Читать книгу Ontsnap! - Albert Blake - Страница 4
1
ОглавлениеDIE EERSTE ONTSNAPPING
Terwyl die HMS Penelope die nag van 18 Desember 1899 met gevange Boere in die baai van Simonstad geanker lê, klim die 20-jarige Kepler de Meillon deur ’n patryspoort van dié Britse oorlogskip, waarna ’n paar burgers hom help om ongemerk met ’n skeepstou na die water te sak. Op die skeepsbrug trek ’n ander krygsgevangene die Britse wag se aandag af van wat die eerste ontsnapping van ’n Boerekrygsgevangene vanaf ’n Britse skip sal wees.1
Toe die oorlog net meer as twee maande vroeër op 11 Oktober 1899 uitgebreek het, het die leiers van sowel Groot-Brittanje as die twee Boererepublieke naïef geglo dit sou teen Kersfees reeds verby wees. Die uitgerekte en verwoestende oorlog wat sou volg, is nie voorsien nie. Gevolglik het geeneen van die partye aanvanklik behoorlik voorsiening gemaak vir die oprigting van aanhoudingskampe vir duisende krygsgevangenes nie.2
Met die bloedige nederlaag op 21 Oktober 1899 by Elandslaagte in Natal word die eerste Boerekrygsgevangenes deur die Britte geneem. Kepler de Meillon word ook gevange geneem nadat albei sy perde in die geveg doodgeskiet is.3 Saam met 186 ander krygsgevangenes word hy na Durban vervoer, van waar hulle per skip na die Britse vlootbasis by Simonstad aan die Kaapse Skiereiland geneem word. Op 2 November 1899 word dié groep krygsgevangenes na die HMS Penelope oorgeplaas.4 Ander Boere wat tydens die eerste fase van die oorlog gevange geneem is, is ook op Britse vloot- en transportskepe in Simonsbaai aangehou, terwyl die Britse owerhede rondgeval het om krygsgevangekampe op land by Simonstad en Groenpunt in Kaapstad op te rig. Die situasie het al hoe meer onhanteerbaar begin word.5
Dit was ’n tyd van onsekerheid en ontbering, maar ook verveling vir die krygsgevangenes op die skepe. Met die terugslae wat die Britse magte in die beginfase van die oorlog op al die fronte gely het, was gerugte in omloop dat die Boerekrygsgevangenes vir Britse krygsgevangenes uitgeruil sou word.6 Nie al die krygsgevangenes was gediend daarmee om met die frustrerende onsekerheid, eentonigheid en swaarkry op die skepe saam te leef nie.
Copernicus Kepler de Meillon was een van daardie uitsonderlikes wat hom deur niks en niemand sou laat inperk nie – ’n individualis met ’n sterk wil en ’n hardekwas en roekelose streek. Dit is waarskynlik ook hierdie uitsonderlike eienskappe wat op die lange duur tot sy dood sou bydra.
Voor die oorlog het die jong De Meillon ’n suksesvolle klein melkery en konstruksieonderneming in Johannesburg bedryf. Sy ouers was vooraanstaande en welgestelde Afrikanerinwoners van die stad. Sy pa was kommandant van Johannesburg, maar het weens siekte nog voor die oorlog van die amp afstand gedoen. Te oordeel na al die geskrifte in Pretoria se argief oor geskille waarby De Meillon sr. in die 1890’s betrokke was, moes hy na alle waarskynlikheid ’n moeilike man gewees het.7
Met die naderende oorlog is Kepler de Meillon reeds voor die einde van September 1899 saam met die Johannesburgse kommando na die Natalse front, terwyl hy sy onderneming in sy pa se sorg gelaat het.8
Nadat De Meillon se makkers hom vanaf die Penelope in die water neergelaat het, slaag hy daarin om ongesiens na ’n verlate skuitjie te swem wat halfpad tussen die skip en die land aan ’n boei vasgemeer is. Daar rus hy ’n rukkie in die skuitjie, waarna hy na die land swem. Op die strand gee hy ’n laaste teken aan sy makkers op die Penelope dat hy veilig is voordat hy in die nag verdwyn.9
Die volgende oggend kom die Britse wagte met die aflees van die naamlys (roll call, of spottenderwys “roukool” deur die Boere genoem) agter een van die krygsgevangenes op die Penelope is weg. ’n Kat-en-muis-speletjie volg tussen De Meillon se makkers en die wagte. Om tyd te probeer wen, noem sy neef Henry de Meillon10 dat een van hulle by die dokter is. Nadat vasgestel is dit is nie die geval nie, is die skip haarfyn deurgesoek.
Intussen het De Meillon se groepbevelvoerder, adj. Johannes Smith11, sy gemaakte besorgdheid teenoor die Britse offisier uitgespreek dat De Meillon dalk oorboord geval en verdrink het omdat hy nie kon swem nie. De Meillon sou kwansuis die afgelope tyd baie neerslagtig en afsydig gewees het. Twee ander gevangenes dik nog aan en vertel hulle is die vorige nag deur ’n geskreeu wakker gemaak. Nadat hulle uit hul hangmatte geklim en ondersoek ingestel het, kon hulle niks vind nie en het hulle die lawaai afgemaak as iemand wat in sy slaap geskree het.12
’n Tyd lank sluk die Britse bevelvoerder die versinsels en hy ontbied ’n duiker vanaf die Britse kruiser HMS Doris13 wat van naby af ’n wakende oog oor die Penelope gehou het. In sy dagboek skryf die krygsgevangene Leendert Ruijssenaers14 die Boere het oor die relings van die Penelope geleun en die spektakel met gemaak strakke gesigte aanskou. Nietemin moes die duiker met sy boaardse duikpak van daardie tyd vir hulle ’n vreemde skouspel gewees het toe hy die dieptes ingelaat is. Nadat hy ’n paar uur om die Penelope beweeg het, kon die duiker net ’n paar ou skoene en onbelangrike artikels op die seebodem vind totdat hy sy soektog weens uitputting moes staak. Die Britse bevelvoerder het begin vermoed De Meillon het ontsnap.
Nog dieselfde aand is ysters voor die patryspoorte van die Penelope aangebring en die wagte verdubbel. Geeneen van die gevangenes is weer toegelaat om op die dek te slaap nie – ’n vergunning wat aan sekeres verleen is om die bedompige onderste ruim te vermy. Voortaan is absolute stilte saans ná 21:00 afgedwing. In ’n poging om die Britte op ’n verdere dwaalspoor te bring, is De Meillon beskryf as ’n 40-jarige man met ’n blas gelaat en swart baard, terwyl hy in werklikheid 20 jaar oud was met ’n ligte gelaatskleur, blonde hare en grys oë. Hierdie keer laat die Britte hulle nie vang nie en ’n korrekte beskrywing van De Meillon is na die land gestuur. In die binneland is ’n grootskaalse soektog na hom van stapel gestuur.15
Luidens ’n berig in ’n buitelandse Engelstalige koerant het De Meillon in ’n huis in Observatory geskuil.16 Waarskynlik het hy die hulp van familie gehad wat in die Kaap gewoon het. ’n Medegevangene, D.J. du Toit,17 vertel in sy herinneringe De Meillon het ’n paar dae lank by sy oom weggekruip toe ’n goedgesinde Engelse buurvrou hulle kom waarsku die polisie is op sy spoor en hy moet dadelik vlug. Voorsien van genoeg geld het De Meillon hom na die naaste stasie gehaas en op ’n trein geklim wat gereed was om te vertrek. Die geluk was egter teen hom, want die trein was op pad terug na Simonstad en daar was ’n wakker speurder aan boord. De Meillon is by Wynberg in hegtenis geneem en in die Kaapstadse tronk gestop.18
Die Britse militêre owerhede kon nie keer dat die nuus van De Meillon se ontsnapping uitlek nie. Dit was groot nuus in die internasionale Engelse pers.19 Dit het selfs in die Britse parlement opslae gemaak waar verduidelik moes word waarom niemand vir nalatigheid aanspreeklik gehou is nie.20
’n Engelse verslaggewer wat ná De Meillon se gevangeneming ’n onderhoud met hom probeer voer het, het hom as ’n “well-set up young fellow” beskryf. De Meillon was egter ontwykend met sy antwoorde, hoewel hy duidelik aan die verslaggewer te kenne gegee het hy gaan weer probeer ontsnap. Op 8 Januarie 1900 is hy terug by sy medegevangenes, wat hom soos ’n held ontvang. Ook teenoor hulle onderneem hy om weer te ontsnap.21
De Meillon het woord gehou en minder as twee maande later, op 6 Maart 1900, ontsnap hy saam met ’n groep gevangenes met die groot uitbraak uit die kamp by Simonstad. Hierdie keer is sy ontsnapping suksesvol. De Meillon het sy weg uit die vyandelike Kaapse Skiereiland waarskynlik met behulp van pro-Boere gevind en daarna aangesukkel totdat hy in die Karoo goedgesinde Afrikaners gevind het wat hom ’n perd gegee het om na die naaste dorp te ry. Daar is hy van geld en ’n fiets voorsien. Uiteindelik het hy ná vele ontberinge in Oos-Transvaal aangekom, waar hy by ’n kommando van genl. Chris Botha aangesluit het en ook onder genl. Coen Brits tot aan die einde van die oorlog as bittereinder diens gedoen het.22
De Meillon vind ná die oorlog met sy terugkeer na Johannesburg sy ouers moes na die Kaapkolonie uitwyk en sy melkery en konstruksieonderneming het tot niet gegaan. In die naoorlogjare was dit bitter moeilik om werk in die verwoeste land te kry en hy besluit om sy geluk op die delwerye by Barberton te probeer. Volgens verskillende bronne was hy sterk anti-Brits en het hy later besluit om na Duits-Wes-Afrika (die hedendaagse Namibië) uit te wyk eerder as om onder Britse oorheersing aan te bly. Daar het hy gehelp om die Herero-opstand van 1904-’07 te onderdruk. Kort voor die uitbreking van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 verloor De Meillon ’n hofsaak oor omstrede mynregte in Duits-Wes wat hom verbitterd teenoor die Duitsers maak. Terug in Suid-Afrika het genl. Jan Smuts hom klaarblyklik persoonlik oorreed om sy en genl. Louis Botha se beleid van samewerking met die Engelssprekendes te volg.23
Met die uitbreking van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 bied De Meillon sy dienste aan die Unieweermag en word hy as intelligensieoffisier in die Imperial Light Horse aangestel – dieselfde eenheid wat 12 jaar tevore die vyand was. De Meillon was op die voorpunt van die Unieweermag-troepe wat Duits-Wes in 1914 binnegeval het en was die leier van die eerste groepie Suid-Afrikaanse troepe wat Lüderitzbucht (later Lüderitz) vanaf die see beset het. Daarna neem De Meillon met onderskeiding aan verskeie skermutselinge deel, waartydens hy gewond word. Hy herstel van sy wonde, neem verder aan die veldtog deel en verwerf bekendheid vir sy waaghalsigheid. Maar sy uurglas loop uit as hy op 22 Februarie 1915 in ’n skermutseling met die Duitsers by Aus sneuwel.24
Dat vuurvreter-bittereinders soos De Meillon skaars 12 jaar ná die Anglo-Boereoorlog aan die Britse oorlogspoging sou deelneem, het grootliks te doen met die charisma van genls. Botha en Smuts. In die geval van die hardkoppige De Meillon het sy ommeswaai waarskynlik ook te doen gehad met sy vete met die Duitsers. So ver as in Nieu-Seeland het die koerant The Ohinemuri Gazette die verandering van ’n vurige anti-Britse De Meillon in ’n aktiewe ondersteuner van die Britse oorlogspoging met die Eerste Wêreldoorlog op ’n interessante dog tipies jingoïstiese wyse in 1915 probeer verduidelik:
Little has been heard since the Boer War of Captain De Meillon, whose tragic death in German South-West Africa is just announced. His somewhat strange and romantic life casts an interesting light on how the mind of the fighting Boer in the individual as in the aggregate is subject to fluctuation of racial passion. De Meillon fought against the British with conspicuous tenacity. The termination of the Boer War by no means brought a softening of his ill-regard of the British. Rather than take the oath of fealty, he went into German South-West Africa. Meanwhile he had a taste of German justice and equity. A little more than a year ago he returned to the Transvaal, and learned exactly what Great Britain had done for South Africa, and how the Dutch were faring under the new regime … It resulted in his taking the oath of loyalty to South Africa and His Majesty the King, and when the conquest of German South-West Africa was decided upon there was no keener in the Union forces than De Meillon … The erstwhile Boer officer [sic] and anti-Briton subsequently became Chief of Intelligence to the Botha forces. It was at Aus where he met his death: With a handful of Hottentots he was ambuscaded, and fell riddled by German bullets.25
De Meillon is die toonbeeld van die bittereinder in die Anglo-Boereoorlog, maar sy deelname aan die Unieweermag se inval in Duits-Wes-Afrika bly ook ’n voorbeeld van die verdeeldheid wat ná die Boereoorlog onder die eens hegte groepie bittereinders ontstaan het. ’n Onwrikbare groep Afrikaners was sterk gekant teen die inval omdat dit die Britse oorlogspoging aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog gesteun het en in wese vir hulle immoreel was. Van dié groep wou ook van die geleentheid gebruik maak om die verlore republieke te herstel. Die gevolg was die Rebellie in 1914 waarin eertydse volksbroers die wapen teen mekaar opgeneem het.26
Met sy eerste ontsnappingspoging in Desember 1899 het Kepler de Meillon die voorbeeld gestel vir ander waagmoediges om te volg. Aan die begin was daar gereeld pogings om te ontkom, maar die Britse militêre owerhede het gou uit hul foute geleer en het dit algaande moeiliker vir die krygsgevangenes gemaak om te ontsnap.