Читать книгу Boereverraaier - Albert Blake - Страница 4
Оглавление1
Geheueverlies
Die teregstelling van Boereverraaiers in die oorlog is ’n tragedie sonder weerga in die Afrikaner se geskiedenis.
So ontvang ’n jong Afrikanervrou van Wakkerstroom in Oos-Transvaal byvoorbeeld einde Julie 1901 die skrikwekkende tyding dat haar man en haar vier broers deur hul voormalige kommando-kamerade weens verraad gefusilleer is. Hulle is almal saam in een graf begrawe. Haar vyfde broer, wat die doodstraf vrygespring het, is met lyfstraf afgeransel en moes doelbewus wegkyk om nie te sien hoe sy broers tereggestel word nie.
Vroeër dieselfde jaar tref ’n soortgelyke tragedie ’n ander jong Afrikanervrou van Hartbeesfontein in Wes-Transvaal toe haar man saam met haar pa en swaer as verraaiers voor ’n vuurpeloton sterf. Die jong burgers wat deel van die vuurpeloton was, was so senuweeagtig dat hulle een van die veroordeeldes gewond het, wat toe weer geskiet moes word. In Oktober dieselfde jaar moes ’n bittereinderpa sy twee verraaierseuns by Hoopstad in die Vrystaat gaan groet voordat hulle gefusilleer is – deur burgers van dieselfde kommando waaraan hy behoort het.
Kort tevore is twee verraaiers suid van Heidelberg tereggestel. Van die vuurpelotonlede en die tereggesteldes was bloedverwant. Een van die tereggesteldes het as onderwyser vir byna die helfte van die lede van die vuurpeloton skoolgehou.
En daar was nog verskeie ander soortgelyke tragedies. In die lig van die magdom publikasies wat die afgelope 11 dekades oor die oorlog verskyn het, is dit verstommend dat sulke ingrypende gebeure grootliks onbekende geskiedenis gebly het.
Hoekom het dit skynbaar uit die Afrikaner se historiese geheue verdwyn, terwyl die meeste ander fasette van die oorlog redelik volledig opgeteken is?
Daar is komplekse oorsake vir dié historiese geheueverlies. Op merkwaardige wyse het die Afrikaner die teregstellings reeds kort na die beëindiging van die oorlog in 1902 bewustelik en onbewustelik uit sy geheue begin werk, totdat die gebeure grootliks aan die vergetelheid prysgegee is. Die Afrikaner wou om verstaanbare redes na sy folterende ervaringe in die konsentrasiekampe en ander beproewinge nie aan nog onaangename traumas van die oorlog herinner word nie. Daarvoor het die oorlog genoeg smart meegebring en niks betreffende die fusillerings doen enige van die betrokke partye eer aan nie.
Genoegsame getuienis is egter gevind dat die trauma van die gebeure permanente letsels by die naasbestaandes van die tereggesteldes én by die teregstellers gelaat het. Meer as vyf dekades na die teregstelling van ’n verraaier is daar nog tekens van trauma by ’n bejaarde oudstryder wat as ’n jong burger in 1901 lid van ’n vuurpeloton was. In ’n ander geval vertel die eens jong bevelvoerder van ’n vuurpeloton nog ses dekades na die voorval vir sy familielede die dag van die teregstelling was “die swaarste” van sy lewe. Verskeie naasbestaandes kon nie die dood van die tereggesteldes verwerk nie.1 Nie een van die betrokkenes het berading ontvang nie, soos dit trouens ook die geval met die konsentrasiekamp-inwoners en ander slagoffers van die oorlog was.
Gebrekkige optekening van die gebeure rondom die teregstellings kan minstens deels daaraan toegeskryf word dat die gebeure vir die betrokkenes te pynlik was om gedurig in herinnering te roep. Dit was natuurlik veel makliker om heldedade op die slagveld en elders te gedenk.
Afrikanergemeenskappe was ten tyde van die oorlog maar klein. Die verraad wat tot die doodstraf aanleiding gegee het, is meestal in die omgewing gepleeg waaruit die verraaiers gekom het. Dikwels was die tereggesteldes goeie vriende met of selfs familie van die burgers wat met hul teregstelling belas was. Soms was dit selfs ’n geval van die spreekwoordelike broer teen broer.
Dit is opvallend in die enkele gevalle waar herinneringe oor die teregstellings wel gepubliseer word, daar nie sprake van bravade is nie. Ondanks ’n diepe weersin in verraad is daar gereeld ook medelye met die finale lot van die tereggesteldes.2
Reeds gedurende die oorlog is daar tekens dat die gewone burger die teregstellings met omsigtigheid bejeën het. Een van die eerste vermeldings van ’n moontlike teregstelling van ’n verraaier kom in die oorlogdagboek van die Duitse vrywilliger Oskar Hintrager voor. Hintrager, wat aan Boerekant geveg het, maak op 30 Julie 1900 dié inskrywing: “In die laer doen die gerug die rondte dat Erasmus wat weens hoogverraad veroordeel is, doodgeskiet is. Vir die Boere met hulle sagte, bedagsame aard bly dit in elk geval ’n geheim.”3
Waarskynlik was dit nie in die aard van die gewone burgers om dié soort traumatiese gebeure op skrif te verwoord nie.
Waar die teregstellings wel in enkele gepubliseerde werke aandag kry, is dit opvallend dat die name van die tereggesteldes dikwels doelbewus verswyg word. Wanneer ds. J.D. (Vader) Kestell in 1932 in sy biografie oor Abraham Kriel4 dié veldprediker aan die woord stel oor die laaste oomblikke van die verraaier Lambert Colyn, word die tereggestelde nooit by die naam genoem nie.5 Naas Raubenheimer, ’n latere parlementslid en senator wat as ’n jong Kaapse rebel met die teregstelling van vier verraaiers in Wes-Transvaal teenwoordig was, het in 1939 ’n aangrypende weergawe van die gebeure aan die historikus Scheepers Strydom gegee. Sy beskrywing word herhaaldelik gepubliseer – sonder die name van die tereggesteldes.6 In 1944 gee die oudstryder Jack van den Heever in sy oorlogsherinneringe, Op kommando onder kommandant Buys, een van die volledigste gepubliseerde ooggetuiebeskrywings van ’n fusillering van verraaiers, maar verswyg die name van die tereggesteldes.7
Dit was gevolglik nie net weens die trauma dat die gebeure rondom die teregstellings nie volledig opgeteken of later ontleed is nie. Die verraad was ook ’n diepe verleentheid vir die meeste Afrikaners.
Reeds kort na die oorlog was daar ’n doelbewuste poging om die name van die lewende joiners stil te hou. Kapt. J.J. Naudé,8 hoof van die republikeinse magte se spioenasiediens in Transvaal, het destyds aangevoer hy het ’n volledige lys name van die National Scouts (joiners in Transvaal). Die latere premier van Suid-Afrika en eertydse bevelvoerder van die Transvaalse magte, kmdt.genl. Louis Botha,9 het hom kort na die vredesluiting gevra om die lys vir hom te gee sodat hy dit vir genls. Christiaan de Wet10 en Koos de la Rey11 kon wys. Kort voor die drie generaals se vertrek na Europa in 1902 het Botha Naudé meegedeel hy het in oorleg met die ander twee besluit om die lys te vernietig, “want vir die nageslag van die National Scouts is dit beter dat die name nie bekend bly nie”.12
In die dekades na die oorlog word die name van die tereggesteldes, en trouens alle verraaiers, in gepubliseerde werke deurlopend doelbewus weggelaat by die beskrywing van oorloggebeure. Die baasverkenner kapt. Henri Slegtkamp het in 1935 die volgende aan sy biograaf voorgeskryf: “Vertel hulle die naakte waarheid . . . maar moenie die name van die mense wat gewankel het, in die boek neerskryf nie. Ons moenie opnuut die ou wonde laat bloei nie.” Later in die boek sê hy hy verswyg die name van die verraaiers omdat hy “hulle kinders jammer kry, wat later onskuldig sal moet ly deur die misdade van die vaders.”13 In Op die Transvaalse front verswyg E.J. Weeber om ’n soortgelyke rede die naam van ’n vooraanstaande verraaierpa wat voor die oorlog ’n lid van die Transvaalse volksraad was: “Ek wil sy naam nie noem nie omdat sy seuns flukse vegsmense was en getrou by die kommando gebly het.” Volgens Weeber het die pa se verraad “ ’n liederlike naklank gehad, maar daaroor sal ek liewer swyg ter wille van die oorlewendes”.14
In E. Neethling se Mag ons vergeet? word die ondervindinge van ’n aantal Boerevroue gedurende die oorlog weergegee. Volgens Neethling het feitlik elke vrou van die “valsheid en wreedheid” van verraaiers gepraat, maar nietemin nie hul name genoem nie. “Laat ons liewers probeer om die breuk te heel en geen Kaïnsmerk op een van ons broers te sit nie.”15
Dekades na die oorlog was daar steeds dié sensitiwiteit rondom die bekendmaking van verraaiers se name. In Buurman se Oorlogswolke oor die republieke: die herinneringe van ’n Boere-offisier wat in 1944 verskyn, lui die voorwoord reeds: “In sommige gevalle is dit nie wenslik geag om die regte name van persone te laat verskyn nie.” Selfs in J.F. van Wyk se oorlogsherinneringe, wat so laat as 1971 as Die Mauser knal verskyn, is dié opmerking voorin die boek: “Om verstaanbare redes is die name van sommige mense in hierdie werk verander.”16 Die veldprediker R.D. McDonald gee ’n aandoenlike beskrywing van hoe hy ’n oudstudentemaat van Stellenbosch op die slagveld as ’n sterwende joiner ontmoet het, sonder om sy naam te noem.17
Dit is opvallend dat skuilname in ’n hele aantal gepubliseerde herinneringe van oudstryders en inwoners van konsentrasiekampe gebruik word om na troueloses te verwys wat waarskynlik nog in daardie stadium gelewe het of dalk om hul familielede te beskerm. J.N. Brink gee in Oorlog en ballingskap ’n omvattende beskrywing van kmdt. S.G. Vilonel se verraad, maar verwys deurgaans na hom as “X”.18 Ook Sarah Raal verwys in Met die Boere in die veld na ’n afvallige as “X”.19 In haar herinneringe, Uit die donker woud, verwys G.E. Bezuidenhout na ’n “groot joiner” as “W”,20 terwyl McDonald van ’n spesifieke manteldraaier as “T” in sy In die skaduwee van die dood praat.21
Die verraaiers se name is in sommige gevalle as ’n gebaar van minagting gewoon verswyg. Okkie de Villiers het in sy oorlogsherinneringe, Met Steyn en De Wet in het veld (1903), sy afsku oor ’n Kaapse Afrikanerverraaier so verwoord: “Ik zal zijn naam niet noemen; niet, omdat ik hem sparen wil, maar omdat ik mijn boek te goed acht, om er den naam in te noemen van zoo ’n slechten Afrikaander.”22
Die Boereleiers het ook nie in hul herinneringe oor die teregstelling van verraaiers uitgewei nie. Christiaan de Wet, wat ’n duidelike afsku in enige vorm van verraad gehad het, maak behalwe vir ’n enkele voetnoot in sy bekende De strijd tusschen Boer en Brit nie melding van enige teregstellings van verraaiers waarby hy betrokke was nie.23 Net so swyg genls. De la Rey en Jan Smuts in hul herinneringe grootliks oor die onderwerp, behalwe vir terloopse verwysings sonder noemenswaardige detail. Nêrens word byvoorbeeld in gepubliseerde werke genoem dat een van die mees gedugte Vrystaatse generaals, Antonie Michael (Rooi Magiel) Prinsloo,24 se swaer tereggestel is nie.25 In dié opsig bly die generaals se versuim om die gebeure te vermeld ’n raaisel. Dalk lê ’n verklaring daarin dat die teregstelling van verraaiers beskou is as só ’n verleentheid, in wese ’n skandaal wat toegesmeer moes word, dat hulle hul herinneringe as’t ware nie daarmee wou besmet nie.
Dit is aangehelp deur Afrikanernasionalisme wat na die oorlog al hoe kragtiger geword het en hard gewerk het om ’n trotse Afrikanerverlede te gedenk. Daar is immers niks te vier of om trots op te wees as van jou eie mense verraad pleeg nie. Mettertyd het Afrikanernasionalisme die Anglo-Boereoorlog vir homself as ’n heroïese stryd toegeëien en die oneervolle verlede weggevee. Meer as net die name van die verraaiers is verswyg. Daar was ’n besliste mening dat dit beter was om hul dade en invloed heeltemal van die nageslag te weerhou.
Met die oplewing van publikasies oor die oorlog gedurende die 1930’s het feitlik net populêre gebeurtenisse en nie die skandes nie aandag gekry.26 Tog vertel Hendrina Rabie-Van der Merwe van ’n joiner wat ’n Afrikanerseuntjie buite die konsentrasiekamp op Bethulie doodgeskiet het, maar sê sy kan nie die verraaier se naam onthou nie. “Ek wens dat ek die ellendeling se naam onthou het om dit hier te kan noem.” 27
’n Eeu na die oorlog meld die historikus Albert Grundlingh in die voorwoord tot die tweede uitgawe van sy werk Die“Hendsoppers” en “Joiners” dat die Nasionale Party-regering van die 1970’s dit goed gedink het om ’n verbod te plaas op die bekendmaking van die name van burgers wat aan Britse kant geveg het. Die verbod sou eers in 2000 verstryk het. Grundlingh is derhalwe nie in die 1970’s toegelaat om die materiaal vir sy navorsing in die Vrystaatse Argief te besigtig nie.28 Met my besoek daar in 2009 het ek afgekom op aantekeninge op die omslag van die betrokke lêers wat destyds insae daarin beperk en later verbied het. ’n Aantekening van 1966 lui: “Hierdie lêers is onttrek en is nie vir die publiek toeganklik nie.”29
Byna ’n dekade later, in 1975, word die toegang tot die lêers met die volgende opdrag opgeskort: “Die Minister van Nasionale Opvoeding het beslis dat hierdie C.O. lêers (394/02 en 2796/02) nie voor die jaar 2000 aan navorsers beskikbaar gestel mag word nie. Die direkteur van Argiewe het gevra dat die lêers verseël word. Die Hoof van hierdie bewaarplek het op 17 Mei 1975 beslis dat hierdie lêers in sy brandkluis bewaar moet word.”30
Die minister se verbod maak nie regtig sin nie, want ander lyste met die joiners se besonderhede is in Pretoria gevind, sonder enige beperking daarop.31 Daar was ook nie beperkinge op die lys name van potensiële joiners in die krygsgevangenekampe op Bermuda en St. Helena wat hulle bereid verklaar het om na Suid-Afrika terug te kom en aan Britse kant te veg nie. 32
’n Mens kan maar net bespiegel oor wat senator J.P. van der Spuy, destyds minister van nasionale opvoeding, beweeg het om inligting 73 jaar na die einde van die oorlog so te beperk.
Daar was in meer onlangse tye ’n bewering in ’n Beeld-artikel dat ’n Fouché-familie van Rouxville tydens die oorlog na die destydse Basoetoland (nou Lesotho) gevlug het en hulle daar ryk geboer het. Beweringe is gemaak dat dit familie van die voormalige staatspresident Jim Fouché was en dat die beperking daarom ingestel is.33 Dié gerug kon nie geverifieer word nie, want geen Fouché van Rouxville verskyn op die lys nie. Dit wys nietemin hoe aktueel en sensitief die onderwerp van verraad steeds na meer as sewe dekades vir sekere Afrikaners was.
Prof. Andries Raath van Brandfort het ’n ander, soortgelyke naamlys van joiners wat sedert die 1960’s by die departement van onderwys bewaar is, waarskynlik ook met die doel om toegang daartoe te beperk.34
Die historiese geheueverlies oor verraad is aangehelp deur die ontwikkeling van die partypolitiek na die oorlog. Met die eenstroombeleid van Botha en Smuts is versoening en samewerking nie net tussen die voorheen strydende taalgroepe nagestreef nie, maar ook tussen die bittereinders en die ontroues. Botha en Smuts wou klaarblyklik nie ou wonde oopkrap nie. Dit is insiggewend dat die verraaierkwessie ook nie ’n noemenswaardige of openlike rol in die Nasionale Party gespeel het nie. Dit is waarskynlik doelbewus vermy, ondanks die feit dat dié party die kampvegter van Afrikanernasionalisme was. Onderlinge verwyte tussen politici was die enigste gereelde herinnering aan die voorvalle van verraad. Tydens verkiesingsveldtogte is die verraaierkwessie by tye met besondere venyn opgeroep. Individuele kandidate wie se optrede gedurende die oorlog verdag was, is dikwels in politieke moddergooiery daaroor geteiken.
Algaande sou die geheues van dié wat nog gelewe het, ook geleidelik verdof. Met die afsterwe van die betrokkenes het van die inligting saam met hulle na die graf gegaan.
Dit is insiggewend dat geen Afrikaanse of Engelse historici tot op hede die saak uit die verraaiers se oogpunt gestel het nie.35 In nie een van die vertolkings wat in die eeu na die oorlog verskyn het, is probeer om die verskynsel van verraad onder Afrikaners te probeer regverdig nie. Die seun van genl. Hendrik Schoeman het wel in 1950 ’n boek getitel Genl. Hendrik Schoeman: was hy ’n verraaier? gepubliseer waarin hy sy pa se afvallige optrede probeer verduidelik het, maar dié werk is nie ’n analitiese ontleding van die verskynsel van verraad nie. Die waarde daarvan lê eerder daarin dat dit uitwys watter pynlike nagevolge verraad vir die verraaier se nageslag meebring.36
Op die Afrikaanse akademiese gebied was daar veral voor die 1970’s ’n groot traagheid om temas te ondersoek wat hoegenaamd indruis teen die gevestigde opvatting dat die Afrikaners as ’n hegte volk in ’n stryd teen Brittanje saamgestaan het. Die akademiese werke was meestal beperk tot gewilde onderwerpe van militêre aard, individuele Boereleiers, krygsgevangenes en die lyding en swaarkry van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe. In die gloed van nasionalisme is die oorlog as ’n heldestryd beskou en enigiets wat dit weerspreek, geïgnoreer. Dit blyk dat ’n groot aantal meestersgraad- en doktorale studente die kwessie van Afrikanerverraad voor Grundlingh se werk as taboe beskou het. Selfs in 1960 nog meld F.G. Grobler in sy meestersgraadverhandeling getiteld “Die Carolina-kommando in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902)” dat ’n joiner se naam liewer nie genoem moet word nie.37
In die Britse geskiedskrywing het die verraaiervraagstuk ook weinig aandag gekry. In 1985 het Emanoel Lee in To the Bitter End nog soos volg oor die joiners opgemerk: “The story of these Boer volunteers is a sad, in some cases disreputable one, which has received little attention in Britain . . . Amongst Afrikaners they are remembered to this day with such hatred that it is almost impossible to get any information about them.”38 In 1979 het Thomas Pakenham tot ’n soortgelyke gevolgtrekking in sy populêre The Boer War gekom: “The fact that a fifth of the fighting Afrikaners at the end of the war fought on the side of the British was a secret that has remained hidden till today.”39
Al bogenoemde faktore het daartoe meegewerk dat belangrike inligting oor die teregstellings verlore geraak het en dat die gebeure onder die mat gevee kon word. Genoeg inligting is egter beskikbaar om ’n sinvolle vertolking van die gebeure te gee.
Die skande van verraad en die onverwerkte trauma weens die teregstellings het nietemin sekere gevolge vir die ontwikkeling van die politieke psige van die Afrikaner ingehou. Die geskiedenis van die Afrikaner in die 20ste eeu kan nie ten volle verstaan word sonder om kennis te neem van die sielkundige nalatenskap daarvan nie en daarom dié ondersoek na Afrikaner-verraad tydens die Anglo-Boereoorlog.