Читать книгу Dwaalpoort - Alexander Strachan - Страница 10

6. HENNING

Оглавление

Daai wintervakansie was die eerste keer dat oom Ludwig my alleen op Dwaalpoort gelos het. Ek het nie geweet wat om daarvan te maak nie, die platteland het nou maar eenmaal hierdie ding met studente gehad. Jy sou dit nie uit hulle kry nie. Hulle het mos altyd beter geweet. En dit nog met die twee rooibokjagters wat ook op pad was. Maar dit was nogal nice om my eie ding te kon doen. Ek was nou al ’n bietjie moeg om elke keer te hoor hoe die wind waai en of dit ram of ooi is.

Toe almal weg was, het ek Rentia se kamerdeur oopgestoot. Ek het eers aan haar handdoek geruik, dit het op die voetenent van die bed gelê. Toe het ek haar bra uit die klein laaitjie gelig, maar dit dadelik weer laat val. Nou wat de hel het Bullet se foto hier tussen haar onderklere gesoek?

In oom Ludwig se kamer het gevlegte perdekarwatse en swepe teen die mure gehang. Oom Ludwig wat volgens Rentia twee lewens gelei het – een op die dorp en een op die plaas. Oor die balk het ’n perdesaal gehang en op die vloer was ’n gebreide beesvel met sy brandmerk op.

Vir ’n boer nogal baie papierwerk op die tafel. Ek het een van die rekeninge bekyk en in my kop ’n som oor Dwaalpoort se omset gemaak. Dié week was my kans om te sien wat alles hier aangaan. Al die bleddie geheimsinnigheid. ’n Mens sou sweer ek is ’n spioen of iets. Maar dit was half moeilik om te konsentreer. Ek kon dit nie help nie. Ek was ’n bietjie senuagtig oor die jagters. Toe sien ek die nota raak wat op die blad lê.

Jou ideale skoot is die hoofare aan die bokant van die hart. As jy hulle tref, lei dit tot massiewe bloeding, want as die bok begin hardloop nadat die koeël die hoofslagare getref het, vul die borskas baie gou met bloed en het dit al selfs gebeur dat die bloed met so ’n skoot by die wond begin uitspuit.

Ek het die nota neergesit sonder om dit verder te lees. Soveel detail was darem seker ook nou nie nodig nie. Die kere dat Bullet die jagters veld toe gevat het, het ek fyn opgelet. Ek het ook die video oor trofeejag gekyk. So, ek het darem backing gehad. Ek kon hier en daar die regte buzzwords drop as daar op my nommer gedruk word.

In die hoek het die swaar geweerkluis gestaan; op die bedkas ’n blaker met ’n boks vuurhoutjies. Wanneer oom Ludwig in die nag wakker word, het hy mos nie die lig aangesit nie, hy het ’n kers opgesteek. Ek het die ekstra patrone in die blaker bymekaargemaak om van die stoep af ’n paar skote op ’n leë bierblikkie te skiet sodat ek aan die geweer gewoond kon raak.

“Daar kan nie skade kom nie,” het ek steeds oom Ludwig se woorde aan Rentia gehoor toe hulle gedink het ek was buite hoorafstand. “Ek gee vir hom ’n ligte geweertjie saam, die twee-vier-drie.”

Ek het die bierblikkie op die hekpaal neergesit. Vyf-en-twintig meter, dis mos wat Bullet te vertel het, dan maak die koeël dieselfde trajek as wanneer jy op ’n honderd meter skiet. Onder die sinkdak was die klap van die skoot harder as wat ek verwag het. Demmit. Ek het deur die oop voordeur in die gang af geloer. Net die varings het langs my gehang. Maar hoekom sou ek skrik? Ek het die hele magasyn leeggeskiet. Toe ek die blikkie gaan haal, was daar net een koeëlmerk aan die rand. Ek het die teleskoop se proppies afgedraai. Hoeveel klieks?

Toe ek in die plaaspad opkyk, het die bakkie se stof aangekom. Die jagters het uitgeklim. Body language. Hulle het aan hul jagbaadjies gevat asof hulle sommer dadelik al hulle stempel wou afdruk. Sigarette. Hulle het daaraan getrek en oor die plaas gekyk asof hulle iets sien waarvan ek nie weet nie.

“Siggie?” het die een gevra.

Ek het my kop geskud. “Ek rook nie.” Die stilte het ongemaklik geraak. “Ek dog julle is drie?” het ek gevra. “Waar’s die ‘nie-jagter’ dan?” Ek het die woord in die katalogus raakgelees.

Hy het iets gemompel . . . veghoender? Was dít wat ek gehoor het?

“Moenie worry nie,” het hy gesê. “Ons het al baie saam gejag; ons ken die reëls. Dis flat rate vir almal.”

Hy het probeer om die sigaretboks in sy bosak terug te druk, maar skeef gemik en die pakkie het op die grond geval. “Ons is droog in die veld.” Was dit iets soos ’n verskoning? “Ons dop nie as daar gewere by is nie.”

Hulle het die stompies teen hul skoensole doodgedruk. Rondgekyk. Ek kon sien hulle was haastig om by die boskamp te kom. Toe hulle wegry, het ek dofweg ’n derde persoon tussen hulle sien sit.

Ek was vroeg die oggend al by die boskamp om te kyk dat alles reg was. Ek het die as laat uitkrap, vir vuurmaakhout gestuur, die kampbeddens reggeskuif, die sand om die braaiplek laat vee en die veldtoilet gecheck.

“Ons sit die longdrop net hier op,” het Bullet aan oom Ludwig gesê toe hulle die kamp destyds uitgelê het. “Ons grawe hom lekker diep uit . . . so twee tellings. ’n Mens dink nog altyd jou beste gedagtes uit as jy oor die veld uitkyk terwyl jy kak.”

Hulle moes na die veeveiling ’n hele paar doppe gedrink het. “Ou army-tente,” het Bullet gesê, “dís wat ons opslaan.” Hy het op die grond afgetree en merke met sy hak in die sand gemaak. Hulle het gepraat en beduie asof ek nie by was nie. “Cheap,” het hy benadruk en dit so reggekry om oom Ludwig opgewonde te hou oor die idee om Dwaalpoort se beestroppe te verminder en na wild oor te slaan.

Nadat die jagters boskamp toe is, het ek alleen op die stoep gesit. Die hond het op die rusbank gelê – Bullet se teef wat lewensreg op Dwaalpoort het. Sy het nie opgespring wanneer ek uitkom nie, my nie op die werf gevolg nie en nie uit haar bak gevreet wanneer ek by was nie. Maar daai bleddie oë. Dit het gelyk of hulle my heeltyd uitcheck.

Uit die drankkabinet het ek vir my ’n glas whisky geskink. Dit was mos deel van my betaling omdat ek die plaas opgepas het. Natuurlik gaan ek alles in die huis gebruik. Hoekom nie? Ek het my CD-speler aangeskakel – lekker hard noudat ek kon maak wat ek wou. Die musiek het deur die huis vibreer. In die kombuis het ek vir my ’n lang stuk wors gebraai en by die tafel gaan sit waar ek en Rentia die vorige aand saam met oom Ludwig geëet het.

Voor hulle weg is, moes ek natuurlik help met die opsny van die slagskaap wat hulle saam op vakansie sou vat. Jy het mos nooit jou eie tyd op die plaas gehad nie. Alles moet saamgedoen word. Oom Ludwig het agter die elektriese saag gestaan. Ek het die tjops vir Rentia aangegee, wat dit in plastieksakkies verpak het. Die spoed van die lem het die skerp tande heeltemal onsigbaar gemaak.

“As jy met vleis boer, eet jy nie ’n ander boer s’n nie,” het oom Ludwig gesê. Hy het met sulke tussenposes gepraat. Ek het sy vingers gewatch. “Dis altyd lekkerder as jy weet jy eet jou eie vleis.” Elke keer dat hy die skaapboud deur die lem gedruk het, het hy opgehou praat.

Weer die skril geluid van die saaglem. Dit was nie my cup of tea nie. Die lem het gehuil terwyl hy opgekyk het.

“Ons eet ons eie vleis, selfs al bly ons in die hotel. Al sedert oupa Lood se dae.”

Ek het na sy kneukels gekyk. Elke keer wanneer die lem deur die murgbeen sny, het die toonhoogte verander. Hy het al hoe dunner gesny; die lem het die knop van die been gevang, ’n oomblik het daar ’n rokerigheid getrek, en toe spat die been eenkant toe.

Die aand aan tafel het oom Ludwig met sy knipmes deur die tjop gesny. “Murgsag,” het hy gesê. Ek kon steeds die skril geskree van die saag hoor, en die skerp skroeireuk wanneer dit deur die been sny. Eintlik kon ek glad nie die vleis proe sonder om daaraan te dink nie. Ek het opgekyk na die familiefoto’s teen die muur. Hoe kom Rentia met haar skraal vingers uit hierdie geslag?

Het sy my gedagtes gelees?

“Die hoteleienaar was altyd senuagtig as oupa Lood kom aansit vir ete,” het sy meteens gepraat. “Hy het die kelner dan ander werk laat doen en self die tafel bedien.”

Ek het maar gesukkel met die vleis se skroeireuk. “Tienuur soggens het hy onder ’n sonsambreel op die terras Earl Grey-tee gedrink en komkommertoebroodjies geëet.”

Ek het afgekyk op my bord.

“Op die portret kan ’n mens sien Henriette was lank en skraal. Mense wat jonk doodgaan, bly altyd jonk; dis hoe mens aan hulle dink. Sy was die geslag voor oupa Lood. In die Boereoorlog het sy die konsentrasiekamp ten spyte van siekte oorleef en teruggekom Dwaalpoort toe, maar sy sou toe nie meer lank leef nie. Die familie wou niks van haar weet nie.”

Oom Ludwig het gekug en op sy stoel rondgeskuif. “Hulle het haar verwerp oor die Engelse offisier,” het sy gesê. “Dis hoekom niemand na die oorlog iets met haar te doen wou hê nie, en dis hoekom sy ’n eed op die bok se kop gesweer het.” Rentia het stip na die portret gekyk. “Die familie word in die kerkhof agter die huis begrawe.” Sy het aangehou praat asof sy nie haar pa se rondskuiwery gehoor het nie. “Maar dis nie waar hulle bly nie. Die dooies bly bo in die kloof . . . net partykeer kom hulle af werf toe.” Sy het haar kop na my gedraai en sagter gepraat sodat oom Ludwig, wat na iets buite geluister het, nie hoor nie. “Henriette het gesweer om Dwaalpoort ná haar dood keer op keer weer te besoek.”

Ek het duiwepote op die dak gehoor; toe kom die geluid van buite. Agter die varkdraadheining het die jaghonde in ’n koor begin huil. Nie die gewone geblaf wanneer iemand vreemds opgedaag het nie. Hulle het teen die lug opgekla – ’n hoë, yl klank wat teen die kloof vasgeslaan en teruggekom het.

“Dis snaaks,” het oom Ludwig gesê, “hulle maak gewoonlik teen volmaan so.” Hy het na Rentia gekyk. “Is daar fout?”

“Nee, Pa.”

Ek kon ’n rukkerigheid in haar hande sien toe sy haar mes en vurk neersit. Sy het haar bord teruggeskuif en opgestaan.

“Rentia?”

“Ek is moeg, Pa.”

Voor sy kon uitloop, het ek haar aandag probeer trek. “Gaan ons na die vakansie met die perde opry kloof toe?”

“Die kloof?” Sy het weer ingedagte geraak. “’n Mens ry nie net sommer soontoe nie. As die dag reg is, sal die kloof jou self roep.”

Rentia het in die gang af geloop, terwyl oom Ludwig stadig klaar gekou het. Op die plaas, die boer; op die dorp, die landdros, het Rentia gesê: Mafik’ ungamboni – hy wat opdaag sonder dat jy hom sal herken.

Ek het skielik sy oë op my gevoel. “Nou hoe verander jy so gedurig van rigting?” het hy gevra. “Wil jy rekenmeester of prokureur wees?”

Ek het afgekyk op my bord, want ek het my eie bleddie planne gehad – ’n plaas soos Dwaalpoort het hengse moontlikhede gebied. Veral as jy ’n bietjie ambisie gehad het. Buite het die jaghonde bly tjank. Rentia se kamerdeur het toegegaan en ek het die hangkasdeure binne hoor klap.

“Jy moet hulle twee keer ’n dag laat vreet,” het oom Ludwig gesê.

Dit het die lekker vir my uit die dag gehaal: Rentia se vinnige opstaan en Bullet se honde.

Die lug was nog grys toe ek die spoor die volgende oggend sien. Ons het op ons koue hande geblaas en swart koffie uit blikbekers gedrink. Nie heeltemal my scene nie. Die jagters se oë was opgepof en hulle het die een sigaret na die ander gerook. Ek kon nie hulle aandag kry nie.

“Dis nog vroeg,” het ek gesê, “daar’s nog tyd om julle gewere in te skiet.”

“Dis nie nodig nie.”

Ek het geweet ek moet my stempel op die naweek probeer afdruk voordat hulle heeltemal oorvat. “Die teleskope kon ’n stamp gekry het.”

Hulle het agter hul hande gehoes. “Die gewere staan heeljaar in die kluis.”

Die kole het nog gegloei van die vorige aand en die spoorsnyers het die vuur aangeblaas. Met ’n stok het ek breedweg die uitleg van die plaas op die grond getrek, maar niemand het aandag gegee nie. Dis toe dat ek die spoor reg langs die vuurmaakplek raaksien!

Tog snaaks hoe vinnig ’n mens se oë gewoond raak om vir ánder dinge uit te kyk as waaraan jy gewoond was. Normaalweg sou ek dit glad nie eens opgemerk het nie. Ek het weer gekyk of ek reg gesien het. Maar hy het duidelik in die sand gelê – ’n smal spoor met langerige tone.

“Ons wil saam jag,” het die jagter langs my gepraat. “Nie een-een nie, dis lekkerder so saam-saam.”

Hulle het eers vuurhoutjies getrek vir wie eerste gaan skiet, toe klim hulle saam met die spoorsnyer agterop die bakkie en gee vir hom ook ’n sigaret aan. Hy het bakhand gerook. ’n Mens sou sweer oom Ludwig was nog hier iewers rond. Naby die soetdorings het ek gehoor hy tik op die bakkie se dak. Ek het stilgehou en met die afspring het hy ’n handjie vol sand in die lug opgegooi en vir my geknik.

Dit het vroeg warm geword en ek het die bakkie teen ’n hoogte in die skaduwee gestop. Later het ek die geweer gevat en deur die teleskoop oor die plaas gekyk. Ver onder my het die opstal gelê. Ek het die kruis oor die werf getrek. Was dit ’n skaduwee? Wragtig. Iets, iemand het op die werf beweeg. My asemhaling het die lens toegewasem en ek het dit met my mou skoongevee. Ek het weer deur die teleskoop gesoek. Maar ek kon sien niks nie. Toe ek die geweer laat sak, het ek die skoot in die verte hoor klap.

“Is jy ’n cradle snatcher?” het ek gevra toe ek die penkoprooibokkie oor die spoorsnyer se skouer sien hang.

Ek het ’n oomblik stilgebly. Het ek tog in Bullet se taal gepraat?

Maar die jagter het breed geglimlag en sy pel met die elmboog in die ribbes gestamp. “So, ek het eerste bloed getrek.”

“Nie gisteraand nie.”

Ek kon nie agterkom waarvan hulle praat nie.

Hulle het saam geposeer vir die foto’s. Die een jagter het ’n knipmes uitgehaal en twee gate in die bol van sy rugbypet gesny. Hulle het die hoed vir die penkop opgepas en ’n bril op sy neus gebalanseer. Regop soos ’n mens het die bok tussen hulle gesit. Toe gooi hulle hom agterop die bakkie en asof van nêrens het die bottel brandewyn verskyn.

Op pad terug het ek stilgehou en hulle die rooi plastieksak hoog in ’n boom gewys waar poachers ’n ruk gelede ’n karkas kom merk het.

“Kan jy dit glo? Die bliksems. Dan is dít hoe hulle maak? ’n Mens moet hierdie tipe mense uitroei.”

Hulle het sigaretstompies in die plaaspad ingeskiet.

Die jagter met die opgepofte oë het besluit hy gaan nie weer veld toe nie – hy het klaar geskiet. Eintlik het dit my gepas, want ek het intussen besluit om nie ’n spoorsnyer saam te vat nie. Ek wou die skietbok sommer self uitwys.

’n Mens drink nie saam met jagters nie, het ek oom Ludwig se woorde gehoor, maar ek het die tot brandewyn gevat. “Ons het darem bloed getrek,” het ek in jagterstaal gesê.

Die penkoppie was ’n wins vir die plaas. Groot ram of klein ram, die prys het dieselfde gebly. Wie weet? Ek moes net wakker loop. Miskien was daar vir my ook iets te skep uit die boktransaksie.

Toe sien ek die langtoonspoor die tweede keer. Al met ’n draai van die tent af na die veldstort toe. Eers het ek die water hoor loop, toe sien ek ’n meisie se bene onderdeur die stort se skerm. Ek kon my donnerse oë nie glo nie. Maar tog: smal voete en gladde kuite in die plas water. Dit het my tussen die oë getref. Hoe kon ek so stupid wees? Die veghoender. Dis mos wat die jagter by die bakkie gemompel het. Dan was dít wat hy bedoel het.

Ek kon bleddiewil nie ophou kyk nie. Genuine. Hakke, kuite, enkels, maar heelwat mooier en slanker as die gewone. Dit kon ek darem ook sien. Maar wat sou ek dan eintlik verwag het? Dat ek ’n veerpoot sou sien? Of ’n hak waaruit iets soos ’n spoor sou groei?

“Amper ’n bok se prys vir haar betaal.” Ek het geskrik toe die jagter agter my praat. “Negentien jaar oud. Bargain, as jy dit deur twee deel.”

“Wragtig,” het ek gesê.

“’n Arm man moet ook jag.”

Ek het hom meteens met ander oë bekyk. Miskien sit daar tóg iets agter sy woorde. Iets wat ’n universiteit jou nie kon leer nie. Ek het die tot klaar gedrink. Voor ek in die bakkie klim, het ek weer ’n keer oor my skouer geloer.

“Kaalgat,” het die jagter gesê. “Fully included. Selfs al dra sy net vir jou ’n bier aan mag sy fokkol aanhê.”

Terwyl die slagters die penkop afslag en die vel insout, het ek in die stoepkamer op die enkelbed gesit – Bullet se kamer. Ek het my naslaanboeke uit die pad geskuif. Daar was nog genoeg tyd vir die werkopdrag; ek hoef nie te rush nie, ek sou wel by die skryfwerk uitkom.

Teen die mure het verslete foto’s van halfkaal meisies gehang wat hy uit tydskrifte geskeur het. Oral het ek oorblyfsels van hom gesien: patrone, messe, oorlogsmedaljes. Dit was of ek saans sy sweet in die lakens kon ruik.

Sewe dae lank moes ek die stoepkamer met hom deel die tyd toe ek oom Ludwig se wol kom klas het.

Ek hét die talent, het die instrukteurs my ná die tweeweek-wolkursus verseker. Daar was nog net nie genoeg vagte onder my hande deur nie. Dit was hoekom hulle nie toe al die Springbokkop kon toeken nie. Oom Ludwig was darem tevrede met die verduideliking. Nog maar altyd ’n suinige ou boggher, solank hy tog nou net nie ’n paar sente gemors het nie.

Van lig tot donker moes ek aan die kop van die sorteertafel staan. Soos met die jaarlikse beesslag was oom Ludwig in ’n verkeerde bui. “Aasvoëls,” het hy gebulder op die hulpklassers wat te veel van die vag na sy sin afrandsel.

Aan die kop van die tafel het ek die sample getrek, terwyl die vagte uit die lug op die sorteertafel neergewarrel het – die gooier kaalbolyf en natgesweet. Dit was my kans om ’n indruk te maak. “AF! BS! AFF!” het ek na die lengte en fynheid van die wol geroep. Ek het nommerolie en sweet geruik.

“Is jy seker dis nie dubbel-A nie? Moenie dat hulle die rug so breed uithaal nie. Ek kan nie oral kyk nie – jy moet die afranders kortvat!”

Oom Ludwig se stem het my geïrriteer, maar Dwaalpoort se skaaptroppe was heelwat groter as wat ek geskat het. Die groot boere se veegetalle is mos altyd kamstig geheim. Veral hier in die afgeleë streke waar almal so jaloers op mekaar is. Die een gun die ander mos niks. My rug het gepyn van die regop staan. Ek het aan die koshuis se fiksheidsmaniakke gedink: No pain, no gain. Ek het my rug agteroor gebuig. Dit was die regte manier om nader aan Rentia te kom.

“Die weer steek op, Pa.” Rentia het met ’n skinkbord in haar hande langs die sorteertafel verskyn.

Oom Ludwig het deur die skeersaal na buite gekyk. “Ek sien nie reën nie.”

“Pa, die weer steek op.”

Oom Ludwig het in sy dogter se donker oë gekyk. “Maak tweehonderd skape toe!” Hy was nog effens krapperig oor Rentia se gedagte dat hulle die agterste kamp nou permanent vir Julius-hulle se vee afspan.

Elfuur soggens het sy tee gebring. Vieruur smiddae koffie en gemmerkoekies. Oor die kloof het die weerlig geblits en die skeerders het hul blink skêre neergesit. Mhlophe, het hulle binnensmonds gepraat.

“Wat praat hulle?”

Rentia het weggekyk. “Die wit hartbeeste bo in die kloof . . . Hulle glo hulle trek die weerlig hiernatoe.”

Op die sinkdak het die reënbui begin raas. Oom Ludwig het na Rentia gekyk; hulle het nie gepraat nie. Rentia, wat die neerslagtigheid oor drie geslagte heen van haar grootouma Henriette oorgeërf het.

Dag na dag kon ek Bullet deur die opening tussen die sorteer- en skeersaal sien. Hy het kaalbolyf vooroorgebuk tussen die span skeerders gestaan. Hy het nooit opgekyk nie, nooit gekla nie, nooit gepraat nie. Nie met my, Rentia of oom Ludwig nie. Skaap na skaap het hy gevang.

Nhlamvu, koeël! het die skeerders sy plaasnaam gesing.

Hy het nooit vir ’n lootjie geroep nie, want hy het sy sewedae-pas uit die weermag gebruik om vir sy jaghonde verblyf op die plaas oop te skeer. Sy lang, skraal arms het vag na vag wit oopgevou. Hy het agtertoe gevat vir ’n vars skêr. ’n Oomblik het sy konsentrasie verslap en die skaap se pens het blou onder sy lem oopgelê. Ek het met die sample in die lug bly staan.

“Dit was ’n ongeluk, oom Ludwig,” het hy vir die eerste keer gepraat.

Soos elke aand ná ons klaar geëet het, het Bullet by oom Ludwig in die kamer gesit. Ek en Rentia nooit nie. Ons het by die eetkamertafel bly sit, maar ek kon sien sy luister wat hulle praat.

“Ek sê mos jou jaghonde kan aanbly.” Oom Ludwig se stem het meteens driftiger geword. “Tot die dag dat ek my kop neerlê . . . Rentia!” het oom Ludwig se stem deur die gang gekom, “bring nog water.”

Sy het opgestaan, water getap, die beker ingevat en weer by die tafel kom sit. Ek kon hoor hoe Bullet brandewyn skink.

“Jou honde bly aan,” het oom Ludwig gesê. “Maar jy lê nie soveel as ’n vinger op Rentia nie.”

Dit was of die stilte deur die huis donder. Toe kom Bullet se stem. “Wie het Nag ingebreek?”

“Perde?” het oom Ludwig gevra. “Wie praat nou van perde?”

Sewe dae lank het ek die stoepkamer met hom gedeel. Op die enkelbedmatras kon ek hom hoor rondrol. Partykeer het hy regop gesit. Die vuurhoutjie het geknars en die kersvlam het dof gebrand.

Ek het op my bed omgedraai met my gesig na die muur. Hy het opgestaan en ek kon sy voetstappe langs my bed hoor. Die darts het teen die bord agter die deur begin klap.

Dit was sý kamer.

In die huis kon ek oom Ludwig hoor hoes. Vanuit Rentia se kamer kon ’n mens niks hoor nie. Nie eens haar sagte voetstappe op die plankvloer wanneer sy in die nag opstaan om badkamer toe te gaan nie.

Bullet het op die bed gaan sit en ’n sigaret opgesteek. Ek kon hom hoor rondvroetel. Die bierblikkie het oopgeknars en die reuk van bier en rook het die vertrek vol gehang. Ek het gehoes om te wys ek is wakker.

Dis net ’n week, het ek gedink. Ek het regop gesit in die bed. Was dit maar hoe hy snags geleef het?

“Bier?” het hy gevra.

Ek het my kop geskud, op my sy omgedraai en probeer slaap inkry. Teen die dartbord het dit ritmies begin klap.

Dwaalpoort

Подняться наверх