Читать книгу Ontsnap! - Albert Blake - Страница 7
4
ОглавлениеSIMONSTAD – SOUTH CAMP EN BELLEVUE-KAMP
Nadat die Britse owerhede ’n krygsgevangekamp by Simonstad aangelê het, is begin om van die gevangenes op die skepe daarheen te stuur. Die eerste kamp is op die vloot se sportterrein tussen die oostelike vloot-dokwerf en Seaforthstrand opgerig. Dit was teen Februarie 1900 gereed – vier maande ná die begin van die oorlog – en het as South Camp bekend gestaan.
’n Tweede, groter en meer permanente kamp is ’n rukkie later suid van Simonstad tussen Boulderstrand en Froggy Pond en tussen die hoofweg na Kaappunt en die see aangelê, waar die gholfbaan vandag is. Dit is Bellevue-kamp genoem, na die woning met die mooi uitsig wat vroeër daar gebou is.1
Die kampe by Simonstad was veronderstel om dit vir die krygsgevangenes moeilik te maak om te ontsnap. Al twee kampe is in die nag behoorlik deur elektriese ligte op strategiese plekke verlig. ’n Dubbele doringdraadversperring met ’n sogenaamde dooie gebied (dead space) daartussen het die grense om die kampe uitgemaak. Oral was waarskuwingsborde op dat enigeen wat die gebied binnegaan, doodgeskiet sal word. Gewapende soldate het op torings oor die kampe wag gehou terwyl ander te voet daaromheen gepatrolleer het. Indien nodig kon Maxim-masjiengewere vinnig ontplooi word. Grotendeels dieselfde soort veiligheidstrukture is by van die latere krygsgevangekampe elders opgerig.2
South Camp was betreklik klein, minder as 150 m by 200 m, wat die bewaking daarvan vergemaklik het. Aan die see se kant was dit nog moeiliker om te ontsnap. Lady Briggs, die vrou van ’n Britse vlootamptenaar, het die veiligheidsituasie by die twee Simonstadse kampe in die eerste helfte van 1900 soos volg beskryf: “Simon’s Bay is brilliantly illuminated during the whole night by many searchlights that are kept constantly turned on the transports employed as prison ships and on the camps of the prisoners of war. A picket-boat supplied by the flagship also patrols the harbour.”3
Kort ná hul aankoms by South Camp aan die begin van Februarie 1900 begin die krygsgevangenes egter reeds planne beraam om te ontsnap. Hulle het hulle duidelik nie deur die veiligheidsmaatreëls laat afskrik nie. Verskeie oorsese koerante berig byvoorbeeld oor ’n ontsnappingspoging wat kort ná die eerste krygsgevangenes se aankoms plaasgevind het. Die North Otago Times skryf: “Almost the first night on shore … has been signalised by a desperate attempt to escape on the part of five prisoners. In some mysterious way the men became possessed of firearms, and shot at a warder who was wounded. The alarm was given, and in the melee which ensued two of the five prisoners, in trying to escape, were wounded. The other three were recaptured.”4
Tussen Februarie en April 1900 was daar verskeie pogings om deur tonnels uit South Camp te ontsnap. Die besonderhede van sommige van dié pogings het verlore geraak, maar inligting oor twee het bewaar gebly.5
Hierin was die Boerekrygsgevangenes nie uniek nie, maar hulle het ’n tendens voortgesit wat ook in die twee latere wêreldoorloë gevolg sou word. In die Amerikaanse Burgeroorlog was daar in 1864 ’n legendariese ontsnapping deur ’n tonnel deur offisiere van die Noordelike State uit die Libby-gevangenis in Richmond. Die bekroonde rolprent The Great Escape (1963) gedenk weer die gewaagde ontsnapping deur ’n tonnel uit ’n Duitse krygsgevangekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Krygsgevangenes moet verskeie lewensgevaarlike hindernisse trotseer om ’n tonnel te grawe. Die opening van die tonnel begin gewoonlik met ’n vertikale skag. Daarna volg die horisontale gang wat, indien daar nie behoorlike ventilasie is nie, binne enkele meters gou onvoldoende suurstof het. Dit verg boonop groot kundigheid om so ’n tonnel in die donker reguit te grawe. Die Boerekrygsgevangenes sou ook met hopeloos onvoldoende gereedskap moes klaarkom.
Nie net is ’n gebrek aan voldoende suurstof ’n voortdurende uitdaging nie, maar daar is ook altyd die gevaar dat die tonnel kan intuimel en grawers laat versmoor. Enigeen met engtevrees sou ook sukkel om hulle in die nou tonnels te begewe. Gegewe die gebrek aan lig, lug en spasie was dit dus maar net ’n klein groepie wat gewoonlik vir die grawery kans gesien het. Die tonnelgrawery was nie net gevaarlik en veeleisend nie, maar daar was ook die uiterste spanning oor of hulle betrap sou word.
Dit het gou duidelik geword dat daar onder die eerste krygsgevangenes in Simonstad ’n groep was wat moeilik aan bande gelê sou word. Onder hulle was heelparty myners, veral Skandinawiërs wat voor die oorlog op die Witwatersrandse myne gewerk het. Die meesterbrein met die tonnelgrawery was die 29-jarige baron Axel Helge Fägerskjöld, ’n Sweedse ingenieur. Hy is as spoorwegingenieur in Swede opgelei en het etlike jare voor die oorlog in daardie hoedanigheid in diens van die NZASM in Pretoria getree. As lid van die Skandinawiese korps is hy by Magersfontein gewond en gevange geneem en ná sy herstel na Simonstad gestuur. Die tonnelgrawery het sy erns geword.6
Die offisier met die hoogste rang onder die eerste groep krygsgevangenes by Simonstad was ’n Duitser, kol. Adolf Friedrich Schiel, wat hom in 1878 in Transvaal gevestig het. Schiel het hom volledig met die Boeresaak vereenselwig en ook met ’n Afrikanervrou getrou. Hy het later ook Transvaalse burgerskap aangeneem en het verskeie staatsposte in onder meer die gevangenis en polisie beklee. Voor die oorlog was hy met die rang van luitenant-kolonel aan die Transvaalse polisie of Zuid-Afrikaansche Republiek Politie (ZARP) verbonde. Met die uitbreking van die oorlog word hy bevelvoerder van die Duitse vrywilligerskorps wat hy op die been gebring het. Hy is by Elandslaagte gewond en gevangene geneem.
Die twee tonnel-ontsnappingspogings uit South Camp het nie net Schiel se goedkeuring weggedra nie, hy het ook ywerig daaraan meegewerk.7 Dit blyk Schiel het al eenkeer vantevore op sy eie probeer ontsnap. Luidens ’n berig in The Cape Times was dit ’n taamlik ongure poging. Die South Camp se riool is snags met ’n nagwa weggery en Schiel is binne-in die tenk ontdek net voordat dit uit die kamp geneem is.8
The Cape Argus het berig die bestuurder van ’n nagwa is £200 aangebied om met die ontsnapping van krygsgevangenes te help, wat in daardie tyd ’n fortuin vir so ’n werker sou wees.9 Klaarblyklik was talle gerugte reeds in omloop dat krygsgevangenes groot bedrae omkoopgeld aangebied het. Die oudkrygsgevangene Gert Jooste het dié gerugte later jare die nek ingeslaan: “Die praatjie onder die Engelse dat ’n krygsgevangene ’n wag soveel as £200 aangebied het om hom te laat ontsnap, sal ongegrond gewees het – soveel geld het die krygsgevangenes darem nie gehad nie.”10
“Die Lang Slang”
Die berig en skets in die San Francisco Call van 26 Mei 1900 verwys vermoedelik na die sogenaamde Lang Slang-tonnelontsnapping.
Die mees ambisieuse plan om met ’n tonnel uit die South Camp te ontsnap, is feitlik direk ná die krygsgevangenes se aankoms bedink en aangevoor. Die tonnel sou uiteindelik sowat 26 m lank wees. Enkele dae nadat die eerste gevangenes op 3 Februarie 1900 in Simonstad aangekom het, het hulle die tonnel vanuit baron Fägerskjöld se tent begin grawe. Hulle sou bykans vyf weke lank onverpoos daaraan werk. Die plasing van die offisiere se tente was ideaal: Dit was teenaan die draadversperring en was dus die kortste afstand van die kampgrens na die struike wat buite die draadheining gegroei het.11
Die beplanning en uitvoering het geskied onder leiding van baron Fägerskjöld en ’n paar Skandinawiërs. Alles is streng geheim gehou en die meerderheid krygsgevangenes het niks daarvan geweet nie.
Die vertikale skag was sowat twee meter diep, waarna hulle ’n horisontale skag begin grawe het. Aan die begin het dit nie te moeilik gegaan nie. Die grond in die tonnel het aanvanklik bestaan uit donker, los sand, gemeng met skulpe. Om die dak van die tonnel te versterk, is dit boogvormig gemaak en met hout uitgevoer.12 Namate hulle gevorder het, het die grond harder geword, wat die grawery aansienlik moeiliker gemaak het. Al die werk moes in algehele stilte en donkerte uitgevoer word. Dit was uitmergelend. Leendert Ruijssenaers vertel een van die grawers het eenkeer heeltemal rou aan die bors en arms uit die tonnel gekom.13
Die los grond is verwyder in ’n plat, langwerpige kroketdoos waaraan ’n tou vasgemaak is sodat dit heen en weer getrek kon word. ’n Paar burgers het van ou klere sakke gemaak waaruit die grond oor die kamp versprei is sodat die vragte grond wat uitgehaal is nie agterdog moes wek nie. Die sakke is onder ’n jas vasgebind en het gaatjies gehad sodat dit geleidelik leeggemaak kon word nadat die draer ’n rukkie lank rondgestap het. Ook wanneer die krygsgevangenes toegelaat is om onder bewaking in die see te gaan swem, is die grond stilweg op die strand gestrooi.
Om te verseker dat die opening van die tonnel op die vasgestelde plek tussen die struike uitkom, is ’n dik staaldraad van ongeveer drie meter lank deur die dak van die tonnel na buite gesteek. Die staaldraad is van die binneste draadheining afgeknip sonder dat die wagte dit agtergekom het. ’n Lid van die groep sou dan buite die tent gaan staan om die plek te merk waar die draad uitkom, waarna hy vir die helpers in die tent sou fluit, wat op hul beurt met ’n vislyn na die grawers gesein het om die draad terug te trek. Op dié manier het die draad net enkele oomblikke lank onopgemerk bo die grond uitgesteek.
Die vertelling van een van die grawers, die 24-jarige Sweed Hjalmar Petterson Janek, gee ’n mens ’n goeie idee van presies hoe angswekkend en gevaarlik die tonnelgrawery was:
Dit is onbegryplik dat die Engelse nooit die lewendige verkeer van en na die tent opgemerk het nie …
Hoe verder ons in die tonnel gevorder het, hoe moeiliker het die arbeid geword. Toe die lug daarin spoedig sleg word, kon ons net ’n kort tydjie sonder onderbreking graaf en dit was heeltemal onmoontlik om lig te brand. Ons moes dus in volslae duisternis werk en dit het natuurlik die werk aansienlik bemoeilik. Die dak van die tonnel het verskeie kere op swak plekke ingestort en ons moes dit ondersteun met ons brandhout wat ons gespaar het deur heimlik ons kos by ander te kook. Daar die brandhout bestaan het uit opgebreekte sementvate, kon ons aan niks geskikter vir die doel dink nie …
Een van die instortings het amper ’n paar van ons die lewe gekos. Ons was benede in die verste end van die tonnel toe die dak agter ons neerstort. Die bloed het ons na die kop gevlieg, ons ore het toegeslaan en in die keel het ’n verstikkende gevoel gekom. Daarby het die aaklige besef van lewend begraaf te wees gekom sonder hoop op enige uitsig op redding. Die tonnel was so laag dat ’n mens daarin slegs op elmboë en knieë kon kruip, en so smal dat jy dikwels met skouers en heupe teen die wande gestoot het. Omdraai was daarom heeltemal onmoontlik. Hoe lank ons daar gelê het, kan nie presies bepaal word nie, maar toe ons deur die kamerade uitgehaal is, was ons albei meer dood as lewend; hulle het gelukkig die geraas gehoor en dadelik begin om die neergestorte sand weg te graaf …
Dit het verskeie dae geduur voor iemand van ons weer die moed had om in die onderwêreld af te daal, maar die mag van die gewoonte is groot en omdat ons onderneming meer as halfgereed was, wou ons nie tou opgooi nie. Met inagneming van die grootste versigtigheid het ons daarin geslaag om verdere ernstige instortings te vermy en nadat ons op ’n egte mol afgekom het en deur sy gange goeie toevoer van lug gekry het, kon ons lig brand en sowel vinniger as met minder risiko werk.
Na aanleiding daarvan het ons ’n groot fees gehou waarop die tonnel “die Lang Slang” gedoop is weens sy ietwat slingerende gang.14
Daar was ander spanningsvolle oomblikke toe die grawers amper betrap is. Op ’n dag was Janek alleen in die tent toe kaptein J.J.B. Proctor, in daardie stadium die Britse kampkommandant, daar aangekom het. Die enigste manier waarop Janek met die grawers kon kontak maak, was met die vislyn wat hy om sy skoen gedraai en soos ’n sinjaal gebruik het om boodskappe te stuur. Proctor het op ’n omgekeerde houtkis gaan sit wat ook as skryftafel gedien het. Die kis is reg bo-op die opening van die tonnel geplaas om dit te verbloem. Baron Fägerskjöld was juis toe in die tonnel besig om, in Janek se woorde, “soos ’n perd met die kroketdoos te sweet”. Gelukkig het Janek daarin geslaag om Fägerskjöld en sy maat betyds met die sinjaallyn te waarsku om stil te lê totdat Proctor die tent verlaat het.15
Daar is beplan dat ’n groep van sowat 150 uitgesoekte krygsgevangenes aan die ontsnapping sou deelneem. Die meerderheid van hulle sou eers op die dag van die ontsnapping daarvan in kennis gestel word. ’n Omvattende Britse verslag wat kort ná die ontsnappingspoging opgestel is, toon hoe haarfyn alles beplan is. Dit lui onder meer:
•Daar was ’n organisasienetwerk wat deurentyd in noue verbinding met pro-Boere buite die kamp was;
•Vervalste papiergeld en dokumente is in die kamp vervaardig sodat die ontsnaptes dit daarbuite kon gebruik;
•’n Kleremaker van Schiel buite die kamp het kakieklere gemaak wat soos sekere Britse regimente se uniforms gelyk het;
•’n Gehuurde Franse skip het iewers gereed gelê om die ontsnaptes op te pik en na Delagoabaai in Mosambiek te neem. Van daar sou hulle na Transvaal kon reis en weer by die Boeremagte aansluit.16
Die Britse ondersoek toon ook ’n sersant was die krygsgevangenes moontlik behulpsaam. Dit was dalk ’n plaaslike inwoner wat die Boere simpatiekgesind was, of miskien was hy gewoon omkoopbaar. Die argivale stukke werp in elk geval nie meer lig op die ondersoek na dié bewering nie.17
Nadat dit begin Maart aan die lig gekom het dat ’n groot groep krygsgevangenes binnekort na die nuwe Bellevue-kamp oorgeplaas sou word, is besluit om die ontsnappingsdatum van Vrydag 23 Maart 1900 tot Saterdag 10 Maart te vervroeg. Saterdae was markdag in Simonstad, wat beteken het die dorpie was besiger as op weeksdae en dit sou vir die ontsnaptes makliker wees om tussen die mense te verdwyn.
In sy dagboek noem Hugo van Niekerk die tonnel moes ter elfder ure groter gemaak word omdat Schiel te “dik” was om daardeur te ontsnap.18 Die tonnelgrawers het behoorlik oorgeborrel van geesdrif vir die groot dag. Dit het ’n soort opgewonde voortvarendheid onder hulle laat ontstaan. Vermakerige slagspreuke is gemaak wat hulle vir die bewaarders wou agterlaat. Die voortydige bravade het Ruijssenaers laat opmerk: “Hier hebben we de huid verkocht vóór den beer meester te zijn …”19
Vrydagaand 9 Maart 1900 doen een van die grawers die laaste afrondingswerk aan die einde van die tonnel. Die opening sou eers die volgende oggend gemaak word. Bo hom hoor hy voetstappe en soldate wat praat en al hoe nader beweeg na waar die opening van die tonnel sal wees. Tot sy ontsteltenis moet hy uit hul gesprek aflei die Britse wagte is bewus van die tonnel. Hy hoor die soldate sê hulle gaan elkeen van die ontsnappers wat by die tonnel uitkom stilletjies met bajonette doodsteek as ’n les vir al die ander krygsgevangenes.
Volgens Janek het hulle dié dreigement ernstig opgeneem. Daar kon nie vasgestel word of dit blote bangmaakpraatjies was nie, maar Britse onderoffisiere het wel aan die krygsgevangenes genoem die drastiese optrede moes as toekomstige afskrikmiddel dien.20
Die tonnelgrawers is oorval deur ’n gevoel van magtelose teleurstelling. Al hul harde werk was puur verniet. Hulle het ook geweet dit kon net verraad gewees het wat die Britte na die tonnel gelei het. Hulle het besluit om nie meer die volgende dag te probeer ontsnap nie en in spanning gewag om te sien wat gebeur. Die Saterdag het die Britse kampowerheid egter niks gedoen nie.
Die Sondag het ’n sterk afdeling soldate en offisiere die kamp met mening binnegekom en die krygsgevangenes aangesê om al die tente af te slaan en die houtvloere op te lig. Toe van hulle weier, het die soldate dit met geweld bo-op hulle afgebreek. Die soldate het die opening van die tonnel in die offisierstent maklik gevind.
Die Maandagoggend is die Britse soldate luidkeels deur die krygsgevangenes uitgejou toe hulle baron Fägerskjöld uit die kamp verwyder het. Toe die Britte egter ook ’n redelik onbelangrike krygsgevangene verwyder, het die burgers geweet dit word gedoen om hom te beskerm. Almal het toe besef die 19-jarige Anthony Stouther Devenish van Hoopstad in die Vrystaat was die verraaier.21
Tydens Devenish se verwydering het die krygsgevangenes oproerig begin raak. Janek skryf die groep Boere wat om wraak geskree het, was ’n tyd lank buite hulself van woede: “Dit het ’n oomblik gelyk of die Boere hulle op die wagte wou werp en korte mette met die verraaier maak, maar toe by sy vertrek moeilikheid ontstaan, is al die kanonne van die fort op ons gerig en gelukkig het die manne betyds hul verstand ten opsigte van die gevangene gebruik. Sou die Boere die ellendeling in die hande gekry het, sou hy stellig ewe kort as onaangename oomblikke beleef het.”22
Sommige van die burgers wou hul ongelukkigheid steeds op ’n tasbare manier te kenne gee. In sy haas om weg te kom, het Devenish sy gepakte tasse agtergelaat. Dit is oopgebreek en toe inkriminerende dokumente daarin gevind word, het die oproeriges dit onder luide gejuig aan die brand gesteek.
Kort daarna kom dit aan die lig dat ’n tweede verraaier die Britte ook van inligting voorsien het. Hy was ’n Transvaler, adj. James Muller van Johannesburg. Anders as Devenish, wat op parool vrygelaat is, is Muller om onbekende redes na St. Helena gestuur. Sy naam kom later voor op die Britse verslag met die naamlyste van Boerekrygsgevangenes op St. Helena wat hulle bereid verklaar het om na Suid-Afrika terug te keer en aan die Britse kant te veg. Daar sou Muller een van die grootste verraaiers word.23
Ná die ontdekking van die tonnel moes die krygsgevangenes hul tente gereeld afslaan en die ronde houtvloere, wat uit vier kwart-segmente bestaan het, oplig. Die soldate het die grond waarop die houtvloere gestaan het dan met lang skerppunt-ysterstawe ondersoek.24 Dit sou al hoe moeiliker word om met ’n tonnel uit aanhouding te ontsnap.
’n Tonnel en ’n gemakshuisie
’n Tweede tonnelontsnapping uit South Camp wat goed opgeteken is, is een waarby ’n groep van 12 jong Afrikaners – onder wie die onstuitbare Kepler de Meillon – betrokke was. Hulle besluit op 1 April 1900 om ’n tonnel vanuit ’n alleenstaande buitetoilet te grawe. ’n Medegevangene het De Meillon later as “die siel van dié tonnel” beskryf en hy is bygestaan deur kol. Schiel se adjudant, Willie van den Berg.25 Van den Berg was blykbaar van dieselfde stoffasie as De Meillon en het nie sommer vir gevaar teruggedeins nie.
Die krygsgevangenes het deur die nag vrye toegang tot die toilette gehad en dit is nie altyd so sorgvuldig deur die Britte geïnspekteer soos die tente nie. Anders as met die tente se vloere wat ná die ontdekking van die “Lang Slang” vir inspeksie opgelig is, is die kleinhuisies s’n laat staan.26
Dieselfde aand begin hulle vanuit die gemakshuisie te grawe op die plek waar ’n toiletemmer gestaan het. Toe dit lig word, het hulle die gat met ’n plank toegemaak, grond daaroor gestrooi en die emmer weer op sy ou plek teruggesit. Die enigste gereedskap tot hul beskikking was tafelmesse en blikborde. Nadat die vorige tonnel ontdek is, het die Britte enige moontlike hulpmiddels uit die kamp verwyder.
Die krygsgevangene J. Teengs het hierdie skets van South Camp in sy dagboek gemaak en die plekke aangedui waar twee tonnels gegrawe is, asook die plek waar 30 krygsgevangenes later deur die veiligheidsheining ontsnap het.
’n Uitdaging wat die tonnelgrawers te bowe moes kom, was dat die grond uit die gat witterig was, terwyl die sand wat die kleinhuisie se vloer bedek het rooi was. Die grond moes toe in kouse en sakdoeke weggedra en tussen die tente gestrooi word. Die grawers het langs die veiligheidsdraad ’n hol ysterpyp as ’n luggat laat uitsteek. Hulle het by geleentheid daar gaan sit en gemaak asof hulle gesels terwyl een op sy sy gelê en deur die pyp met die grawers gekommunikeer het.
Willie van den Berg vertel jare later hoe fisiek uitmergelend die grawery was: “Dit was ’n baie onaangename taak, want die gat moes bedek bly met die plank en die emmer terwyl ons binne-in die tonnel besig was. Lug en lig was daar nie, en die hitte byna ondraaglik; maar wat sal ’n mens nie alles verduur om sy vryheid te bekom nie!”27
’n Ander burger wat betrokke was, vertel meer as een grawer was gelyktydig doenig in die tonnel: “Die grawers, met hul kaal bolywe, het later so ses voet van mekaar af gehurk, met gesigte vorentoe (na die oostekant).”28 Die grond is tussen hul gehurkte bene na agter gegooi om verwyder te word.
Ook dié tonnel het eenkeer aan die voorpunt toegeval op die plek waar Van den Berg besig was om te grawe. Die ineenstorting het amper sy lewe geëis. In sy herinneringe vertel die krygsgevangene Gert Jooste wat daarna gebeur het en wat Van den Berg se reaksie was:
Ná drie minute het hulle hom [Van den Berg] los gegrawe, en hy was vir ’n wonder nog by sy bewussyn. ‘Dis nie sodanig die drie minute se asem ophou nie, maar die gewig van die grond en die angs wat jou gô uitpers,’ het Willie gesê. ‘Ek neem gereeld my liggaamsoefeninge en ook asemhaaloefeninge, anders was ek nou seker oorlede Willie.’ Die middag in die see en op die sand het hom weer reggeruk en die volgende môre, toe die môreskofploeg sak, was hy weer daar.29
Die vierde dag kry die grawers inligting dat hulle binne enkele dae na St. Helena weggevoer sou word. Hulle werk daardie aand met koorsagtige ywer om die tonnel klaar te kry sodat hulle die volgende oggend net ná die eerste aflees van die naamlys kon uitglip. Die wagte was bedags minder waaksaam as snags. Intussen het die voornemende ontsnappers wat Boerebaarde gehad het dit afgeskeer of net ’n bokbaardjie of netjiese snor oorgehou om hulle beter tussen die Kaapse burgerlikes te laat inpas.
Teen 07:00 die oggend was die tonnel klaar. ’n Klein opening, “nie groter as ’n muisgat nie”, is aan die eindpunt van die tonnel buite die kamp gemaak.30 Weens hul haas kon die tonnelgrawers die laaste grond nie tussen die tente gaan strooi nie. Die wit grond wat uitgehaal is, moes toe noodgedwonge oor die vloer van die gemakshuisie gestrooi word, met die gevolg dat die oppervlak heelwat hoër en van ’n ander kleur as die vorige dag was. Die spanning het hoog geloop voor die inspeksie wat die Britse offisiere oudergewoonte om 09:00 uitgevoer het.
Die offisiere het egter glad nie opgelet dat die sand wit of die vloer hoër was nie. Die ontsnappers se verligting was wel van korte duur. ’n Groot swart Airedale-terriër, die soldate se waghond, het toevallig verby die klein gat aan die eindpunt van die tonnel gestap, daaraan gesnuffel en daarin begin grawe. Toe die gat skielik onder hom oopval, het hy ingetuimel, maar weer uitgespring en blaffend laat spaander. Die hond se geblaf het die soldate se aandag getrek. Hulle was binne oomblikke rondom die tonnel se opening en die ontsnappingspoging was daarmee heen.31
Lewend op die strand begrawe
Al het dié twee tonnelontsnappingspogings misluk, was daar ander vindingryke pogings uit die kampe by Simonstad wat wel suksesvol was. Die Sweed Hjalmar Petterson Janek het hom nie laat afskrik deur die “Lang Slang”-tonnel wat op hom ineengestort en amper sy lewe gekos het nie, ook nie daardeur dat hulle nie in hul ontsnappingspoging geslaag het nie. Inteendeel, niks kon sy vryheidsdrang aan bande lê nie.
Janek was ’n kleurryke figuur – ’n selfversekerde avontuurlustige wat tydens sy krygsgevangenskap ’n merkwaardige geskiedenis van ontsnappingspogings opgebou het. Hy is vermoedelik in 1876 in Hälsingborg in Swede gebore. Voordat hy na Suid-Afrika gekom het, was hy ’n tyd lank ’n matroos en het hy verskeie wêrelddele besoek. In die 1890’s het hy in diens van die NZASM getree. Hy het in 1897 as vrywilliger saam met ’n Boerekommando aan ’n veldtog in Swaziland deelgeneem.
Aan die begin van die Anglo-Boereoorlog was Janek waarskynlik reeds goed in sy aangenome vaderland gevestig. As lid van die Skandinawiese korps is hy by Magersfontein gewond en gevange geneem.32 Die klein groepie Skandinawiërs wat by Magersfontein die amperse uitwissing van hul korps oorleef het en gevange geneem is, was ware vuurvreters. Die meerderheid van hulle het reeds voor die uitbreking van die oorlog in Transvaal gewoon en was verbonde aan die NZASM of het op die myne aan die Witwatersrand gewerk.33
South Camp was skaars 50 m van die see. Soggens en smiddags is die krygsgevangenes toegelaat om na die strand te gaan waar hulle in ’n sloep kon swem. Vlaggies in die water het aangedui hoe diep hulle kon ingaan. Op land het doringdraadversperrings die gebied afgebaken waar gewapende wagte ’n streng oog oor die krygsgevangenes gehou het, wat ontsnapping bykans onmoontlik gemaak het.34
Tydens so ’n swemgeleentheid op 17 Maart 1900 laat Janek hom op die strand deur ander gevangenes toegooi in ’n gat wat hulle vir die doel gegrawe het. Volgens Leendert Ruijssenaers het ’n groep van vyf of ses krygsgevangenes langs mekaar op die sand gaan sit om die gewerskaf in die gat te verberg. ’n Gemaakte stoeiery het daarna ontstaan waartydens Janek in die gat gedompel en vinnig met sand toegegooi is.35
Van waar hy onder die sand gelê het, kon Janek ná ’n ruk hoor hoe ’n soldaat ’n bevel op sy trompet blaas wat almal beveel om na die kamp terug te keer. In sy herinneringe beskryf Janek sy ervaring:
Ek had ’n handdoek om my kop en ’n hol waterplant as asembuis in die mond. Die sand was heeltemal droog wat gemaak het dat dit bly afloop het as gevolg van beweging van die borskas by asemhaling. Daarom het die kamerade meer sand op my gehoop as wat noodsaaklik was en dit het hewige pyn in die bors veroorsaak. Die toestand waarin ek ná anderhalf uur van sowel liggaamlike as geestelike transpirasie was, is makliker om te verbeeld as om te beskryf.36
Nadat hy hom uit die sand gewikkel het, moes hy nog deur die Britse kamp gaan wat teenaan die krygsgevangekamp was. Burgerlikes het die Britse offisiere dikwels besoek, wat sy teenwoordigheid in die kamp nie so ongewoon sou gemaak het nie. Hy kon egter nie sonder ’n pas by die hoofhek uit nie. Hy sou boonop twee keer deur die Britse kamp se draadheinings moes gaan. Hy het gesorg dat hy vir dié doel netjies aangetrek is.
Janek is terug na die strand waar die soldate geswem het en vind ’n plek waar struike hom buite sig van die soldate laat. Op ’n geleë tyd kruip hy deur die eerste draadheining aan die see se kant, waarna hy onopgemerk deur die kamp stap. Van sy maats het eenkant in die hoek van die krygsgevangekamp langs die soldate se kamp rondgestaan. Hulle het hom opgemerk toe hy in sy netjiese donkergrys pak met die gewilde strooihoed van die tyd op sy kop en sy handdoek oor sy skouer doodluiters verby hulle stap en hulle ongemerk toewink. Daarna het hy ook daarin geslaag om deur die draadheining aan die land se kant te glip. Janek het uitgekom op die pad wat na Simonstad lei.
Kort daarna het hy hom in Simonstad bevind. Op ’n sypaadjie moes hy verby ’n Britse offisier, kapt. James Perkins37, beweeg wat met ’n ander offisier gestaan en praat het. Janek was goed aan Perkins bekend omdat die kaptein die kamp gereeld besoek het. Gelukkig het Perkins hom nie herken nie en selfs opsygestaan sodat hy kon verbybeweeg. Janek noem hy het voor sy onsnapping ’n boordjie met stropdas en ander kleiner items met geleende geld gekoop om sy voorkoms te verbeter as hy sou uitkom. Sy ongewoon netjiese voorkoms was waarskynlik genoeg om Perkins te flous.
Om nie verdag voor te kom nie het hy by die spoorwegstasie ’n retoerkaartjie na Wynberg gekoop. Van Wynberg is hy met die sneltrein na Kaapstad. Daar het hy ’n Sweedse tandarts opgesoek met die hoop dat dié hom kon help.38 Dit was te gevaarlik om by die tandarts oor te bly, maar hy kon Janek darem van inligting voorsien oor ’n Sweedse skip, die Maria M, in die hawe. Nadat Janek die grootste deel van die nag in die strate van Kaapstad rondgeloop het, was sy voete vol blase van die skoene wat hy by ’n medegevangene gekry het. Uiteindelik het hy saam met ’n besope boemelaar op ’n bankie langs ’n houtskuur by die hawe aan die slaap geraak.
Die volgende oggend het Janek aan boord van die Maria M gegaan, maar die kaptein was te bang om hom te versteek. Die skip was volgens die kaptein te opsigtelik van die kaai af en mense het gedurig daarop kom besoek aflê. Twee Finse kapteins het hulle daarna oor hom ontferm en hom om die beurt op hul skepe versteek. Janek het 17 dae gewag vir die Franse skip die Caravellas wat na Lourenço Marques sou gaan. Op die Caravellas ontmoet hy ’n mede-Sweed, die 29-jarige Charles O. Johansson, wat ook uit South Camp ontsnap het deur hom twee dae ná Janek se ontsnapping op dieselfde wyse op die strand te laat begrawe. Johansson was ’n sersant in die Skandinawiese korps en is vroeër by Magersfontein gewond en gevange geneem. Ná sy ontsnapping het pro-Boere hom in Kaapstad versteek.39
Die krygsgevangenes in Simonstad het daarin geslaag om die twee mans se afwesigheid drie dae lank geheim te hou tydens die aftelling van die name. Leendert Ruijssenaers vertel hoe hulle die Britse wagte in al twee daaglikse inspeksies geflous het: “Toe die sersant-majoor met die luitenant by tent nommer 1 verby was, het soveel mense as wat daar ontbreek het langs die tente gesluip na die plek van diegene wat gevlug het sodat die sersant-majoor tog die volledige aantal gevangenes gekry het. Later, toe dit uitkom, is soldate tussen die tente geplaas wat toegesien het dat elke man op sy plek bly totdat die inspeksie klaar was.”40
Toe die Caravellas sy anker lig om uit Tafelbaai te vertrek, het Janek en Johansson die Transvaalse volkslied gesing, tot die vermaak van die ander passasiers. Daar was Amerikaanse Iere op die skip wat hulle as lede van die Rooikruis voorgedoen het terwyl hul eintlike doel was om aan die kant van die Boeremagte te gaan veg. By Lourenço Marques het hulle die skip saam met Janek en Johansson verlaat en na Pretoria gereis.
Janek en Johansson se ontsnapping het die onversetlike krygsgevangenes wat agtergebly het met trots vervul. Soos een opmerk: “Die ontsnapping van ons Skandinawiese broers het ons baie moed gegee.”41 Die Britte het naarstiglik gesoek na tonnels en wegkomplekke waardeur die twee kon ontsnap het. Tente moes afgeslaan word. In die proses het die soldate afgekom op ’n pasbegonne tonnel in die slaghuis.42
In Pretoria ontmoet Janek en Johansson nog ’n Skandinawiër, Carl Hultin, die man wat van die Manila ontsnap het. Die drie het weer by ’n Boerekommando onder kmdt. Ferdinandus Potgieter van Wolmaransstad aangesluit en aan verskeie gevegte deelgeneem. Later het Janek van die ander twee verwyderd geraak. Verdere besonderhede oor hul betrokkenheid tot aan die einde van die oorlog is nie bekend nie.
Op 4 Junie 1900 is Janek na Pretoria gestuur vir mediese behandeling nadat sy lewer in ’n ongeluk beskadig is. ’n Muil het hom geskop toe hy die harnas van ’n kanonmuil wou verwyder. Hy is weer gevange geneem nadat lord Roberts se magte Pretoria ingeneem het. Nadat hy herstel het, is hy onder sterk geleide per trein na Kaapstad gestuur om weggestuur te word. In Bloemfontein is hy in die tronk toegesluit omdat die brug by Springfontein opgeblaas is en eers herstel moes word. In daardie stadium is die ander krygsgevangenes buite in die binnehof aangehou. In ’n nalatige oomblik is sy seldeur oopgelos en hy het die geleentheid aangegryp om uit te glip en met die groep gevangenes in die binnehof saam te smelt.
Die aand van 2 Julie 1900 is dié groep krygsgevangenes per trein na Kaapstad gestuur. Vroeër is die krygsgevangenes teen die tronkmuur laat staan en hul name afgelees. Die Britse offisier moes toe uitvind daar is 138 gevangenes, in plaas van 137, maar hy het die teenstrydigheid nie opgevolg nie, moontlik omdat dit swaar gereën het. By die stasie het dieselfde probleem opgeduik toe die gevangenes weer getel is. ’n Ingenome Janek skryf in sy herinneringe: “Waarskynlik het die offisier gedink dat die jas wat te lank is wel op die een of ander manier reggemaak sou raak, want hy het ons sonder meer in die kompartemente van die wagtende trein na Kaapstad laat stuur.”43
Janek het hom voorgeneem om by die regte geleentheid van die trein te spring wanneer die wagte in die vroeë oggendure die vasste geslaap het. Teen 02:30 het hy eers die kompartement se lamp afgeskroef om deur die opening op die dak te probeer kom. Toe dit blyk die gat is te klein vir hom het hy besluit om deur die venster te gaan. Hy het ’n kombers by ’n medegevangene gekry en dit om sy linkerarm gedraai om die impak van die val te absorbeer:
Die nag was so donker dat mens nouliks die naaste soldaat op die balkon kon sien. Die trein het met groot vaart gery, maar daar was geen keuse nie en daarom het ek die boonste slaapplekke vasgegryp en my met die voete vooruit na buite geswaai. Ek het met die arm op ’n los dwarslêer neergekom, enkele male omgerol en onbeweeglik bly lê.
Sekondes later het die trein verbygestorm en ek was vry, ten minste voorlopig. Eers het ek geglo dat my linkerarm gebreek is, maar dit was gelukkig nie die geval nie. My elmboog het hewige pyn veroorsaak en die arm het opgeswel. Origens was ek onbeseer.
Dit was bitter koud, alle struike was met ryp bedek; ek het koud gekry soos ’n hond, maar desondanks het ek ’n onbeskryflike gevoel van voldoening ervaar by die gedagte aan die provoos in Pretoria wat my so stellig ’n reis na Ceylon beloof het. Ek was egter nog ver van veilig.44
Janek het te voet aangesukkel en moes die Britse wagte by die brûe ontduik. Gelukkig kon hy hulle van ver sien vanweë die vure wat hulle teen die snerpende winterkoue gemaak het. By die klein stasie Nelspoort noordwes van Beaufort-Wes het die wagte hom egter raakgesien. Toe hy nie op hul bevele reageer nie, het hulle op hom geskiet, maar hom nie getref nie. By Rhenosterkop het hy die klein stasie aangedoen met ’n storie dat sy fiets gesteel is en dat hy om daardie rede te voet was.
Tydens sy verblyf in Pretoria het Janek van sy besittings wat hy voor die oorlog geberg het verkoop. Hy het ook voor die Britse besetting geld uit sy bankrekening getrek. Die geld het hy in ’n lyfband versteek waarop die Britse soldate nie afgekom het toe hulle hom gevisenteer het nie. Hy het gevolglik genoeg geld gehad om ’n treinkaartjie na Kaapstad te koop en oorvaartgeld na Europa te bekostig.
Op die trein na Kaapstad het hy met ’n Britse offisier en dié se vrou bevriend geraak. Dit het hom goed te pas gekom, want dit het gesorg dat mense minder agterdogtig oor hom sou wees. In Kaapstad het hy betreklik maklik ’n skeepskaartjie na Durban bekom, maar daar moes hy toe 14 dae vir die volgende skip na Lourenço Marques wag. Hy moes ook by die militêre owerhede aansoek doen vir toestemming om die skeepskaartjie te koop: “Hier moes ek ’n verskriklike kruisverhoor oor alles moontlik ondergaan, soos wie ek is, waarvandaan ek kom, waar ek die jongste tien maande gebly het, ensovoorts ensovoorts tot in die oneindige. Ek het my dapper gehou, dit wil sê ek het gelieg soos ’n kavalleriesoldaat en het met die sege en my kaartjie behoorlik gestempel daaruit gekom.”45
Daarna het hy ’n kakie-uniform gekoop en hom in die openbaar voorgedoen as vrywilliger van die Border Mounted Infantry. Dit het hom minder opsigtelik gemaak tussen die baie soldate in die stad. Toe dit in Lourenço Marques duidelik word dat die pad na Transvaal en terug na die Boerekommando’s versper is, het Janek besluit om na Swede terug te keer.
Kort ná sy aankoms in Swede in 1901 publiseer Janek sy ervaringe onder die titel Bland boer och britter, Skildringar fraan kriget i Syd-Afrika 1899-1900 (Onder Boere en Britte: beskrywings van die oorlog in Suid-Afrika 1899-1900), waarvan ’n groot deel in die beskrywing hierbo opgeneem is. Later keer hy terug na Suid-Afrika, maar min is oor dié interessante man se latere lewe bekend. Hy was in 1927 wel teenwoordig by die onthulling van die monumente vir die gesneuwelde Skandinawiërs by Magersfontein.46
Ontsnappings uit die Palace-hospitaal
Ernstig siek krygsgevangenes van die Simonstadse kampe en die transportskepe is gebring na die Palace-hospitaal in Simonstad wat vir dié doel in die ou barakke ingerig is. Etlike krygsgevangenes het die geleentheid gebruik om uit die swak bewaakte hospitaal te ontsnap.
’n Oorsese koerant berig oor een geval waar 12 Boerekrygsgevangenes probeer wegkom het, maar onsuksesvol was.47 Op 15 Julie 1900 slaag die 35-jarige Julius Monchts wel daarin om uit die hospitaal te ontsnap. Luidens ’n Britse verslag was hy ’n Switser of ’n Poolse Jood wat aan Boerekant geveg het.48 Monchts se naam kom voor op die naamlys van Boerekrygsgevangenes, maar geen verdere inligting kon opgespoor word oor wat daarna van hom geword het nie. Net meer as ’n week later, op 23 Julie 1900, probeer nóg ’n krygsgevangene, die 19-jarige Kina Lophus Lassen, ook uit die hospitaal ontsnap, maar hy is vinnig aangekeer.49
In ’n verslag oor die ontsnappingspogings vanuit die hospitaal kla kol. A.K. Wyllie oor die gebrek aan veiligheidsmaatreëls by die hospitaal en dat dit met doringdraad afgesper moet word. Die veiligheidsmaatreëls by die hospitaal is daarna verskerp.50
Ná die talle ontsnappingspogings is al die krygsgevangenes van South Camp na oorsese kampe weggevoer, terwyl die gematigde en afvallige burgers na die beter ingerigte Bellevue-kamp oorgeplaas is. Daarna word geen melding van enige ontsnappingspogings meer gemaak nie. Daar was ’n doelgerigte poging deur die Britse owerhede om van moeilikheidmakers ontslae te raak deur hulle na die oorsese kampe te stuur. Onder die burgers wat tot aan die einde van die oorlog in Simonstad aangehou is, was ’n groep wat hulle bereid verklaar het om aan Britse kant te veg.51
’n Skandbrief
In die argief in Pretoria het ’n brief bewaar gebly wat ’n tasbare bewys is van verraad wat meer as 114 jaar gelede tydens ’n ontsnappingspoging gepleeg is. Op 11 Julie 1900 rig die 18-jarige Christiaan Johannes van der Westhuizen52 ’n vertroulike brief aan ’n Britse kampoffisier waarin hy die bestaan van ’n ontsnappingstonnel by die Bellevue-kamp in Simonstad onthul.53 Die brief, gerig aan kapt. J.B. Proctor, in daardie stadium tweede in bevel oor die krygsgevangenes in Simonstad, veroorsaak dat nog ’n ontsnappingspoging gefnuik word.
Op ’n skaamtelose wyse stel Van der Westhuizen in die brief voor dat Britse soldate op ’n vasgestelde tyd op ’n waskamer toeslaan van waar ’n tonnel gegrawe word. Hy onderneem dat hy en al die voornemende ontsnappers teenwoordig sal wees. Hy vra ook om aanvanklik saam met die ander in hegtenis geneem te word om te voorkom dat enigiemand iets oor sy betrokkenheid vermoed.54
Die Bellevue-kamp was teen ’n skuinste geleë en het ’n mooi uitsig oor die baai gehad. ’n Groepie krygsgevangenes het die moeilike taak aangepak en ’n tonnel begin grawe vanuit die waskamer wat die naaste aan die uitgang na die swemplek op die strand was. Die grond in die Bellevue-kamp was egter nie so los soos dié in South Camp nie, wat sake vir die tonnelgrawers aansienlik bemoeilik het. H. de Graaf skryf in sy dagboek hoe ander tonnelgrawers op die terrein gesukkel het: “’n [K]lomp van ons (het) hard gegrawe aan tonnels, maar iedere keer moes dit gestaak word vanweë die groot klippe waarop ons afgekom het.”55 Op die tyd wat Van der Westhuizen voorgestel het, slaan die wagte toe met militêre presisie met al die samesweerders in die waskamer teenwoordig. Die operasie is onder die direkte beheer van kol. Wyllie, die bevelvoerder oor die krygsgevangenes, uitgevoer. Op sy bevel neem drie offisiere saam met die wagte posisie in op die wagplatform naaste aan die waskamer met die uitdruklike bevel om enigeen te skiet wat die vertrek sonder toestemming verlaat. Ekstra soldate word teen die heining ontplooi. Wyllie, asook kapt. Proctor, drie onderoffisiere en agt manskappe storm deur die hoofhek na die waskamer. Die verrassing is volkome. Hulle betrap nege mans in die waskamer.56
’n Paar dae later skryf Wyllie in sy verslag: “There was no tunneling going on at the moment, but a knife, and a piece of iron evidently used for digging was picked up.”57 Hy meld ook hy het in die noordoostelike hoek van die waskamer ’n vertikale skag met ’n diepte van sowat twee meter gevind. Van daar is ’n onvoltooide horisontale skag van sowat vyf meter in die rigting van die see gegrawe. ’n Plat bord is daar naby gevind wat klaarblyklik gebruik is om die opening van die gat te bedek.
Wyllie het dadelik opdrag gegee dat die gat opgevul moes word, terwyl die verdagtes na die tronk laat afmarsjeer is. By die hoofhek het ’n krygsgevangene sy misnoeë te kenne gegee deur ’n groot klip na die wagte te slinger wat hulle rakelings gemis en teen die hek vasgeslaan het. Wyllie kon nie vasstel wie die klip gegooi het nie.58
Van der Westhuizen se brief onthul nie die motivering vir sy verraad nie. As hy gehoop het om op parool vrygelaat te word of ’n ander vergunning te kry, was sy teleurstelling waarskynlik groot. Sy verraad het hom nie gehelp om verbanning na ’n oorsese kamp vry te spring nie, want hy is later met die Cambridge na Ceylon gestuur en in die Diyatalawa-kamp aangehou. Vir die res van sy lewe sou hy seker vir sy verraad gebrandmerk gewees het.
Dié terugslag sou die 20-jarige Leopold Bedenhamer, een van die tonnelgrawers wat in die waskamer betrap is, nie laat afsien van sy ontvlugtingsplanne nie. In Ceylon sou hy weer probeer ontsnap – maar daardie keer met noodlottige gevolge (meer daaroor in hoofstuk 13).