Читать книгу Ontsnap! - Albert Blake - Страница 5
2
ОглавлениеDIE ONTEMBARES
Die uitgelese groepie Boerekrygsgevangenes wat enigiets sou doen om weer vryheid te smaak, was nie net onverskrokke nie, maar in baie gevalle ook ontembaar. Party is vermoedelik gedryf deur die adrenalien en opwinding wat gevaarlike situasies bring, terwyl ander dit eenvoudig nie kon duld om so ingeperk te wees nie.
Dit verg ’n besondere individu om met ontoereikende gereedskap, soms selfs met kaal hande, in die stikdonker en in stilte ’n tonnel te grawe wat enige tyd kan intuimel en jou versmoor. Dit verg uiterste waagmoed om deur skynbaar ondeurdringbare doringdraadversperrings na vryheid te hardloop met die wete dat jy deur Maxim-masjiengewere afgemaai kan word, óf om in die nagdonker alleen vanaf ’n gevangenisskip in onstuimige haaiwaters te spring en onder soekligte tussen bote met gewapende wagte op na vryheid te swem, óf om duisende kilometers van jou vaderland uit aanhouding te ontsnap en meer as halfpad om die aarde jou weg terug na die oorlogsterrein te moet vind …
Dié mense het geen tekort aan waagmoed gehad nie. Sulke individue vind ’n mens in feitlik alle oorlogsituasies en alle volke, ook onder die Boerekrygers van die Anglo-Boereoorlog. Dit het uitsonderlike eienskappe geverg om die bykans onmoontlike aan te pak sonder enige versekering dat jy suksesvol sal wees of eers met jou lewe daarvan sal afkom. Tog was hul versugting na vryheid die een ding wat talle krygsgevangenes aan die gang gehou het.
Om hul dryfvere te bepaal, sou ’n psigobiografiese persoonlikheidsondersoek van al die ontsnappers vereis, maar dit is weens ’n gebrek aan inligting nie moontlik nie. Op die oog af kom dit egter voor asof die Boerekrygsgevangenes wat tot elke prys uit aanhouding probeer ontsnap het jong, patriotiese avonturiers was. Talle is gekenmerk deur ’n soort roekelose rusteloosheid en ’n gebrek aan ontsag vir lewensgevaarlike situasies. Dikwels is hulle gevange geneem nadat hulle hewige teenstand op die slagveld gebied het. Hulle is dus nie die soort wat in die eerste plek maklik sou oorgee nie. Dit is ook opvallend dat heelwat van dié wat probeer ontsnap het aanvanklik in die vyand se hande beland het omdat hulle gewond is.
’n Mens kan nie veralgemeen oor watter soort mens die tipiese ontsnapper was nie, want krisistye bring eienskappe in mense na vore wat jy andersins nie noodwendig by hulle sou aantref nie. Wat wel opval, is dat dit met enkele uitsonderings na nie die beroemde gevange offisiere is wat gewaagde ontsnappingspogings aangedurf het nie. Dit is meestal ook nie juis individue wat voor die oorlog bekend was of in die gemeenskap uitgestyg het nie. Slegs ’n klein persentasie het voor die oorlog opleiding as soldate ontvang.1 Wanneer ’n mens kyk na die soort werk wat van die ywerigste ontsnappers voor die oorlog gehad het, was dit alledaagse beroepe soos winkelassistent2, bankklerk3, myner4, spoorwegwerker5, boer en selfs student6.
Nietemin kom dit voor asof die meerderheid krygsgevangenes wat ontsnappingspogings gewaag het intellektueel meer gesofistikeerd as die deursnee-Boer was. Baie het beter skoolopleiding ontvang en ’n noemenswaardige aantal het universiteitsopleiding op Stellenbosch en selfs in Brittanje en Europa ondergaan, wat vir daardie tyd uitsonderlik was.7
Dit is interessant dat heelparty buitelandse vrywilligers wat aan die kant van die Boeremagte geveg het en gevange geneem is, ook probeer ontsnap het. ’n Groot deel van hulle was avonturiers, van wie party ’n element van waaghalsigheid gehad het. Dit is opmerklik dat die buitelandse vrywilligers sulke ervarings meer geredelik as hul Afrikaanse kamerade opgeteken het.
Wat vasstaan, is dat die meerderheid krygsgevangenes wat probeer ontsnap het uit die geledere van die bona fide-Boerekrygers gekom het en tot die einde van die oorlog aan die republikeinse ideaal getrou gebly het. Die vasberade vuurvreters wat wou uitbreek, was in die meeste krygsgevangekampe deurgaans onder die lojale republikeine te vinde. Die meeste van hulle se einddoel was om weer by die Boeremagte in die veld aan te sluit om die vryheidstryd voort te sit. Dit was dikwels ook diegene wat ná ’n onsuksesvolle poging weer herhaaldelik sou probeer ontsnap.
Baie ander wou egter gewoon van die frustrasie en ellende van inperking bevry word. Hulle sou nie noodwendig na hul kommando’s terugkeer nie.8 Wat minder bekend is, is dat etlike manlike aangehoudenes in die konsentrasiekampe meer om persoonlike as patriotiese redes probeer wegkom het.
Die feitlik universele bewondering wat ontsnappingspogings van krygsgevangenes afdwing, het deels daarmee te doen dat hul aanhouding beskou word as iets waaroor hulle min of geen beheer gehad het nie. Dit is immers opponerende regerings wat besluit om oorlog te voer en die lot van individuele soldate is uiteindelik ’n uitvloeisel hiervan. Soos die latere hoofregter van Suid-Afrika Jacob de Villiers, wat ’n Boerekrygsgevangene in die Groenpunt-kamp en in Bermuda was, in sy dagboek oor die lot van die krygsgevangene geskryf het: “We are only prisoners of war, not criminals.”9
Ontsnappings en verraad
Die Boerekrygsgevangenes was ’n goeie weerspieëling van die manlike Afrikanerbevolking aan die einde van die 19de eeu. Onder hulle was intellektuele en agterlikes, rykes en sukkelende bywoners, godsdienstige dwepers en ateïste, eerlikes en oneerlikes, getroues en ontroues.10 Onder ’n noemenswaardige groep het ’n naïewe godvresendheid gegeld. Aangesien hul geloof vir hulle voorgeskryf het dat hulle hul lot moes aanvaar, sou dié mense nie van konvensionele gedrag afwyk nie. Hoewel daar talle voorbeelde is van krygsgevangenes wat aan ontsnappingspogings deelgeneem het, was die meerderheid egter nie ontsnappingsmateriaal nie – nie eens die toegewyde patriotte nie.
Die Britse propagandamasjien het die getal Boere wat gevange geneem en na die verskillende krygsgevangekampe gestuur is dikwels hoër gemaak as wat dit werklik was. Duisende van die krygsgevangenes was egter nie vegtende burgers nie en was om verskillende redes nie krygsvaardig nie. Daar was bejaardes van oor die 80 jaar en seuntjies so jonk as sewe jaar wat na die oorsese krygsgevangekampe gestuur is.11 Onder hulle was ook blindes, dowes, verstandelik gestremdes en oorlogsverminktes. Dit spreek vanself dat sulke mense nie ontsnappingsmateriaal was nie.
Baie krygsgevangenes was hendsoppers wat nie verder aan die oorlog wou deelneem nie, maar wat weens die rigiede Britse oorlogsbeleid steeds na die oorsese kampe verban is. Party is deur Britse troepe op hul plase aangekeer waar hulle ten spyte van die oorlog met hul boerdery probeer voortgaan het.
Dit alles maak ’n bespotting van die Britse militêre owerhede se amptelike aansprake dat hulle slegs bona fide-Boerekrygers na die oorsese kampe gestuur het. Gevolglik is dit moeilik om te bepaal hoeveel van die sowat 32 000 Boere wat tydens die oorlog gevange geneem is en van wie meer as 26 000 na oorsese kampe (Portugal uitgesluit) gestuur is, werklik krygers was.12
Die meeste krygsgevangenes het hulle in elk geval met hul onbenydenswaardige lot versoen en sou hoofsaaklik weens die skynbaar geringe kans op sukses nie by lewensgevaarlike ontsnappingspogings betrokke raak nie. Die gemiddelde Boerekryger was immers ’n gewone burgerlike en nie ’n professionele soldaat nie. ’n Groot aantal burgers was produkte van ’n pre-industriële samelewing en die meerderheid was by die een of ander vorm van boerdery betrokke. Hulle was dus nie ’n soort superwese soos dikwels in die verlede voorgehou is nie.
Baie van die krygsgevangenes was boonop oorlogsmoeg en wou net ’n einde aan al die swaarkry, smart en verdriet hê.
Die burgers van die twee Boererepublieke was nooit ’n homogene groep nie. Almal was ook nie ewe getrou aan die republikeinse ideaal nie. Die verraad wat tydens die Anglo-Boereoorlog regoor die twee republieke onder Afrikaners voorgekom het, het ook na die oorsese krygsgevangekampe oorgespoel. Dieselfde verdeeldheid wat tussen die strydende bittereinders aan die een kant en die hendsoppers en joiners aan die ander kant geheers het oor die vraag of die oorlog voortgesit moet word al dan nie, het ook ’n onversoenbare kloof tussen die republikeinsgesinde en afvallige krygsgevangenes veroorsaak.
Uiteindelik was verraad die enkele grootste rede waarom die meeste ontsnappingspogings deur Boerekrygsgevangenes misluk het. Dit het herhaaldelik in al die krygsgevangekampe plaasgevind – van die begin tot aan die einde van die oorlog. Willie Steyn, een van die bekendste Boereontsnappers, het kort ná vredesluiting in 1902 aan ’n Britse offisier gesê: “Of the [British] authorities we never had any fear; it was those who were our own kith and kin who were always our worst enemies.”13
Krygsgevangenes met planne om te ontsnap, het dus gou besef hulle sal moet rekening hou met die gevaar om deur hul eie mense verraai te word. Talle dagboeke en herinneringe van krygsgevangenes verwys na die ontrouheid van die afvalliges. In sy dagboek maak veldkornet Charles von Maltitz byvoorbeeld dié opmerking met verwysing na die Groenpunt-kamp: “[H]ier is soveel spioene onder ons dat niks gesê of gedoen kan word sonder dat dit oorgedra word nie …”14
Dié toedrag van sake in die Groenpunt-kamp is deur ’n ander gevangene beaam: “There were so many spies about and experience had taught me that hardly any man could be relied upon to keep a secret …”15
Reeds met hul aankoms in die deurgangskamp Tin Town by Ladysmith is die burger Rocco de Villiers en sy medegevangenes gewaarsku om versigtig te wees oor wat hulle sê en doen: “Dit is opvallend hoeveel spioene daar in die kamp was … Die kamp het krioel van die hendsoppers, wat daagliks aansoeke bring om die eed van getrouheid af te lê.”16
Daar is wel verskeie redes vir sommige krygsgevangenes se gebrek aan lojaliteit teenoor die voortsetting van die oorlog. Waar daar tydens die hoogbloei van Afrikanernasionalisme geen of min deernis vir afvalliges in die geskiedskrywing was nie, kan hul optrede vandag met groter nugterheid en begrip beoordeel word. Talle is oorweldig deur die vrees dat hulle nooit na hul vaderland sou kon terugkeer of hul geliefdes weer sou sien nie. Hulle is ook gekonfronteer met die nuus oor die lot van Boervroue en -kinders in die konsentrasiekampe en talle het doodstyding vanuit Suid-Afrika ontvang. Die onsekerheid en trauma wat dit meegebring het, moes hulle psigologies tot die uiterste beproef het. Almal is gevolglik nie aan dieselfde keuses blootgestel nie en nie alle ontroues sou verraad pleeg nie.
Uit verskillende gevalle waar verraad ’n ontsnappingspoging wel in die wiele gery het, blyk dit die verraaiers is deur die een of ander vorm van beloning aangevuur. Dit sluit in om nie na ’n oorsese kamp gestuur te word nie of die moontlikheid om teruggestuur te word Suid-Afrika toe as hy reeds weggestuur is. Daar was ook die moontlikheid om permanent op parool vrygelaat te word as die afvallige nog in ’n Suid-Afrikaanse kamp aangehou is. Met parool word bedoel ’n vergunning wat aan ’n krygsgevangene verleen word om die kamp waarin hy aangehou word vir ’n bepaalde tyd te verlaat om ’n spesifieke gebied onder sekere voorwaardes te besoek. Daar was ook ander voordele soos beter kosrantsoene of tydelike parool, veral in die oorsese kampe, wat krygsgevangenes toegelaat het om vrylik buite rond te beweeg. In die konsentrasiekampe was daar ook die moontlikheid om saam met jou gesin te kon bly en beter rantsoene en ander voordele as die ander te ontvang.
’n Groep krygsgevangenes het selfs so ver gegaan as om hulle bereid te verklaar om na Suid-Afrika terug te keer en aan die Britse kant te veg. In die argief in Pretoria is lyste met die name van honderde Afrikaners wat in die krygsgevangekampe op Ceylon, St. Helena, Bermuda en by Simonstad aangehou is wat in ruil vir hul vryheid sou terugkeer na Suid-Afrika en aan die Britse kant die wapen teen hul eertydse volksgenote sou opneem.17
Afvalliges is dikwels genadeloos gestraf wanneer hulle die eed van getrouheid teenoor die Britse Kroon afgelê het. Jacob Rheeder, wat in die Ahmednagar-fort in Indië aangehou is, skryf in sy dagboek die republikeinsgesindes het ’n groot aantal afvalliges aangeval, met die gevolg dat talle gehospitaliseer moes word.18 In sy herinneringe skryf Herman Scholtemeijer ook oor verskeie sulke voorvalle op St. Helena, waaronder dié loesing wat ’n afvallige gekry het: “Die man is oopgespalk, en die persoon wat die vonnis sou voltrek, het by die kop van die veroordeelde gaan staan en sy houe goed afgemeet. Een vir een het hy die rooi strepe langs mekaar op die man se kaal rug getrek. Met elke hou hoor mens net ’n kreun van die man en die telling wat een van die omstanders uitroep.”
Uiteindelik het die Britse soldate tot die man se redding gekom.19 Die Britse owerhede was streng in hul optrede teenoor diegene wat wraak teen afvalliges geneem het en die skuldiges is meestal tot eensame afsondering met minimum kosrantsoene in ’n tronk gevonnis. In ’n ander geval vertel Scholtemeijer dat lojale republikeine ’n huisie van afvalliges afgebrand het terwyl hulle nog daarbinne was. Hulle was gelukkig om met hul lewe daarvan af te kom.20
’n Gewilde manier van afrekening was om ontroues te doop in menslike ontlasting in toiletemmers wat as die “zalfemmers” bekend gestaan het.21 Daarna is die stinkende ontroue gedwing om die volkslied uit volle bors te sing. Soms is die proses herhaal. “Dit geskied in die aand, wanneer so ’n persoon deur ’n aantal manskappe gepak word en na die gemakshuisie geneem word en met permissie gesê in die drek gerol word!” skryf een republikeinsgesinde.22
Dit het mettertyd so erg gegaan dat die afvalliges in afsonderlike kampe in al die vernaamste oorsese krygsgevangekampe gehuisves is. Dié kampe het as die verraaierskampe of Judaskampe bekend gestaan. Die inwoners daarvan het aansienlik beter behandeling as die republikeinsgesindes in die ander kampe ontvang.23
Dit was egter nie net eie gewin wat krygsgevangenes gedryf het om hul medegevangenes se planne aan die kampowerhede te verklap nie. Baie wou ook die negatiewe gevolge voorkom waaraan alle gevangenes weens ’n ontsnappingspoging blootgestel sou word. Wanneer krygsgevangenes probeer ontsnap het, het hul optrede dikwels daartoe gelei dat ander onskuldige krygsgevangenes ook gestraf is of aan verdere ontbering blootgestel is. In baie gevalle is alle gevangenes as afskrikmiddel van sekere voorregte ontneem.
Vir baie krygsgevangenes het die nuus oor ’n komende ontsnappingspoging dus ’n groot dilemma verteenwoordig. Selfs die patriotiese ds. J.A. van Blerk het ’n krygsgevangene in Bermuda eenkeer streng aangespreek toe hy daarvan te hore kom dat die man gaan probeer ontsnap. “Kyk hier … ! Jy gaan tog nie so ’n lafaard wees om te ontsnap en jou medegevangenes wat agterbly, vir jou misdaad laat boet nie,” was die dominee se vermaning.24 Die gevangene het in elk geval probeer ontsnap en uiteindelik met ’n tweede probeerslag geslaag.25
In die streng bewaakte en erg onsekere omgewing waarin die krygsgevangenes in die kampe aangehou is, sou dit uitsonderlike eienskappe verg om die bykans onmoontlike aan te durf en dan boonop te glo jy kan suksesvol wees. ’n Mens sal met reg kan vra: Wie was daardie klein groepie Boerekrygsgevangenes wat tot elke prys vry wou wees, wat selfs hul lewe op die spel sou plaas om hul vryheid te herwin sodat hulle weer aan die stryd kon gaan deelneem?