Читать книгу Boereverraaier - Albert Blake - Страница 9

Оглавление

6

Bloedfamilie

P.B. BOUWER, A.J. VAN EMMENES

† 24 Augustus 1901, Hartbeesfontein/Rietfontein, distrik Heidelberg

’n Verraaierbroer brand sy suster se huis af en laat haar en haar dogtertjie byna verkluim, ’n joiner spog oor hoe hy sy neef geskiet het, vriend ontdek vriend as dooie vyand, en van die vuurpelotonlede en die tereggesteldes is familie, terwyl een van die tereggesteldes vir amper die helfte van die vuur­pelotonlede skool gehou het.

In die winter van 1901 het joiners in die omgewing van Heidelberg in Trans­vaal hulle aan verskeie gruweldade skuldig gemaak. Daar is talle voorbeelde van ’n joinerkommando wat saam met swart gewapendes nagtelike aanvalle op weerlose Boerefamilies uitgevoer het wat nog op hul plase gewoon het. Die een plaas na die ander is beroof en geplunder, waarna die aanvallers vroeg die volgende oggend na die veiligheid van hul basis op die dorp terug­gekeer het. Boerefamilies van die omgewing wat die konsentrasiekampe probeer ontduik het, moes gedurig voor die Britse kolonnes uitvlug. Hulle is dikwels deur daardie joiners verraai.1

Die joiners van die omgewing het aan ’n Britse korps bekend as die Vallentin’s Heidelberg Volunteers behoort. Die korps van sowat 200 man is deur die bevelvoerder van die Britse mag op Heidelberg, maj. John Vallentin, uit Engelse en Afrikaanse vrywilligers op die been gebring. Hulle was meestal voormalige burgers van die distrik wat hul wapens neergelê en daarna toenadering by die Britte gesoek het. Die burgers het na lede van daardie korps as die Witkoppe verwys na aanleiding van ’n kenmerkende wit band wat hulle om hul hoede gedra het.2

Op die plaas Witkleifontein het die joiners een nag ’n Afrikaner, P. du Preez, vermoor. Hy is koelbloedig in sy huis doodgeskiet, al was hy ’n afgeleefde ou man wat nie krygsdiens kon verrig nie. Jare later het Jack van den Heever, ’n burger van die Heidelberg-kommando, oor die joiners se optrede opgemerk: “So ’n hemeltergende daad kon nooit ongestraf bly nie, daarom was dit vir ons nie ’n wonder dat hulle kort ná die moord een môre vroeg hul rieme styfgeloop het nie.”3

Op 24 Julie 1901 bevind Vallentin hom met ’n Britse kolonne, wat ’n groep Witkoppe ingesluit het, suid van Heidelberg. Sy doel was om met sy troepe ’n voortvlugtende vrouelaer op die plaas Beerlaagte, sowat 30 km suid van Heidelberg, aan te keer. Die Boerevroue het dié laers gevorm en voor die Britse kolonnes uitgevlug om gevangeneming en gevolglike opsluiting in die konsentrasiekampe vry te spring. Bejaarde mans en jong seuns wat nie kon veg nie, het by die vroue gebly.

Vallentin het egter nie geweet ’n afdeling Boere het tussen die Britse kolonne en die vrouelaer op die plaas Malanskraal inbeweeg nie. Anders as by die Britse kolonne het verkenners daardie afdeling van die Heidelberg-kommando deurentyd op die hoogte gehou van vyandelike bewegings. Die burgers het die vrouelaer opdrag gegee om nog verder suid in die rigting van die Vaalrivier uit te wyk. Met dagbreek val burgers onder leiding van veldkornette Org Meyer4 en Hendrik Kamffer5 die Britse kolonne op die plaas Braklaagte aan. Die verrassing van die Boereaanval is grootliks deur digte mis getemper, wat baie Britse soldate die geleentheid gegee het om te ontsnap.6

Onder Vallentin se troepe het die groep Witkoppe vreesbevange geraak, waarskynlik weens die noodlottige gevolge wat moontlike gevangeneming deur die republikeinse burgers vir hulle ingehou het. Dit het paniek onder die Britse soldate aangehelp met die gevolg dat hulle wild op die vlug ge­slaan het. Nadat ’n aantal gesneuwel het, gewond is of gevange geneem is, het die burgers hulle verby Malanskraal tot naby Heidelberg verjaag. Onder die Britse gesneuweldes was minstens twee Afrikaners, Frederick Nel en Philippus van Eeden.7 Die joiners wat gevange geneem is, sou nie genade van die burgers ontvang nie.

Gedurende die geveg het een van die joiners op ’n wit perd probeer wegkom, maar hy is vasgekeer toe hy teen ’n heining vasgejaag het. Die joiner het C.J. Kamffer volgens dié se seun, vdkt. Hendrik Kamffer, gesmeek: “Oom, skiet my tog nie dood nie.” Kamffer sr. het geantwoord hy sal dit nie daar doen nie, maar hulle gaan wel later met hom afreken.8 Dié joiner was Pieter Barendse Bouwer, ’n 29-jarige getroude onderwyser van Heidelberg.9

Nog ’n joiner, Adolf Jacobus van Emmenes (23), ’n ongetroude boer van die plaas Witpoort in die distrik Heidelberg, is ook gevange geneem. 10

Vdkt. Kamffer en asst.vdkt. Andrew Brink11 het ’n derde joiner, ene Scheepers, agtervolg. Brink het op Scheepers geskiet en hom ernstig gewond. Hy is saam met die burgers teruggeneem en onder bewaking geplaas. Daarna volg ’n summiere teregstelling. Dit is wat volgens Kamffer se on­ge­publiseerde herinneringe verder gebeur het:

Daar verskyn nou skielik ’n perderuiter vanaf die boonste Rooikoppe in Beerlaagte. By ons gekom erken ons hom as Danie Maartens ’n burger van Komdt. Buys wat in die boonste Rooikoppe was. Hy was baie opgewonde en vra of ons die Nasionale Scouts vannag bygetrek het en of sy swaer Scheepers nie onder die seksie was nie. Danie vertel ons toe dat twee nagte vantevore Scheepers en sy klomp Danie se vrou, en terselfdertyd Scheepers se eie suster, uit haar huis verdryf het in die bittere Junie maand koue, kaalvoet en net in nagklere geklee en die huis afgebrand, haar en haar dogtertjie vir sowat duisend treë aangejaag te perd en daar laat staan in die veld waar Danie haar die volgende more in ’n benarde toestand gekry het. Sy en die kind was byna verkluim. Sy het Danie vertel dat dit haar eie broer was wat die daad gepleeg het. Brink vertel hom toe dat dit wel sy swaer was wat daar neergetrek lê waar die wagte wag hou. Meteens kon jy die gevoelens lees op die man se gesig. Geen woorde kan beskryf wat sy gevoelens was op daardie oomblik nie. ’n Eie voorstelling van so ’n geval kan dit self nie openbaar nie. Die ironie van gevoel van feitlik broer teen broer, en daarnaas van man teenoor vrou en kind. Met ’n woede onbekend en oorweldigend vlieg hy nou op sy perd en jaag na die wagte en Scheepers. Toe hy sowat vyf treë van Scheepers was spring hy van sy perd. Scheepers erken hom dadelik en smeek die wagte om hom te beskerm daar dit sy swaer was wat hom kom doodskiet. So swaar as wat hy gewond was kruip hy na Danie toe aan en toe Danie by hom kom begin hy smeek dat Danie tog genade moet hê. Danie antwoord net dat hy niks van hom wil hoor nie, ‘Ek wil jou tussen jou twee oë skiet.’ Hy lê ook aan en gee hom die koeël, klim op sy perd en ry weg.12

Geen bevestiging van die voorval kon in ’n ander bron gevind word nie.13

’n Ander joiner van Vallentin’s Heidelberg Volunteers, Piet Jordaan, was gelukkig om met sy lewe daarvan af te kom. Tydens die burgers se aanval het hy suidwaarts in die rigting van die Vaalrivier gevlug en by die vrouelaer naby Grobbelaarsdrif beland. Daar het hy heftig ontken dat hy ’n joiner is. Toe die vroue hom egter met sambokke begin bykom, het hy ontvlug deur in die koue water van die Vaalrivier te gaan skuil.14

Nog ’n joiner wat ook ’n noue ontkoming gehad het, was Kamffer se neef, Sampie Kamffer. Hy was aanvanklik vdkt. Kamffer se adjudant, maar het een aand weggesluip en by die Britte gaan aansluit. In ’n daaropvolgende skermutseling is die veldkornet ernstig gewond. Die burgers het te hore gekom dat Sampie Kamffer spog dit was hy wat sy neef gewond het. Toe die burgers hom as een van die vlugtende Witkoppe herken, was hulle gretig om met hom af te reken. Sy perd is raakgeskiet, maar hy het ont­vlug deur agterop die perd van een van die ander joiners te klim en weg te jaag.15 Die tweespalt wat die oorlog in Afrikanerfamilies meegebring het, moes onversoenbare wrewel veroorsaak het wat vir baie dekades sou voortwoed.

Onder die Britse gesneuweldes was ou bekendes en vriende van die om­gewing wat saam met die burgers grootgeword het. Louis Slabbert vind so die lyk van Eddie Morrison tussen die Britse gesneuweldes. In sy herinne­ringe skryf hy: “Dit was my beste vriend voor ons op kommando gegaan het. Ons het op dieselfde plaas gewoon. Dit was vir my ’n groot slag om hom daar as my vyand te sien.”16 Die oorlog het vele elemente van ’n bur­geroorlog gehad, waarvan dié geval ’n sprekende voorbeeld was.

Die twee gevange joiners, Bouwer en Van Emmenes, is saam met die kommando geneem. Volgens Kamffer is hulle “goed karnuffel”. Dit is onduidelik wat hy presies daarmee bedoel omdat hy nie in sy herinneringe daaroor uitwei nie. Hy sê wel sy pa het Bouwer herhaaldelik geteister deur na die son te wys en te sê: “Kyk goed, kêrel, môre mag jy dit nie weer sien nie.”17 Die twee joiners moes die erns van hul situasie besef het met die wete dat die doodstraf hulle in die oë staar.

’n Krygshof is onder leiding van kmdt. Fanie Buys,18 bevelvoerder van die suidelike afdeling van die Heidelberg-kommando, saamgestel om die twee te verhoor. Die verhoor het volgens oorlewering in die perdestalle op die plaas Hartbeesfontein naby Barnardskop tussen Heidelberg en Villiers plaasgevind en oor ’n paar dae gestrek.19 Volgens Van den Heever, wat teen die einde van die verhoor teenwoordig was, is die uitspraak met die volgende woorde afgesluit: “By die mens is vir julle nie die minste genade nie. Gaan soek by God genade vir jul onsterflike siele.”20

Van den Heever gee ’n dramatiese beskrywing van die reaksie van die veroordeeldes by die aanhoor van die doodstraf sowel as die gewaarwor­dinge van die aanwesige burgers. Hoewel sy herinneringe meer as 40 jaar na die gebeure opgeteken is en die dramatiese aard daarvan waarskynlik deur die skrywer C.M. van den Heever en ander beïnvloed en versorg is, gee dit tog insae in wat in al die aanwesiges se gemoedere moes omgegaan het:

Die twee ongelukkiges het so bleek geword as die dood self. Ek kon sien dat hulle beswaarlik orent kon bly toe hulle saam met die bewaarders die hof moes verlaat. ’n Mens kan so hard en so gevoelloos wees soos ’n klip, maar by die aanhoor en sien van so iets voel jy ontroerd. Jou hele siel gaan uit na die ongelukkiges en jy voel asof jy voor ’n vertoornde God staan, want hier word beslis oor lewe en dood. Benoud roep jy in jou hulpeloosheid uit: ‘O, God, waarom? Hoekom?’ Wreed maar ook beslis en regverdig klink die antwoord: ‘ ’n Breuk vir ’n breuk, en hy wat ’n mens doodslaan moet sekerlik doodgemaak word.’ Tog vra jy vir die soveelste maal: ‘Het ons ou volkie die vernedering verdien? Ons het tog nie groter en meer gesondig as ander volkere nie, en tog is ons smart, lyding en verdriet veel groter.’ Daardie soort gedagtes het dan ook van baie jong burgers vroeë grysaards gemaak. Gelukkig kon daar nooit veel tyd aan daardie gedagtes bestee word nie, want ander pligte verg al gou weer jou aandag. En in daardie tyd was dit ’n seën.21

Daar is talle tergende vrae oor die verhoor wat onbeantwoord bly. Dit is opmerklik dat dit nie net Van den Heever is wat daarop sinspeel dat die veroordeeldes hulle aan moord skuldig gemaak het nie.22 Daar kan met redelike sekerheid aanvaar word die aanklag teen hulle was hoogverraad. Wat die aard en inhoud daarvan was, kon nie vasgestel word nie omdat die hofrekord nie opgespoor kon word nie.

Sowat ’n halfuur nadat die krygshof verdaag het, ontvang Van den Heever en nog ’n burger, H. Bronkhorst, opdrag van Buys om nog dieselfde nag na die Transvaalse regering in Oos-Transvaal te vertrek om bekragtiging van die doodsvonnis te verkry. Om die Transvaalse regering te vind, was geen maklike taak nie, want hulle moes voortdurend rondswerf in ’n poging om die talle Britse kolonnes te ontduik wat hulle probeer vastrek het. Daar kan aanvaar word ’n geskrewe oorkonde of minstens ’n opsomming van die verhoorverrigtinge is saam met die twee burgers gestuur.

Uiteindelik het die twee die Transvaalse regering met staatsekretaris F.W. Reitz naby die Swazilandse grens aangetref. Daar is die vonnis bekragtig, luidens ’n Britse verslag van 1902 deur kmdt.genl. Louis Botha self.23 Na vele omswerwinge en avonture, waarvan Van den Heever ’n interessante beskrywing in sy herinneringe gee, was die twee 15 dae na hul vertrek terug by die Heidelberg-kommando.24

Intussen is Bouwer en Van Emmenes in die tronk op Villiers aangehou, wat toe in republikeinse hande was. Die Engelssprekende Witkoppe wat met die geveg by Braklaagte gevange geneem is, is ook ’n tyd lank aangehou, maar mettertyd vrygelaat soos dit die gebruik met alle Britse krygsgevangenes was. Onder hulle was sers.maj. Schroeder, wat by sy terugkeer aan die Britse owerhede verslag gedoen het oor Bouwer en Van Emmenes se lot. Dit het later aanleiding tot ’n Britse ondersoek na die teregstellings gegee.25

Oorlewering wil dit hê dat die twee veroordeeldes verskeie geleenthede gehad het om te ontsnap, maar geweier het om dit te doen. Jare later het J.A.C. (Koos) Kriek, wat tydens die twee se aanhouding ’n jong telegrafis op Villiers was, vertel hy het by geleentheid opdrag ontvang om die twee te bewaak. Tydens so ’n bewaking het die bewaarder, Frans Kruger, hom gevra om hulle die kans te bied om te ontsnap. Hy moes dit doen wanneer Kruger nie daar was nie. Kriek moes selfs vir hulle ’n ontsnappingsroete aandui. Die twee het die geleentheid van die hand gewys omdat hulle bang was hulle sou in ’n vooropgestelde hinderlaag doodgeskiet word. Ander oorleweringe dat die veroordeeldes geweier het om te ontsnap omdat hulle hulle berus het in wat hul lot ook al sou wees, klink ietwat vergesog.26

Bouwer se ouers, Petrus Frederick Bouwer en Jacoba Pieternella (gebore Jordaan), van die Kliprivier-omgewing in die distrik het nog ten tyde van hul seun se teregstelling geleef. Bouwer jr. en sy vrou, Nicolina Maria Magdalena (gebore Kruger) het ’n 17-maande oue dogtertjie gehad. Hul tweede kind, ’n seuntjie, is op 31 Julie 1901 gebore terwyl Bouwer in aanhouding was.27

Van Emmenes is op die plaas Witpoort naby Heidelberg gebore. Sy ouers, Roelf Jacobus en Wilhelmina Magdalena (gebore Jonker), het ook nog gelewe toe hy gefusilleer is.28

Met die uitbreek van die oorlog was al die Van Emmenes-broers en hul pa op kommando. Dolf van Emmenes is self deur kmdt. Buys vir opleiding in die staatsartillerie aanbeveel en hy het byna ’n jaar lank as Transvaalse artilleris diens gedoen. Daar word gemeld dat hy aanvanklik besonder trots op sy republikeinse uniform was.29 Tog gee al die broers en hul pa hulle in die tweede helfte van 1900 vrywillig op die plaas Witpoort aan ’n Britse kolonne oor. Die dag nadat hulle hul wapens neergelê het, het almal die eed van neutraliteit geneem. Daarna het Dolf tot November 1900 op die plaas aangebly. Die vegtende burgers het dit egter vir hom te warm gemaak om daar te vertoef. As die hendsoppers geweier het om weer op kommando te gaan, het die burgers hulle dikwels geteister en gestraf. Gevolglik het Dolf van Emmenes na die veiligheid van die Britse mag op Greylingstad gevlug. Vandaar is hy na die Britse kamp op Heidelberg oorgeplaas, waarna hy by die Vallentin’s Heidelberg Volunteers aangesluit het.30

Alles dui daarop dat die ander Van Emmenes-broers die Britte ook aktief bygestaan het. Kamffer praat selfs van ’n “Emmenes Seksie” by die Heidelberg Volunteers.31 Bevestiging is gevind dat ’n 31-jarige broer, Roelf Jacobus van Emmenes, ook aan die Heidelberg Volunteers behoort het.32 Hul pa het in 1903 verklaar die burgers het hom die keuse gegee om weer op kommando te gaan of agter die Britse linies te gaan bly. Hy het die laaste opsie uitgeoefen. Omdat die Van Emmenes-familie ’n sukkelbestaan gevoer het, was finansiële gewin waarskynlik ’n belangrike motief vir hul ontrouheid.33 Hulle is nog ’n voorbeeld van ’n Afrikanerfamilie wat hulle as ’n eenheid by die Britte geskaar het en uiteindelik ’n joinerfamilie geword het.

Waarskynlik het finansiële bevoordeling ook ’n belangrike rol gespeel in Piet Bouwer se besluit om by die Britse mag aan te sluit. ’n Ontleding van albei joiners se boedels wys hulle het ten tyde van hul dood niks van waarde besit nie.34

Nadat die twee rapportryers met die bekragtiging van die doodsvonnis teruggekeer het, is die bewaarder van die gevangenis op Villiers in kennis gestel dat die veroordeeldes binne 24 uur tereggestel sou word. Die veldprediker Poelakker moes die tyding aan die ongelukkiges oordra. Hy was ’n Hollandse sendeling wat hom jare vantevore in Transvaal kom vestig het en ’n vurige patriot van sy aangenome land geword het. Nadat die tyding aan die veroordeeldes oorgedra is, het Poelakker pal by hulle gebly. Volgens Van den Heever moes hy daarin geslaag het om hul lyding ietwat te versag, want met die dag van die teregstelling was hulle betreklik kalm.35

Die gedoemdes is op 24 Augustus 1901 met ’n perdekar van Villiers na die plek van teregstelling op die plaas Rietfontein, noord van die Vaalrivier, geneem. Oor die gebeure daarna ontstaan die mite dat die twee veroor­deeldes hul eie grafte moes grawe. Kamffer is bruusk daaroor: “Uiteindelik het ons hulle hulle eie grafte laat grawe, albei doodgeskiet en hulle toe­gegooi.”36 Louis Slabbert meld: “Nadat hulle hul eie grafte gegrawe het, is hulle deur ons kommando doodgeskiet.”37 Die twee oudstryders noem egter nie pertinent of hulle met die fusillering van die joiners by was nie.

’n Meer aanvaarbare weergawe is Van den Heever s’n wat vertel die grafte is reeds die vorige dag vir die veroordeeldes gegrawe. Hy gee ook ’n meer omvattende beskrywing van die gebeure. Die perdekar het ’n ent van die grafte stilgehou. Daar is die twee geblinddoek, juis sodat hulle nie die oop grafte moes sien nie. Naby die grafte is hulle van die perdekar gehelp en deur die bewaarders na die kopent van die grafte gelei, waar hul moes staan.

Die vuurpeloton het uit 12 man bestaan. Deur die trek van lootjies is ses vir elke veroordeelde aangewys. Volgens Van den Heever is net die helfte van die gewere met dodelike ammunisie gelaai, sodat daar vir elke veroor­deelde drie gewere met ammunisie was. (Dit strook nie met die Britse ondersoek na die voorval nie, wat daarop dui dat vyf koeëls Van Emmenes se liggaam getref het.) Die offisiere het die gewere gelaai en dit sowat tien treë van die grafte op die grond neergesit. Die lede van die vuurpeloton moes dus nie weet wie die doodskote gaan gee nie. Na ’n teken het die burgers in gelid na die gewere gestap en dit na ’n tweede teken opgeneem. Van den Heever beskryf hoe die gebeure daarna met ’n sterk godsdienstige aanslag deurgevoer is: “Toe het mnr Poelakker ’n paar verse voorgelees uit die Bybel en in ’n kort toespraak gewys op die kortstondige lewe van die mens hier op aarde, asook op die ewige lewe hiernamaals, wat vir hulle wag en wat vir hulle oop is deur die soenverdienste van Christus. Daarna het hy ’n kort gebed gedoen en elkeen van die twee ’n vaste handdruk gegee, terwyl hy hulle die volgende opdrag gegee het: ‘Gee my hartlike groete aan my dierbare ouers. Julle sal hulle daar vind. Sê aan hulle dat ek hulle eersdaags sal volg.’ ”

Nadat Poelakker eenkant toe gestaan het, is die vuurpeloton aangesê om aan te lê. Die leier van die peloton het volgens ’n voorafbepaalde teken met ’n klip op ’n graafblad gestamp, waarna die skote afgevuur is. Dit was omstreeks 09:30 die oggend.38

Daarna ontstaan die hardnekkige en grusame oorlewering dat een van die tereggesteldes nog in die graf bly leef het. Sy slagaar is daarna afgesny sodat hy hom moes doodbloei.39

Dit spreek vanself dat dié soort legendes met uiterste versigtigheid be­oor­deel moet word voordat enige waarheid daaraan geheg kan word. Ge­volg­lik is die bewerings tydens die navorsing vir hierdie werk aanvanklik met skeptisisme bejeën. ’n Bevestiging van ’n soortgelyke weergawe is egter in die Britse ondersoek van 1902 oor die teregstelling gevind.

Die Britse getuienis is gebaseer op mededelings van asst.vdkt. Andries Jacobus Greyling van die Heidelberg-kommando wat op 3 Mei 1902 ge­vange geneem is en wat met die teregstelling teenwoordig was, asook op sekere ander hoorsêgetuienis. Uit die Britse ondersoek blyk dit dat Van Emmenes nie onmiddellik gesterf het nadat vyf koeëls sy liggaam deurboor het nie.40 ’n Duitser, Otto Schnitter, wat die Boere as veldgeneesheer bygestaan het, moes bevestig dat die tereggesteldes dood is voordat die grafte toegegooi kon word. Klaarblyklik het hy Van Emmenes se slagaar oopgesny om vas te stel of hy dood is. Sy beweegrede was moontlik om na die bloed­vloei te kyk om vas te stel of die man se hart nog pomp. Moderne medici het sy metode as uiters vreemd beskryf. Schnitter was nie ’n behoorlik gekwalifiseerde geneesheer nie.41 Of Van Emmenes inderdaad nog gelewe het voordat die aar oopgesny is, kon nie vasgestel word nie. Schnitter se optrede is ’n waarskynlike verduideliking vir die ontstaan van die mite.

’n Sersant Fowlds van die 2nd National Scouts het dié hoorsêgetuienis op 11 Mei 1902 tydens die Britse ondersoek na die teregstelling gegee, wat die mite waarskynlik versterk het: “I have heard it stated that the opening of the artery was for the purpose of allowing Emmenes to bleed to death.”42 Van die Britse ondersoek het klaarblyklik niks gekom nie en geen bevin­ding van ’n moontlike vervolging van enige republikeinse burgers is gemaak nie.

Die teregstelling moes duidelik vir die aanwesige burgers traumaties gewees het. Volgens Van den Heever was die twee tereggesteldes nie net goed aan die burgers bekend nie, maar ook bloedfamilie van sekere lede van die vuurpeloton. Hy gee egter nie detail oor die presiese verwantskap nie. Dan meld hy ook Bouwer het in een of ander stadium vir sowat die helfte van die aanwesige jong burgers skoolgehou. “Dit is te begrype dat dit ’n plig was wat loodswaar op die arme jong burgers gedruk het, maar die beslis­sing onherroeplik.”43 Dié jong burgers moes blywende sielkundige letsels oorgehou het.

Dit is betekenisvol dat Van den Heever ’n omvattende weergawe van die gebeure gee, maar Bouwer en Van Emmenes doelbewus nooit by die naam noem nie. Uit die konteks blyk dit is ongetwyfeld hulle na wie hy verwys. Met die publikasie van sy herinneringe, Op kommando onder kommandant Buys, in 1941 het Van den Heever op die plaas Beerlaagte in die distrik Heidelberg (naby waar die joiners gevang is) gewoon.44 Dalk is die ver­swyging van hul name na vier dekades ’n poging om die naasbestaan­des van die oorledenes in die omgewing verleentheid of verdere pyn te spaar.

Na die teregstelling gaan dit droewig met Bouwer se weduwee. Slegs ses weke na haar man se dood sterf hul dogtertjie op 9 Oktober 1901 en vier maande later, op 31 Januarie 1902, die babaseuntjie. Die kompensasieraad betaal haar £80 vir oorlogskade, wat sy vir onmiddellike lewensbehoeftes moes aanwend. Dit is die enigste bate wat in haar man se boedel aangete­ken word. Daarna verval sy in armoede. Teen 1905 woon sy by ’n Van den Heever-familie op die plaas Spaarwater in die distrik Heidelberg. Een van die Van den Heevers, Pieter Hendrik, lê ’n verklaring af dat hy met die teregstelling teenwoordig was en bevestig daarmee die dood van Piet Bouwer om dié se waardelose boedel by die meester van die hooggeregs­hof afgehandel te kry.45

Van Emmenes se ouers het na die oorlog ook ’n ellendige bestaan gevoer. Sy pa probeer twee kompensasie-eise invorder wat die seun voor sy teregstelling by die Britse owerheid ingestel het. Die Britse amptenaar wat met die prosessering daarvan gemoeid was, was simpatiek en het die volgende opmerking in die lêer gemaak: “Claimant was subsequently shot whilst serving for us. His people (are) in poor circumstances.”46 Die kom­pensasie-eise is gevolglik aan Van Emmenes se pa uitbetaal.

Vandag lê die grafte van Bouwer en Van Emmenes verlate tussen die gras op die plaas Rietfontein, suid van Heidelberg, nie ver van die besige N3-snelweg tussen Johannesburg en Durban nie. Daar is geen grafstene nie, net ’n hoop klippe oortrek met gras en struike. Die klipfondasie van die perdestalle se mure op die plaas Hartbeesfontein waar die twee joiners verhoor is, kan vandag nog gesien word. Die tronk op Villiers waar hulle aan­gehou is, is nog in ’n goeie toestand en agter die huidige polisiestasie op die dorp naby die Vaalrivier geleë.

Daar is ’n bisarre nadraai by die laaste rusplek van die twee joiners. In 1930 pleeg die 21-jarige Koot Bierman weens finansiële probleme selfmoord op die plaas Hartbeesfontein. Omdat hy sy eie lewe geneem het, is hy nie ’n normale begrafnis gegun nie en is sy oorskot by die “ander twee moordenaars” begrawe.47 ’n Verweerde grafsteen van sandsteen in ’n vorm van ’n doodskis dui sy laaste rusplek langs dié van die twee joiners aan.

Na drie dekades is die ontslape verraaiers steeds geminag.

Boereverraaier

Подняться наверх