Читать книгу Boereverraaier - Albert Blake - Страница 7

Оглавление

4

“Judasboeren” of miskende altruïste?

“Verraders! Monsters! Vloek der Aarde!

Verneerde schepsels der natuur!

Gods wrake die u tot heden spaarde,

verdelg u eens door Helsche Vuur!”

Republikeinsgesindes se veragting vir verraaiers blyk baie duidelik uit dié deel van ’n gedig wat gedurende die Anglo-Boereoorlog op anonieme kaar­t­jies aan joiners gestuur is.1

Ontrouheid teenoor die republikeinse oorlogspoging het verskillende vorme aangeneem. ’n Groot groep burgers het met die verloop van die oor­log passief geraak deur nie verder daaraan deel te neem nie. Ander het hulle op verskillende maniere aktief aan verraad skuldig gemaak.

Afvalliges het byvoorbeeld informeel inligting aan die Britse magte ver­skaf sonder om by hulle aan te sluit. Meer formeel was die georganiseerde vredespogings van afvalliges wat probeer het om die vegtende burgers te oorreed om die stryd te staak. Ander het buite die gevegsterrein die Britse militêre administrasie in die konsentrasiekampe en op verskeie ander gebiede bygestaan, maar dit was op die meer opsigtelike militêre gebied, waar eertydse burgers aktief by die Britse magte aangesluit het, waar verraad die republikeinse oorlogspoging die grootste skade berokken het.

Reeds met die uitbreek van die oorlog was daar burgers wat kommandodiens ontduik het.2 Die aanvanklike solidariteit wat met die suksesse gedu­rende die eerste fase van die oorlog onder die vegtende burgers geheers het, het teen die einde van die eerste kwartaal van 1900 aansienlik verflou. Namate die oorlogsgety teen die republikeinse magte gedraai het, veral na die oorgawe van genl. Piet Cronjé by Paardeberg op 27 Februarie 1900 en die daaropvolgende val van Bloemfontein en Pretoria, het ’n gees van moe­deloosheid en défaitisme die burgers beetgepak waartydens duisende hul wapens neergelê het. Baie was gedemoraliseer en het gehoop daar sou ’n spoedige einde aan die oorlog gemaak word.

Die meeste van hulle het ’n neutraliteitseed by die Britte afgelê, waarin hulle onderneem het om nie weer die wapen op te neem nie. In die volksmond het hulle as die hendsoppers, afgelei van die Engelse “hands up”, bekend gestaan. Eers het die Britse opperbevelvoerder lord Roberts3 en later lord Kitchener4 verskeie proklamasies uitgevaardig met ’n kombinasie van dreigemente en aanloklike voorwaardes vir diegene wat hul wapens neerlê. Na raming het tussen 12 000 en 14 000 burgers van Maart tot Julie 1900 alleen voor Roberts se proklamasies geswig deur hul wapens neer te lê.5 Daar word verder geraam sowat 40% van dié wat aanvanklik gemobiliseer is, het hul wapens een of ander tyd neergelê, hoewel ’n aantal van hulle later weer by die Boeremagte aangesluit het.6 Die uiteindelike getal hends­oppers bly nietemin aansienlik.

Die republikeinse regerings het nie die neutraliteitseed erken nie en baie van die wapenneerlêers het weer by die Boerekommando’s aangesluit, veral nadat die Boeremagte nuwe suksesse in die veld behaal het. ’n Groot groep hendsoppers was egter oorlogsmoeg en het net nie die wilskrag gehad om voort te veg nie. Hulle het vir die res van die oorlog passief gebly. Van hulle het by hul gesinne in die konsentrasiekampe gebly. Sommige het vir die duur van die oorlog met hul families na Basoetoland, Betsjoeanaland (Bo­t­swana) en Rhodesië (Zimbabwe) uitgewyk. Ander het na Mosambiek gevlug waarna die Portugese owerhede hulle in Portugal geïnterneer het.7

Hoewel die bittereinders die hendsoppers geminag het, kon bevestigde gevalle nie gevind word van bona fide-hendsoppers wat gedurende die oorlog deur die republikeinse burgers tereggestel is nie. Al die tereggesteldes het die Britse oorlogspoging op die een of ander manier aktief bygestaan. Die republikeinse magte het hendsoppers wel gestraf. Dié strawwe was meest­al lyfstraf, boetes, tronkstraf, beslaglegging op eiendom en in sommige gevalle is hul eiendom vernietig deur byvoorbeeld hul huise af te brand.

Uit die geledere van die hendsoppers was daar ’n groep Afrikaners wat bereid was om ’n stap verder te gaan deur in ’n militêre hoedanigheid by die Britse magte aan te sluit en teen hul volksgenote te veg. Hulle het as joiners bekend gestaan, afgelei van die Engelse begrip “join”. Met die verloop van die oorlog het die aantal joiners toegeneem. Onder daardie groep word die grootste aantal teregstellings van verraaiers gevind.

In die volksmond het ’n verraaier dikwels as ’n “scout” of “national scout” bekend gestaan. Dit moet nie verwar word met lede van die korps National Scouts wat aan die einde van oorlog net in Transvaal ontstaan het nie. Die benaming is dikwels as ’n algemene begrip vir alle joiners gebruik, veral na die oorlog.8

Daar is aanduidings dat afvallige burgers wat van hul kommando’s gedros en die wapen neergelê het, so vroeg as Maart 1900 as gidse by die Britse kolonnes aangesluit het. Aanvanklik het hulle op ’n ad hoc-basis diens gedoen, na gelang van Britse militêre behoeftes. Mettertyd het van daardie gidse op ’n meer vaste grondslag as verkenners en in ander hoedanighede by die verskillende Britse kolonnes opgetree. Joiners het ook in verskeie ander hoedanighede in die Britse magte opgetree.9

Die Britse organisasie van joiners het verander en meer gestruktureerd geraak namate die oorlog voortgeduur het. Joiners is byvoorbeeld in plaaslike burgerkorpse (“town guards”) aangewend om dorpe en vee teen Boere­aanvalle te beskerm. Gewoonlik het die korpse die naam aangeneem van die dorp waar hulle diens gedoen het. Daardie joiners is meestal in die omgewing aangewend waaruit hulle gekom het. Sekere lede van plaaslike burger­korpse het met hul lewens geboet weens hul aktiewe deelname teen die Boere. ’n Aantal joiners wat byvoorbeeld aan die Christiana District Mounted Rifles en Vallentin’s Heidelberg Volunteers behoort het, is deur die republikeinse magte tereggestel.

Ander joiners het by vrybuiterskorpse aangesluit, waar hulle die geleent­heid gehad het om in die buit, veral vee, te deel wat van die burgers afgeneem is. Sekere joiners wat aan daardie eenhede behoort het, waaronder Morley’s Scouts en Steinacker’s Horse in Transvaal en die Burgher Police in die Vrystaat, is deur die republikeinse magte gefusilleer.

Teen die einde van die oorlog was daar korpse wat uitsluitlik uit joiners bestaan het. In die Vrystaat is die Orange River Colony Volunteers onder die bevel van eertydse Boereoffisiere, onder wie die voormalige Boeregeneraal Piet de Wet (die broer van genl. Christiaan de Wet) en die voormalige Boerekommandant S.G. Vilonel, op die been gebring. In Transvaal is die National Scouts onder die bevel van die voormalige Boeregeneraal Andries P.J. Cronjé (die broer van genl. Piet Cronjé) gestig. Ook joiners wat aan daardie twee korpse behoort het, is deur die republikeinse magte tereggestel.

Die afsku waarmee die republikeinsgesindes die optrede van die verraaiers beskou het, lê ook daarin dat die verraad meestal vir beloning gepleeg is. In die oë van die vegtende burgers het die joiners hul siele vir geld ver­koop. Die belonings het gewissel na gelang van die fase waarin die oorlog was en die hoedanigheid waarin die verraaiers opgetree het. Aanvanklik het die gidse en verkenners basiese toerusting en ander beloning ontvang. Die vrybuiterjoiners kon ’n persentasie van die buit hou en families van joiners het sekere voordele soos beter rantsoene in die konsentrasiekampe ontvang. Party is in afsonderlike kampe met beter omstandighede aangehou. In die laaste fase van die oorlog is ’n vaste soldy aan lede van die “suiwer” joinerkorpse betaal. Daardie lede het die eed van getrouheid teenoor die Britse kroon geneem en is as volwaardige soldate van die Britse leër ingesweer.10

Luidens die Britse amptelike verslae was 5 464 voormalige burgers die dag na die vredesluiting op 1 Junie 1902 in Britse militêre diens.11 As ’n mens in ag neem dat sowat 20 000 (volgens ander beramings 17 000) bittereinders aan die einde van die oorlog hul wapens neergelê het, was ’n aansienlike deel van alle vegtende burgers onder Britse wapen.12

Die ware aantal joiners sal hoogs waarskynlik altyd ’n raaisel bly. Britse amptelike militêre statistieke was boonop dikwels uiters verdag en by tye heeltemal ongeloofwaardig. Dit is onwaarskynlik dat al die voormalige burgers wat in die verskillende hoedanighede in Britse diens was, daarmee in ag geneem is. Daar was burgers wat die Britse oorlogspoging in nie-gevegs­hoedanighede, soos diens in die spoorweë, ondersteun het. Dit was nie net joiners of ander wat in Britse diens gestaan het wat blatante verraad gepleeg het nie. Verraad het ’n verskeidenheid vorme aangeneem en die omvang daarvan blyk uit die kompensasie-lêers in die argief in Pretoria, veral dié van die Protected Burghers. Daarin beskryf die afvalliges onbeskaamd hul bydrae tot die Britse oorlogspoging om vir kompensasie te kwalifiseer. Boon­op was daar soos reeds genoem onder die krygsgevangenes diegene wat hulle bereid verklaar het om na Suid-Afrika terug te keer en die wapen teen hul eertydse volksgenote op te neem. Dan was daar nog Kaapse Afrikaners wat in die Britse leër diens gedoen het en wat uiteraard nie by bogenoemde “amptelike” getalle ingesluit is nie, maar deur hul volksgenote in die republieke gewoon as volksverraaiers beskou is.

Die ware getal Afrikaners wat hulle op alle gebiede aan een of ander vorm van verraad skuldig gemaak het (die hendsoppers uitgesluit), is dus moontlik heelwat meer as wat amptelik deur die Britse militêre owerhede aangedui word.

Dit laat ’n mens met die vraag: Wat het die afvalliges daartoe gedryf om hul volksgenote te verraai?

Die besondere omstandighede van die Anglo-Boereoorlog het die kwes­baarheid van baie Afrikaners ontbloot. Soos in enige gemeenskap het die Boeresamelewing aan die einde van die 19de eeu bestaan uit mense met verskillende agtergronde en waardes. Die oorlog het republikeinse burgers voor verskillende keuses te staan gebring en sommige was eenvoudig meer vatbaar vir beïnvloeding as ander. Boonop was alle Afrikanermans fisiek nie geskik vir al die uitdagings van die slagveld en kommandolewe nie. Dit is ’n mite dat die deursnee-Boer ’n soort superkryger was. Daarbenewens het Afrikaners van die Kaapkolonie en Natal voor ander morele en juridiese keuses as hul republikeinse broers te staan gekom.

Aangesien ’n groot groep Afrikaners hul rug op die republikeinse stryd gedraai het, is dit dalk makliker om die verskynsel van verraad in groepsverband te probeer verklaar. Algemene beweegredes kan help om die verraad te verklaar en moontlik ook beter te verstaan.

Die ekonomiese faktor: Welgestelde grondbesitters het ’n besondere belang daarin gehad dat die oorlog beëindig moes word sodat hulle nie verdere risiko’s sou loop wat hul eiendom en besittings betref nie. Sekere welgesteldes het hul persoonlike welvaart dan ook belangriker geag as die vryheidstryd. Baie het passief gebly, maar sommige het die Britse magte aktief bygestaan. Daar is voorbeelde van die rykste boere in sekere distrikte wat weens hul verraad voor ’n vuurpeloton geeïndig het. Die ironie was dat hul afvallige optrede nie noodwendig verhoed het dat hul eiendom in die loop van die oorlog verwoes is nie.

Die meeste troueloses wat aktief by die Britse magte aangesluit het, het egter uit ’n laer ekonomiese stand gekom. Daar was reeds voor die oorlog ’n groep Afrikaners wat ekonomies swaar getrek het. ’n Groot groep het as bywoners op plase ’n armlastige bestaan gevoer, terwyl ander ’n onsekere heenkome op die dorpe en Transvaalse goudvelde gaan soek het. Hulle was in ’n swak ekonomiese en sosiale posisie en het maklik die prooi geword van aanloklike uitnodigings deur die Britse mag. Gedurende die oorlog het die Britte allerlei beloftes aan afvalliges gemaak, onder andere is plase na die beëindiging van die oorlog aan hulle belowe.

Joiners het teen die einde van die oorlog ’n vaste soldy ontvang en lede van die vrybuiterskorpse kon ’n deel van die buit hou na beslagleggings. Op kommando sou hulle geen betaling ontvang nie. Daar was ook joiners wat kwalik kon oorleef terwyl hul families in die konsentrasiekampe krepeer het, en wat uit nood by die Britte aangesluit het.13

Gebrek aan vaderlandsliefde: Nie alle burgers het dieselfde graad van lojaliteit of vaderlandsliefde teenoor die twee Boererepublike openbaar nie. E.J. Weeber, wat as burger gedurende die guerrillafase van die oorlog meestal op die Transvaalse hoëveld kommandodiens gedoen het, het ’n on­der­skeid getref tussen die opgevoede en minder opgevoede burgers om dit te probeer verklaar:

Ek hoop dit sal my nie ten kwade gedui word as ek beweer dat my lange oorlogs­ondervinding my geleer en bewys het dat die opgevoede Afrikaner oor die algemeen ’n beter vaderlander was as sy minder ontwikkelde medeburger nie. Sy beter geestelike bewapening het hom veilig oor moedverloor se vlakte gevoer, hy was beter bestand teen aanvalle van neerslagtigheid en moedeloosheid as sy minder bevoorregte medeburger. Hy was beter bekend met sy volksgeskiedenis sowel as met dié van sy vyand en kon gevolglik beter oordeel oor die bedrieglike praktyke van ons listige vyand om ons tot die oorgawe te beweeg. Sy eergevoel was meer ontwikkel en daarom kon hy beter koers hou. Die sogenaamde National Scouts was grotendeels mense op die laagste trap van ontwikkeling, onkundig, ongeletterd en totaal beginselloos – baie met kriminele aanleg en neigings en volslae eerloos.14

Daar was ’n groep gewetenlose joiners wat die oorlogsomstandighede op ’n opportunistiese wyse misbruik het en hulle aan blatante misdadigheid skuldig gemaak het. By hulle was daar geen pligsbesef nie en was die stryd nie ’n gewetensaak nie.

Die konsentrasiekampe, waar ’n groot aantal hendsoppers gehuisves is, was voorts die ideale teelaarde vir die werwing van joiners. Die hendsoppers se volksgenote het hulle reeds verstoot en dan was daar ook die verveling en ellende van die kamplewe. Dit het dit makliker gemaak om verder te gaan en die Britse oorlogspoging aktief by te staan.

Versugting om die oorlog te beëindig: Uit die groot aantal Afrikaners wat oorlogsmoeg geword het, was daar ook ’n groepie wat daarvan oortuig was dat dit in almal se belang was om aktief ’n einde daaraan te maak. Daardie oogmerk kon net bereik word deur die Britse oorlogspoging te ondersteun. Die joiner P.J. du Toit het sy redes om by ’n Britse kolonne aan te sluit, op 14 Junie 1901 in sy dagboek aangeteken: “Because I am convinced in my mind that nothing in the world can save us, then why should I wait to do my share towards bringing this horrible and miserable state of affairs to a speedy termination, for the sake of the country at large, for the sake of humanity, and lastly for the sake of the women and children in refugee camps, and the prisoners of war on Ceylon, St Helena and India? This I consider the duty of every true patriot.”15

Du Toit is ’n voorbeeld van ’n groep afvalliges wat na vele geesteswroe­ginge die stryd opgegee het en by die Britte gaan aansluit het. ’n Jaar na die oorlog het ’n joiner hul besluit om by die Britte aan te sluit in De Volksstem probeer verduidelik: “Het doel van de (National Scouts), was niet wraak, maar alleen om de mensen afvallig te maken opdat er vrede mocht kommen tot voordeel en belang niet alleen voor de surrender mensen, maar ook voor degenen die tot ’t laast stonden, want de mannen hadden het zwaar, maar de arme zwakke vrouwen en kinderen hadden het nog veel, ja, veel zwaarder.”16

Dié joiner se mening dat die joiners om die “zwakke” vroue en kinders se onthalwe na die Britte oorgeloop het, staan natuurlik lynreg teenoor die republikeinsgesinde vroue se onversetlikheid teen oorgawe. Sonder dié vroue se wil sou die vegtende burgers nie die stryd kon voortsit nie.

Dit is te betwyfel of alle joiners se kommer oor die voortsetting van die stryd so altruïsties was soos wat sommige voorgegee het. Die “edel” motiewe van voormalige hoë Boereoffisiere om in landsbelang by die Britse magte aan te sluit, is verdag. Materiële oorwegings het na alle waarskynlik­heid ’n belangrike of minstens ’n bydraende rol in hul verraad gespeel. Die aanduidings is dat Boereoffisiere soos Vilonel onder meer uit weerwraak en egoïsme by die Britte aangesluit het omdat hulle met hul senior offisiere stry gekry het en nie na wense bevorder is nie.

Afvalliges wat oortuig was dat oorgawe die enigste uitweg was, het nie aktief by die Britse magte aangesluit nie en meestal bloot passief gebly.

Gesag- en familiebeïnvloeding: Terwyl die oorlog algaande tekens van ’n burgeroorlog begin toon met familielede wat teen mekaar draai, het naasbestaandes mekaar ook begin beïnvloed om verraad te pleeg. Daarvan spreek die aantal broers en ander familielede wat saam tereggestel is. Daar is ver­skeie voorbeelde van jong joiners wat die doodstraf opgelê is, maar weens hul jeugdigheid en ouer- of gesagsbeïnvloeding later begenadig is. Daar is ook voor invloedryke gesagsfigure geswig wat burgers aangepor het om die stryd gewonne te gee.

Aansporing deur hul vroue om verraad te pleeg, het noodwendig ’n belangrike rol in die trouelose mans se optrede gespeel. Daar is ook voorbeelde waar die mans geglo het dit was in belang van hul gesinne se welstand om afvallig te raak.

Verdeelde lojaliteit: Oor die algemeen het Engelssprekende burgers van die republieke nie uiterste strawwe ontvang as hulle geweier het om teen die Britse magte te veg nie. Daar was burgers wat van sowel Britse as Afrikaanse voorouers afgestam het en moontlik as gevolg daarvan verdeelde lojaliteite gehad het. Kragtens republikeinse wetgewing was hulle wel as landsburgers opkommandeerbaar en kon hulle in geval van teenkanting teen die republikeinse oorlogspoging aan hoogverraad skuldig bevind word. Voorbeelde is gevind van Engelssprekendes wat aanvanklik aan Boerekant geveg het en soos hul Afrikaanse landgenote later by die Britse magte aangesluit het. Die doodstraf is aan enkele van daardie Engelssprekende burgers opgelê.

Republikeinsgesindes se diepe weersin in verraad moet gesien word in die lig daarvan dat die meerderheid voortvegtendes die oorlog as godsdienstig geregverdig beskou het. Vir baie republikeinsgesinde mans en vroue was die oorlog ’n heilige en regverdige saak wat tot die bittere einde gestry moes word. Christiaan de Wet het dit so verwoord: “Die oorlog is ’n geloofsaak. As ek dit nie in die geloof kon gedoen het nie, sou ek nooit die wapens opgeneem het nie . . . Die hele oorlog was ’n mirakel, en sonder geloof sou dit kinderspeletjies gewees het om die oorlog te begin . . . Ons hulp en redding moet alleen van Hom kom en dan sal ons ook nie trots wees nie. Ek kan nie in die toekoms sien nie, maar ek weet dit: dat die lig agter my is. Wat vóór my lê, weet ek nie. Daar is dit donker, maar ons moet voortgaan om op God te vertrou.”17

Daar is deurgaans ’n godsdienstige ondertoon wanneer die verskynsel van verraad beoordeel word. Ds. R.D. McDonald het in latere jare dié mening oor die verraaiers gehuldig: “ ’n Mens wonder of die National Scouts nie met diepe berou vervul is oor die lae rolle wat hulle as verraaiers gespeel het nie. Is hulle hande nie bevlek deur die bloed van medeburgers nie? Is hul gewete nie besoedel deur die bloed van mans, vroue en kinders wat in ons geregverdigde stryd om vryheid omgekom het nie? . . . Hoe mense wat tot sulke skandelike dade oorgegaan het hul handelswyse voor die regbank van die gewete en van die Regverdige kon verdedig weet ons nie.”18

Hendrina Rabie-Van der Merwe rig in haar boek dié waarskuwing aan verraaiers: “Julle nageslagte sal hul aangesig in skaamte bedek vir die dade van hul ouers en voorouers. Ek het julle verkla by die Regverdige Regter, wat gesê het: ‘My kom die wraak toe.’ ”19

Nog ’n Afrikanervrou het haar só oor joiners uitgelaat wat Britse troepe gehelp het om haar en ander aan te keer en na die konsentrasiekamp aan te jaag: “Julle dag sal kom! Dit sal kom soos ’n brandende oond! Sien julle my trane, en sien julle die trane van al dáárdie vroue daar, die Here sal dit nie ongestraf laat bly nie. Hy sal dit vergeld in die eerste plek aan julle wat hier vandag soos moordenaars agter die bloed van jul eie bloed jaag.”20

Buurman het dié mening in die oorlogsvertellinge van ’n Boereoffisier uitgespreek: “Dis in alle opsigte ook maar beter om die ontaarde Afrikaners, wat deur God en volk versaak is en wat deur vriend en vyand verag word, met die doodstraf vir hul wandade te beloon.”21

Daar was ook die mening dat die Afrikaners met die verraaierkwessie beproef is, maar dat God ’n doel daarmee gehad het. Daar is geglo dat hulle met die oorlog as’t ware deur ’n siftingsproses moes gaan en daarna van die verraaiers gereinig sou wees.22

Omdat baie vegtende Afrikaners gemeen het die stryd teen die Britte was regverdig, was daar ook by hulle die gedagte dat die verraaiers teen God se saak opgetree het. Vir baie republikeinsgesindes was die troueloses wat van die vryheidstryd afgewyk het dus sondaars. Verraad teen die Afrikanervolk was vir hulle ’n Judassonde omdat die Bybel hulle geleer het verraad is verwerplik. Daarom verwys Johanna Brandt23 na die verraaiers as “Judasboeren” na aanleiding van die Bybelse Judas Iskariot se verraad.24

Genl. Jan Smuts25 het die vegtende Boere se dryfkrag as “godsdienstige patriotisme” beskryf:

In short the Boer cause has become a Boer religion, adversity has converted their political creed into a religious faith; and thus hope and faith and strength have been wrung from weakness and despair itself. The Boers fight now in a spirit akin to that of the early Christian martyrs; they listen to reports of defeat or rapine, of the sufferings of their wives and children in the prison camps, with that calm resignation which springs from the assurance that such is God’s will. Threats of banishment and confiscation only raise a smile on the faces of such men. Even the threat to shoot every Republican caught will only increase this passion of religious patriotism.26

’n Veldprediker, ds. A.P. Burger, het hom in latere jare as volg uitgespreek oor pres. M.T. Steyn se mening dat al die burgers wat hulle oorgegee het “verlore” was en dat dié wat in die stryd volhard, tot die uitverkorenes behoort: “Hierdie maatstaf was natuurlik verkeerd en ek het hom dit ook gesê, maar ek kan goed verstaan dat die stoere ou volksleier en staatshoof bitter teleurgesteld moes gewees het met . . . so baie van die burgers (wat) . . . hulle wapens lafhartig neergelê het.”27

Buitestanders was soms skepties oor die geloofsoortuiging waarmee die oorlog aangepak is. Die Hollander Henri Oosterhagen wat as vrywilliger aan Boerekant geveg het, spreek die mening in sy oorlogdagboek uit dat die Afrikaners verkeerdelik die houding ingeneem het dat hulle ’n uitverkore volk was en die Opperwese aan hul kant was.28 Navorsing in onlangse tye het ook getoon nie al die vegtende burgers was diep gelowig of het hulself as deel van ’n uitverkore volk gesien nie. Daar kan egter met redelike sekerheid aanvaar word dat die meerderheid vegtendes wel gelowig was en minstens ’n kerngroep geglo het hulle was uitverkore.29

Die republikeinsgesindes se stryd het benewens ’n godsdienstige karakter ook ’n sterk nasionalistiese aanslag gehad. Oor die verraaiers se gebrek aan volks- en vaderlandsliefde laat genl. Ben Bouwer hom gedurende 1902 in De Volksstem uit: “Zij schandvlekten met hun laagheid de eervolle naam van Afrikaner of Boer, (die eigenlijk slechts synoniem zijn). Zie, daar keeren wij ons in afgrijzen van, daarvan walgt het gemoed van ieder eerlijk mensch, van elken Afrikaner die voor de eer van zijnen naam waakte als voor iets heiligs.”30

In die sterkste, amper vervloekende taal, het Eugène Marais, die latere digter en skrywer wat in daardie stadium die redakteur van Land en Volk was, teen die einde van 1902 teenoor die verraaiers uitgevaar: “Wie zal het een dapper volk kwalijk nemen dat hy der verrader haat gelijk ieder eerlyk mensch den duivel, de zonde, en alles wat vuil en afschuwelijk is, haat?” 31

Die intense wrewel wat die gewone vegtende burger teenoor die verraaiers geopenbaar het, word in Roland Schikkerling se oorlogdagboek geïllustreer:

Hierdie gemene verraaiers was eertyds ons wapenbroers; hulle het saam met ons uit dieselfde bak gesmul; met ons saam gesing, gebid, saam met ons gedeel in glorie en terugslae; en nou het hulle in ruil vir goud teen ons gedraai. Vanweë hulle valsheid is hulle so gehaat onder ons dat die swartste wraak teen hulle gesweer is. Hulle sal geen genade by ons vind nie. Watter vyandskap sny so diep soos dié tussen bloedfamilie? Wie is minder vergewensgesind? Was dit nie vir daardie eerlose gespuis, wat vir ewig gebrandmerk is nie, sou die vyand nooit ons vestings verdring het nie. Selfs ’n avonturier of huurling wat geen druppel meer meegevoel met die een kant het as die ander nie, het nogtans te veel esprit-de-corps om die wapen op te neem teen die kant saam met wie hy eers geveg het. En tog het hierdie veragtelike gespuis uitgetrek om hulle eie vleis en bloed te vermoor.32

Pres. Steyn se vrou, Tibbie, het haar bitterheid teenoor die verraaiers in ’n brief aan ’n Engelse huisvriend na die oorlog verwoord: “You can never realize . . . what a dagger seemed to pierce our hearts every time we met Boers in Khaki and what pity and contempt one felt for them. That they will live to regret the day they became traitors to their own flesh and blood is as sure as the sun shines in the Heavens. I assure you it will add to my happiness if I may never see or meet a National Scout . . .”33

Pres. Steyn self het nog gedurende die oorlog gesê: “Veragting vir die National Scouts sal voortduur tot by ons kinders se kinders, tot in verre geslagte . . . Geen eerlike man sal sy hand na hulle uitsteek nie, en geen Afrikaner sal hulle ken nie . . . ”34

Nadat Christiaan de Wet in Junie 1900 die bekende oorwinning by Rooiwal in die Vrystaat behaal het, moes hy uitvind een van sy veldkornette, Hans Smit, en 20 burgers van Rouxville het op ’n agterbakse wyse met die gevange Britse soldate gekonkel om oor te gee en vry begeleiding na hul distrik verkry. ’n Sielsbittere De Wet het dit later in sy boek Die stryd tussen Boer en Brit as afskuwelike optrede beskryf. “Dit was vir my makliker om teen die groot leërskare van Engeland te veg as teen sulke laaghede onder my volk. Om teen albei te stry, vereis ’n ysere wil, maar selfs vir ’n ysere wil verskaf sulke dinge bitter oomblikke – beproewinge wat, soos die Afrikaanse spreekwoord lui, nie in ’n man se klere bly sit nie.”35

Die verraaiers se gebrek aan lojaliteit was onversoenbaar met die lojale republikeine se sterk vaderlandsliefde wat op die onafhanklikheid van die republieke toegespits was en wat met ’n groeiende nasionalisme saamgehang het. Verraaiers is sover as Swaziland in die noorde tot in die suide by Namakwaland tereggestel.

’n Groot deel van die verraaiers het hulle gedurende die oorlog aan skandalige optrede skuldig gemaak. Daardie wandade is te omvangryk om in hierdie werk te bespreek. Dikwels het Afrikaners afkomstig uit ’n swakker stand met twyfelagtige morele waardes die wandade gepleeg. Dikwels het die joiners as aanvoerders van gewapende swart kommando’s die vroue en kinders op die plase genadeloos geterroriseer. 36

In verskeie weergawes word getuig van joiners wat Britse kolonnes gelei het met die doel om die plase van die vegtende burgers uit te wys sodat dit afgebrand en die besittings deur die Britse soldate vernietig kon word, waarna die vroue en kinders na die konsentrasiekampe weggevoer is. Daar is voorts talle voorbeelde waar joiners hulle aan roof en diefstal skuldig gemaak het. Wanneer die vroue en hul families rondgetrek het om te keer dat hulle in die konsentrasiekampe beland, het die verraaiers ’n belangrike rol gespeel om hulle aan te keer. Uit die pen van vele vroue en kinders kom voorbeelde van onmenslike behandeling wat hulle op pad na die konsentrasiekampe aan die hand van joiners moes verduur.37 In die konsentrasiekampe is van die afvalliges in gesagsposisies geplaas en die republikeinsgesinde families moes hul laakbare en hardvogtige optrede verduur. Dit is oor sulke mense wat genl. Ben Bouwer opgemerk het: “The innate character of such men is revealed by the fact that when they were put in authority over helpless women and children of their own people in the concentration camps, as frequently happened, they were more harsh, overbearing and brutal than the worst Englishman, Scot or anyone else.”38

Party het as die Burgher Camp Police as besoldigde speurders en inligtingsbeamptes vir die militêre owerheid opgetree en hulle aan ongenaakbare en skandalige gedrag teenoor die kampbewoners skuldig gemaak, terwyl die omstandighede daar reeds haglik was. Die Afrikaners wat buite die gevegsterrein in besoldigde diens van die Britte gestaan het, is ook as verraaiers beskou, maar sover vasgestel kon word, is geeneen van die Burgher Camp Police se lede ooit tereggestel nie. Daarbenewens het die hendsopper- en joinerfamilies in baie gevalle beter rantsoene en behandeling as die ander inwoners in die konsentrasiekampe ontvang. Wat dit alles natuurlik erger vir die republikeinsgesindes gemaak het, is dat dit hul eie mense was wat hulle so skandalig behandel het.

Op die slagveld is daar talle voorbeelde waar joiners ’n besondere en suksesvolle bydrae tot die Britse oorlogspoging gemaak het. Teen die laaste fase van die guerrilla-oorlog kon Britse kolonnes op ’n uitgebreide skaal van verraaiers gebruik maak wat goed met die omgewing en terrein bekend was. Voorheen ongekende en snelle nagaanvalle het die Boere skade berokken. Só is verskeie lede van die Vrystaatse regering en pres. Steyn se lyfwag vroeg die oggend van 11 Julie 1901 gevange geneem. ’n Vrystaatse burger, J. Steenkamp, en tien ander verraaiers het as gidse vir die Britse kolonne opgetree tydens die verrassingsaanval waarin die president net-net kon ontsnap.39

Daar is ’n groot aantal herinneringe waarin oudstryders aanvoer hul gevangeneming asook die dood en verwonding van hul medeburgers was die direkte gevolg van hulp wat die joiners aan die vyand verleen het. Dit het vanselfsprekend ’n demoraliserende effek op die burgers gehad dat ’n groot groep van hul eertydse volksgenote aan Britse kant geveg het.

Op militêre gebied is die hulpverlening van die verraaiers aan die Britte as so ingrypend geag dat baie bittereinders inderdaad geglo het dit was die vernaamste rede hoekom hulle die oorlog verloor het. In sterk verwytende taal het Okkie de Villiers die verraaiers kort na die oorlog beskuldig: “Uit naam van mijn gestorven kameraden, uit naam van onze gemartelde vrouwen en kinderen roep ik het den bastaard-Afrikaanders toe, dat het bittere einde, van den oorlog voor’t grootste deel aan hen te wijten is.”40

Die algemene veragting waarmee verraad beoordeel word, spreek uit die minagting waarmee ook sekere Britse soldate die joiners beskou het. ’n Oud­stryder, P.S. Lombard, vertel in sy herinneringe: “ ’n Engelse offisier wat ek een keer gevang het, het self aan my gesê: ‘Ons gebruik hulle slegs om ons vuil werk te doen. As die oorlog verby is, sal hulle vir ons niks werd wees nie. Dan sal ons weer moet staatmaak op betroubare Boere, wat hul volk getrou gebly het.’ ”41

In ’n onlangse studie vanuit die krygswetenskap het die joernalis en geskiedkundige Leopold Scholtz bevind die republikeinse magte het die oorlog weens ander, meer komplekse faktore verloor as weens die verraaiers se militêre bydrae tot die Britse oorlogspoging.42 Hoewel Scholtz in baie opsigte oortuigende gevolgtrekkings in sy studie verskaf, kan die impak van die verraaierverskynsel in die uiteindelike verlies van republikeinse on­afhanklikheid nie geïgnoreer word nie. Dit het wel ’n rol gespeel om die oorlog tot ’n einde te bring. ’n Mens kan maar net spekuleer oor wat sou gebeur het as alle Afrikaners tot die einde saamgestaan het.

Dit is nietemin insiggewend dat die Boereleiers aan die einde van die oorlog by die beraad by Vereeniging nie die verraaierfaktor noem in die ses redes hoekom hulle genoodsaak was om die vredesverdrag te onder­teken nie. Dit mag wees dat die verslag met die nageslag in gedagte opgestel is en dat hulle dié sensitiewe kwessie nie daardeur amptelike erkenning wou gee nie.43

Verraad is waarskynlik so oud soos die mensdom self. Die mens se inherente feilbaarheid maak hom nou maar eenmaal kwesbaar vir ontroue gedrag wat buite die aanvaarde norme van ’n bepaalde gemeenskap is. Aangesien verraad negatiewe gevolge inhou vir diegene teen wie dit gepleeg word, keur die meeste mense dit ten sterkste af.

Verraad word aan die ergste graad van oneervolheid gelyk gestel, veral wanneer iemand optree teen dit wat algemeen as ’n regverdige saak be­skou word. Dit word ook universeel as verfoeilik beskou wanneer iemand ’n ver­trouensverhouding verbreek. Die enigste uitsondering is in gevalle waar mense die rug keer op ’n onregverdigbare saak.

Maar wat is volks- of landsverraad? Vanuit ’n suiwer juridiese oogpunt is dit gewoonlik makliker om te bepaal wanneer hoogverraad ingevolge ’n land se heersende reg gepleeg word. Die republikeinse regerings was ingevolge die internasionale reg heeltemal by magte om die verraaiers op grond van hoogverraad na ’n regmatige verhoor tot die doodstraf te vonnis. Selfs die Britse regering het die republikeinse regerings tot met die ondertekening van die vredesverdrag op 31 Mei 1902 as wettig erken. Op ’n enkele uitsondering na is al die tereggesteldes skuldig bevind aan hoogverraad, wat ’n misdryf teen die staat was.

Tydens die oorlog het die Britse militêre owerhede verskeie onsuksesvolle amptelike ondersoeke van stapel gestuur met die oog op die vervolging van sekere republikeinse krygshoflede en ander wat by die voltrekking van die doodstraf van verraaiers betrokke was. Daar was selfs enkele gevalle waar burgers tydens en na die oorlog in Britse militêre howe op aanklagte van moord moes teregstaan weens die teregstelling van verraaiers. Al daardie vervolgings het op niks uitgeloop nie. Daarbenewens is die jurisdiksie van die republikeinse krygshowe deurgaans deur ’n vyandige Britse militêre owerheid erken.

Dit beteken egter nie al die verraaiers wat tereggestel is, is altyd volgens die reëls van die krygsreg behandel nie. Daarvan getuig veral die summiere teregstellings wat later bespreek word.

In die lig van die republikeinse beskouing van destyds behoort ’n onder­skeid getref te word tussen lands- en volksverraad. Joiner-Afrikaners wat burgers van die twee republieke was, het hulle aan sowel lands- as volksverraad skuldig gemaak. Engelssprekende burgers van die twee republieke wat verraad teen die republikeinse oorlogspoging gepleeg het, het hulle aan landsverraad skuldig gemaak. Afrikaners wat burgers van die twee Britse kolonies was en die Britse oorlogspoging aktief ondersteun het, het hul volksgenote in die oë van republikeinsgesindes verloën. Regtens het hulle weens hul Britse burgerskap nie ’n oortreding begaan deur in die Britse magte diens te doen nie. Wanneer daardie Afrikaners in republikeinse hande geval het, is hulle normaalweg as gewone krygsgevangenes behandel, ondanks die weersin wat hul Britse lojaliteit by hul volksgenote ontlok het. Terwyl die Kaapse rebelle hul lewens op die spel geplaas het deur die republikeinse oorlogspoging te ondersteun, was daar voor en gedurende die oorlog ’n sterk groep Afrikaners in Kaapland wat lojale Britse onderdane was. By hulle was daar nie ’n republikeinse tradisie nie. Dit was nie vreemd om voor die oorlog die portret van koningin Victoria in die voorhuise van Kaapse Afrikaners te sien hang nie.44

Benewens die juridiese definisie van verraad, behoort dié verskynsel ook vanuit ’n morele oogpunt ontleed te word. Dis egter nie altyd maklik om te bepaal wanneer ’n handeling of beskouing verraad vanuit ’n morele oog­punt daarstel nie, veral nie as iemand vanuit ’n spesifieke geloofs- of poli­tieke oortuiging handel nie. In sulke situasies verskil mense se persepsies oor verraad. Daar kon egter geen voorbeelde gevind word van individue wat die republikeinse oorlogspoging suiwer op grond van ’n eie­soortige ideologiese of godsdienstige standpunt aktief teengestaan het nie. Dit is ook insiggewend dat die meerderheid joiners en hendsoppers eers na vore getree het nadat die oorlogsgety gedurende 1900 teen die Boeremagte gedraai het.

Dit kan voorts gebeur dat die betekenis van verraad oor tyd verander. Daar moet egter gewaak word teen onhistoriese vertolkings. Soos gereeld in hierdie werk benadruk word, moet handelinge en beskouinge wat moont­lik gedurende die Anglo-Boereoorlog as verraad beskou is, beoordeel word in die historiese konteks waarin dit plaasgevind het.

Tydens die navorsing vir hierdie werk is die mening by enkele geleent­hede teenoor my geopper dat die bittereinders die stryd onnodig voortgesit het nadat dit lank reeds verlore was. Om dié rede word geargumenteer dat die verraaiers se optrede tans in ’n meer positiewe lig beoordeel behoort te word. Die joernalis Max du Preez het op 7 Mei 2005 in Die Burger die standpunt ingeneem dat Christiaan de Wet se verraaierbroer, Piet, se optrede geregverdig was toe hy die vryheidstryd versaak het deur aktief by die Britse magte aan te sluit.

Die bittereinder se onversoenbare verhouding met sy broer, ’n voormalige Boeregeneraal, is een van dié tragiese dramas in die geskiedenis van Afrikanerfamilies. Vir ’n wêreldberoemde krygsman soos Christiaan de Wet met sy onwrikbare beginsels moes sy broer se vrywillige oorgawe aan die Britte en latere aktiewe deelname aan die Britse oorlogspoging teen sy volks­genote, as leier van die noordelike afdeling van die joinerkorps Orange River Colony Volunteers, besonder vernederend gewees het. Christiaan de Wet het gedurende die oorlog volgehou as hy sy broer in die hande kry, sou hy hom soos ’n hond doodskiet. Die broers het nooit vrede gemaak nie.45

In wese baseer Du Preez sy pogings om Piet de Wet se naam in ere te herstel op die argument dat die groot menseverlies in die konsentrasiekampe en die verwoestende gevolge van die oorlog vermy kon gewees het deur ’n vroeër, meer realistiese oorgawe deur die republikeinse magte. Du Preez meen Piet de Wet moet in dieselfde klas as liberale Afrikaners soos Bram Fischer en Beyers Naudé beskou word en behoort daarom in die geskiedenis “gerehabiliteer” te word.

Du Preez se artikel is gevolg deur ’n heftige polemiek in Die Burger se briewekolomme, waaraan verskeie bekende Afrikaanse historici deelgeneem het. Daardie historici was dit eens dat Du Preez se gevolgtrekkings on­his­tories is en nie aan die standaarde van wetenskaplike geskiedskrywing voldoen nie.46 Anders as Fischer en Naudé het Piet de Wet nie namens stemloses gepraat nie. Die meerderheid historici is van mening dat die republikeinse verset teen Brittanje regverdig was. Trouens, die Anglo-Boereoorlog word allerweë as die eerste vryheids- en nasionale stryd van die 20ste eeu in Afrika beskou.

’n Belangrike punt wat Du Preez miskyk, is dat toe De Wet homself in 1900 oorgegee het, was dit onmoontlik dat hy of enigiemand sonder ’n bonatuurlike profetiese insig die katastrofiese gevolge van die Britse ver­skroeide aarde beleid kon voorsien het. Daar was al verraad voordat dié beleid en die konsentrasiekampe hul wrede beslag gekry het. Piet de Wet en ander offisiere se tydsberekening dui op ’n opportunistiese skuif ten gunste van die Britse oorlogspoging wat moontlik ook op persoonlike voordeel gerig was. Die Britse militêre owerhede het hulle finansieel vir hul dienste vergoed. Piet de Wet was ’n koppige en eiesinnige mens wat ongeag die gevolge ’n eie-ingeslane weg gevolg het. Hy is sterk ondersteun deur sy vrou, wat nie trou aan die vryheidstryd was nie.

In ’n verdere reaksie op Du Preez se artikel is die mening geopper dat as Piet de Wet – en dit geld ander joiners ook – werklik oortuig was van die noodsaak om die oorlog tot elke prys te beëindig, daar ander opsies was wat hulle kon uitoefen. Deur die wapen teen hul eertydse volksgenote op te neem, het hulle egter die oorlog voortgesit en hulself daarmee bereid verklaar om hul volksgenote leed aan te doen.

Dat Piet de Wet verraad gepleeg het, is nog nooit vantevore deur Afrikaanse of Engelse historici betwis nie. Daar is niks verkeerd met ’n herbetragting van die geskiedenis nie en nuwe geslagte se insigte is noodsaaklik, maar dan moet die historiese konteks nie gerieflikerwys vergeet word nie. Wat in die verlede verraad was, kan nie vanuit die hede skielik ongedaan gemaak word nie – dit bly verraad.

Wat wel uit die debat in Die Burger geneem kan word, is dat die verskynsel van verraad selfs meer as ’n eeu na die Anglo-Boereoorlog nog steeds soveel reaksie ontlok.

Die enigste ander bron wat die optrede van die joiners probeer regverdig, is in die menings van enkele direkte nasate van die afvalliges gevind. In 2010 het ek onderhoude gevoer met ’n kleindogter en agterkleinseun van Piet de Wet wat hul voorouer se optrede met argumente soortgelyk aan Du Preez s’n probeer regverdig het.47 Dit herinner aan Johan Schoeman se poging om sy pa, genl. Hendrik Schoeman, in sy boek Genl. Hendrik Schoeman: was hy ’n verraaier? te verontskuldig. Die individuele opinies verteenwoordig egter nie ’n algemeen aanvaarde mening nie.

In die lig van bostaande word verraad in hierdie werk beskou as optrede deur persone wat, terwyl hulle veronderstel was om lojaal aan die republi­keinse oorlogspoging te wees, dit op een of ander manier doelbewus probeer ondermyn het en gevolglik deur die bittereinders as verraaiers beskou is. Die verraad tydens die oorlog het ’n diepe verdeeldheid onder Afrikaners veroorsaak. Dit was nie vreemd dat familielede die wapen teenoor mekaar opgeneem het nie. Asof die brutaliteit van die oorlog nie genoeg was nie, het verraad so ’n impak op die stryd gehad dat dit amper elemente van ’n burgeroorlog begin toon het. Op die lange duur sou die verraaierverskynsel boonop bepaalde gevolge vir die ontwikkeling van die Afrikaners se politieke psige inhou.

Boereverraaier

Подняться наверх