm, lyk dit vir my?”
“Ja, darem.” Sy bied geen verdere verklaring nie.
“Hoe oud is hy?” beur sy voort.
“Nege.”
“En jou dogtertjie? Pragtige kind.”
“Sy is sewe.”
“En dan ook die kleintjie. Dis ’n handvol, nè?”
“Ja, is nogal.”
“Ek het ook so ’n spannetjie gehad. Ek onthou hoe ek party dae gevoel het ek gaan nooit weer iets anders doen as kosmaak, skoonmaak en pakgee nie.”
Dis beter, dink Salomé, terwyl sy net knik en glimlag, laat haar maar praat oor haarself.
“En jou man? Wat doen hy?” Die vrou wys na haar trouring.
Hy vlieg, dink sy wrang. Hy vlieg die hele wêreld vol en help die verlore mensdom terwyl ek en die kinders alleen moet regkom. “Hy werk by ’n wêreldsendingorganisasie.”
“O?” vra die tante belangstellend. “Wat behels sy werk?”
“Hy moet sendelinge en gemeentes in die geslote lande gaan besoek en bemoedig en help waar hy kan. Dis waar hy nou is. Hy moet ook kerke plaaslik mobiliseer om Christene in geslote lande te ondersteun.”
“Sjoe, dis seker ’n uitdaging.”
“Ja.”
“Vir julle albei,” sê die tannie deernisvol.
“Ja.” Salomé se oë skiet ongevraagd vol trane. Sy is so moeg, sy wil sommer op hierdie bankie lê en slaap.
Die tannie neem haar hand versigtig in haar verrimpelde een. “Daar is geen beter werk as werk in diens van die Here nie,” troos sy.
Salomé verstyf en wil haar hand terugtrek.
“Maar dit wil jy nie nou weet nie, nè?” vra sy met ’n sagte glimlag en begrip in haar stem.
“Nee,” antwoord Salomé eerlik.
“Ek weet.”
Salomé kyk vraend na haar. Hoe weet sy?
“My man was ook ’n sendeling. Ek ken ’n bietjie van die weduweelewe ter wille van die evangelie. Maar wanneer ek terugkyk, weet ek dit was die moeite werd.”
Salomé is stil. Sy haat die woord “sendeling”. Dit maak van haar ’n “sendeling se vrou” en van daardie prentjie het sy nog nooit gehou nie. Sendelinge is mense wat van ander mense afhanklik is. Hulle staan bakhand en leef van ander se tweedehandse goed. Die vroue dra lang rokke oor vormlose lywe met leersandale. Sy is nié ’n “sendeling se vrou” nie, het sy lankal besluit.
“Maar jy het mense nodig wat vir jou bid, net soos jou man mense nodig het wat vir hom bid,” onderbreek die tante haar gedagtes. “Wat vanaand met julle gebeur het, was ’n aanval van die bose. Is daar mense wat vir jou bid?”
Salomé dink na oor wat die tante gesê het. “Ek dink die mense wat vir my bid, bid net dat my man asseblief tog moet huis toe kom.”
“A.” Die tante knik. “Dus nie noodwendig binne die wil van die Here nie?”
Salomé bly weer stil. Sy weet nie meer wat die wil van die Here is nie. Is dit sy wil dat sy so moet swaarkry op haar eie?
“Is jou ouers naby dat hulle jou kan ondersteun?”
“Nee, hulle bly gelukkig in Bloemfontein.”
“Gelukkig?”
Die “gelukkig” het uitgeglip. Sy is te moeg om voor te gee. “Hulle neem Petrus kwalik vir sy buitelandse reise en dit plaas net nog meer druk op my. Dan moet ek hom altyd verdedig teenoor hulle en maak asof ek heel goed die mas opkom.”
“Ek verstaan. Jou skoonouers?”
“Hulle voel sommer namens Petrus skuldig vir al sy reise en is baie dierbaar, maar hulle bly in die Kaap. Ons gaan kuier gewoonlik in die Desembervakansies daar.”
“Ek sien.” Huiwering. “Mag ek dan vir jou bid?”
“Hier?” vra Salomé vinnig.
Die tante lag effe. “Ek kan hier ook vir jou bid as jy wil, maar ek sal verkies om op langer termyn vir jou in te tree?”
Salomé knik en haal haar skouers op. Dit kan seker nie skade doen nie.
“Wat is jou naam?”
“Salomé. Salomé Pretorius.”
“Ek is Marié van Biljon,” sê sy en druk haar hand. Daarmee is die transaksie afgespreek.
“Ek moet so ’n bietjie meer weet, Salomé.”
“Vra gerus,” sê Salomé, nie meer onaangeraak nie.
“Hoe het jou man sy roeping gekry?”
Maggies, dit klink so formeel vir wat daardie tyd gebeur het. ’n Roeping? Ja, miskien tog.
“Ek weet nie mooi nie,” antwoord sy eerlik. “Dit het stelselmatig gebeur. Tog oornag,” dink sy terug. “Ons was al verloof toe Petrus as deel van sy finale jaar se teologiestudie op ’n uitreik moes gaan. Hulle is na die Midde-Ooste op ’n gebedsuitreik; hy het daar sy hart verloor.” Sy glimlag sinies.
Destyds het sy gedink dit gaan so anders uitwerk. Hy die dominee en sy die musiekjuffrou wat iewers op ’n klein dorpie ’n beroep gaan aanvaar. Hy het egter totaal begeesterd van daardie uitreik af teruggekom. Sy het die ses weke wat hy weg was, omgewens en by die Here gehuil en gesmeek dat hy veilig moes terugkom sodat hulle lewe saam kon begin. Sy moes seker daarna al besef het hoe dit gaan wees, maar sy het nie. Ai, sy was so verlief op hom. Die groot man met die groot hart wat die wêreld wou verander. Sy was aanvanklik baie bang dat hy haar gaan wegneem na ’n woestyn iewers in die Midde-Ooste. Dat sy daar sou moes babas grootmaak in tente in die warm son terwyl hy die evangelie met manne in rokke deel.
Hy het geglimlag vir haar vrese, maar was baie ernstig toe hy praat. “Dis glad nie so daar nie, Sally. Ons hier in die Weste dink soms verkeerdelik dat dit nog lyk soos in die tyd van Jesus. Dit is ’n wêreld van groot uiterstes. Aan die een kant is daar die groot wêreldstede soos Doebai. Blink stede, van klatergoud, danksy al die olie wat hulle boor. Dan is daar ook die verarmde man wat in die stofstrate met ’n vrugtestalletjie sy bestaan maak. Dit gaan oor ons ‘prentjie’ van daardie wêreld wat verkeerd is. Ons dink óf aan die ryk Arabiere met harems in die woestyn, óf aan fanatiese Moslems met moord op die brein, óf dat die mense nog op kamele ry en heeldag dadels eet. Dit is op ’n manier al hierdie dinge, maar tussenin is soveel meer. Ek het die man op straat gesien, Sally. Soms stofstrate met kamele en diere op straat, ja. Soms op die snelweë van blink stede, maar dit was mense, Sally, mense soos ek en jy. Mense wat verlore gaan sonder die evangelie. Mense vir wie God ontsettend liefhet, duisende, duisende mense! Hulle ken net vir Allah, die god van Mohammed. Ek het bonatuurlik iets van God se liefde en meegevoel vir hierdie mense ervaar. Ons moet hulle gaan vertel van Jesus en die vryheid wat Hy bring. Hoekom, in al my jare van teologiese studie, het niemand die dringendheid hiervan onder ons aandag gebring nie?” het hy uitgeroep. Daar was ’n vasberade lig in sy oë.
Haar pa het haar egter gerusgestel oor die hele sendingbesigheid: “Dit sal gou afkoel,” het hy gereken. “Dit moet net eers ’n bietjie uit Petrus se gestel kom. Maar hy gaan nie my dogtertjie halfpad om die aarde na ’n land vol goddelose Mohammedane vat nie. Daar is nie ’n manier nie.”
“Petrus het in plaas van om ’n beroep te aanvaar, aansoek gedoen vir ’n voltydse betrekking by ’n sendingorganisasie,” hervat sy teenoor tannie Marié. “Hy het dit dadelik gekry en opgewonde begin werk. Só het hy die vervolgde kerk leer ken en geweet dit is die Here wat hom roep om te dien. Hy moes toe al dikwels reis, maar dit is anders as ’n mens nog nie kinders het nie.”
Sy het haar ingegrawe by die nuwe skool en die buitemuurse aktiwiteite. Sy wou so graag die skoolhoof beïndruk met haar flukse werk. Boonop het hulle grootliks van haar salaris gelewe en sy wou seker maak sy kry ’n permanente pos.
Sy het intens na Petrus verlang in daardie tyd, maar het haar later net emosioneel van hom afgesny wanneer hy weg was. Dit was makliker. Sy het vir elke ding waarvoor die skool iemand nodig gehad het haar naam opgegee, net sodat sy nie alleen by die huis sal wees nie. Wanneer Petrus tuis was, was sy van voor af lief vir hom. Hy het haar hart elke keer weer gewen met sy liefde vir haar, en die vervolgde kerk oor wie hy so opreg besorg is.
“Het jy soms saam met hom gereis?” vra tannie Marié versigtig.
“Ja, ek was een keer saam na Doebai. Dit was nie ’n gebedsreis nie, eerder ’n tipe blootstellingsreis na die Midde-Ooste.” Sy was al ses maande swanger en haar boepie het gewys. Sy onthou hoe ongeskik die “godsdienstige” mans in hulle wit klere was. Haar sommer uit die pad gestamp.
“En hoe was dit vir jou?”
“Dit was ’n vreemde wêreld vir my.” Dit is so lekker om dit te kan sê sonder dat sy haarself hoef te verdedig. Haar pa was so kwaad vir Petrus dat hy haar tydens haar swangerskap saamgeneem het. Maar sy wou sien, sy wou verstaan, voor die baba kom. Daarna sou sy nie gou weer die kans hê nie. Tog was dit vir haar vreemd en sy het steeds nie heeltemal verstaan nie, maar sy kon dit natuurlik nie aan haar pa erken nie.
“Die mense van daardie land was vreemd en veral die mans was baie ongeskik. Om eerlik te wees, ek kon nie heeltemal Petrus se passie vir hierdie mense verstaan nie. Ons het ook nie baie kontak gehad met plaaslike gelowiges nie. Weens die verhoogde sekuriteit daardie tyd was die risiko te groot vir hulle, dus kon ek nie heeltemal beleef wat Petrus dikwels ervaar wanneer hy die lande se plaaslike gelowiges besoek nie.”
Tannie Marié knik instemmend. “Dus het jy nie dieselfde roeping as jou man ervaar nie?” vra sy versigtig.
“Nee,” antwoord Salomé nadenkend. Sy het dit nog nooit so verwoord nie. “Ek het nie. Maar Petrus het altyd gesê ek het die helfte nog nie gesien nie. Ek moes weer saamkom na ander lande, dan sou ek beter verstaan. Dit was moeilik met klein kindertjies.”
“Ja, dit is baie moeilik.”
Hulle is ’n lang ruk stil, elkeen in hulle eie gedagtes versonke.
“Waar was Tannie se man ’n sendeling?”
“O, baie lande. Meestal in die ou Oosblok-lande. Oos-Duitsland, Rusland en so aan.”
“Sjoe.” Weer stilte. “Was Tannie dan saam?”
“Nie van die begin af nie. Ek was ook eers tuis met die kinders. Later het ek besef dat dit vir ons beter is as ons almal bymekaar is.”
“Maar hoe het Tannie gemaak met skole?”
“Ek het gevoel hulle leer meer op die sendingveld as in die skool,” antwoord sy met ’n glimlaggie. “Ek het hulle maar self geleer, so op reis en waar ons ook al was. Soms het ons hulle by die plaaslike skole ingeskryf as die taal dit moontlik gemaak het. Dit het ons ook gehelp om deel van die gemeenskap te word. Ek het wel in hulle hoërskooljare weer baie tuis gebly sodat hulle hier kon skoolgaan.”
“Maar het Tannie dan dieselfde roeping as Tannie se man ervaar?” vra sy die kruksvraag.
“Nee, nie aanvanklik nie.” Sy kyk reguit na Salomé. “Maar later het sy roeping ook my roeping geword.” Sy sê dit met deernis.
“O.”
“Ek moes eers leer dat die Here my herder is en nie my man nie, Salomé. Dit was die eerste moeilike les. Daarna het baie ander gevolg.”
Salomé neem dit in.
“Daar kom my man nou. Wat is jou nommer, dat ek jou kan bel?”
Salomé voel sleg dat sy nooit gevra het hoekom tannie Marié hier is nie. “Is die oom siek?”
“Nee, gelukkig nie,” glimlag tannie Marié en knipoog. “Hy dink net hy is nog een en dertig en nie een en sewentig nie. Hy het van ’n leer afgeval toe hy die dak se geute wou skoonmaak.”
Salomé sien nou eers hoe die oom hinkepink. Sy gee haar nommer vir tannie Marié en stoor haar nommer ook op haar selfoon.
“Ek dink God het toegelaat dat die oom van die leer afval sodat ek jou kon ontmoet,” sê tannie Marié toe hulle groet. “God laat werklik alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet en volgens sy besluit geroep is. Hou daaraan vas, my kind. Sterkte. Ek bid vir jou.”
Die oom groet met ’n stywe handdruk en ’n lig in sy oë soos Petrus s’n. Hulle maak ’n mooi prentjie soos hulle uitstap, tannie Marié en oom Daan.
Sy voel vreemd kalm toe die dokter haar roep om te sê dat Markus wakker is.
Toe is hy daar. Haar groot, sterk man staan hulle woonkamer se deurkosyn vol, hou sy arms na haar toe uit. Sy staan lank net so teen hom. Hulle sê niks nie.
Hy lyk moeg. ’n Bekende vreemdeling; hy ruik na knoffel en speserye. Hy het sy baard laat groei soos dikwels wanneer hy na die Moslemlande reis. Hy vee verleë daaroor toe sy daaraan vat en dit haar krap.
“Ek sal dit nou gaan afskeer, dan kan ek jou behoorlik soen. Ek het jou ontsettend gemis.” Hy druk haar weer teen hom aan. Skielik val die stilte hom op. Gewoonlik bestorm die kinders hom. “Waar is almal?”
“Markus lê nog en slaap. Daar was ’n ongeluk. Lang storie, maar hy het ’n brandwond aan sy arm. Hy kan nie vandag skool toe gaan nie, want die dokter is bang vir infeksie.”
“Wat het gebeur?” vra Petrus geskok.
“Die krag was af, toe moes ek op die gasstofie kosmaak.” Sy begin huil terwyl sy praat. “Alexander was al om my voete en toe ek die gaslampie probeer aansteek, toe … toe het Markus …” Nou huil sy volstoom.
Hy hou haar net vas. “Toemaar, toemaar.” Hy vryf met sy groot hande oor haar hare.
“Thea het die ander twee by die hospitaal kom haal,” huil sy teen sy bors. “Ek moet hulle nou gaan haal, anders gaan ons laat wees vir skool.” Sy is skielik lewensmoeg.
“Dink jy nie ’n kind met ’n brandwond is genoeg rede om by die huis te bly nie? Vir een keer?”
Dit klink so aanloklik. “Wat dink jy?” vra sy betraand.
“Ek dink regtig die hoof sal verstaan,” praat hy teen haar vrese in.
“Maar jy is hier? Kan jy nie na hom kyk nie?”
“Ek kan. Maar ek dink jy wil liewer self hier wees, as ek reg is?”
In die kol. Sy huil sommer weer vir sy deernis.
“Ek sal die hoof bel en hoor wat hy sê. Ek sal sommer die ander twee ook gaan haal en aflaai, dan kry ek kans om hulle te groet voor skool.” Hy druk haar eers weer. “Ek het so verlang na julle.”
“Toemaar, ek sal self die hoof bel. Gaan sit nou eers jou tasse by die wasmasjien, dan haal ek gou Talitha se skoolklere uit,” sê sy, kalmer noudat Petrus weer beheer oorgeneem het. Dit is hoe dinge hoort.
“Hoekom gaan slaap jy nie ’n bietjie nie?” vra hy van die deur af.
’n Uur later word sy wakker van die veraf gelui van die telefoon.
“Ja, Ma,” antwoord Petrus. “Ja, Ma.
“Reg so, Ma.
“Nee, Ma, sy slaap.”
Hy praat dus met haar ma – sy kan dit aan sy stemtoon hoor. Thea het haar seker gebel en nou is daar weer oorlog met Petrus. Arme man.
Hy lui af en kom ingestap toe sy regop sit. “Is Markus al wakker?”
“Nog nie, maar ten minste voel hy nie vir my koorsig nie,” stel hy haar gerus.
“Dan het daar waarskynlik nie infeksie in die wond ontstaan nie. Dank die Vader.”
Petrus knik. “Hoe voel jy?”
“Net onmenslik moeg. Jy was lank weg hierdie keer.”
“Ja, dit was lank, maar dit was ’n ongelooflike reis, Sally. Ek is net jammer julle kry so swaar hier.”
Sy antwoord liewer nie daarop nie. “Wat sê my ma?”
“Sy het my weer eens bedank vir my onbaatsugtige opoffering vir wêreldsending,” antwoord hy lig.
“Ek is seker,” sê sy wrang.
Hy kom sit by haar. “Wat het gebeur?”
Sy wil hom nie straf met haar woorde terwyl sy vertel nie, maar sy weet ook hy moet weet hoe dit regtig gaan. Tussendeur huil sy en hy hou haar vas, maar maak haar nie stil nie.
“Dit is ’n aanval, Sally, van die bose, op die mense vir wie ek die heel liefste in die hele wêreld is, om te keer dat ons voortgaan met die werk van die Here.” Sy kan sien hy is aangedaan.
“Tannie Marié het ook so gesê.”
“Tannie Marié?”
Sy vertel van die tannie en haar aanbod om vir haar te bid.
“Wel, dis wonderlike nuus. Die Here is werklik getrou, Sally. Ek bid juis vir julle wanneer ek weg is dat die Here ook rondom julle mense sal plaas wat julle sal kan ondersteun.”
Sy was seker hy bid vir hulle, maar dis tog lekker om te hoor. Sy koester sy nabyheid.
“Nou vertel my wat het by julle gebeur? Dit maak die sleg by die huis altyd weer die moeite werd,” sê sy eerlik.
“Ag, Sally. Ons kan so baie by hulle leer. Die mense daar dien die Here in die moeilikste omstandighede denkbaar. Die geheime gelowiges wat ons ontmoet het, vrees almal vir hulle lewe. Baie van hulle se name is op ’n lys by die owerhede. Die mans word in die tronk gestop en die vroue en kinders hoor so min van hulle daarna. Boonop word hulle gesinne dan gereeld ingeroep en vir ure ondervra en geïntimideer. Die samelewing isoleer hulle boonop sodat daar nie met hulle geassosieer word nie. Maar hulle staan vas in hulle geloof. Hulle klou daaraan soos aan ’n reddingsboei. Hulle kennis van die Bybel is dikwels só karig dat ek namens hulle bang is dat hulle geloof dit nie sal hou nie, dat hulle sal opgee en ingee. Daarom is hierdie opleidingskole wat ons daar van stapel stuur so belangrik. Ek wens jy kan hulle almal leer ken.”
Markus kom in, hardloop na sy pa toe en gooi sy gesonde arm om sy nek. “Hallo, Pappa.”
“Hallo, my bul.”
Hulle druk mekaar styf vas en dit bring sommer trane na Salomé se oë. Sy pa is sy held.
“Hoe voel jy, ou seun?” vra Petrus en kyk na sy arm in verbande.
“Seer,” antwoord Markus, die pyn duidelik op sy gesig.
“Ek glo jou,” antwoord Petrus simpatiek.
“Hoekom is Mamma nie by die skool nie?” vra hy verbaas.
“Want my oudste seun het seergekry.” Sy vryf oor sy hare.
“Regtig?” vra hy verbaas.
Dit sny deur haar. “Natuurlik. Kom ek maak eers vir jou iets te ete, dan gee ek weer vir jou pynstroop, seun.” Salomé staan op om vir hom te gaan pap maak. Laat hy en Petrus maar ’n bietjie gesels.
Terwyl sy pap maak, voel sy amper weemoedig. Dit is so reg om Petrus hier te hê, maar om te hoor van die werk wat hy doen, is ook so reg. Sy is so trots op haar “man van God” met die lig in sy oë. Sy moet onthou om dit weer vir hom te sê. Dit is dalk noodsaaklik dat hy dit hoor, veral ná haar ma se gesprek met hom vanoggend.
“… maar Mamma het met Alexander geraas en ek dink nie dit was sy skuld nie,” hoor sy Markus sê net toe sy instap. “Dit was ’n ongeluk.”
Hy is reg. Sy onthou nou sy het met Alexander geraas, arme kind. Nou voel sy weer skuldig.
Petrus antwoord Markus nie daarop nie. “Alexander sit en TV kyk,” sê hy net vir haar. “Ek het nie die hart gehad om hom by die kleuterskool af te laai nie.”
Sy knik en stap uit om met die kind te gaan regmaak.
Sy gaan sit op die stoel se leuning by hom en vryf oor sy hare. Hy vat haar hand en haal dit van sy kop af. Gooi haar hand terug in haar skoot.
Sy ignoreer die gebaar. “Dis lekker dat Pappa jou huis toe gebring het.”
Hy sê niks.
“Het jy lekker by tannie Thea gekuier?”
Stilte.
“Alexander?”
Hy kyk net voor hom.
Sy vat die afstandbeheer en druk die afknoppie.
Hy is dadelik woedend. “Gee hier. Pappa het gesê ek mag kyk!” skree hy.
“Ek weet en jy mag kyk, maar Mamma wil net eers iets vir jou sê.”
“Gee terug!”
“Alexander,” druk sy deur. “Mamma is jammer dat ek gister met jou geraas het toe Markus gebrand het. Dit was nie jou skuld nie. Dit was ’n ongeluk. Mamma is jammer.”
Hy kyk net vir haar en sy sien die trane in sy oë blink.
Sy wil ook huil. “Mamma is baie jammer. Reg so?”
Hy knik. Sy gee hom ’n drukkie, maar hy druk haar gou weer weg, verleë oor sy trane. Sy skakel weer die TV aan, maar bly op die leuning sit. Sy sit haar arm om sy skouers en hy druk dit nie weer weg nie. Bly net so by haar sit.
Here, ek maak so droog op my eie, bid sy in haar hart. Help my met hierdie kinders. En hou asseblief vir Petrus nou eers ’n bietjie by die huis; dan is ek ’n beter mamma. En weer eens dankie dat Petrus veilig tuis is. Help Markus om gou gesond te word, asseblief, Here.