Читать книгу Boereverraaier - Albert Blake - Страница 3
ОглавлениеVoorwoord
Dié boek is in wese ’n geskiedenis van Afrikanerverraad wat gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 plaasgevind het. Dit ondersoek die omstandighede wat daartoe gelei het dat broer teen broer te staan gekom het en een Afrikaner ’n ander se lewe moes neem, asook die nalatenskap daarvan. Dit is ’n morbiede geskiedenis dié, maar een wat noodwendig vertel moet word. Die Anglo-Boereoorlog is immers nie net ’n verhaal van Boerehelde nie.
Teregstelling was die mees ekstreme straf wat vir verraad opgelê kon word. Die doodstraf, al is dit in die buitengewone omstandighede van oorlog, bly altyd omstrede. Daarbenewens is sterk emosies by die verskynsel van verraad betrokke. Hierdie is by uitstek dus ook ’n emosionele stuk geskiedenis wat daarom nugter vertolk moet word.
Tydens die navorsing vir hierdie werk is uiteenlopende maar insiggewende kommentaar oor die onderwerp by Afrikaners teëgekom. Heel opvallend is die algehele onkunde daaroor by die meeste. Party reken die onderwerp is nie meer relevant nie. Enkeles meen die afvallige Afrikaners se optrede gedurende die oorlog moet herwaardeer word sodat dit nie meer vandag as verraad beskou behoort te word nie. Ander wou weet of dit regtig nodig is om vergete tragedies op te diep en daardeur ou wonde oop te krap. Die mening is uitgespreek dat die Afrikaner klaar op wankelrige en onsekere paaie verkeer en die ondersoek daarom onvanpas is.
Merkwaardiger as die gebrek aan ’n historiese bewussyn wat hierdie menings openbaar is dat die teregstellings van verraaiers 11 dekades gelede nog sterk emosies by sommiges kan uitlok.
In die geskiedskrywing behoort geen onderwerp vermy te word nie. Die verskynsel van verraad gedurende die Anglo-Boereoorlog het ’n groter impak op die ontwikkeling van die politieke psige van die Afrikaner gehad as waarvoor dikwels erkenning gegee word. Sonder om die betekenis daarvan te oorskat of my aan ’n simplistiese verklaring daarvan skuldig te maak, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit ’n noemenswaardige invloed op die Afrikanerpolitiek gehad het.
Al is die Afrikaner sedert 1994 grotendeels op die politieke kantlyn, het die Suid-Afrikaanse politiek van die 20ste eeu grootliks om die Afrikaner gesentreer. Daarom maak dit sin vir enigiemand wat die land se geskiedenis wil verstaan om hom ook van dié deel van die Afrikaner se geskiedenis te vergewis.
Die detail van die gebeure het na verloop van tyd dalk vergete geraak, maar die nalatenskap van die verraad was diep in die Afrikaner se politieke psige ingeprent. Later is die emosies rondom die verskynsel van verraad sonder werklik diepgaande kennis van die gebeure oorgedra. Daar sal gepoog word om dié skynbare teenstrydigheid te verklaar: hoe sulke sterk emosies kon voortleef, al het die besonderhede van individuele voorvalle in die vergetelheid geraak.
Die doel van die werk is nie om Afrikaners tot een of ander punt te probeer oortuig nie, maar eerder om ’n tragiese faset van ’n grootliks vergete gister bloot te lê. Deur oor alle fasette van sy geskiedenis te besin, kan die Afrikaner, nes ander, die verlede beter verklaar en verstaan.
Die tyd is lank reeds ryp daarvoor om ou gevestigde mites van die tafel te vee. Die Anglo-Boereoorlog was nie net ’n heroïese stryd van die Afrikaner teen ’n genadelose en selfsugtige Britse imperialisme nie – soos wat dit dikwels in die verlede voorgestel is. Dit was ook ’n morele laagtepunt weens die voorkoms van verraad, wat nie sy gelyke elders in die Afrikaner se geskiedenis het nie.
Na 11 dekades is die vertolking van die vergete teregstellings gestroop van die vooroordele wat daartoe bygedra het dat dié laagtepunt vroeër verswyg is. Tradisionele Afrikanernasionalisme wat op ’n dominante en jaloerse wyse oor daardie tydperk van die Afrikaner se geskiedenis gewaak het, is tans aan die verkrummel. Die nabetragting van die Afrikaner se optredes is uiteindelik losgemaak van die kragtige invloede waaraan dit in die verlede blootgestel was. Dit laat groter ruimte om die tydperk meer objektief te beoordeel.
Min is oor die teregstellings van die Boereverraaiers gepubliseer. Die gebeure is destyds na die oorlog grootliks doelbewus doodgeswyg. ’n Gebrek aan bronne het die taak aansienlik bemoeilik om feite oor veral onbekende teregstellings te versamel. Dikwels is enkele leidrade opgevolg om maar net in doodloopstrate te eindig. Hierdie werk maak dus nie daarop aanspraak om ’n volledige weergawe van al die teregstellings van die Boereverraaiers gedurende die oorlog te wees nie.
Net een toonaangewende akademiese werk oor die verskynsel van verraad onder die Afrikaners gedurende die Anglo-Boereoorlog het tot op hede verskyn. Albert Grundlingh se Die“Hendsoppers”en“Joiners”: Die rasionaal en verskynsel van verraad, wat in 1979 verskyn het en in 1999 herdruk is, het die rol en posisie van die Vrystaatse en Transvaalse burgers wat die republikeinse oorlogspoging vanaf 1900 versaak het, ondersoek. Dit het dus nie soseer die oogmerk gehad om spesifiek die teregstellings van die Boereverraaiers te ondersoek nie. Gevolglik verwys Grundlingh net kortliks, met die uitsondering van twee gevalle, na teregstellings in sy werk. Omdat die gebeure rondom die teregstellings die onderwerp van hierdie werk is, word ’n groot deel van Grundlingh se navorsingsveld, wat die breë aspekte van verraad gedurende die oorlog onder Afrikaners omsluit, nie hier herhaal nie. Waar daar ’n verskil is oor feitebevindinge en vertolking, veral oor die nalatenskap van die verraaierverskynsel, en waar oorvleueling noodsaaklik is, word daardie aspekte in hierdie werk weergegee.
Ongepubliseerde dokumente van die argiewe in Pretoria en Bloemfontein was kosbare bronne. In die Nasionale Argief in Pretoria is onder die Argief van die Kommandant-Generaal, Zuid-Afrikaansche Republiek ’n aantal waardevolle notules van hoogverraadsake gevind wat deur ’n krygshof in Wes-Transvaal behartig is. ’n Gedeelte van ’n notule van ’n hoogverraadverhoor deur ’n krygsraad in die Vrystaat wat tot die teregstelling van vier afvallige burgers gelei het, is in die Provinsiale Argief van die Vrystaat gevind. Voorts is heelwat eerstehandse inligting veral uit die kompensasielêers van die Protected Burgher Fund verkry. Dit bevat die inligting van afvallige burgers se verklarings met die oog op kompensasie-eise vir oorlogskade by die Britse owerheid. Om hul saak te versterk, het hulle hul betrokkenheid by die Britse oorlogspoging dikwels onbeskaamd weergegee. Dit geld ook sommige naasbestaandes van die tereggesteldes wat inligting oor dié mense verskaf het wanneer eise namens die oorledenes se boedels ingestel is.
Die sterfkennisse asook die ander inhoud van die boedellêers was onontbeerlik met die inwin van persoonlike inligting van die tereggesteldes. Genealogiese navorsing is noodwendig gebruik om die identiteit van onbekende tereggesteldes vas te stel. Belangrike inligting oor die teregstellings is uit primêre Britse bronne, waaronder veral amptelike ondersoeke en regsmenings, verkry.
Van republikeinse kant was die talle dagboeke en persoonlike herinneringe, waaronder veral die Renier-versameling in die Vrystaatse Argief, van waarde. In die 1950’s het die joernalis Gideon Joubert in Die Volksblad ’n rubriek, “Stop van myne”, onder die naam van Renier gehanteer, waarin oudstryders en Boerevroue van hul ervaringe tydens die oorlog vertel het. Oor die jare het Renier honderde sulke optekeninge versamel wat van onskatbare betekenis vir ’n studie van hierdie aard is. In die Nasionale Argief in Pretoria is wesenlike inligting uit burgers se dagboeke en oudstryders se herinneringe verkry. Daarby is ’n verskeidenheid koerante, publikasies en ander geskrifte gebruik.
Mondelinge onderhoude met van die nasate van die betrokkenes was ’n ervaring op sigself en het waardevolle inligting opgelewer, maar is nietemin met omsigtigheid benader. Wanneer die geloofwaardigheid daarvan enigsins verdag was en inligting nie geverifieer kon word nie, is dit eerder weggelaat.
In ’n soeke na die plekke waar die tragiese gebeure afgespeel het, is duisende kilometers oor die land afgelê. Dit het ontwikkel in ’n merkwaardige reis waarin verskeie tasbare herinneringe van ’n veelbewoë maar nou amper vergete tyd aangetref is. In etlike gevalle het die drama van die krygsverhore op onbekende en afgeleë plekke afgespeel. Dikwels kon ek dieselfde paadjie loop waarop die veroordeeldes na hul plek van fusillering geneem is, wat in die meeste gevalle ook hul laaste rusplek is. Vergete grafstene, soms met vreemde en ontstellende maar aandoenlike opskrifte, is gevind. Ongelukkig is die meeste van die besienswaardighede aan die verval en sommige reeds onherstelbaar beskadig. Dit sal jammer wees as daardie tasbaarhede verdwyn en nie vir die breë nageslag bewaar bly nie. Dit is onlosmaaklik deel van ons land se geskiedenis en behoort deel van almal se erfenis te wees.
’n Oorsig van die oorlog word nie gegee nie omdat talle werke daaroor al verskyn het. Die bespreking van die teregstellings is ook nie in ’n chronologiese volgorde nie.
Om verwarring uit te skakel, word deurgaans na die oorspronklike plekname verwys soos dit bekend gestaan het tydens die tydperk waarin die gebeure afgespeel het. Alle aanhalings word ongeredigeer in die oorspronklike vorm weergegee, wat ter wille van historiese konteks soms rasverwysings insluit wat vandag as onaanvaarbaar beskou word. Die algemene benaming van die oorlog as die Anglo-Boereoorlog word aanvaar. Die begrippe “Afrikaner” en “Boer” word in hierdie werk as sinonieme gebruik.
Die gebeure word noodwendig beoordeel in die lig van die heersende norme van die tydperk waarbinne dit afgespeel het. Die uitgangspunt is dat die Transvaalse en Vrystaatse burgers wat, om watter rede ook al, hul rug op die republikeinse stryd gekeer het deur dit aktief teen te staan, hulle aan verraad skuldig gemaak het. Daar sal aangetoon word retrospektiewe argumente wat aanvoer die afvalliges se optrede was geregverdig, is onhistories en spekulatief. Dat daar in hierdie werk van tyd tot tyd na die afvalliges as verraaiers, joiners, troueloses ensovoorts verwys word, moet in dié lig beskou word. Daarmee word geensins te kenne gegee dat die werk met ’n vooropgestelde partydigheid aangebied word nie. Die doel is om al die omstrede fasette van die gebeure sover moontlik en sonder enige voorbehoud tot op die been te ontbloot, maar terselfdertyd die vertolking ewewigtig te hou.