Читать книгу Ontsnap! - Albert Blake - Страница 8
5
ОглавлениеDIE GROOTSTE ONTSNAPPING
St. Helena? Nooit!
Só het die groep krygsgevangenes wat betrokke was by die onsuksesvolle tonnelgrawery uit die gemakshuisie in South Camp by Simonstad onderling onderneem. Hulle het ’n eed geneem dat hulle nie na St. Helena gestuur sou word nie en planne begin beraam om so gou moontlik weer te probeer ontsnap. Dit was telkens dieselfde vuurvreters wat geweier het om dit te laat vaar. Hierdie poging sou uiteindelik die grootste deur krygsgevangenes in die Anglo-Boereoorlog wees.
Hul plan het nie dieselfde sofistikasie as die tonnelgrawery geverg nie, maar dit was nogtans lewensgevaarlik. Reeds die dag nadat hul tonnel vanuit die gemakshuisie ontdek is, het die groep besluit om ’n gat deur die twee draadversperrings te maak waardeur ’n groot groep een vir een deur die dead space sou kruip. Die wagte se duidelike opdrag was om enigeen dood te skiet wat in die dead space betrap word. Dit was ’n laaste, desperate poging om weg te kom voordat baie van die krygsgevangenes na St. Helena gestuur sou word. Aansienlik meer krygsgevangenes sou hierdie keer by die poging betrek word, maar die meerderheid sou om veiligheidsredes eers kort voor die ontsnapping daaroor ingelig word.1
Die gevaarlike taak om die draadversperrings weerskante van die dead space te knip, is aan Willie van den Berg, adjudant van kol. Adolf Schiel, toevertrou. Hy sou dit die aand voor die ontsnapping doen. Meer as vier dekades later het Van den Berg vertel hoe hy die senutergende taak met ’n pieperige skêrtjie moes verrig, terwyl ’n burger die aandag van die naaste wag afgetrek het:
Met ’n gewone skêr het ek die ogiesdraad begin knip totdat daar ’n opening was waardeur ’n mens met gemak kon kruip … Toe ek klaar was met die opening, het ek weer versigtig oor die doodlyn geklim en na my tent gegaan om ’n seiltjie te haal. Ek het weer oor die draad geklim en die seiltjie vasgemaak aan die draad wat ek nie met die skêrtjie kon afsny nie, sodat my maats die plek kon sien. Daarop het ek versigtig op my maag deur die opening gekruip, sonder om aan die doringdraad bo te raak.
Die wag op diens was ongeveer vyftien treë van my af, maar gelukkig was hy so druk besig met lugkastele bou dat hy my nie gesien het nie. Ek was skaars dertig treë weg, of ek word bespeur deur dieselfde hond wat die vorige dag die tonnel ontdek het. Hy het aan die blaf gegaan, maar ek het doodstil gelê, en toe hy sien dat ek nie beweeg nie, het hy weggedrentel na die skildwag. Al kruipende het ek my uit die voete gemaak.2
’n Burger wat Van den Berg dopgehou het, reken dit was ’n groot wonder dat die naaste wagte hom nie raakgesien het nie, want die son was daardie agtermiddag nog nie agter die kruin van die berg by Simonstad nie en die knal van die styfgespande drade kon by elke knip duidelik gehoor word.3
Die kerngroep van die ontsnappers het hulle so goed moontlik voorberei vir wanneer hulle aan die buitekant van die kamp sou kom. Die voornemende ontsnappers het geld en klere by vriende en familie in die Kaapkolonie ontvang. Van den Berg is byvoorbeeld van ’n behoorlike snyerspak en £30 voorsien.
Met die wisseling van die wagte het die krygsgevangenes vroegaand op 6 April 1900 een vir een deur die twee gate in die omheiningsdrade gekruip. Op ander plekke is die nuwe wagte se aandag afgetrek deur krygsgevangenes wat met hulle ’n geselsie probeer aanknoop het. Eers het die ontsnappers versigtig te werk gegaan en so geruisloos moontlik deur die openinge beweeg en dan stilletjies verder gekruip, selfs nadat hulle by die buitenste draad uit was.
Dinge het egter te stadig gevorder vir diegene agter hulle wat ongeduldig en angstig begin raak het. Die drade het begin raas soos hulle daardeur beweeg het. Gert Jooste, wat die gebeure vanuit die kamp se kombuis dopgehou het, vertel die laaste groep het alle versigtigheid oorboord gegooi om betyds uit te kom: “Dit was senutergend om te sien hoe onverskillig die res nader stap, en reguit na die gat in die draad duik. Dit lyk asof die twee wagte met blindheid geslaan is. Die kampligte skyn net so helder soos ander aande.”4 Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die wagte sou agterkom wat besig was om te gebeur.
Uiteindelik is 28 krygsgevangenes deur die omheiningsdrade voordat die wagte onraad merk. Sommige bronne meld 30 krygsgevangenes het die buitekant bereik.5 Dit was ene Van Bart se ongeluk om deur die wagte raakgesien te word. Die wagte het hom bestorm en dadelik vasgetrek voordat hy deur die laaste gat kon kruip. Daar is onmiddellik alarm gemaak en die soldate, hoofsaaklik van die Warwick-regiment, het die ontsnaptes agterna gesit terwyl versterkings ontbied is. Gert Jooste vertel:
Toe die alarmsein opklink, het jy in ’n oomblik honderde bajonette aan geweertrompe sien glinster, en was dit ene hekseketel en pandemonium. Noodsinjale het na die skepe en elders heen geflits; ’n skerp soeklig wat ons nooit vantevore gesien het nie, het op die kamp geskyn, en nog een, en toe van al die oorlogskepe in die baai en van plekke langs die kus en van die koppie af. Die kamp en omgewing was so helder soos die dag verlig, en die soekligte was verblindend.6
Dit het intussen saggies begin reën en mistig geword, wat die ontsnaptes in ’n mate gehelp het. Die ontsnaptes was minstens vir die oomblik op vrye voet. Die krygsgevangenes wat in die kamp agtergebly het, kon egter geweerskote hoor klap.
Aan die buitekant van die kamp was dit elkeen vir homself en die burgers het in alle windrigtings gevlug. Van den Berg vertel van die chaos wat geheers het waartydens verskeie onskuldige burgerlikes selfs gearresteer is. Hulle is eers vrygelaat nadat hul identiteit bevestig is:
Ons het in verskillende rigtings gehardloop met die soldate kort op ons hakke. Sommige het die berg gekies, ander die dorp, en die ander het in die bossies in die nabyheid van die kamp weggekruip. Drie van ons was in dieselfde bos. Kort daarop het soldate opgedaag, en ons hoor toe ’n offisier aan sy manne vra:
‘Is julle seker dat hulle in hierdie bossies is?’
‘Ja, ons het hulle gesien,’ kom die antwoord. Hulle was toe ongeveer vyf tree van ons af.
‘Soek die bosse noukeurig deur, vang hulle, of skiet dood,’ kom die bevel van die offisier.
Daarop begin hulle links en regs met hul bajonette in die bos te steek. Plotseling hoor ons naby ons drie geweerskote, en uitroepe van die soldate: ‘Hy is dood!’ Ons was nou in die grootste nood; maar ons het doodstil bly lê. Ons hoor voetstappe en toe steek drie bajonette in ons bossie; maar gelukkig sonder om één van ons te raak. Een soldaat struikel oor een van ons se bene; maar hy het seker gedink dat dit ’n boomstam was, en het aangestryk na ’n volgende bos.
Toe hulle ’n ruk weg was, het ek stadig uit die bos gekruip om te sien hoe dit buite lyk: Oral het daar wagte gestaan! Daar kon ons nie bly nie en moes ’n plan maak om weg te kom. Stadig het ons, die een agter die ander voortgekruip. Toe ons omtrent sestig tree weg was, kom ons reg op ’n wag af; ons het doodstil gelê totdat hy ná ’n rukkie wegstap, en toe maar weer aan die kruip gegaan. Ons was net by hom verby toe hy gaan stilstaan, en weer moes ons stillê totdat hy besluit om verder te gaan. So moes ons oor ’n afstand van ongeveer seshonderd tree al kruipende deur verskillende wagte heen gaan, en al die tyd het die soekligte oor ons gespeel. Dit het dit vir ons moontlik gemaak om te sien waar die wagte staan.
Eindelik was ons by die wagte verby, en begin ons die berg te klim. Binne ’n paar uur was ons bo-op die berg en het ons so vinnig moontlik voortgestap. Ons het die hele nag geloop sonder om ooit te rus. Toe die dag begin breek, het ons na ’n geskikte plek gesoek, maar kom plotseling op ’n dertigtal soldate af, wat in die gras weggekoes het. Hulle het sonder waarskuwing op ons gevuur, maar gelukkig niemand geraak nie. Hulle het ons hardhandig gearresteer en voortgedryf na Simonstad waar ons opgesluit is.7
Terwyl die Britse offisiere besig was met aandete in die British Hotel waar hulle tuisgegaan het, word hul geselligheid onderbreek deur die nuus van die ontsnapping. Lady Briggs, wat ook in die eetsaal teenwoordig was, beskryf die reaksie van die offisiere:
At about half-past seven in the evening the officers of the army and navy, the doctors and nurses, who make the British Hotel their headquarters, were surprised in the middle of dinner to see the military officers suddenly leave their places and the hotel. Everybody made for the balcony to seek for the explanation.
Mr Hilhouse, a naval officer of his Majesty’s ship Doris, read the signal from the flashlight of his ship, ‘Desperate efforts to escape from Camp No 1’, and with Dr. Houseman went off at once. They were rewarded for their trouble by seeing the prisoners making for the mountains followed by the guard, who were to fire at or bayonet them if they refused to return. Soon afterwards we saw some brought back between sentries.
One poor Kaffir boy was killed because, when challenged, he did not reply, for the simple reason that he did not understand and could not speak English. Some of the prisoners were bayoneted in their recapture, and were taken in a critical condition to the new Palace Hotel.8
In ’n ander weergawe word genoem dat ’n onskuldige bruin man deur die soldate doodgeskiet en nog een gewond is. Al twee was werkers in diens van Simonstad se munisipaliteit.9 Een van die ontsnapte krygsgevangenes, ene Petersen, is ernstig gewond toe hy met ’n bajonet in die boud gesteek is en moes daarna na die hospitaal geneem word. Die krygsgevangenes wat in die kamp agtergebly het, kon sien die twee wagte onder wie se oë die ontsnapping plaasgevind het, word in hegtenis geneem.
Die ontsnaptes wat weer gevang is, is almal na die Simonstadse tronk geneem. Daar is hulle ’n tyd lank sonder kos en komberse aangehou. Vier dae later is almal met die trein na Groenpunt gestuur en van daar as bannelinge per skip na St. Helena.
Die ontsnaptes moes ongetwyfeld hulp van buite ontvang het.10 Die Britse amptelike verslae toon hulle het ’n uitgebreide netwerk van informante en agente gehad wat met die soektog na ontsnaptes meegewerk het.11 Op 8 April 1900 berig The Cape Times dat 13 krygsgevangenes nog op vrye voet is: “The chances of recapture of the prisoners now at large are very remote owing to the many Dutch sympathisers in the district.”
Dit was allesbehalwe maklik vir die ontsnaptes om weer in die Boererepublieke en by die kommando’s uit te kom. Daar was in werklikheid net twee haalbare opsies: deur die afgeleë Karoo of om per skip na Delagoabaai in Mosambiek te reis en van daar na Transvaal. In die Karoo het honderde kilometers van dorre landskap gelê en ’n reis per skip sou beteken dat hulle verby die waaksame Britse wagte in die hawens moes kom.
Luidens verskeie persberigte het van die burgers per skip weggekom en is hulle waarskynlik in Delagoabaai by Lourenço Marques afgelaai. Van daar het hulle hul weg na Transvaal gevind en weer by die Boeremagte aangesluit. The New York Times het dié berig van sy korrespondent in Lourenço Marques ontvang, wat praat van 12 ontsnaptes: “The French steamer Coratellas picked up at sea, off Table Bay, twelve Boer prisoners, escaped from Simonstown. They were in an open boat with but few provisions. The Coratellas landed them here, and they have gone on to Pretoria.”12
Daar is nie duidelikheid oor presies hoeveel uiteindelik suksesvol weggekom het nie. Volgens Willie van den Berg (wat weer gevang is) het 12 burgers uiteindelik in Transvaal aangekom en weer by die kommando’s aangesluit.13 Uit Britse amptelike lyste van die name van die ontsnaptes wat onder die opskrifte “Prisoners who escaped” en “Prisoners still at large” opgestel is, kom dit ook voor dat minstens 12 krygsgevangenes ná ’n week steeds op vrye voet was.14
Elkeen van die krygsgevangenes wat weggekom en daarin geslaag het om weer by die Boerekommando’s uit te kom, het ’n merkwaardige verhaal. Die volgende besonderhede kon oor hulle opgespoor word vir die tydperk direk ná hul ontsnapping:
•Kepler de Meillon het sy weg deur die Kaapkolonie na Oos-Transvaal gevind waar hy weer by ’n Boerekommando aangesluit en tot aan die einde van die oorlog as bittereinder geveg het (sien hoofstuk 1).
•Fred Kannemeyer was soos De Meillon ’n Johannesburger en is ook by Elandslaagte gevang. Volgens die herinneringe van ’n medegevangene, D.J. du Toit, het Kannemeyer sy weg na Port Elizabeth gevind en op ’n Franse skip gaan skuil wat daar geanker was. Daar is hy amper deur ’n Britse speurder betrap wat ondersoek kom instel het en hom begin ondervra het. Kannemeyer het koelkop gebly en die speurder ’n rat voor die oë gedraai, waarna dié hom uitgelos het. Kannemeyer het daarna via Lourenço Marques weer by die kommando’s uitgekom.15
•Charles Brink was verbonde aan die Heidelberg-kommando en is tydens die Slag van Paardeberg gevang. Gert Jooste beskryf hoe hy Brink vanuit die kombuis by South Camp dopgehou hoe toe dié op 6 April 1900 deur die veiligheidsheinings ontsnap het: “Met gespanne senuwees het ons ander Heidelbergers … staan en kyk hoe hy deur die draadheining kruip, en toe op sy maag oor die wag se sandpaadjie tot in die kreupelbos naby die see seil.”16 Daarna het Brink die grootste deel van die nag in die rigting van Kaapstad gestap en die volgende oggend daarin geslaag om ongemerk die laaste deel na die stad per trein af te lê.
Brink het vir hom plek bespreek in ’n losieshuis in Breestraat en toe ’n boekie gaan koop waarin hy terugwerkend dagboekinskrywings gemaak het sodat hy dit as ’n alibi kon gebruik. Dit sou aantoon hoe hy die voorafgaande maande kwansuis by allerlei transaksies betrokke was. Hy het hom as “Philip Moore” voorgedoen en hom verder nors en eenkant gehou en net Engels gepraat wanneer hy iemand moes antwoord.
Die volgende dag is hy per trein na Stellenbosch waar hy ’n vriendin, die 21-jarige Maria van Niekerk, gaan opsoek het wat voorheen in sy tuisdorp skoolgehou het. Dié merkwaardige vrou was ’n vurige ondersteuner van die Boeresaak en word allerweë beskou as ’n pionier in die Afrikaanse vrouejoernalistiek. Sy is later met die bekende opvoedkundige prof. Gawie Cillié van Stellenbosch getroud en een van hul seuns was Piet Cillié, ’n redakteur van Die Burger.17
Maria help Brink wegkruip totdat hy ná ’n week op haar advies by F.S. Malan, die redakteur van Ons Land in Kaapstad, om hulp gaan aanklop het. Deur Malan se bemiddeling het Brink geldelike hulp gekry om met die Santa Fé, ’n Franse skip, na Lourenço Marques te reis. Malan is kort daarna weens pro-Boere-beriggewing in sy koerant tot een jaar gevangenisstraf gevonnis.
Brink moes ’n maand wag voordat die Santa Fé sou vertrek. In dié tyd is sy identiteit amper onthul toe ’n Engelssprekende uit Heidelberg hom in Adderleystraat herken en vra wat hy daar maak. Hy het kalm gebly en die persoon uit die hoogte in Engels tereggewys dat hy hom misgis, waarna hy in ’n groot winkel verdwyn het.
Die hawe in Kaapstad is fyn dopgehou deur speurders en Brink moes dus uiters versigtig te werk gaan om aan boord van die Santa Fé te gaan. Hy het ’n bruin bootsman gehuur om hom met ’n skuitjie na die skip te roei. Steeds was hy nie buite gevaar nie … Tydens die vaart tussen Durban en Lourenço Marques het die Britse oorlogskip die Thetis die Santa Fé voorgekeer, waarna dit deur soldate deurgesoek is. Ná ’n spanningsvolle halfuur vir Brink is die Santa Fé toegelaat om verder te vaar.
Brink het by Lourenço Marques aan land gegaan en sy weg terug na die Heidelberg-kommando gevind, waar hy genl. Cornelis Spruyt se adjudant geword het. Brink het tot aan die einde van die oorlog geveg. Later het hy die kwartiermeester-generaal van die Unieweermag geword.18
•Johannes Bosman en Salmon Maritz het amper weens honger en dors omgekom in hul poging om hul kommando’s deur die binneland te bereik. Nadat hulle ontsnap het, het hulle deur die nag aangehou loop totdat hulle die Kaapse Vlakte bereik het, waar hulle van uitputting in die veld aan die slaap geraak het. Daarna het hulle te voet voortgegaan totdat hulle drie nagte later by Pieter en Hester van Aarde se Swartlandse plaas opgedaag en daar oornag het. Van Aarde het hulle die volgende oggend met sy kar en muile na ’n vriend op Kanonberg geneem, wat hulle die dag daarna weer na Piketberg geneem het.
Daarna moes hulle te voet verder en is hulle by Pienaarskloof oor die berg en met die Olifantsriviervallei af na Clanwilliam. Daar het ’n Namakwalandse boer hulle met sy kar en vier perde tot in Calvinia geneem. By die soutpanne oos van Sakrivier het nog ’n egpaar hulle oor Bosman en Maritz ontferm.
In die woeste Boesmanland het hulle van koers af geraak en te ver wes beweeg. Ná twee dae het hulle begin glo hulle gaan van dors, honger en vermoeienis omkom. Hulle was op hul laaste bene toe hulle teen sterk skemer in ’n klofie ’n rokie gewaar. Dit was die afgeleë huisie van bruin mense. Die gasvrye bewoners, Anna en Freek Erasmus, het die twee Boere ingeneem en drie dae lank versorg totdat hulle sterk genoeg was om verder te gaan. Die Erasmusse het hulle ook van genoegsame proviand en water asook advies voorsien.
Bosman en Maritz het uiteindelik weer by hul kommando’s uitgekom, maar die twee mans het later van mekaar verwyder geraak. Bosman is later in die oorlog ’n tweede keer gewond en het weer in die vyand se hande geval. Hy is toe na Indië verban.19
•Die 20-jarige George Truter Robertson van Vrede in die Vrystaat se wedervaringe is danksy ’n medeburger, Hugo van Niekerk, se optekeninge baie volledig. Van Niekerk het Robertson se verhaal in Junie 1900 in die Groenpunt-kamp neergepen op grond van wat Robertson hom vertel het.20
In sy haas om weg te kom van die soldate wat op sy spoor was, het Robertson in ’n vullisgat by die wagte se kamp geval en hy kon vir die volgende vier dae nie van die stank ontslae raak nie. Toe hy die Vrydagaand van die ontsnapping in die tuin van ’n Engelse vrou by Simonstad probeer wegkruip, het sy hom opgemerk. Hy kon haar nie ’n bevredigende antwoord gee oor wat hy daar maak nie en sy het die soldate se aandag getrek. Hy slaag egter daarin om van hulle te ontsnap en in die rigting van Kalkbaai weg te hardloop.
Vier dae lank drentel hy rond totdat hy so moeg en uitgehonger is dat hy besluit om ’n kans te waag en by ’n huis in Woodstock aan te klop. Hy doen homself aan die jong egpaar voor as ’n messelaar wat werk soek. Veral die huisvrou is aanvanklik wantrouig teenoor die gehawende vreemdeling met die onaangename reuk wat om hom hang. Hy vat ’n kans en stuur die gesprek in die rigting van die krygsgevangenes wat kort tevore uit South Camp ontsnap het. Toe dit deurskemer dat die egpaar die republikeinse saak goedgesind is, maak hy bekend dat hy een van die ontsnaptes is. Daarna is hy met ope arms ontvang. Nadat hy gebad en geskeer het, het hulle hom kos en skoon klere gegee. Daardie aand kon hy vir die eerste keer sedert die ontsnapping gemaklik slaap. In sy dagboek verwys Van Niekerk na die egpaar slegs as mnr. en mev. S – waarskynlik om hulle te beskerm.21
Robertson se weldoeners het hom met ’n perdekar na Kuilsrivier geneem. Voor hul afskeid het hulle £5 aan hom oorhandig. Van daar het ander helpers hom na Stellenbosch vervoer. Op pad het hulle polisiemanne teëgekom wat na die krygsgevangenes gesoek het, maar hy het daarin geslaag om hulle te flous.
Om minder verdag voor te kom, het hy in Stellenbosch ’n eersteklas-treinkaartjie na Worcester gekoop. Dit was moontlik sy redding, want ’n Britse sersant wat voorheen by die krygsgevangekamp by Simonstad diens gedoen het, was op die trein. Hy het by die kompartement ingeloer waar Robertson besig was om ’n koerant te lees, maar aanbeweeg omdat hy waarskynlik nie ’n ontsnapte krygsgevangene in ’n eersteklaswa verwag het nie.
In Worcester het vriende hom as’t ware op die hande gedra en mildelik skenkings gemaak totdat hy £90 bymekaar gehad het. Hy noem hy sou £600 kon kry as hy daarvoor gevra het. Daarna het hy in ’n oostelike rigting beweeg totdat hy Mosselbaai bereik het. Daar het hy ’n minder simpatieke ontvangs van ’n kontak gehad wat hom so gou moontlik van sy plaas af wou kry. Daar was nog ’n noue ontkoming toe ’n polisieman by ’n ander plaas opdaag waar hy geskuil het en die eienaar oor die onbekende man uitvra. Robertson vertel hoe groot hy geskrik het toe die polisieman in die deur verskyn, maar hy het gelukkig onthou om net Engels te praat. Die boer kon die polisieman ook oortuig Robertson is ’n veespekulant.
Ten spyte van die moontlike gevaar het Robertson besluit om ’n dans by te woon. Die aanloklikheid van so ’n joligheid moes seker te groot gewees het. By die dans het dit vir hom gevoel of almal hom aanstaar. Toe ’n jong dame hom meedeel dat sy simpatie met hom en die Boeresaak het, het hy besef hy moet dadelik padgee. Daarna het hy tussen die Karoodorpies rondgeswerf om uit Britse hande te bly.
In Steynsburg is hy amper vasgetrek toe hy ’n vriend meedeel dat hy ’n ontsnapte krygsgevangene is. Dié het hom aan die Britte gaan rapporteer. ’n Goedgesinde het egter daarvan te hore gekom en ’n uur lank verbete te perd gejaag na waar Robertson was om hom te waarsku. Hy kon toe betyds padgee.
In Cradock besluit Robertson om weer ’n kans te waag deur aansoek te doen om per trein na Kimberley te reis. Daarvoor moes hy toestemming by die magistraat en die Britse bevelvoerder kry. Hy doen hom voor as ’n Britse onderdaan en vlugteling uit Newcastle in Natal en kry toestemming om per trein te reis. Robertson meen hy was gelukkig dat die offisier ietwat onverskillig op grond van die magistraat se toestemming ook sy toestemming verleen het. In Kimberley het hy ’n tyd lank vertoef, waar hy amper ook in die moeilikheid beland toe iemand hom herken.
Hy glip uit die dorp, beweeg te voet deur die Vrystaat en sluit uiteindelik weer by ’n kommando aan. Die geluk was egter nie aan sy kant nie en hy het siek geword. Hy is vir behandeling na Pretoria gestuur. Ná al sy wedervaringe sou sy siekte hom uiteindelik weer in die Britse magte se hande laat val toe toe lord Roberts die stad in Junie 1900 ingeneem het.
Nadat hy herstel het, is Robertson as krygsgevangene na die Groenpunt-kamp gestuur waar hy op 19 Junie 1900 aankom. Van daar is hy met die SS Orient na Ceylon en hy is vir die duur van die oorlog in die Diyatalawa-kamp aangehou.22 Robertson het in later jare tot die politiek toegetree en tydens genl. J.B.M. Hertzog se bewind volksraadslid van Witbank geword.23
Daar kon nie met sekerheid vasgestel word wie die ander burgers was wat suksesvol ontsnap het nie. Op die amptelike Britse lyste met die name van burgers wat ontsnap het, is sekere name later doodgetrek. Dit wek die indruk dat hulle later weer gevange geneem is.24 Die name van Brink, Bosman en Maritz verskyn ook nie op die amptelike Britse lyste van krygsgevangenes wat op 6 April 1900 ontsnap het nie. Die burgers wat suksesvol ontsnap het wie se name nie geverifieer kon word nie, het moontlik per skip na Lourenço Marques gereis voordat hulle by hul kommando’s aangesluit het.
Die ontsnapping van soveel krygsgevangenes op 6 April 1900 uit South Camp was ’n verleentheid vir die Britse owerhede. Dit was nie net die grootste nie, maar ook die suksesvolste ontsnappingspoging vanuit ’n krygsgevangekamp tydens die oorlog. Dit het ook ’n opskudding onder die Britsgesinde bevolking in die Kaap veroorsaak en The Cape Times en The Cape Argus het die geleentheid gebruik om die deportasie van krygsgevangenes na die oorsese kampe te propageer. Die krygsgevangenes is daarna in groot groepe na die oorsese kampe gestuur.
Phillip Cronjé se skietdood in die Groenpunt-kamp word vermeld in hierdie berig in die Evening Post wat op 4 Mei 1900 verskyn het.