Читать книгу Ontsnap! - Albert Blake - Страница 3
VOORWOORD
ОглавлениеWêreldwyd word mense nog altyd aangegryp deur die verhale van krygsgevangenes wat ten spyte van lewensgevaar in ’n tyd van oorlog groot waagmoed aan die dag lê en uit aanhouding probeer ontsnap. Hul blykbaar onbreekbare gees en onstuitbare versugting na vryheid dwing geweldige bewondering af.
Sedert die Tweede Wêreldoorlog het ’n magdom boeke oor die onderwerp verskyn.1 In die internasionale rolprentbedryf het krygsgevangenes se ontsnappingsverhale, veral dié wat tydens die Tweede Wêreld- en Viëtnam-oorloë afspeel, as’t ware in ’n eie genre ontwikkel. Verskeie van dié rolprente is ook vir Oscars benoem of daarmee bekroon.2
Die ontsnapping van die jeugdige Winston Churchill uit ’n krygsgevangekamp vir Britse soldate in die Staatsmodelskool in Pretoria aan die begin van die Anglo-Boereoorlog het ook feitlik oornag vir hom roem gebring. Enkele maande later, ná sy terugkeer na Engeland, is hy selfs tot die Britse parlement verkies.3 Sy ontsnapping is geweldig in die Britse pers en daarna in die Engelse literatuur opgeblaas. Jare lank is die aanspraak dat Churchill deur die “mighty Apies River” in Pretoria na vryheid moes swem, in Suid-Afrika bespotlik gemaak. Die Apiesrivier is immers nie veel meer as ’n stroompie nie. Churchill, wat nie juis ’n beskeie mens was nie, het die publisiteitsgolf egter gery en politieke munt daaruit geslaan.4
Churchill se ontsnapping is nie net die bekendste van die Anglo-Boereoorlog nie, maar word soms as een van die beroemdste ontsnappings in moderne oorlogstye beskryf.5 Tog steek dit, wat die vlak van gewaagdheid betref, in vele opsigte af by ’n menigte ander, minder bekende ontsnappings. Dit bly nietemin ’n sprekende voorbeeld van hoe mense – soms ’n hele nasie – deur ’n oorlogstydse ontsnapping meegevoer kan raak.
Buiten enkele gevalle het die ontsnappings en pogings tot ontsnapping deur Boerekrygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog nie dieselfde vlak van aandag in die Afrikanergeskiedskrywing geniet as krygsgevangenes se ontsnappings in byvoorbeeld die Britse en Amerikaanse geskiedskrywing nie.6 Oor die heldhaftigheid van die bittereinders, die lyding in die konsentrasiekampe, die verwoesting van die verskroeideaardebeleid en die heldedade op die slagveld het ’n onophoudelike stroom werke verskyn. Daarteenoor is daar aansienlik minder gepubliseerde werke oor persoonlike ervarings in die krygsgevangekampe en, met enkele uitsonderinge na, is dit meestal herhalings van dieselfde minder omstrede onderwerpe.
Die eerste omvattende akademiese werk oor die breër fasette van Boerekrygsgevangenskap het eers in 1975 die lig gesien met S.P.R. Oosthuizen se doktorale proefskrif, “Die beheer, behandeling en lewe van die krygsgevangenes gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902”. ’n Meer onlangse werk in dié verband is Elria Wessels se Bannelinge in die vreemde (2010).
’n Samevattende werk wat uitsluitlik op Boerekrygsgevangenes se ontsnappings en pogings tot ontsnapping fokus, het egter nog nooit verskyn nie. In werklikheid het die meerderheid gepubliseerde ontsnappingspogings, buiten enkele bekendes, betreklik gou ná die oorlog in vergetelheid verval. Moontlik het dit daarmee te doen dat die lot van die gevange burger in die vreemde algemeen nie as naastenby so erg soos dié van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe beskou is nie. Dalk was daar ’n element van onderliggende skaamte en skuld aan krygsgevangenskap gekoppel.
Daar is ook ’n persepsie dat die omvang van die Boere se ontsnappingspogings beperk was. Daar word algemeen geglo die geografiese ligging van veral die oorsese krygsgevangekampe, wat duisende kilometers van Suid-Afrika was, het suksesvolle ontsnapping bykans onmoontlik gemaak. Om al hierdie redes is die onderwerp moontlik nie as ondersoekwaardig beskou nie.
Soos ek met my navorsing vir hierdie boek gevorder het, het ek gevind die omvang van die ontsnappingspogings was veel groter as wat algemeen aanvaar word. Uiteindelik moes dit selfs beperk word deur slegs oorsigtelik te verwys na ontsnappingspogings kort ná gevangeneming en vanuit binnelandse aanhoudingsplekke. In hierdie boek lê die klem eerder op ontsnappingspogings vanuit gevestigde krygsgevangekampe aan die Suid-Afrikaanse kus en oorsee, asook vanaf skepe en treine waarop krygsgevangenes vervoer is. Daar word ook kortliks gekyk na ontsnappings vanuit die konsentrasiekampe, asook voorbeelde van enkele merkwaardige ontsnappings uit ander binnelandse aanhoudingsplekke.
Al het ontsnappings uit die oorsese kampe nie op groot skaal plaasgevind nie, bly dit ’n verstommende prestasie weens die uiters moeilike omstandighede waaronder dit plaasgevind het. Anders as wat dikwels aanvaar word, het Boerekrygsgevangenes die bykans onmoontlike vermag en wel suksesvol van krygsgevangekampe in Bermuda, St. Helena, Ceylon, Indië en Portugal ontsnap.
Dit sal waarskynlik nooit bekend wees presies hoeveel Boerekrygsgevangenes suksesvol uit aanhoudingskampe weggekom het nie. In die argiewe het ek soms toevallig op inligting van vergete ontsnappings afgekom, maar verdere leidrade het dan in doodloopstrate geëindig. Die oogmerk met hierdie boek is ook nie om ’n volledige opsomming van alle ontsnappingspogings te gee nie.
Enkele persoonlike vertellings is kort ná die oorlog gepubliseer. In sy Duitse werk 23 Jahre Sturm und Somer in Südafrika, wat reeds in 1902 verskyn het, bespreek Adolf Schiel onder meer sy betrokkenheid by ontsnappingspogings uit kampe by Simonstad en op St. Helena. In 1903 het J.L. de Villiers se Hoe ik ontsnapte verskyn, wat handel oor sy merkwaardige ontsnapping in Indiese vermomming vanuit ’n krygsgevangekamp in Indië en sy daaropvolgende vlug na Europa.
In 1932 verskyn L.A. Visagie se Terug na kommando, wat die dramatiese en klassieke ontsnapping van vyf Boere beskryf wat van ’n Britse skip in die hawe van Colombo in Ceylon (vandag Sri Lanka) gespring en na ’n Russiese skip geswem het. Die vyf se daaropvolgende tog oor Rusland en Europa terug na Suid-Afrika waar hulle weer by die Boeremagte aangesluit het, het destyds wêreldwye publisiteit geniet. In 1988 is dié ontsnapping verwerk in C.J. Barnard se Vyf swemmers, wat steeds die volledigste beskrywing van ’n ontsnappingspoging deur Boerekrygsgevangenes tydens die oorlog is.
Gepubliseerde herinneringsboeke soos A.J. van Blerk se Op die Bermudas beland (1949), P.J. Nienaber se verwerking van H. de Graaff se dagboek as Boere op St. Helena (1950) en ’n paar ander bied inligting oor ontsnappingspogings, maar meestal sonder om in groot detail daaroor uit te wei. Die herinneringe van ’n paar oudstryders oor ontsnappingspogings is in enkele tydskrifartikels in Die Huisgenoot en Die Brandwag van die laat 1930’s en ’40’s vervat. Sedert die laat 1940’s het die joernalis Gideon Joubert herinneringe van oudstryders versamel vir sy rubriek “Stop van myne” in Die Volksblad, wat ook belangrike inligting oor die onderwerp bevat.7
Meer onlangs het die publikasiereeks die Christiaan de Wet-annale dagboeke en herinneringe van krygsgevangenes gepubliseer waarin daar terloopse verwysings na ontsnappingspogings is. ’n Uitsondering is Andries Smorenburg se beskrywing van sy skouspelagtige ontsnappingspoging vanaf St. Helena in ’n aandenkingshoutkas. In die 1980’s het Cornelius de Jong se Skandinawiërs in die Tweede Anglo-Boere-oorlog in drie dele verskyn met vertalings van herinneringe van Skandinawiërs wat aan Boerekant geveg het, en daarin is belangrike inligting oor vroeë ontsnappingspogings vervat. Die meerderheid Boerekrygsgevangenes wat ontsnappingspogings meegemaak het, het hul ervarings ongelukkig nie in latere jare opgeteken of gepubliseer nie.
Belangrike primêre inligting oor die ontsnappingspogings van Boerekrygsgevangenes is in die argiewe van Pretoria en Bloemfontein se verskillende aanwinste en die Oorlogsmuseum in Bloemfontein se versameling gevind. In die argief in Pretoria was die Archives of the Staff Officer, Prisoners of War, Cape Town (SOPOW) en die Archives of the Provost Marshall at Army Headquarters, 1900-1903, (PMO) van waarde.
Die talle dagboeke van krygsgevangenes in veral die Oorlogsmuseum het gehelp om onbekende ontsnappingspogings te identifiseer. Dit is opvallend dat dit in die meerderheid dagboeke voorkom asof die krygsgevangenes huiwerig was om in besonderhede uit te wei oor ontsnappingspogings waarvan hulle moes geweet het. Dikwels word dit heeltemal verswyg. Moontlik was hulle bekommerd dat hulle of die mense oor wie hulle skryf in die moeilikheid kon beland as hulle die onderwerp in hul dagboeke aanraak en die streng Britse sensors daarop beslag lê.
Persoonlike dokumentasie van Boerekrygsgevangenes soos briewe is meestal ook nie van waarde nie, want die hand van die ongenaakbaar deeglike Britse sensor het daar ook verhoed dat die volle waarheid vertel word. Uit vrees vir vergelding teenoor helpers is sensitiewe inligting oor ontsnappingspogings gevolglik vermy. Selfs in publikasies wat kort ná die oorlog verskyn het, is die identiteit van burgerlike meewerkers wat ontsnappers behulpsaam was uit vrees vir vergelding verswyg.8
Sommige krygsgevangekampe soos Deadwood op St. Helena en Diyatalawa in Ceylon het ’n groot aantal dagboeke opgelewer, terwyl daar oor minder bekende kampe (veral in Indië en in ’n mindere mate Ceylon en Bermuda) skrapse inligting is. As daar ontsnappingspogings vanuit daardie kampe was, het daardie inligting waarskynlik verlore geraak. Waar oudkrygsgevangenes dekades later hul herinneringe opteken, het die outeurs se geheue hulle dikwels in die steek gelaat en moes die ware feite met moeite ontrafel word.9
Ure se vrugtelose gesoek in die argiewe na nuwe inligting kan vir die ongeduldige navorser baie frustrerend wees. Gelukkig bied moderne tegnologie en die internet wonderlike geleenthede vir die historikus om verdere inligting op te spoor. Nie net vergemaklik dit toegang tot die onontbeerlike databasisse van bewaarplekke soos die nasionale en provinsiale argiewe en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke nie, maar dit maak ook ’n magdom inligting beskikbaar soos berigte wat gedurende die oorlog in buitelandse koerante verskyn het, wat ’n mens andersins dalk nie onder oë sou kon kry nie.
Die publisiteit wat die Boere se ontsnappingspogings destyds in koerante in alle uithoeke van die wêreld ontvang het, was ’n openbaring. Verhale wat vandag in Suid-Afrika grotendeels vergete is, het destyds wêreldwyd opslae gemaak.
Krygsgevangenes se ontsnappingsverhale word natuurlik deur ’n sekere mate van romantiek omgeef, wat beteken dit word maklik aangedik. Dit bly uiteraard die historikus se plig om tussen verdigsel en feit te onderskei en dus skepties te bly totdat genoegsame verifikasie vir alle aansprake gekry is. Tog is die ou bekende gesegde dat die waarheid soms vreemder as fiksie is, dikwels hier van toepassing. Die wedervaringe van sommige van die burgers wat probeer ontsnap het, klink inderwaarheid na verbeeldingsvlugte uit fiksieverhale, maar dit is waar.
Die doel is nie net om suksesvolle ontsnappings te beskryf nie, maar ook pogings wat misluk het. Sommige van die mislukte ontsnappingspogings is net so aangrypend as dié wat geslaag het. Ander weer was desperate en soms naïewe pogings, wat dikwels op die oog af aangepak is sonder enige ontsag vir die moontlike gevolge daarvan. Tog bly dit ’n toonbeeld van die mens se onblusbare strewe na vryheid.
In die onnatuurlike omstandighede wat oorlog meebring, kom die slegste van die mens na vore, maar ook gereeld die beste. Dié kontras vorm ’n sentrale tema van hierdie werk. Enersyds is die ontsnappingspogings van die Boerekrygsgevangenes inspirerende ware verhale van durf en moed. Die verhale van Boerekrygsgevangenes se ontsnappings ontbloot andersyds ook die mens se feilbaarheid, want die mislukking van talle ontsnappingspogings was nie weens die gevangenes se onvermoë nie, maar as gevolg van verraad in eie geledere.
Die mensdom sal waarskynlik altyd gefassineer wees deur verhale van gewone mense wat buitengewone dinge doen en van die onbreekbare gees van party. Dit het inderdaad uitsonderlike eienskappe van krygsgevangenes geverg om te probeer ontsnap, ongeag of hulle suksesvol was of nie. Dié boek stuur nie af op eensydige of onverbloemde heldeverering nie, maar ’n ewewigtige vertelling van historiese gebeure wat ons wel vandag nog kan inspireer. Dit is merkwaardige geskiedenis wat nie verlore behoort te gaan nie.