Читать книгу Boereverraaier - Albert Blake - Страница 8
Оглавление5
G’n “Gentlemen’s war”
“A brave race can forget the victims of the field of battle,
but never those of the scaffold. The making of
political martyrs is the last sanity of statemanship.”
– Arthur Conan Doyle
Die Boereverraaiers was nie die enigstes wat voor vuurpelotonne gesterf het nie. Teen die einde van die oorlog was teregstellings ’n byna alledaagse verskynsel.
Honderde swart en bruin mense is byvoorbeeld summier of na ’n verhoor deur republikeinse burgers of Kaapse rebelle genadeloos tereggestel. Soortgelyke teregstellings deur die Britse magte het ook nie in die geskiedskrywing veel aandag gekry nie. Baie van die teregstellings, deur al die strydende partye, het met onmenslikhede gepaard gegaan. Dit maak ’n verdere bespotting van die aanspraak dat die Anglo-Boereoorlog ’n sogenaamde “gentlemen’s war” was.1
Hoewel oorlog in sy aard wreed is, is teregstellings in ’n klas van hul eie wat gruwelikheid betref. In die abnormale omstandighede van die oorlog was die regspleging dikwels nie so ewewigtig soos in vredestyd nie. Dié uiterste straf is boonop nie altyd net toegepas om onregte te straf nie, maar ook om bepaalde militêre en politieke doelwitte te bereik. In dié opsig is die afskrikwaarde van teregstellings vooropgestel.
Daar was dikwels in die oorlog ’n dun skeidslyn tussen ’n wettige teregstelling en moord. Die strydende partye het mekaar deurlopend van gruwels op die slagveld beskuldig. Daar was wedersydse beskuldigings dat gevange soldate en gewondes op die slagveld summier tereggestel is sonder ’n verhoor. Die regsgeldigheid van summiere teregstellings was hoogs twyfelagtig. Gevolglik is die teregstellings, naas die konsentrasiekampbeleid en miskien die verskroeideaardebeleid, sekerlik die mees omstrede aspek van die oorlog.
Die langtermyngevolge van sekere teregstellings was ingrypend. Dit was die ideale teelaarde vir martelaars en helde. Die emosionele nalatenskap van die teregstellings van Kaapse rebelle en republikeinse burgers deur die Britse magte het byvoorbeeld die oorspronklike militêre oogmerke daarvan heeltemal oorskadu. Daarteenoor is die teregstellings van honderde swart en bruin mense en die Boereverraaiers grootliks vergete.
Teregstellings deur die Britse magte
Die Britte se twyfelagtige regspleging en die gevoellose wyse waarop hulle Kaapse rebelle en republikeinse burgers tereggestel het, het in baie gevalle blywende bitterheid onder Afrikaners veroorsaak. Die tereggesteldes is na hul dood deur hul volksgenote tot helde- en martelaarstatus verhef. Reeds in 1904 het G. Jordaan die nagedagtenis van Kaapse rebelle en ander Afrikaners wat in die Kaapkolonie tereggestel is in Hoe zij stierven verewig.2 In die gedenkalbums van latere dekades is die tereggestelde republikeinsgesindes vereer as helde wat die hoogste offer vir hul volk gebring het.3 Ook in die Afrikaanse letterkunde en veral in die digkuns is daardie slagoffers as martelaars besing.4
Meer as honderd bevestigde gevalle is gevind van Kaapse rebelle en republikeinse burgers wat met of sonder verhoor deur die Britse magte tereggestel is, terwyl daar aanduidings is dat die getal selfs hoër mag wees.5
Daar bestaan geen twyfel dat die Britse militêre oppergesag uiters gefrustreerd was met die oorlog wat nie met ’n beslissende oorwinning tot ’n einde gebring kon word nie. Saam met ander stappe was die teregstellings maar net een van die instrumente om die republikeinse magte tot oorgawe te dwing. Die Britse militêre howe het byna onbeperkte magte gehad om die doodstraf oor republikeinsgesindes vir sogenaamde oorlogsoortredings uit te spreek. Die Britse opperbevelhebber, Kitchener, moes dit net bekragtig.
Om dié oorlogbeleid uit te voer, het die Britse militêre howe hulle aan drakoniese regspleging skuldig gemaak. Aanvaarde regverdigheidsbeginsels is ondergeskik gestel aan militêre oorwegings. Afrikanerseuns van so jonk as 16 en 17 jaar is op ’n arbitrêre wyse skuldig bevind en op ’n skandelike wyse ten aanskoue van hul mense tereggestel. In baie gevalle is die tereggesteldes skuldig bevind aan sogenaamde oorlogsmisdade wat inderwaarheid standaard oorlogspraktyk was. Hulle is byvoorbeeld aangekla vir die aanval en ontsporing van treine, die buit van voorrade en perde (wat in die klagstate diefstal en roof genoem is), asook dat hulle Britse soldate vermoor het wat in werklikheid op die slagveld gesneuwel het, en dan vir die gebruik van dum-dum-patrone. In die lig van die Britse beleid van verskroeide aarde het die skuldigbevinding en latere teregstelling van Boere weens byvoorbeeld brandstigting, die Britse regspleging in ’n klugspel laat ontaard.6
Die Britse militêre howe was wel by magte om die Kaapse rebelle aan hoogverraad skuldig te bevind en die doodstraf op te lê omdat hulle Britse burgers was. Die toepassing van die doodstraf op die rebelle was nietemin om verskeie redes omstrede. Die militêre owerhede het op ’n partydige en geselekteerde wyse te werk gegaan. Veral gevange rebelle wat gesagsposisies in hul kommando’s beklee het, is ter dood veroordeel. Deur die topstruktuur van die kommando’s te teiken, is van die tereggesteldes ’n voorbeeld gemaak. Van die bekendste gevalle was die fusillering van kommandante Hans Lötter en Gideon Scheepers, wat ironies genoeg nie Kaapse rebelle was nie. Veral die teregstelling van die befaamde 22-jarige Scheepers het hom tot held en legende verhef.7
Om die afskrikwaarde van die teregstellings te optimaliseer, is dit oor ’n wye gebied uitgevoer – op minstens 16 Karoo- en ander Kaapse dorpe. Die fusillering van die Kaapse rebelle het met ’n besondere genadeloosheid gepaard gegaan. Die vonnisopleggings en sekere teregstellings is in die openbaar uitgevoer. Die wreedheid daarvan is vererger deurdat plaaslike inwoners wat daarvan verdink is dat hulle die republikeinse saak goedgesind was, dit moes bywoon, anders is hulle gestraf. Selfs ’n pa moes die onmenslike foltering verduur om sy seun se teregstelling te beleef.
Die geestelike marteling van aanwesige republikeinsgesindes is vererger deur die feestelike skouspel waarmee die verrigtinge gepaard gegaan het. Dikwels is winkels toegemaak terwyl die veroordeeldes te midde van ’n skare toeskouers na die dorpsplein gebring is om die vonnis aan te hoor. Daar is ’n militêre parade gehou met ’n orkes wat gespeel het. Die militêre spektakel is met die teregstelling herhaal. Daar was gevalle waar die terdoodveroordeeldes aan verdere vernederings onderwerp is met ’n gekoggel vanuit die skare. Soms het die orkes met ’n triomfmars “More work for the undertaker” gespeel. Die meeste veroordeeldes is deur ’n vuurpeloton gefusilleer, terwyl ander gehang is. By geleentheid het die Britte ’n windpomptoring gebruik toe ’n galg nie beskikbaar was nie.8
Die teregstellings en drakoniese bepalings daarrondom is amptelik deur die Britse owerhede gekondoneer. Dit het heftige kritiek in die buiteland en veral van die pro-Boere-beweging in Brittanje uitgelok.9 In die Kaapkolonie het dit eens lojale Afrikaners vervreem en vooraanstaandes het openlik hul misnoeë daaroor te kenne gegee. Die skryfster Olive Schreiner het haar die gramskap van die Britse owerhede op die hals gehaal toe sy haar ontsteltenis uitgespreek het oor die ernstige afwyking van beskaafde beginsels wat veronderstel was om die ruggraat van die Britse regstelsel te wees.10
Die jingopers in Brittanje en in die twee kolonies was verheug oor die genadelose optrede teen veral die Kaapse rebelle. Dit is insiggewend dat sekere toonaangewende Britse koerante summiere teregstellings, nie net van Kaapse burgers nie, maar ook van republikeinse burgers begin propageer het. Op 17 Oktober 1900 het die Daily Telegraph daarop aangedring dat die Britse magte weldra moes begin om alle Boere wat voortveg sonder genade tereg te stel wanneer hulle gevang word. Op 16 Oktober 1900 het The Standard aanbeveel dat elke Boere-krygsgevangene tereggestel word. Dié koerant het die voorstel op 2 Januarie 1901 herhaal. Dié radikale standpunt is ook in ander Britse koerante herhaal.11 Daar was oor ’n betreklike breë front gerugte dat ’n beleid van “take no prisoners” van Britse militêre kant gepropageer is. Op 6 Februarie 1901 het ’n berig in die Cape Times verskyn waarluidens die hoogste Britse militêre gesag opdrag sou gegee het dat Boere nie meer as krygsgevangenes geneem moes word nie. Nadat die redakteur, Albert Cartwright, geweier het om sy bron oor dié inligting te openbaar, is hy tot ’n jaar gevangenisstraf gevonnis.12
Hoewel die bestaan van so ’n amptelike beleid sterk te betwyfel is en sulke voorvalle in die praktyk in elk geval nie algemeen voorgekom het nie, het dit ’n klimaat geskep wat summiere teregstellings aangemoedig het. Die bekendste geval is sekerlik dié van die twee Australiese offisiere, Harry (“Breaker”) Morant en Peter Handcock, wat daarvan beskuldig is dat hulle minstens 22 burgers en ander burgerlikes koelbloedig in Noord-Transvaal vermoor het. Hulle het aangevoer die Britse owerhede het die summiere teregstelling van Boere amptelik goedgekeur. Albei is egter deur ’n Britse krygshof skuldig bevind aan moord en in 1902 in Pretoria tereggestel.13
Teregstellings het ook in eie geledere binne die Britse leër in Suid-Afrika plaasgevind. Benewens die geval van Handcock en Morant is daar enkele ander gevalle waar Britse soldate weens drostery en ander oortredinge tydens die oorlog deur hul eie magte gefusilleer is.14
Die Britse militêre owerhede het die Boeremagte voorts daarvan beskuldig dat hulle swart en bruin mense wederregtelik tereggestel het. Minstens 15 republikeinsgesindes is in dié verband op aanklagte van moord of poging tot moord skuldig bevind en daarna deur Britse militêre owerhede tereggestel.15 Wat die Britse militêre owerhede gerieflikerwys verswyg het, is dat hulle hulle self ook daaraan skuldig gemaak het. Die Britse magte het ’n onbekende aantal swart en bruin mense tereggestel wat van verraad verdink is of dat hulle vir die Boere gewerk het. Dié skynheilige houding van die Britse owerhede het ’n moderne Britse historikus laat opmerk: “It made a mockery of Britain’s tough stance on Boers who mistreated or killed natives.”16 Tog het die Britse teregstellings van swart en bruin mense nie naastenby dieselfde omvang aangeneem as sulke teregstellings deur die republikeinse magte nie. Min navorsing is nog daaroor gedoen.
’n Donker wolk hang oor die Britse magte se hantering van die teregstellings van Afrikaners wat na verhore ter dood veroordeel is. In die Kaapkolonie het hul drastiese optrede in dié verband wel die gewenste uitwerking gehad deur ’n groter opstand deur Kaapse rebelle aan bande te lê, maar dit het pynlike letsels onder Afrikaners gelaat wat moeilik uitgewis is. Selfs na die einde van die oorlog is ’n burger, Salmon van As, op Heidelberg in Transvaal na ’n omstrede verhoor tereggestel. Hy was een van drie burgers wat nie onder die algemene amnestie van die vredesvoorwaardes geval het nie.17
Teregstellings deur republikeinse magte
Al het die Britse magte burgers tereggestel, het die republikeinse magte nie dieselfde met hul vyand se soldate gedoen nie. Die enigste uitsondering wat gevind kon word, was die teregstelling van ’n Britse offisier, lt. Boyle, wat met genl. De Wet se verowering van Dewetsdorp op 20 November 1900 gevange geneem is en later summier tereggestel is weens wandade wat hy teenoor vroue en kinders gepleeg het. Dit het aanleiding gegee tot een van die drie uitsonderings op die algemene amnestie wat na die oorlog aan republikeinse burgers toegestaan is vir dade wat tydens die oorlog gepleeg is. Niemand is egter skuldig bevind nie omdat die Boereoffisier wat Boyle laat teregstel het, in die oorlog gesneuwel het.18
Nadat genl. Koos de la Rey se burgers lord Methuen met die slag van Tweebosch teen die einde van die oorlog gevange geneem het, het baie van die burgers daarop aangedring dat hy gefusilleer word weens sy ongenaakbare optrede teenoor veral burgerlikes. De la Rey het die gewonde Methuen egter vrygelaat en na Klerksdorp gestuur om mediese behandeling te ontvang. Ontstigte burgers het daarop aangedring dat hy teruggebring word en vir sy dade verantwoording doen. Hy is toe inderdaad na die Boerekommando teruggebring, maar De la Rey het ingegryp, die burgers tot kalmte gemaan en Methuen onbelemmerd na Klerksdorp teruggestuur. De la Rey se humanitêre daad het op die lange duur ongetwyfeld meer voordele vir die Boeresaak ingehou.19
’n Moontlike verklaring vir hoekom die Boere gevange Britse soldate wat moontlik aan wandade skuldig was nie ekstreem behandel het nie, lê daarin dat die Britse mag in ’n magsposisie was teenoor die burgerlikes in die konsentrasiekampe en gevange Kaapse rebelle. Die republikeine was op dié terreine besonder kwesbaar vir vergelding. Nietemin het republikeinse krygshowe die doodstraf aan enkele Britse onderdane opgelê, maar hulle was burgerlikes en nie Britse soldate nie. Dié gevalle word later bespreek.
Honderde swart en bruin mense wat by die Britse magte aangesluit het of die wapen teen die Boeremagte opgeneem het, is egter tydens die oorlog deur republikeinse burgers gefusilleer.20 Die omvang van daardie teregstellings het sulke afmetings aangeneem dat dit teen die einde van die oorlog ’n byna alledaagse verskynsel was. Ds. R.D. McDonald het in sy herinneringe opgemerk: “Teen die einde van die oorlog was daar min kans vir ’n nie-blanke spioen om sy lewe te behou. Sonder onderskeid is die doodsvonnis op sulke spioene toegepas.”21
In die loop van die oorlog het misdadige gewapende swart en bruin mense misdrywe soos moord, roof en verkragting teen geïsoleerde Boerekommando’s en weerlose Boerefamilies gepleeg. Soms is die wandade onder leierskap van Britse offisiere of Afrikanerverraaiers gepleeg. Die burgers het lede van sulke bendes waarskynlik uit vergelding tereggestel. Daar is ook om strategiese redes genadeloos teen gewapende swart en bruin mense opgetree. Namate die Britte radeloos geword het met die volgehoue verset van die Boere het hulle al meer swart en bruin helpers gebruik. Onlangse navorsing het getoon ondanks lord Kitchener se doelbewuste “amptelike” onderspeling van hul deelname aan die oorlogspoging het tot 120 000 swart en bruin mense in die oorlog in een of ander hoedanigheid aan Britse kant diens gedoen, 50 000 daarvan as gewapendes. Daardie getal moet by die 448 725 Britse soldate getel word wat amptelik in die loop van die oorlog teen die Boere geveg het.22 As in ag geneem word dat die aantal bittereinders aan die einde van die oorlog op tussen 17 000 en 20 000 beraam word, het hulle teen ’n oorweldigende getalle-oormag te staan gekom.
Daar was so baie aanvalle deur swart mense dat dit in sekere streke van die republieke ’n wesenlike gevaar was en die republikeinse magte gedwing het om die stryd op twee fronte te voer. Daar was later in die oorlog veral baie sulke aanvalle in die geografiese hoefyster wat van Wes- oor Noordwes- en Noord-Transvaal en van daar na Oos-Transvaal en die suidoostelike hoek van Transvaal asook die Oos-Vrystaat strek.23 Grepe uit oorlogdagboeke van burgers wek die indruk dat die stryd in dele van daardie gebiede hoofsaaklik teen gewapende swart mense eerder as teen die Britse magte gevoer is.24 Dit het sommige republikeinse burgers genoop om die Britte daarvan te beskuldig dat hulle ’n rasse-oorlog ontketen het.25 Die Britte is daarvan beskuldig dat hulle die swart en bruin mense met beloftes van gunste tot gewapende optrede teen die burgers aangespoor het. Die historikus Peter Warwick meen egter daar was ook ’n sterk rasse-ondertoon as motief om die Britte te ondersteun omdat die verhouding tussen die burgers en sommige swart inwoners van sekere streke reeds voor die oorlog sleg was.26
Van republikeinse kant is sterk optrede teen swart en bruin mense wat in ’n gewapende hoedanigheid by die Britte diens gedoen het, as geregverdig en noodsaaklik beskou. Die Boere-veldprediker, R.D. McDonald het hul sentimente so verwoord: “Oppervlakkig beskou mag hierdie handelswyse wreed en onregverdig voorkom, maar as daar onthou word dat die oorlog nie teen hulle verklaar is nie, en ook dat ons eenvoudig die teenstand van al die inboorlinge sou uitgelok het as ons hulle net soos die Engelse soldate behandel het, dan was dit nie so wreed en onregverdig nie. Ons was verplig om drasties op te tree om die inboorlinge te laat besef dat hulle nie erkende deelnemers aan die oorlog was nie en gevolglik nie aanspraak kon maak op die voorregte van die deelnemers nie.”27
Bruin en swart inwoners was onderdane van die twee republieke en al het hulle geen stemreg gehad nie, kon hulle kragtens republikeinse wetgewing aan hoogverraad skuldig bevind word en die doodstraf kry. Die Boereleiers het dit inderdaad gedurende die oorlog as amptelike beleid onderskryf.28 In Natal en die Kaapkolonie, waar swart en bruin mense Britse onderdane was, was dit uiteraard ’n ander situasie.
In die meerderheid gevalle, veral teen die einde van die oorlog, is swart en bruin gewapendes summier tereggestel. Geen juridiese regverdiging kon in die republikeinse reg gevind word vir sulke teregstellings nie en daar was ook geen morele regverdiging voor nie. Die burgers was by tye genadeloos met sulke summiere teregstellings en het in baie gevalle heeltemal oorboord gegaan. Daar is bewerings van swart en bruin aangehoudenes wat lootjies moes trek om te bepaal wie gefusilleer gaan word. Die gelukkiges is vrygelaat om die boodskap van hul kamerade se aaklige dood te gaan versprei. Daar is ook gevalle waar die terdoodveroordeeldes hul eie grafte moes grawe.29
In sommige van die gevalle het die republikeinse magte wel behoorlike verhore gehou. Party teregstellings van swart en bruin mense het met sombere godsdienstige seremonie gepaard gegaan, waar burgers diepgaande meegevoel met die lot van die veroordeeldes getoon het.30 Vader Kestell het so ’n geval in sy herinneringe beskryf:
Den volgenden dag viel mij een pijnlijke plichtsvervulling te beurt. Een kaffer was door den krijgsraad, wegens verkrachting van een blank meisje, ter dood veroordeeld en ik werd geroepen om hem voor den dood voor te bereiden. In al de vervulling van mijn ambtsplichten had ik nog nooit de zielszorg van een ter dood veroordeelde gehad en nu . . . het was maar een kaffer! maar mijn hart ging tot hem uit. Hoewel hij zijn vonnis verdiende, meer nog in mijne beschouwing, dan één die aan doodslag schuldig was geweest, zag ik hem nu in zijn uitersten nood slechts als mensch aan. Alle gevoel van veroordeeling verdween in mij: alleen medelijden bleef over – medelijden met zijn volslagene hulpeloosheid.31
Selfs al het die teregstellings met godsdienstige gebaar gepaard gegaan, het dit nie die afgryse daarvan verminder nie, soos uit dié vertelling van die veldprediker R.D. McDonald blyk:
Terwyl die graf van die twee spioene gedelf word, was dit my taak om hulle voor te berei vir hulle naderende einde. Nadat ek met hulle gepraat het, het ek hulle aan die genade van hulle Skepper opgedra. Die swart spioen se versoek was dat die Boere hom tog nie met ’n geweer moes doodskiet nie, maar met ’n sabel moes onthoof. Hy was bevrees dat hy nie onmiddellik dood sou wees nie. Ek het hom verseker dat hy baie gou in ’n ander wêreld sou wees. Hy moes maar aan sy siel dink en hom skik om sy God te ontmoet. Wonderlik om te sê, wat die swart spioen gevrees het, het werklik gebeur. Ek het hulle grafwaarts vergesel. Daar is hulle na gewoonte geblinddoek en met die aangesig na die graf gekeer en met voete daarin, het hulle by die een ent van die graf hulle plek ingeneem. Met ’n stok het die dokter die burgers wat die vonnis moes uitvoer, beduie waar hulle moes skiet om die harte te tref. Ek het ’n paar treë van hulle gestaan en die aaklige skouspel gadegeslaan. Toe die skote val, het hulle in die graf geval, dog tot ons verbasing het die swartman nog geleef en die manne wat geskiet het, moes sy half ontsielde liggaam die genadeslag toedien deur dit met nog ’n koeël te deurboor.32
Afrikanerdenke waarin herinneringe van die oorlog lewendig gehou is, word dikwels oorheers deur die nalatenskap van sentimentele vertellinge van oudstryders van hul getroue agterryers wat die burgers ten koste van hulself bygestaan het. Dit is nie noodwendig die volle waarheid nie. Die historikus prof. Fransjohan Pretorius meen: “Afrikanernasionaliste het dikwels in die 20ste eeu die verhouding tussen Boer en agterryer verheerlik met die gedagte dat daar reeds destyds ’n goeie verstandhouding tussen blank en swart was. Hulle besef egter nie dat die verhouding gebaseer was op ’n paternalisme en ’n meerderwaardigheid aan die kant van die Boer en in meeste gevalle ’n berustende onderdanigheid by die agterryer.”33 Sekere swart mense se gruwelike wandade teen die Boere en die genadelose vergelding van die burgers, het niks goeds vir naoorlogse rasseverhoudinge in Suid-Afrika ingehou nie.
Die oorlog het bomenslike eise aan die vegtende burgers gestel. Terwyl hulle gedurig aan lewensgevaar, bloedvergieting en ander swaarkry blootgestel is, moes hulle boonop met die wete saamleef dat hul vrouens, kinders en ander geliefdes aan onmenslike behandeling in die konsentrasiekampe onderwerp is. Die strydende burgers moes die oorlog boonop op twee fronte, teen die Britte en vyandige swart mense, voer.
Dit alles moes ’n ingrypende impak op die burgers se emosionele welstand gehad het. ’n Burger, D.S. van Warmelo, het in sy herinneringe wat voor die einde van die oorlog gepubliseer is, opgemerk: “An inclination to cruelty became one of the predominant traits in the character of the burghers.”34 Hoewel dié uitspraak uiteraard nie op al die burgers van toepassing was nie, wys dit tog watter sielkundige uitwerking die oorlog op die gewone burger kon gehad het en hoe dit individue se medemenslikheid kon beïnvloed.
In dié omstandighede het daar as’t ware ’n derde front ontstaan – die stryd teen hul eie mense wat verraad gepleeg het. Dié verraad het diep gesny en die vegtende burgers tot die uiterste beproef. In die lig van dié omstandighede lê die verduideliking waarom burgers tot so ’n ekstreme stap sou oorgaan om volksgenote wat dislojaal was aan die republikeinse stryd te fusilleer.