Читать книгу Ontsnap! - Albert Blake - Страница 6

3

Оглавление

ONTSNAPPINGSPOGINGS VANAF BRITSE GEVANGENISSKEPE

Om te keer dat hulle ontsnap en weer gaan veg, het die Britse militêre owerhede alle krygsgevangenes so ver as moontlik van die oorlogsterrein verwyder en na hawestede soos Kaapstad en Durban geneem. In die eerste maande van die oorlog is die meeste gevangenes na die Kaap weggevoer, waar hulle eers op skepe in Simonsbaai en later ook op land aangehou is.

Daar word bereken dat meer as 80% van Boerekrygsgevangenes wat tydens die oorlog na die hawestede gestuur is die see nooit vantevore gesien het nie.1 ’n Mens kan jou indink dat dit vir party ’n vreesaanjaende ervaring moes gewees het om op skepe aangehou te word en later oor die oseane na die vreemde weggevoer te word.

Vir die waagmoediges wat wou ontsnap, was daar ook net een uitweg – hulle sou moes swem.

Terwyl krygsgevangekampe by Simonstad en Groenpunt by Kaapstad in aanbou was, het die Britse regering addisionele transportskepe van die Britse koninkryk se groot private vlootrederye gehuur om die groeiende getal krygsgevangenes voorlopig te huisves.2 Die argiewe en ander bronne bied bevestiging van verskeie ontsnappingspogings van Boerekrygsgevangenes vanaf minstens tien verskillende Britse gevangenisskepe.

Sedert Kepler de Meillon se ontsnapping van ’n skip in die eerste weke van die oorlog is die soekligte snags in Simonsbaai aansienlik verskerp en het wagbote gereeld om die aanhoudingskepe gevaar, wat ook dieper in die see anker gegooi het om ontsnappings te probeer voorkom.3 Verskeie dagboeke en herinneringe van krygsgevangenes maak melding van hoe Simonsbaai en Tafelbaai van die haaie gewemel het. Hjalmar Janek, ’n Sweedse vrywilliger wat ook op ’n Britse gevangenisskip in die baai aangehou is, skryf byvoorbeeld: “Die enigste moontlike manier om te ontkom was om te swem, maar ons lus daarvoor het afgekoel soos ons haaie gevang het, wat amper daagliks gebeur het! Ons het spoedig agtergekom dat die baai letterlik van die dierasies wemel.”4

Steeds was daar etlike ontembares wat hulle nie deur moontlike verdrinking, gewapende wagte of selfs haaie sou laat keer nie.


Hierdie knipsel uit die North Otago Times van 30 Maart 1900 verwys na ’n onbekende ontsnappingspoging wat plaasgevind het op dieselfde dag as wat krygsgevangenes vanaf ’n skip by Simonstad aan wal gebring is.

Ontsnappings vanaf die SS Manila

Die SS Manila was een van die addisionele transportskepe wat vir die aanhouding van die Boerekrygsgevangenes in Simonsbaai beskikbaar gestel is. Volgens dagboekinskrywings van krygsgevangenes was die omstandighede op die skip uiters haglik. Buiten die verveling en frustrasie weens ’n gebrek aan spasie was die kos dikwels oneetbaar en wanneer dit wel eetbaar was, hopeloos onvoldoende. Die skip was boonop besmet met ’n ondraaglike plaag luise.5 Tussen die krygsgevangenes op die Manila was uitlanders van verskillende nasionaliteite wat as vrywilligers by die Boeremagte aangesluit het. Die Sweed Carl Hultin was een van hulle. Hy was aan die Nederlands Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) verbonde en het reeds geruime tyd voordat die oorlog uitgebreek het in die Transvaalse republiek gewoon. Hy is by Elandslaagte gewond en gevange geneem. Nadat hy van sy wonde herstel het, is hy by Simonsbaai op die Penelope gevange gehou voordat hy op 30 Desember 1899 saam met ander gevangenes na die Manila oorgeplaas is. Aan die begin van 1900 het die rustelose Hultin genoeg van die ingeperktheid op die skip gehad.6

Hultin het sy plan om te ontsnap met slegs ’n klein groepie burgers gedeel wat hom ook met sy poging bygestaan het. Donderdagaand 5 Januarie 1900 help sy makkers hom toe om net soos De Meillon met ’n tou na die water af te sak. Intussen is die wagte se aandag afgetrek deur ander gevangenes wat volksliedere gesing het. Leendert Ruijssenaers, wat deel was van die groepie wat Hultin gehelp het, skryf in sy dagboek: “Gewapen met ’n groot broodmes teen moontlike haai-aanvalle en twee swemgordels om sy lyf het ons vriend hom in die water begewe net nadat dit donker geword het.”7

Hultin swem ongesiens na die land en die volgende dag slaag sy makkers daarin om sy afwesigheid geheim te hou. Met die aftel van die name tydens etenstyd sorg hulle dat een van hulle twee keer getel word. Ruijssenaers vertel hoe hulle dit reggekry het:

Ons is twee keer per dag getel deur ’n sersant-majoor wat saam met ’n kaptein by al die verskillende tafels verbystap. Toe ons sersant-majoor die tafel naaste aan ons getel het, het die agterste man op daardie tafel egter vinnig op die grond geval en gou tussen die banke na die vermiste se plek gekruip. In die halwe duisternis wat daar steeds in ons kol geheers het, kon dit maklik plaasvind.8

Die Britse wagte het eers ’n dag later besef hy het ontsnap. In ’n inligtingstuk wat hulle op land versprei, word hy soos volg beskryf: “Age thirty four, 5 foot four and a half, fair complexion, light hair, blue eyes and bearded.”9 Na alle waarskynlikheid het Hultin op land hulp van pro-Boergesindes gekry, want hy het onopgemerk deur die Kaapse Skiereiland gevlug.

Eers toe hy tot diep in die Karoo gevorder het, waag hy dit om sy identiteit bekend te maak aan vreemdes wat ook hulp aan hom verleen. Die Sweedse vrywilligers was besonder gewild onder die republikeinsgesinde Boere nadat die klein maar heldhaftige Skandinawiese korps met die Slag van Magersfontein bykans uitgewis is.10 Nadat Hultin in Transvaal aangekom het, word hy deur die Boere vir sy optrede geloof en aan pres. Paul Kruger voorgestel. Hy doen ook in dié tyd aansoek om Transvaalse burgerskap. Kort daarna het hy by ’n kommando in Wes-Transvaal aangesluit en tot aan die einde van die oorlog geveg.11

Nadat Hultin se ontsnapping onder sekere krygsgevangenes rugbaar geword het, het dit ’n groepie van sewe ywerige Afrikaners en ’n Amerikaanse vrywilliger aangespoor om sy voorbeeld die volgende nag te volg. Hulle is daardie nag een vir een met ’n tou na die water laat sak danksy die hulp van ander krygsgevangenes. Almal het reddingsgordels om hul lywe gehad wat voorheen na die skip gesmokkel en versteek is. ’n Boksgeveg is inderhaas gereël en was elders op die skip aan die gang om die wagte se aandag af te trek. Op die dek het ’n bees-en-skaaphok gestaan met ’n oop ruimte tussenin wat dekking gebied het vir die groep se neerlating in die water.

Die 22-jarige Jannie (John) Bothma, wat vroeër ’n koeëlwond aan sy pols opgedoen het, was deel van die groep. Toe hy halfpad na die water laat sak is, het hy sy greep op die tou begin verloor weens sy besering en moes hy noodgedwonge verder afgly terwyl sy hande erg gesny is. Met slegs die reddingsgordel om sy kaal lyf en sy klere vasgemaak op sy kop, besluit hy om nie vir sy maats te wag nie en dadelik na die land te begin swem.12

Intussen het drie lede van die groep paniekerig begin word in die onstuimige, koue water en om hulp begin roep. Een het krampe in sy arms gekry en die ander in sy bene, terwyl ’n derde, wat nie goed kon swem nie, waarskynlik onveilig gevoel het met net die reddingsgordel. Die drie moes toe weer deur hul makkers na die skip se dek opgetrek word. Intussen het ’n soldaat die tienuursein op sy trompet geblaas, wat die teken was dat almal na die slaapkwartiere in die benededek moes gaan. Die geharwar op die plek waar die ontsnappers in die water neergelaat is, het die wagte se aandag egter begin trek.

Nog voordat die laaste man, die lang Amerikaner Samuel Boylston, opgetrek kon word, het die wagte opgedaag en hom in hegtenis geneem toe hy sy voete weer op die dek sit.13 In die chaos het die ander lede van die groep en hul helpers verdwyn tussen die skare nuuskieriges wat die bevel om na die benededek te gaan verontagsaam het. Die skip se elektriese ligte is boonop deur iemand afgeskakel, wat die Britte se onmiddellike soektog verder belemmer het.

Nadat hy bykans ’n driekwartier lank geswem het, kom Bothma agter hy het nie veel teen die gety gevorder nie. Bothma was sterk gebou, maar hy het begin moeg word. Etlike weke ná sy ontsnapping gee hy in ’n onderhoud dié beskrywing van sy ontberings nadat hy in die see neergelaat is:

Ek kyk om na die skip om te sien hoe ver ek al gevorder het. Tot my skok het ek besef dat ek nog baie naby aan die skip was, só naby dat dit vir my gelyk het asof ek net enkele minute gelede die skip verlaat het. Telkens wanneer ek ’n bietjie gevorder het, het ’n golf gekom en my weer ’n hele ent teruggegooi.

Skielik onthou ek toe ook dat die see vol haaie was. Maar ek was toe reeds te ver, ek kon nie meer omdraai nie.

Ek het aangehou. Ek het aan die regterkant van die skip geswem, want die ander skepe in die baai het links van die skip gelê. Uiteindelik, nadat ek ’n uur en twintig minute in die water geworstel het, het ’n groot brander my op die strand uitgewerp. Daar het ek ’n halfuur agter ’n bos gelê. Ek was flou en heeltemal uitgeput.

Ek was reeds op die strand toe hulle van die skip af die soekligte oor die water begin werp het. Bootjies is neergelaat en die wateroppervlak was ’n hele tyd lank verlig. Ek het gewag totdat die soeklig verdwyn het voordat ek my aangetrek en in die pad geval het.14

Op die Manila is al die krygsgevangenes deur die Britse offisiere byeengebring en die naamlyste is uitgeroep. Tóé eers het hulle agtergekom dat sowel Carl Hultin as John Bothma nie op die skip is nie. Die soekligte het die baai heelnag gefynkam en wagbote het die baai deurkruis. Luidens die amptelike verslae oor die ontsnappings het die Britse owerhede onder die verkeerde indruk bly verkeer dat Hultin en Bothma saam ontvlug het.15

Bothma se wegkomkans is vergemaklik deurdat daar onder meer kommunikasieprobleme aan Britse kant was. Kapt. J.J.B. Proctor16, bevelvoerder oor die gevangenes op die Manila, het die volgende dag eers agtergekom dat al sy boodskappe wat gedurende die nag na die land gestuur is, nie ontvang is nie. Kapt. Proctor het ook in ’n verslag oor die ontsnapping gekla hy het die oggend voor Bothma se ontsnapping verdagte boodskappe in “Dutch” vanaf die land opgemerk. Die krygsgevangenes kon Simonstad en die omringende berge mooi sien wanneer hulle uit die ruim van die skip gelaat is. Vanaf die land het republikeinsgesindes kontak met hulle gemaak deur onder meer snags met lanterns inligting aan hulle te sein.17

Nadat hy sy asem teruggekry het, het Bothma sy nat klere aangetrek en koers gekry in die rigting van Kalkbaai. ’n Soldaat het hom op pad voorgekeer, maar laat gaan nadat hy homself as James Thompson voorgestel en ’n bevredigende antwoord gegee het oor waarom hy laatnag op straat rondloop. Hy het besluit om eers weswaarts die skiereiland in te beweeg.

Vier dae lank sukkel Bothma om meestal te voet die binneland in te beweeg. Van Noordhoek het hy na Stellenbosch geloop, waar hy die eerste keer gerus het. Die volgende dag is hy na Montagu en van daar na Touwsrivier. In ’n latere onderhoud was hy ontwykend oor moontlike hulp wat hy ontvang het omdat hy die identiteit van sy helpers wou beskerm. Hy gee nietemin dié beskrywing van wat daarna gebeur het:

Op die stasie [Touwsrivier] het ek ’n Engelse sersant, by name McCullum, ontmoet wat deel was van ’n groep van sowat 90 soldate. Ek het myself aan hom voorgestel as ene Young, wat vir die imperiale regering perde wou koop. As hy my na ’n bewys gevra het, sou ek hom, benewens ’n sakboekie, ’n deeglike dokument getoon het wat alte duidelike tekens dra dat dit in die besit van ’n perdeverkoper was.

Hy het my egter niks gevra nie, maar my inteendeel ’n telegram gewys wat die aanhouding gelas van iemand wat van die Manila af ontsnap het. Dit is ’n wonder dat hy my nie herken het nie, aangesien my voorkoms tog lank voor my ontsnapping beskryf en geboekstaaf is, en aan die wonde aan my pols sou ek maklik uitgeken kon word …

Die nag het ek deurgebring onder die gasvrye dak van die Engelse onderoffisier en het ek in sy bed geslaap … !

Ek het daar ’n paar briewe On H.M. Service geskryf, onder meer een aan myself en onderteken deur ene meneer Smal, wat gaan oor perdekopery. Dié briewe het ek in my baadjiesak gehou.

Die volgende dag het ek op die trein geklim en na Victoria West Road gegaan. ’n Groot aantal militêre personeel, merendeels offisiere en artillerie, is op dieselfde trein vervoer.

Op Matjiesfonteinstasie het ek die eer om in dieselfde saal as lord Roberts my maaltyd te nuttig.18

Spesiale ondersoekspanne en speurders het alles in hul vermoë gedoen om Hultin en Bothma vas te trek. In ’n omsendbrief word ’n beskrywing van Bothma gegee wat iets van sy kenmerkende gewoontes vertel: “Dark brown eyes, always wore red tie and top boots, appearance of a man who had been much on horseback with a curious habit of whipping his leg with a riding whip.”19

In Engelstalige koerante verskyn daar kort ná die ontsnappings berigte dat die twee krygsgevangenes wat van die Manila ontsnap het, verdrink het nog voordat hulle die land kon bereik.20 Die jingoïstiese Engelse pers wou aanvanklik seker nie daaraan sluk dat Boerekrygsgevangenes uit Britse aanhouding kon ontsnap nie.

Nadat hy die Vrystaat bereik het, is Bothma aanvanklik met wantroue bejeën, totdat hy in Bloemfontein aangekom het waar sy identiteit bevestig kon word. Daarna het hy weer by ’n kommando aangesluit, maar siek geword. Hy het in Heidelberg in Transvaal gaan aansterk, maar daar is hy tydens die Britse besetting van die dorp weer gevange geneem. Hy is op 19 Junie 1900 na die Groenpunt-kamp by Kaapstad geneem en later op die skip City of Vienna na Ceylon gestuur.21

Bothma se gees was egter nog lank geknak nie. In Desember 1900 sou hy en twee ander krygsgevangenes weer uiterste waagmoed aan die dag lê en die bykans onmoontlike probeer vermag deur uit die Diyatalawa-kamp in Ceylon te ontsnap.22 Ná die oorlog was hy voorts deel van ’n groepie weerbarstige burgers wat in Ceylon geweier het om die eed van getrouheid teenoor die Britse Kroon af te lê. Hulle is gevolglik nie toegelaat om na Suid-Afrika terug te keer nie en is in die Welikada-tronk naby Colombo aangehou. Daar het die groepie burgers in die selle oproerig geraak en soldate is ingeroep om die opstand te onderdruk. Die burgers, met Bothma aan die spits, het hulle só verset dat die soldate die stryd uiteindelik gewonne moes gee en die selle verlaat het.

Lt. Willie Hefer, wat saam met Bothma opgesluit was, het oor hom geskryf: “Hierdie Afrikaner se onverskrokke gees het vir absoluut niks gestuit nie. Hierby het sy liggaam mooi aangesluit. Oor die ses voet lank, het hy ’n liggaamskrag besit wat hom feitlik onoorwinlik gemaak het.”23

Ons keer later terug na Bothma se merkwaardige verhaal.24

Ontsnappings vanaf die SS Mongolian

Teen Maart 1900 het die aantal Britse transportskepe in Simonsbaai met krygsgevangenes aan boord toegeneem, asook die aantal oorlogskepe wat hulle bewaak het. Verskeie ooggetuies vertel van die indrukwekkende gesig wat al die skepe se elektriese ligte en olielanterns in die nag uitgemaak het. Een krygsgevangene skryf in sy dagboek: “Dit was byna te mooi om op die dek te gaan slaap. Tallose ligte vonkel vanaf die skepe en van Simonstad af.”25

Die werklikheid van die lewe in aanhouding op ’n skip was egter ’n ander saak en die krygsgevangenes het dit baie swaar gehad. Sekere burgers moes maande op die skepe deurbring voordat hulle na die land oorgeplaas of na oorsese kampe gestuur is. Boonop het epidemies, waaraan ’n aantal krygsgevangenes gesterf het, periodiek op die skepe uitgebreek.26

Einde Maart 1900 is ’n groep krygsgevangenes na die transportskip SS Mongolian by Simonstad oorgeplaas. Leendert Ruijssenaers beskryf die omstandighede op die skip as “een ware hel”.27 Volgens hom was dit “een pest hol” en ’n plek wat “te sleg was vir galeiboewe, weens die stank en onsindelikheid wat enige van die troepeskepe waarin ons al gebly het in die skadu stel”.28

Die Britse offisiere het die onaangenaamheid vererger met hul meerderwaardige behandeling van die krygsgevangenes.

Die Mongolian sou vir die duur van die oorlog ’n transport-en-gevangenisskip van Boerekrygsgevangenes bly en verskeie ontsnappingspogings het daarvan af plaasgevind. Dit het gereeld vaarte tussen Kaapstad, Durban en Colombo onderneem. Later het die Mongolian ook in die Durbanse hawe as aanhoudingskip gedien. Ruijssenaers noem die omstandighede was so onuithoudbaar dat ’n groepie krygsgevangenes besluit het om die skip te verlaat, kom wat wil. “Vir dié doel het ons ’n sekere hoeveelheid petroleum uit die lampe gevat en ons sou die hele kasarm aan die brand gesteek het as ’n paar Boere wat van [P.A.] Cronjé29 af gekom het die saak nie onder die Engelse se aandag gebring het nie.”30

In Oktober 1900 sou die Ierse vrywilliger Frank Mcglade van die Mongolian ontsnap, maar tot vandag is dit onduidelik of hy suksesvol was al dan nie. Mcglade, oorspronklik van Belfast in Ierland, het by die Pretoriase kommando aangesluit, maar hy is op 4 Desember 1899 by Ladysmith deur die Britte gevange geneem. Op 14 Oktober het die 28-jarige Mcglade spoorloos vanaf die Mongolian verdwyn terwyl die skip buite die Durbanse hawe geanker was.31

Wat daarna van Mcglade geword het, is in onsekerheid gehul. In ’n telegram wat die stafoffisier van krygsgevangenes in Durban aan die bevelvoerder van die eenheid in Kaapstad gestuur het, is beweer Mcglade het waarskynlik verdrink.32 Sy lyk is egter nie gevind nie. Dit was nie die eerste of die laaste keer dat so ’n verduideliking aangebied is om aanspreeklikheid vir ’n ontsnapping te probeer ontduik nie.33 Nietemin is opdrag gegee dat die Mongolian, wat toe reeds weer Kaapstad toe vertrek het, by sy aankoms behoorlik deurgesoek moes word.34

Mcglade se naam verskyn nie op enige ongevallelyste van die oorlog nie en die dokumente in die argiewe verswyg verdere inligting oor die geval. Die stilswye kan ook daarop dui dat hy weggekom het.

Die burger Fred van Biljon maak op 6 September 1900 ’n inskrywing in sy dagboek oor ’n ontsnappingspoging vanaf die Mongolian toe dit met Boerekrygsgevangenes by die hawe in Colombo in Sri Lanka aankom. Weer was ’n Ier ter sprake, wat glo die laaste nag wat die krygsgevangenes op die skip deurgebring het in die water gespring het. Hy is egter weer gevange geneem.35

By ’n ander geleentheid ontsnap twee krygsgevangenes op 18 Januarie 1901 terwyl die Mongolian in Simonsbaai lê deur ook na die land te swem. Die twee mans is James Sidney Fraser en John Stern. In ’n Britse omsendbrief wat vir verspreiding in die binneland uitgereik is, word hulle soos volg beskryf: “James Fraser an American, 5 ft. 8 inches, thick set, clean shaven, dark eyes and hair slightly grey, very sullen appearance. John Stearn [sic], a Swede, height 5 ft. 10 inches, thick set, fair hair, when last seen wearing short straw coloured beard, a sailor.”36

The Cape Times van 23 Januarie 1901 het berig daar is vyf dae later nog in die omgewing van Kalkbaai na die twee gesoek. Fraser is weer gevang, waarna hy na die berugte kamp by Bellary in Indië gestuur is. Daar sou hy nogmaals probeer ontsnap.37 Daar kon nie vasgestel word wat van Stern geword het nie.

Die Mongolian het tydens die Eerste Wêreldoorlog ’n seegraf vir 35 van sy bemanningslede geword toe dit in 1918 op ’n vaart na Southampton deur twee torpedo’s van ’n Duitse duikboot gekelder is.38 Verskeie ander Britse skepe wat gedurende die Anglo-Boereoorlog as gevangenis- en transportskepe vir Boerekrygsgevangenes diens gedoen het, sou ook in die Eerste Wêreldoorlog na die bodem gestuur word.

Ontsnappingspoging vanaf die SS Kildonan Castle

Die Boerekrygsgevangenes wat op die skepe aangehou is, moes met die spanning saamleef dat hulle te eniger tyd na ’n oorsese kamp gestuur kon word. Dié moontlikheid was sekerlik in die agterkop van vyf jong Afrikaners op die SS Kildonan Castle toe hulle besluit het om na vryheid te swem.

Maandagaand 21 Januarie 1901 was ’n besonder donker nag waar die Kildonan Castle in Simonsbaai voor anker gelê het. Die vyf was moontlik bewus daarvan dat die skip se soekligte nie gewerk het nie, maar hulle het nie geweet dat ’n kragtige lig met skerp weerkaatsers wat die onmiddellike omgewing helder kon verlig op die agterstewe van die skip aangebring is nie.39

Die vyf moes geruime tyd vir die ontsnapping voorberei het. Hulle het ’n tou uit afvalmateriaal gemaak en reddingsgordels ingesmokkel van die Mongolian wat ook in Simonsbaai geanker was. Twee lede van die groep, Hendrik van Heerden (30) en Gert Bloem (21), was van Pretoria, terwyl Andries Kotze (26) van Heidelberg afkomstig was, Jacobus le Roux (23) van Johannesburg en Willem Inch (23) van Bloemfontein.40

Dit was laataand toe hulle gereed maak om deur ’n patryspoort na die water te sak. Almal het van hul klere ontslae geraak en het reeds die reddingsgordels om hulle gehad toe Willem Hanekom van die gewerskaf wakker word. Hanekom en sy 17-jarige seun, Dawid, was aartsverklikkers.41 Die twee Hanekoms dreig om die wagte te gaan roep as die waaghalse voortgaan met hul plan. Die jong mans moes hul poging noodgedwonge laat vaar.

Die Hanekoms het die saak egter nie daar gelaat nie en die volgende oggend aan die Britse offisier aan diens vertel wat die vorige nag gebeur het. Klaarblyklik kon die Hanekoms nie al vyf mans uitken nie, want slegs Bloem, Inch en Kotze is onmiddellik gearresteer en weggeneem. Die krygsgevangenes is later die oggend deurgesoek en Van Heerden is gearresteer toe hy met ’n reddingsgordel in sy besit betrap is. Le Roux het hom die aand vrywillig gaan oorgee, vermoedelik om te keer dat ander gevangenes gestraf word. Al vyf verdagtes is die volgende dag na die Mongolian oorgeplaas. Hulle is kort daarna na St. Helena weggevoer.42

Daar is die oggend so vinnig op die vyf toegeslaan dat hulle waarskynlik nie ’n kans gehad het om hul medegevangenes van die Hanekoms se dreigement te vertel nie. In ’n Britse verslag wat die volgende dag oor die ontsnapping geskryf is, word genoem dat die ander krygsgevangenes nie weet die Hanekoms het inligting oorgedra nie.43 Die krygsgevangenes sou egter wel agterdogtig begin word het oor die vyf se skielike oorplasing na die Mongolian en as die waarheid op die lappe sou kom, was die Hanekoms in gevaar. Dit word bevestig deur ’n aanbevelingsnota wat ’n Britse offisier aan die bevelvoerder oor die krygsgevangenes in die Kasteel in Kaapstad gerig het: “It would be advisable to remove the two Hanekoms as early as possible.”44

Uiteindelik het die Hanekoms se optrede hulle egter niks gebaat nie. Hulle is ook oorsee gestuur en wel na die krygsgevangekamp by Diyatalawa in Ceylon.45

Die SS Catalonia en die SS Roslin Castle

In sy boek Twice Captured: A Record of Adventure during the Boer War wat in 1900 verskyn het, skryf die graaf van Rosslyn drie Boerekrygsgevangenes het in Simonsbaai vanaf die SS Catalonia probeer ontsnap. Ander bronne maak nie melding daarvan nie. Rosslyn het Suid-Afrika vroeg in 1900 as korrespondent van die Britse koerante Daily Mail en Sphere besoek. Rosslyn vertel drie burgers het met reddingsgordels van die Catalonia probeer ontsnap: “One of the three men was picked up twenty-four hours later on shore, another was caught by the patrol-boat hanging on to a buoy, and the third is believed to have fallen a victim to sharks, which abound in these waters.”46

Die Catalonia, een van die oudste skepe van die Cunard-skeepsredery, het einde November 1899 in Kaapstad aangekom en daarna ononderbroke tydens die oorlog as aanhouding-en-transportskip vir krygsgevangenes diens gedoen.47 Die Catalonia se naam is in die annale verewig danksy ’n skouspelagtige ontsnapping deur vyf Boerekrygsgevangenes in die hawe van Colombo in Desember 1900. Dié ontsnapping deur die sogenaamde vyf swemmers het wêreldwyd belangstelling ontlok. Op pad na Ceylon was daar ook ’n mislukte poging van burgers om die skip te kaap, maar later meer hieroor.48

Die transportskip SS Roslin Castle is deur die Britse matrose die “Rolling Castle” gedoop weens die skip se onophoudelike gerol, wat ’n vaart baie onaangenaam gemaak het. In Maart 1901 het die Roslin Castle heen en weer tussen Durban en Kaapstad gevaar met ’n vrag krygsgevangenes terwyl die skip onder kwarantyn was. Dit was ’n konstante gevaar dat aansteeklike siektes soos builepes en masels kon uitbreek op die skepe waar ’n groot aantal mense in ’n klein ruimte geplaas is.49

Aan die einde van daardie maand het die Roslin Castle in Tafelbaai geanker gelê. Die krygsgevangene Jacobus Blignaut skryf in sy reisjoernaal oor drie medekrygsgevangenes wat van die skip probeer wegkom het, maar sonder om hul name te noem: “In die aand tussen omtrent 7 en 8 uur het drie van ons burgers oorboord gespring, maar die water was onstuimig en baie koud sodat hulle nie kon uithou om weg te swem nie en hulle moes toe weer om hulp roep. Toe gewaar die wagte hulle en hulle is dadelik opgetrek. Alles was toe in rep en roer.”50

Die ontsnappingspoging word bevestig deur Pieter Kolver van Fauresmith wat in sy herinneringe meld hy en vyf ander burgers was betrokke by die ontsnappingspoging, maar ook sonder om die ander se name te noem. Volgens hom het hulle ’n matroos omgekoop om ses reddingsboeie te steel. Dié het dit weggesteek en die groep het afgespreek om op ’n bepaalde aand na die land te swem. Hoewel dit op die betrokke aand besonder onstuimig was, wou hulle die ontsnapping nie uitstel nie. “Die golwe slaan hoog teen die boeg, maar ons (kon) nie langer wag nie. Die eerste wat afsak na die water moes voor om die skip swem en aan die ankerketting vashou en daar wag op die ander.”51

Drie burgers was reeds in die water toe Kolver aan die beurt kom. Hy was nog besig om oor die skip se reling te klim toe een van die drie waarskynlik paniekerig geraak het in die onstuimige see. Die wagte het hom gehoor en alarm gemaak. Al drie is daarna deur die matrose na die skip opgetrek.

Kolver en die ander twee op die dek het ongemerk weggeglip. Hy sê hy het die drie wat betrap is bitter jammer gekry, want hulle is opgesluit gehou totdat hulle Indië uiteindelik bereik het.52

Die SS Bavarian53 en SS Hawarden Castle54

Aan die begin van Maart 1902 lê die SS Bavarian buite die Durbanse hawe met meer as 1 000 krygsgevangenes aan boord. Op die oorvol skip moes die goedereruim ook vir slaapplek aangewend word. Onder die gevangenes is daar kinders so jonk as agt jaar en ook bejaardes van in die 70.

Ds. A.P. Burger vertel in sy herinneringe een van die gevangenes, ene Leipoldt, het oorboord gespring en begin swem na ’n Duitse oorlogskip wat in die baai gelê het.55 Die see was te onstuimig vir hom, met die gevolg dat hy na die Bavarian moes terugkeer. Die Britte het hom opgetrek en ’n week lank in ’n sel opgesluit.

Volgens Burger is al die gevangenes gestraf: “Ons moes toe almal daarvoor boet en al die gevangenes is na die donker bedompige hol onderin die skip gedrywe. Daar was dit so warm dat die sweet ons weldra afgetap het, maar niemand is vergun om na die dek te gaan nie.” Leipoldt is daarna saam met die ander gevangenes na Indië geneem.56

Die SS Hawarden Castle het Dinsdag 23 April 1901 in die hawe van Bombaai (tans Moembaai) aangekom met die eerste 512 Boerekrygsgevangenes wat na Indië gestuur is. Ten spyte van die drukkende hitte is die gevangenes nie onmiddellik aan land geneem nie. Terwyl hulle in die hawe lê, ontsnap George Grey, ’n 45-jarige Johannesburger.57 Volgens The Cape Times het Grey daarin geslaag om tussen die mensemassa in die stad te verdwyn, wat die Britse owerhede selfs laat vermoed het hy het die stad dalk geken.58

Dit is egter te betwyfel of Grey so maklik sou kon wegkom, want hy sou as Europeër duidelik uitgestaan het. Hoewel die ontsnapping deur amptelike Britse verslae bevestig word, is dit opvallend dat geeneen van die herinneringe van krygsgevangenes wat deur die Hawarden vervoer is van sy ontsnapping melding maak nie. Moontlik was hulle nie daarvan bewus nie. In sy herinneringe noem ds. Daniël Viljoen wel op 24 April 1901 daar is by die krygsgevangenes se aankoms by hul bestemming in Ahmednagar gehoor ’n krygsgevangene het ontsnap. Al noem Viljoen nie die gevangene se naam nie, verwys hy waarskynlik na Grey.59 Grey is egter weer gevange geneem, want hy word op die amptelike lyste as ’n krygsgevangene in die Ahmednagar-fort in Indië aangedui.

Die SS Sunda60 en die SS Lake Erie

’n Unieke ontsnapping het kort ná die einde van die oorlog vanaf die transport-en-passasierskip SS Sunda plaasgevind. Max Teinert was ’n eiesoortige republikeinsgesinde Oostenryker wat by die Boeremagte wou aansluit. Hy het hom aan die begin van 1901 op dieselfde vaart na Duits-Wes-Afrika bevind as die sogenaamde vyf swemmers (sien hoofstuk 9). Teinert het ná heelwat omswerwinge naby Brandvlei in die Kaapkolonie by ’n afdeling van genl. Manie Maritz se kommando aangesluit, maar is later gevange geneem. Hy is aan sabotasie skuldig bevind en tot sewe jaar harde arbeid gevonnis, wat hy in Bermuda moes uitdien. Ná die beëindiging van die oorlog is hy saam met ander Kaapse rebelle op die Sunda na Suid-Afrika teruggestuur om vir verdere beregting aan die Kaapse regering uitgelewer te word.

Die skip het tydens sy vaart die Kanariese Eilande aangedoen om steenkool op te neem.61 Die wagte is met die skip se aankoms verdubbel om te verhoed dat die rebelle, wat in ’n ander posisie as die gewone krygsgevangenes was, wegkom. Teinert het misluk met ’n vorige poging om van Bermuda te ontvlug, maar by die Kanariese Eilande slaag hy daarin om verby twee rye wagte te glip en ongesiens langs die skip tot in die water af te daal. Ná twee uur se geworstel deur die golwe het hy voet aan wal gesit. Op land moes Teinert oor ’n hoë wal klim en in die proses is hy amper noodlottig beseer.

Eers toe die skip oor die ewenaar was, het die wagte agtergekom hy is weg. Sy medegevangenes het elke keer met die aftel van die name daarin geslaag om vir hom in te staan. Teinert het ’n versteekte armband met genoeg goue ponde gehad om vir sy vaart na Engeland te betaal. Van daar het hy na Europa gereis. Ons keer later terug na die kleurvolle Teinert se ondervindinge tydens en ná die oorlog en sy tragiese einde.62

’n Oudkrygsgevangene, Gert Jooste, het vier dekades later in Die Brandwag geskryf van ’n ontsnappingspoging deur vyf burgers van die SS Erie terwyl dit in Tafelbaai gelê het, maar geen bevestiging hiervoor kon in ander bronne gevind word nie.63

Vals alarm op die SS Orient

Tussen die swaarkry op die skepe was daar darem ook soms ligte oomblikke. In Maart 1900 is die krygsgevangenes op die SS Orient in Simonsbaai toegelaat om op die dek te slaap. Die vars seelug was ’n welkome ontvlugting van die ondraaglike omstandighede in die bedompige en onhigiëniese ruimtes van die benededek waar al die krygsgevangenes gewoonlik saamgedrom moes slaap. Daar was ook ernstige kommer oor ’n moontlike epidemie, want in die vorige twee dae het sowat 150 van die krygsgevangenes skielik begin siek word.

Die aand van 7 Maart het ’n groot rumoer onder die wagte uitgebreek toe hulle alarm maak oor ’n moontlike ontsnapping. Die meeste krygsgevangenes het nie geweet wat aangaan nie, maar later het die wagte hulle vertel ’n verdagte boot is in die nabyheid van die Orient opgemerk. Die wagte op die skip is dadelik verdubbel, terwyl wagbote van die vloot om die skip begin patrolleer het.

Wanneer een van die wagbote verby ’n sekere punt van die Orient gevaar het, het die wag die gebruiklike “Boat ahoy!” geskree, waarop daar vanuit die wagboot met “Guard boat!” geantwoord is. Elke keer wanneer “Boat ahoy” geskree is, het een van die krygsgevangenes, Alwyn Rautenbach, hard gekoggel met “daar’s ’n haai!”64 Rautenbach moes sy streke staak toe ’n omgekrapte wag hom met ’n bajonet wou steek.

Ontsnap!

Подняться наверх