Читать книгу Boereverraaier - Albert Blake - Страница 5
Оглавление2
Vroeë verraad
Die eerste Boereverraaier wat deur sy eie mense tereggestel word, sterf die middag van 31 Desember 1880 voor ’n vuurpeloton aan die oewer van die Mooirivier by Potchefstroom.1 Hans van der Linden se verraad vind tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog plaas.
Dié teregstelling het grootliks in die Afrikaner se volksgeskiedenis vergete geraak. Al was die voorval buitengewoon in die vroeë geskiedenis van die Boererepublieke, ontvang dit min of geen aandag in gepubliseerde werke oor die Eerste Anglo-Boereoorlog. Wat sou republikeinsgesindes van ’n jong Afrikanervolk daartoe gedryf het om een van sy eie mense te fusilleer?
Om dié vraag te beantwoord, moet ’n mens besef dat die ontwikkeling van die Afrikaner se nasionale bewussyn teen 1880 veel verder gevorder was as wat dikwels aanvaar word.2 Sy afgesonderdheid, die geslagte lange oorloë teen swart stamme en die voortdurende teistering deur Brittanje sedert die Groot Trek het alles meegehelp om ’n nasionale volksbesef te ontwikkel. In dié omstandighede het ’n jong, dinamiese Afrikanerpatriotisme onder republikeinsgesindes gedy.
Die eensydige Britse optrede met die anneksasie van die Transvaalse Republiek in 1877 was dus uit die staanspoor onaanvaarbaar vir die Boere. Dit lei tot die uiters plofbare situasie teen einde 1880 toe met die volksvergadering by Paardekraal (by die huidige Krugersdorp) besluit word om tot wapengeweld teen die Britse oorheersers oor te gaan.3
Tydens die volksaamtrek het die Transvaalse burgers in die geheim voorbereidings vir die komende oorlog getref. Die Britse aanvoerders van die besettingsmag in Transvaal was uiteraard gretig om daardie belangrike inligting te bekom. Vir dié doel het ’n Britse spesiale kommissaris, maj. M. Clarke, en die polisiehoof, kmdt. P. Raaff, op Potchefstroom twee plaaslike inwoners gewerf om onder valse voorwendsels na die volksaamtrek te gaan om inligting in te win. Hulle was die Transvaler Johannes (Hans) van der Linden en Christiaan Woite, ’n Potchefstromer van Duitse afkoms. Die twee spioene het onafhanklik van mekaar opgetree.4
J. VAN DER LINDEN
† 31 Desember 1880, Potchefstroom
Hans van der Linden het klassieke Bybelse verraad gepleeg. Hy het ’n beloning van 30 sjielings per dag van die Britse militêre owerheid op Potchefstroom ontvang om die volksvergadering by Paardekraal by te woon en inligting aan hulle deur te gee. Om hom beter van sy taak te kwyt, het Van der Linden hom boonop as korporaal by die Boeremag aangesluit en daardeur trou aan die nuwe Transvaalse regering gesweer. By die byeenkoms het die Boeremag se bevelvoerder, genl. Piet Joubert, uitdruklik die geleentheid aan diegene gebied wat die vryheidsaak nie goedgesind was nie om die terrein ongehinderd te verlaat. Nie een van die aanwesige burgers, insluitend Van der Linden en Woite, het daarop gereageer nie.
Die inligting wat die twee spioene daarna oor die Boere se geheime beplanning by Paardekraal inwin, dra hulle aan Britse offisiere op Potchefstroom oor. Dit het die Britte in staat gestel om hul troepe te laat verskans en vir die stryd voor te berei nog voordat enige krygsbedrywighede begin het. Daardie inligting is deur die Britse offisiere in ’n skriftelike verslag saam met die oorspronklike dokumente bewaar. Dié optrede het noodlottige gevolge vir die verraaiers ingehou.5
Die Eerste Anglo-Boereoorlog (Eerste Vryheidsoorlog) breek op Geloftedag, 16 Desember 1880, uit met ’n skermutseling tussen die Boere en die Britse magte by Potchefstroom. Tydens ’n geveg twee dae later op die dorp neem die Boere vir Clarke en Raaff saam met ’n aantal Britse soldate en burgerlikes gevange. Onder hulle was ook Van der Linden en Woite. Verslae wat Van der Linden en Woite oor die Boere se voorbereiding vir die
komende stryd opgestel het, word saam met ander inkriminerende dokumente aan Clarke gevind. Een van die dokumente het boonop aangedui Van der Linden het op 6 Desember 1880 die eed van getrouheid teenoor die Britse koningin afgelê.6 Dit was net voordat hy na Paardekraal vertrek het, waar hy sy korporaalskap in die Boeremag aanvaar het. Met al die verdoemende feite wat geopenbaar word, was die twee verraaiers se lot beslis.
Die oggend van 31 Desember 1880 het ’n krygsraad Van der Linden na ’n kort verhoor op Potchefstroom aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die krygsraad van 22 lede het hom eenparig skuldig bevind, maar daar was nie eenstemmigheid oor die vonnis nie. Sestien lede het ten gunste van die doodstraf gestem en ses daarteen.7
Die krygsraad het uit vooraanstaande lede van die omgewing bestaan, van wie party in die Tweede Anglo-Boereoorlog ’n prominente rol sou speel. Twee het die hoogste offer gebring: Een het in ’n geveg gesneuwel en ’n ander het beswyk aan wonde wat hy op die slagveld opgedoen het. Nie almal wat deel was van die krygsraad het met eer uit die latere stryd getree nie. Die voorsitter van die krygsraad, genl. Piet Cronjé, het hom die ewige gramskap van ’n groot deel van sy volksgenote op die hals gehaal met sy oorgawe op 27 Februarie 1900 by Paardeberg met byna 4 000 burgers.8 ’n Ander lid, veldkornet J.D. Weilbach, het na die eerste fase van die Tweede Anglo-Boereoorlog as ’n kommandant blatant afvallig geword. In Junie 1900 het genl. Koos de la Rey hom weens verraad laat arresteer, “omdat hy allerlei ontmoedigende praatjies onder sy burgers versprei het” om nie met die stryd voort te gaan nie.9 In 1880 was almal klaarblyklik nog sterk getrou aan die vryheidsgedagte.
Uit die dele van die oorkonde wat bewaar gebly het, kan ’n mens aflei Van der Linden het regsverteenwoordiging gehad. Daar is onder meer beswaar gemaak toe die staatsaanklaer nie prosedureel korrek opgetree het nie. ’n Regsargument wat waarskynlik te gesofistikeerd vir ’n gewone burger soos Van der Linden was, is geopper, naamlik dat die krygshof nie die jurisdiksie gehad het om oor die saak te besin nie omdat Van der Linden op 12 Desember 1880 aan die Britte verslag gedoen het. Eers die dag daarna, op 13 Desember, is die herstel van die Transvaalse onafhanklikheid en die gewapende stryd afgekondig. Dié argument is verwerp. Van der Linden se optrede is as strafbare hoogverraad beskou. Daar is gelas dat die vonnis nog dieselfde middag om 16:00 voltrek moes word. Die opdrag om die doodsvonnis te voltrek, is aan een van die krygshoflede, kmdt. H.R. Lemmer, opgedra.10
C.N.J. du Plessis, ’n Potchefstroomse burger en ooggetuie van die fusillering, se dagboekaantekeninge is in 1882 as Geschiedenis van de emigranten-Boeren van den Vrijheidsoorlog gepubliseer, met die later afvallige krygshoflid Weilbach as mede-outeur. Du Plessis huiwer nie om sy afkeur uit te spreek wanneer daar gevoelloos teenoor die gedoemdes opgetree is nie. Tog was hy ook ’n vurige Afrikanerpatriot en sy weergawe is veral in dié opsig belangrik. Dit gee insig in hoe die Afrikaner die verskynsel van verraad twee dekades voor die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 beoordeel het.11
Van der Linden se vrou is sowat ’n halfuur voordat hy na die plek van die teregstelling geneem is, laat haal om hom te groet. Du Plessis beskryf die tragiese afskeidstoneel: “Om haar te zien aankomen, in het rouwkamertje te zien ingaan en hem om den hals te zien vallen en afscheid nemen, is voor mij te zwaar en niet mogelijk te beschrijven. Ik hoor haar nog tegen hem zeggen: - ‘Ik heb jou gezegd moet nie . . .’.”12
Daarna het die prediker eerw. D. van der Hoff die terdoodveroordeelde geestelik gaan bystaan. Intussen is ses gewere in die Potchefstroomse raadsaal gelaai, drie met dodelike ammunisie en drie met loskruit. Volgens Du Plessis is ses burgers op ’n onpartydige wyse uit die aanwesige burgers as lede van die vuurpeloton aangewys. Die gewere is aan hulle oorhandig sonder dat hulle geweet het watter daarvan met die dodelike koeëls gelaai was.13
Onder begeleiding van Lemmer en ’n wag van 25 burgers is Van der Linden na die oewer van die Mooirivier geneem, waar die graf reeds gegrawe was. Sowat 300 mense het saamgegaan om die teregstelling te aanskou. Of hulle uit blote morbiede nuuskierigheid saamgegaan het en of toeskouers doelbewus toegelaat is om as ’n afskrikmiddel vir ander verraaiers te dien, kon nie vasgestel word nie.
’n Sombere spektakel het hom afgespeel toe Van der Linden sowat 40 treë van die oop graf eerbiedig sy hoed afgehaal het. Die aanwesiges, wat hom klaarblyklik stip dopgehou het, het sy voorbeeld gevolg.14
Die stemming by die graf was droefgeestig. Van der Hoff het “een kort maar hartroerende gebed . . .” gelewer.15 Terwyl die aanwesiges ’n gesangevers gesing het, is Van der Linden aan die kop-ent van die graf laat kniel. ’n Engelssprekende inwoner van Potchefstroom, George Austen, het op dieselfde dag nog in sy dagboek geskryf: “Certain religious formalities were gone through but it was thought by men of the world . . . who were there that it was only prolonging the agony.”16
Die reeds makabere gebeure het ’n amper surrealistiese karakter aangeneem toe ’n doodskleed oor Van der Linden getrek is. “Een lang wit overkleed, met zwart afgezet, en nog al fraai opgemaakt, werd hem over’t hoofd getrokken met een breede strook afhangende tot de knieën,” skryf Du Plessis.17
Die ses lede van die vuurpeloton het sowat drie treë van die veroordeelde stelling ingeneem. Lemmer het langs Van der Linden gaan staan en sy linkerhand op die veroordeelde se kop gesit. Daarna het Lemmer met die knop van sy rysweep beduie waar die lede van die vuurpeloton Van der Linden op sy liggaam moes skiet. Du Plessis het gemeen dit is ongevoelig: “Ik keur de handelwijs van den commandant af, en laat het verder aan zijn eigen oordeel over.”18
Drie koeëls het Van der Linden getref wat sy liggaam agteroor laat ruk het. Tog het hy steeds tekens van lewe getoon. ’n Aanwesige geneesheer, waarskynlik die Hollander dr. Poortman, het aanbeveel dat hy nog ’n koeël moes kry.19 Die kommandant het een van die jong burgers van die vuurpeloton, ene J. Grundling, beveel om Van der Linden nog ’n skoot te gee, wat hy gedoen het.
Later het van die nabye omstanders aan Du Plessis vertel Grundling het dié profetiese woorde geuiter: “Ja, nu moet ik u schiet; maar mijn tijd is nabij.”20 Inderdaad het Grundling net die volgende dag in ’n skermutseling met die Britse troepe by Potchefstroom gesneuwel.21 Lemmer het as Boeregeneraal in Desember 1900 in die Tweede Anglo-Boereoorlog omgekom.22
Na die teregstelling het die skare stil na die dorp teruggekeer. Du Plessis sluit sy beskrywing van die teregstelling so af: “Ieder betreurde het lot van een verrader van zijn eigen natie.”23
C. WOITE
† 6 Januarie 1881, Potchefstroom
Die 42-jarige Christiaan Woite het sy dienste as geneesheer aan die Boeremagte by Paardekraal aangebied. Weens die skaarste aan sulke dienste voor die Eerste Anglo-Boereoorlog het die burgers sy aanbod met groot waardering aanvaar. “Hij kwam als engel,” is gesê.24
Woite se oogmerk was egter nie om die Boere se saak te bevorder nie. Hy het sy vertrouensposisie doelbewus misbruik deur inligting van die Transvaalse burgers se voorbereiding vir die naderende wapenstryd aan die Britte op Potchefstroom oor te dra. Sy oudste seun, die 19-jarige Wilhelm, het hom waarskynlik in sy verraad teenoor die Boere bygestaan.25
Woite was nie ’n gekwalifiseerde geneesheer nie, maar het sy mediese kennis deur ondervinding opgedoen. Met die uitbreek van die oorlog het hy ’n gevestigde reputasie as ’n medikus op Potchefstroom gehad.26
Al het Woite hom onder valse voorwendsels met die Afrikanersaak vereenselwig, kan hy nie streng gesproke as ’n volksverraaier beskou word nie, want hy was ’n Duitser van geboorte.27 Dat hy hom wel doelbewus deur spioenasie aan verraad teenoor die Boere skuldig gemaak het, spreek vanself.
Nadat Woite met die geveg op 16 Desember 1880 by Potchefstroom gevange geneem is, is hy op die dorp aangehou. Soos met die geval van Van der Linden is daar ook by maj. Clarke verdoemende verslae van Woite oor die Boere se voorbereiding vir die komende stryd gevind.28
Op 6 Januarie 1881 het ’n krygsraad hom verhoor. Waarskynlik omdat hulle onafhanklik van mekaar op die Boere gespioeneer het, is Woite en Van der Linden se sake afsonderlik afgehandel. Volgens die dagboek van George Austen is Woite reeds teen 10:00 die oggend aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Daar is gelas dat die vonnis nog dieselfde middag voltrek moes word. Woite se seun Wilhelm, wat ook aangekla is, is onskuldig bevind en vrygelaat.29
Na vonnisoplegging is Woite in dieselfde kamertjie geplaas waar Van der Linden voor sy teregstelling aangehou is. Toe die nuus van die vonnis deur die dorp versprei, het lede van die klein Duitse gemeenskap vergeefs gepoog om die krygshof inderhaas met ’n petisie tot begenadiging van die doodstraf oor te haal.30
Woite se vrou Anna (gebore Blase) en hul nege minderjarige kinders is die geleentheid gebied om hom te gaan groet. Austen, wie se sentimente sterk pro-Brits was, skryf nog dieselfde dag in sy dagboek: “His wife and family were allowed access to him for a brief parting interview over the heart rending and agonizing nature of which a veil must be drawn – there are scenes in human life and suffering that though not beyond the deepest yearning sympathy are beyond it(s) adequate expression.”31
In wat ’n besondere indruk op die aanwesiges moes gemaak het (dit word in verskeie berigte van destyds aangeteken), het Woite in sy laaste ure in Duits teen die muur van sy aanhoudingskamertjie uitgekerf: “Ek vertrou in Jesus. Ek het my in sy hande oorgegee. Ek is dankbaar om te sterf. Oor ’n kort rukkie sal julle my nie meer sien nie, ek gaan na die Vader – Christiaan O. Woite.”32
Woite is omstreeks 14:00 met geboeide hande onder sterk gewapende begeleiding na die plek van sy fusillering geneem, volgens Du Plessis op dieselfde paadjie as Van der Linden vroeër.33 Austen skryf die graf is in die vlei naby die rivier aan die onderkant van die Royal Hotel gegrawe.34 Weer was daar ’n groot skare toeskouers, onder wie ’n hele aantal gewapende burgers. ’n Vriend en buurman van Woite, die Duitse prediker eerw. B. Köhler van die Berlynse Sendinggenootskap, het ’n kort en kragtige gebed by die graf gedoen. Woite self “bleef stil en kalm tot eindelijk het vonnis over hem voltrokken werd . . . ”35
Hierdie keer is die vuurpeloton tot agt man vergroot, heel waarskynlik om ’n herhaling van die debakel rondom Van der Linden se teregstelling te verhoed. Na ’n teken gegee is, is die skote afgevuur. “Woite gave one convulsive bound upwards and fell with 3 bullets in the breast and one in the forehead.”36 Op sy sterfkennis word die oorsaak van sy dood so aangeteken: “Dood geschoten te Potchefstroom by vonnis van de Krijgsraad gedurende den oorlog.”37
Köhler het Woite se oorskot uit die graf verwyder en in die tuin van die tereggestelde se huis op Potchefstroom herbegrawe. Austen skryf ietwat emosioneel daaroor in sy dagboek: “Kohler . . . had the body subsequently removed and buried in (the) deceased’s own garden, where he had spent many of the long summer evenings surrounded by those who loved him, when peace ruled in the land and none dared to make afraid.”38
Sy oorskot is later in die ou Potchefstroomse begraafplaas herbegrawe. ’n Grafsteen met die Engelse bewoording het sy laaste rusplek daar aangedui: “Sacred to the memory of Christian Woite born in Hornowd Prussia Germany November the 3rd 1838, died January the 6th 1881 aged 42 years & 2 months leaving a widow and 9 children to mourn their loss. He was cut down in the prime of life.”39
Volgens Du Plessis is Woite en Van der Linden se verraad onder meer in ’n ernstige lig beskou omdat gevrees is dat die Britte met ’n mislukking van die opstand “al onze voormannen zouden laten vangen en ophangen”. Die voorbereiding van die stryd teen ’n oorweldigende oormag moes sonder lekkasies plaasvind, skryf hy voorts. “Ja, op eene zamenkomst vol bekommerende vrees, een bijeenkomst van zulk een handje vol arme verdrukten, dáár mogten geen verraders komen en toch kwamen er twee.”40
Na die oorlog het sommige pro-Britte groot gewag daarvan gemaak dat die Boere nie vir Woite en Van der Linden regsgeldiglik kon gefusilleer het nie omdat hulle in daardie stadium nog nie ’n wettige en erkende regering gehad het nie. Die hoofregter van die Kaapkolonie, sir Henry de Villiers, het die argument verwerp deur daarop te wys dat sowel Woite as Van der Linden deur behoorlik aangestelde krygshowe van ’n erkende Boeremag weens spioenasie verhoor is.41 Verder is geredeneer die Boere is deur die vredesverdrag tot wettige oorlogvoerders verhef en dat die burgers wat vir die teregstelling verantwoordelik was, deur die algemene amnestie beskerm word. Van Britse amptelike kant is enige omstredenheid wat daarna nog oor die teregstellings kon geheers het, nie verder gevoer nie.42
Ander teregstellings het waarskynlik nog gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog plaasgevind. Daar is die minder bekende geval van ’n bruin man, ene Carolus, wat na ’n kort verhoor in Desember 1880 deur die Boere ter dood veroordeel en nog op dieselfde dag in ’n “vallei” buite Potchefstroom gefusilleer is. 43 Die tereggestelde het vroeër sy hulp aan die Boere aangebied met die doel om op hulle te spioeneer, waarna hy op hulle geskiet het.
Nog ’n burger, Schalk Willem Robinson, was gelukkig om met sy lewe daarvan af te kom toe hy op 31 Desember 1880 op Potchefstroom aan hoogverraad skuldig bevind is. Hy is daarvan beskuldig dat hy in opdrag van die Britse offisiere op die dorp gepoog het om ’n rapport na die Britse mag in Pretoria te smokkel. Hy is op pad na Pretoria betrap. Hy is gevonnis tot ’n boetestraf asook verbanning uit die land met ’n verdere voorwaarde dat as hy sou terugkeer, “hy vogeling zal zijn”. Daarmee is hy voëlvry verklaar. Die Potchefstroomse krygsraad het gedurende die oorlog soortgelyke vonnisse aan etlike ander mense opgelê.44
Op 27 Februarie 1881 behaal die Boere hul roemryke oorwinning op Majuba en verseker só dat hul onafhanklikheid aan hulle teruggegee word. Dit gee ook aan ’n ontluikende Afrikanernasionalisme ’n groot hupstoot. Tog sou die Afrikaner reeds vroeg in sy geskiedenis geteister word deur verraaiers in sy midde.
’n Groot aantal Boere was die Britte tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog goedgesind. Ds. N.J. van Warmelo was byvoorbeeld die enigste predikant wat die republikeinse saak openlik ondersteun het tydens die Britse anneksasie van die Transvaalse Republiek. Op die dag wat die oorlog uitgebreek het, het die Potchefstroomse NG predikant ds. J.P. Jooste as Britsgesinde onder verdagte omstandighede op sy perd die dorp uitgevlug. Na die oorlog is hy as ’n verraaierpredikant gebrandmerk.45
Ten spyte van steun vir die Britte, was daar teen 1881 nietemin ’n sterk gevoel onder ’n kerngroep republikeinse Afrikaners teen wat hulle as volksverraad beskou het. Daar was duidelike polarisasie tussen Republikeins- en Britsgesinde Afrikaners. ’n Sprekende en insiggewende voorbeeld is C.N.J. du Plessis se sterk veroordeling in sy boek in 1882 van Britsgesinde Afrikaners tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog: “De Afrikaansche loyalen [teenoor die Britse ryk] zijn de verachtelijkste schepselen die ooit in de geschiedenis der wereld zijn opgetreden. Het doet mij leed genoodzaakt te zijn zooveel uit te weiden omtrent deze personen. Zij zijn ver beneden het dierenrijk, want zelfs roof- en verscheurende dieren blijven toch hunnen aard en bloedverwantschap getrouw. Ik kan geen ander oordeel over die personen vellen, dan dat zij krankzinnig, slecht van geweten en zonder gevoel zijn, en niets ander dan de --- verdienen.”46
Hierdie vroeë beskouing van verraad is besonder betekenisvol by die ontleding van die republikeinse vryheidsideaal. Daar is ’n besliste weersin in die optrede van afvalliges, so erg dat met ekstreme stappe teen hulle opgetree is.
Die enkele fusillerings van verraaiers gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog was maar net ’n voorskou van wat twee dekades later in ’n veel droewiger tydperk op ’n groter skaal in Afrikanergeledere sou plaasvind.
Die weg daarvoor was egter voorberei.